navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Sondag 8 Junie 2025 | Pinksterfees

Pinksterfees en Nagmaal om 09:00 in die kerk en aanlyn
Ds. Potgieter (1,2)  
(Die familie- en meditatiewe dienste skakel by die Pinksterfees in.)
Kleuterkerk 09:00 in die grootsaal 

Aanddiens 18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Schoombie  

Annibrand Junior: Almal in graad tot 7 word uitgenooi na ’n Pinksterfeesbyeenkoms in die grootsaal om 10:00.  Ons gaan die Kinderpinksterreeks saam afsluit.

Deuroffer: Stellenbergmedewerkers
Ons ondersteun medewerkers wat in die res van die land en ook in die buiteland vir die koninkryk van die Here werk.

Boereworsrolle te koop Sondag 8 Junie

Geniet na die oggenddienste ’n heerlike boereworsrol teen slegs R40 in die markplein.  Ondersteun gerus die fondsinsameling ten bate van die Namibië-uitreik.

Ontmoet vir Jacques Nel – ons nuwe finansiële bestuurder

Jacques Nel het op 2 Junie in dié tuig geklim as die gemeente se finansiële bestuurder.  Jacques se wortels lê in Murraysburg in die Karoo waar hy begin skoolgaan het, maar hy voltooi sy skooljare in Bellville aan Laerskool Bellpark en Hoërskool Bellville.

Op die foto links is Jacques, sy vrou, Cindy en dogter, Emily-Grace.

VatVyf-byeenkoms

Op Woensdag 18 Junie om 10:00 speel ons Bingo in die kleinsaal.

Koop R10-kaartjies op weeksdae tussen 08:00 en 14:00 by Charlotte, kerkkantoorontvangs.  Jy besluit self hoeveel kaartjies jy wil koop.  Onthou daar is opwindende pryse op die spel.


Help ons om ’n verskil te maak

Tydens die winter het ’n mens ekstra waardering vir jou lekker warm huis en die voorreg om op ’n koue wintersaand ’n geurige en warm bakkie sop vir aandete te geniet.  Daarom wil ons in besonder ook diegene ondersteun wat nie so bevoorreg is nie.

Stellenberg-gemeente is by vier sopkombuise in Khayelitsha, Bloekombos, Wesbank en Klipheuwel betrokke.  Honderde mense ontvang weekliks iets te ete by die onderskeie sopkombuise en ons wil graag met bevrore sop ondersteun.

So kan jy help om iemand van ’n voedsame maaltyd te voorsien:

- Kook gemengdegroentesop, vries in roomysbakke en besorg by die kerkkantoor. Daar is roomysbakke in die grootsaalkombuis beskikbaar.
- Skenk die volgende bestanddele:  Gedroogde sopmengsel, uie, wortels, aartappels, blokkies aftreksel.  Gee bydraes asseblief by die kerkkantoor af.

Potgooie nou aanlyn beskikbaar

In die potgooie oor die Heidelbergse Kategismus gesels di. Marius Breytenbach en Schalk van Wyk oor die Heidelbergse Kategismus en hoe dit ons kan help in geloofsgroei asook om te verstaan van wat ons as gelowiges rakende ons geloof werklik bely.  Volg die potgooie op ons YouTube-kanaal of besoek die gemeente se webwerf.

Nominasie van kerkraadslid

Daar is tans ’n vakature vir ’n ouderling in die kerkraad en ons nooi graag die gemeente uit om deel te neem aan die nominasieproses.

Ouderlinge ontmoet vier tot vyf keer per jaar met die oog op geloofsonderskeiding en rigtinggewing aan die gemeente en verkose ouderlinge dien ook in die geestelikesorgkommissie wat een keer ’n kwartaal vergader.  Ons versoek dat lidmate ooreenkomstig met hulle gawes, passie en tyd genomineer sal word.

Nominasies van ouderlinge kan voor Maandag 9 Junie per e-pos aan anneke@stellenberg.co.za gestuur word. 

Stellenberg reik uit oor grense heen

Jaarliks, tydens die Junie/Julie-skoolvakansie word Stellenberg-gemeente se visie – oor grense heen – op ’n tasbare manier uitgeleef wanneer ons uitreik na Leeu-Gamka en Calitzdorp in die Karoo. Op ’n uitreik beleef ’n mens hoe jy nader aan God en jou medemens beweeg, ’n verskil in die wêreld maak en voortdurend vernuwe. Ons nooi volwassenes en tieners om betrokke te raak by hierdie jaar se uitreike. 

