Subscribe to our email list
 16 September 2016

Beste Leser
Gustav Claassen
SINODENUUS
1. Die Kerklike weg

"Disagreeing Christianly is one of the most powerful forms of incarnational witness the church can practice." (The Continuous Conversion of the Church)
Hierdie woorde was deel van 'n brief van dr Gustav Claassen (algemene sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode) na aanleiding van onlangse mediaberiggewing waar die kerk voor 'n ultimatum gestel is met betrekking tot die Algemene Sinode se implementering van besluite rakende selfdegeslagverbintenisse. Gustav het op Wo 14 September in 'n brief aan NG predikante geskryf dat die onkerklike wyse waarop die verskille hanteer word, ernstig betreur word. Die volledige brief is hier beskikbaar.
2. Selfdegeslagverbintenisse: Beswaarskrifte
Kerkrade en lidmate wat gravamina (beswaarskrifte) oor die besluit rakende selfdegeslagverbintenisse van Oktober 2015 wil indien, het tot 30 September 2016 geleentheid om dit aan die algemene sekretaris van die Algemene Sinode, dr Gustav Claassen, te stuur by gustavc@ngkerk.org.za.
Kommunikasie re ASM
3. NG Algemene Sinode
Moderamen (ASM) besluite

Na die ASM-vergadering van 5 tot 7 September het Gustav Claassen, die al-gemene sekretaris van die Algemene Sinode, sy gebruiklike kommunikasie oor enkele belangrike sake aan predikante gestuur.
Sy brief van 10 September 2016 het inligting oor die volgende: missionale transformasie; teologiese opleiding; Reformasie 500 (REFO 500); die buitengewone sinode 7-10 November 2016; predikantekonferensie en 'n biddag oor reën op So 2 Oktober. Klik hier om meer te lees.
3.1 Reformasie 500
Volgende jaar is dit die vyfhonderdjarige vieringe van die Reformasie met spesiale aandag aan Martin Luther se bydrae.
September is tradisioneel die tyd van die jaar wanneer die volgende jaar se kalender beplan en gedruk word. Die NG Algemene Sinode laat weet dat daar 'n groot hoeveelheid materiaal ontwikkel word om gemeentes te ondersteun met dié vieringe. Vir meer inligting, asook vir die logo wat gebruik gaan word, klik hier.
REFO 500-logo
3.2 Voorbidding oor Droogte: 2 Oktober
Die NG Algemene Sinode het verlede week ’n oproep op gemeentes en andere gemaak om in samewerking met ander kerke tydens spesiale gebedsbyeenkomste op Sondag 2 Oktober spesifiek voorbidding oor die droogtetoestande te doen. Dit sluit aan by die besluit van die Algemene Sinode van Oktober 2015 wat lui dat die eerste Sondag in Oktober jaarliks geoormerk word om die landbouseisoen aan die Here op te dra. Dankie vir gemeentes se oorweging om hieraan deel te neem. Maak gerus ook inligting oor die NG Droogtehulp-inisiatief aan gemeentelede bekend as een van die praktiese maniere om hulp en ondersteuning aan te bied.
Droë veld Dorre aarde
4. Teologiese Opleiding
Is ek geroep? Of dalk my kind of kleinkind? 
Bemoedig of ontmoedig ek geroepenes?
Wat doen jy as jy sê jy is geroep? Of dalk jou kind of kleinkind?
Wanneer 'n persoon ervaar dat God hulle roep, is hulle meestal baie onseker. Onseker of hulle goed genoeg is om God se werk te doen. Baie geroepenes loop vir lank met hierdie bewuswording van 'n roeping sonder om met iemand daaroor te gesels.
Ek wil jou aanmoedig om hieroor te gesels …
Luister gerus na 
Frederick Marais in die onderstaande kort video.
Inskrywings sluit einde September. Kontak Amanda van Niekerk by 021 808 9138 of toerusting@sun.ac.za met navrae.

