Lees deur internet, klik hier >>
27 April 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Tekens van die kerk se missionale gerigtheid wat op vars maniere in nuwe geloofsgemeenskappe uitdrukking kry, verras 'n mens telkens.
Die kerk se roeping as gestuurdes beteken dat ons moet doen wat Jesus gedoen het: in sy voetspore volg.
Uitreik na die wat die minste het. Werk skep. Deel raak van God se beweging in die wêreld.
Lees by GEMEENTENUUS hoe Ysterplaat beplan om 'n wonderlike verskil in hulle gemeenskap te maak - dalk net die plek waar jy jou gewig (of geld) kan ingooi.

Stephen Pedro
SINODENUUS
1. Welkom aan ons nuwe PSD -
Stephen Pedro!
Hiermee 'n hartlike verwelkoming aan ons nuwe PSD (Predikant in Sinodale Diens), Stephen Pedro, vanaf 1 Mei in ons Bellville-kantoor.
Hy was vir 22 jaar predikant van die VGK Goodwood Gemeente in Elsiesrivier. Hierbenewens het hy ook goeie ondervinding in verskeie sinodale aktiwiteite. By Getuienisaksie is hy verantwoordelik vir Gemeente-getuienis, terwyl hy ook in Communitas se Diensgroep: Gemeentebegeleiding sal fokus op ondersteuning aan VGK gemeentes. Lees meer van die grootste uitdaging wat op hom wag. Sterkte en seën toegebid!

VGK SA Sendinggestig Museum
2. Nuus uit die Kerkargief 
2.1 Ryke geskiedenis van VGK SA Gestig gevier!
Op Sondag 22 April het die VGK SA Gestig (Belhar) weer vir die eerste keer sedert 1975 'n erediens gehou in hulle eertydse kerkgebou, die historiese SA Sendinggestig Museum in Langstraat, Kaapstad! Dié diens was die afskop van 'n jaarlange viering in aanloop tot die 220ste verjaardag van die gemeente op 22 April 2019 en is gelei deur Llewellyn MacMaster, predikant van die VGK SA Gestig (Belhar).
Karen Minnaar (senior argivaris van die Kerkargief) berig hieroor en deel ook inligting oor 'n spesiale uitstalling wat in die museum geopen is. Die herontdekking van die unieke pad wat die Here met die gemeente geloop het, en die voorreg vir ons argief om 'n rol daarin te speel, is deel van ons getuienis. Klik hier vir foto's en meer. Baie seën aan die gemeente!

VGK SA Gestig-lidmate saam met ds. David Botha en dr. Llewellyn MacMaster
VGK SA Gestig-lidmate saam met ds. David Botha en dr. Llewellyn MacMaster
2.2 Vriende van die Argief woeker
Op Woensdag 25 April het die Vriende van die Argief weer bymekaar gekom. Hierdie keer was dit die sendelinge van Morgenster. Onder hulle was van die nasate van ds. A.A. Louw en mev. Cinie Louw (Malan).
Hulle het gehelp om die foto’s wat op Morgenster geneem is uit te sorteer en te benoem. Maar elke foto praat 'n duisend woorde en in die proses is wonderlike sendingherinneringe ook opgediep.
Op die foto onder is die groep bymekaar. Kontak die argief by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923 vir meer inligting of om self deel van hierdie spesiale groep te word.

Vriende van die Argief
Mev. Lettie Bester (née Steyn); dr. Audrey van Wijk (weduwee van ds. Attie van Wijk); Coenie en Marlene Brand; Marthinus en dr. Marie Steyn en Mariana de Jager (née Brand)
Logo
3. Gemeentes, neem asb. kennis
NG Kerk in SA (Sinode van Wes-Kaapland)
Sinodesitting 13 tot 17 Mei 2019
Die moderamen het besluit dat die volgende gewone vergadering van die sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika van 13 tot 17 Mei 2019 by die ATKV se Goudini Spa gehou sal word.  Gemeentes en kerkrade word vriendelik versoek om hierdie datum in hulle jaarbeplanning vir 2019 te verreken. Verdere inligting sal mettertyd gestuur word. Kontak Charl Stander (skriba van die sinode) vir navrae: skriba@kaapkerk.co.za.
Logo
4.  Sentrum vir Publieke Getuienis
4.1 Christelike perspektief op nuusgebeure 
Stel jy belang om 'n Christelike perspektief op die nuusgebeure van die dag te kry? Braam Hanekom praat elke Woensdagoggend om 07:30 vir tien minute lank op Radio Kaapse Kansel om hierdie perspektief te probeer gee. Luister gerus 18 April se potgooi hier.
4.2 "Courageous conversations" in Rustenburg
Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis) het Woensdagaand 25 April 'n "Courageous Conversation" op die myndorp Rustenburg gefasiliteer.
Lonmin, Anglo American Platinum, Sibanye Stillwater, plaaslike regering, sakelui, toerisme, onderwys en kerke (foto's onder) was verteenwoordig. Intense gesprek is gevoer oor die kernoorsake van soveel van die brandende simptome wat tans in die streek sigbaar is. 'n Strategie vir die uitbou van die platform vir verdere gesprek - en veral gesprek met plaaslike regering en myne - is daargestel.
In die volgende weke sal 'n dokument oor die belangrikste bevindinge bekendgestel word. Vir enige verdere inligting, kontak die kantoor by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
Rustenburg-gesprekke Rustenburg-gesprekke
Tyd om te sing
5. Dis Tyd om te Sing!
Kore, sanggroepe en koorlede, lees hier!

