Lees deur internet, klik hier >>
16 Oktober 2015
Beste Leser
"Tydens hierdie snikhete sinode het die liggaam van Christus sigbaar geword
– die diversiteit daarvan sowel as ons diep eenheid onder die Hoofskap van Jesus.  
Ons stuur mekaar huis toe met die sekerheid dat Hy by ons is. "
- Afskeidsgroet van Oostelike Sinode tydens Algemene Sinode-afsluiting.
- Die volledige teks van al die ander afskeidsgroete is hier.
NG Kerk-logo
SINODENUUS
1. NGK Algemene Sinode
1.1 Besluite

Dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die Algemene Sinode, laat weet dat die Besluiteregister so gou moontlik op die NG Kerk se webwerf geplaas sal word. Geduld word gevra, want die laaste notules moet nog deur 'n paar hande gaan voordat die hele notule versorg word. Die Besluiteregister kom spoedig daarna.  
Intussen is die Argief in die proses om 'n samestelling van alle besluite oor selfdegeslagverhoudinge op hulle webblad by Acta beskikbaar te stel. Klik hier en beweeg af op die blad.

1.2 NG Algemene Sinode Moderator en Assessor gesels
Die Algemene Sinode se moderator, Nelis Janse van Rensburg, en assessor, Dirkie van der Spuy, gee in 'n video-insetsel agtergrond oor die besluit rakende selfdegeslagverhoudinge. Die ernstige versoek is dat hierdie video in gemeentes se eredienste vertoon word en saam met die pastorale brief aan lidmate beskikbaar gestel word om die besluit verder toe te lig.
Dirkie van der Spuy en Nelis Janse van Rensburg gesels oor besluite
1.3 Frederick Marais Getuig
"Hoe lyk hierdie huis nou? Ons is in 'n huis waar almal onvoorwaardelik welkom is, soos wat hulle is. Ons is in 'n huis wat gebou is op die fondament Jesus Christus, wat vra dat ons in genade, respekvol en waardig praat oor alle mense ... Waarin díép luister ons houding is en waar ons gereeld vir mekaar sê 'jammer as ek jou menswaardigheid aangetas het, want dit is nie waardig van die evangelie nie'."
Aan die woord is Frederick Marais tydens Sondag se erediens in die Moederkerk, Stellenbosch. Diegene wat graag wil luister wat hy verder vertel, kan die video van ongeveer 12 min kyk deur op die foto langsaan te klik.
Jaco Thom
1.4 Jaco Thom dink ook na ...
"Hoe kan 'n mens vandag iets aanvaar wat in Bybelse tye as verkeerd geag is? Is die Bybel dan nie meer vandag vir ons die hoogste gesag nie? Moet ons sê kultuurveranderings weeg swaarder as wat die Bybel leer? Die vraag oor die gesag van die Bybel is hier uiters relevant. Prof Johan Heyns het gesê ons moet baie mooi onderskei tussen kernsake en randsake as ons oor die gesag van die Bybel dink." Dalk help dit ook met perspektief om die res van Jaco Thom (NG Toringkerk in die Paarl) se bloginskrywing te lees. 
Wes-en-Suid-Kaap-logo
1.5 NG Wes-en-Suid-Kaap Moderatuur reageer
Intussen het Charl Stander, skriba, namens die Wes-en-Suid-Kaapse moderatuur ook 'n brief aan predikante en gemeentes geskryf om enkele opmerkings oor die implikasies van die selfdegeslag-besluit te maak. Belangstellendes kan dit hier lees.
2. NG Streekkonferensies in Sinodale Gebied
Die NG Wes-en-Suid-Kaapland Moderatuur hou in November streekskonferensies op ses plekke in die sinodale gebied om te luister wat in die harte van predikante en gemeentes leef. Dit beloof ruim geleentheid vir gesprek oor wat tans in gemeentes gebeur, sowel as terugvoer oor die aksies wat deur die diensgroepe en die leierskap geneem is om uitvoering te gee aan die besluite van die Mei-sinodesitting by Goudini.
'n Gesprek oor die gebeure en besluite by die Algemene Sinode sal uiteraard ook aan die beurt kom. Gemeenteleiers is ook ook welkom. Klik hier vir meer inligting oor gesprekke in Vanrhynsdorp, Beaufort-Wes, George, Caledon, die Paarl en Bellville. Bevestig jou teenwoordigheid asb voor 22 Oktober by jou ringsvoorsitter.
