Subscribe to our email list
4 Oktober 2015

Beste Leser

NG Kerk-logo
Agtergrond
'n Vergadering van 'n Algemene Sinode is 'n vergadering van die kerkverband. Afgevaardigdes van die 10 samestellende sinodes (wat 1100 gemeentes en hulle lidmate verteenwoordig) kom saam om aan die hand van die Woord en Belydenis te onderskei hoe uitdrukking gegee moet word aan die werk wat eie aan die opdrag van die Algemene Sinode is. Die belangrikste hiervan is om beleid te bepaal. 

Wes-en-Suid-Kaap se Afgevaardigdes
Die verkleinde Algemene Sinode het tot gevolg het dat naas ons moderatuur, diensgroepvoorsitters en enkele taakspanvoorsitters daar plek oor was vir nog vier predikante. Ons sinode se afvaardiging bestaan uit 18 predikante en 17 ouderlinge uit die ringe. 
Ons totale afvaardiging bestaan steeds uit die meeste lede (35 van die 200 lede van die vergadering.) Sinodes se proporsionele komponent word gebaseer op die aantal belydende lidmate van sinodes. (Volgens
Agenda van die Algemene Sinode, bl 25.)
Afgevaardigdes het in twee groepe, 29 persone vanaf Kaapstad en vier vanaf George, gevlieg, terwyl enkeles weens dringende verpligtinge op hulle eie moes reis.

Sinodegangers op Kaapstad Lughawe
Kaapse Sinodegangers op Kaapstad Lughawe
Sinodegangers vanaf George Lughawe
Dawid de Wet, Noeline Rossouw, Jan Stadtler en Smuts J van Rensburg
op George Lughawe 
Gereformeerde verstaan van Kerkverband
Binne ons gereformeerde verstaan van die evangelie is “kerkverband” tekenend van hoe ons glo in die kerk as liggaam van Christus. Ons kan nie sonder mekaar nie. (Sien Jesus se gebed in Joh 17 vir sy volgelinge.) Ons behoort aan mekaar, soos (en omdat) ons aan God behoort. Dis soos 'n gesin. Ouers en kinders.
Terwyl ons ernstig daaroor is dat elke gemeente volledig kerk is (completa ecclesia is die Latynse begrip), glo ons ook met alle Christene in een, heilige, algemene, Christelike Kerk. Daarom is ons sinodes 'n vergadering van gemeentes (dis presies wat die begrip beteken) – het 'n sinode nie hoër gesag nie, maar meerdere gesag oor die dinge wat 'n gemeente nie alleen kan doen nie, soos oor die opleiding van predikante; die belydenis (hoe ons oor God glo); die vertaling en vertolking van die Bybel, ens.
Dit maak ons gereformeerd. Geen individuele Christen, of individuele gemeente het al die wysheid en kennis in pag nie. Ons behoort as God se kinders daarom aan mekaar. (Dankie aan dr Ben du Toit vir hierdie helder uiteensetting.) 
Afrikaanse Hoer Seunskool Pretoria Skoolgebou
Ons Gashere
Die Noordelike Sinode tree as gasheersinode vir die vergadering by die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria, op. Afgevaardigdes bly in die koshuise van die Afrikaanse Hoër Seuns- en Meisieskole. 
Verwelkomiing in koshuiskamers
Die Noordelike Sinode sê welkom!
Affies koshuiskamers
Afgevaardigdes se tuiste die week
NG Pretoria-Oos
Openingsliturgie  
Die Openingsliturgie (vanaand om 19:00 in NG Gemeente Pretoria-Oos) was die amptelike opening van die Algemene Sinode, met dr Marina Strydom, leraar van NG Pretoria-Oos, as die prediker. 
Konstituering: Geloofsbriewe
Elke sinode se voorsitter of moderator oorhandig die sinodale geloofsbriewe aan dr Kobus Gerber en steek die sinode se kers aan. Nadat dr Gerber die Algemene Sinode se kers aansteek, word 'n wydingslied gesing. "Loof die Here God en prys sy Heil'ge Naam".
Tien sinodes se kerse brand voor in die kerk
Dirkie van der Spuy
Skriflesing en Boodskap
Die afgevaardigde bedienaar van die Woord met die langste diens, wat die oudste in jare is, neem die opening van die Algemene Sinode as deel van die openingsliturgie waar. Dié persoon gaan ook voor totdat die moderator verkies is. Só dui die Reglement van Orde in die Kerkorde dit aan.
Vanjaar is hierdie
leraar ds Dirkie van der Spuy van die NG Gemeente Moreletapark, Oostelike Sinode. Hy lees uit Mat 1:1-17, die geslagsregister van Jesus.
"In 'n soeke na jou eie identiteit is dit goed om te begin met die vraag: 'Wie is Jesus?'"
Treffend tydens dr Marina Strydom se boodskap:
* "
Dit wat Jesus glashelder sê, dit doen ons nie. Dit waarmee Hy hom níe opgehou het nie, dáármee hou ons ons besig."
* "Die Here nooi ons om nie dualisties te dink nie, maar vas te hou aan mekaar en aan die paradoks van ons gebrokenheid - en ín die paradoks Christus se genade te ontdek."
 
Hou Sinodebode gerus dop vir meer oor hierdie treffende Openingsliturgie!

Gustav Claassen
Bevestiging van Algemene Sekretaris
Prof Nelus Niemandt het vanaand ook dr Gustav Claassen se bevestiging as Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode waargeneem.
Hy beklee hierdie pos sedert 1 Oktober 2015 en werk vir 'n tussenperiode saam met die uittredende Algemene Sekretaris, dr Kobus Gerber, om 'n gladde oorgee te verseker. Seën toegewens, Gustav!

Maandag op die Agenda
Môre neem die verkiesing van die moderatuur onder meer 'n aanvang.
Voorts word die vergadering se inrigting as 'n "groen" sinode verduidelik. Sake soos die Seisoen van Menswaardigheid, sowel as verslae oor die Argief en Artikel 1-proses word ook hanteer.
Verskeie "Oop Gesprekke" vind gedurende die middag plaas. Die volledige (en Aanvullende) Agenda is elektronies hier beskikbaar.
Redelike Raad vir Sinodegangers ...
Uit 'n ander hoek ontvang sinodegangers "redelike raad" van kollegas Stoffel en Freddie ... Hier en daar mag selfs gesoute sinodegangers iets hierin kry om oor te glimlag ... 
Stoffel en Freddie
Nuus uit die Sinode
Diegene wat gebeure by die Algemene Sinode wil volg, het ʼn verskeidenheid kanale waardeur hulle die nuus kan kry. Dit sluit Twitter, Facebook, die Sinodebode-webwerf en die daaglikse Sinodebode-nuusbrief in.
Onthou: Teken HIER in om Sinodebode direk te ontvang. Dit is die amptelike nuuskanaal van die Algemene Sinode en die beste manier om ingelig te bly.
Wes-en-Suid-Kaap se Twitter en Facebook sal ook waar moontlik inligting versprei.
Die gewyde atmosfeer van die Ooskerk, die spesiale boodskap, die roerende lof- en aanbiddingsmusiek het sinodegangers aangeraak. Mag die Here ons in die week wat voorlê, ook nie onaangeraak laat nie.
In die woorde van die slotgebed vanaand: 
"Maak ons U gawe aan die wêreld."

Groete uit Pretoria.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za