Lees deur internet, klik hier >>
 24 Junie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Hou hierdie spasie dop
Nelis Janse van Rensburg lewer die volgende bydrae: "Ons is nou in die Koninkrykstyd van die kerklike jaar. Dit duur tot en met die aanvang van die Adventstyd op 27 November, dit wil sê vir 24 weke sedert Drie-eenheidsondag. Hierdie tyd maak egter net sin as jy die lewegewende opstanding van Christus herdenk het, die uitsorting van die Heilige Gees in herinnering geroep het en die geboorte van die kerk gevier het.
Daar het oor die jare al verskillende seisoene ontstaan binne Koninkrykstyd soos die Seisoen van Barmhartigheid gedurende Augustus en die Seisoen van die Skepping in September. In Koninkrykstyd word die betekenis van die heilsgebeure vir die skepping en die lewe deurdink.
Die kerk se diensbaarheid aan die koms van die koninkryk van die hemele word onder die soeklig van die evangelie geplaas. Dit is die seisoen van leer en onderskeiding, van introspeksie en planne bedink. Dit is ’n seisoen vir handevat, saamwerk en ekumene. Dit is die tyd van grense oorsteek, gemaksones verlaat, die Gees vertrou, waagmoed aan die dag lê, so teen die agtergrond van die kruis en opstanding. Dit is ’n tyd van aksie neem, die buurman aan die hand te vat, die arme te versorg, die siekes te vertroos, die werkloses te help met opleiding, die gebrokene se las op jou neem, die vreemdes te ontmoet, die dakloses droog te hou en die huisloses warm te hou met komberse en hoop.
Dit is ’n tyd om die gemeenskapsleiers en stadsrade te ontmoet om saam ’n ontwikkelingsplan vir die mense te bedink. Dit is ’n tyd om die volhoubaarheid van die aarde te bedink en te bevorder. Dit is die tyd vir ekumeniese kanselruilings. Dit is ’n tyd vir sosialisering met die breë gemeenskap en netwerke bou. Dit is insluittyd, naderroeptyd, innovasietyd. Dit is ’n tyd vir uitreik, gasvryheid, verkondiging, evangelie bring, liefde gee, genade betoon. Dit is ’n tyd vir hande vuilmaak en handel met hoop. Dit is opstaantyd, transformasietyd, aanbeweegtyd.  
Koninkrykstyd volg op Pinkstertyd. Anders sou niks van hierdie Koninkrykstyd se inhoud moontlik wees nie. Dis die tyd waarin die appél wat die evangelie gemaak het sy vrug lewer, waarin die liefde blom, waarin die oes ingebring word. Dit is ’n tyd van viering, doksologie, lofprysing en verkondiging. Christus is die Here  en hierdie Koninkrykstyd is sy tyd vir wonderwerke. Hou dus maar hierdie spasie dop."
Getuienis in aksie
Tannie Koba Kotze van die Strand het onlangs 99 jaar oud geword en dit was haar droom om voor haar verjaarsdag 'n spesiale fondsinsamelingsteiken te bereik. Tannie Koba lei al vir die afgelope 12 jaar die Bybelstudiegroep by Ametis-aftreeoord. Hulle samel weekliks geld in vir die Sinethemba versorgingsoord vir gestremde kinders in die Oos-Kaap. Tannie Koba kon daarin slaag om haar mikpunt van R200 000 met haar verjaarsdag op 24 Mei verby te steek. Haar belangstelling in sendingwerk kom reeds van haar kinderjare in Tulbagh en sy het na die geboorte van elk van haar vier kinders spesiale sendingprojekte aangepak.
Daniël de Wet (regs agter), taakspanbestuurder van Getuienisaksie se Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, het vir tannie Koba met die spesiale mylpaal gelukgewens. "Tannie gee hoop vir my, vir ons. In die kerk praat ons baie van dissipelskap, gehoorsame navolging van Jesus en missionale roeping, maar dis 'n voorreg om iemand se storie te hoor wat dit werklik lewenslank uitleef."
