Lees deur internet, klik hier >>
 6 November 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
DinkJeug in conversation with author Andrew Root
DinkJeug
in collaboration with the Emmaus Sentrum will be presenting the 7th session in their webinar series. The Zoom conversation with Andrew Root about his book The End of Youth Ministry? will take place on Thursday 19 November from 19:00 – 21:00. The first half of the session will be a pre-recorded interview – a must watch! The second half will be an open Q&A session with all participants... so read the book and prepare your questions for this lively discussion. Click here to register for the session. 
Root, the Carrie Olson Baalson Professor of Youth and Family Ministry at Luther Seminary, USA, weaves together an innovative first-person fictional narrative to diagnose the challenges facing the church today and to offer a new vision for youth ministry in the 21st century. Order your copy here.
SA benodig sosiale kohesie en 'n nuwe sosiale kontrak
Dit is teen hierdie tyd redelik duidelik dat Suid-Afrika tans met enorme uitdagings gekonfronteer word. Nasionaal en plaaslik. By die Sentrum vir Publieke Getuienis glo ons dat daar nou veral op twee sake gefokus moet word, naamlik ’n nuwe sosiale kontrak (social compact) en verhoogde sosiale kohesie (social cohesion). Beide die sake vorm die onderbou vir baie ander vorme van herstel soos byvoorbeeld ons stryd teen armoede en ‘n sukkelende ekonomie, asook (gewelds) misdaad.
Dr. Braam Hanekom is die direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en het al meer as 40 dorpe besoek om presies hierdie sake aan te spreek. Op 24 November besoek hy Ladismith en gaan saam met ‘n paar leiers uit die gemeenskap gesels oor die pad vorentoe vir die dorp. 
Gaan loer gerus in by die sentrum se webblad of kontak vir Braam persoonlik by braam@kaapkerk.co.za indien daar enige navrae is. 
Goeie nuus vir #GROEI
Die #GROEI-projek van die Hoop en Versoeningstrust in samewerking met Diaconia is genooi om saam met die Departement van Landbou se Ontwikkelings- en Opleidingstaakspan hande te vat met hulle 100-dae inisiatief om 2 000 gesinne te identifiseer wat ‘n geskenkpak  (toerusting, saailinge, kompos, wortel- en blaarvoeding, asook 'n gryswater drommetjie) sal ontvang na afloop van ‘n verpligte opleidingsessie.
Die gesin moet ‘n inkomste tot die maksimum van R4 500 per maand verdien en ‘n bestaande tuintjie hê om te bewys dat hulle sal omsien na ‘n groentetuin. Dit kan ‘n projek raak vir die plaaslike gemeente en vir die hele gemeenskap. Die inisiatief en kreatiwiteit word aan die plaaslike projek oorgelaat. 
Hierdie is maar nog net die begin – hulle kweek ‘n nuwe kultuur om gemeenskappe aan te moedig om ‘n selfhoubare groentetuin te kweek en selfversorgend te lewe.
Eerste deeltydse studente woon opleidingsessie by
Die Kuratorium het oor ʼn lang tyd dit ten doel gestel om deeltydse opleiding vir studente wat leraars wil word, moontlik te maak. Die afgelope week het die eerste groep NG en VGK studente wat hierdie opsie uitoefen ʼn opleidingsessie by die Andrew Murray Sentrum in Wellington gehad. Die studente doen ʼn MTh by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch en daarnaas ook kerklike vakke by die Seminarium.  Hierdie program word aangebied in samewerking met die Northern Seminary van die VGK. Die fokus van die week was Ekklesiologie (kerkbegrip) en die aanbieding was ʼn mengsel van lesings en geestelike vorming. Die studente het daagliks lesings in die oggend gehad en ook tye van stilte en afsondering. Prof Elna Mouton het die drie daaglikse kapelle rondom Efesiërs aangebied.  
Agter v.l.n.r. Frederick Marais, Lucas Madimabe, Derick Boonzaaier, Stefan Fourie en Etienne Snyman 
Voor v.l.n.r. Lucas Plaatjies, Elna Mouton en Natie Philander
Skryf nou in vir brugkursus
Predikante kan nou inskryf vir die tweede brugkursus van 2020. Die kursus word van 17 tot 19 November by Communitas in Stellenbosch aangebied. Rig navrae aan Mathilda du Pisanie by mdup@sun.ac.za of skakel 021 808 3265. Registreer asb. voor 10 November.
Final call for registration
Ekklesia (Stellenbosch University) in conjunction with the Calvin Institute of Christian Worship will present an online consultation on missional worship from 10 - 12 November. Click here for the programme and session links. Contact Divine Robertson at dr@sun.ac.za for more information.  
