Lees deur internet, klik hier >>
5 November 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Hoe gaan ons om met ons verskille?
In hierdie videoreeks van dertien episodes plaas die Algemene Sinode die soeklig op die oortuigings, standpunte en werkswyse van die NG Kerk. Die volledige reeks van So glo, leer en getuig ons... kan hier besigtig word. 
In die onderstaande video gesels Maartje van der Westhuizen (lid van die ASM dagbestuur) met Bernice Serfontein, predikant van NG Kerk Waterkloof, oor hoe gelowiges met mekaar kan verskil.
Waarnemings oor die verkiesing
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het op verkiesingsdag as waarnemer namens die Electoral Code of Conduct Observers Commission (ECCOC) veertien stemlokale in die Suid-Kaap gemonitor. Dit is van Pacaltsdorp by George tot Kwanokuthula en Wittedrif by Plettenbergbaai. Hy gee onder van sy indrukke oor die ervaring.
"Oor die algemeen was alles stil en rustig. Hier en daar was iemand meer luidrugtig soos die dag gevorder het en die voggies gevloei het. Die Voting Management Devices (VMDs) was inderdaad ‘n groot probleem en het in sommige plekke ure se vertragings veroorsaak.
Wat ‘n mens egter die meeste tref, is hoe die werklikheid van ongelykheid en die gaping tussen rykdom en armoede ook by stemlokale gereflekteer word. Sommige is van die mooiste en skoonste fasiliteite en ander (soos by Nekkies taxistaanplek in Knysna) letterlik in ‘n 'shack'. Die omgewing is vuil en verwaarloos. Tog tref mens ‘n verkiesingsbeampte aan wat haar bes doen en vriendelik en behulpsaam is.
Die wedersydse respek wat verskillende partye en partyverteenwoordigers teenoor mekaar getoon het, was bemoedigend. Die karnavalatmosfeer in armer gebiede met musiek, gesellige vuurtjies en braai was ook goed om te sien.
Na my ervaring met verkiesings in Zimbabwe besef ek opnuut dat Suid-Afrika beslis nie is waar ons moet wees nie, maar beslis ook op ‘n ander plek is. Ons het ‘n veel sterker demokrasie as in baie ander lande." 
Foto: Braam Hanekom saam met Veronique Plaatjies, die hoofverkiesingsbeampte van St. Vincent Palotti stemlokaal op Pacaltsdorp. 
HVT help om gemeenskappe te bemagtig
Die Hoop en Versoening Trust het soos baie ander bedieninge gely onder die COVID-19-pandemie. Hulle is egter dankbaar om te rapporteer dat hulle ten spyte hiervan kon voortgaan om gemeenskappe in Suid-Afrika te dien. Africa Task Force Outreach (ATAF) in Gqeberha is nog ‘n nie-winsgewende organisasie wat die trust kon bystaan danksy ‘n donasie vanaf Marina Sea Salt.  
ATAF is gestig met die doel om die uitdagings wat minderbevoorregte kinders en mishandelde vroue binne Afrika-gemeenskappe weens armoede, mensehandel en natuurrampe ervaar, te hanteer en te konfronteer. Hulle hoofdoel is om bewustheid van hierdie uitdagings te verhoog en om aktiewe jeugdiges toe te rus deur middel van vrywilligerwerk. 
ATAF verseker dat kwesbare/weeskinders en mishandelde vroue versorg, opgevoed, gekoester en toegerus word met lewensvaardighede ten einde om ongeletterdheid te verminder en om misdade en werkloosheid binne Afrika-gemeenskappe uit te wis. Klik hier vir meer foto’s en inligting oor hierdie projek. 
DinkJeug se hulpbronne vir Advent en Kersfees
DinkJeug se hulpbronne en idees vir Advent en Kersfees is vanjaar alles op een plek beskikbaar. Dit sluit onder andere 'n podcast oor die tradisie van Advent, werksvelle, gespreksvrae en prettige aktiwiteite in.
Klik hier om dit af te laai. 
