Lees deur internet, klik hier >>
4 Junie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Aangepaste Vlak 2-beperkings
Weens die onlangse styging in COVID-infeksies regoor die land, het president Cyril Ramaphosa Sondagaand aangepaste Vlak 2-beperkings aangekondig. Samekomste word weereens beperk tot 100 persone binneshuis en 250 persone buitekant (of 50% van die kapasiteit van 'n lokaal). Dit geld vir eredienste, troues en begrafnisse.
Die aandklokreël is verleng vanaf 23:00 tot 04:00 en restaurante, kroeë en fiksheidsfasiliteite moet om 22:00 sluit.
Registreer nou inligtingsbeamptes
Die hersiende Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, die sogenaamde POPI-wet (bekend as POPIA) vereis dat elke gemeente 'n inligtingsbeampte moet hê. Gemeentes se inligtingsbeamptes het nou tot 30 Junie om by die Inligtingsreguleerder te registreer.
Klik hier om jou registrasie te voltooi. Die handleiding en meer inligting oor die wet is op die Kerkargief se webblad beskikbaar: https://www.kerkargief.co.za/inligtingswet/#popia. Die kursus oor die inligtingswette is ook nog aanlyn beskikbaar en jy kan toegang daartoe kry deur hier te registreer en bewys van betaling aan bleibbrandt@sun.ac.za te stuur.
SPG vat hande met SA Day
'n Aantal gesprekke het onlangs tussen Barend la Grange van South Africa Day en Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis plaasgevind. Daar is groot ooreenkomste tussen wat SA Day en SPG met hul #100DorpeDialoog doen.
SA Day was ook al by ‘n hele aantal dorpe prakties betrokke, insluitende Coligny en Senekal.
Kyk hieronder na die onderhoud wat Braam met Barend gevoer het.
Werkloosheidsversekering word aangepas
Die nuwe WVF-limiet soos bespreek tydens die begrotingsrede in Februarie 2021 is nou amptelik gemaak in die Staatskoerant (28/05/2021, Vol 671, nr 44641). Die maandelikse bydraelimiet (bo-perk) van werkgewer en werknemer elk verhoog met ingang van 01/06/2021 na R177,12  per maand. Die persentasies bly steeds 1% elk.
VGK Makhathini – ‘n baken van hoop in Noord-KZN
Verlede week was Kobus Odendaal, bestuurder van Getuienisaksie, op besoek aan die VGK Makhathini wat die gebied aangrensend aan Mosambiek, Swaziland en die Indiese Oseaan bedien. Dit is 'n warm, uitgestrekte vlakte waar vlugtelinge en uitgeworpenes, meestal Zoeloe- en Tsongastamme, jare gelede skuiling gesoek het.
Nadat die NG Kerk tussen 1928 en 1935 verskeie pogings aangewend het om die bediening daar te vestig, het studente van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch 'n belangrike rol gespeel in die stigting van 'n NG Kerk in Afrika-gemeente in die Makhathini (later bekend as VGKSA Makhathini) in 1971. Die gemeente bestaan tans uit ongeveer 700 lidmate met 23 besoekpunte. Lees meer van Kobus se besoek hier.
Argief groet Isabel Murray
Andrew Kok (regs bo) van die Argief skryf as volg oor Isabel Murray se aftrede:
"Die familienaam MURRAY is sinoniem met die NG Kerk. Hierdie familie het groot voetspore in die kerk nagelaat op vele terreine, maar so ook in die Argief op Stellenbosch. Die afgelope vyf jaar het een van hierdie kleinkinders, dr. Isabel Murray, as argiefbeampte op Stellenbosch gewerk. Haar binnekennis van die Murray-familie en omvattende belangstelling in die doen en late van die Murrays op vele terreine van die kerk en veral ten opsigte van sending het haar op ’n  ontdekkingsreis geplaas. As argiefbeampte en navorser kon sy die verhale van die uitgebreide Murray-familie uitpluis en fyner ontsluit. Hiermee is daar ’n  onskatbare bron van inligting oopgesluit vir verdere gebruik. Dit het haar ook in ’n  posisie geplaas om nouer met navorsers en dosente in kerkgeskiedenis te werk. Op Vrydag 28 Mei is daar van Isabel afskeid geneem tydens ’n  geselligheid in die Attie van Wijk-ouditorium. In haar afskeidsaanbieding het Isabel vertel van haar reis met Andrew en Emma Murray en hul gesin. Sy het met ’n  pragtige aanbieding, wat ryklik aangevul is met argivale materiaal en foto’s, vertel van hul werk op velerlei terreine van die kerk en in die sendingvelde van Afrika.

