Raak betrokke by die 16 dae veldtog teen geweld teen vroue en kinders
Raak betrokke by die 16 dae veldtog teen geweld teen vroue en kinders
Lees deur internet, klik hier >>
27 November 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
16 Dae van Aktivisme
Ons Taakspan Gendergeregtigheid deel graag die video onder as deel van die 16 Dae Aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders wat hierdie week afgeskop het.
In die video gee verskeie predikante in ons sinode meer inligting en agtergrond oor hierdie veldtog. Statistieke word ook gedeel om die erns van geslagsgeweld en geweld teenoor kinders in ons land te beklemtoon.
SPG is teen geslagsgeweld
Soos vanjaar se 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders begin, is die Sentrum vir Publieke Getuienis verskrik, kwaad, ontsteld en bekommerd oor die vlakke van geweld wat vroue en kinders in ons land in die gesig staar.
In hulle verklaring skryf hul dat Suid-Afrika ‘n gevaarlike plek geraak het vir vroue en kinders aangesien misdaadvlakke voordurig toeneem. “Ons huis, wat veronderstel is om 'n skuilplek en veilige hawe te wees, kan in werklikheid ook 'n uiters gevaarlike plek wees. Statistieke oor aangemelde verkragtingsake dui byvoorbeeld aan dat 18 231 van hierdie oortredings binne die slagoffer se eie woonplek plaasgevind het.
Met inagneming van hierdie groeiende neiging van geweld teen vroue en kinders, doen ons 'n beroep op alle geloofsgemeenskappe om hul pogings om geslagsgebaseerde geweld in hul gemeentes en gemeenskappe te bekamp, dringend te verhoog. Bewusmaking en aktivisme is gedurende die 16 dae nodig, maar ook daarna - vir 365 dae van die jaar. Laat ons 'n lig skyn van geregtigheid, genesing en herstel te midde van hierdie duisternis wat ons omring.”
Klik hier om te sien wat gemeentes kan doen of besoek die sentrum se webblad om die volle verklaring te lees.
#100DorpeDialoog Ladismith
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het gisteraand nog ‘n dialoogsessie met gemeenskapsleiers op Ladismith gevoer. Leiers uit die plaaslike regering, skole, nie-regeringsorganisasies, kerke en die sakegemeenskap het aan die gesprekke deelgeneem. Opvolggesprekke is beplan en die sentrum sien uit na ‘n konstruktiewe en versoende toekoms.
Op foto van regs na links: Roland Butler, Jacques Smith, Philip Antonie, Charlie Michaelo, Lionel Rose. Agter: Francois Naudé
SmartStarters word vereer
SmartStart, 'n sosiale franchise wat beoog om toegang tot goeie gehalte vroeëkindontwikkeling in Suid-Afrika te verbeter, het vandeesweek 2020 saam met al hulle werknemers regoor Suid-Afrika gevier deur hulle te eer met ‘n Afternoon with the stars. Weens inperkingsmaatreëls was hierdie jaarlikse feesgeleentheid aanlyn aangebied.
Diaconia SmartStart in Bellville het weggestap met The Most Stylish Award omdat hulle die SmartStart-handelsmerk ervaar, leef en bevorder. Hierdie tak van SmartStart het hulle eie handelsmerktoerusting en hul dra dit met trots!   
Vir Diaconia SmartStart som die liedjie We are the World hulle 2020 op. “Dit was ‘n jaar vol uitdagings omdat ons as ‘n land en wêreld deur so baie gegaan het, maar dit was ook ‘n jaar van transformasie. Die jaar het ons gehelp om te reflekteer, diep binne onsself te delf en ook om meer buite die boks te dink. Ons moes onsself daaraan herinner dat ons almal deel is van God se wonderlike groot familie. Ons is die kerk. Ons is Diaconia. Ons is Suid-Afrika.”  
Kyk gerus die video wat bietjie meer vertel oor wat Diaconia SmartStart alles tydens die grendeltyd gedoen het. Like gerus ook SmartStart se Facebook-blad om op hoogte te bly oor al hulle doen en late. 
V.l.n.r. Rouxanne Opperman, Tammy-Lee Booysen, Eureka Smit, Isabella de Kock, Nicola Vermeulen. 
EKOLOGIE
'n Liefdevolle en groen Kersfees
Kom ons fokus vanjaar op Kersgeskenke wat vir die res van God se skepping tot seën sal wees.  Die beste manier om vir onsself te sorg, is deur vir ons omgewing te sorg.  Dit is hoe “vrede op aarde” prakties waar word. Ons mag dalk op dié manier ontdek dat dit ‘n enorme bydrae tot ons eie vreugde gee.
Klik hier vir ’n paar praktiese riglyne vir kreatiewe planne vir Kersgeskenke hierdie jaar.