3. Armoede en Sorg se Nuwe Gesig!
Hiermee hartlik welkom aan Isabella de Kock, die nuwe sekretaresse vir Diensgroep Armoede en Sorg.
Isabella het vandeesweek, op 15 Oktober, in hierdie pos by die NG Kerksentrum in Bellville begin en ons wens haar graag vervulling in die  nuwe werksomgewing toe.
Kontak Isabella by omgee@kaapkerk.co.za of 021 957 7113. 
KGA-logo
4. Getuienisaksie: Alpha-kursus keer lewens om!
Hoe gebeur dit dat gevangenes as misdadigers by Pollsmoor instap en as hulle daar uitstap, leiers in hul huisgesinne en gemeenskappe word? Piet Els, leier van ‘n Alpha-span (http://www.alpha.org/), het die afgelope sowat vyf jaar ’n ommekeer in tientalle gevangenes se lewens help begelei.  Die kursus het ’n dramatiese impak op veral randfiguur-mense wat hul lewens wil verander. Lees meer
5. Publieke Getuienis
Wêrelddag vir Uitwissing van Armoede - 17 Oktober

Dink 'n bietjie saam hieroor: Nagenoeg 3 biljoen mense lewe op minder as R30 per dag. Nagenoeg 1,3 biljoen mense lewe in “uiterste” armoede. Volgens UNICEF sterf 22 000 kinders elke dag van armoede. 750 miljoen mense het nie behoorlike toegang tot skoon drinkwater nie. Daarom het ons `n dag waar ons spesifiek iets daaroor wil sê. (Aangehaal uit omsendskrywe wat van die Anglikaanse Kerk ontvang is.) Ons moedig gemeentes aan om saam oor hierdie brandende vraagstuk te bid en te dink.
'n Laaste gedagte van ons kant. Die krisis in SA is nie net armoede nie, maar wel armoede in die teenwoordigheid van rykdom. Dit maak dit vir die hopeloses veel erger en is die kruitvat waarop ons almal sit.
#imagine ignite
Deon Bruwer en Koos van der Vyver
Deon Bruwer en Koos van der Vyver
7. Biddag vir Gesondheidsdienste
- Sondag 18 Oktober

Die meeste van ons weet hoe dit voel om ontredderd en verslae langs die hospitaalbed van 'n geliefde te sit. En dit is in sulke omstandighede dat 'n hand op die skouer en 'n Woord van troos ons help om deur die dag te kom.
Ons dank gaan aan ons getroue Hospitaalpastoraat-personeel wat ons in hierdie tye bystaan. Lees meer
8. Emeriti, kom kuier saam!
Dankie aan soveel van ons NG Kerk-familie se emeriti wat reeds aangedui het dat hulle saam kom tee drink! 'n Herinnering: die Moderatuur van die Wes-en-Suid-Kaap Sinode nooi elkeen graag na 'n lekker saamkuier op Woensdag 4 November in George of Dinsdag 24 November in Somerset-Wes.
Dié uitnodiging is vir alle emeriti, ook diegene wat in ander sinodes afgetree het en intussen verhuis het, sowel as dié wat die dag toevallig in die omgewing is. Weduwees van predikante is net so welkom! Kom kuier gerus saam! Kontak Sanet (021 957 7155 of skriba@kaapkerk.co.za) voor 30 Oktober om plek te bespreek. 
Emeriti-tee uitnodiging
ALGEMEEN
1. Eerste Jaarlikse Russel Botman Gedenklesing
Dit is vir die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, 'n voorreg om die Eerste Jaarlikse Russel Botman Gedenklesing aan te bied op Maandag 19 Oktober in die Attie van  Wijk Ouditorium by die Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171. Die hooflesing word gelewer deur prof Dirkie Smit, uitgelese professor verbonde aan die Fakulteit Teologie binne die dissiplinegroep Sistematiese Teologie en Ekklesiologie. Die titel van sy lesing is: “Om geskiedenis te maak ter wille van komende geslagte” – Oor die teologiese logika van Russel Botman se toewyding aan transformasie.
Response sal gelewer word deur prof Mary-Anne Plaatjies van Huffel, namens die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), en prof Nico Koopman, namens die Universiteit Stellenbosch. Klik hier en reageer voor 16 Oktober.