Isabel sal veral onthou word as gewaardeerde kollega, uitstekende navorser en kenner van die argiefversameling, uitstaller en aanbieder van formaat en ma vir die studente-assistente. Kollegas sal ook haar liefde vir natuur en veral die blommeprag onthou en ook hoe sy altyd God se hand in die natuur kan sien en dit deurtrek tot haar persoonlike godsdienslewe. Haar pragtige blommerangskikkings en fynproewersgebak sal ons ook altyd bybly.

Die Argiefpersoneel, kollegas by die sinode, dosente, navorsers en studente wens Isabel ’n  vreugdevolle aftrede toe. Ons weet dat ons haar nog baie as navorser sal terugverwelkom en sien uit na nog navorsingswerk wat haar pennevrug sal wees."
GEMEENTENUUS
Worcester-Vallei help met gemeenskapsprojek
Die gemeente van Worcester-Vallei laat weet dat hulle gemeenskapsprojek fluks vorder. Die projek is in vennootskap met nie-regeringsorganisasie TLC en Worcester Radiologie aangepak en sal uiteindelik 'n crèche, vroeëkindontwikkeling- en nasorgsentrum aan die gemeenskap van Avianpark bied. 'n Vervalle huis is bekom en suksesvol gerestoureer. 'n Skeepsvraghouer sal as 'n addisionele ruimte aangewend word. 'n Geskikte kandidaat word tans opgelei as onderwyser. Hulle bedank alle betrokkenes, skenkers en vrywilligers en vra dat mense steeds die projek moet ondersteun. Om 'n bydrae te lewer, kontak die kerkkantoor by 023 347 0387 of 066 158 9857.
Montagu registreer seniors
NG Kerk Montagu doen hulle deel om die COVID-pandemie te beveg. Die gemeente het dit goed gedink om mense bo 60 te help registreer vir inentings. Hulle daag gemeentelede en ander gemeentes uit om ook seniors te help wat nie internetfasiliteite het nie.
Groote Kerk verwelkom Marietjie Steyn
Op Sondag 6 Junie 2021 verwelkom Groote Kerk Kaapstad vir Marietjie Steyn as medeleraar. Indien jy die erediens wil bywoon, kan jy gerus aanlyn by die geleentheid aansluit deur hierdie skakel te gebruik. Die erediens begin om 10:00.
Wêreldpleegsorgdag by Toringkerk
Miljoene kinders regoor die wêreld het alternatiewe sorg nodig. Pleegsorg behels die plasing van kwesbare kinders in die sorg van liefdevolle gesinne. Hierdie week het lidmate by Toringkerk-gemeente spesiaal gedink aan gesinne wat pleegouers, pleegkinders, pleegbroers en susters is. "Ons dink ook aan die biologiese ouers wat nie na hierdie kinders kan omsien nie. Dankie aan organisasies soos @kin.culture wat ongelooflike werk doen in hierdie veld."
Hulle het ook deelgeneem aan die #worldfosterday-veldtog deur kreatiewe foto's te neem met drie smileys op drie vingers en dit op sosiale media te plaas. Kyk gerus na meer foto's hier
Brandweermanne besoek Strand-Noord
By hierdie jaar se Kinderpinkster by NG Kerk Strand-Noord was KidsXpress se Redding 911 reeks aangebied. Dennis en Jose van Strand Brandweer het vir groot opwinding gesorg en die kinders van die gemeente meer van brandveiligheid geleer.
