Lees deur internet, klik hier >>
21 Augustus 2015
Beste Leser
Ons is van die Here afhanklik.
Hy help en beskerm ons.
Omdat ons op Hom vertrou, maak Hy ons lewe vol met blydskap.
Hy is totaal anders as mense.
Ons vra dat U ons altyd sal liefhê, Here.
Ons kyk elke dag op na U. (Ps 33:20-22 - Die Boodskap)

SINODENUUS
1. NG Algemene Sinode: Lidmaatbemagtiging
Is julle al reg vir Nataniël, dr Brand Pretorius, dr Kobus Neethling en Leandie du Randt in julle gemeenskap? Volgende week gee Lidmaatbemagtiging al die inligting hoe die DVD’s bestel kan word betyds vir TOERUSTINGNAWEEK met hoë IMPAK (11-13 September). Vir meer navrae kontak Jannie le Roux by  jgleroux@isales.co.za of 072 127 5043. En ... sommer vir 'n voorsmakie: onthou jy nog dié een?
Nataniel oor lidmaatbemagtiging
HVT-logo
2. Hoop en Versoening Trust
Die Hoop en Versoening Trust (HVT) se nuwe logo is verlede week tydens hulle trusteevergadering bekendgestel. Die trust vorder fluks  met 'n tiental projekte wat vanjaar befonds word. Ons dink bv aan die Versoeningsprojek op Worcester waaroor verlede week berig is, die opgradering van sewe crèches, 'n kamp vir plaaswerkers en befondsing van die Amazing Brainz-projek wat die kognitiewe ontwikkeling van agtergeblewe kinders stimuleer. 'n Hele paar opwindende projekte is ook in die pyplyn.
As jy by die trust betrokke wil raak, kan jy gerus met Salomi by spg@kaapkerk.co.za skakel. Die trust wil graag vir mense die geleentheid skep om uit dankbaarheid 'n konkrete verskil in Suid-Afrika te maak. Terwyl daar stemme is wat opgaan dat dinge hooploos en verby 'n omdraaipunt beweeg het, sê ons: Nee, daar is altyd hoop. Ons wil hierdie hoop op 'n tasbare wyse deel en 'n verskil maak.
3. Dertig Jaar Diens vir Alta Vrey!
Die NG Kerk Argief het ’n sertifikaat vir 30 jaar ononderbroke diens in die NG Kerk aan Alta Vrey, senior argivaris by die Argief, oorhandig. Dit het gepaardgegaan met ’n geselligheid wat bygewoon is deur die Sinodale Taakspan, die personeel van die Argief en Alta se eggenoot Gert.
Dr Ben du Toit (PSD) het Alta geloof vir haar onvermoeide ywer oor dertig jaar in diens van die kerk waarvan die laaste elf jaar by die Argief was. Voorheen was sy in diens van die Algemene Sinode en die NG Kerk Transvaal. Baie geluk aan Alta met hierdie baie besondere prestasie!
Ben, Alta en Gert Alta Vrey
4. NG Wes-en-Suid-Kaap Vergaderings
4.1 Moderamen  
   

Dink asseblief aan die lede van die moderamen wat volgende week (25 en 26 Augustus) by die NG Gemeente Stellenberg vergader.
Voorbidding vir hierdie vergadering word gevra en inligting oor van die belangrikste sake op die agenda is aangeheg. Meer oor die samestelling van die moderamen is hier beskikbaar.