Klik bo vir die 2021 eko-kalender.
GEMEENTENUUS
Nog gemeentekalenders!
Dankie aan die gemeentes van Clanwilliam, Napier, Parow-Noord en Worcester-Brandwag wat vandeesweek hulle 2021 kalenders vir ons gestuur het. Onthou om julle kalenders aan  kommunikasie@kaapkerk.co.za te e-pos. Ons deel ook graag Durbanville-Bergsig se jaarkalender. Klik hier vir 'n PDF-weergawe.
Beaufort-Wes Moedergemeente vier 200ste bestaansjaar
Japie van Straaten, wat al sedert 1995 by die Beaufort-Wes Moedergemeente is, vertel dat dit vir die gemeente 'n ongelooflike voorreg was om hulle 200ste bestaansjaar in 2020 te kon vier. Die viering het in die gedaante van 'n feesnaweek aan die einde van Oktober plaasgevind en het 'n basaar, antieke motoruitstalling en selfs 'n koekkompetisie ingesluit. Die erediens op 1 November was egter 'n hoogtepunt. "Ons feesnaweek is afgesluit met ‘n baie besondere erediens. Een van die voormalige leraars van die gemeente, ds Charlie Bond,  het op 82-jarige ouderdom die mees gepaste feesrede gelewer. Die nagmaal tydens die erediens is bedien deur die moderator van die NG Kerk in Suid-Afrika, ds Nelis Janse van Rensburg.  Die oggend het ons die voorreg gehad dat daar agt leraars aan ons nagmaaltafel aangesit het - nie almal leraars van die NG Kerk nie.  Wat ‘n voorreg dat ons as kerk van die Here in Beaufort-Wes, die Here op hierdie besondere manier kon dien, aanbid en bely as Koning van sy kerk in die wêreld." Klik hier vir meer oor die besonderse viering.
Op die foto (links onder) is Japie van Straaten saam met Charlie Bond, wat in 1968 in die bediening in Beaufort-Wes was. Op die foto (regs onder) bedien Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Sinode van Wes-Kaapland die nagmaal.
Stellenbosch-Welgelegen Kersprojek
Vanjaar is daar by Stellenbosch-Welgelegen ’n verskeidenheid waaruit jy kan kies om by te dra om iemand se Kersfees spesiaal te maak. Hulle vra huidiglik skenkings vir hoenderstukke vir Safe House, ‘n tehuis vir slagoffers van gesinsgeweld, vir hul Kersdagete.
Bestudeer gerus die pamflet hier vir inligting oor al die plekke wat die gemeente hierdie jaar ondersteun en die produkte en dienste wat jy kan skenk. Kontak asseblief die kerkkantoor (021 886 5975) indien jy ‘n skenking vir een van hulle projekte wil maak.
'n Blik op Groote Kerk se geskiedenis
Groote Kerk is in 1665 gestig en is die oudste gereformeerde gemeente in Suid-Afrika. In meer as 350 jaar se geskiedenis is daar baie stories om te vertel. Daarom deel Riaan de Villiers, predikant by hierdie gemeente in Kaapstad, 'n kykie in die argiewe en geskiedenisboeke van die kerk om ons 'n blik op die verhaal van die gemeente gee.
Hy vertel onder andere dat President Nelson Mandela in Mei 1994 'n erediens bygewoon en die gemeente toegespreek het. "Dae later ontvang die kerkkantoor hierdie handgeskrewe nota van President Mandela (foto onder) saam met 'n tjek deur die pos. Hy het sy beursie by die huis vergeet en kon daarom nie 'n bydrae in die kollektebord plaas nie, maar stuur sy bydrae in die daaropvolgende week." 
Enige persoon is welkom om by die Facebook-groep aan te sluit. Riaan noem ook dat persoonlike stories, staaltjies en foto's van mense baie welkom is en die gemeente kan help om nie net Groote Kerk se historiese verhaal te vertel nie, maar ook die kontemporêre.
Kleinmond word 50
Die gemeente van Kleinmond het onlangs hulle 50ste verjaarsdag gevier! Groot aktiwiteite vir hierdie spesiale geleentheid is reeds verlede jaar beplan: 'n verskeidenheidskonsert, pretdraf, gesamentlike feesdiens en gemeente-ete. Maar weens die inperking het hulle feesviering toe heel anders verloop!
Die gemeente het nagmaal by al drie hulle eredienspunte gehou en by die gesinsdiens, waar 74 mense teenwoordig was, het die kinders 'n kunstige inkleurprojek voltooi. Die gemeente laat weet dat hulle graag volgende jaar se verjaardagvieringe saam met hul lidmate wil geniet!