Getuienisaksie se jongste nuusbrief
Wat ’n jaar! Lees in Getuie/Witness wat “Kontekstuele Bybellees” vir ons gemeenskappe kan beteken, hoe Ben Marais se sokkerbediening kreatief planne bly beraam en hoe die VGK Msinga in KZN steeds voortgaan met Veritas-opleiding. Straatwerk in die middestad van Kaapstad vertel dat hulle besef het hoe belangrik persoonlike kontak in hierdie tyd is. Lees ook hoe Arbeidsbediening en BADISA in vennootskap hande vat, hoe die Sentrum vir Publieke Getuienis aktuele kwessies aanspreek en hoe Hope Prison Ministry stukkende families help versoen. Ons Groen Span het ons mediaplatforms met hul funky video’s eko-sensitief help maak. Lees hier oor dit alles en nog meer.
EKOLOGIE
Produkte wat NIE herwin moet word nie
Dalk was jy van mening dat mens alles wat van plastiek, papier of tin gemaak is, kan herwin, maar dis nie waar nie. Dewald Hoffmann van ons Groen Span gee hierdie week eko-wenke oor produkte wat nie herwinbaar is nie. Wees bedag op produkte wat nie bio-afbreekbaar is nie, wat besmet is met kos of olierigheid, komponente wat te ingewikkeld is om van mekaar te skei, soos elektroniese kabels (e-waste is 'n opsie van herwinning hiervan), spuitkannetjies, batterye, spieëls ensovoorts.
Hy vertel meer hiervan op die video hieronder. Jy kan ook hier meer oor die onderwerp lees.
GEMEENTENUUS
Geluk aan al ons gemeentes wat hulle verjaarsdae in November vier.
Beertjies vir kinderhospitale
'n Groep vroue van Stellenbosch, onder leiding van Ingrid Linde, het in 2001 'n projek begin waarmee hulle elke kwartaal 250 beertjies, elkeen saam met 'n Christelike boodskap, by die vyf kinderhospitale in die Kaap uitdeel.
Die Vrouediens van Piketberg-gemeente het besluit om hierdie projek te ondersteun deur ook beertjies te brei en hulle doelwit was ook 250 beertjies. 21 vlytige dames het ingespring en meer as 300 kleurvolle karakters geskep wat troos sal bring aan kinders wat deur trauma gegaan het. 
Die bere is op so 'n wyse uitgestal dat dit die visie van die gemeente, naamlik "'n stroom van lewende water" baie mooi uitgebeeld het. 
Getuienis uit Ceres Moedergemeente
Pierre Marais, predikant by Ceres Moedergemeente, deel die volgende getuienis oor lidmaat Schalk Smit.
"Op Donderdag 5 November neem ons afskeid van oom Schalk Smit (gebore 1 November 1927, oorlede 24 Maart 2020). Die amptelike afskeid is vanweë die COVID-reëlings meer as sewe maande na sy afsterwe.
Oom Schalk was nie groot van postuur nie (ongeveer 5 voet 4 duim in ou taal), maar as lidmaat van die NG Kerk het hy hier diep spore getrap! Spore wat nagevolg kan word.
Hy was vir 75 jaar 'n belydende lidmaat van Ceres Moedergemeente! As leraar wat ook al 'n paar jaar aankom, het ek sommer gewonder oor hierdie soort statistiek – om 75 jaar belydende lidmaat te wees, moet jy natuurlik naby aan 92 jaar oud geword het, maar daar is seker nie baie mense wat 75 jaar ononderbroke 'n aktiewe lidmaat van een gemeente was nie? 
Maar oom Schalk was nie net baie lank lidmaat van die kerk nie, hy was ook feitlik sy lewe lank aktief betrokke. Hy is kort na sy bevestiging as jong lidmaat deur `n ouer lidmaat by wie hy ingewoon het, aangemoedig om met die kategese te help – dit doen hy toe vir 37 jaar lank! Daarby was hy feitlik lewenslank deel van die gemeente se kerkkoor – toe daar nog een was... Dit kon meer as 40 jaar wees! Hy was altesaam dekades lank kerkraadslid – eers as diaken en later as ouderling. In die negentigerjare was hy 'n afgevaardigde na die Wes-Kaap Sinode wat vir hom 'n hoogtepunt was. Tussen alles deur was hy natuurlik 'n aktiewe kerkganger en ook deelnemer aan bidure en ander byeenkomste.
