Subscribe to our email list
 18 November 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. Badisa: Project Raven
5000 kospakkies vir Kerstyd

Wanneer die bevoorregte meerderheid van ons in die feestyd gedurende Desember lekker kuier, eet en geniet, en sommige van ons ons kinders oorlaai met geskenke, is daar gesinne wat honger ly en nie kan deel in die feestelikheid nie.
Om hierdie rede wil Badisa saam met interkerklike genootskappe 5000 gesinne langs die N1 vanaf Worcester tot by Colesberg voorsien van ‘n kospakkie ter waarde van R200 elk. Die inisiatief staan bekend as Project Raven, gebaseer op 1 Konings 17:6, waar die Here die kraaie beveel om die Profeet Elia te voed.
Gemeentes word vriendelik gevra om onderstaande kort video tydens eredienste te wys en inligting hieroor met lidmate te deel. Hier is meer inligting.
Project Raven
Sinode-logo Wes-Kaapland
2. NG Buitengewone Algemene Sinode
2.1 Uit die Moderatuur

Uit die Moderatuur, die Sinode van Wes-Kaapland se brief aan predikante en gemeentes, is op Vrydag 11 November aan predikante en gemeentes gestuur. Charl Stander, skriba, gee daarin perspektief op die besluit rakende selfdegeslag-verbintenisse wat verlede week by die NG Kerk se Algemene Sinode geneem is. Lees dit hier.
Gustav Claassen
2.2 Besluit rakende Selfdegeslagverbintenisse
Na afloop van die buitengewone sitting van die NG Algemene Sinode het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, op Vrydag 11 November 2016 die bewoording van die besluit rakende selfdegeslagverbintenisse, sowel as 'n pastorale brief aan predikante gestuur. Belangstellendes kan dit gerus lees. Verdere beriggewing en inligting oor die sinodesitting is die afgelope week deur e-Kerkbode versprei. Klik hier om dit te lees. 
3. Sentrum vir Predikantebegeleiding: Multidissiplinêre Begeleiding
By die Sentrum vir Predikantebegeleiding kry predikante eerlike terugvoer oor wie hulle is en veral oor hoe hulle dinge doen.  By Communitas op Stellenbosch is hierdie sentrum beplan en ontwerp sedert 2009. Gedurende September 2012 is die eerste begeleidingsentrum aangebied. Sedertdien is reeds meer as 100 predikante van die NG en VG kerke begelei. 
Let gerus op 2017 se datums: 14-16 Februarie(slegs twee plekke oop); 2-4 Mei; 22-24 Augustus en  24-26 Oktober. Klik hier om meer te lees en kontak Adrienne Bester vir meer inligting by bestera@sun.ac.za of 021 808 3382.
Sentrum Predikantebegeleiding
Vlnr: Theunis Botha, Jetro Cloete, Wouter van Velden, Andre Duvenhage, 
NJ van As, Marinus Theron, Johan Volgraaf, Nioma Venter,
Wilhelm Burger en Strydom Bruwer
4. Getuienisaksie
Nkhoma Hospitaal - uitstekende Gesondheidsorg

