Lees deur internet, klik hier >>
21 Augustus 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Gemeentebegeleiding verwelkom André Agenbag
André Agenbag is sedert April die PSD (predikant in sinodale diens) vir die Diensgroep: Gemeentebegeleiding. Sy eerste gemeente was Suidkus NG Gemeente in Amanzimtoti, waarna hy in Pretoria, die VSA en Johannesburg bedien het voordat hy Kaap toe getrek het. Oor 'n periode van 25 jaar het hy bedieningsondervinding in ses gemeentes, vyf streeksinodes en twee kontinente opgedoen. André is getroud en het drie kinders.
André gesels oor die uitdagings en opwindende vooruitsigte vir gemeentebegeleiding in die video onder.
Ons wens vir André voorspoed toe met die nuwe hoofstuk op sy lewenspad.
Bybelgenootskap vier 200ste herdenking
Die stigtingsvergadering van die South African Bible Society het op 23 Augustus 1820 in Government House (die huidige Tuynhuys) plaasgevind met Sir Rufane Donkin, die waarnemende goewerneur aan die Kaap, as voorsitter. Dit was die amptelike begin van Bybelgenootskapwerk in Suid-Afrika.

Quintus Heine skryf: "In die afgelope 200 jaar het al elf amptelike tale in Suid-Afrika ‘n volledige Bybel van die Bybelgenootskap ontvang en daar is ook hervertalings van baie tale gedoen. Daar is sedert 1950, 45-miljoen Bybels in SA versprei (die vorige jare was daar nie opgetekende getalle nie). Die Bybelgenootskap is ʼn missionêre arm van gemeentes om vir mense in hulle eie taal ʼn Bybel te gee. Die Bybelgenootskap is so dankbaar dat gemeentes en lidmate medewerkers is in die groot taak. Daar is nog nege inheemse tale wat nog nie ʼn Bybel het nie. Daar is ook 6-10 % mense in SA wat nog nie ʼn eie Bybel in hulle taal het nie. Die digitale uitdagings is legio. Daar is nog so baie werk." 

Uit dankbaarheid vir die Here se genade wil die Bybelgenootskap in die volgende jare tweemiljoen Bybels in Suid-Afrika gratis versprei.  Vir elke R100 wat iemand gee, borg hy ʼn gratis Bybel en twee geletterheidboekies vir arm mense in Suid-Afrika.  

Op Saterdag 22 Augustus is daar ʼn virtuele Bybelstap. Skryf in by www.biblesociety.co.za of gaan lewer 'n geskenk ten bate van die projek by die Bybelhuis in Edwardstraat, Bellville af.  Op Sondag 23 Augustus om 15:00 is daar ʼn virtuele dankseggingsdiens deur middel van “Songs Of Praise” aangebied deur Richard Cock. Die diens sal direk op die Facebook of YouTube kanaal uitgesaai word. 

Gemeentes word uitgenooi om die dankbaarheid in hulle gemeentes te vier op 23 Augustus of op Bybelsondag 30 Augustus. Rig enige navrae aan Quintus Heine by heine@biblesociety.co.za
Voortvarende vroue voor 1930 - vervolg
Die Argief deel die tweede artikel in hierdie reeks ter viering van Vrouemaand en om die vroeë rol van vroue medici in die kerk te herdenk.
My kindjie is heeltemal gesond!
Die Koningsbode. Februarie 1929. "Hy was vroëer onderwyser in een van ons sendingskole en is ‘n kristen. Sy dogtertjie was baie ernstig siek toe hy en die moeder haar na die sendinghospitaal te Mvera gebring het. Daar word sy met sorg behandel, maar die inflammasie van die longetjies wou nie verminder nie. Haar koors bly by 103-104 grade Farenheit. Na ‘n week moet die vader teruggaan na sy werk. ‘n Paar uur na sy vertrek, val die koors en die kindjie se lewe is gered.
Dr Jeanette Murray, kleindogter van AC Murray en die eerste sendeling in Nyasaland, ontvang ‘n rukkie later die volgende brief:
Juffrou. Verskoon my asseblief dat ek in Engels skryf, maar dit is omdat ek wil hê dat u goed moet verstaan wat ek meen.
