Lees deur internet, klik hier >>
24 Julie 2015
Beste Leser
Bind us together, Lord, bind us together
With cords that cannot be broken
Bind us together, Lord, bind us together
Bind us together with love ...
SINODENUUS
1. NG Kerkfamilie se Algemene Sekretarisse vergader   
Dit was met groot dankbaarheid en blydskap dat 'n groep van ons NG Kerkfamilie van Suider-Afrika hul familiebande as susterkerke herontdek het tydens ‘n historiese vergadering van Algemene Sekretarisse in Lusaka van 1 tot 3 Julie.
Die afgevaardigdes het besin oor uitdagings en hul roeping in die alomveranderende konteks van Suider-Afrika en hoe ‘n missionêre identiteit vasgelê kan word. Hulle het ook na mekaar se  stories geluister en besef hoeveel hulle mekaar nodig het. Op hierdie vergadering is ‘n verbintenis gemaak tot die vorming van 'n forum waar die leierskap van die verskillende susterkerke gereeld sal ontmoet.
Lees die volledige brief aan die NGK-familiekerke hier en kontak Kobus Odendaal by missio@kaapkerk.co.za vir meer besonderhede.
NG Kerkfamilie se Algemene Sekretarisse
2. Vroeë Kindontwikkeling Werkswinkel
Armoede & Sorg en Badisa wil gemeentes ondersteun om veral kinders (tussen 0-6 jaar) op 'n hoër skoolgereedheidsvlak te kry en te verseker dat hulle 'n beter kans het om hul volle potensiaal te bereik. Belangstellendes is welkom by 'n werkswinkel waar besin sal word oor die bydrae wat die kerk kan maak ten opsigte van Vroeë Kindontwikkeling. Tydens die werkswinkel sal die UKUBA-beweging ook bekend gestel word.
Datum: 2 September 2015
Tyd: 09:00 tot 15:00
Plek: Vredelust-gemeente (Dertiende Laan 87, Boston, Bellville). 

Skakel Marinda Strydom by info@badisa.org.za of 021 957 7130. Meer inligting sal volg. Lees intussen hier en besoek gerus UKUBA se webblad.
Braam Hanekom
3. Sentrum vir Publieke Getuienis
Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis) skryf:
• Hier aan die begin van die kwartaal herinner ons graag daaraan dat daar steeds fondse beskikbaar is vir gemeentes wat betrokke wil raak by projekte op landelike ontwikkeling gerig. Kontak Salomi by spg@kaapkerk.co.za vir verdere navrae.
• Ons het 'n mentorskapprogram beskikbaar wat eenvoudig, goedkoop en suinig met mense se tyd werk. Dit is daarop gemik om gemeentes te help om kinders wat nie die nodige ondersteuning het nie, deur mentorskap te help. Vir navrae kontak Salomi by spg@kaapkerk.co.za of direk vir Braam by braam@kaapkerk.co.za.
• Die situasie in Griekeland was groot in die nuus. Wat is die boodskap vir gelowige Suid-Afrikaners en watter lesse behoort ons uit die Griekse tragedie te leer? Lees aangeheg meer hieroor.
Nelis Janse van Rensburg
4. Homoseksualiteit: Respek en Deernis nodig
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die NG Wes-en-Suid-Kaapland moderamen, skryf: "Die gesprek in die kerk oor gelowiges met 'n homoseksuele oriëntasie is nou baie belangrik. Baie van ons lidmate beleef diep worstelinge vanweë hulle eie, familielede en vriende se homoseksuele oriëntasie en verhoudings. Ons word nou uitgedaag om, ongeag die standpunt wat ons huldig, die gesprek oor homoseksuele verhoudings op ‘n respekvolle en deernisvolle wyse te voer. Ons kan immers nie hierdie werklikheid net ignoreer nie. Kom ons bid nou reeds vir die Algemene Sinode* - dat die Helige Gees ons duidelik sal lei en aan ons vrede sal gee oor hierdie kwessie. "
* Die sitting van die NGK Algemene Sinode word beplan vanaf Sondag 4 tot Vrydag 9 Oktober op die kampus van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria.
5. KGA Jaarvergadering
Groettyd vir Johan Botha en Francois Wessels