Nuwe mediese administratiewe beampte
Ons verwelkom graag vir Ria Koen as die nuwe administratiewe beampte: medies. Ria sal onder andere verantwoordelik wees vir die medies van personeel, predikante en pensioenarisse.
Sy is egter reeds 'n bekende gesig by die sinodale kantore in Bellville, aangesien sy sedert 2017 as bekwame sekretaresse by Diaconia werksaam was.
Ria is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in haar loopbaan en sien uit na die uitdagings wat vir haar wag. Kontak haar by medies@kaapkerk.co.za of 021 957 7106 vir navrae.
Welkom by Diensgroep Ondersteuning!
Kinderbybels vir KIX
KIX Kinderbediening laat weet: "Ons is opgewonde oor ons KleuterKIX materiaal wat van 2022 gebruik kan word. Ons het 'n spesiale geleentheid om die kleutermateriaal te versprei na 300 verskillende Little Seeds-groepies regoor die Wes-Kaap. Dit is ons droom om aan die begin van volgende jaar vir elke Little Seeds-groepie 'n Kinderbybel saam met hierdie kleutermateriaal te gee.
Hier is 'n wonderlike geleentheid vir julle om deel te neem aan hierdie projek! Versamel en skenk Kinderbybels (in 'n goeie kondisie) sodat ons dit kan versprei. Die Kinderbybels moet asseblief heel wees met ten minste 20 of meer stories in."
Dit kan tot 10 Desember by een van die volgende versamelpunte afgelaai word: Diaconia by die Bellville sinodale kantoor, Communitas in Stellenbosch of die gemeentes van Kenridge, Suider-Strand en Robertson-Oos.
Kontak jeug@kaapkerk.co.za vir enige navrae.
Arbeidsbediening gee Bybels vir Badisa-uitreik
Dis altyd ’n riem onder die hart om te hoor hoe ons onderskeie bedieninge dikwels hande vat en mekaar ondersteun. So was dit ook weer vanjaar toe Badisa vir Arbeidsbediening genader het om weer Bybels te skenk as deel van hul jaarlikse omgeepakkies aan geïdentifiseerde matrikulante. Die gebaar gee nie net die boodskap dat iemand omgee nie, maar veral dat die Here altyd vir hulle daar is. Lees meer hier
Foto: Me. Christine Quickfall, bestuurder van Badisa (middel agter), by die matrieks wat vanjaar Bybels van Arbeidsbediening ontvang het. Hulle is van die Hoërskool Bellville: Este Venter (links voor), Helanie Malherbe (regs voor), Angélique Alers (regs agter) en van die Hoërskool Brackenfell: Musa Mkhatywa (links agter).
Koördinering en integrasie vir beter diens aan gemeentes
Ons almal weet hoe uitmergelend en sinloos vergaderings soms kan wees. As dit egter daarop gemik is om diens aan ons gemeentes op ’n gekoördineerde en geïntegreerde wyse aan te pak om effektiwiteit in ons gemeentes optimaal te bevorder en terselfdertyd aan ons onderlinge eenheidsverhoudinge te bou, is dit ’n plesier om met entoesiasme leiding te neem en aan die werk te spring, projekte en take aan te pak en deur te voer. So was dit dan ook die afgelope twee weke toe Getuienisaksie twee baie sinvolle vergaderings gefasiliteer het: die weeklikse Getuienisaksie Taakspanvergadering wat in Belhar gehou is en die VGK PSD-vergadering wat by die VGK Worcester-Suid plaasgevind het. Lees meer daarvan hier.
Foto: V.l.n.r.: dr. Braam Hanekom (Publieke Getuienis), ds. Godfrey Baartman (HUB), ds. Lucas Plaatjie (aktuarius en finansiële beampte), dr. Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika), me. Carin Brink (Arbeidsbediening) en ds. Stephen Pedro (Gemeentegetuienis). 