Ek is baie, baie bly om u te laat weet dat my vrou veilig hier aangekom het met my liefste Effie, en dat die kindjie heeltemal gesond is.
Ek het nie woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie, en ek is ontelbaar dank aan u verskuldig, vir u moederlike hulp en vriendelikheid aan ons kind, solank sy onder u behandeling was in die hospitaal. Ek stuur daarom hiermee ‘n sommetjie geld, 4 sjielings, net om my opregte dank jeens die Heer te bewys.
Ek is, juffrou, u gehoorsame dienskneg, 
Justin Ntabe.”
 
Dr Jeanette FL Murray is in 1925 die eerste vroulike mediese dokter in die NG Kerk Buitelandse Sending te Mvera. Teen 1928 is Pauline Murray, dogter van William en E Murray van Mvera/Mkhoma (onderstaande foto links bo), op Malanda en kan hul soms “lekker saamwerk”. Jeannette skryf in Die Koningsbode van Maart 1929: “Pauline doen daar ‘n groot werk, en het ‘n verpleegster baie nodig. Wanneer sal ons van ons Mede Sending Arbeidsters hier sien as verpleegsters? Is daar niemand wat wil kom, om in hierdie heerlike werk te deel nie? Ons het ten minste vyf verpleegsters nodig.” 
Al was die eerste verpleegsters, suster Durand in Nyassaland en suster S Meyburgh in Mashonaland, bly die behoefte aan nog, konstant. Vrouesendelinge (afgestudeerdes van Hugenote Seminarium en Friedenheim) is meesal ‘uitgestuur’ deur die Vrouesendingbond, terwyl medesendingarbeidsters ‒ ‘jong dogters’ van die kerk ‒ die mediese vrouesendelinge met gebed, briewe en op materiële vlak ondersteun, byvoorbeeld ‘n eerste klein motor vir Pauline koop (foto regs onder).  

Op die skouers van hierdie vroue pionier-medici rus die volle verantwoordelikheid van die bestuur en bedryf van die hospitaal en omliggende buiteklinieke, asook opleiding van hospitaalhulp en vroedvroue (foto's regs bo en links onder). Met die onontbeerlike hulp van hierdie plaaslike personeel doen hulle bevallings, amputasies, gekompliseerde operasies, maar bowenal leer hul bid en vetrou. Hulle word gekonfronteer met die mag van bygelowe en toordery, wat pasiënte laat weier om behandeling te ontvang of operasies te ondergaan. 

Jeannette skryf: “Bid tog vir ons Christene dat die krag van die heidendom en bygeloof in hulle lewens heeltemal gebreek mag word en dat hulle die krag van die Heilige Gees mag ontvang.”  
Wêreldwye solidariteit met Zimbabwe
“We have heard the laments of our sisters and brothers in your country and we are deeply concerned about the circumstances by which you are afflicted. We express our solidarity with all the people of Zimbabwe yearning for the realization of their human rights, for justice, and for physical and economic security in their communities.”
So lees die inleiding van die pastorale brief wat aan die kerke en mense van Zimbabwe uitgereik is deur die Wêreldraad van Kerke, die Lutheran World Federation, die World Communion of Reformed Churches en die World Methodist Council. Klik hier om die volledige brief te lees. 
Malawiese president se bande met ons susterskerk
Ons broers en suster in Malawi het gejuig toe dr Lazarus Chakwera in Junie vanjaar as die sesde president van Malawi ingehuldig is (foto bo). Die onstabiliteit van ’n bestrede verkiesing in 2019 en die gepaardgaande onrus en verwante negatiewe impak op dié vredeliewende nasie, het ‘n tol begin eis. Ons kan dus onsself indink met hoeveel hoop en verwagting ons familie in Malawi uitsien na ‘n nuwe begin met ‘n president wat hopenlik sy etiese karakter sal gestand doen. Wat verblydende nuus is, is dat hy in ons susterskerk in Malawi, die Church in Central Africa Presbyterian gebore en getoë is. Hy is op 5 April 1955 as die derde kind (nadat sy twee ouer boeties as babas dood is) van bestaansboere naby die hoofstad, Lilongwe, gebore. Vandaar sy hoopgewende naam, Lazarus. Klik hier om meer te lees. 