4.2 Ringsleierforum

Die voorsitters van ons 25 ringe vergader op Maandag 24 Augustus van 14:00 tot 18:00 by die NG Gemeente Stellenberg. Hulle ontmoet die dag voor die moderamenvergadering om gedagtes te wissel oor praktiese gemeentelike sake. Die gesprek word deur Quintus Heine, Nelis Janse van Rensburg ea gefasiliteer. Sterkte toegewens!
5. Uit die Jeugkantoor: Matriekfees 2015!
Kry die inskrywingsvorm hier en lees onder meer.
Matriekfees
Alan Culpepper
Jean-Pierre Wils
ALGEMEEN
1. Nuwe Testament en Bio-etiek: Dagkonferensie
Die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch is bevoorreg om ʼn dag-konferensie aan te bied op Woensdag 26 Augustus met twee kundiges in die veld van die Nuwe Testament en Bio-Etiek: dr Alan Culpepper (Nuwe-Testamentikus aan die McAfee Teologiese Skool, Mercer Universiteit in Atlanta, VSA) en prof Jean-Pierre Wils (professor in Etiek en 'n bio-etikus van Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland). 
Bywoning van die konferensie is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. RSVP by Helette, hvdwest@sun.ac.za of 021 808 9560 voor of op Mandag 24 Augustus. Lees meer en kry die program hier.  
2. Kursus in Pastorale Sorg
Van Koos van der Vyver (Armoede en Sorg-PSD) ontvang ons inligting oor 'n kursus in pastorale sorg wat van 17-19 September deur HospiVisie by die Groote Schuur Hospitaal aangebied word. VBO-punte kan verdien word. Lees gerus hier meer ... 
VGKSA-logo
3. VGKSA Ring van Sarepta Vergader
Alle gemeentes van die Ring van Sarepta moet asseblief kennis neem van die agtiende vergadering van die Ring. Dit vind plaas vanaf 08:45 tot 20:30 op 9-12 September by die VGKSA Gemeente Macassar. (Soekmekaarstraat 20, Macassar). Kontak dr Charles Flaendorp (leraar) by 082 440 0257 of ds Alistaire de Klerk (ringskriba) by 084 222 3070 met navrae.
4. Hannes op Overberg Pelgrimstap van Hoop
Lekker nuus uit die Communitas-kantoor: Hannes Theron (Helderberg) stap as deel van sy 60ste verjaarsdag tans die Overberg Pelgrimstap van Hoop. Hy gee elke dag terugvoer oor hulle vordering en deel mooi foto’s op die Pelgrimstog se Facebookblad. Hannes-hulle is die derde groep wat die Pelgrimstap vanjaar stap.  
Handleidings kos R120 en word gereeld aan belangstellendes gekoerier en gepos. Bestel by pelgrim@sun.ac.za. Die volle roete strek van Robertson tot Agulhas en kan in 14 dae gestap word, maar stappers is welkom om êrens ook ‘n rusdag te neem of om eers net ‘n gedeelte van die roete te stap. Dankie, Adrienne!
Een woord
5. EEN woord vir ... God?
Vroeër vanjaar het die Huffington Post besluit op 'n klein eksperiment. Hulle het hulle lesers gevra om te doen wat die mens oor eeue reeds probeer regkry ... om God te definieer. Die vangplek? Hulle het slegs één woord gehad om dit mee te doen!
Belangstellendes kan hier klik om meer te lees en selfs 'n PP-aanbieding oor die gewildste woorde kyk. (Met erkenning aan die Huffington Post op Twitter. Volg ons sinode gerus op Twitter by @WSKaap.)
PREDIKANTENUUS
1. NG Gemeente Gansbaai groet Bobo van Zyl
Bobo van Zyl, sedert 1997 predikant in Gansbaai, het op Sondag 16 Augustus sy afskeidspreek in die gemeente gelewer. Sy kollega, Willie Kotze, het die akte van demissie namens die Ring van Caledon aan hom oorhandig.
Uit die reaksie op ons berig hieroor op Facebook is dit duidelik van watter stoffasie Bobo gemaak is. Hy word beskryf as "goeie prediker", "gemeente strateeg", "iemand wat ander se pyn dra" en 'n besondere liefde en deernis vir randfigure het.
Bobo en Mickey gaan hulle in Lambertsbaai vestig. Hy hoop op 'n paar jaar se goeie gesondheid om 'n bietjie te skryf, vir sy kinders te gaan kuier en lekker dinge saam met Mickey te doen. Ons gun julle dit beslis! Seën toegebid.
Bobo van Zyl en gesin
Jaco, Mickey, Bobo en Jasper van Zyl
2. Predikante Stokperdjies en Belangstellings ...
Ons sinode se predikante is 'n interessante en talentvolle groep mense! Onder hulle is daar kranige houtwerkers, kunstenaars, sangers, skilders en vele meer. 
Wie weet dat ons predikante selfs hulle deel in rugbykringe doen! Eric Bernardo, betrokke by Seniorbediening by NG Wellington, is 'n man wat self skeidsregter was en deesdae help om skeidsregters te evalueer. Het hy raad vir Heyneke Meyer, dís die eintlike vraag ...
Eric Bernardo gesels
3. Uitnodiging: Vertel van JOU Predikant se Vaardighede
Dis lekker om te hoor watter begaafde klomp ons predikante is ... sommige bronne wil beslis anoniem bly en kan dit nie eens waag om 'n foto te stuur nie ... Die uitnodiging is steeds oop: laat weet van jou predikant se stokperdjie of talente. Jy mág anoniem bly!
Drie of vier sinne as agtergrond en 'n (selfoon) video van niks meer as drie minute nie ... (of dan 'n foto as dit regtig nie anders kan nie), dis al wat nodig is! Kontak Marieta by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief
Hierdie week is Bybel-Media se fokus op die jongste Kerkbode, die September-uitgawe van LiG en twee Bybelkor-publikasies. Lees hier ...
LiG September 2015 Kerkbode 21 Augustus 2015
1.1 In LiG: Roucher en Elizabeth Jubel!
Een van die kwaliteit artikels in LiG se September-uitgawe vertel van die Groote Kerk se welbekende Roucher du Toit en sy sopraan-dogter, Elizabeth Catharina. "Tot God se eer," sê hulle. "En om aan ons medemens iets terug te gee." Dit is hierdie begaafde pa en dogter se motivering om jubelende musiek te maak. Hier is die volledige artikel, met groot dank aan LiG. Onthou: LiG bied leesstof vir jou en jou mense. Teken gerus in vir leesstof wat verryk en geïnspireer - klik hier. (Foto met erkenning aan LiG)
1.2 In Kerkbode raakgelees ... Christus se Liefde is Lekkerder as rugby
Die Kerkbode van 21 Augustus berig oa oor jongmense oor wie die kerk opgewonde kan wees, Jongmense soos Gerhard en Mignon Duvenhage (foto), betrokke by Jabulani Africa Ministries (JAM). Gerhard is Why Duvenhage van NG Stellenberg se seun en JAM is 'n interkerklike inisiatief vir die ontwikkeling van die jeug. Meer oor hulle werk is by www.jamafrica.co.za.
Teken nou in op Kerkbode om meer te lees! Die eerste vyf nuwe intekenare ontvang Die inspirerende inkleurboek vir grootmense met komplimente van Lux Verbi. Skakel Jeanne Human by 021 864 8252 of klik hier.
NG Velddrif
KUIER-KANS
1. NG Gemeente Velddrif: Basaar