Durbanville-Bergsig Kerssangdiens en piekniek
Die gemeente van Durbanville-Bergsig nooi jou uit om deel te wees van hulle Kerssangdiens en piekniek-aand. Die piekniek sal op die grasperk vanaf 19:00 tot 19:30 plaasvind waarna almal saam sal sing. 
Besoekers word gevra om hul eie piekniekmandjie, kombers/stoele en natuurlik, maskers, saam te bring. Sosiale afstand sal ten alle tye gehandhaaf word. Die gemeente herinner ook dat almal moet onthou om ook ’n liggie saam te bring vir wanneer dit donker raak. Indien jy nog ongemaklik voel om byeenkomste by te woon, is jy welkom om vanuit jou motor saam piekniek te hou en saam te sing deur in te skakel op jou motorradio. 
PREDIKANTENUUS
IN MEMORIAM: Alwyn Petrus Roux (22.07.1952 - 19.11.2020)
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds Alwyn Roux van Pofadder. Daar word op Sondag 29 November 2020 ‘n huldigingsdiens by die NG Kerk Pofadder gehou, wat deur sy jarelange vriend en kollega Danie O’Reilly waargeneem sal word.
Hoofouderling Annas van der Merwe skryf in sy huldeblyk: "Die gemeente van die dorp Pofadder in die afgeleë Boesmanland is verslae na die onverwagte afsterwe van hul leraar ds Alwyn Roux. Ds Roux en sy eggenote Miemie bedien sedert Januarie 2013 hierdie diep plattelandse gemeente, nadat hulle ‘n beroep van Benoni Oos na Pofadder aanvaar het.  Die egpaar het einde Oktober 2020 die COVID-virus opgedoen en is in Panorama hospitaal in Kaapstad opgeneem, waar Miemie mettertyd ontslaan is, maar ds Roux die stryd teen die virus verloor het. Die stadspastoriepaar het in die afgelope agt jaar diep wortels geskiet in Pofadder en het waarlik ‘n onmisbare deel van die Pofadder-gemeente geword. Lees die volledige huldeblyk hier.
Ons innige simpatie aan sy vrou Miemie en sy kinders Hybré en Alwyn junior.
Anton Louw emeriteer
Anton Louw ontvang op 20 Desember sy emeritaat by die gemeente van George-Bergsig.
Hy skryf dat daar 'n nuwe seisoen vir hulle wag. "Aftrede. Emeritaat. ‘n Papiertjie in jou hand om te sê ek maak nou klaar! Na vyf jaar as jeugleraar in Brakpan, het ons ‘n beroep gekry na George-Bergsig. Hier in George het daar opwindende tye vir ons gewag. Ons was in ’n ongelooflike leraarspan van drie kollegas: Charl du Plessis, Hannes Pretorius en ek, wat enduit vir 30 jaar kollegas en vriende gebly het. ‘n Jonger kollega  Rudolph Grobler het in 2010 bygekom en ons kollegaskap kom verryk. As ek terugkyk, is ek baie dankbaar vir kollegas en vriende met wie ek saam die bediening kon doen. As ek vorentoe kyk, begin ek op 1 Des 2020 as emeritusleraar om die senior lidmate vir die volgende ses maande te bedien. Ons bly graag aan hier in George. Met ‘n diep waardering en dankbaarheid vir my vrou Surika, wat as lofprysingsleier vir al die jare saam met my bedien het. Vir die kerkraad, leiers, vriende en kollegas van Bergsig – dit was goeie jare! Nogmaals dankie!!"
Ons wens vir Anton en Surika alle voorspoed toe.
Aflospredikers
Benodig jou gemeente 'n aflosprediker oor die feesseisoen of wanneer julle predikant met verlof gaan? Gemeentes word daaraan herinner dat daar verskeie aflospredikante beskikbaar is. Klik hier vir 'n lys van aflospredikers.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
RCZ (Reformed Church in Zimbabwe)
Die NG Kerk in Suid-Afrika het veral in die laat-19de eeu merkwaardige evangeliseringswerk in Afrika, suid van die Sahara begin doen. Een van die eerste sendingstasies wat gestig is, was die Morgenster Sendingstasie in die suide van Zimbabwe naby die bekende reünes. In 1890 moes die jong Andrew Louw sy teologiestudies as gevolg van swak gesondheid staak en is in 1891 gewerf om permanent die Shonas te gaan bedien in die suide van Zimbabwe. Hy is vergesel van sewe swart sendelinge van die Soutpansberg-sending, naamlik Micha Makgato, Jozua Mashoha, Lukas Mokoele, Jeremia en Petrus Morudu (twee broers), David Molea en Izak Kumalo. Hierdie mense het hulself in klein dorpies gevestig waar hulle geloofsgemeenskappe begin vestig het. Vyf jaar later, in 1896, is die eerste twee gelowiges gedoop. Vandag bestaan hierdie kerk, die Reformed Church in Zimbabwe, uit meer as 100,000 lidmate en word stewige verhoudinge met die NG Kerk Wes-Kaapland en die VGK Streeksinode Kaapland steeds in stand gehou deur die werk van Getuienisaksie. Lees meer oor hierdie susterskerk hier
Varwi VaKristu Vokunyengetera ('n voorbiddingsgroep van die RCZ).