Dr Reynier ter Haar en sy span het vir die laaste drie jaar meer as 18,000 vroue vir servikskanker (die mees algemene kanker onder vroue) ondersoek, waarvan meer as 80% onmiddellik behandeling kon kry, indien nodig. Aangesien mediese sorg in Afrika dokters verg wat chirurgies meer vaardig as die gemiddelde huisdokter moet wees, bied dié hospitaal ook nou (in samewerking met die Universiteit van Malawi) ’n verdere vier-jaar ‘Family Medicine’-opleiding aan gekwalifiseerde dokters. Lees meer hier. Op die foto onder is dr Ter Haar en een van sy personeel besig met ‘n mediese ondersoek in die Nkhoma Hospitaal in Malawi.
Dr Ter Haar
5. Sentrum vir Publieke Getuienis
Met die hulp van 'n wonderlike skenking van Ceres Fruit Growers/Tru-Cape op Ceres kon daar op Saterdag 12 November aan meer as 1200 kinders appels in Khayelistha uitgedeel word. Dit het plaasgevind in die Mew Way-gemeenskapsentrum, waar die kinders 'n 12 weke-dissipelskapkursus deurloop het en appels, sertifikate en boeke ontvang het. 
Onder: op die foto links staan Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis by maatskaplike werker Phumeza Makili en regs is van die kinders wat sertifikate ontvang het.
Braam Hanekom en Phumeza Makili Die kinders
6. Vigstaakgroep: Wêreldvigsdag 1 Desember
Met die oog op Wêreldvigsdag, 1 Desember, wil CABSA en die Vigstaakgroep van die Diensgroep Diakonia gemeentes en predikante aanmoedig om rondom hierdie dag self ook aktiwiteite te ondersteun en te inisieer om gemeentes te bly herinner aan die dringendheid en belangrikheid om MIV en vigs steeds ernstig op te neem.
In 'n kort video gee ds Christo Greyling agtergrond oor die huidige situasie in Suid-Afrika en moedig gemeentes aan tot betrokkenheid. Christo leef reeds vir 29 jaar met MIV en het oor die jare 'n groot invloed gehad op baie Christene se verstaan van en betrokkenheid by die MIV-epidemie. 
Kry die video hier in Engels en hier in Afrikaans - en deel dit asb in jou gemeente.
Liturgiese riglyne vir eredienste op 27 November of 3 Desember kan hier afgelaai word in Afrikaans en ook in Engels
7. NG Kerk in Noord-Kaapland
Reformasie 500: Wit klippies vir die Onthou...

Op 27 Januarie 2016 het die NG Kerk in Noord-Kaapland 'n "partner"-boom in die Luthergarten by Lutherstadt-Wittenberg geplant as deel van die viering van die 500-jarige herdenking van die Reformasie in 2017.
Tydens die onlangse Noord-Kaapse sinodesitting is 'n partner-boom (Platanus Hispanicus) “simbolies” geplant. Al die afgevaardigdes van 82 gemeentes het aan die seremonie deelgeneem deur elk ’n wit klippie langs die boom te plaas. Dit is gedoen om die wit klippies te herdenk wat ds Gert Duursema en ds Hans-Wilhelm Kasch tydens ’n gedenkdiens op 27 Januarie 2016 by die Stadtkirche geplaas het – om die vrylating van Auschwitz-Birkenau 
in gedagtenis te roep.
Dié boom, mét die wit klippies, het intussen sy regte staanplek by die Noord-Kaapse sinodale sentrum gekry en die NG Kerk in Noord-Kaapland Sinode het aanbeveel dat elkeen van hulle gemeentes in 2017 ’n “partner-boom” plant. 
(Met dank oorgeneem uit Noord-Kaapland eNuus.)
Wit klippies word gelê Platanus Hispanicus
SAPS logo
8. Biddag vir Beskermingsdienste: So 20 November
Sondag 20 November is Biddag vir ons Beskermingsdienste. Dit sluit in ons polisie, verkeer, hospitaalpersoneel, brandweer, weermag, openbare beskermingsdienste, nooddienste en meer.
Gemeentes word gevra vir volgehoue voorbidding vir hierdie manne en vroue; in die besonder vir wysheid, kalmte bewaring en bystand tydens hulle dagtake. En hoe sal dit wees as elkeen van ons erns maak met wetsgehoorsaamheid en medemenslikheid ...
Johan Smit
ALGEMEEN
1. Innige Simpatie
Johan Smit (08.11.1943 - 11.11.2016)
Ons innige simpatie met die dood van Johan Smit, bekende skrywer van allerlei geestelike boeke en voorheen leraar in die NG gemeentes Wynberg, Bellville-Oos en Helderberg. Johan het in 2001 geëmeriteer en is oorlede na 'n stryd met kanker.
Hy word oorleef deur sy vrou, Nina (ook skywer in eie reg), drie kinders en kleinkinders. ’n Gedenkdiens vir hom is op Donderdag 17 November in die kerk by Helderberg deur Breda Ludik gelei. Lees ook NB-Uitgewers se huldeblyk hier.
Community
2. Sosiale Media:
Hoe dra jy Relevante inligting Geloofwaardig oor?