Die opwinding oor “Dis Tyd om te Sing” is groot! Tog is daar vrae of individuele lidmate en voorsangers mag deelneem, hoe kaartjieverkope werk, of skoolkore ook kwalifiseer, wat koorlede moet betaal om deel te neem en meer.
Faani Engelbrecht skryf: "Gemeentes uit ander provinsies is meer as welkom om in die Kaap aan die fees te kom deelneem. 
Dit was egter van die eerste dag af die plan om hierdie fees nie net in die Wes-Kaap aan te bied nie. Min mense sal besef dat een van die grootste uitgawes van die dag is om die musiek te verwerk vir ’n simfonie-orkes. Daardie werk is nou gedoen en die bladmusiek behoort aan ons!  Ander sinodale areas wat belangstel om ’n eie #Dis Tyd Om Te Sing aan te bied kan Bybel-Media Musiek gerus kontak.  Ons sal koördineerders in ander provinsies nodig hê!"
Lees hier verder alles wat jy oor hierdie opwindende projek moet weet - en onthou om voor 17 Mei te registreer.

Emerititee 30 Mei
Handpop
7.#imagine:
Depressie en druk aangespreek
By die afgelope #imagine belewenis Wes-Kaap het jongmense die kans gehad om ’n werkswinkel by te woon oor depressie, aangebied deur die talentvolle Johan Laten. Imagineers kon ’n gedeelte van Johan se produksie, #puppet, beleef. Onmiddellik is hulle ingetrek in die wêreld van ’n onderwyser met depressie, en sonder ’n lesing is die feite oor depressie gesien en verstaan, en kon sommige dit selfs in hul eie lewe herken. Lees hier ...
Geen VrydagNuus in week van 4 Mei Volg ons op sosiale media
GEMEENTENUUS
1. Touwsrivier onderweg na eenheid!
Uit Touwsrivier berig Andrew Esterhuizen opgewonde oor die vordering onderweg na eenwording tussen die VGK en die NGK gemeentes. As uitdrukking van hulle verbintenis tot eenwording word ’n paar gesamentlike byeenkomste (wat twee nagmaalsdienste in Mei insluit) beplan.
Lees gerus hier verder hoe Andrew berig oor die proses na die eenwording van die twee gemeentes. Op die foto onder is die taakspanlede en kerkraadslede van die twee gemeentes wat op 18 April vergader het. Baie seën met hierdie proses!
Taakspanlede
Taakspan- en kerkraadslede wat op 18 April oor eenwording vergader het
Crowd funding
2. Ysterplaat: Nasorg benodig!
Missionale kerk op speelterrein! Jy kan help ...
Nadat deeglike navorsing by omliggende skole gedoen is, het NG Ysterplaat Gemeenskapskerk die nood geïdentifiseer vir 'n nasorgsentrum. Scherlize Hayes vertel: "Ons het ruim fasiliteite, maar min kapitaal om so 'n projek te begin. Ons het egter 'n ‘crowdfunding’ veldtog geloods en is opgewonde oor wat dit vir die gemeenskap gaan inhou." Lees hier en oorweeg gerus om hulle te ondersteun.
Die kerk en vroeë lewe
Groote Kerk: Die kerk se rol in 'n kind se vroeë lewe - klik bo.
Atlete vir Christus
4. Kruiskerk: Atlete vir Christus
Atlete vir Christus is ’n uitreik van Kruiskerk/Moederkerk. Dis ’n groep van 24 Maties wat met entoesiasme en liefde Jesus Christus se naam verkondig by o.a. ouetehuise en gevangenisse.
Hulle doel is tweeledig: "Ons hardloop, sing en gesels Christus" (soos hulle leuse dit stel) en hulle probeer jaarliks sowat R50 000 insamel vir die evangelisasie- en toerustingswerk wat Bybel-Media in Suid-Afrikaanse gevangenisse doen.
Die toerroete vir Julie 2018 is pas amptelik vasgestel - kyk gerus hier wanneer hulle in jou omgewing is en maak 'n nota om hulle te ondersteun!
5. NG Gemeente Durbanville-Bergsig
Seniortee - ander manier van huisbesoek
Die seniorbediening in Durbanville-Bergsig is so groot dat dit amper ’n kerk op sy eie is. Huisbesoek bly belangrik vir die seniors. Ds. Kobus de Jager besoek almal bo 80 jaar en van die ander seniors is onlangs bereik deur ’n lekker kuiertee wat by die kerk gehou is. Verskillende ouderdomsgroepe se tees is op verskillende tye. Die groepe is  bietjie kleiner en die kuier meer intiem. Daar word nog so ’n tee beplan vir later vanjaar. 
Gaste
Agter:  Beatrix Giliomee en Kobus de Jager
Voor:  Marlene de Wet, Trudie Kuyk, Heleen Stanford, Corné Sadie
Uitstallers gesoek
Dowe Familie Kerk (Worcester)
Uitstallers gesoek - klik bo.
Gebedsversoeke
Gebedsversoeke is welkom - klik hier
Krugers
PREDIKANTENUUS
1. NG Murray-gemeente in De Doorns groet Andrew en Diederi Kruger
Andrew Kruger, wat sedert 2010 in die NG Gemeente Murray (De Doorns) bedien het, tree aan die einde van April weens gesondheidsredes uit diens. Hy het sy bediening in 1987 in Griekwastad begin, waarna hy in 1991 na NG Gemeente Springs-Oos beroep is.
Andrew getuig van Murray se spesiale bemoeienis en hulp rondom hulle verhuising en ander reëlings. Hy het groot waardering vir die gemeente se moeite om oor die afgelope maande by verskeie kleiner groepe en geleenthede op ’n meer intieme wyse van hom afskeid te neem. Op 10 Junie sal Andrew tydens ’n spesiale “groetdiens” sy groeteboodskap aan Murray oordra. Lees ook hier.
Andrew en Diederi, mag die nuwe paaie in Worcester vir julle baie seën en genade inhou.
Stephan Naudé
2. Stephan van Riviersonderend na PE se Newtonpark
Na ’n geseënde internskap in die NG Gemeente Riviersonderend is Stephan Naudé vanaf 1 Mei predikant in die Oos-Kaapland se NG Gemeente Newtonpark in Port Elizabeth. Stephan beklemtoon sy dankbaarheid vir die opleiding wat hy in die Wes-Kaap ontvang het en sonder Riviersonderend se ondersteuning uit as iets wat hy altyd hoog sal ag.
Vriende en kollegas in die omgewing is welkom om Stephan op Sondag 6 Mei tydens sy bevestiging en intreepreek te ondersteun. Ons bid jou baie seën in die nuwe gemeente en gemeenskap toe, Stephan.

