Lees deur internet, klik hier >>
19 Junie 2015
Beste Leser
SINODENUUS
1. NG Algemene Sinode 2013: Handelinge
Die kantoor van die NG Algemene Sinode laat weet dat die Handelinge van die Algemene Sinode 2013 gereed is vir die drukproses. Gedrukte kopieë kan nou vir verwysing en naslaanwerk bestel word. Bestellings én betalings moet ons sinode teen 29 Junie bereik. Klik hier vir meer inligting. (Die elektroniese weergawe van die notule en besluiteregister is hier.)
2. Nasionale Dag vir Blindes
Sondag 21 Junie is Nasionale Dag vir Blindes. Dikwels is dit net daardie klein gebaar wat 'n wêreld se verskil (menswaardigheid!) vir iemand anders maak. So 'n plan het 'n bekende kitskosgroep, wat braille-spyskaarte aan gesiggestremdes wou bekendstel, gemaak. En vir die eerste keer kon hierdie blindes hulle kos "sien"! Op watter manier kan ek en jy vandag in gesiggestremdes se wêreld 'n (klein) verskil maak
Braille burgers
3. Arbeidsbediening
Arbeidsbediening ondersteun alle mense in die werksplek. George Kuyler se melkplaas (net buite George) is een van vele verhale van hoop en verandering. Links staan George saam met twee werknemers. Hulle is alreeds besig om vir vier jaar saam 'n dissipelskapkursus te doen en saam as werkgewer/eienaar en werknemers die wil van die Here vir hul plaas te soek. Dit het hulle almal se lewens ingrypend verander.
Arbeidsbediening se Facebook het baie meer stories van hoop en verandering! Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.
Babaskoentjies
ALGEMEEN
1. Jy is welkom, kleine dogtertjie!
Die personeel in die NG-sinodale kantoor in Bellville voel omtrent soos trotse "grootouers, ooms en tannies"!
Op Dinsdag 16 Junie is Mizelle Prinsloo (sekretaresse van die Diensgroep Armoede en Sorg) en haar man, Carlo, se pragtige dogtertjie, Milla, gebore! Mag julle as gesin die Here se sorg en liefde elke dag ervaar.
US Teologie-logo
2. MTh met fokus op Gender en Gesondheid
Charlene van der Walt stuur nuus oor 'n opwindende geleentheid met die oog op die akademiese jaar 2016. Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch in samewerking met die Kerk in Swede bied ‘n besonderse geleentheid aan studente om ‘n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gesondheid en gender.
Vind al die relevante inligting in die aangehegte dokument. Meer inligting is by dr Charlene van der Walt, charlenevanderwalt@sun.ac.za of 083 693 8686.
3. Die Kerk tot jou Diens: Oornaggeriewe
Het jy geweet dat die NG Kerk bekostigbare kamers beskikbaar het vir familie en pasiënte uit die platteland, sowel as verblyf tydens sinodale vergaderings?
Die Oornaghuis (Bo-Lincolnstraat 80 in Hoheizen) is gerieflik geleë in die noordelike voorstede, naby Louis Leipoldt Medi-Kliniek en die N1 Stad-hospitaal. Doen navraag by 021 913 3733 of oornaghuis@telkomsa.net. (Sien foto's onder).
Diegene wat naby Groote Schuur Hospitaal moet wees, kan Kerkhuis Hanna Hopkins (Trilweg 49 in Observatory) oorweeg. Kontak hulle by 021 448 7301.
NG Kerk Oornaghuis Dubbelkamer
4. Instituut vir Blindes skep 'n Toekoms!
Lees gerus meer oor die werksaamhede van die Instituut vir Blindes, 'n program van Badisa. 'n Volkleur brosjure oor hulle dienste is ook beskikbaar. Rottang en weefwerk (sien foto's onder) is enkele vaardighede wat daar aangeleer word.
Rottang produkte van Instituut vir Blindes Weefwerk van Instituut vir Blindes
SAKOV-logo
5. Kerkorreliste kom byeen
Predikante, musiekbedieningsleiers en orreliste kan gerus kennis neem van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) se jaarlikse kursus. Dit vind op Saterdag 1 Augustus in Wellington plaas.
Vanjaar verwelkom hulle oa vir dr Colin Campbell, assistent-professor in orrel en universiteitsorrelis aan die Texas A&M International University. Hy is landwyd in Suid-Afrika bekend as kerkmusiekkenner. Dr Campbell en die ewe bekende Winand Grundling sal ook op Sondagmiddag 2 Augustus om 16:00 'n orrelkonsert in die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen lewer. Meer inligting en die inskrywingsvorm is hier.