Op Woensdag 16 November het kommunikasiebeamptes van 'n paar voorstedelike gemeentes in en om Durbanville (en selfs so ver as Helderberg), asook van die Wes-Kaapland Sinode, ’n opleidingsessie oor die effektiewe gebruik van sosiale media bygewoon. Dit is aangebied deur Christian Vision, ’n internasionale organisasie wat in die 1980’s ontstaan het. Die aanbieders het veral gefokus op die effektiewe gebruik van Facebook, Twitter, Instagram en WhatsApp. Sosiale media om verhoudings te bou en waarde toe te voeg - en dis mos deel van kerkwees, gemeentewees. Getuienis.
Dankie aan Alida Vorster van NG Durbanville-Bergsig vir die reëlings.
Sosiale media opleiding
Hugenote Kollege-logo
3. Hugenote Kollege
3.1 Program vir Teologie en Bediening

Hugenote Kollege se waardes is gebaseer op drie pilare, nl gebed, roeping en diens. Hierdie drie pilare was sentraal tot dr Andrew Murray se teologie en is steeds vandag die grondslag waarop die kollege voortbou.
By Hugenote Kollege onderskei ons ons roeping om te dien in die wêreld deur die lees van die Bybel as Woord van God, gebed en gemeenskap met die Drie-enige God.  Om hierdie rede is al die Hugenote Kollege-kursusse ontwerp om studente te leer om die nodige vaardighede te ontwikkel om hulle roeping in hulle daaglikse lewe uit te leef. Vir inligting oor die kollege se Program vir Teologie en Bediening, klik hier. Besoek ook www.hugenote.com vir meer inligting.
Hugenote Kollege dosente
Hugenote Kollege se Program vir Teologie en Bediening-personeel:
Willie van der Merwe (Rektor), Ryk van Velden, Jacques Beukes, Jandre Viljoen en André du Toit
Andrew Murray
3.2 Hugenote Seminarie
143 jaar gelede, op 15 November 1873, het ds Andrew Murray (middel) vir mejj Anna Bliss (regs op die foto) en Abbie Park Ferguson (links) aan die Kaap verwelkom nadat hulle op 20 September uit New York vertrek het na "verre Afrika".
Saam met hom sou hulle meer as 40 jaar lank wonderlike werk ten bate van die dogters en vroue van Suid-Afrika verrig. Op 19 Januarie 1874 het mejj Bliss en Ferguson met hulle lewenstaak as onderwyseresse aan die Hugenote-seminarie op Wellington begin.
Hierdie seminarie was een van die voorlopers van die Hugenote Kollege.
Belangstellendes kan gerus meer oor hierdie geskiedenis in die Christelike Kernensiklopedie lees. Klik hier, met dank aan Bybel-Media.
4. Eerstejaarskamp Stellenbosch
Die uiters gewilde eerstejaarskamp van Kruiskerk (die ou Studente-kerk) op Stellenbosch vind weer van 15-18 Januarie 2017 plaas.  
Die kamp se getalle word beperk tot 400 eerstejaars (200 dames en 200 mans). Gaan dus direk na die webwerf om in te skryf en begin jou nuwe lewensfase op die regte plek. Omdat die kampterrein 'n beperkte aantal mense kan akkommodeer, moet gewerk word op die basis dat diegene wat eerste betaal, eerste plek kry.