Wat 'n hartlike, uitsonderlike groep mense was byeen vir die KGA Jaarvergadering, waartydens Woensdagaand by Chrismar Villas van drr Johan Botha (PSD: Getuienis) en Francois Wessels (PSD: Jodebediening) afskeid geneem is.
'n Spesiale skets (deur Hannes Burger van Kuilsrivier-De Eike) is oa deur dr Kobus Odendaal aan sy kollegas oorhandig. Daarna het beide die geleentheid gehad om 'n paar woorde te sê.
Baie stof tot nadenke en dankbaarheid ... "By the grace of God", in Johan Botha se woorde. Meer hieroor in volgende week se uitgawe ...
Dr Johan Botha Dr Francois Wessels
PSD's wat aftree
Vlnr: Koos van der Vyver, Coenie Burger, Ben du Toit,
Francois Wessels, Carl Swart en Johan Botha
Dr Gustav Claassen
6. Gustav Claassen aanvaar Beroep
Dr Gustav Claassen het die beroep as Algemene Sekretaris van die NGK Algemene Sinode aanvaar en begin op 1 Oktober in die pos. Dr Claassen is deur die Algemene Sinode Moderamen (ASM) beroep en volg dr Kobus Gerber, wat einde November emeriteer, op. Hulle sal twee maande lank, onder meer tydens die Algemene Sinode, saamwerk om 'n goeie oorgang te verseker. Met die aanvaarding van die pos doen dr Claassen afstand van sy posisie as moderator van die Noordelike Sinode. Ons bid hom en sy vrou, Hanneke, die Here se seën toe.
ALGEMEEN
1. Missionale Diakonaat in Afrika

Hugenote Kollege, die NG Wes-en-Suid-Kaapland en Kerklike Maatskaplike Diensteraad nooi belangstellendes na 'n konferensie vir die bevordering van missionale diakonaat in Afrika. Dit vind op 7 en 8 September by die Hugenote Kollege in Wellington plaas. Klik op die uitnodiging hieronder en besoek www.diacafric.co.za vir meer inligting.
DiacAfric Konferensie
2. Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep: Program
Van Hendrik Bosman (voorsitter) en Piet Walters (sekretaris) ontvang ons dié besprekingsgroep se program vir die tweede semester. Gesprekke is oudergewoonte in die kerksentrum van NG Stellenbosch-Sentraal en begin om 17:00. Oorweeg gerus om 'n vrywillige bydrae saam te neem om met lopende koste te help. Klik hier om die interessante onderwerpe te sien - en maak vroegtydig 'n aantekening in jou dagboek!
3. Kerklike Fees- en Biddae 2016
Ons ontvang reeds navrae oor die kerklike fees- en biddae vir 2016. Dis duidelik dat kerkkantore se personeel vroegtydig besig is om die kalenders vir volgende jaar te finaliseer.
Kry die datums by Kerkkalender op www.kaapkerk.co.za
Dankie aan Bybel-Media, wat die datums jaarliks nagaan en beskikbaar stel.
4. Kommunikasie wat Werk
Onthou gerus dat inligting oor die sinode en ander kerksake op ons webblad by www.kaapkerk.co.za beskikbaar is.
'n Handige webblad met die basiese inligting vir kerkkantore (omsendbriewe, administrasie, vorms, finansies en meer) is Diensgroep Ondersteuning se http://kaapkerkadmin.co.za/
Alles wat jy wil weet oor VBO-kursusse is op Communitas se webblad
Kry selfs meer inligting op die sinode se Facebook en Twitter - en wees ingelig!
5. Bybelgenootskap: Blinde Barista verstom jou!
VrydagNuus het voorheen berig oor Carel van Wyk, ons eie barisa. Hier is egter 'n koppie koffie in 'n ander liga! Barista Joseph Matheatau is blind, maar jy sou dit nooit sê as jy sien hoe vaardig hy te werk gaan nie.
Joseph vertel hoe 'n oudio Bybel sy wêreld makliker maak - kyk gerus onderstaande video ... en oorweeg sommer om die Bybelgenootskap van SA met hierdie projek te ondersteun: klik hier.
Blinde barista
Prof Nico Koopman
6. Raakgehoor ...
"Jy het ons herinner aan die ferm tong van die profeet - en die sagte hart van die priester." (Heb 3:1)
- Prof Nico Koopman aan dr Johan Botha 