Racism, the other virus of our time
The VBO forum presents a panel discussion I can't breathe on Wednesday 26 August at 14:00. André Bartlett will lead the discussion with an exciting panel of participants. See more information on the graphic below. Click here to register.
Ysbrekers vir jeug
Sukkel jy om jou kategese of jeuggroep aan die gesels te kry op Zoom? Dan het DinkJeug net die antwoord vir jou! Begin die sessies met ‘n lekker ysbreker!
Daar is tonne video’s met idees beskikbaar op YouTube. Kyk gerus die video (onder) wat DinkJeug op hulle Facebook-blad aanbeveel het. Die aanbieder verduidelik 5 maklike speletjies om op Zoom te speel. 
#BlackLivesMatter
#BLM het die afgelope tyd hewige emosie en reaksie by mense losgemaak. Positief en negatief. Terselfdertyd het ons agtergekom dat al meer predikante vra hoe hulle hul gemeentelede in dié saak kan begelei. Graag deel die Sentrum vir Publieke Getuienis se Taakspan ‘n paar punte wat moontlik kan help. 
"Dit is belangrik om te verstaan dat daar min bewegings is wat homogene bewegings is. Dit ontstaan spontaan rondom ‘n saak wat meriete het, maar dan kan dit gebeur dat meer mense dit as ‘n geleentheid sien om hul eie (ideologiese) oogmerke te bevorder. So ontwikkel daar dan bedmaats wat nie altyd noodwendig in aard en uitgangspunt dieselfde is nie. Daar was byvoorbeeld in die struggle mense wat bomme geplant het en ander wat daarteen was. 
In die proses het ons meer male gehoor dat #BLM nie reg is nie omdat All Lives Matter (ALM). Mense sou ook dan vir God bytrek en sê dat almal vir God saak maak. Maar wat is die probleem met so ‘n reaksie? Sonder dat dit dalk so bedoel word, relativeer so ‘n standpunt die spesifieke pyn van ‘n spesifieke groep. Bv. gestel ons het ‘n beweging begin #FLM (Farm Lives Matters) en mense sou sê: “Nee man, los daai; alle lewens maak saak,” sou dit nie goed afgaan nie." 
Die volle skrywe kan op die sentrum se webwerf of Facebook-blad gelees word. 
Ons benodig kudde-immuniteit teen korrupsie
Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, skryf die volgende inset vir Beeld en Die Burger se Godsdiens Aktueel: 
"Ons kom ‘n lang pad met korrupsie. Te lank. Die afgelope weke het korrupte COVID-19-tenders ons egter ‘n versadigingspunt laat bereik.  Altans, so hoop ons. Jare gelede het ek voor ‘n regeringsgebou in Nairobi gestaan en toe die volgende bord raakgesien: You are now entering a corruption free zone. Ek het dit amusant gevind. Vandag nie meer nie. Tussen al die ontstellende berigte oor korrupsie spook twee vrae by my. Waar kom die virus vandaan? En hoe kan dit gekeer word?"

Klik hier om sy volledige artikel te lees. 
EKOLOGIE
Eko-wenk oor kragbesparing
Samantha Chamberlain van die NG Kerk Suider-Strand en ook deel van ons Groen Span, verduidelik in die video onder hoe ons op vyf maklike en eenvoudige maniere krag kan bespaar.
Dit gaan nie net jou beursie bevoordeel nie, maar ook sommer die hele aarde.
'n Nuwe tipe besoedeling
Franse natuurbewaarders het aan die begin van die pandemie reeds gewaarsku dat maskers en handskoene in ‘n toenemende mate weens die pandemie, in die see gaan beland. 
Die nie-winsgewende organisasie Operation Mer Propre het gesê dat hul skubaduikers die afgelope paar maande toenemende bewyse gevind het dat die wydverspreide gebruik van beskermingsuitrusting ‘n uitdaging vir die omgewing is. Tydens die skoonmaak van die Middellandse See, het die organisasie tientalle maskers en handskoene op die seebodem gekry. 
Hulle het foto’s van hulle bevindinge op sosiale media versprei, om mense aan te moedig om nie beskermingtoerustig uit onherwinbare plastiek aan te koop nie.
