Subscribe to our email list
 20 Mei 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. Armoede en Sorg-dagbestuur groet Koos van der Vyver
Tydens die Diensgroep Armoede en Sorg se dagbestuursvergadering op Woensdag 18 Mei het George Rauch (Ring van Tygerberg) die Akte van Demissie aan dr Koos van der Vyver (Predikant in Sinodale Diens: Hospitaalleraar) oorhandig.
Dawid de Wet (diensgroepvoorsitter) en Francois Swart (Taakspan Pastoraat) het hom oa bedank vir die besondere rol wat hy oor jare in die lewens van broses en siekes gespeel het.
Koos tree amptelik op 30 Junie 2016 af. Meer hieroor sal in 'n latere uitgawe volg.
Armoede en Sorg-dagbestuur
Francois Swart, Koos van der Vyver, George Rauch, Wouter van Velden, Deon Bruwer
Armoede en Sorg-personeel
Koos van der Vyver, Isabella de Kock, Leon Venter, Deon Bruwer, Sean Esterhuizen
"... kommunikasie gaan nie oor praat nie, dit gaan oor luister. Ek het dit vroeër nie altyd verstaan nie, totdat ek dit by Koos geleer het."
- Francois Swart tydens Koos van der Vyver se afskeidsgeleentheid 
NG Kerk-logo
2. NG Kerk Kerkorde 2015 nou Beskikbaar
Die Kerkorde van die Algemene Sinode 2015 is voltooi en op die webblad van die NG Kerk beskikbaar (www.ngkerk.org.za) Dit is op die voorblad aangebring en is maklik om elektronies af te laai.  Klik hier om dit as pdf-dokument (1.6MB)af te laai.
"Neem asb kennis dat die Kerkorde 2015 reeds vanaf 13 Januarie van toepassing was met die publikasie van die Handelinge." laat weet Rinel Hugo vanaf die Algemene Sinode.
3. NG Algemene Sekretaris gesels ...
Dr Gustav Claassen, die NG Kerk Algemene Sinode se algemene sekretaris, het onlangs 'n paar vrae van Marieta Visagie beantwoord.
Hy vertel van hoogtepunte in sy pos die afgelope ses maande, deel inligting oor ons ekumeniese vennootskappe, die belang van kerkverband én die viering van ons diversiteit ... sommer 'n mond vol! Klik gerus op onderstaande foto en leer ken iets van die man aan die stuur van sake.
Kontak die kantoor van die Algemene Sinode:
Sophia de Kock: sophiadk@ngkerk.org.za of 012 342 0092.  
Gustav Claassen
4. Geloofsvorming
Wie speel Grootste rol in Jongmense se Lewens?

In 'n reeks van vyf video's wat in samewerking met Bybel-Media gemaak is, praat Thinus van Staden oor belangrike resultate van die jeugnavorsingsprojek en bespreek hy die implikasies daarvan vir die kerk se bediening.
Een van die belangrikste uitkomste van die navorsing was om die belangrikheid van die gesin in kinders se geloofsvorming uit te lig. Ouers se verantwoordelikheid om hul doopbelofte prakties in die huis uit te leef, beteken dat huisgodsdiens van kardinale belang is. Daarom is daar planne om te begin werk aan ’n program vir "gesinskategese". Gemeentes kan gerus die vyf video's hier kyk, en oorweeg om dit te gebruik vir ’n gesprek met jong lidmate.
Geloofsvorming van jongmense
Bossie Minnaar
Guillaume Smit
5. So werk ons Sinode
Die werk van die Sinode van Wes-Kaapland word deur vyf diensgroepe hanteer. Die werk van die vyf diensgroepe word deur die Sinodale Koördineringspan (SKS) neem verantwoordelikheid vir groter kohesie en samewerking in die struktuur. Elke diensgroep bestaan uit verskillende taakspanne. Die vyf diensgroepe is:
Armoede en Sorg
Gemeentebegeleiding
Getuienisaksie
Ondersteuningsdienste
Toerusting