Contextual Bible Reading fokus op opleiding, beplanning en leierskap
Die afgelope naweek (29 - 31 Oktober) het Stephen Pedro (Bestuurder van Gemeentegetuienis asook projekbestuurder van Contextual Bible Reading [CBR] Kaapland) en Babalwa Sifuba (CBR-koördineerder en -opleier) 'n opleiding- en beplanningswerkswinkel in Graaff-Reinet gefasiliteer. CBR-groepsleiers van die VGK Streeksinode Kaapland-ringe in Oos- en Suid-Kaapareas het dit bygewoon. Die VGK Streeksinode Kaapland het by hul vorige sinodesitting die ontwikkeling van leierskap op gemeentevlak as een van hul groot uitdagings geïdentifiseer. Tydens hiérdie Oktober-werkswinkel is daar onder andere op die tema van leierskap gefokus en 'n CBR is met 1 Petrus 5 as leesteks ontwikkel. Lees meer hier.
Foto: V.l.n.r: Di. Soga, Masele, Ntshabalala, Sifuba, Pedro, Bloro en Calvary. 
EKOLOGIE
COP26
Tans is wêreldleiers besig om te besin oor die toekoms van ons planeet. Die COP26-byeenkoms wat in Glasgow plaasvind van 31 Oktober tot 11 November is ‘n poging deur lande om in meer konkrete terme ‘n aksieplan teen klimaatsverandering en ekologiese verweer vas te lê. Maar wat kan elkeen van ons doen in ons eie gemeenskappe? Ons Groenspan deel ‘n paar idees in die video onder!
“Risiko sal aanhou toeneem”
So sê professor Francois Engelbrecht tydens 'n eksklusiewe onderhoud wat Forbes Africa met hom gevoer het oor die nuwe Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) -verslag en hoe dit Suidelike-Afrika raak. Die IPCC verteenwoordig die somtotaal van globale kennis rakende klimaatsverandering en die verslag is as 'n 'kode rooi' vir die mensdom beskryf.
Professor Engelbrecht is een van Suid-Afrika se vooraanstaande klimatoloë en hoofskrywer van die verslag van die kollektiewe besluite wat nodig is om die krisis te bekamp. Lees die onderhoud hier
Blou vlae wapper op Kaapse strande
WESSA (The Wildlife and Environment Society of South Africa) het verlede week die aankondiging gedoen van die strande in Suid-Afrika wat Blou Vlag-status vir die 2020/21 seisoen ontvang het. Die Wes-Kaap spog met 36 strande, vier marinas en vier bootoperateurs.
In 2001 het Suid-Afrika die eerste land buite Europa geword om deel te neem aan die Foundation for Environmental Education se Blou Vlag-projek. Daar moet aan streng ekologiese standaarde, opvoedkundige en veiligheidskriteria voldoen word voordat die Blou Vlag toegeken word. Lees meer hier.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Msinga KZN se jeugwerk-ywer verstom!
Nkazimulo Ngcobo is een van die mees merkwaardige jeugwerkers wat jy ooit sal ontmoet. Hy het as jong kind baie swaar grootgeword en het ’n liefdevolle tuiste in die geloofsfamilie van die VGK Msinga gevind. En dis hier waar hy sy volle gewig as jeugwerker ingooi en entoesiaties sy werk elke dag met toewyding uitleef. Lees gerus hul jongste jeugwerkverslag oor hoe hulle donasies aanwend, soos om kospakkies aan baie arm gesinne (waar daar dikwels ‘n kind aan die hoof van die huishouding staan) te verskaf, ’n nuwe drukker wat dit vir hulle moontlik gemaak het om 19 jongmense te help om aansoek vir werk en verdere studies te doen (dis duur om dit in die dorp te laat doen), morvite-pap is aan ’n crèche (wat geen fondse ontvang nie) voorsien, Bybels is aan skoolkinders uitgedeel en hulle leer selfs jong skoolkinders hoe om skaak te speel! Lees meer hieroor en waardeer gerus dié Zoeloe-man se moeite om dit vir ons in Engels beskikbaar te probeer maak.