Laurent Lombard, 'n lid van Operation Mer Propre, het daarop gewys dat die Franse regering meer as 2 miljard maskers bestel het. Hy het op Facebook sy kommer uitgespreek: "Met die wete dat meer as tweemiljard wegdoenbare maskers bestel is, sal daar binnekort meer maskers as jellievisse in die waters van die Middellandse See wees!"
GEMEENTENUUS
George-Bergsig loods Grendel-vlyt
Die gemeente van George-Bergsig was omtrent bedrywig tydens grendeltyd en stel 'n bundel genaamd Grendel-vlyt bekend om te wys waarmee hulle sedert die begin van die COVID-19-pandemie in Maart besig was. Hulle deel hulle grendeltalente met aktiwiteite in en om die huis, stokperdjies, resepte, projekte en kunswerke, beoefening van verskuilde talente en gawes!
"Ons lidmate deel ook hul belewenis van God in hulle lewe, God se goedheid te midde van swaarkry, veral in die grendeltyd. Kom kuier gerus saam met ons! Binnekort word ons Grendelkos resepteboek beskikbaar gestel waar lidmate hul spogresepte en hul vinnige ek-is-nie-meer lus-vir-kook-nie resepte deel," skryf Wilna Jones.
Laai die PDF-weergawe van die bundel hier af.
Helderberg bedien haweloses
Arnold Prosch, die projekleier van Helderberg Uitreik se Projek vir Haweloses, deel hierdie storie van hoop:
“Vroeg in April, met die aanvang van die inperking, is ‘n nuwe skuiling ingerig in die ou ongebruikte Rusthof Oslo Skool op die hoek van Kerk– en Sergeantstrate in Somerset-Wes (naby aan die Nagskuiling). Hierdie fasiliteit word die Familie Skuiling genoem en word bedryf deur Jo Swart, Wayne Spammer en hul span. Blykbaar enig in sy soort in die Wes-Kaap.
Hier word ongeveer 30 families (of 70 mense) gehuisves – akkommodasie, kos, ‘n bietjie skoling, ouerskapsopleiding, ‘n sitkamer met ‘n TV, ‘n klein gimnasium en selfs ‘n groentetuintjie is hier ingerig. 
Ek verneem dat daar nog surplus akkommodasie is vir ‘n addisionele 50 mense. As dit nie was vir die COVID-19-inperkingsvereistes nie, sou hierdie gesinne steeds op straat gewees het. ‘n Wonderlike voorbeeld van hoe die Here voorsien en ‘n streep trek deur wanhoop en kleingelowigheid!”
Prosch wil graag ‘n beroep op die publiek doen om te bid vir hierdie inisiatief; spesifiek vir wysheid en deursetting aan die bestuur en ook vir sukses met die onderhandelinge vir ‘n langtermyn huurkontrak vir die eiendom. Finansiële bydraes is ook welkom. Besoek gerus die gemeente se webblad vir meer inligting. 
Tableview praat saam oor rassisme
Tableview-gemeente deel hierdie opname (video onder) van hulle insiggewende gesprek met Tom Smith, predikant by Fontainebleau Gemeenskapskerk in Johannesburg, oor #BlackLivesMatter en rassisme.
Johannes Mouton die predikant van Tableview besef dat hierdie onderwerp dalk ongemaklik vir mense kan wees, maar moedig persone steeds aan om daarna te luister omdat ongemak teenoor ‘n onderwerp nie noodwendig ‘n slegte ding is nie. Die gemeente het hierdie gesprek ook gebruik as 'n geleentheid om ‘n ruimte te skep vir mense om na mekaar te luister.
Aanlynvasvra by Blouberstrand
Die gemeente van Bloubergstrand verlang daarna om saam hulle lidmate te kuier, daarom het hulle met die idee van ‘n aanlynvasvra-aand vorendag gekom.
As jy ook jou algemene kennis op die proef wil stel, is jy welkom om jou span van vier in te skryf. Die koste beloop R50 per span. Zoom, AhaSlides en WhatsApp is die platforms wat vir hierdie geleentheid gebruik sal word. Relevante skakels sal aangestuur word sodra die gemeente al die inskrywings ontvang het.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na kommunikasie@ngkbloubergstrand.co.za of kyk die onderstaande video. 
