Lees deur internet, klik hier >>
7 Desember 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Romeine 15:13
SINODENUUS
1. 'n Kersboodskap van Nelis Janse van Rensburg
In sy Kersboodskap is Nelis Janse van Rensburg (foto onder), voorsitter van die moderamen, se wens dat ons ons lewens opnuut sal instel - sal kalibreer - op die Kneg-Koning wat reeds gekom het, maar wat ons weer uit die toekoms tegemoetkom. Maar hoe? is jou vraag dalk ... lees hier hoe hy met Lukas 3 as agtergrond skryf.
Ons is opreg dankbaar saam met Nelis vir die genade van sy wonderlike herstel nadat hy weens rugprobleme en 'n operasie etlike weke lank met siekteverlof was. Dit is 'n besondere getuienis van God se trou en sorg. Mag jy en Aletta 'n geseënde Kerstyd geniet, Nelis.
Nelis Kersboodskap
2. Gendertaakspan: vir hoop, versoening, geregtigheid
Die Gendertaakspan van die sinode (foto onder) is 'n taakspan van die Diensgroep Toerusting en Navorsing. 
"Ons roeping is om saam met die kerk in al haar vorme te reis, onderweg na ‘n Liggaam van Christus waarbinne alle persone – vroue en mans – volledig kan tuiskom en hul gawes in vryheid en met ondersteuning kan uitleef. Ons wil in 'n wêreld waarbinne onreg, juis gebaseer op gender, steeds die oorhand het, hoop skep. Ons wil hande en voete gee aan eenheid, versoening en geregtigheid tussen vroue en mans." Só skryf Nina Müller van Velden, een van die taakspanlede.
Lees hier verder oor hulle rol en die vyf fokusareas van hulle bediening in die sinode.
Gendertaakspan
Tinus van Zyl, Riaan de Villiers, Juanita Greyvenstein, Luané Buys McLachlan,
Almatine Leene, Bianca Botha, Melanie Thirion, Annelet Slazus, Lou-Maré Denton.
Afwesig: Nina Müller van Velden, Ankia du Plooÿ, Elize Morkel, Michelle
Boonzaaier, Louis van der Riet
3.1 Kerkargief se Eekhoring is hier!
In die jongste uitgawe van Die Eekhoring word allerlei lekker nuus uit ons Kerkargief gedeel.  Al doen jy net moeite om te kyk watter interessante navrae hulle van oor die hele wêreld ontvang en hanteer, is dit reeds die moeite werd om jou prentjie van ons argief te verander. Lees meer. Navrae: 021 882 9923 of argief@kaapkerk.co.za.
Die Kerkargief - beslis nie 'n stowwerige plek nie!
Digitale materiaal
3.2 Kerkargief beweeg saam met die tye!
Andrew Kok (bestuurder van die Kerkargief) het vanjaar ’n groot rol gespeel om die verskillende dienste wat ons argief op Stellenbosch aanbied, wyer bekend te stel. In die laaste berig hieroor deel hy inligting oor die digitisering van materiaal. Hy herinner terselfdertyd aan die Familiebybel-projek, die skandering van foto’s en die Willie Jonker Digitale Argief. Lees hier meer. 
Diaconia
4. Vroeëkindontwikkeling - vir ware verandering in SA
" Die grondslag van ’n mens se lewe word reeds in die baarmoeder en daarna in die eerste maande en jare van jou lewe gelê. Hier het bemagtigde ouers, maar ook die gemeenskap en kerke ’n belangrike rol te speel. Daarom moet vroeëkindontwikkeling op 'n baie praktiese vlak 'n baie hoë prioriteit vir elke gemeente wees."
Só berig Danie Mouton in die Oos-Kaapse nuusbrief, Grens.Pos. Hy deel ook ’n aangrypende video (sien onder) om beter te begryp waaroor dit gaan. Gemeentes kan gerus in die erediens hierna kyk, beveel Danie aan.
Vir 'n praktiese prentjie van VKO, herinner Danie aan drie stories:
Nal'ibali
Laingsburg
Leeu-Gamka

Gemeentes kan gerus met Nioma Venter (PSD: Diaconia) kontak maak vir waardevolle leiding rakende VKO saam met ons strategiese vennote, Nal’ibali en SmartStart. Haar e-posadres is nioma@kaapkerk.co.za.