Oom Schalk se sig het in sy tagtigerjare baie verswak, maar hy kon almal rondom hom trakteer met interessante en humoristiese stories uit die ou Ceres. Hy kon veral baie vertel van al die dominees wat "onder" hom gewerk het!
Ons eer sy nagedagtenis vandag met `n hartseer glimlag. Ons sê dankie vir sy diensbaarheid aan die NG Kerk en die Here van die Kerk en gun hom die rus by die Vader. Seënwense aan Tannie Anna en familie."
Touwsrivier eenwording
Andrew Esterhuizen laat weet dat hulle 'n baie
geseënde viering gehad het met die eenwording van die NG en VGK gemeentes van Touwsrivier op 25 Oktober 2020. "Langs hierdie weg wil ons net weer vir almal dankie sê wat vir ons voorbidding gedoen en ondersteun het." 
Op die foto (links onder) is ds. John Willemse, konsulent van VGK Touwsrivier en voorsitter van die VGK Ringskommissie Worcester, ds. Nelis Janse van Rensburg, dr. Llewellyn MacMaster en ds. Andri Eloff, voorsitter van die NGK Ring van Worcester. Regs onder teken die twee gemeentes se skribas Berend Lottering en Marlene van der Bank die ooreenkoms.
Klik hier en gaan na PodCasts om na die potgooi-uitsending van die eenheidsdiens te luister.
Tuinkuiers by Calitzdorp
Die gemeente van Calitzdorp het die nuwe gesig van hulle kerktuin gevier deur ‘n koppie tee of koffie en ‘n stukkie koek saam met hulle lidmate te geniet in die heerlike lenteson. Tydens hierdie tuinkuier het hulle die nuwe labirint wat op die kerk se gronde opgerig is, bekendgestel. Die jongklomp het ook lekker saamgekuier en selfs om die labirint gedans en gedraf! 
Klik hier vir meer foto’s van hierdie geleentheid. 
Kuilsrivier-Suid se kerkraad hou retraite 
Suzette van der Merwe van die gemeente van Kuilsrivier-Suid skryf die volgende terugvoer oor die onlangse retraite wat haar gemeente se kerkraad by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington gehou het. 
"Met jou aankoms by die sentrum word jy deur die pragtige geboue verwelkom en jy wonder oor al die stories wat sy kan vertel. Jy voel onmiddellik dat hier ’n gees van rustigheid, kalmte en vrede is. Jy kan die teenwoordigheid van die Vader aanvoel. Dis asof dit almal dadelik aanraak. Veral daar waar almal die kapeldiens bywoon en God se natuur indrink. 
Ons was getaak om ons lewenslegkaart te pak, alleen iewers waar jy stilte en vrede vind op die perseel. Daarna was ons genooi om in die groep ons legkaarte uit te pak. Dit was so ’n wonderlike ervaring om net te kan sit, te luister en die persoon se legkaart te kan ontvang en dankie te kan sê vir die persoon. Dat jy die voorreg het om hom of haar te kan ken. Dat jy saam met die persoon op ’n kerkraad kan dien, want julle is saam so afhanklik van die Vader en dat Hy julle saam geplaas het om in sy Koninkryk te werk. 
Baie dankie vir  geleenthede soos hierdie by die Andrew Murray Sentrum, waar jy weer die stem van God kan hoor. "Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en  nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig," (Matteus 11: 28-30)."
Voor v.l.n.r. Suzette van der Merwe, Neels van Tonder, Colinda Steyn, ds. Hennie du Pisanie. Agter v.l.n.r. Ds. Jannie du Plessis, Thys van Niekerk, Johan Groenewald, Riaan Bester, Erhardt Wolf en John Caine.
PREDIKANTENUUS
La Rochelle groet Loubser-familie
La Rochelle-gemeente het op 1 Nov. afskeid geneem van Gielie Loubser en sy gesin wat emigreer na Australië. Gielie was vir 17 jaar aan La Rochelle gekoppel, eers as PSD vir Jeug en later as PSD vir Gemeentebegeleiding. Nadat Frederick Marais namens die sinode ʼn afskeidswoord gerig het, het Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland, Gielie se demissie hanteer. Gielie en Mari was nie net baie betrokke lidmate nie, maar het ook vanuit hul onderskeie professionele beroepe die gemeente op uitsonderlike wyse gedien. Hul seuns JW, Muller en Micho was ook as doop- en belydende lidmate deurgaans aktief betrokke in die gemeente. "Tussen ons as kollegas het diep, intense vriendskapsbande op persoonlike sowel as binne gesinsverbande ontstaan. Die kollegaspan en gemeente gaan die Loubsers baie mis. Ons bid hulle die seën van die Here toe en dat hulle daagliks, as gesante van Christus, die boodskap van versoening sal uitdra en uitleef," skryf die gemeente.