Teologiese Opleiding - voorbidding vir roeping
Internskappe
5. Gemeentebegeleiding: Internskappe
Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding) skryf: "Dit is met groot opgewondenheid dat ons die internskapprogram van die Sinode van Wes-Kaapland bekendstel.
Die program behels die plasing van afgestudeerde proponente by 'n gemeente om sodoende vir die proponente toepaslike werksgeleenthede te bied. Hierdie plasing geskied deur 'n paneel wat 'n passing tussen die proponente en die gemeentes probeer bewerkstellig. In die proses van passing word daar deeglik met die betrokke gemeente en die proponent gekonsulteer en beide partye moet instem tot die plasing. Die proponent word dan formeel deur die kerkraad beroep tot die gemeente in ’n twee jaar vastetermynpos."
Om meer hieroor te lees en te sien aan watter vereistes belangstellende gemeentes moet voldoen, klik hier. Rig navrae aan Gielie by gielie@sun.ac.za.
6. #Imagine-span daag elke gemeente uit!
Die #Imagine nasionale span het vandeesweek vergader om oor die pad vorentoe te dink en droom. Anriëtte de Ridder vertel: "Ons is ongelooflik dankbaar vir die groei wat die #Imagine-beweging die afgelope drie jaar beleef het (ongeveer 8000 jongmense van 400 dorpe en 15 denominasies). Ons sal wil sien dat nog meer jongmense die geleentheid kry om deel te word van die #Imagine-beweging.  
Die nasionale span wil elke gemeente uitdaag om ’n ander gemeente in jou dorp te nooi om saam met jou eie jongmense in 2017 ’n #Imagine-fees by te woon. Dink aan ’n gemeente uit ’n ander kultuurgroep of 'n ander denominasie wat nog nie kom nie, of wat dit dalk nie op hul eie kan bekostig nie. Hierdie is 'n ideale geleentheid om 'n brug te bou in jou gemeenskap! Plaas ook nou reeds die #Imagine-feeste op jou kerk- en skoolalmanak vir 18-20 Maart 2017. "
Navrae: info@imaginemovement.co.za
#Imagine 2017 beplanning
Die #Imagine nasionale span vergader op 14 September in Durbanville.
Vlnr Arno Mattheus, Marina du Toit, Bea Pretorius, JC de Jongh, Pierre Burger, Heinrich Viljoen, Elsché Eygelaar, Anneke Botha, Rehet Laskey, Nanette Dreyer, Koketso Molaolwe, Fouche de Wet, Teodor van der Spuy, Cois de Kock, Vicus Kruger en Anriëtte de Ridder
Kerkorde en reglemente 2015
7. Die Kerk se Konstitusie
Gemeentes en predikante wat benoud navraag doen oor die bestaan van 'n konstitusie vir die NG Kerk in Suid-Afrika (inligting wat onder meer vir FICA-doeleindes benodig word) kan gerus hiervan kennis neem:
Reglement 1 van die Kerkorde en reglemente van die Sinode van Wes-Kaapland noem duidelik dat die Kerkorde en reglemente ons konstitusie is. Die volledige Kerkorde is elektronies beskikbaar op die sinode se webwerf en 'n skakel daarheen stel die meeste instansies wat inligting oor die kerk se konstitusie versoek, tevrede.

8. Publikasies op Kaapkerk-webwerf
Die sinodale webwerf spog nou ook met skakels na die jongste uitgawes van publikasies deur ons diensgroepe en taakspanne, sowel as die NG Kerk se amptelike koerant, Kerkbode, en tydskrif, LiG
Klik gerus regs onder op die tuisblad op enige van die titels om te lees wat in ons sinode (en verder!) gebeur. 
Weet jy van enige publikasie wat dalk ook hier 'n plek verdien? Kontak ons gerus met die nodige inligting en help om die sinode se webwerf aktueel en sinvol te hou.
Publikasies op webwerf
9. NG Algemene Sinode
Taakspan Fondse en Bates