Velddrif se basaar is op Saterdag 5 September in hul kerksaal.  ‘n “Vat-en-Loop”-ontbyt, pannekoek en poeding sal reeds van vroeg af beskikbaar wees.  Vanaf 09:00 kan almal heerlik kuier rondom al die stalletjies. Gaan geniet boereworsrolle, hamburgers, roosterkoek, melkkos, kerrie-en-rys, afvalpotjie, vis, biltong en droëwors en meer! 'n Marktafel sorg vir  interessante items, terwyl belangstellendes kan bie op handgemaakte opveilitems, 'n lewendige skaap of twee en nog wat.  Speletjies, 'n kindertafel en meer! Navrae: Linda 022 783 0005 of 082 738 3454.
Gretha Wiid Vroueoggend Vrouekonferensie
4. NG Vandermerwe, Bonnievale: 4X4 weer!
Alle 4X4 liefhebbers wat ‘n avontuurlustige Sondagoggend saam met hul gesinne en/of vriende in die natuur wil deurbring, word uitgenooi om op So 30 Augustus aan NG Vandermerwe se 4X4-dag deel te neem. Die roete van omtrent 30 km word spesiaal eenmalig oopgestel. 
Dit kronkel al langs die voetheuwels van die Langeberge, met asemrowende uitsigte. Lees hier verder ... Die foto's onder vertel self 'n verhaal wat alle 4X4-entoesiaste sal verstaan ...
NG Bonnievale 4X4 NG Bonnievale 4X4 NG Bonnievale 4X4
NG Bellville-Oos
5. NG Bellville-Oos: Basaar
Bellvilliete kan uitsien na 'n lekker basaar wanneer Bellville-Oos (Park- en Constablestraat, De La Haye) op 4 September om 17:30 heerlik kuier! Die tema vanjaar is "Disse Lekker Ou Kaap". Teen slegs R45.00 kan ‘n heerlike ete van Kaaps-Maleise hoender, geelrys met rosyne, Weskus patatrol en geroosterde Kaapse groente oa vooraf bestel word. Al die tradisionele lekkernye is daar!. 
Kontak die kerkkantoor soggens van 9 tot 12, Dinsdae tot Vrydae, om kaartjies te bespreek: 021 948 5785. Gaan kuier gerus saam!
6. Sinode vier Groote Kerk se 350 Jaar
Só lyk Wes-en-Suid-Kaap Sinode se gelukwensing aan die Groote Kerk, wat tans midde-in hulle verjaardagvieringe is ...
Mag elkeen wat oor jare help bou het aan hierdie liefdesgemeenskap deur die Here se troue sorg bemoedig word.
Klik op die gelukwensing vir die groter weergawe. (Onthou gerus van die uitvoering van GF Handel se Messias, wat op 29 Augustus deel van die vieringe uitmaak. Die gemeente se volledige feesprogram is hier op hulle webblad te kry.)
(Sien ook LiG se artikel oor Roucher du Toit hierbo.)