5. NMMU Eerstejaarskamp: En route
Die NG Gemeente Somerstrand in Port Elizabeth bied  (saam met ander NG kerke) van 17 tot 20 Januarie 2017 'n studentekamp vir studente wat aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gaan studeer, aan by Sumcay kampterrein.
Die tradisionele “Eerstejaarskamp” sal van volgende jaar af ’n “Studentekamp” wees. Daar gaan steeds aspekte van ’n eerstejaarskamp wees, soos raad oor kampus en studentelewe, maar dit is meer uitgebrei vir alle studente. 
Die kamp se tema is “En route: The Road Less Travelled”. Meer inligting en inskrywings is by www.ngkerksomerstrand.co.za/studentekamp. Klik ook op die video onder.
En route Studentekamp
Huis Izak van Tonder logo
6. Badisa: Huis Izak van Tonder
Badisa se Huis Izak van Tonder in Ladismith is 'n bekostigbare tehuis vir bejaardes in 'n veilige omgewing en lewer 'n uitstekende diens. Hier is tans plek beskikbaar:
♦ Woonstelle/kamers vir onafhanklike persone - met dienste soos benodig
♦ Kamers vir diegene wat ondersteuning benodig - met sekere dienste
♦ Siekeboeg met volledige dienste
Kontak gerus vir Francois Nel by 028 551 1075 of bestuurivt@telkomsa.net vir persoonlike aandag of skryf aan hom: Posbus 150, Ladismith, Wes-Kaap 6655.
Kerskrans
7. Wat is Advent?
Advent, wat vier Sondae voor Kersfees begin, is 'n tyd van verwagting en voorbereiding op die koms van Christus. Die woord Advent beteken ook letterlik "koms".
As Christene vier ons die Adventstyd met die wete dat Christus gekruisig is en opgestaan het. Vir ons is Advent 'n tyd vir terugkyk na Israel se verwagting van die Messias, én ook ‘n vooruit kyk na die wederkoms. 
Lees gerus hier verder – en beplan solank hoe jy iets van dié verwagting in jou huis of werkplek gestalte kan gee. Oorweeg gerus ook SAFCEI se Adventkalender en ander inligting - klik hier. (Met dank uit SAFCEI se nuusbrief oorgeneem.)
SAFCEI-logo
Brene Brown
8. Raakgelees
8.1 Finding connection

Brené Brown is 'n Amerikaanse skrywer en spreker wat tans navorsingsprofessor aan die University of Houston Graduate College of Social Work is. Na afloop van die verrassende uitslag van die VSA-presidentsverkiesing, het sy soos volg op haar Facebook daaroor kommentaar gelewer.
"Today is about finding connection with the people who share our joy, relief, and optimism, OR our grief, rage, and heartbreak. In the midst of such division, we desperately need to know we’re not alone and that we will continue to fight together for what we believe in. However, if this democracy is going to work, tomorrow or the next day must be about finding the strength and courage to turn toward the friends, family, and strangers who do not share our beliefs and emotions about this election outcome." 
Dalk is jy ook by so 'n punt waar jy verdeeldheid beleef en dit die moeite werd mag wees om te bly soek vir 'n konneksie met mense ... dan kan jy hier verder lees.
8.2 Nuwe geleenthede, nuwe Hoop
Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge is ’n gerekende organisasie wat hulle bevindinge op deeglike navorsing grond. Hoewel almal nie noodwendig met alles in hierdie artikel saamstem nie, word dit deurgegee as basis vir kreatiewe nadenke oor ons land en die situasie waarin ons as gelowiges ’n getuienis moet lewer. En hier waar ons die einde van die jaar in sig het, bied dit dalk nuwe perspektief en hoop. (Illustrasie met dank aan Businesstech.)