Johan Brink, gerespekteerde voorsitter van die NG Kerk Algemene Sinode se Taakspan Fondse en Bates, het in April vanjaar allerlei inligting oor die Algemene Sinode se finansies en begroting met ons gedeel. Aan die hand van een of twee grafieke en interessante feite, gee hy ’n insiggewende kykie na die NG Kerk se fondse, bates en beleggings. Hoe sinodes bydra tot die werk van die Algemene Sinode word ook verduidelik. Dit is ’n voorreg om so ’n ewewigtige voorsitter aan die stuur van sake te hê. Johan, seën vir jou en die taakspan toegebid! (Klik op die foto om die video te sien).
Sam Dandala
10. Getuienisaksie: Nuus uit die Oos-Kaap
Bid asb vir die DOVE (Decoligny Ondersteuningsvennootskap)-vergadering wat op 17 September in die Strand plaasvind. Sam Dandala sal verslag doen van die werk in Decoligny-gemeente en by Sinethemba.
Bid ook asb vir die bedieningsgeleenthede wat Sam hier in die Wes-Kaap het. Hy preek komende Sondag, 18 September, in die NG Gemeente Strand-Noord tydens al drie die eredienste. Lees meer van Sam hier.
ALGEMEEN
1. Ringsittings in September
1.1 Ring van Beaufort-Wes by Steenbokkie byeen

Die Ring van Beaufort-Wes het op Vrydag 9 September 2016 by die Steenbokkie Natuurreservaat vergader. Die voorsitter van die ring is Erik Botha (Richmond) en die skriba is Herman Burger van Merweville. Hierdie ring bestaan uit Beaufort-Wes, Fraserburg, Gamka-Oos, Gamkavallei, Leeu-Gamka, Merweville, Prins Albert, Richmond en Victoria-Wes. Sien die foto onder vir die ringslede wat daar was.
Ring van Beeaufort-Wes
Agter vlnr: Erik Botha, Hendrik Ackermann, Retha Theron, Herman Burger, Jaques Grobler, Jan Stadler, Japie van Straaten, Johan Badenhorst en Albertus van Zyl
Voor, vlnr: Riana Spies,  Fanie Theron, Olive Kiwido, Frits Kotze, Johan van Heerden, Ann Muller, Laetitia Duminy, Manus Duminy, René Potgieter, Chris Briers
1.2 Caledon Verenigende Ring by Mispah saam
Die Caledon Verenigende Ring het op 11 en 12 September 2016 sitting gehou in Grabouw en by die Mispah jeugkampterein.
Die ring vergader al ‘n hele aantal jare gesamentlik met afgevaardigdes uit die VG en NG Kerk. Donald Gantana en Derick Lambrechts (predikante van die plaaslike gemeentes) het gesamentlik as voorsitters van die sitting gedien. Die aanddiens is gelei deur Donald Gantana, wat die voorrang van vergifnis as eerste aksie gepreek het. Die tweede sittingsdag is begin met 'n kreatiewe dagwyding deur suster Ellie Davies (op foto regs in die middel saam met Adam Gerber).
Onder die besoekers was Tinus van Zyl (NG Wes-Kaapse moderatuur), Quintus Heine (Bybelgenootskap van SA) en Peter Adams (PSD: NGGO). Lees gerus hier meer, en neem veral kennis van die spesiale ringslied, wat gebore is uit 'n luisterspan van 'n vorige sitting en nou as deel van Caledon se sittings gesing word.
Ring van Caledon gesamentlike sitting
1.3 Ring van Clanwilliam dink na oor Kerk se rol op Markplein
'n Ringsitting van saam kuier, gesels, lag en saam luister na God se stem vir die NG Kerk, sowel as die Ring van Clanwilliam se rol op die markplein, is woorde waarin die Ringsitting van die Ring van Clanwilliam (op 11 tot 12 September in Strandfontein) opgesom kan word, vertel Daniel van Zyl, ringskriba.
Dit was onder meer die eerste maal dat die "vergrote" Ring van Clanwilliam (met die insluiting van die Ring van Calvinia) sou funksioneer - en soos telkemale het God hulle verras! Hier is meer inligting en foto's.
Hierdie ring bestaan uit Calvinia, Citrusdal, Clanwilliam, Graafwater, Klawer, Lambertsbaai, Leipoldtville, Loeriesfontein, Lutzville, Nieuwoudtville, Nuwerus, Van-rhynsdorp, Vredendal en Vredendal-Wes se gemeentes.
Ring van Clanwiliam groepfoto
Die Ring van Clanwilliam tesame
Voor vlnr: Leendert Wijnja, Sarel Eloff, Hennie Burden, Nico Viljoen,
Nico van der Westhuizen, Anton Verwey
Volgende rytjie: Hendrik Kearney, Sam Eygelaar, Adriaan Haasbroek,
Elize Mostert, Anri de Lange, Nico Lochner
Res van die bondel: Hennie de Kock, Daniel van Zyl, Paul Langeveldt, Christelle Huisamen,
JB Wessels, Jacques Greyling, Org Nieuwoudt, Christoff Koch, Rita van Lill, Douw Prins,
Pottie Viviers, Matt Kellerman, Alro van der Spuy, Braam Coetzee & Jaco Redelinghuys
Heel agter: Chris Pool, Edward Archer, Marlies Coetzee, Wikus Lambrechts, Thinus Coetzer
1.4 Ring van Wynberg reageer op AS-besluite
Die Ring van Wynberg het tydens sy 56ste vergadering by Zwaanswyk  op 12 Sep-tember 2016 die besluite van die 2015 NG Algemene Sinode betreffende selfdegeslagverhoudings bespreek.
Hieroor skryf Danie Nel, voorsitter: "Die Ring het met waardering kennis geneem dat die besluite die menswaardigheid van alle medegelowiges, wat in 'n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, wil handhaaf. Die ruimte wat aan predikante en kerkrade gebied word om volgens eie oortuiging in hul spesifieke kontekste die besluite uit te voer, het ook opgeval. Die Ring het ook die afgevaardigdes se terugvoering oor die waarneembare gevolge van die opskorting van die besluite deur die Algemene Sinode se Moderamen, bespreek." Belangstellendes kan hier klik om die volledige verklaring te lees.
Die gemeentes van Constantia, Houtbaai, Maitland, Ottery, Pinelands, Plumstead, Rondebosch, Simonstad, Vishoek, Wynberg en Zwaanswyk is deel van hierdie ring. 