6. Pastorale Beradingskursus: Seksuele Verslawing
Dalk (veral) vir ons lesers in die Noord-Kaap: In hierdie VBO-geakkrediteerde kursus word onder meer gefokus op die aanleidende oorsake en vernietigende gevolge van seksuele verslawing. Prof Wentzel Coetzer is die aanbieder. Belangstellendes kan meer oor die kursus, op Sa 1 Augustus in Potchefstroom aangebied, hier lees.
Elmarie Dercksen
7. Raakgelees ... Manne wat met Outoriteit lei
Vadersdag (So 21 Junie) het Elmarie Dercksen laat nadink oor God as Vader en oor vaderskap en manlikheid. Sy meen dat dit eerder ménslikheid as manlikheid of vroulikheid is wat ons moet gebruik as invalshoek om mekaar te bespreek.
"Gelukkige Vadersdag aan al die pappas wat die spektrum van vaderskap uitleef. Ek sal vir julle bly bid sonder skroom; ek sal julle noem aan my Vader, wat graag sy kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens. Want eintlik is ons almal maar net mense."
Die volledige artikel is hier. (Elmarie is predikant by NG Bloubergstrand).
8. Beplanning
Onthou: daar is slegs een uitgawe van VrydagNuus vir hierdie kwartaal oor. Die Kaapse skole sluit op Vrydag 26 Junie en heropen weer op Maandag 20 Julie. Die eerste uitgawe van die derde kwartaal is dié van 24 Julie.
GEMEENTENUUS
1. Parke-gemeente se Buitengewone Doop en Belydenis
In Parke-gemeente (Kraaifontein) is Sondag 'n besonderse belydenisaflegging en doop gevier. Charl Stander vertel ...
"Ouma Corrie van Zyl, mamma Marietjie Roux en Moira het al drie belydenis van geloof afgelê en daarna het ek hulle gedoop. Moira het bloot bely: 'Ja, ek is lief vir Jesus, Hy my hero ("jero").' Moira het die Charge-sindroom. Sy is 30 jaar oud en was tot kort gelede in Alta du Toit, maar woon nou tuis. Sy is besig om blind en doof te word - dit hou verband met die sindroom. Sy is elke Sondagoggend in die kerk (voor in die kerk en reg voor die orkes) en sing met opgehefde hande en heupe wat wikkel (dans). Almal is lief vir haar, vind haar 'n inspirasie en sy is al 'n legende in die gemeente.
My punt vandag was: Jesus het altyd 'n hart gehad: vir die kleintjies, vir die swakkes, vir die sukkelaars, vir die minstes, vir dié wat nie gereken word nie. Ons moet nooit die baie belangrike plek van die geringes, die gemarginaliseerdes, die eenvoudiges, die armes en die gestremdes in die koninkryk van God onderskat nie. Hulle is primêr in God se visier." 
Charl Stander, Moira, Marietjie en tannie Corrie
Charl Stander, Moira (voor), Marietjie Roux en Corrie van Zyl
2. NG Gemeente Stellenberg: Uitreike in die Winter
Stellenberg se flukse breiers het al die eerste 150 serpe en 150 musse vir die gemeente se komende winteruitreike afgelewer. Stellenberg se jeug reik die wintervakansie na minderbevoorregte gemeenskappe in Leeu Gamka, Calitzdorp, Mahvusa, Transkei asook Imizamu Yethu, Houtbaai uit.  Die lekker warm serpe en musse gaan beslis vir 'n glimlag op baie kinders en senior burgers se gesigte sorg. Lees hier meer ... en bid asseblief vir almal by die verskillende uitreike betrokke.
Ds Why Duvenage saam met Ria McMicken en Sonia Swart, twee flukse breiers.
NUUSBRIEWE
Bybel-Media Nuusbrief