9. Vir Gemeentes se Beplanning
Maak asb ’n nota daarvan dat daar slegs twee uitgawes van VrydagNuus vir 2016 oor is – dié van 25 November en die laaste uitgawe op 2 Desember. Die skole open op 11 Januarie – die eerste uitgawe van VrydagNuus is gevolglik dié van 13 Januarie 2017.
Waar moontlik help die sinode graag as bykomende diens met die bekendmaking van gemeentes se nuus en inligting deur
Facebook en Twitter.
GEMEENTENUUS
1. VGK Gemeente Zoar 1817 - 2017

Jimmy Frans van die VGK Gemeente Zoar skryf soos volg: "In die VGK Zoar gemeente is daar groot opgewondenheid en afwagting, want in 2017 vier die gemeente haar tweehonderdjarige bestaan. Ons kan en wil hierdie genade van die Here nie alleen vier nie, want voor ons het ander in die gemeente gearbei.
Ons nooi dus alle oud-leraars, emeriti wat in die gemeente werksaam was, asook oud-gemeentelede om dit saam met ons te vier. Ons beplan verskeie geleenthede. Ons wil daarom vra dat julle ons sal kontak by 028 551 1302 (kantoor), of 073 182 3709 (Jimmy Frans) na 7 Desember 2016. Seënwense met die projek!
Zoar feeskomitee
Die feeskomitee vlnr is Boy Appels, Angeline Galant, Joney Herandien, Bonita Klink, Philip Antonie, Betsie Antonie. Agter- Andrè Tobias
Lisa vou koeverte
2. NG Stellenberg en Huis Horison span saam vir Eko-slim koeverte
Die bewaring van ons omgewing is vir vele gemeentes deel van hulle getuienis en ’n fokus in hulle bedrywighede.
Vir hulle jaarlikse tiendemaandinsame-ling het die NG Gemeente Stellenberg vanjaar die kreatiewe dienste van Huis Horison ingespan en tiendemaand-koeverte uit herwonne ou tydskrifpapier laat maak. Inwoners van Huis Horison het hard gewerk om 2500 koeverte te vou en betyds gereed te hê. Op die foto is Lisa Labuschagne, een van die inwoners, juis besig hiermee.
Gemeentes wat ander eko-vriendelike wenke het, is welkom om ons daarvan te laat weet by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
3. NG Toringkerk: Koor- en Orrelfees
Op Sondag 27 November van 09:30 tot 10:30 hou NG Toringkerk 'n baie spesiale oggenddiens om hulle nuut-gedienste orrel van 109 jaar, in te seën. Die altyd gewilde Libertaskoor, olv Johan de Villiers, tree op en gaan die Kersfeeswerke uit die Messias van GF Handel uitvoer. Zorada Temmingh sal die koor begelei en ook vooraf (vanaf 09:00) werke op die orrel speel om dit na sy groot diens feestelik te vier en in te wy. Diegene wat nie Zorada se voorspel wil misloop nie, moet sorg dat hulle reeds 09:00 daar is - daar is gewoonlik nie plek vir 'n muis nie.
NG Toringkerk Koor-en Orrelfees
NG De Rust Kerssangdiens
NG De Rust - Kerssangdiens 27 November 19:00
Kinders met ballonne
5. Lang tafel van Vrede
Badisa se verskeie ander rolspelers het 'n brug tussen die twee gemeenskappe van Melkhoutfontein en Stilbaai, 10 km uit mekaar, begin bou. Tot hulle uiteindelik besluit het dat dit nie by droom kan bly nie - toe dek hulle 'n lang tafel waar 1200 mense kon sit.
En vanjaar, op 24 November 2016, hou hulle die tweede van hierdie soort langtafelfeeste. Lees gerus hoe Annalise Wiid in e-Kerkbode hieroor - en oor heliumballonne as simbool van vrede - berig. (Met dank en erkenning oorgeneem.)
6. Versoek: Vakansie eredienste en Kersdienste
Ons gemeentes in die sg vakansie- of kusdorpe kan gerus oorweeg om inligting oor hulle eredienste in die vakansietyd (en veral op Kersdag, Sondag 25 Desember) te stuur vir bekendmaking op die sinode se webwerf en sosiale media. Waar hierdie inligting reeds op gemeentes se webwerf aangedui word, kan daardie skakel of grafika ook gestuur word na kommunikasie@kaapkerk.co.za.
So help ons vakansiegangers om in te skakel en deel van ons Christus-vieringe te wees. Dankie vir skribas en kommunikasiebeamptes se aandag hieraan.
Eredienste
PREDIKANTENUUS
1. Janine Williams: Musiek gee Hoop!