Sulet Brümmer (links agter), proponent by NG Kerk Suider-Strand, deel die opwinding aangesien hulle gemeente ook reeds vir jare by die Sinethemba versorgingsoord betrokke is en gereeld uitreike daar doen. Kyk gerus hier na tannie Koba se inspirerende verhaal.
Dis vakansie!
Teen hierdie tyd van die jaar is die meeste van ons gereed om net ’n bietjie van ons besige busse af te klim en salige vakansiedae te kan geniet – en om weer ons batterye te herlaai. So, as jy nog nie so ver gekom het om ’n plan te maak nie, het ons net die antwoord vir jou – en boonop is dit bekostigbare verblyf digby die see. Lees gerus meer oor Getuienisaksie se Zikomo-woonstelle in die Strand en maak seker jy kry nog plek. Lees gerus hier meer daaroor.
COVID-regulasies opgehef
817 dae nadat die regering COVID-19-inperkings ingestel het, het minister van gesondheid Joe Phaahla gisteraand die laaste regulasies opgehef. Die opskortings geld vir die dra van maskers binneshuis, beperking op saamtrekke en grensbeheer. Lees die kennisgewing hier en die uitgawe van die Staatskoerant van 4 Mei 2022 waarin die regulasies verskyn het.
Begin nou 'n tuin in jou gemeenskap!
Die Hoop en Versoening Trust wil graag voortgaan om gemeenskappe te help om gemeenskapstuine te begin met behulp van hulle #GROEI-projek Die trust poog om volhoubare voedselvoorsiening vir gemeenskappe moontlik te maak (ook finansieel) en sal alle moontlike ondersteuning gee. Al wat jy moet doen, is om die grond beskikbaar te stel (dit kan byvoorbeeld by ‘n kerk of skool wees) en 'n klein span toegewyde mense saam te kry wat die projek sal dryf. Hulle doen die res!   
Vir meer inligting kontak vir Braam Hanekom by braam@kaapkerk.co.za. Klik hier vir volledige terugvoer van die #GROEI-projek se werksaamhede in 2021/22.  
EKOLOGIE
Plastiekvrye Julie
Fay van Eeden, predikant by NG Kerk Stellastraat in Pretoria vertel vir ons waarom dit belangrik is om Plastiekvrye Julie ernstig op te neem. Kyk na die video onder. Kyk ook gerus na 'n paar nuttige wenke oor hoe ons die gebruik van plastiek drasties kan verminder hier.  
NUUS UIT ONS RINGE
Wesland Verenigende Ring op retraite 
Die Wesland Verenigende Ring, wat volgende jaar hulle 20ste bestaansjaar gedenk, was onlangs saam op 'n retraite by Bridgetown kampterrein in Moorreesburg. Daar is, ondanks die gietende reën, heerlik saamgekuier en persoonlike stories gedeel, maar ook intense gesprekke gevoer. "Drs. Reggie Nel en Frederick Marais het ons bygestaan in 'n  strategiese gesprek waar ons die storie van vanwaar ons kom, kon herbesoek. Ons kon plot wie ons nou is asook die uitdagings vir ons eenheidspad vorentoe as gestuurde kerk bespreek."
Foto v.l.n.r.: Kobus de Kock (Langebaan), Konette van Rooyen (Vredenburg Akkerdyk), Kotze Olivier (Saldanha), Nico Cloete (Saldanha), Quentin Minnaar (Malmesbury), Johan van Rooyen (Vredenburg), André Botha (Darling), Jakes Barnard (Saldanha), Tiaan Pretorius (Saldanha), Thys du Toit (Vredenburg), Elize Stander (Velddrif), Kobus van Schalkwyk (Vredenburg) en Richard Holloway (St. Helenabaai).