VKO-video
Name van Jesus
5. Jeug- en Familiebegeleiding: Adventreeks vir gesinne oor name van Jesus
Hier is 'n Adventreeks vir gesinne oor die name van Jesus volgens Jesaja 9:5. Daar is vyf kort Bybelstudies wat gesinne saam hierdie vakansie kan doen wat elk telkens 'n teksgedeelte, aktiwiteit, gespreksvrae en gebedswenk bevat. Dit is saamgestel deur twee predikante uit buurgemeentes in Wellington, Lettie Büchner en Annelet Slazus. Die formaat is van só 'n aard dat dit maklik deur gemeentes gedruk kan word. Gesinne kan die reeks ook kry deur dinkjeug se Facebook te volg, waar dit telkens geplaas sal word. 
VBO
6. Word verkwik en vernuwe jou vaardighede met VBO in 2019!
Met ’n sterk VBO-kultuur wat die afgelope tien jaar gevestig is, het VBO hierdie keer probeer om ’n program saam te stel wat die uitdagings van ons tyd aanspreek, en wat predikante en gemeenteleiers bemagtig in hulle leierskap in ons gemeentes. Daar is vier kategorieë geskep om makliker keuses te maak waarvoor om in te skryf. Wilma le Roux laat weet dat hulle aanbeveel dat een kursus uit elk van die afdelings gekies word.
Wees deel van ’n groep leerbare predikante wat voortdurend leer wat die uitdagings van ons tyd is, nooi hulle. Kry die program vir 2019 hier. (Dit is 4MB groot en maak met ’n swart eerste blad oop.)

Dankie
7. 'n Groet van Marieta
Dit was ’n unieke voorreg om vir meer as tien jaar die sinode se kommunikasie te behartig. Om deel te wees van die getuienis van die Here se werk deur sy kerk en sy mense, is 'n spesiale reis wat ’n mens nie onaangeraak laat nie. Dit was terselfdertyd ’n groot verantwoordelikheid en ek sal altyd dankbaar wees teenoor diegene wat hulle vertroue in my gestel het en hierdie werk ondersteun het.
"What you leave behind is not what is engraved in stone monuments, but what is woven into the lives of others," het Pericles gesê. Mag die Here se liefde ons elkeen help om versigtig, met deernis en geduld, met mekaar om te gaan.
Baie mooi wense aan die span wat voortaan die kommunikasie behartig. Ek sal julle werk met belangstelling bly dophou en ondersteun. Lize Beekman se wense (klik onder) is ook my wens vir elke leser ...
Marieta Visagie (Marieta se diens kom aan die einde van Desember 2018 tot 'n einde.)
Lize Beekman - Ewewig en stilte
8. Vir beplanning
8.1 VrydagNuus groet tot einde Januarie 2019

Gemeentes en ons getroue lesers word daarop gewys dat die eerste uitgawe van VrydagNuus eers aan die einde van Januarie 2019 sal verskyn ten einde die nuwe kommunikasiebestuurder, Ronelda Visser, 'n geleentheid te bied om haar voete te vind.
Gemeentes is steeds welkom om nuus en inligting te stuur na media@kaapkerk.co.za vir oorweging van plasing op ons Facebook, Twitter en webwerf. Dankie vir begrip hiervoor. 
8.2 Kersvakansie 2018
Die Sinode van Wes-Kaapland se verskillende afdelings (diensgroepe en taakspanne, sowel as ander kantore in die sisteem) sien uit na 'n welverdiende Kersvakansie.
Die meeste afdelings sluit op Vrydag 14 Desember om 12:00. Spesifieke datums vir die verskillende kantore is hier beskikbaar. Let asb. daarop dat Kersdag sowel as Woensdag 26 Desember (Welwillendheidsdag) openbare vakansiedae is. 
Geseënde Advent en Kerstyd toegewens!
GEMEENTENUUS
Veels geluk
Veels geluk, liewe gemeente ...