VGKSA-logo
VAKATURES
1. VGKSA Darling: Voltydse Leraar

VGK Darling is in ’n plattelandse gemeente  met 1 694 belydende en 754 dooplidmate. Hier is tans 'n vakature vir 'n voltydse leraar en meer oor die gemeente- en leraarsprofiel is aangeheg. Reageer voor 30 September - klik hier.
Armoede en Sorg-logo
2. NG Kerk in SA: Armoede en Sorg Sekretaresse
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode Wes-en-Suid-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature by die Diensgroep Armoede en Sorg in Bellville. Die aangewese kandidaat sal verantwoordelik wees vir sekretariële ondersteuning en administratiewe pligte. Meer is aangeheg. Reageer voor 4 September.
Bellville-Uitsig-logo
3. NG Gemeente Bellville-Uitsig: Musiekkoördineerder
Uitsig Gemeente beskik oor 'n vakature vir 'n musiekkoördineerder van die aanbiddingsgroep (band) van die gemeente. Dit is 'n deeltydse pos, wat die verantwoordelikheid vir 24 eredienste per jaar, asook sekere spesiale geleenthede, behels.
Die minimum vereistes vir die pos: Formele musiekkwalifikasie, ten minste twee jaar kerk-“band” ondervinding en moet 'n instrument kan bespeel en bladmusiek lees. Vergoeding is onderhandelbaar. Navrae kan gerig word en aansoeke kan gestuur word na die kerkkantoor. Kontakpersoon: Amanda, 021 919 6044 of admin@uitsigkerk.co.za. 'n Volledige posbeskrywing is op aanvraag beskikbaar. Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Augustus 2015.
NG Vasco
4. NG Gemeente Vasco: Skriba/Kassier
Die NG Gemeente Vasco in Goodwood het 'n vakature vir 'n skriba/kassier. Lees aangeheg meer oor die vereistes en reageer voor die sluitingsdatum van 28 Augustus.
Cecile Cilliers
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Cecile Cilliers

Hoe dringend word die nood aan stilte soos mens ouer word. En hoe bewus word ou ore van die lawaai waardeur ons gedurig omring word. Dit is asof stilte 'n gevaar inhou, asof die self tot niet sal gaan sonder die deurlopende troos van geraas: omdat geroesemoes bestaan, bestaan ek. Sonder die teenwoordigheid van die radio, die televisie, die selfoon, hysbakmusiek, die kontak met ander deur Facebook, deur Twitter, deur die internet, is daar skynbaar geen eie lewe nie. 
Selfs tot in die kerk. Die gesellige onderlinge verkeer duur tot die eerste orrelnoot, vervat weer sodra die laaste Amen uitgespreek is. En selfs die predikante skyn nie van stilte te hou nie. 
'Kom ons word stil voor die Here,' word daar van die kansel gesê, en voordat daar stilte kom, begin die gebed!
Ons dien 'n stil God. Net in die stilte word sy stem gehoor.
Leer die ouderdom my.

Die internet verwys na Cecile Cilliers as "literêre kunstenaar, skrywer en vryskutjoernalis". Oor haarself skryf sy: "Ek woon in Vishoek, hier in die Kaap, lees baie, skryf as ek genooi word, speel brug, doen blokkiesraaisels, kook graag. Na so 'n lang en interessante lewe, is daar min woorde wat my nie beskryf nie! 'Geseënd' is die een wat ek die graagste gebruik." Inderdaad!

Sterkte aan elke leerder, onderwyser en ouer wat in die pylvak onderweg na die 2015 Matriekeindeksamen is ...

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.