"We are brothers and sisters. Not because I have chosen you, but because you have been given to me."
- Dr Johan Botha by die KGA Afskeidsgeleentheid
(Bellville, 22 Julie 2015)
Leon en Noa du Toit
Leon (35) en sy dogter Noa. (Foto met vergunning van Ben du Toit)
7. Met Meegevoel ...
Saam met kollegas Ben en Elna du Toit is ons harte oneindig seer oor die dood van hulle seun, Leon, Sondagaand 12 Julie. 
Nog geen verdere reëlings is getref nie, aangesien Ben en Elna tans in Namibië reis.
(Dr Ben du Toit is PSD: Teologiese Navorsing op Stellenbosch en sy vrou, Elna, is Bestuurder Maatskaplike Dienste vir Badisa se Kuilsrivier, Strand en Macassar kantore).
Ons meegevoel strek anderkant woorde verby ... 
PREDIKANTENUUS
1. Gelukwense aan Siegfried Louw!
Dis lekker om kollega Siegfried Louw (NG Brackenfell-Proteahoogte in Brackenfell) geluk te wens met sy doktorsgraad.
Die gradeplegtigheid was reeds in Mei vanjaar in Potchefstroom. Dit is ʼn PhD in Pastoraal wat Sieg aan die Noordwes Universiteit behaal het. Hy verduidelik: "Die fokus van die studie het ontwikkel vanuit Gestalt-spelterapie. Die onderwerp van die studie behels geloofsvorming in die praktyk na aanleiding van Gestalt-teorie en die benadering van Thomas Groome." (Foto onderaan: Sieg en Elfreda Louw)
Dr Sieg en Elfreda Louw
Ds Bombaai Janse van Rensburg
2. Bombaai Janse van Rensburg Oorlede
Ons opregte simpatie aan die familie en vriende van die welbekende ds Bombaai (Helgard Michael) Janse van Rensburg, wat op 11 Julie in die geseënde ouderdom van 91 jaar oorlede is. Hy laat sy vrou, Sannie, drie seuns en verskeie kleinkinders agter.
Oor oom Bombaai skryf kollega Smuts Janse van Rensburg* (Kangovalleie): "Hy was 'n genadegeskenk aan die kerk - iemand met 'n ware evangeliese hart." Lees gerus sy huldeblyk aan ds Bombaai aangeheg.
Die roudiens was op Vrydag 17 Julie in die Strand.
*Smuts se oorlede pa en oom Bombaai was 'n identiese tweeling.

Hennie Prins
3. Hennie Prins: McGregor se wins!
Ds Hennie Prins, vroeër van NG Brackenfell-Proteahoogte, het hom 'n rukkie gelede in Robertson tuisgemaak en is daar deur die NG Gemeente McGregor "ontdek"!
Hy is vanaf 1 Junie 2015 in die gemeente aangestel en het sy intreepreek op 21 Junie gelewer.
Hennie en Sonja, mag dit 'n mooi nuwe hoofstuk vir julle én die gemeente wees.
4. Johan Froneman: Nuus uit Namibië
Nadat kollega dr Johan Froneman (Lüderitz, voorheen argivaris op Stellenbosch) onlangs groot geskrik het met nuus oor hartversaking, is hy vir verdere toetse Kaap toe. Die goeie nuus is dat geen operasie nodig is nie - sy dokter reken medikasie alleen gaan die probleem oplos. Johan het dus 'n goeie prognose om met 'n normale lewe te kan voortgaan. Ook met sy vrou, Dienkie (saam met hom op onderstaande foto) gaan dit goed na haar kankerbehandeling.
Diegene onder wie se vel Namibië se unieke natuurskoon en sy vriendelike, gasvrye mense ingekruip het, sal Johan se interessante beskrywing van hulle "drie-kop" gemeente (met bedieningspunte op Lüderitz, Aus en Rosh Pinah) beslis waardeer. Lees dit hier. Vanuit die Kaap stuur ons beste wense!