PREDIKANTENUUS
Langebaan ontvang vir Santie
Ds. Santie Nel, tot onlangs leraar van Kimberley Harmonie, het ‘n beroep na Langebaan aan die Weskus aanvaar. Sy word DV op 3 Julie om 09:00 amptelik ontvang en bevestig. Saam met haar is haar gesin, Willem en drie dogters: Kara, Janke en Liané.
"Ons ontvang haar met die bede dat die Here se Naam groot gemaak sal word en dat die gemeente op hulle reis saam as God se eiendom geseën sal wees om ‘n seën vir ander te wees," vertel Kobus de Kock. 
Foto geneem deur DJ Muller.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Op besoek aan ons susterskerk in Mosambiek
Die verhoudinge wat ons met ons verskillende susterskerke in Afrika al sedert die 19de eeu handhaaf, bly vir Getuienisaksie van groot belang, aangesien ons almal SAAM geroep is tot DIENS en GETUIENIS in en vanuit Afrika. Dr. Daniël de Wet (Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika: VGK Streeksinode Kaapland, NG Kerk Wes-Kaapland en die RCA) was vanaf 31 Mei tot 6 Junie op besoek aan ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) op Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek. Lees meer van sy besoek hier.
Foto van links na regs: Ds. Graciano Daniel (moderator), ds. Samuel Bessitala (algemene sekretaris), d.r Daniël de Wet (Getuienisaksie) en ds. Isaias Fulechala Mazone. 
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Assistent-bestuurder, Kuilsrivier-Suid
Die gemeente van Kuilsrivier-Suid is op soek na ‘n geskikte persoon wat die dag-tot-dag aktiwiteite van hulle koffiewinkel Cup of Life kan bestuur. 
Die geskikte kandidaat sal opgelei word met die toerusting beskikbaar. Vorige ervaring in 'n soortgelyke posisie sal tot voordeel wees. Die kandidaat moet goeie kommunikasievaardighede hê, uitstekende kliëntediens kan toepas en beskikbaar wees om naweke, vakansiedae, vakansies en saans te kan werk, soos benodig. Verder is rekenaargeletterdheid noodsaaklik en aansoekers moet in besit wees van ‘n geldige rybewys. Die sluitingsdatum is Donderdag 30 Junie om 12:00. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie. Klik hier vir meer inligting. 
Voltydse leraar, Agter-Paarl
NG Kerk Agter-Paarl (geleë tussen Wellington en Paarl) stel hiermee die vakature van voltydse leraar by hulle gemeente bekend. Aansoekers word nie beperk tot Kerkorde Artikel 9 se pligstaat nie. Die gemeente nooi jou om op jou unieke wyse hulle verder te help om God se vreugde oor sy gemeente te vermeerder.
Die ideale kandidaat is iemand wat die plaaslike gemeente en gemeenskap eerste prioriteit maak en iemand met 'n goeie teologie wat dit entoesiasties en verstaanbaar kan vertaal vir die daaglikse uitdagings van die lidmate. Klik hier om die gemeente se profiel te lees. Aansoeke sluit 19 Julie om 12:00. Lees die volledige advertensie hier.   
Gemeenteleraar, Suider-Paarl
NG Kerk Suider-Paarl nooi predikante wat resoneer met die gemeente se belydenisverklaring en geroepe voel om hulle inligting voor te lê vir oorweging vir hierdie pos. Die ideale kandidaat word beskryf as iemand jonger as 45 wat die Here liefhet en ’n roeping het om in sy diens te staan en wat hom/haar gemaklik kan uitleef binne Suider-Paarl se gemeentekonteks.    