Die PSD: Ondersteuningsdienste is Bossie Minnaar, en die voorsitter van hierdie diensgroep is Guillaume Smit. Meer oor dié diensgroep en sy verskillende taakspanne is op hulle webwerf  - klik hier
ImagineKidz Werkswinkel
6. #ImagineKidz: Werkswinkel
Imagineers in en rondom Kaapstad!
As jy nog onseker is oor wat dit behels om  'n "host" te wees vir 'n #Imagine Kidz Experience, moet jy hierdie werkwinkel in Durbanville by die NG Gemeente Durbanville-Bergsig bywoon.
Datum: 3 Junie
Tyd: 10:00 - 12:00 
Antwoord asb nie later nie as Maandag 30 Mei deur 'n e-pos te stuur aan infokidz@imaginemovement.co.za.
Klik hier vir aanwysings na die Bergsig-gemeente.
7. Getuienisaksie
7.1 Decoligny se Sam Dandala besoek Wes-Kaap

Sam Dandala, ouderling in die VGKSA Gemeente Decoligny, neem tans die leiding in hierdie vakante gemeente. Hy is ook besig met sy teologiese studies deur UNISA. In hulle jongste nuusbrief oor Decoligny, skryf Willem Botes dat Sam en sy gesin gemeentes in die Strand en Stellenbosch-Wes vanaf 22 tot 29 Mei besoek.
Op 22 Mei preek hy om 09:00 by Lourensrivier en op 29 Mei by Stellenbosch-Wes-gemeente. Die tema van die besoek is "Geroep om die liggaam van Christus te wees." Dankie vir voorbidding vir hierdie besoeke. Decoligny is geestelik versterk deur die onlangse besoek van lidmate uit gemeentes in die Strand - groot dank aan almal betrokke. Kontak Willem Botes by 083 658 2154 vir meer inligting.
Op die foto is Sam en Amanda Dandala met hulle seuntjie, KJ.
Sam, KJ en Amanda Dandala
Prof Nico Koopman
ALGEMEEN
1. Hartlike gelukwense: Viserektor van US
Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het by sy geskeduleerde raadsvergadering van 9 Mei twee senior aanstellings gedoen. Prof Nico Koopman, waarnemende viserektor in die portefeuljes Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, is permanent aangestel in dié posisie. 
In 2010 is Prof Koopman aangestel in die pos van Dekaan van die Fakulteit Teologie. Hy is bekend as kerk- en akademiese leier van formaat. Lees gerus die mediaverklaring hier.
Seënwense vir wysheid en onderskeidingsvermoë!
2. Libertaskoor bekoor behoorlik Oorsee!
Die Stellenbosch Libertaskoor, olv prof Johan de Villiers, het pas teruggekeer na 'n hoogs suksesvolle toer van vier weke in Duitsland. Die koor was die gaste van die Landeskirche (streeksinode) van Nordrhein-Westfalen.
Hulle het eie konserte gehou in kerke en skole regoor die noordwestelike streek van Duitsland, en uiteindelik ook in die hoofstad Berlyn 'n draai gaan maak, waar hulle in die Berliner Dom 'n vol kerkgebou op hulle voete gehad het.
Op die onderstaande foto is 'n paar bekende gesigte in die Wes-Kaapse kerk. 