Skryf in vir ’n uitreik:
Ons benodig nog spesifiek volwassenes wat bereid is om deel van die kosspanne vir die uitreike te wees. Sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Junie.  Klik op die knoppie onder om aanlyn aansoek te doen.
Leeu-Gamka 28 Junie tot 3 Julie
Calitzdorp 5 tot 10 Julie

Aanlyn Bybelskool 

Die Bybel vandag | Sessie 6: Deel 2 
Kyk gerus na die nuwe sessie in die aanlyn Bybelskoolreeks op die gemeente se YouTube-kanaal of die webwerf.

Met leedwese

Ons neem afskeid van:

- Ellis Richard Barker (15/01/1934 - 04/06/2025).  Ellis was sedert 2023 ’n lidmaat van die gemeente.  Hy laat sy vrou, Mathie en dogter, Imogen, agter.  Gedenkdiensreëlings nog onbekend.

- William Robertson Dommisse (11/02/1941 - 02/06/2025).  William was sedert 2019 ’n lidmaat van die gemeente.  Hy laat sy vrou, Janke, drie seuns, skoondogters en vyf kleinkinders agter.  Gedenkdiens:  Dinsdag 10 Junie om 10:30 in die kerk.

Gebedsversoekse

Ons dra die volgende lidmate wat siek is in ons gebede aan die Here op:
  • Estelle Carstens
  • Abrie Visagie
  • Joh Coetzer
  • Phil Niehaus
    Stuur gebedsversoeke asseblief aan ds. René Potgieter.

Tassies vir tjokkers

Annibrand Junior beoog om weer vanjaar alle nuwe graad R-leerders van die Klipheuwel Preprimêreskool met ’n skooltas en skryfbehoeftes toe te rus.  Daar is 30 leerders wat elkeen 'n tassie moet ontvang.  Help ons asseblief om ons doel te bereik deur 'n skooltassie met donasies van R50, R100 of R200 te borg.  Bydraes kan elektronies oorbetaal word na Absa-tjekrekening 928 759 2857, takkode 632005, verwysing 3100/001.  Ons het ’n verskaffer wat 30 eenvormige tassies en skryfbehoeftes aan die leerders sal voorsien. 

Omgeestoor en kosprojek


Die koue weer is besig om stadig nader te kruip en die vraag na warm wintersklere en komberse gaan eersdaags groter raak.  Skenk asseblief bruikbare wintersklere vir ons omgeestoor.  Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word.

Niebederfbare kosprodukte vir die gemeente se kosprojek kan ook by die kerkkantoor afgegee word.  Suiker, langlewemelk, koffie, tee, meel, graankos, sopmengsel, konfyt, blikkiesgroente en -vleis asook kookolie is alles produkte wat in kospakkies verpak kan word.    

Breigroep

Die groep ontmoet weer op Maandag 9 Junie 2025 om 09:30 in die markplein. Bring asseblief al die items wat jy gebrei het, saam.  Ons gaan dit aan die uitreikspanne oorhandig.
2 l-roomysbakke
Ons benodig 2 l-roomysbakke om sop aan sopkombuise te skenk.  Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word. 

Namibië-uitreik

’n Groep van 18 Stellenbergers gaan vanaf 27 Junie tot 10 Julie  Mangettiduin, waar ag verskillende groeperings van die  Khoi-San-mense woon, besoek. Ons wil graag iets van Stellenberg se hartlikheid met hulle deel en het hulp met die volgende nodig: Klere, asook hoede en musse (veral mediumgrootte tot klein), asook koekies en los  lekkers.  Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word.

Dankie vir jou finansiële bydrae

- Bydraes kan elektronies oorbetaal word  na  ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005.
- Gebruik gerus die SnapScan QR-kode indien jy die SnapScan-toep gebruik om ’n bydrae te maak. 
- Vir jou gerief kan jy ’n debietordervorm hier aflaai, voltooi en aan finansies@stellenberg.co.za stuur. 

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

In ons omgewing . . .