Gielie meld dat hy sy demissie op dieselfde dag ontvang het as toe hy 50 jaar gelede in Moorreesburg gedoop is. In 'n aangrypende brief skryf hy oor hoe die Here sy besluit beïnvloed het en sy reis vorentoe. "Ek moes egter leer dat ek geheel en al gestroop moet word om gereed te wees om te gaan. Julle sal daarom verstaan hoe nodig ek dit het dat die dag waarop my kleed as predikant van my afgehaal word ek die kleed as gedoopte weer stywer om my moes kon vastrek.  Ek staan nou op die amp van gelowige, as gedoopte-gelowige. 'n Onwankelbare rots onder my aangesien ek niks daarmee te doen gehad het nie, want voordat ek kon kies of vra het die Here Hom aan my kom verbind. Ek gaan dus as gesant van Christus (2 Kor. 5:20) na Sydney om te gaan ontdek waar die Here wil hê ek moet gaan dien.  Ek het 'n groot gebed en dit is dat my diens daar op een of ander manier 'n rimpeleffek na Suid-Afrika en spesifiek die NG Kerk gaan hê." Klik hier om Gielie se volledige brief te lees.
Ons wens vir Gielie, Mari en seuns JW, Muller en Micho Gods rykste seën toe op hulle nuwe avontuur.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
RFF instrumenteel in voedselhulpverspreiding
Hoe gemaak as jy vanuit die Verenigde Koninkryk gretig is om reuse-bedrae te skenk in krisisgeteisterde gebiede in Afrika? En hoe is jy seker dit sal by die regte geïdentifiseerde mense uitkom via betroubare kanale? In hierdie opsig speel ons Reformed Family Forum, wat bestaan uit ons susterskerke in Afrika, ’n onontbeerlike rol. Dr. Nico Mostert, bestuurder van die diensgroep Vennote in Getuienis van die NG Kerk Sinode Vrystaat, het onlangs die inisiatief geneem om namens al ons noodgeteisterde susterskerke by die Barnabasfonds aansoek te doen om voedselhulp. Hulp vir meer as 10,600 families is al sedertdien ontvang. Lees hier meer oor hierdie inisiatief.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermyn leraarspos: Graafwater
Die gemeente van Graafwater adverteer 'n voltydse vastetermynspos vir drie jaar. 
Die ideale kandidaat moet 'n herder en leraar vir al hulle lidmate wees en geroepe voel om die gemeente met deernis en liefde tot ware dissipelskap te inspireer.  Klik hier vir gemeenteprofiel en meer inligting. Aansoeke sluit 20 November.
Maatskaplike werker: Bellville-Suid
Badisa Bellville-Suid adverteer tans 'n vakante posisie vir 'n voltydse maatskaplike werker om kinderbeskermingsdienste te lewer. Sien posvereistes hier. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 17 November.
Bestuurder: Huis Uitsig, Parow-Noord
Huis Uitsig in Parow-Noord het 'n vakature vir 'n bestuurder. Die ideale kandidaat moet beskik oor ‘n toepaslike naskoolse kwalifikasie. Kennis en ervaring van personeel- en finansiële bestuur, arbeidswetgewing, fondswerwing en bemarking asook rekenaarvaardigheid is verdere vereistes. Klik hier vir die volledige advertensie. Aansoeke sluit 14 November. 
Vakkundige bestuurder: Durbanville
Durbanville Kinderhuis adverteer vir 'n vakkundige bestuurder. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n BA/B Diac graad of diploma in maatskaplike werk, is geregistreer by SACSSP, met bewese supervisie-, probleemoplossing- en bestuursvaardighede en beskik oor ‘n geldige rybewys. Lees verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit 11 November.  
Bestuurder en Hoofverpleegkundige: Huis Steinkopf
Huis Steinkopf het tans twee vakante posisies. Aansoeke van gemotiveerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor ouer persone en gestremdes, word vir beide betrekkings ingewag. Klik hier vir meer inligting oor die bestuurderpos of hier vir die betrekking van hoofverpleegkundige. Aansoeke sluit 13 November. 
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Op Bybel-Media se boekrak
Die nuwe Woord en Fees is in 'n splinternuwe elektroniese formaat beskikbaar. Hierdie publikasie volg die seisoene van die kerkjaar en is 'n hulpmiddel vir die voorbereiding van eredienste en die ontwikkeling van preke. Die liturgiese voorstelle bied riglyne wat die gebruiker sal help om weeklikse eredienste makliker voor te berei. Vir elke seisoen van die kerkjaar is daar ’n basisliturgie wat as raamwerk vir die hele seisoen dien. Die preekstudies sluit aan by die gereformeerde tradisie, maar ook by die breër ekumeniese tradisie. Klik hier vir meer besonderhede.