Ons vier in Desember graag die volgende gemeentes se verjaardae:
Sonnekus 1 Desember 1947
Moorreesburg 3 Desember 1879
Vishoek 4 Desember 1855
Laingsburg 6 Desember 1882
Hermanus 7 Desember 1934
Loeriesfontein 7 Desember 1935
Ysterplaat 7 Desember 1940
Oudtshoorn-Wes 10 Desember 1948
Wolseley 10 Desember 1938
Hopefield  13 Desember 1851
Klawer 14 Desember 1949
Darling 16 Desember 1853

Philadelphia 16 Desember 1863
Bellville 18 Desember 1934
Riviersonderend 27 Desember 1922
Goodwood 30 Desember 1926
Onthou: as daar enige veranderinge aan hierdie inligting gemaak moet word, kontak asb. die Kerkargief by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923. 

PREDIKANTENUUS
Hennie, Este en gesin
1. Hennie en Esté Burden groet NG Gemeente Laaiplek
Op 30 Desember lewer Hennie Burden in Laaiplek sy afskeidspreek om amptelik op 31 Desember sy diens in die gemeente te beëindig.
"Ek glo die Here roep my na 'n nuwe bediening binne die sakesektor," skryf Hennie. Hy begin in Januarie as finansiële adviseur in Vredenburg en glo dat hy dan sy musiekbediening ook meer sal kan gebruik en uitbou. Baie seën aan Hennie, Esté, klein Henry en Annemi op die nuwe paaie wat voorlê.
2. NG Brackenfell-Wes groet Christo en Annemaré Klopper
"Die een ding wat in my gedagtes uitstaan in die tyd van my bediening is die mense." Aan die woord is Christo Klopper. wat in 1987 gelegitimeer is en in 1990 sy bediening in die NG Gemeente Virginia-Wes begin. Vyf jaar later begin sy bediening in Brackenfell-Wes.
Christo vertel dat hy en Annemaré in afwagting is vir wat die Here met hulle beplan. Lees hier verder.
Alle belangstellendes, vriende, lidmate en oudlidmate, is welkom by Christo se afskeid - die diens is op Sondag 9 Desember om 09:00, waar Christo Botha van NG Proteahoogte namens die Ring van Brackenfell die Akte van Demissie aan hom sal oorhandig.
Hennie en Ingrid van Deventer
3. Hennie en Ingrid van Deventer emeriteer
Aan die einde van Desember 2018 emeriteer Hennie van Deventer, wat vir 12 jaar aan die stuur van die Nehemia Bybelinstituut was ... maar allerlei nuwe paaie wag! Hennie skryf:
"Waar’s die dae toe aftree beteken het jy kan by jou huisie langs die see gaan sit vir 'n lááang vakansie? Deesdae is dit eerder 'n skuif na 'n nuwe loopbaan. Vir my sal dit dalk ook nie heeltemal nuut wees nie, want Nehemia-Bybelinstituut wil hê ek moet nog 'n paar opdragte voltooi. Intussen roep Malawi ook steeds. Aangesien my Chichewa nog nie heeltemal verroes het nie, is daar planne vir in-diens-opleiding van predikante. Ek is onlangs opgelei as brugpredikant en is ook oop vir daardie moontlikheid. Nou wonder ek maar net: wanneer gaan ons dan tyd kry om 'n slag by ons elf kleinkinders te gaan kuier?!"
Lees hoe Hennie in "Groeinuus" oor Bybel-Media se werk vertel en hier hoe Hennie die belangrikheid van opleiding onderstreep. Hy ontvang die Akte van Emeritaat op So. 9 Des. tydens die 09:00 diens in NG Wellington-Oos. Beste wense, Hennie en Ingrid!
Jaco en Jeanine Botha
4. Bredasdorp verwelkom Jaco en Jeanine Botha in Januarie
Ons sien saam met Jaco en Jeanine Botha opgewonde uit na die nuwe jaar - 'n jaar waarin Jaco as deel van die sinode se internskapprogram vir twee jaar in Bredasdorp sal bedien!
Jaco se bevestiging vind plaas op 13 Januarie 2019 by die NG kerkgebou in Bredasdorp, met sy intreepreek op 20 Januarie by die VGK kerkgebou.
Mag jou bediening in hierdie saamgevoegde gemeente (lees hier) tot seën vir almal wees en dien as getuienis van die "liefde, begrip en natuurlike saamgroei" wat hierdie gemeente se gesamentlike reis kenmerk.
5. Talitha Conradie in die NG Gemeente Goodwood bevestig
Dis 'n voorreg om te berig dat Talitha Conradie op Sondag 2 Desember in die NG Gemeente Goodwood bevestig is as predikant. Wat hierdie geleentheid ekstra spesiaal maak, is dat Talitha se pa, Jasper van der Westhuizen van die NG Gemeente Riversdal, die bevestiging waargeneem het.