Dienkie en Johan Froneman NG Gemeente Luderitz
5. Andre Olivier en Aranos: Beide Bevoorreg
Na bykans 18 geseënde jare in die Groote Kerk in Kaapstad het Andre en Retha Olivier in 2011 teruggekeer na hulle Namibiese wortels.
Andre was voorheen ook predikant in Villiersdorp, Windhoek-Oos en Piketberg. Luister gerus in die onderstaande video na enkele indrukke van Andre oor die voorreg om in hulle nuwe gemeente, NG Aranos in Namibië, diensbaar te wees ...
Andre Olivier in NG Gemeente Aranos
GEMEENTENUUS
1. NG Stellenberg: Jeugbediening Konferensie
Dié konferensie vind op 28 en 29 Augustus by die NG Gemeente Stellenberg (hoek van Mountain Viewrylaan en Edelweissweg) plaas. Dit is gemik op predikante, jeugwerkers, jeug- en kinderleiers, kategete, ouers en tieners wat prakties toegerus wil word in jeug- en kinderbediening. Die Vuur & Vlam-werkswinkels wat op die #imagine Jeugfees aangebied is, sal onder andere in meer diepte aangebied word. Kry die program en meer inligting. Skryf so gou moontlik in. Klik hier.
Jeugbediening Konferensie
NG Parowvallei-Oos
2. NG Parowvallei-Oos sê Dankie
Parowvallei-Oos het sedert Februarie 2015 ʼn groot bouprojek gehad. Daar is nuwe toilette, toegang en toilet vir persone met rolstoele en ʼn doelmatige stoorkamer aangebou.
"Ons het ook ʼn splinternuwe tuin! Daar is ook ʼn nuwe ruimte geplavei waar ons in die toekoms onderdak kan saamkuier, omdat ons nie ʼn kerksaal het nie.
Op Sondag 26 Julie om 09:30 word die projek afgesluit met ʼn dank- en toewydingsdiens. Ons nooi alle belangstellendes, en veral oud-lidmate, om saam met ons te kom feesvier en te kom kyk hoe mooi alles lyk.
Kyk by www.parowvallei-oos.co.za vir die adres en padkaart," skryf Theo Swart. Seën vir die gemeente - red. (Foto's op ons Facebook)
Anton Roux
3. NG Gemeente Heidekoppie
3.1 Netwerk Kursus

“Ontdek jou gawes” 
Kom kry 'n beter verstaan te gee van wie jy is, hoe God jou uniek geskape het, en word bemagtig vir aktiewe bediening binne die koninkryk met die gawes wat die Heilige Gees aan jou gegee het!
Waar: Heidekoppie Gemeente – Die Gemeente met Oop Deure, hoek van Protea- en Stasieweg, Proteahoogte, Brackenfell
Wanneer: Dinsdagaande om 19:00 – 21:00:  4, 11, 18 en 25 Augustus en 1 September.
Koste: R150 p/p (Kursusgids en verversings)
Aanbieder: Ds Anton Roux (foto)
Inskrywings: Tilla by ontvangs@heidekoppie.com of 021 981 2690
Sluitingsdatum: 27 Julie 2015
Guillaume Smit
3.2 Kursus in Egskeidingsherstel
Onderwerpe soos jou gemoedstoestand, emosionele struikelblokke, egskeidingsdepressie, energiepunte in jou eie menswees, die Here se plan met jou lewe, om materieel op jou eie voete te staan, hoe om jou kinders deur hul eie trauma te dra, bestuur van jou seksualiteit, hoe om finaal afskeid te neem van mislukkings ens. 
Waar: Heidekoppie Gemeente – Die Gemeente met Oop Deure, hoek van Protea- en Stasieweg, Proteahoogte, Brackenfell
Wanneer: Woensdagaande om 19:00 op 5, 12, 19 en 26 Augustus en 2, 9, 16 en 30 September.
Koste: R150 p/p (sluit 'n werkboek in.)
Aanbieder: Dr Guillaume Smit (foto)
Inskrywings: Tilla by ontvangs@heidekoppie.com of 021 981 2690.
NG Wellington Feesdiens
NUUSBRIEWE
Bybel-Media Nuusbrief
By Bybel-Media is die fokus in hulle nuusbrief op die jongste Kerkbode, die Augustus-uitgawe van LiG en verskeie Bybelkor-publikasies wat saak maak. Klik hier
Kerkbode 24 Julie 2015 LiG Augustus 2015
Leef uit jou doop Die avonture van Lisa en Timmy Die keuses wat ek maak A cloud of witnesses
KUIER-KANS
Leipoldtville Kuierfees
NG Parow-Noord Basaar
Winand Grundling
3. Stellenbosch-Noord: Laudamus!
Musiekliefhebbers word genooi om die Julie-koue te trotseer in ruil vir 'n aand van pragtige musiek en lekker kos en wyn – en boonop vir 'n goeie doel!
Die NG Gemeente Stellenbosch-Noord bied op Vrydagaand 31 Julie om 18:00 'n gratis konsert, Laudamus!, aan ten bate van die gemeente se orrel restourasiefonds. Winand Grundling (foto) is een van die talentvolle kunstenaars wat optree.
Meer inligting is aangeheg.
Badisa-logo
VAKATURES
1. Badisa Tulbagh: Maatskaplike Werker
Badisa Tulbagh is ‘n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van geregistreerde maatskaplike werkers word voor 27 Julie ingewag. Meer oor die vereistes is aangeheg