Ds Janine Williams, predikant van VGK Sarepta in Kuilsrivier, asook projekbestuurder van die Sarepta Musiekskool, vertel meer van hierdie besondere skool en wat dit vir die gemeenskap, gemeente en haarself beteken. Te midde van bendegeweld en dwelms, is 'n hoopverhaal soos hierdie broodnodig. Sien onder.
Janine Williams
2. Kowie Smith - Steunpilaar
"'n Steunpilaar van die NG gemeente St. Stephen’s in Kaapstad wat meegewerk het om die historiese slawekerk op Riebeeckplein te restoureer," so beskryf Netwerk24 die rol en bydrae van ds JJ Visser (Kowie) Smith (70), wat op 10 November in die Wynberg-militêre hospitaal aan maagkanker oorlede is. Smith, ’n sendingleraar van die NG Kerk, het hom in 2007 as gemeenteleraar by St. Stephen’s aangesluit.  Lees hier meer oor sy loopbaan in die bediening.
Belangstellendes kan gerus die artikel, geskryf deur die bekende Marthinus van Bart, hier lees. ’n Begrafnisdiens het op Dinsdag 15 November vanuit die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaasgevind. Foto met erkenning aan Marthinus van Bart.
Ds Kowie Smith en David Lakay
Ds Kowie Smith en David Lakay, kerkraadslid van St Stephen's
'n Dors skilpad geniet die water
EKOLOGIE
1. Welkome Reënval in Kruger
Beeldmateriaal van besoekers aan die Kruger Nasionale Park wys hoe die diere hulle verlustig in die welkome reën wat sedert Maandagoggend geval het – en broodnodige verligting in die voortslepende droogte gebring het. Klik hier as jy ’n paar "goed-voel" foto's wil sien en met 'n video wil deel in die olifante se genot in die vallende reën.
Dankie aan elkeen wat steeds voorbidding doen vir diegene wat deur die droogte geraak word. Baie reën is oor ’n lang tydperk nodig om die ondergrondse watertafel te lig, weivelde te herstel en damme en riviere beduidend te vul, aldus ’n berig van Susan Cilliers op Netwerk24 (lees hier).
Foto's met erkenning aan Kruger Nasionale Park se Facebook-blad.
  
Water is lewe
2. Spaar Water
Almal is deeglik bewus van die Vlak 3-waterbeperkings wat sedert 1 Nov deur Stad Kaapstad ingestel is. Terwyl dit moeilik is om te aanskou hoe grasperke en tuine swaakry onder hierdie streng maatreëls, is dit broodnodig.
Hier is 'n paar wenke hoe daar in en om die huis verder water bespaar kan word:

ο  Kook net soveel water soos wat nodig is.
ο  Was dadelik jou skottelgoed, veral potte, voordat die kosreste daarin hard word en met water saggemaak moet word.
ο  Ontvries jou vleis oornag pleks daarvan om water (of selfs die mikrogolfoond) te gebruik vir dié doel.
ο  
Hou ’n bottel drinkwater in die yskas sodat jy nie die kraan hoef te laat loop terwyl jy vir koue water wag nie.