Ons vier hierdie nuwe hoofstuk saam met Talitha en haar man, Pieter, en bid hulle 'n geseënde bediening as deel van die internskapprogram van die sinode toe - as eerste vrou in die bediening in dié gemeente is dit 'n opwindende reis saam met God. Talitha getuig reeds van die liefde en aanvaarding wat hulle in die gemeente beleef. 
Alle vriende en kollegas is hartlik welkom by Talitha se intreepreek op Sondag 16 Desember om 09:30. Die kerkgebou is geleë in Kerkstraat 19, Goodwood.
Talitha en Pieter Conradie
Talitha en Pieter Conradie
Talitha en pa Jasper v.d. Westhuizen
Angelique en Marnus Havenga
6. Angelique Havenga: nuwe rol in Stellenbosch
In Stellenbosch sien Moederkerk uit na die koms van Angelique Havenga, wat vanaf 1 Januarie 2019 by die tienerbediening in hierdie gemeente betrokke sal wees. 
Angelique en haar man, Marnus, (ook 'n dominee) is albei doktorale studente aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch en was die afgelope drie jaar onder andere in Engeland en Duitsland vir studies. 
Sy skryf: "Ek is passievol oor die jeug – die toekoms van die kerk, ons land en die wêreld, en sien ongelooflik baie daarna uit om by die tienerbediening van Stellenbosch Moederkerk betrokke te raak. Ek is veral opgewonde om te leer, te dien en bowenal om saam met ander God Drie-enig en ons plek in sy storie beter te leer ken." Baie seën vir jou - en welkom terug! 
Elizabeth, Sumari en Hanri Joubert
7. NG Gansbaai wag Hanri en Elizabeth Joubert met ope arms in 
Ons verwelkom graag by voorbaat vir Hanri en Elizabeth Joubert, met hul dogtertjie, Sumari, as deel van die NG Gemeente Gansbaai, waar Hanri vanaf 1 Januarie 2019 amptelik in diens tree.
Sy bevestiging vind plaas op Vrydagaand 11 Januarie om 18:00, met sy intreepreek op Sondag 13 Januarie om 09:00. 
Hanri is in 2010 gelegitimeer en het sedert 2013 in die NG Gemeente Britstown in die Noord-Kaapland bedien.
Mag dit 'n geseënde en spesiale nuwe hoofstuk vir hierdie gemeente en die Jouberts wees.
Jandre Daniel en Christelle Viljoen
8. Ceres wink vir Jandré en Christelle Viljoen
In die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike word op Sondag 9 Desember om 09:00 afskeid geneem van Jandré en Christelle Viljoen, wat sedert Junie 2017 as deel van die sinode se internskapprogram in hierdie gemeente bedien het.
Jandré het 'n beroep na die NG Gemeente Ceresvallei aanvaar en begin amptelik op 1 Januarie 2019 in Ceres. Sy intreepreek is op 13 Januarie 2019.
Lees hier hoe hy oor hul lewensreis en die nuwe pad skryf.
Baie seënwense vir julle en klein Daniël toegebid.
KAMPE
NMU studenteverwelkoming
GEBEDSVERSOEKE
Lofgebed vir Kerstyd
ALGEMEEN
Kers
1. Met medelye: ds. Tom Kritzinger
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. T. I. (Tom) Kritzinger van Hermanus op 28 November 2018.
Na die gemeentes Môrewag, Sondagsrivier en Oudtshoorn-Wes het hy hom in 1984 by die NG Gemeente Vrijzee aangesluit. Nadat hy in 2003 emeriteer het, het hy steeds in Joubertina en Vanwyksvlei gaan help. Sy vrou, Mariana, is reeds oorlede. Hulle laat vier kinders met hul gesinne agter: Killus en Hanmarie (in die VSA) en Erika en Theresa (beide in Hermanus). 'n Dankdiens is op 4 Desember 2018 in die NG Gemeente Hermanus gehou. Charel Nel, oudkollega van Vrijzee en nou in Hermanus, skryf: "Ek eer ’n kosbare oudkollega en vriend. Mag jou rus wonderlik wees."