Getuienisaksie en KiX vat hande met ons jeug in Zimbabwe
Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, het verlede week 'n ontmoeting met ds. Liberty Matabire, jeugdirekteur van die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ) in Kaapstad gehad. Ons is baie opgewonde oor die goeie nuus dat daar weer, soos 'n paar jaar gelede, van KiX (Kinders in Christus) se kant af via Getuienisaksie hande gevat gaan word met die jeug van die RCZ. Hulle gaan almal saamwerk om die projek, Boeke vir ons bure, te loods. Die RCZ het 'n groot behoefte aan kategesemateriaal om hul kategete te kan help toerus. Daar is ook 'n vraag na eenvoudige kinderboekies wat hul Sondagskoolkinders huis toe kan neem om verder te kan gaan geniet, soos om prentjies te gaan inkleur ens. Hierdie projek sal dan ‘n reuse-bydrae lewer om aan hierdie behoefte van ons geloofsfamilie in Zimbabwe te help voldoen. Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Foto: Daniël de Wet en ds. Liberty Matabire, jeugdirekteur van die RCZ. 
GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Durbanville-gemeente is dankbaar
Durbanville-gemeente gee ‘n terugblik op die jaar se dankbaarheid in hulle jongste nuusbrief: “Een van die uitnodigings wat ons in 1 Tessalonisense 5:12 ontvang is: ‘Wees in alles dankbaar!’ Dit klink vreemd. Hoe kan ‘n mens ‘in alles’ dankbaar wees?
Die gebruik in ons gemeente is om November-maand so bietjie stil te staan en terug te kyk oor die afgelope jaar en te reflekteer oor wat dit beteken om dankbaar te wees en ook wat dit beteken om vanuit hierdie plek van dankbaarheid te gee.
Ons het in 2020 ‘n pragtige model-kerkie van ons eie kerkgebou laat bou. Hierdie jaar sal die kerkie in die familiedienste uitgestal word. Ons wil baie graag ook die jeug betrek en hulle leer wat dit beteken om te gee. Daar is twee maniere hoe hulle dit kan doen: deur ‘n gedeelte van hulle sakgeld te gee of net ‘n briefie te skryf oor dit waarvoor hulle dankbaar is. Elke Sondag in November gaan ons ‘n geleentheid vir hulle gee om hul geldjie of briefie in die kerkie te gooi. Mag ons almal in hierdie maand ons dankbaarheid teenoor God verdiep deur gewoontes van dankbaarheid in te oefen." 
Eerstejaarskamp 2022
Kruiskerk se Eerstejaarskamp is elke jaar ’n onvergeetlike ervaring. Die kamp is ook baie gewild en die gemeente moet ongelukkig die getalle beperk tot 200 eerstejaars (100 dames en 100 mans). Daar is ook ‘n groot groep senior studente wat saam kamp as personeel.
Hulle werk op die basis dat diegene wat eerste betaal eerste plek sal kry. Om dus teleurstelling te voorkom, word jy aangemoedig om so gou moontlik te registreer. Volg dan die instruksies wat jy daarna per e-pos ontvang en betaal dan so gou moontlik (binne 72 uur). Klik hier vir meer inligting oor die registrasieproses. 
Loeriesfontein omgeeprojek
Die gemeente van Somerset-Wes laat weet dat hulle vreeslik dankbaar is vir die reaksie wat hulle ontvang het rakende Loeriesfontein se omgeeprojek. “Baie dankie vir elke mooi toegedraaide en versierde bederfboks wat ons ontvang het. Baie dankie ook aan elkeen wat houers en sakke met kruideniersware, toiletware, skoonmaakmiddels, skryfbehoeftes, spesiale bederfgoed en hondekos kom aflewer het. Verder is ons ook innig dankbaar vir inbetalings in die kerk se rekening asook kontantbydraes. Julle het met empatie en deernis vir Loeriesfontein se gemeenskap ons gemeente se omgeehart en gesindheid op ‘n tasbare manier gewys." 
Die donasies sal aangewend word volgens die nood en behoefte in die gemeenskap van Loeriesfontein. 