ο  Hou ’n leë waterbottel by die wasbak om koue water op te vang terwyl jy wag dat dit warm word om skottelgoed te was.  
Avo's vir Lewe
3. Super Avo's vir Lewe!
Op 26 Augustus vanjaar was dit die amptelike Avo-plantdag van die NG Gemeente George-Suid se Barmhartigheidsaksie. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het namens die Hoop en Versoening Trust 200 avokadopeerboompies aan die opwindende projek geskenk. Sedertdien is die 200 boompies oral in George geplant – op die persele van Bethesda, die Harry Comay Hospitaal, die VGK Thembalethu, Badisa, die munisipaliteit op George en by Mavis Mbashe se crèche in Thembalethu! Verlede week het Floors Meyer, bestuurder van die projek, opgewonde laat weet dat al 200  van die boompies nou geplant is en fluks groei! 
Lees meer hier op Avo's vir Lewe se Facebook-blad, asook 'n artikel in die jongste Getuie/Witness.
Hibriede motor
4. Hibriede motors kort daai WROOEEMMM
Vervaardigers van hibriede en elektriese motors in die VSA het tot 2019 kans om hulle motors te laat "wrooeeemm" sodat alle voetgangers, veral diegene met 'n gesiggebrek, die voertuie duidelik kan hoor. In vergelyking met petrol en dieselmotors, is elektriese motors bykans geluidloos. Nou moet 'n wroem in die motors geïnstalleer word ... Sien hier (met dank aan Wheels24)
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief 
Dié week is die fokus op die jongste Kerkbode en ‘n besondere Bybelkor-publikasie (Kleurmeditasies vir Kerstyd), met sketse deur Nico Simpson en geloofsgedagtes deur Lisel Joubert.

Kerkbode berig oor die pas afgelope buitengewone Algemene Sinode.

Lees ook …

oor Jesus en die Griekse woord "splagnitsomai", oor Stilbaai se lang tafel van vrede, oor 'n wonderlike verhaal van grense oorsteek en versoening in die Blouwaterbaai familiekerk net buite Port Elizabeth, oor 'n waarderende en verrykende manier waarop dominees geëvalueer word en oor Jaco Strydom, die stigter van Echo-jeugontwikkeling.

Sias Meyer skryf ook oor 'n moderne geloof en biddae vir reën, en Tielman Roux oor die "onheilige" pad van Jesus. Lees hier meer in die jongste nuusbrief.
Kerbode 18 Nov Kleurmeditasies vir Kerstyd
PUBLIKASIES
1. CLF: Christus sentraal in die Kersgety

“In teenstelling met die dolle gejaag na wêreldse glinster en plesier, is Advent ʼn stiller seisoen van nadenke waar ons moet stilstaan by die diep verlange na God en die wederkoms van Christus. Die eerste Sondag in Advent staan bekend as die Sondag van Hoop en word opgevolg deur die Sondag van Vrede, Vreugde en Liefde.”
So skryf ons vriende by Christelike Lektuurfonds (CLF). 
CLF se leesstof kan bydra om Christus weer sentraal in hierdie Kersgety te plaas. Lees gerus hier.
Elders in hierdie uitgawe is meer inligting oor Advent.

2. LiG Beloftekalender 2017
Deel van die spesiale Kersuitgawe van LiG is besondere bederf-geskenke.
Een daarvan is 'n gratis Beloftekalender vir 2017. Elke maand het 'n teksvers met 'n belofte uit God se Woord. Klik op die foto langsaan vir die skakel. 
Vind ook uit hoe Kerskaartjies verander het van toeka tot nou.
Elke leser ontvang ook spesiale inkleur- Kerskaartjies in hierdie uitgawe van LiG. Lees hier.
KUIERKANS
Ons gemeentes is nou midde in die seisoen van Kersmarkte. Sterkte met soveel reëlings hiervoor. Klik op die advertensies vir meer inligting. 
NG Franschhoek Kersmark 25 Nov
NG Franschhoek Kers Nagmark 
25 November 2016 
NG Swellendam Kersmark
NG Swellendam Kersmark
24-26 November 2016
NG Drieankerbaai Kersmark
NG Drieankerbaai Kersmark
25 November 2016
Proteahoogte Kersmark
NG Proteahoogte Kersmark
29 Nov - 3 Des 2016
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