Libertaskoorlede
Vlnr: Clive van Zyl, algemene bestuurder van Monte Rosa, 'n Badisa-sentrum vir bejaardes in Tuine; aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk, dr Renier Koegelenberg, uitvoerende direkteur, Ecumenical Foundation of Southern Africa (EFSA), Lizl Botha, jeugwerker - NG Gemeente Helderberg en Lambert Jacobs, predikant - NG Gemeente Stellenbosch-Noord.
Libertaskoor Bad Oeynhausen
Die Libertaskoor se konsert in die St Marienkirche in Bad Oeynhausen.
Die aangrypende brandskilderglaswerk is duidelik sigbaar en
die Christusbeeld is 'n sogenaamde "Afrika Christus".
US Winterskool
2. A home for us all: Winterskool 2016
"A home for us all – the future of Christianity and our youth in Africa."
Die Winterskool (31 Mei tot 2 Junie) vind plaas by die Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171. Predikante, studente, teoloë, academici en die breë publiek almal welkom! 
Koste: R350 vir die volle kursus. Die program en registrasievorm is aangeheg. Reageer voor die sluitingsdatum van Vrydag 20 Mei 2016
Die hoofsprekers is ds Esmé Bowers, (Volle Evangelie Kerk, prinsipaal en direkteur van uitreike van “Happy Feet”), me Lovelyn Nwadeyi, nagraadse student in Politieke Wetenskap aan die US, en prof Brian O’Connell, voormalige rektor en visekanselier van UWK en voormalige hoof van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys. Talle parallelle sessies. Vanweë die ekumeniese aard van die konferensie, sal Engels hoofsaaklik die taal van aanbieding wees.
Hein Kruger
3. Bybelgenootskap: Ontbyt met Hein Kruger
Op 10 Junie 2016 tree finansiële kenner Hein Kruger tydens 'n sakeontbyt van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op. Die ontbyt begin om 08:00 en word gehou by die Winery Restaurant by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, Carl Cronjé-rylaan, Bellville.
Koste: R180 per persoon. Kontak Heila van Wyk om te bespreek:  heilavw.liaison@gmail.com of  082 670 2968. Klik hier.
Reformasie 2017
4. Reformasie 500
"Reformation means courageously seeking what is new and turning away from old, familiar customs."  - Christina Aus der Au van Switzerland en president van die 2017 Kirchentag. 
At the same time, it means asking what sustains and holds people together when everything is changing, and when the world seems out of joint, she said.
As teken van versoening en 'n nuwe begin, word die 500ste herdenking van die Reformasie in 2017 beskryf as 'n "profoundly ecumenical, as well as European and international celebration" deur biskop Heinrich Bedford-Strohm, voorsitter van die Raad van die Evangelical Church in Germany. Diegene hier plaaslik gemoeid met reëlings vir Reformasie 500 kan hier meer lees. (Foto: Stephen Brown)
5. Sosiale Netwerke ...
5.1 WhatsApp op jou Rekenaar

Heelwat gemeentes gebruik WhatsApp om hulle kommunikasie met lidmate en groepe makliker te maak. 'n Mens kan deesdae WhatsApp ook op jou rekenaar installeer (Win 8 of hoër, Mac OSX is ook beskikbaar), waarna dit met jou foon se WhatsApp gesinkroniseer bly. Dis natuurlik baie makliker om 'n boodskappie op jou rekenaar te tik en te stuur as van jou foon af. Klik hier vir meer besonderhede, met dank aan Netwerk24.
Twitter
5.2 Twitter hou dit Kort 
Twitter is weens die kort formaat (tweets word beperk tot 140 karakters) ideaal vir nuus en regstreekse gebeure wat kort en kragtig oorgedra moet word.
Vandeesweek is aangekondig dat Twitter vir eers nie die 140-karakterperk ophef nie. Die manier waarop dit bereken word, gaan blykbaar wel drasties verander. Skakels na webwerwe en foto's gaan voortaan nie meer “tel” nie. As jy op Twitter saamgesels, wil jy dalk hier meer lees. (Met erkenning aan Netwerk24)
Volg die sinode gerus by @WSKaap.

Bybel
6. Raakgelees: Jongmense en die Bybel
Onlangse studies wys dat millennials (gebore tussen 1984 en 1998) minder geneig is om die Bybel te lees of vertrou as enige ander persone. Meer as die helfte (55%) staan neutraal of skepties jeens die Bybel.
Tog toon 'n studie dat die Christen jongmense wat wel kerk bywoon en erns met hulle geloof maak, die Bybel selfs beter as ouer Christene mag ken.  
Meer oor hierdie studie, wat oor 'n tydperk van ses jaar in die VSA gedoen is, is hier beskikbaar
Study on Bible
Biddende hande
7. Gebedsbediening: Oor Gebed en Voorbidding
Predikante, gemeenteleiers en diegene wat gebed as 'n kernaspek van die liturgie beskou, soek dikwels leesstof om met die beplanning van sinvolle voorbidding in die erediens te help. Dit mag wys wees om te begin ... deur te bid. "Ask God for help as you prepare. Ask him for humility and grace as you go up to pray." Belangstellendes kan hier lees wat Kevin DeYoung skryf. 
Pous Franciskus
8. Raakgelees
Vroulike diakens in Katolieke Kerk?