Edelweiss Dienssentrum: Herwinningsprojek

Edelweiss Dienssentrum versamel plastiekdoppies (enige grootte en soort doppies) ten bate van ’n projek van die Paarlskool.  Gee gerus die doppies wat jy versamel by Edelweiss Dienssentrum se ontvangs af.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Halfdag pos vir ’n debiteure klerk: ’n Betroubare en noukeurige persoon wat onafhanklik kan werk word benodig om met invorderings te help. Die geskikte kandidaat moet goeie ervaring en kennis van ten minste drie jaar hê.Dit is ’n voltydse pos Maandag tot Vrydag 08:00 tot 12:00. Stuur asseblief ’n CV en uurlikse tarief na ehgray62@gmail.com.
- Huishulp: My huishulp soek werk op Dinsdae.  Haar naam is Elless Dzanjalimodzi.  Sy is 35 jaar oud.  Kontak my, Hanna Theart 076 149 1684 of Elless by 082 440 8399 (slegs vir WhatsApp).

- Vakature beskikbaar: Bornman & Hayward Prokureurs, geleë te Suite 1, Reigerstraat 2, Stellenberg, het ’n voltydse pos beskikbaar vir ’n debiteureklerk met onmiddellike indiensneming. ’n Mededingende markverwante salaris word aangebied. Akkuraatheid is van kardinale belang. Stuur asseblief u volledige CV aan: info@borhay.co.za.


- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486 of 079 590 1070.
- Matskoonmaakdiens: Kontak Leon Ritter by 082 448 2438 vir ’n gratis kwotasie.
- Dorpshuis te om te deel: Die huis is sentraal geleë, naby die kerk, het ’n motorhuis, patio en braaiplek. Professionele dames tussen 30- en 40-jarige ouderdom sal oorweeg word.  Koste: R9 000 per maand, sluit twee slaapkamers in.  Skakel asseblief vir Monique by 084 55 66 393.
- Ontdek die sagte krag van Tai Chi: Voel jy styf, gespanne of het min energie?   Ontdek die sagte krag van Tai Chi – 'n bewuste bewegingspraktyk wat balans herstel, buigsaamheid, krag en uithouvermoë verbeter en die gees kalmeer. AgeWell Tai Chi bied begeleide sessies aan wat ontwerp is vir alle fiksheidsvlakke en kan met die volgende help: vermindering van spanning, verbetering van postuur, asemhaling, sirkulasie en beweeglikheid.  Geen ondervinding nodig nie – net gemaklike klere en 'n gewilligheid om stadig, bewustelik en met intensie te beweeg! Sessies op die perseel beskikbaar vir aftreeoorde en selfs vir konferensiegroepe. Belangstellendes kan my ateljee besoek by Mountain Viewrylaan 82, Stellenberg.  Bespreek jou gratis proefsessie vandag by Douw by 067 854 2093 of besoek www.agewell.fitness.
- Rekenaarhulp beskikbaar: Vriendelike en geduldige hulp met alle rekenaarprobleme.  Kontak Wynand by 079 412 7080. 
- Te huur: Aftreeoord  La Vie in Sonstraal Durbanville. Tweeslaapkamereenheid op grondvloer naby eetsaal. Ooplankombuis met sitkamer en badkamer.  Baie netjies.  DStv-pakket asook etes beskikbaar.  Koste: R12 000 per maand en beskikbaar vanaf 1 Junie 2025.  Kontak: Loret Kruger by 082 872 0526 of loret@dck.co.za.
Oorweeg u om u huis te verkoop?  Milieu-eiendomme is al die afgelope 38 jaar werksaam in die gemeente se onmiddellike omgewing.  Ons benodig voorraad vir kopers wat graag in ons area wil koop. Die agentskap doen ’n in-diepte vergelykende markanalise van die markprys van u eiendom en verseker u te alle tye van die beste diens met baie ondervinding.  Skakel JP vd Poel 082 878 5582 vir ’n gratis kwotasie, markanalise van u eiendom – dit is aan geen verpligting onderhewig nie.
U tevredenheid is ons prioriteit. 
Kontak my, Chanelle van Rensburg, vir enige korttermynversekeringsbehoeftes.  OUTsurance bied ’n wye reeks van versekeringsprodukte/oplossings, wat besigheid, huishoudelik, motor, troeteldier, en nog vele meer dekking aanbied.

My diens is gemik daarop om u as kliënt gemak en doeltreffendheid te bied, sonder die noodsaaklikheid van ’n oproepsentrum. Ek is dus u as kliënt se primere kontakpunt en verseker dat alle kommunikasie en dienste vinnig en professioneel sal geskied.  Ek is toegewyd om die beste versekeringsoplossings, wat aan u behoeftes voldoen, te verseker.
Subscribe to our email list.