Bokkie Durand en Gebie Dippenaar van Vishoek
Bokkie Durand en Gebie Dippenaar
Lizette Louw Hougaard musiekbegeleiding
Lizette Louw Hougaard help begelei
2. Leesroostertekste 2017
Neels du Plooy verskaf namens die redaksie van Woord en Fees die datums vir die kerkjaar en die leesroostertekste vir Januarie 2017 tot Desember 2017. Predikante en skribas van gemeentes kan die dokument nou op die sinode se webwerf kry, terwyl hierdie inligting gerus ook met lidmate wat ook graag die sleuteltekste in hulle dagboeke aanteken, gedeel kan word. Klik hier vir die dokument.
Leesrooster grafika
3. Kalender 2017: Vakansie- en kerklike fees- en biddae 
Vir skribas en kommunikasiebeamptes wat tans met die 2017-kalenderbeplanning besig is: die vakansie- en kerklike fees- en biddae vir 2017, wat jaarliks deur Bybel-Media saamgestel word, is op die sinode se webwerf beskikbaar. Gebruik die soekfunksie heel bo en soek bv "2017" of "kerkkalender" OF beweeg links af tot onderaan die blad vir die direkte skakel daarheen.
4. Bybelgenootskap en die Cape Town Cycle Tour
Hiermee word almal uitgenooi om tydens die komende “Cape Town Cycle Tour” op 12 Maart 2017 saam met die Bybelgenootskap se fietsryspan te ry en geld vir Bybelverspreiding in te samel.
Belangstellendes kan dit doen as lid van die Bybelspan (besonderhede hier) of diegene wat reeds 'n nommer het, kan met behulp van borgvorms geld vir Bybelverspreiding insamel. 
Vir meer inligting hieroor, stuur 'n e-pos na Corné Basson by basson@biblesociety.co.za. Maak hierdie inligting asb ook in die gemeentes en onder fietsry-entoesiaste bekend. 
Cape Town Cycle Tour
Christen Geneeskundige Bond-logo
5. Hulp vir Biddag vir Gesondheidsorg: 16 Oktober 
Biddag vir Gesondheidsdienste val jaarliks op die derde Sondag in Oktober; vanjaar dus op 16 Oktober 2016. Soos gebruiklik, verskaf die Christen Geneeskundige Bond (Christian Medical Fellowship, of CMF) 'n brosjure vir kerkvennote en ander ondersteuners. 
Die brosjure, deur verskillende Christelik gesondheidsorganisasies saamgestel, is op hulle webwerf beskikbaar, terwyl meer inligting oor hoe die kerk by gesondheidsorg betrokke kan raak, ook daar beskikbaar is. 