Winter Warmbly Projek
Die gemeente van St. Helenabaai wil graag baie dankie sê aan al hulle gemeentelede wat bygedra het tot hulle winterprojek met die doel om klein lyfies warm te hou tydens die ysige winter.
Hulle toon ook groot waardering vir diegene wat skenkings van wol en klere gemaak het. “Ons het ongelooflik baie mense in ons gemeenskap bereik - groot en klein,” skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Leraarspos: Riviersonderend
Die Kerkraad van die NG Gemeente Riviersonderend wag in afhanklikheid aansoeke in vir 'n voltydse leraarspos. 

Riviersonderend is ‘n plattelandse landbougemeenskap in die hartjie van die Overberg met tans 379 belydende en 59 dooplidmate. Sluitingsdatum vir aansoeke is 14 September 2020. Klik hier vir leraarsprofiel en meer besonderhede.
Badisa Vanrhynsdorp: Maatskaplike werker
Aansoeke vir 'n geregistreerde maatskaplike werker word ingewag by Badisa Matzi-Care in Vanrhynsdorp. 'n Toepaslike tersiêre kwalifikasie en ervaring van die implementering van die Kinderwet is vereistes. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 4 September.
Badisa Trio Kraaifontein: Maatskaplike werker 
Badiso Trio in Kraaifontein het 'n vakature vir 'n maatskaplike werker. Toepaslike kwalifikasies en registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe is noodsaaklik. Ondervinding in kinderbeskermingsdienste sal in die kandidaat se guns tel. Aansoeke sluit 26 Augustus. Klk hier vir meer besonderhede.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Lees meer oor CLF se dankbaarheidsprojek en klik bo om aansoekvorms af te laai.
Click on image to read the latest newsletter from Inclusive and Affirming Ministries.
Click above for the latest news from Badisa Trio.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Bly of gly? 
Stephan Joubert gesels oor die etiek van emigrasie-besluit. Hy waarsku dat dit nie moet gaan oor vlug nie. By hom hoor ’n mens eerder drie woorde: roeping, droom, visie. In ’n videopraatjie op Kerkbode se Facebook-bladsy, praat Joubert oor sy jongste boek en pleit die gewilde teoloog en skrywer vir etiese eenvoud in besluitneming. “Mense wat uit geloofsbeginsels besluite neem, neem makliker beter besluite.” Klik hier om sy skrywe te lees. 
Op Bybel-Media se rak
Bybel-Media se nuutste katalogus vir die belydenisfase is nou beskikbaar. Hierdie publikasies poog om jongmense  se belydenisjaar ’n onvergeetlike ervaring in geloofsgroei te maak met unieke produkte, pasklaar gemaak vir katkisante wat belydenis gaan aflê.
Klik hier om die katalogus deur te blaai. Kontak Bybel-Media vir bestellings by bestel@bmedia.co.za of koop die boeke by hulle  e-winkel.
ALGEMEEN
Bybelgenootskap se kospakkieprojek
Leon Steenkamp van Bybelgenootskap vertel van 'n projek wat hulle personeel van stapel gestuur het kort nadat hulle kon terugkeer kantoor toe. "Ruth Jonas, een van die organiserende sekretarisse van die Westelike Streek van Bybelgenootskap, het ons uitvoerende hoof genader met die idee om die personeel te vra om kosdonasies te gee vir diegene wat finansieel deur die COVID-19-pandemie geraak is. Hierdie projek het toe sommer ook ons Madiba Dag-projek vir vanjaar geword. Danksy die donasies van ons personeel kon 30 kospakkies opgemaak word en saam met 30 brode, asook 40 Bybels (20 Afrikaans en 20 Engels) en 80 stelle Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies in onderskeidelik Afrikaans, Engels en isiXhosa aan behoeftige gesinne in Klipfontein en Delft uitgedeel word. 
Kloksgewys van links na regs is: Trusuna Bauermeister, Joey van der Merwe , Rhoda Jacobs , Braam Hanekom van die NG Kerk Wes-Kaapland,  Bybelgenootskap se uitvoerende hoof Dirk Gevers en Ruth Jonas.
Alpha Online
Alpha Online nooi jou uit om saam oor geloof te kom gesels en skep ook die platform vir mense om vrae wat hulle oor God het, te vra. Die doel van hierdie inisiatief is om eerlike gesprekke oor geloof op ’n aanlynplatform aan te moedig.