"Ons raak bewus dat daar groot nood in die wêreld is. Soms kom ons selfs in geestelike moeilikheid, maar ons weet dat Jesus altyd naby is. Jesus red! Ons leer ook meer van spesiale mense en organisasies wat uit hul pad gaan om mense te help. Baie dankie aan al die nooddienste vir julle wonderlike werk in ons gemeenskap!"
Ontspan by Hartenbos jeugsentrum 
Die jeugsentrum op Hartenbos word deur Moedergemeente Riversdal in samewerking met die Sinodale Taakspan vir Familie en Jeug bestuur. André Jordaan laat weet dat Hartenbos seker een van die mooiste vakansiebestemmings in ons land is. En die goeie nuus is dat hulle nog heelwat plek beskikbaar het vir die opkomende wintervakansie.
Die sentrum bied selfsorgeenhede, woonstelle asook kamers vir groepe. Dit is ideaal geleë om die res van die omgewing se pragtige dorpe soos Mosselbaai, George en Oudtshoorn te verken. "As jy, jou gesin of ‘n kleingroep in jou gemeente ‘n ideale, pragtige en veilige omgewing soek om weg te breek vir ‘n naweek, ‘n retraite of sommer net vakansie te hou, kan jy gerus met ons skakel."
Die jeugsentrum word bestuur deur Hennie en Marina Lourens. Vir besprekings, kontak hulle op 044 6950671 of 084 510 6500. Gaan kyk gerus op hulle Facebookblad vir nog foto's. 
TOERUSTINGGELEENTHEDE
Die Jaar van God se Genade
Die derde van vanjaar se kreatiewe werkswinkels oor die viering van die kerklike jaar Die jaar van God se Genade vind van 8 - 9 Junie plaas. Die aanlynaanbieding word van 09:00 - 16:00 deur André Bartlett gelei.
Daar word saamgedink en -gewerk aan die viering van Drie-eenheidsondag, die Sondae in Koninkrykstyd, Hervormingsondag en Sondag van Christus die Koning. Registreer hier teen 4 Junie. Predikante kan 20 VBO-punte verdien.
Youth Day lecture - 18 June
The Faculty of Theology, its student committee and the transformation office at Stellenbosch University will be hosting their annual Youth Day lecture virtually on Friday 18 June from 13:00 - 14:30. The theme: Active Citizenship: Rights and responsibility? reflects on how engaged young people are as active citizens. It also looks at their rights and responsibilities as South African citizens and what role education plays in this regard.
The panel consists of Renee Hector-Kannemeyer, head of MGD and deputy director of the Division for Social Impact, Nyameki Sonti from The Lenses Group and Monwabisi Petersen, chairperson of Amnesty Student Society.
Register with Bonita Robyn to receive the meeting link.
EKOLOGIE
Biddag vir Ekologie
Eerskomende Sondag is die Biddag vir Ekologie. In die video gee Dewald Hoffmann 'n paar riglyne. In gebedsversoeke kry jy vyf voorstelle waarvoor ons op hierdie dag kan bid. 
Onthou ook om Sondagoggend om 07:10 op SondagJoernaal op RSG in te skakel wanneer Dewald met Lizelle de Bruin gesels.
Wêreld Oseanedag - 8 Junie
Hierdie dag is oorspronklik deur die Kanadese Sentrum vir Oseaanontwikkeling voorgestel en word nou wêreldwyd gebruik om ons aandag op die stand van ons oseane te vestig. Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum is daar vyf kwessies wat aangespreek moet word om ons oseane te red. Dit sluit onder andere in om skadelike visvangsubsidies te stop, die nakoming van die 30-30 doelwit om 30% van ons oseane teen 2030 te beskerm en wetteloosheid op die oseane te bekamp. Die erkenning van die impak van klimaatsverandering op oseane vorm deel van die proses. Laastens moet daar ingestem word tot die skepping van drie nuwe marine bewaargebiede wat bykans vier miljoen vierkante kilometer om Antarktika insluit. Lees hier meer.
Stop eksplorasie!