Twitter Facebook
GEMEENTENUUS
1. Gesamentlike Opruimingsprojek in die Kuilsrivier
Alida Vorster, kommunikasiebeampte van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig het die onderstaande foto gestuur, geneem op 4 September na afloop van die gekombineerde opruimingspoging van gemeentelede van NG Durbanville-Bergsig en NG Stellenberg. Sy skryf dat dit vir Bergsig deel gevorm het van die #Elkeen-veldtog terwyl Stellenberg gedurende September hulle "Groen September-projek" het.  

"Die weer was ideaal en almal het entoesiasties meegedoen. Sewentig sakke rommel is uit die rivier en aangrensende terrein gehaal.  Dit het plaasgevind langs die rivier op die hoek van Fairtrees- en De Bronweg. "
Die opruimingspoging is georganiseer deur AROCHA SA. Enige gemeente wat belangstel om by soortgelyke aksies betrokke te raak, kan vir Sydney Saayman kontak by 076 556 7398  of sydney@isales.co.za
Die opruimingspan
Durbanville-Bergsig en Stellenbergers se geslaagde rivieropruiming
NG Porterville Danielkonferensie
NG Gemeente Porterville
Daniëlkonferensie 23-25 September
3. Kangovalleie se Tuinsafari
Tydens die tuinsafari op 21 en 22 Oktober stel NG Kangovalleie nagenoeg vyf en twintig tuine in hulle prentjieboek-mooie vallei aan die publiek oop vir besoek en besigtiging. Dit is 'n poging om fondse in te samel vir die instandhouding van hulle Bybelse tuin.
Die plante in die Bybelse tuin is geselekteer aan die hand van deeglike navorsing deur twee dames van die gemeenskap. Gelyktydig met die tuinsafari  is daar ook ‘n paar ander aktiwiteite. Vir die doel van die safari is die tuine ingedeel in formele tuine, plaastuine, pa
noramiese tuine, waterbesparende tuine en ander tuine. Lees hier verder. 
Rig navrae aan Danie Lategan by 079 558 0002 of bdanielategan@gmail.com. Onder is van die tuinfoto's wat Danie gestuur het.
Tuinsafari Foto 1 Tuinsafari Foto 3
NG Moedergemeente George - Bybel in Gedrang
NG Moedergemeente George
Konferensie 3-4 November 2016
Fay van Eeden
EKOLOGIE
1. Rentmeesters van die Natuur
Hoe kan gemeentes prakties betrokke raak en ’n bydrae lewer om ons wêreld as goeie rentmeesters te bestuur en bewaar? Fay van Eeden, predikant in die NG Gemeente Lynnwood (Noordelike Sinode), verskaf ’n dokument met wenke vir gemeentes se groen-bediening. (Met dank aan Fay en 8 September se Vrypos, die Vrystaat Sinode se e-nuusbrief.) Lees hier meer.
2. Evangelie in die Natuur
Getuienisaksie se Taakspan Ekologie verskaf die volgende inligting: Hierdie week se leesroostertekste help ons om te sien dat ekologie tot die hart van die evangelie behoort: Genade, en nie oordeel nie, kenmerk God se werkswyse. God se genadige verlossing van die mens beteken ook verlossing van die natuur.  Nie chaos nie, maar God bring omvattende vrede tot stand. 
Lees hier meer - 'n getuienis oor genade vir 'n witkaree (sien foto's onder).
Gewonde witkaree Geneesde witkaree
PUBLIKASIES
VARS NUUS! Kerkbode spog met Splinternuwe App!
Kerkbode is die amptelike kerkkoerant van die NG Kerk in Suid-Afrika - sedert 1849. Hierdie koerant is vir alle moderne mense wat in die kerk en sy doen en late geïnteresseerd is. Kerkbode bevorder oop gesprek, vertel verhale van hoop, plaas publieke getuienisse en bedien lidmate met geestelike inhoud en amptelike berigte van veral die NG Kerk.
Nou is die kerknuus meer toeganklik as ooit tevore met 'n Kerkbode-app (toepassing) wat die afgelope week vir Android en sedert Woensdag vir Apple-fone en tablette beskikbaar is.
- Lees nuusberigte, artikels, rubrieke en lesersbriewe
- Ontvang kennisgewings van belangrike nuus
- Deel die nuus deur middel van sosiale media
- Effektiewe soekfunksionaliteit
- Vakatures
KB kerknuus KB-toepassing KB-app
LiG se Oktober-voorblad
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief

LiG se spesiale gespreksgids vir kleingroepe word in die Oktober-uitgawe bekend gestel.  Hieroor skryf Francine van Niekerk (redakteur):
"LiG publiseer vanaf die Oktober-uitgawe elke maand 'n gespreksgids vir kleingroepe. Hiermee kan selgroepe, Bybelstudiegroepe of vriende-kringe gesels oor hulle geloof en die lewe. Dit is 'n ideale hulpmiddel vir gemeenteleiers wat goeie materiaal aan hulle gemeentelede wil bied."
Lees ook oor Donnalee Roberts (voorblad), Luvo Manyonga, 'n dubbele longoorplanting, inligting in pas met Oktober, kankermaand ... en baie meer.
Twee publikasies van hulp vir godsdienswerkers in gevangenisse word ook in Bybel-Media se nuusbrief bekend gestel.  
LiG se Oktober-uitgawe - artikels
2. CLF: Erfenisdag
Erfenisdag is die dag waarop ons as Suid-Afrikaners ons eie kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis gedenk, maar ook moet leer uitreik oor verskillende kultuurgrense heen. As kinders van God is ons sy erfgename. Ons kry dit sonder verdienste, sonder dat ons daarop kan aanspraak maak, sonder dat ons daarvoor gewerk het – alleen uit genade. 
In hulle nuusbrief dink CLF na oor die erfporsie wat ons nalaat - en verskaf wenke hoe hulle materiaal gebruik kan word om geloof, hoop en liefde uit te dra. 
Die Avonture van Maria en Braam God se kinders
3. Nuus uit VGK Kokstad
In sy jongste nuusbrief skryf Christo Wooding van VGK Kokstad oor die dood van evangelis Philip Nkathazo Silevu op 23 Augustus 2016 in die geseënde ouderdom van 94. Hy was ’n gesiene man en gemeenskapsleier, Christo se geestelike vader en mentor. Op die foto onder links is umvangeli Silevu en langs hom van links na regs die afgetrede ds Martin Mbasa van Mthatha, ds Dan Base van VGK Somerset-Oos en ds Christo Wooding. Al drie hierdie leraars was by tata Silevu se begrafnis.
Tata Sivelu Leraars tata Sivelu begrafnis
KUIERKANS
Geniet elke basaar, konsert en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
Alta du Toit Charity Konsert
Alta du Toit Nasorg Konsert
19 Oktober 2016
NG Bellville-Wes Kosmark
NG Bellville-Wes Kosmark
24 September 2016
NG Wynberg internasionale braaifees
NG Wynberg Braaifees
24 September 2016
NG Parow-Welgelegen Uitreikmark
NG Parow-Welgelegen Uitreikmark
22-24 September 2016
NG Kenridge Gholfdag
NG Kenridge Gholfdag
11 Oktober 2016
Laingsburg Vleisfees 17 Sept
NG Laingsburg
17 September 2016
Loeriesfontein Basaar
NG Loeriesfontein
1 Oktober 2016
Worcester-Noord Fees van Kleur
NG Worcester-Noord
15 Oktober 2016
NG Moedergemeente Kraaifontein Manuel en Belia
NG Modergemeente Kraaifontein
25 September 2016
NG Melkbosstrand Feesmark
NG Gemeente Melkbosstrand Feesmark
16-26 November 2016
Bellville Senior Sentrum
VAKATURES
Badisa Chrismar Villas
Geregistreerde Verpleegkundige