Russel Botman Uitnodiging
Doug McGaughey
2. US Teologie: Seminaar - Kant oor Vryheid
Die Fakulteit Teologie bied op Donderdag 22 Oktober van 14:00-16:30 'n seminaar met die tema "Kant on Freedom and Law" aan. Dit vind plaas in die Raadsaal van die Fakulteit Teologie. Die seminaar word aangebied deur prof Douglas McGaughey. Bevestig teenwoordigheid voor Dinsdag 20 Oktober - lees hier meer. Almal welkom.
NG Victoria-Wes
3. Aflos benodig
Manus Duminy skryf: "Die NG Gemeente Victoria-Wes is op soek na 'n aflos vanaf 30 November - 27 Desember 2015.
Enige proponente of emeriti wat belangstel, kan my kontak by 082 879 2299, 053 6210 164 of manusduminy@gmail.com."
Wes-en-Suid-Kaap se Kers
4. Spaanse Geloofsbelydenis
Dr Marina Strydom (NG Pretoria-Oos) het verskeie navrae gekry oor die Spaanse Geloofsbelydenis wat sy tydens Sondagaand 4 Oktober se erediens vir die opening van die NG Algemene Sinode gebruik het.
Belangstellendes kan hier klik vir die volledige teks daarvan. (Met dank aan Sinodebode.)
Kaleidoscope
5. Kaleidoskoop:
Nuwe Naam vir Blindes!

Op 10 September 2015 het die Instituut vir Blindes 'n groot stap geneem. Hulle het hulle nuwe naam aangekondig en is in die proses om alles op te dateer. Die Instituut is nou Kaleidoskoop – Laat blindes die weg wys / Kaleidoscope – Let the blind lead. Sien asb aangeheg hulle nuusbrief wat die naamsverandering verder toelig.  
6. MATIES: Kruiskerk Eerstejaarskamp 2016
Oudergewoonte bied NG Stellenbosch Moederkerk en Kruiskerk ’n eerstejaarskamp in 2016 aan en enige een is welkom! Die kamp word van 17 tot 20 Januarie 2016 te Bergkroon, Wellington aangebied. Registrasie vind op 17 Januarie 2016 plaas te Kruiskerk, Stellenbosch. Koste vir die kamp beloop R650 (etes, verblyf en vervoer ingesluit). Om in te skryf besoek gerus www.kruiskerk.com.
Kruiskerk Eerstejaarskamp 2016
Kougomkamp 2016
7. KOVSIES: Kougomkamp 2016
Dit is sowaar weer tyd om hierdie gewilde kamp vir eerstejaars wat in 2016 by ‘n tersiëre instansie in Bloemfontein wil studeer, te adverteer! Dié kamp word deur die NG Studentegemeente Bloemfontein aangebied en sal van 10-14 Januarie 2016 plaasvind. 
Hier is die volledige inligtingsboekie wat ook die registrasie/vrywaringsvorm, lys van benodigdhede ens bevat. Kougom Eerstejaarskamp 2016 is 'n hoogtepunt! Vra julle gemeentes se matrieks wat Kovsies toe gaan, om sommer nou in te skryf.
8. PUKKE: Eerstejaarskamp 2016
Van die NG Gemeente Puk Kandelaar in Potchefstroom ontvang ons ook nuus oor hulle eerstejaarskamp, van 5-8 Januarie 2016.
Klik by www.ngpukkandelaar.co.za om meer inligting te kry en aanlyn in te skryf. Inskrywings open op 1 November 2015. 
Russel Botman
9. Frik Landman oor Leierskap 
In sy bydrae oor leierskap, verwys Frik Landman onder meer na wyle prof Russel Botman: "Prof Russel Botman het die visie van 'n Pedagogie van Hoop voorgehou. Dit was nie genoeg om dit net aan te kondig nie, hy moes daadwerklike aksies instel en dryf om momentum daaraan te kon gee. Belangstellendes wat graag lees hoe bekendes oor leierskap nadink, kan hier verder lees. (Frik Landman is die uitvoerende hoof van USB-Bestuursontwikkeling [USB-BO].) (Skets met dank en erkenning aan Nico Simpson)
10. Pastorale Beradingskursus: Pa-seun Verhoudings
Pyn vanuit die verlede met betrekking tot ons verhoudings tot ons vaders is dikwels die oorsaak dat talle Christene worstel met ‘n verdraaide Godsbeeld en dit gevolglik baie moeilik vind om God die Vader intiem en naby te ervaar. Prof Wentzel Coetzer bied 'n VBO-geakkrediteerde kursus oor "Pa-wonde en Pa-honger" aan op 7 November in Potchefstroom. (Veral) ons lesers daar naby kan hier meer inligting kry.