Die Internasionale Energie Agentskap se nuutste verslag maan organisasies om dadelik op te hou om na nuwe olie- en gasbronne te soek. Hulle uitvoerende direkteur Fatih Birol het onlangs sy padkaart na koolstofneutraliteit teen 2050 bekendgemaak en oliemaatskappye onkant gevang.
Volgens 'n berig in Media24 het Birol gereken dat dit moontlik die grootste uitdaging mag wees wat nog ooit aan die mensdom gestel is. Lees meer oor die padkaart en die agentskap se denkproses daaragter hier.
Intussen het oliereus Royal Dutch Shell in 'n Hollandse hof die onderspit gedelf en hulle klimaatsaak verloor. Die hofbevel wil die maatskappy dwing om sy koolstofvrystellings vinniger te verminder. Shell het onderneem om teen 2030 hulle koolstofuitlating met 25% te verminder, maar die hof wil hê dat die proses selfs vinniger moet plaasvind en dat hulle dit met 45% binne die volgende dekade moet inperk. Kenners meen dat die hofuitspraak verreikende gevolge vir die globale fossielbrandstofbedryf kan inhou. Klik hier vir die berig van Fin24.
Kaapse kelpwoud een van die Sewe Wonders
Die kelpwoude van Kaapstad, wat bekendheid verwerf het weens die bekroonde dokumentêr, My Octopus Teacher, is deur Bloomberg aangewys as een van die nuwe Sewe Wonders van die Wêreld. Die onderwater oerwoud, wat 16 kilometer suid van Kaapstad geleë is, is groter as die Grand Canyon en is die tuiste van miljoene seediertjies.
Die ander ses besieningswaardighede wat hierdie besonderse lys gehaal het, is: Antequera Dolmens (Spanje), Baalbek (Libanon), Nahanni (Kanada), Top End Rock Art (Australië), San Agustin (Colombia) en Sigiriya (Sri Lanka).
Klik hier om foto's en 'n kort beskrywing van elke nuwe Wonder van die Wêreld te lees. 
GEBEDSVERSOEK
UIT ONS RINGE
Ring van Bellville
Kobus Swarts van NG Kerk Bellville-Vallei vertel dat die Ring van Bellville vandeesweek vir die eerste keer sedert die pandemie getref het, saamgekuier het by die NG Gemeente La Rochelle. "Verskeie omstandighede (o.a. COVID-19-beperkings) het daartoe gelei dat nuwe ringskollegas nie behoorlik kon inskakel en verwelkom word by die Ring nie. Die behoefte om mekaar in persoon te sien, het daartoe gelei dat ‘n Ringskuier gereël is. Almal was dit eens dat die samekoms baie nodig was. Die Ring is geseënd met soveel nuwe bloed." 
Die volgende persone is verwelkom: proponent Annamarie de Kock-Malan (La Rochelle), dominees Chris Wheeler (De la Bat & La Belle), Jakkie Strachan (Welgemoed), Karlie Liebenberg (Bellville-Wes, Bellville-Vallei & Ligstad), Lelanie van Zyl (Familiekerk Bottelary) en Michelle Jacobs-Smith (Vredelust).
Nadat die nuwe kollegas bekendgestel en hartlik verwelkom is, het die aanwesiges aangesit by ‘n heerlike maal. “Dit was lekker om na meer as ‘n jaar my kollegas aangesig-tot-aangesig te kon ontmoet. As jongpredikant het ek regtig welkom gevoel in so ervare groep mense wat lief is vir die Here,” vertel Chris Wheeler. Karlie Liebenberg het ook die geleentheid vreeslik geniet. "Wat 'n wonderlike ervaring om saam te eet, saam te lag en saam te bid. Ek dink in die Evangelies was hierdie tipe geleentheid meer algemeen as formele vergaderings."   