Pous Franciskus het verlede Vrydag (12 Mei) aangekondig hy sal 'n kommissie aanwys om die moontlikheid van vroue as diakens in die Katolieke kerk, te ondersoek. Dit is 'n geskiedkundige teken van 'n openheid vir die moontlikheid van die beëindiging van die praktyk van slegs manlike geestelikes in dié kerk. Belangstellendes kan hier verder lees.
Intussen het die Pous se aankondiging wyd reaksie uitgelok. Klik hier indien jy belangstel om verder te lees.
Anika en Frederick Marais
9. Bybelstudie-bendes = Veertjie 
"Die leier van die Bybelstudie-bendes" (30 Mei 2015, By: Die Burger) het verlede week aan Anika Marais 'n ATKV-Mediaveertjie toekenning besorg vir beste persoonlikheidsprofiel.
Lees die aangrypende verhaal oor Denzil Moses, een van die leiers van die Fancy Boys, gerus (met dank aan Netwerk24).
Ons is saam trots, want Anika was voorheen kerklike verslaggewer én is die dogter van Frederick Marais (die sinode se assessor en Predikant in Sinodale Diens: Toerusting by Communitas op Stellenbosch). Welverdiend, Anika!
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Blanco vier 65 jaar!
Die NG Gemeente Blanco in George het Sondag 65 jaar van gemeentewees gevier. Saam daarmee was dit Pinksterfees én belydenisaflegging: voorwaar wonderlike redes vir feesvieringe!
Belangstellendes kan gerus na 'n kort video van hoogtepunte van die diens kyk. Aan Francois Mulder en Cornie Pretorius, die gemeenteraad, personeel en lidmate: mag die Here se seën sigbaar wees oor die gemeente in die jare wat wag. 
Blanco 65
Blanco belydenisaflegging
NG La Rochelle - Myan Subrayan
Jannie le Roux en Anneme Strydom
3. Besonderse Belydenisaflegging
Hier is spesiale nuus uit Gordonsbaai!
Albei dames in die NG Gemeente Gordonsbaai-kerkkantoor, Annelie Dorfling en Sanette Strydom, se kinders het op Sondagaand 15 Mei saam belydenis van geloof afgelê. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat dr Jannie le Roux 18 jaar gelede vir Anneme (dogter van Sanette) gedoop het.
In totaal het sewe jongmense tydens hierdie geleentheid openbare belydenis van geloof afgelê.Ons vier dit graag saam met julle as gemeente!