PREDIKANTENUUS
Loftus verlei toe meer Mense ...
Net toe die Wes-en-Suid-Kaapse sinodegangers behoorlik die stof (en HITTE) van Pretoria afgeskud het, is die groep geskud deur nóg 'n bekentenis ... dit was toe nie net twee lede van die groep wat "afgedwaal" het nie, daarvoor was die versoeking van Loftus presies oorkant Affies net te groot ...
Smuts en sy broer, Helgard (moderator van Vrystaat Sinode), kon net nie langer met dié geheim saamleef nie en te oordeel aan die breë gllimlagte, was dit darem die moeite werd om die Bulle se kraal te besoek!
Quintus, Smuts, Hegard en Charl
Quintus Heine, Smuts en Helgard J van Rensburg, Charl Stander
GEMEENTENUUS
1. Beaufort-Wes restoureer Kerk
Die Moedergemeente van Beaufort-Wes is tans besig om die kerk te restoureer. Hierdie projek het 'n begroting van R1.3 miljoen  - die hele kerk word geverf van bo tot onder – die nodige herstelwerk aan toring, gebou en loodglasvensters word ook gedoen. Die kerk is in 2020 200 jaar oud en ons is baie geseënd om vir die kerkgebou 'n nuwe baadjie aan te trek. Die kerkraad het reeds in 2009 begin fondse insamel en ook 'n pastorie verkoop om die nodige fondse te in.
Hierdie projek, wat teen einde Oktober 2015 afgehandel behoor te wees, is 'n bewys dat die Here getrou is in sy Woord en is in volle vertroue op Hom aangepak. Kontak gerus vir Jan Stadler (082 336 2066) vir enige navrae. (Klik op foto vir groter weergawe.)
NG Helderberg Uitreik Clem Sunter
NG Gemeente Helderberg
Gys van Schoor
3. NG Durbanville
Reeks oor Stres en Uitbranding

In ons gejaagde, oorvol en stresvolle lewens, is dit ‘n reuse uitdaging om jou grense te bepaal en die nodige balans te vind, sodat jy geestelik, emosioneel en fisies nie uitbrand nie. Hieroor gaan ds Gys van Schoor van NG Durbanville gedurende November 'n gesprekreeks hou, met insette ook van dr George Roux, 'n sielkundige, en dr Martin de Villiers, 'n mediese dokter. Lees hier verder.
NUUSBRIEWE
1. CLF: Nuusbrief
Die Seisoen van Menswaardigheid-materiaal beeld agt verhale van Jesus  uit waar menswaardigheid en die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid geïllustreer word, naamlik: respek, luister, omarm en liefhê. Elke verhaal word met 'n plakkaat vergesel met die illustrasies, fokusvers, asook kernvrae om groepe te help om die kruks van die verhaal raak te sien. Hierdie wonderlike plakkate kan direk by Chaundrey Johnson bestel word. Skakel 021 873 6946.
Seisoen van Menswaardigheid-plakkate
Missie Japan Drukkie
2. Missie Japan Nuusflits
Uit Japan skryf Stephan van der Watt: "As jy dalk nog nie gehoor het nie, ek het die beroep as voltydse dosent na die RCJ se Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool aanvaar. Diep bewus van dié groot voorreg en geleentheid vol potensiaal. Met dankbare harte is ons dus eerskomende Maandag op pad na Kobe. Ons verlaat Tokushima gemeente met hartseer en ’n gevoel van verlies, want ons het hier ons eerste treë in Japan leer gee, en is altyd gasvry omarm en gedra (soos wat Yuna in die foto vir Stephan 'n drukkie gee.) 
Twitter Facebook
KUIER-KANS
Klik gerus op die advertensie pamflette om 'n groter weergawe oop te maak. 
Beaufort-Wes basaar
Beaufort-Wes Basaartafels
1. NG Beaufort-Wes: Basaar
Beaufort-Wes Moedergemeente hou basaar op 30-31 Oktober en op Sondag 1 November het hulle Dankdiens in die mooi nuutgerestoureerde kerkgebou.