NG Suider-Paarl-logo
1. NG Gemeente Suider-Paarl: Jeugwerker
'n Herinnering: NG Suider-Paarl het 'n vakature vir 'n Jeugwerker: Senior Jeug en Jong Werkende Lidmate. Die toerusting van jongmense is een van die dryfvere van die gemeente en daar is reeds ‘n dinamiese kinderkerk- en tienerbediening. Lees meer oor die vereistes van die pos. Aansoekers kan hulle CV stuur na Madeleine Fourie by admin@suiderpaarl.co.za voor 25 November 2016.  
Badisa logo
2. Badisa Vakatures
2.1 Aan Oewer Dienssentrum: Kombuishulp

Badisa is ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes- Kaapland) en VGKSA (Kaapland) en het die volgende vakatures beskikbaar:
Aan Oewer Dienssentrum wag aansoeke in vir 'n kombuisassistent. Hierdie halfdagpos is geskik vir persone met ‘n deernis vir ouer persone. Lees hier meer oor die verantwoordelikhede en die aansoekproses. Die sluitingsdatum is 2 Des 2016.

Hartenbos-padteken
2.2 Hartenbos Bejaardesorg: Geregistreerde Verpleegkundige (Suster in Bevel)
Geregistreerde verpleegkundiges kan aansoek doen vir hierdie pos. Aansoeke sluit 30 November. Diensaanvaarding is op 1 Januarie 2017.
Lees hier meer oor die vereistes, verantwoordelikhede en byvoordele.
Johenco Tehuis
2.3 Johenco Tehuis: Bestuurder
Aansoeke van gemotiveerde persone met ’n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes word vir hierdie betrekking by die Johenco Tehuis in Sutherland ingewag. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 25 November. Lees hier meer oor die pos sowel as die aansoekproses.
Tuisversorging
2.4 Aan Oewer Dienssentrum: Tuisversorger
Hierdie Badisa-dienssentrum op Velddrif het 'n vakature vir 'n tuisversorger. Die pligte en verantwoordelikhede behels oa die lewer van basiese versorgingsdienste aan kliënte, hulp met die ondersteuningsgroep en skakeling met die gemeenskap. Aansoeke sluit 2 Desember. Lees meer hier.
Charel Nel
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Charel Nel
Musiek is ’n groot deel van wie ek is. As ek ingedagte is, loop ek en fluit.  Indien iemand my daarop wys, moet ek verleë erken dat ek self nie daarvan bewus was nie. Dit laat my dink aan Psalm 119: 54: “U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde.”  Wat is die lied wat jou lewe vul waarvan jy nie eens altyd bewus is nie, maar wat jý is, wat iets van jou lewe sê?
Onlangs in Die Republiek van Zoid-Afrika op TV het Karen Zoid aan die sangeres Riana gevra:  “As jy net nog een lied in jou lewe mag skryf, waaroor sal dit gaan?” Na 'n tydjie se dink antwoord sy: “'n Lied oor die liefde.”  Mag jou lied hierdie week ’n lied oor die liefde, Gód se groot liefde, wees.
                                                                   ***
Charel Nel, predikant van die NG Gemeente Hermanus sedert 1991, is in 1980 georden in Indwe (Oos-Kaapland), waarna hy van 1983 ook in die NG Gemeente Vrijzee (Goodwood) bedien het. Kontak Charel by charelnel@telkomsa.net
Supermaan 14 November 2016 Kaapstad
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,
wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien? (Ps 8:4-5)
Foto met dank aan @naudewashere en gottalovesa - Instagram
Goeie wense.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za