Dié week is Bybel-Media se fokus op die jongste Kerkbode en die Julie-uitgawe van LiG. Dankie vir jou hulp om belangstellendes aan hierdie twee spogpublikasies van die NG Kerkfamilie bekend te stel. Lees Hans Steyn se nuusbrief hier ...
LiG van Julie 2015 Kerkbode 19 Junie 2015
KUIER-KANS
Klik op die advertensies vir meer inligting oor NG Bellville-Wes se "Die klaagliedere van ds Tienie Benade"-vertoning en NG Somerset-Wes se Winterspens. 
Klaagliedere van ds Tienie Benade NG Somerset-Wes Winterspens
3. NG Gemeente Gordonsbaai: Skropwerf
NG Gordonsbaai se jaarlikse “Skropwerf” vind vanjaar van 26-28 Junie tydens Gordonsbaai se Winter Wonderland plaas. Die hele dorp word omskep in ‘n wonderwêreld van liggies en die strate word ‘n fees van bedrywighede met kos- en handwerkstalletjies en musiek. By die Skropwerf op die kerkgronde is allerlei kosstalletjies, 'n koffie-en-teetuin, ontbyt die Saterdag, 'n springkasteel en meer. Orrelmusiek en blommerangskikkings in die kerkgebou (sien foto onderaan). 
Die volgende naweek (3 tot 5 Julie) is daar etes te koop en die Vrydagaand 'n konsert:  Tibute plays Cliff and The Shadows.
Navrae: skakel 021 856 1654 of sien die Facebookblad: NG Kerk Gordonsbaai.
Skropwerf blomme Skropwerf Skropwerf stalletjies
NG Kamieskroon
VAKATURES
1. NG Gemeente Kamieskroon: Leraar

In afhanklikheid van die Here soek die NG Gemeente Kamieskroon na 'n gelegitimeerde van die NG Kerk om 'n termynbepaalde of 'n tentmakerspos (afhangende van die suksesvolle aansoeker se omstandighede) by hulle te vul. Die gemeente het ongeveer 140 belydende en 35 dooplidmate, waarvan ‘n deel op plase woon. Reageer voor 30 Junie - klik hier.
2. VGKSA Heatherdale: Leraar
VGKSA Heatherdale is ‘n stedelike gemeente in die Vrystaat, geleë in Bloemfontein. Die gemeente is deel van die Ring van Bloemfontein en resorteer binne die Streeksinode Vrystaat en Lesotho. Die gemeente bestaan uit ongeveer 1250 belydende en 250 dooplidmate. Meer oor die gemeente en leraarsprofiel is aangeheg beskikbaar, Reageer asseblief voor Vrydag 17 Julie.
Pieter Fourie
TEN LAASTE ... 
Uit die Pen van ... Pieter Fourie

Om as VGK-dominee in ’n oorheersend NG Kerk-konteks te werk, het oor die afgelope jare sy uitdagings gehad. Veral as ’n mens jare lank moes aanskou hoe oor van jou hartsgoed soos die Belydenis van Belhar gedebatteer en gestruikel word. As ’n sinode dan 30 jaar ná die ontstaan daarvan steeds dié belydenis wil "bestudeer" en daarin "bevrydingsteologie" soek (amper soos die Nasionaliste destyds ’n Kommunis agter elke swart gesig), wil jy moed opgee.
Maar toe kom ’n sinode soos Wes-en-Suid-Kaapland onlangs en verklaar jou hartsgoed is ook hulle s’n – ja, dat hulle ook uit dié geloof wil lewe. Dan sê jy dankbaar: Nou is ek regtig tuis! Dit is ook my familie saam met wie ek die Here wil dien.

Dr Pieter Fourie is sedert 1 Feb 2006 die Uitvoerende Hoof van Bybel-Media. Hy is in 1975 gelegitimeer, was professor in Bybelkunde aan die Universiteit van die Noorde (Jan 1984 - Maart 1992) en direkteur Kerkblad, Publikasies en Inligting van die VGKSA (April 1992 - Okt 1998). Verder dien hy op verskeie rade, oa CABSA, die Andrew Murray-prysfonds en die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit. Kontak hom by pieter@bmedia.co.za.
Winterwarm-groete vir jou!

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.