Aansoekers moet ’n gelegitimeerde van die NG Kerk wees met ’n gesonde waardering vir die gereformeerde tradisie. Kandidate moet Skrifgetrou en dinamies preek met 'n aanvoeling vir liturgie en aanbidding asook gemaklik wees daarmee om alle ouderdomme te bedien. Aansoeke sluit 29 Julie om 12:00. Lees die volledige advertensie op Kerkbode se webblad
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Reeks pamflette oor veerkragtige lewensritmes
In vennootskap met Whitehead Bedryfsielkundiges het Christelike Lektuurfonds ‘n reeks pamflette of kort informele leerinhoude saamgestel rondom die tema Veerkragtige Lewensritme. Dit is gratis aflaaibaar by https://clf.co.za/resilient-life-rhythm/
Ons leef in ontwrigtende, selfs traumatiese tye. Ons lewensritme is versteur. Ons sien dit in die toename van simptome van geestesongesteldheid by soveel mense. Angstigheid, depressie, woede, lae selfbeeldprobleme, vereensaming ensomeer. Hoe oriënteer ons onsself weer na ‘n tyd van disoriëntasie? Hoe kan ons weer veerkragtig terugbons na terugslae? Hoe kan ons weer ons normale lewensritme terugvind? Die leerinhoude kan met vrug deur individue gelees word, maar dien ook as stimulerende gespreksdokumente vir groepe. Daar word ook werkswinkels aangebied – doen gerus navrae by CLF 021 873 6964 of stuur ’n e-pos na info@clf.co.za.
Leesstof vir die winter
Dit is wintervakansie en wat is nou lekkerder as om met 'n nuwe boek warm toegewikkel in die bed of voor 'n kaggel te sit? Kerkbode het 'n paar nuwe boeke om jou belangstelling te prikkel. Die net is gebreek deur Chris van der Merwe sal jou bewus laat word van die net wat jou nog gevange hou en jou oortuig van die net wat gebreek is sodat jy tot God kan nader. Louise Viljoen benadruk in haar boek Gesinstyd met God dat tyd saam met God opwindend, spontaan, lekker en lewensveranderend kan wees. David Botanis bewys in sy nuwe boek The art of fairness dat jy nie 'n boelie hoef te wees om te slaag in die lewe nie.
Lees meer hier
ALGEMEEN
Raakgelees: Braaibroekies
'n Trots Suid-Afrikaanse maatskappy in Kaapstad het onlangs ‘n unieke kortbroek bekendgestel wat pasgemaak is vir ons nasie wat so lief is vir ‘n vleisie oor die kole. Die een in sy soort Braaibroekie sal verseker dat die persoon agter die braaitang nie meer ver hoef te soek vir ’n plek om sy/haar hande af te vee nie. Nou kan hulle sommer hul hande skuldvry aan hul broek afvee!  
Christian Action for Dependence
Christian Action for Dependence (CAD) offers aftercare services to individuals and families who need help with alcohol, drug or pill addiction. Their services are free. 
"Dependence on drugs can take years to develop or a person can be immediately dependent. To discontinue substance use can take a second or a few weeks or months of treatment. For some, it takes years to finally quit drugs. However, the real test is whether the dependant can be happy without drugs for the rest of his or her life. Aftercare and support are the focus of the CAD. Our own experience has shown that it is very difficult to stay sober and happy without aftercare and support." Click here for an informative video and follow them on Facebook.   
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Koninkrykstyd daag ons almal uit om Christus te volg op ’n daaglikse reis van onderskeiding.  Luister gerus hier na Ons is almal hier tesaam deur Onbeskaamd.
"Mag ons dus met vrymoedigheid (en waagmoed) soek waar die Here ons wil gebruik. Mag ons die weg van geregtigheid stap en aanhou soek, al sê die wêreld ons moet liewer omdraai. Mag ons getrou bly aan ons verhouding met God en mag ons toenemend onderskei wat dit beteken om die Here in ons lewe te volg." (Woord en Fees).
Ons wens al ons lesers 'n rustige wintervakansie toe. Mag julle veilig reis en tuiskom. Die volgende uitgawe van VrydagNuus verskyn op 22 Julie.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.