Almal welkom om op Vrydag 30 Okt lekker kos te gaan koop en die kinders te bring vir hulle spesiale basaar-dag! Hope speletjies, asook heerlike eetgoedjies en geskenkies by die kindertafel. 
Op Saterdag 31 Oktober begin die basaar om 09:00, maar die koffietuin is reeds vanaf 08:00 oop vir ontbyt, koek en tert. Vanaf 09:00 is alle basaar lekkernye natuurlik te koop: pannekoek, poeding, tuisgebakte brode, Karoovleis, beskuit, koeke, kleinkoekies, braaivleis, roosterkoeke en meer! Kyk net so ...
NG Strooidak Bergfietstrap
NG Stellenberg Feesmark Alta du Toit Nasorg Konsert
NG Wellington Feesdiens
NG Gemeente Wellington Feesdiens
Worcester-Noord Vroueoggend
NG Gemeente Worcester-Noord Vroueoggend
Strooidak-logo
7. Strooidak-Williston Fees 2015
Vrydag 30 Oktober vanaf 10:00 tot laat en Saterdag 31 Oktober vanaf 08:00 tot 13:00 by die De Poort terrein in Suider-Paarl.
Williston bring weer BAIE vleis – 6 000 braaitjops, 5 000 skilpaadjies, 1 ton wors en 20 000 sosaties. Die tafels gaan ook kreun onder gebak, pannekoek, poeding, lekkergoed en speelgoed vir kinders, handgemaakte geskenke en  meer. Saterdagoggend bied ‘n heerlike plaasontbyt en 'n blommeskou. Kom deel in al die pret en lekkerte van ‘n heerlike Strooidak-Williston Feesnaweek, nooi hulle.
8. NG Wellington-Oos: Basaar
NG Wellington-Oos se basaarnaweek begin met 'n gratis gemeentekonsert Vrydagaand 23 Oktober om 19:30 (verversings vooraf), Allerlei vars produkte eie aan 'n regte boere-basaar, volop vermaak vir kinders en 'n heerlike hoenderbraai Saterdagaand vanaf 18:00 by die kerk. Navrae: 021 873 2690. Klik op die advertensie langsaan vir meer.
9. Straatlig hou Somermark
Straatlig is ’n bediening wat poog om ’n veilige hawe te skep vir die haweloses in die groter Stellenbosch-omgewing. Hulle nooi jou na hulle Somermark van 28-30 Oktober, 10:00-20:00 in die Hofmeyrsaal (Kerkstraat, Stellenbosch).
Klik op die pamflet langsaan  ...
NG De Tyger
10. NG De Tyger: Feesnaweek
Geniet die feesnaweek (16-18 Oktober) saam met De Tyger!
Vrydagaand: 20:00 (by Kerk) Spookroete in De Tyger.
Saterdagoggend vanaf 10:00: Buitelug lande-ete/basaar met tradisionele geregte uit minstens vyf lande. Daar is ook die gebruiklike gebak, pannekoek en basaarpoeding. Veilige speelplek vir kinders en musikante wat optree.
Sondagoggend sluit hulle die naweek af met 'n Nagmaalsdiens om 09:30.
Navrae:  Santa 021 939 9482/ René 082 376 9197.
NG Kerk in SA-logo
VAKATURES
1. NG Kerk in SA - Senior Argivaris  
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-en-Suid-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature vir ’n Senior Argivaris by die NG Kerk se Argief in Stellenbosch. Die datum van diensaanvaarding is 1 Januarie 2016.
Meer oor verantwoordelikhede, vaardighede en kwalifikasies is hier te lese. Reageer voor 11 November 2015.
2. NG Kerk in SA - PSD: Jeug- en Familiebediening
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-en-Suid-Kaapland) maak ook die vakature vir ’n PSD: Jeug- en Familiebediening in die Diensgroep vir Gemeentebegeleiding bekend. Belangstellendes kan hier meer lees oor die verantwoordelikhede en aansoek prosedure. Reageer voor 18 November 2015.
Ceres
3. Ceres - Jeugpos
Pierre Marais (NG Ceres) stuur hierdie nuus: "Die pragtige Vallei van Vrugbaarheid nooi 'n jong gelowige persoon om 'n deel van sy/haar lewe te kom wy aan die jongmense van ons streek."