Orkesoptrede by Helderberg 
Helderberg-gemeente nooi almal hartlik uit om Klassieke Klanke se liefdadigheidskonsert op Sondag 7 November om 16:00 by te woon. Kom luister gerus na die solo-vertonings van sopranos Shirley Sutherland en Johlané van Niekerk asook die bariton Nicolaas van der Westhuizen. Die program bestaan uit klassieke gunstelinge soos Mozart se Ave Verum, Faure se Pavane, Panis Angelicus deur Franck and immergewilde gunstelinge soos Hit the road Jack, Mission Impossible en Pirates of the Caribbean
Die vertoning is gratis, maar donasies sal verwelkom word.
PREDIKANTENUUS
Dominee in reddingsdrama 
Netwerk24 berig dat die medemenslikheid van stappers en nooddienswerkers op Leeukop bygedra het tot die suksesvolle reddingspoging van ‘n 14-jarige skoolkind wat tussen 5m en 10m ver geval het. Een van ons kollegas, ds. Ryno Els, predikant by Toringkerk, was deel van hierdie span. 
Hy vertel aan Netwerk24 dat hy en ‘n vriendin Leeukop Saterdagoggend gaan uitklim het. Toe hulle die deel van die staproete bereik waar kettings en lere is, het die seun reg voor hulle geval en taamlik ver na onder gerol. Ryno vertel dat hulle geskrik het en dat hy gehaas het om die seun te help. “Ek het hom vasgehou en toe hy weer bykom, het ek hom probeer kalm hou, want hy het baie groot geskrik. Ek het nie regtig geweet wat om te doen nie en het my pa gebel om die nodige nooddienste te ontbied.”
Intussen het ‘n groep vrouestappers ook kom help. Hulle het vir die seun ys, ‘n piesang en ‘n hemp gegee vir skaduwee en verder saam met Ryno gewag tot die nooddienste arriveer het. Ryno vertel dat hy respek het vir almal wat bygedra het om die seun te red. “Almal se deernis en omgee het hierdie ‘n suksesvolle reddingspoging gemaak, soos die optrede van die vroue wat hulp verleen het en al die ander stappers wat ook hulp aangebied het. Ons hoop die seun het nie ernstige beserings opgedoen nie.” Die volle berig kan op Netwerk24 se webblad gelees word.    
VAKATURES
Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Amalia is ‘n klein plattelandse NG Gemeente in Noordwes by ‘n kruispad. En hulle is nie alleen nie, berig Le Roux Schoeman, want landwyd sit die NG Kerk met dieselfde afwaartse lidmaattendens plus ‘n skeut interne teologiese spanning op die koop toe. Lees hier verder.
Terwyl sommige ringe in die diep platteland binnekort net een of twee voltydse predikante sal hê, is die groot vraag hoe diensleraars en bedienaars in gemeentes ontvang sal word, skryf Lourens Bosman. Lees sy ontleding by hierdie skakel - blaai af na eerste berig.  
Boekbespreking op Stellenbosch
Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode, gesels op Woensdag 26 November met skrywer Cas Wepener oor sy nuutste publikasie ritmes en rites. Kom luister gerus saam van 17:00 - 18:00.
Die bundel is ʼn keur van Cas se rubrieke waarin hy die alledaagse lewens van Suid-Afrikaners en die netwerk verhoudings waarin hulle staan, bekyk.  Hoofredakteur van Netwerk24 Jo van Eeden skryf in die voorwoord tot die bundel dat hy drie primêre uitdagings bemeester. “Hy kry dit reg om die spieël vas te hou sodat jy vir 'n slag goed daarin kan kyk – selfs al is daardie beeld soms tot verwrongendheid gekraak.
Hy gooi die venster wyd oop sodat jy in diep asemteue ook na buite kan kyk – selfs al woed die ergste storm denkbaar net daar op jou voorstoep. En soms plaas hy ’n onderwerp onder ’n vergrootglas – selfs al skroei die son later witwarm presies daar waar die ligstrale en senupunte ontmoet."