2. Badisa Ramot: Administratiewe Beampte/Boekhouer
Ramot is ’n behandelingsentrum vir substansafhanklikheid en ’n program van Badisa. Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie halfdag betrekking in Parow-Oos ingewag. Reageer voor 31 Julie en klik hier vir meer besonderhede oor verantwoordelikhede en vereistes.
NG Drieankerbaai
3. NG Drieankerbaai:
Algemene Administratiewe Beampte

NG Drienkerbaai is 'n dinamiese, diverse gemeente met groeiende lidmaatskap wat soos een groot familie funksioneer. Hier is tans 'n halfdag vakature vir 'n algemene administratiewe beampte met kennis van Microsoft Office, Pastel, sosiale media en databasis.
Take sluit in internetbetalings, salaris administrasie, aanlyn nuusbrief, weeklikse kerkblaadjie, kontantbestuur en basiese skriba take van die NG Kerk. Ervaring as skriba is verkieslik. Die persoon moet goeie kommunikasievaardighede hê en is verkieslik Afrikaans met sterk christelike waardes. Goeie leierskap en selfbestuur is belangrik in die pos. Ure:  Maandag tot Vrydag, 09:00 tot 13:00. 
Rig aansoeke aan Susan Derksen by susan.s.derksen@gmail.com voor 20 Augustus. Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak indien 'n geskikte kandidaat vir die pos nie gevind word nie.
Elmarie Dercksen
TEN LAASTE ... 

Uit die Pen van
... Elmarie Dercksen

My stuiwer oor die boemerang-effek: in Engels “backfire effect”, 'n uitdrukking aanmekaargesit deur Nyhan en Reifler, wat demonstreer dat sterk bewyse ten gunste van 'n opponent se argument, mense dikwels stywer laat vasklem aan hulle vooroordele, eerder as om van opinie te verander.
Na die uitspraak van die hooggeregshof in die VSA het mense betrokke geraak in vurige debatte oor die kerk en homoseksualiteit. Ek het soveel waardering vir elke teologies oorwoë mening, en vir elke opregte gelowige wat worstel om antwoorde.  Maar ek het ook gesien hoe dit boemerang, en mense terugdryf na die klein hoekies van hulle eie vooroordele.
Dit, helaas, het ons almal. Daarom besluit ek maar weer: Mense verander nie omdat ander mense vir hulle sê om te verander nie. God leef en praat, en dis Hy wat deur sy Gees mense nuutskep. My doel as dominee is nie om mense te verander nie, maar om hulle te aanvaar en ‘n veilige ruimte te skep waar hulle God kan ontmoet.  Toleransie? Nee wat. Dit sou impliseer dat ek ontevrede is met die mense wat die Here aan my toevertrou. Aanvaar is anders as tolereer. Aanvaar boemerang nie.
Bloubergstrand is waar Elmarie sedert 2005 predikant is. Musiek en skryf tel onder hierdie kreatiewe vrou se talente. (Sy is onder meer 'n gereelde Netwerk24-rubriekskrywer). Kontak Elmarie by elmarie@ngkbloubergstrand.co.za.
Die Kerk is geseënd met diensbare mense wat op besondere maniere hulle liefde vir die Here uitleef. Wat baie verrig met min. Wat doen wat hulle hand vind om te doen. Die Here vertrou om te sorg.
Mense soos Karin en Steve Prinsloo wat in Aus, Namibië (soos in sovele ander dorpe) die kerk se roosterkoek- of pannekoekverkopings in die hoofstraat beman. Mense soos Elise Langeveldt wat in Nuwerus se gesellige pastoriekombuis ekstra poeding bak vir fondse, want "die ander gemeente se kerkgebou het ook verf nodig". 
Aus roosterkoekverkoping
Karin (links) en Steve Prinsloo verkoop heerlike roosterkoek by Aus se jaarlikse straatbraai!
NG Nuwerus
NG Nuwerus se statige kerkgebou.
Ek haal my hoed vir elkeen van julle af. En vir elkeen wat in hierdie nuwe kwartaal 'n verskil maak daar waar jy woon en werk. 
VrydagNuus-groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.