Kontak die kerkkantoor by 021 856 1654 of stuur 'n e-pos na ngkgordonsbaai@absamail.co.za
Gordonsbaai Belydenis
Vlnr Annelie en Wian Dorfling, Anneme en Sanette Strydom
Hanno Ackerman
4. Sonstraal: Bediening vir Jongmense!
Hanno Ackerman, jong predikant by die NG Gemeente Sonstraal (Durbanville), wil ’n gemeenskap skep vir die jeug, studente en jongmense met ’n nuwe tweetalige diens op Sondae van 18:00 tot 19:00 by die kerk (hoek van Tulip- en Hebronstraat, Amanda Glen).
Hanno vertel: "As jy op soek is na 'n plek om deel te voel van die community en waar jy spiritueel kan groei, is hierdie bediening vir jou."
Lees die berig in Tygerburger hier. (Met dank en erkenning oorgeneem.)
Besoek Sonstraal se webwerf hier.
Twitter Facebook YouTube
PREDIKANTENUUS
1. Nuut in Calvinia! Welkom, Maryke!
Dit is lekker om in die Calvinia-gemeenskap se vreugde te deel! Op Sondag 22 Mei om 09:30 word prop Maryke Uys in die NG Moedergemeente Calvinia deur ds Edward Archer bevestig, waarna haar intreepreek volg.
Maryke was in 2015 vir haar gemeentejaar by die NG Gemeente Paarl-Vallei, waar sy as proponent aangebly het. Sy is verloof aan Riaan van Niekerk, wat so geseënd is om reeds op 1 Junie in dieselfde omgewing (Williston) te begin werk. Maryke en Riaan beplan om in September te trou en ons wens hulle besondere vreugde en vervulling as deel van die hartlike Calvinia-gemeenskap toe!
Maryke Uys en Riaan van Niekerk
Maryke Uys en Riaan van Niekerk
Niel Steyn
2. As die Here 'n geleentheid Skep ...
Ds Niel Steyn is vanaf 1 Mei by Table View-gemeente aangestel  in 'n deeltydse onbepaalde termynaanstelling as predikant met opdrag Missionale Gemeenskapsontwikkeling. Sy fokus is gemeenskapswerk en sosiale geregtigheid. 
Wat die aanstelling uniek maak, is dat dit die resultaat is van 'n vennootskap tussen Table View en Bloubergstrand-gemeentes en Echo Jeugontwikkeling. Omdat die twee gemeentes in dieselfde omgewing geleë is, het ons gevoel ons kan saam meer doen in ons gemeenskap. Echo Jeugontwikkeling met hulle Echo-huise vir jongmense is ook reeds, onder Niel se leiding, aan die werk in ons omgewing. Al drie hierdie vennote dra dan ook by tot sy vergoedingspakket. So lei die Here ons op nuwe opwindende paaie. Seën toegebid, Niel!
GNAP
EKOLOGIE
Kuns bekyk kwesbare Aarde
Hiervan moet gelowiges beslis kennis neem! Twee derdes van die plante en spesies op die rooidatalys van kwesbaarheid kom in Afrika suid van die Sahara voor.
Nou word 'n Global Nomadic Art Project beplan om die SA-publiek se aandag op hulle houding jeens die natuur te vestig. Dit begin op 8 September en sluit kreatiewe slypskole en werksessies in onder meer De Aar, Loxton, Richmond, Nature's Valley, Prins Albert en Kaapstad in. Lees gerus hier, met dank aan Netwerk24.
NUUSBRIEWE
Bybel-Media Nuus
Hierdie week fokus ons op die jongste Kerkbode, die Junie-uitgawe van LiG en die bekendstelling van prof Jaap Durand se nuwe boek.  Lees hier verder ...
Kerkbode 20 Mei 2016 Protes-stem
e-Kerkbode-logo
PUBLIKASIES
1. Nooi lidmate om In te Teken op e-Kerkbode

Die NG Kerk se kommunikasie het 'n reuse voorwaartse stap geneem met die bekendstelling van e-Kerkbode. Oorweeg asb om in die erediens af te kondig dat lidmate by www.kerkbode.co.za kan inteken op weeklikse nuus van die NG Kerk-familie.
Barnabe, Tumaini en Susan Msabah
1.1 Lees in e-Kerkbode
'n Vlugteling se Venster op die Lewe