Klik hier om voor 20 November te registreer. 
2022 Jaarboek nou beskikbaar
Plaas nou bestellings vir die 2022 Jaarboek. Hierdie publikasie bevat inligting van sinodes, ringe, gemeentes en predikante van die 
NG Kerk, NG Kerk in Afrika, Reformed Church in Africa en familiekerke in die buiteland.
Uitgewer Bybel-Media publiseer al vir langer as 160 jaar hierdie belangrike inligting oor die NG Kerkfamilie aan predikante, kerkkantore en lidmate. 
Klik hier om die jaarboek in Bybel-Media se aanlynwinkel te koop.
ALGEMEEN
Vla-tervry danksy First Choice
First Choice het die harte van talle bejaardes en kinders gelukkig gemaak met hulle onlangse skenking van 360 boksies vla. Die donasie is versprei na Badisa-tehuise en dagsorgsentrums, onder andere Goue Aar Tehuis in Malmesbury, Huis Ravenzicht in Kraaifontein, Sonskyn-cum-dagsorgsentrum in Caledon en die Malikhanya dagsorgsentrum in Wolseley. 
Ons bejaardes is veral deur die COVID-19-inperkings geraak en dit was 'n spesiale bederf vir baie gewees. Dankie weereens aan First Choice vir hierdie mooi gebaar.
Raakgelees: Hond ontsnap na spa
Waarheen sal jou troeteldier eerste gaan as hulle uit jou erf sou kom? Miskien sou hulle vinnig gedraf het na die plaaslike slaghuis vir ‘n smullekker bederf? Of dalk eerder met alle mag parkie toe gehardloop het om eekhorings te jaag?
Wel, vir een hondjie in Winnipeg wat uit haar gesinshuis ontsnap het, was die vanselfsprekende keuse natuurlik haar gunsteling plek op die dorp: die troeteldier-spa.
Voor die pandemie het die 5-jarige Gem ten minste drie of vier keer per week die Happy Tails Pet Resort & Spa besoek. Maar toe die grendeltydperk vir Manitoba tref, het hierdie besoeke drasties afgeneem tot hoogstens vier keer per maand. Gem het dus oënskynlik besluit om die reg in haar eie pote te neem en haar ontsnap haarfyn beplan. Haar mensouers se omheinde agterplaas het nie ‘n kat se kans teen haar gestaan nie toe sy dit kort voor 06:30 op 'n Saterdagoggend omseil het om na die gewilde salon toe te gaan.
Kyk gerus na die video onder om te sien hoe gelukkig Gem by die salon aangekom het.  
Waterval-kampterrein in die mark
Tulbagh-gemeente laat weet dat die gewilde Waterval-kampeerterrein tans in die mark is.  
"Kamp is deel van kerkwees, maar kerk en kamp moes vinnig groot aanpassings maak om te kan tred hou met die eise wat COVID-19 bied. Die VCSV Waterval-kampterrein is in die Ring van Tulbagh geleë. 
Hierdie pragtige plek, wat sedert 1969 in VCSV  besit is, moet tans sy deure sluit met ‘n Te koop-bordjie teen sy hek. Die NGK-familie en die VCSV het so lank reeds ‘n noue verbintenis met mekaar. Daarom vra ons u om asb. saam met ons te bid vir wysheid, insig en die regte koper op die regte tyd."
Kontak vir Hennie van Niekerk by 021 887 0212 of hennie@vcsv.co.za vir meer inligting.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Daar is nog net drie Sondae in Koninkrykstyd voor die aanvang van Advent.
Ons hoor graag meer van gemeentes oor hulle Kerssangdienste en hoe dit hierdie jaar aangebied word.
Met die jaar wat einde se kant toe staan, is baie kerkkantore besig met hulle 2022 kalenders. Stuur gerus die voorblaaie vir ons na kommunikasie@kaapkerk.co.za om op ons webwerf te plaas en met ander gemeentes te deel. Klik ook hier vir 'n lys van kerklike fees- en biddae vir volgende jaar.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.