Bellville Senior Sentrum wag aansoeke in vir 'n geregistreerde verpleegkundige vir die sentrum se tuissorgafdeling. Werks-ure is van 07:30 – 13:30.  Aansoeke moet asseblief per hand afgelewer word by Jessiestraat 25, Chrismar, Bellville. Dinsdag
20 September om 12:00 is die laatste wanneer aansoeke ingedien kan wordBellville Senior Sentrum is ’n program van Badisa.
e-Kerkbode-logo
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Gerome Haupt
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Gerome Haupt

Kerk is steeds die Draer van Hoop

Hierdie stelling is en bly steeds my oortuiging, selfs in die uitdagende tye waarin ons lewe – juis omdat die kerk selfs in hierdie tye getrou aan dié uitsonderlike roeping is. Ons hoor dikwels die kerk moet weer dit en moet weer dat … die kerk fokus nie meer op die “regte” dinge nie. Soms is daar meriete in die kritiek, maar die positiewe impak wat die kerk het, oorskadu by verre die negatiewe. 

Hieraan word ’n mens gedurig herinner as jy hoor wat die kerk vir mense doen en hoeveel duisende mense daar selfs buite die kerk is wat steeds hulle hoop en vertroue op die kerk vestig. Die kerk is steeds besig om sy roeping uit te lewe. 
Hiervan getuig onder andere gemeentes en individue se uitreikaksies, die onderskeie kerklike kommissies wat soortgelyke aksies koördineer, sowel as die meer as 700 000 mense wat bereik word deur die verskillende Badisa-programme. Dit bevestig dat die kerk ten spyte van enorme uitdagings en negatiewe kritiek steeds ’n weg en die dryfkrag vind om voort te gaan en uit te reik na diegene na wie ons gestuur word. 
Daarom is en bly die kerk die draer van hoop. 
***
Gerome is al 24 jaar in die bediening, wat begin het by die NG Sendingkerk in Middelburg (Kaap), waarna hy vir sewe jaar by VGK Richtersveld was en hy is tans predikant van die VGK Caledon. Hy is voorsitter van die VGK se Sinodale Kommissie vir Diakonale Dienste, ondervoorsitter van die Bedieningsgroep: Diaconia en ook lid van die Taakspan vir Publieke Getuienis. 
Kontak hom by geromeh@telkomsa.net.                                                    
'n Seën in die Seisoen van die Skepping
Mag daar groen weivelde met bome vol vreugde op jou lewensreis wees 
Mag daar strome van reën en bome vol genade in jou lewe wees
Mag daar waters van rus en bome vol vrede in jou lewe wees.
(Losweg gebaseer op Ps 23)
Vir gemeentes se beplanning: daar is slegs twee uitgawes van die nuusbrief vir hierdie kwartaal oor. Die eerste uitgawe van die laaste kwartaal is dié van 14 Oktober.

VrydagNuus-groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za