Bonhoeffer-kongres Januarie 2019
Bonhoeffer-kongres 19-23 Januarie 2020. Klik bo
Kerkjaar
LiG se kerkjaar-kalender - klik bo 
e-Christelike Kernensiklopedie
Klik bo vir meer oor die e-CKE, uitgegee deur BM
Jan Botha
5. Pastoraat, gemeenskapdiens, berading 
Jan Botha stuur inligting oor 'n kursus in pastorale opleiding, berading en gemeenskapsdiens wat die Alfa Sentrum vir predikante, maatskaplike werkers en ander belangstellendes aanbied. Predikante kan 120 VBO-punte met die kursus verdien.
Die Alfa Sentrum is deel van "Zama Zama Hope 4 U Foundation", die sentrum van hoop wat NG gemeentes en ringe in die weste van Pretoria, met die steun van die Noordelike Sinode en in samewerking met Communitas en 'n netwerk van vennote, bedryf. Kursusse vind van Februarie 2019 tot Maart 2020 plaas, met kontaksessies in Stellenbosch, George, Bloemfontein en Pretoria. Kry meer inligting aangeheg
Ons weier om vyande te wees
6. Raakgelees 
6.1 The Bethlehem shepherds, water shortage and trees of hope
“This Christmas Season I will have concrete places in my mind when I listen to the story of the shepherds in the fields of Bethlehem. I will think of the Bedouin community in Suyica, near Yatta, a Palestinian city in the West Bank. They live in tents and in caves because they are not allowed to build houses.
I will also think of the Nassar family and their farm right there in the fields of Bethlehem. On October 11 the 2017 World Methodist Council Peace Award was presented to the Nassar family. It was a joyful feast under the open sky.
At the entrance of their farm a message is written on a stone: “We refuse to be enemies.” For a Christmas story of a different kind, click here. (Photo: Emma Halgren/WCC)

6.2 Missionale lesse uit Nederland - hoop vir die kerk!
Vorm betekenisvolle bande met die gemeenskap - én gebruik die kerkgebou hiervoor. Dis die uitgangspunt van kerke in Nederland, en so kry missionaliteit en uitreik 'n heel nuwe gestalte. 
"Sanctuaries themselves were treated as mission ground - thin spaces where God’s presence could be trusted to outweigh the noise of daily life and to speak even to those for whom the language of faith has become a foreign language."
Dis 'n hoopvolle perspektief en beslis die moeite werd om te lees en oordink. Klik hier.
Tinus van Zyl
6.3 'n Kersboodskap
Die Kersboodskap wat Tinus van Zyl, predikant in die NG Gemeente Durbanville, in hulle gemeenteblad gedeel het, is 'n versameling aktuele Kerswense wat ons almal se gebed vir Kersfees kan wees. Klik onder vir die volledige boodskap, met dank aan Tinus.

Tinus van Zyl - Kersboodskap
Padpredikant
PADPREDIKANT
Maandelikse nadenke
Met Padpredikant wou ons vanjaar 'n paar perspektiewe op ons pad as geloofsmense onderweg om God beter te leer ken en volg, gee. Die maandelikse rubriek sluit af met Johan van Rooyen se bydrae.
Bloeisels
Verwondering te midde van die afwagting ...
By ons kerk se kermis vang 'n titel in die boek-hoek my oog. What to  expect when you are expecting. Wat om te verwag terwyl jy verwag. Dit het my  laat dink aan die afwagting wat ons met Advent vier. Iets word verwag (of liewer - in albei gevalle - iemand.)" 
Dis oor hierdie wag dat Johan van Rooyen nadink, verwonderd oor die Gees se lentebloeisel tekens dat "God se somer kom"! (met erkenning aan prof. Flip Theron). Lees hier verder.

Johan van Rooyen
Oor die skrywer
Digter, dromer,  tuinier, gesinsman, stories en boeke, groen en stadiger is die woorde waarmee Johan van Rooyen (voorheen predikant in die Groote Kerk, Kaapstad en Aliwal-Noord en Cradock) homself sou beskryf.
Johan is op reis saam met Jesus en dink baie oor die vrae wat 'n mens lei na 'n dieper verstaan van dissipelskap - veral in die begeleiding van besige mense om meer bewustelik met God te lewe. 