Hierdie geleentheid sal elke Woensdag vanaf 2 September tot 11 November tussen 19:30 en 20:30 plaasvind. Die sessies gaan via Zoom aangebied word, so deelnemers het internettoegang nodig om na die gesprek te luister. Elke sessie gebruik tussen 700MB en 1GB data. Indien jy nie genoeg data het nie, kan jy aansoek doen om data te ontvang vir die sessies.
Die aanbieding sal in Engels plaasvind, maar deelnemers is welkom om lekker saam te gesels in Afrikaans.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Cornis (078 973 3307) of Ryk (082 857 4368).
Klik hier om vir die sessies te registreer. Die onderstaande video vertel ook meer oor hierdie geleentheid. 
Raakgelees: Hond kry werk by motorhandelaar
‘n Rondloperhond was vasbeslote om sy droomwerk by 'n Hyundai-motorhandelaar los te slaan en sy volharding is beloon met 'n wonderlike werk - én 'n huis.
Vroeër vanjaar het personeel van 'n Hyundai-tak in Brasilië 'n hond gesien wat dae aaneen buite hulle vertoonlokaal wag, maar hulle het aanvaar dat hy mettertyd sou aanbeweeg. Dae het verbygegaan, maar die rondloperhond het elke dag getrou teruggekeer. Op een besonderse reënerige aand het die bestuurder, Emerson Mariano, hom jammer gekry en ingenooi om te eet en water te drink.
Mariano sê dat hy onmiddellik aan die hond geheg geraak het en het sonder om te talm aan die direksie voorgestel dat hy as 'n amptelike gelukbringer vir die maatskappy aangeneem moet word. "Die onderneming is nog altyd troeteldiervriendelik, daarom het ons besluit om hierdie idee ook in die praktyk te omhels en ons eie troeteldier te kry in 'n ingewikkelde tyd soos hierdie met soveel diere op straat."
Die personeel het hom Tucson Prime gedoop en hy is amptelik aangestel as ‘n pawfessional consultant. Kyk gerus die video (onder) vir meer beeldmateriaal van Tuscan. 
VIRTUELE KUIERKANSE
Vindingryke inisiatiewe
Grendeltyd vra van ons gemeentes om op kreatiewe maniere na fondsinsamelings te kyk. Hier is sommer 'n rits geleenthede om heerlike etes op 'n veilige manier te kry.
George Moedergemeente se deurry-ete vind op 28 Augustus plaas. Kontak die kerkkantoor by 044 874 2036 vir meer inligting.
Episode 2 van Inry@Sonstraal gebeur op Vrydag 28 Augustus. E-pos lyn@sonstraal.org.za vir bestellings en navrae.
La Rochelle hou 'n deurry-wegneemete ten bate van die Bybelgenootskap op 30 Augustus. Daar is selfs 'n afleweringsdiens beskikbaar.
Paarlberg doen 'n reeks #FeesVrydae van 28 Augustus tot 2 Oktober met heerlike jaffels, melkkos, hamburgers, kerrie-en-rys en selfs 'n snoek braai-through.
Bellville-Wes se Wasikosi spyskaart bied watertandlekker opsies op 21 & 28 Augustus. Stuur 'n e-pos aan navrae@bellvillewes.ng.org.za of SMS/WhatsApp bestellings aan 081 316 4086.
Ondersteun gerus ons gemeentes met hierdie pogings om fondse in te samel en staan 'n slag terug van die kospotte.
TEN LAASTE
Die nasionale inperking het vandeesweek verslap na vlak 2 en dit hou weer 'n splinternuwe reeks uitsonderlike uitdagings in. Byeenkomste word steeds beperk tot 50 mense en ons wil graag hoor of enige van ons gemeentes van die geleentheid gebruik gaan maak om weer eredienste of kategese te begin. Deel gerus julle stories met ons by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Nog goeie nuus is dat ons weer met familie en vriende kan gaan kuier - selfs oor provinsiale grense. Maar met die groter vryheid rus daar ook 'n groot verantwoordelikheid op elkeen van ons om die regulasies na te kom. Beskerm jouself om sodoende ander te beskerm. Dra jou masker en was jou hande gereeld.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.