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Leraarspos: Huis Vergenoegd, Paarl
Die
Gemeenteraad van die Strooidakkerk adverteer die vakante leraarspos by Huis Vergenoegd in die Paarl. Die kontraktuele pos is gekoppel aan en word deur die Strooidakkerk gefinansier. Applikante moet verkieslik emeriti van die NG Kerk wees met 'n liefde om bejaardes pastoraal te bedien en versorg. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit op 18 Desember.
Musiekbegeleier: Sonstraal, Durbanville
Sonstraal-gemeente adverteer die pos van musiekbegeleier en is op soek na 'n musikant wat geroep is om die Here met sy/haar gawes te dien. Die geskikte kandidaat moet 'n grondige kennis van k
lassieke en kontemporêre begeleiding en aanbidding hê. Klik hier vir posvereistes. Aansoeke sluit 15 Januarie 2021.
Bedryfshoof: Hartenbos
Die NG Kerk Hartenbos wag tans aansoeke in vir 'n bedryfshoof. Verantwoordelikhede sluit die oorhoofse bestuur van finansies, kantoor- en personeeladministrasie van die gemeente in. Klik hier vir posvereistes en bevoegdhede. 
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 November.
Stafverpleegster: Citrusdal
Ons Huis in Citrusdal is tans op soek na 'n stafverpleegkundige. 'n Kwalifikasie as stafverpleegster en registrasie by die SA Raad op Verpleging is noodsaaklik. Lees die volle posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 15 Desember. 
Maatskaplike werker: Tygerberg
Die bogenoemde betrekking word tans by Badisa Tygerberg adverteer. Die ideale kandidaat is Afrikaans en Engels magtig en geregistreer by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe. Lees meer hier. Aansoeke sluit 4 Desember 2020.
Maatskaplike hulpwerker: Swellendam
Aansoeke van 'n gekwalifiseerde maatskaplike hulpwerker wat geregistreer is by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe word ingewag. 'n Geldige bestuurslisensie, basiese rekenaarvaardighede en ondervinding van kinderbeskermings- en gesinsorgdienste word vereis. Lees volle posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 30 November. 
Gemeenskapsontwikkelingswerker: Breedevallei
Badisa Breedevallei en Rawsonville wag aansoeke in van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone vir hierdie pos. Om oor ‘n maatskaplike hulpwerk kwalifikasie te beskik en by SACSSP geregistreer te wees, sal in u guns tel. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 30 November. 

Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die Bybelgenootskap se November nuusbrief.
KUIERKANSE
ALGEMEEN
Tjeks word uitgefaseer
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het in Oktober 'n kennisgewing uitgereik en aangekondig dat die nasionale betaalstelsel vanaf 31 Desember 2020 nie meer tjeks sal aanvaar nie. Tjekbedrog, die afname in die gebruik van tjeks en die beperking in aanvaarding van tjeks word onder die uitdagings genoem wat tot die besluit gelei het. Klik hier vir meer inligting.
Raakgelees: Die positiewe na COVID
Die Wêreld Ekonomiese Forum het onlangs hulle eerste en virtuele Pioneers of Change beraad gehou. Vooraf het hulle toonaangewende innovasieleiers gevra om die grootste geleenthede vir positiewe verandering post-COVID te identifiseer.  Verwagtinge het dit duidelik laat blyk dat die tradisionele korporatiewe strukture waarskynlik in die slag gaan bly, plaaslike vervaardiging gaan herleef en dat die mens se afhanklikheid van ekosisteme herevalueer moet word. Die pandemie het swakpunte in die globale gesondheidsorgstelsel en die behuisingskrisis uitgelig, waaraan dringend aandag spandeer moet word. Lees hier meer oor die top twintig moontlike veranderinge wat die lys gehaal het.
TEN LAASTE
Advent word letterlik uit Latyns vertaal as "naderende koms." Dit is 'n tyd van voorbereiding vir die geboortefees van Jesus. In 'n jaar van verlies en onsekerheid, bied die volgende vier weke vir ons die geleentheid om die koms van die Christuskind te vier. Dit gaan gepaard met dankbaarheid en verootmoediging, maar herinner ons terselfdertyd ook aan die wederkoms.
 "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!"
Luister gerus hier na Heinz Winkler se weergawe van Kom alle getroues! Mag ons in hierdie tyd die liefde en vrede van Jesus Christus ervaar.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.