Ring van Piketberg
Die Ring van Piketberg se leraars het ná Pinkster (23 - 26 Mei) aan die Weskus by Gert du Toit se baai 'n retraite gehou. Twee emeriti wat vroeër in die Ring was, is ook uitgenooi.  Om die kampvuur is pragtige getuienisse uitgeruil oor die belewing van Pinkster. Gert Kok skryf: "Daar was gesprekke oor kerksake van die dag asook die kosbaarste geleenthede van Wandel in die Woord. Verder het die manne (soos dikwels van ‘opregte' studente vertel word) hulleself vaak geëet en weer honger geslaap. Dit was ’n fees om so saam te wees en elkeen wat deel was van die retraite is met nuwe energie terug na hulle bediening. Ons wil soos die Emmausgangers sê: Ons harte het warm geword toe ons so saam was in die Lewende Here se teenwoordigheid."
Van links na regs: Johan Smit (Piketberg), Clifford James (Hopefield), Johan Jacobs (voorheen Aurora), Roy Thorne (Redelinghuys), Albé Theunissen (Porterville), Martin Goosen (Piketberg), Gert Kok (Eendekuil) en Jan van Schoor (voorheen Redelinghuys).
VAKATURES
Alta du Toit, Bellville
Alta du Toit Nasorg in Boston beskik tans oor hierdie vakature. Die aangewese kandidaat moet geregistreer wees by die SARV as Professionele Verpleegkundige en ‘n onlangse polisiesertifisering is noodsaaklik. Verdere persoonsvereistes sluit in: uitnemende geduld en toon van respek, empatie en vriendelikheid. Aansoeke sluit 25 Junie. Lees hier meer. 
Klank- en beeldoperateur, Stellenberg
Stellenberg-gemeente het ‘n vakature vir ’n klank- en beeldoperateur. ’n Persoon met toepaslike opleiding en ondervinding as klank- en beeldoperateur word benodig. 
Die geskikte kandidaat moet klank tydens drie eredienste behartig asook die direkte uitsending van die eredienste via YouTube.  Die klank- en beeldoperateur se dienste word op Donderdagaande en Sondae benodig. 
Vra die volledige posomskrywing by Lindy aan en stuur aansoeke voor 21 Junie aan lindy@stellenberg.co.za.  Vergoeding is onderhandelbaar.  Diensaanvaarding 1 Julie 2021. Kyk hier na die gemeenteprofiel.
Bestuurder, Ruyterwacht
Ruyterwacht Senior Sentrum wag aansoeke in van gemotiveerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes vir hierdie betrekking. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n naskoolse kwalifikasie in maatskaplike werk en minstens 3 jaar ervaring in ‘n bestuursposisie sal as sterk aanbeveling dien. Aansoeke sluit 11 Junie. Lees die volle advertensie hier
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo en lees meer oor Kinderbeskermingsweek in Badisa se nuusbrief.
Missie Japan is op pad Suid-Afrika toe. Lees meer oor hulle planne.
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) is nou gratis beskikbaar by www.ecke.co.za. CLF laat weet dat hierdie Christelike ensiklopedie die enigste van sy soort in Afrikaans is. Meer as 160 medewerkers het bygedra tot die ensiklopedie en dit bevat nagenoeg 4 000 kort artikels.

Volgens CLF vertel dit die verhaal van die Christelike geloof van aanvang tot hede en dui die verskillende stromings, gedagterigtings en historiese gebeurtenisse en persone aan wat ‘n bepalende invloed op die Christendom in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld gehad het.

"Dit laat lig val op draaipunte in die voor-, antieke en moderne geskiedenis – soos die sondvloed, die Babiloniese ballingskap, die kruistogte, die Renaissance, die Hervorming, die Anglo-Boereoorlog, die wêreldoorloë, die Belydenis van Belhar, Nine-Eleven (9/11) sowel as COVID-19."
Die ensiklopedie word gratis beskikbaar gemaak danksy die bydraes en ondersteuning van uitgewers Bybel-Media, FAK, die Christelike Lektuurfonds, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, teologiese fakulteite, ATKV, Hiemstra-trust, Dagbreek-trust, Ton Vosloo-trust en PUK-Kanselierstrust. 
ALGEMEEN
Raakgelees: Verwaarloosde hond sien die see vir die eerste keer
As jy kan onthou hoe dit gevoel het om die eerste keer die oseaan te sien, was jy waarskynlik oorweldig deur die prag van so 'n enorme stuk natuur. Plaas jouself nou in die pootjies van 'n Duitse herdershond met die naam Herschel en stel jou voor hoe opgewonde jy sou wees.