Vanjaar verwerf Barnabé Msabah sy PhD in Teologie. Hy fokus op The Empowerment of Hope. Maar 'n mens moet sy merkwaardige verhaal as vlugteling hoor om iets te verstaan van die wonder hiervan. En van die genade dat hy steeds sy lewe as "'n reis van hoop" beskryf. Lees hierdie verhaal in e-Kerkbode - klik hier.
Deel van die verhaal, is Jurie en Magdaleen Goosen, predikantspaar van die Stellenbosch International Student Fellowship, waar Barnabé deel van die leierskap van hierdie bediening van die NG Kerk geraak het. Navrae aan Jurie by goosens@isales.co.za.
2. BM: Getrouheidsertifikate
Bybel-Media bied gemeentes moderne A4-grootte getrouheidsertifikate wat baie geskik is vir alle ouderdomsgroepe in verskillende kleure om van te kies.
Beskikbaar in pakkies van 12.
Ander hulpmiddels met 'n jeugfokus is op Bybel-Media se webwerf.
Gemeentebestellings: 0860 26 33 42 of bestel@bmedia.co.za.
Kleuter-Pretpak
3. CLF-materiaal vir Kleuters
Splinternuut op CLF se rak, is die Afrikaanse Ja! Kleuter-pretpak, nou in 'n nuwe formaat wat die volgende behels:
Ja! Kleuterbybel ('n stel van vyf storieboekies), 'n aktiwiteitsboek, 'n inkleurboek asook 'n pakkie met 12 kryte vir slegs R120 (posgeld uitgesluit).
Bestel tot einde Junie by order@clf.co.za of skakel 021 873 6964.
Besoek CLF se webwerf by www.clf.co.za.
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor basaars, feeste en vieringe! Hou die sinode se Facebook dop vir meer nuus. Dankie aan elkeen wat help reël, bak en ondersteun!
NG Worcester-Noord Basaar
NG Worcester-Noord
3 Junie 
NG Brackenfell-Wes - Leandie Du Randt
NG Brackenfell-Wes
27 Mei
Badisa Trio Ball
Badisa Trio
29 Julie
Badisa-logo
VAKATURES
1. Badisa Uit en Tuis Crèche: Programkoördineerder 
Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland), se Uit en Tuis Crèche in Vasco, het 'n vakature vir 'n progamkoördineerder. Reageer voor  27 Mei en lees aangeheg meer. 
2. Badisa Joey's Babies: Admin Beampte en Boekhouer
Joey;s Babies Dagsorgsentrum in George-Oos benodig drie oggend in 'n week die dienste van 'n administratiewe beampte/boekhouer. Sluitingsdatum: 31 Mei; klik hier.

Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Chris Barnardo
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Chris Barnardo

20 Mei - Ek onthou

Enkele meters vanaf die verwoestende motorbom, het my aardse lewe amper tot 'n einde gekom.
EK ONTHOU
Skrapnel, gebreekte glas, brandende voertuie, gillende mense. Die reuk van die dood het in die lug gehang. Leweloos het ek in Kerkstraat gelê. Sirenes was die klanke van genade – iemand sou my kom haal.
EK ONTHOU
Wanhoop, angs, vrees, moedeloosheid het in die dae en maande daarna my adres besoek en in my kom woon. 
EK ONTHOU
Van vooraf leer alles doen - leer praat, leer dink, leer vat, leer loop. Moeg en moedeloos. Ek wou 'n einde maak aan hierdie sinlose bestaan.
EK ONTHOU
Die worsteling om te vergewe. Woede, wrokke, aggressie, skuldgevoelens en ontkenning. 'n Sukkelbestaan.
EK ONTHOU
'n Kruis. 'n Leë graf. En Jesus wat hierdie moeë kind veilig terug na God toe help. Ek kon die bomplanters loslaat in God se genade ... Toe word ék vry. Vry om weer die wind in die gras te hoor. Vry om in die reën te dans! ... en vir altyd te glo die emmers vol genade kom net van Bo ...
EK ONTHOU OP 'N ANDER MANIER – DIE JESUS-MANIER ...
* * *
Chris Barnardo is predikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike. Hy lewer graag sy getuienis in gemeentes. Kontak hom by arauna@mweb.co.za.

Potlood-kerk

Die geheim van menswees is om
genade in die gewone te gewaar,
verrukking in die vanselfsprekende;
om grootsheid in die kleine,
majesteit in die eenvoudige,
vreugde in die vertroude te leer vind,
ja, om God in alles, ook in ons naaste, raak te sien,
naby ons, onder ons.
- Dirkie Smit

Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za