Meer oor die doelstellings en posbeskrywing is onderaan. Sluitingsdatum: 2 November. Lees hier meer
Rosh Pinah
4. NG Gemeente Lüderitz - Kontrakpos
Belangstellende emeriti en gelegitimeerde leraars van die NG Kerk wat geroepe voel om te help bou aan die NG Gemeente Lüderitz, word genooi om aansoek te doen vir hierdie vastetermyn kontrakpos vir twee jaar. Voorkeur word verleen aan Namibiese burgers, terwyl buitelandse burgers moet kwalifiseer vir 'n twee jaar werkspermit.  Reageer voor 23 Oktober - lees hier verder.
Badisa-logo
5. Badisa Huis Lückhoff - Bestuurder
Huis Lückhoff, ’n program van Badisa, is ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met ’n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes, word voor 23 Oktober vir die betrekking as bestuurder ingewag. Lees verder.
6. NG Gemeente Lambertsbaai - Orrelis
Aansoeke van geskikte persone wat lidmaat van die NG Kerk is, word ingewag vir die pos van orrelis van die NG Gemeente Lambertsbaai.
Lees gerus aangeheg meer oor die verantwoordelikhede en ander tersaaklike inligting. Reageer voor Vrydag 6 November om 12:00.
Uitsig-logo
7. NG Uitsig - Musiekkoördineerder
'n Herinnering: Uitsig Gemeente (in Bellville) beskik oor ’n vakature as musiekkoördineerder van die aanbiddingsgroep (band) van die gemeente. Dit is ’n deeltydse pos, wat behels die verantwoordelikheid neem vir 24 eredienste per jaar, asook sekere spesiale geleenthede. Minimum vereistes: Formele musiek kwalifikasie, ten minste 2 jaar kerk-“band” ondervinding en moet ’n instrument kan bespeel en bladmusiek lees. Vergoeding is onderhandelbaar. Navrae/aansoeke na Amanda, 021 919 6044 of admin@uitsigkerk.co.za. ’n Volledige posbeskrywing is op aanvraag beskikbaar. Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2015.
Frederick Marais
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Frederick Marais
My indrukke van die Algemene Sinode
- 'n Getuienis
Ek weet nou al dat die pers ons die week voor 'n Sinode wysmaak dat daar diep verskille in die kerk is en dat ons mekaar eintlik nie kan vertrou nie. En dan val ons daarvoor en kom by die Sinode aan met agterdog.
Na twee dae se luister, praat , bid en Bybellees kom jy agter iets skuif hier in jou, jy begin hoor en verstaan en ja selfs lief raak vir die mense van wie jy veronderstel is om te verskil. Jy kry by hulle perspektiewe wat vir jou geskenke is en nuwe horisonne oopbreek en saam word julle bewus van die bewegings van die Gees.

En dan breek die evangelie deur, mense wat verskil begin vir mekaar intree, begin hulle eie belange neerlê ter wille van die belange van die ander, ter wille van die koninkryk en oorwin so hulle vrese. 
Die laaste oggend breek aan; daar is spanning en meningsverskil en toe staan 'n jarelange vriend op en sê die volgende: "Ek het geleer dat my identiteit en optrede gevorm behoort te word deur die kruis en daarom sal ek nou 'n voorstel steun al stem ek nie 100% daarmee saam nie en het ek voorheen daarteen gepraat; ek lê my belang neer ter wille van die ander."

Ek wens dít kon die opskrifte wees in die pers oor die afgelope Sinode, maar ek kan ten minste hieroor getuig en daarom het ek 'n diep vrede ten opsigte van die pad wat vir ons voorlê. Ek, en ek weet baie ander, gaan my vriend se voorbeeld volg ter wille van die evangelie en die koninkryk.

Frederick Marais was voorheen predikant op Somerset-Oos en die Studentekerk. Hy is sedert 1991 deel van Buvton/Communitas en is onlangs aangestel as PSD  vir Kerklike Opleiding. Frederick dien ook as assessor van die moderatuur van NG Wes-en-Suid-Kaapland.
Belangstellendes kan Frederick kontak by jfm@sun.ac.za
Kom ons dink in die besonder aan almal wat swaarkry as gevolg van die erge droogte in die Wes-Kaap, maar ook elders in ons land.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.