Herschel het die see vir die heel eerste keer gesien as gevolg van 'n program genaamd Dog's Day Out wat deur Rocky Kanaka begin is om verwaarloosde honde die beste dag te gee wat hulle nog ooit gehad het. En niemand het dit soveel verdien soos Herschel nie. "Hy is al vyf jaar op hierdie aarde, maar was vir die meerderheid van sy lewe vasgeketting in 'n agterplaas," het Kanaka gesê. “En wat my hart breek, is as jy mooi kyk, kan jy sien sy tande is afgebreek, waarskynlik omdat hy aan sy eie ketting gekou het om te probeer loskom.”
Dit was 'n opwindende week vir Herschel, wat ook vir die eerste keer sneeu kon sien. Hy het ook drukkies uitgedeel, lekker geëet en ’n spesiale drankie vir honde, ‘n puppicino, geniet. Maar die grootste verrassing het gekom toe Herschel vir die eerste keer die see gewaar. “Dit moes 'n ongelooflike ding gewees het om te sien na jare in 'n klein tuin vasgeketting. Hy het so lekker gehardloop en gespeel in die water.” Kyk gerus die video onder om hierdie oomblik van blydskap te beleef. 
Ondersteun inentingsveldtog
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke doen 'n beroep op Christene regoor die land om te help om die COVID-19-pandemie te bekamp. Hulle #VAXuGogo-veldtog vra vrywilligers om ouer mense (bo die ouderdom van 60) vir die inenting te registreer. Die Departement van Gesondheid het Woensdag berig dat hulle die 1 miljoen-merk verbygesteek het en dat reeds 565 336 mense in Fase 2 van die inentingsveldtog ingeënt is. Dit beteken egter dat miljoene kwesbare bejaardes nog nie geregistreer is of die inenting ontvang het nie. Kyk gerus hier na die vrywilligersgids en klik hier as jy by 'n span vrywilligers wil aansluit.
Raakgeluister: Alugalug Cat X The Kiffness  
The Kiffness is geen vreemdeling vir Suid-Afrikaners nie, maar nou kan David Scott (The Kiffness self) met trots sê dat Hollywood-superster Ryan Reynolds ook 'n aanhanger van SA se gewildste parodieliedjieskrywer is.
Die musiekvideo Alugalug Cat X The Kiffness is drie weke gelede vrygestel en het soos ‘n veldbrand versprei. Die video het meer as 29 miljoen kyke op Facebook, 4.4 miljoen op TikTok en 1.2 miljoen op YouTube.
Luister gerus na die skreeusnaakse treffer in die video onder.
KUIERKANSE
Ondersteun gerus Groote Kerk se soetgoedverkoping.
Bestel aanlyn hier: http://bit.ly/Drivethru4Junie
Vleisverkope by Mosselbaai-Suid
Die gemeente van Mosselbaai-Suid doen weer wors- en maalvleisverkope op bestelling (die bekende worsresep). Jy kan nou reeds bestel, sodat hulle kan beplan vir die hoeveelheid aankope.
Vleis sal beskikbaar wees DV op 8 Junie. Verdere tye sal deurgegee word. Vleis word verkoop in pakkies van 500 gram. Klik hier om hulle verskeidenheid vleisprodukte te sien. 

Bestel tydens kerkkantoorure by 044 690 3552 of stuur 'n WhatsApp aan Lezelda by 083 210 3057. Jy sal ‘n kode ontvang wat as verwysing dien vir betalings.
TEN LAASTE
Koninkrykstyd is die tyd in die kerklike jaar wat fokus op groei en volwassewording in geloof. Volgens Woord & Fees is dit ’n tyd waarin die misterie van Jesus Christus die alledaagse van hierdie wêreld binnedring sodat ons in pas met Jesus Christus kan kom.
In Psalm 138 word die liefde en trou van die verhewe Here besing: Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing.
Luister hier na Glinster se Heilig is die Here.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.