PUBLIKASIES
Shania-Lee
1. Jong ambassadeur vir CLF se "Een miljoen Bybels"-projek
Nadat CLF te hore gekom het van 'n 12-jarige dogter wat passievol is vir die Here en graag kinders met 'n Prentjiebybel wil seën, word kontak gemaak met Shania-Lee Mayoss en op 27 September 2018 stel CLF haar aan as hul "Een miljoen Bybels"-projek-ambassadeur in KZN.
Sonder om gras onder haar voete te laat groei, plaas Shania-Lee haar eerste bestelling vir Kinderbybels om aan kinders met kanker, weeskinders en by plekke van veiligheid te gaan uitdeel. Sy ontvang haar bestelling, skryf in elke boek 'n persoonlike boodskap en deel Bybels aan "Reach for a dream"-kinders uit, besoek kinderhuise en hospitale en gee aan elke kind 'n Storieboekbybel in elkeen se eie taal. As 5 000 mense elk net R200 skenk, kan CLF hul doelwit van 100 000 kinders behaal. As jy wil bydra, besoek  clf.co.za of skakel hul by 021 873 6964.
2. CLF Bybelprojek: 'n wonderlike Kersgeskenk
CLF kies jaarliks 'n organisasie wat kinders ondersteun en skenk Bybels ter ondersteuning. Vanjaar het hulle "Kinders met kanker" gekies vir 'n veldtog wat op 1 Augustus afgeskop het en tot 31 Desember duur.
Nou nooi CLF jou om jou steun aan hierdie verdienstelike saak te gee en hulle te help om Bybels aan 100 000 kinders te skenk voor die jaar se einde. Skenk die grootste geskenk ooit - Jesus se liefde - met 'n Kinderbybel in kinders se eie taal. Besoek www.clf.co.za of skakel 021 873 6964. Die onderstaande video vertel meer; deel dit asb. in jou gemeente.
CLF Bybelprojek
EKOLOGIE
Groen Kersfees
In God se koninkryk is klein GROOT
Kom ons deel klein Kersgeskenkies uit vir Moeder Natuur. Dit is nie 'n opsie nie, dit is 'n noodsaak! Aardverwarming is 'n feit. Die vernietigende effek wat dit op natuurlike siklusse het en ook op die voortbestaan van die armes van die aarde (ook mense), is ook 'n feit. Lees meer hier en gee vanjaar klein geskenke vir brose plekke of vorme van lewe in julle omgewing.    
BEHOU DIE HUMOR
Perfekte geskenk
KUIERKANS
Alta du Toit Nasorg: Kaas en wyn met Herman Lensing
Alta du Toit Nasorgsentrum: Kaas en wyn met Herman Lensing 7 Desember - klik bo
VAKATURES
Kerkbode vakatures
NG Cradock-Noord
1. NG Gemeente Cradock-Noord: voltydse leraar
Cradock-Noord is ’n mediumgrootte gemeente in die Oos-Kaapse platteland, 250 km noord van Port Elizabeth. Hier is ’n vakature vir ’n voltydse leraar. Kry meer inligting oor die gemeente, die leraarsprofiel, vergoeding en aansoeke hier.
Reageer voor 15 Januarie 2019.
Stellenberg-logo
2. NG Gemeente Stellenberg: jeugpredikant
'n Herinnering: Stellenberg-gemeente, 'n makro-gemeente in die noordelike voorstede van Kaapstad en bestaande uit 4106 belydende en 1345 dooplidmate, het 'n vakature vir 'n jeugpredikant. Die gemeente se droom is: "Om uit te reik oor alle grense".
Aansoeke sluit op 4 Januarie 2019. Lees verder.
Logo
3.1 Stilbaai Bejaardesorg 
Ingeskrewe verpleegkundige of assistent
Stilbaai Bejaardesorg is 'n program van Badisa. Hier is tans 'n vakature vir 'n ingeskrewe verpleegkundige of 'n assistent verpleegkundige. Klik hier vir meer inligting en doen aansoek voor 15 Januarie 2019.
TEN LAASTE
Ten Laaste Barend Vos
Barend Vos was sy hele bediening lank in die gemeente Warrenton en Windsorton in die Noord-Kaap. Hy is ook 'n bekroonde skrywer en het pas saam met sy vrou, Retha, op Pearly Beach afgetree. Kontak hom hier.
VrydagNuus-groete tot Januarie 2019
Vir oulaas, van Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.