In Glo-stories kry jy twee unieke stemme in een boek: ’n storieverteller en ’n dominee wat sistematiese teologie doseer. Dana Snyman en Nadia Marais is twee van Kerkbode se gewildste stemme. Die boek sal van middel November beskikbaar wees en maak 'n ideale Kersgeskenk.
Nuwe vrystelling deur CLF 
Die jongste boek van Benescke Janse van Rensburg, God is stééds God, is nou by CLF beskikbaar. Die bekende radio- en televisie-aanbieder skryf ook die blog Stories van hoop en is een van die skrywers van die Bybelgenootskap se Vers-’n-Dag elektroniese dagstukkies wat daagliks na 80 000 intekenare wêreldwyd uitgestuur word. 
In God is stééds God deel Benescke 60 hedendaagse lewensveranderende geloofstories wat die leser se geloof stig. Temas van die stories wissel van voorsiening, beskerming, bonatuurlike deurbrake tot genesing en herstel. 
Stuur ’n e-pos na order@clf.co.za om te bestel.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Bybel-Media se jongste nuusbrief.
KUIERKANSE
Durbanville-gemeente hou tuinmark
Durbanville-gemeente hou op Vrydag 27 November ‘n tuinmark om die plaaslike gemeenskap te ondersteun. Aristea Ouetehuis, Uitzicht Animal Rescue en Durbanville Kinderhuis neem reeds deel aan die projek. Klik hier vir ‘n aansoekvorm as jy belangstel om produkte uit te stal teen R150 per tafel. 
ALGEMEEN
Raakgelees: Papegaai sing glo mooier as Beyoncé
Chico, 'n negejarige geelkroon Amazone-papegaai wat in Lincolnshire Wildlife Park te vinde is, het besoekers verstom met sy talent vir sing. 
Hierdie tipe voël kom oorspronklik voor in die tropiese Suid-Amerika en hulle is in staat daartoe om die spraak van 'n mens met 'n duidelike stem te herhaal.
Beeldmateriaal van hoe hy 'n indrukwekkende weergawe van 'If I Were A Boy' van Beyoncé gesing het, is reeds meer as 300 000 keer gekyk.
Die uitvoerende hoof van Lincolnshire Wildlife Park, Steve Nichols, het geskerts: "Wie sou ooit kon dink dat 'n papegaai sosiale distansieerprobleme sou veroorsaak omdat hy so gewild is?"
Dié talentvolle voël kan ook ander popsnitte naboots soos 'Poker Face' van Lady Gaga, 'Firework' van Katy Perry en 'You Drive Me Crazy' deur Gnarls Barkley.
Kyk gerus die video (onder) om te hoor hoe mooi Chico op noot sing. 
CLF dankbaarheidsfonds
Die Christelike Lektuurfonds se Woord en Brood-projek het R100 000 oor 10 maande beskikbaar gestel en het die diep nood in die land weereens blootgelê. Een van die begunstigdes van die projek was Timura Ministries. Na die skenking skryf ds. JC Mac Kay as volg: "
Hiermee, namens ons gemeente, opnuut ons opregte waardering vir die ruim donasie. Ons as gemeente probeer sedert ons ontstaan om nie net die Woord te verkondig nie, maar ook om ‘n fisiese verskil in ons gemeenskap te maak. Ons het voorheen vanuit eie fondse projekte soos sopkombuise en veral Kersfees aan minderbevooregtes en behoeftiges kos voorsien. Dit is nou ons heel eerste keer dat ons so ‘n ruim donasie van buite ons gemeente ontvang het en ons het dit met groot opgewondenheid gebruik om kruideniersware aan ons minderbevoorregte senior burgers van ons gemeente te voorsien. Die dankbaarheid was sigbaar op hul gesigte. Daar het selfs by verskeie ‘n traan geval. Mag God u werksaamhede ruim seën vir die ontbaatsugtige diens wat CLF doen.”
TEN LAASTE
Ons is baie opgewonde oor die NG Kerk Wes-Kaapland se selfoontoepassing wat nou gereed is om na gemeentes uitgerol te word. Dit is die ideale geleentheid om inligting van jou gemeente, maar ook van die sinode in die hand van ons lidmate te kry. As jou kerkkantoor of predikant nog nie 'n skrywe hieroor ontvang het nie, kontak asseblief kommunikasie@kaapkerk.co.za.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.