Gerhard en Joey van Tonder
3. Gerhard en Joey van Tonder emeriteer
Die akte van demissie en emeritaat is op Sondag 22 April aan Gerhard van Tonder oorhandig in die NG Gemeente Calitzdorp.
Gerhard skryf soos volg oor sy bediening van 35 jaar: "Die bediening wat die Here aan my opgedra het, het gestrek oor die laaste 10 jaar van apartheid in SA en die eerste 25 jaar van die nuwe SA. Die uitgangspunt van my bediening was altyd dat God mens geword het in Jesus Christus. Daarom het ek daarna gestreef om hermeneuties die evangelie van Jesus Christus te laat 'mensword' in hierdie veelseggende en bepalende oorgangstyd in ons land."
Lees die volledige bydrae hier. Ons opregte seënwense aan Gerhard en Joey vir 'n "ligter" lewe in die mooie George!
Elmo en Lou-Anne Evert
4. NG Gemeente Lutzville
Welkom, Elmo en Lou-Anne!
Die NG Gemeente Lutzville sien uit na die bevestiging van Elmo Evert as leraar in die gemeente op Sondag 6 Mei. Elmo, wat voorheen in Kamanjab (Namibië), Grootvlei (Hoëveld) en sedert 2012 in Nieuwoudtville bedien het, lewer ook sy intreepreek op hierdie datum. Hy is amptelik in diens van Lutzville vanaf 1 Mei 2018.
Ons bid dat die nuwe omgewing, waar Elmo onder andere sy passie vir (kleiner) kinders kan uitleef, 'n spesiale seën vir hom en Lou-Anne (onderwyseres by Vredendal Sekondêre Skool), sowel as die drie kinders, Marthinus, Kara en Ineke, sal inhou. 

Marlene en Frikkie Greeff
5. Frikkie en Marlene Greeff in Nuwerus bevestig
Ons gedenk die oorgang na ’n nuwe seisoen saam met die NG Gemeente Nuwerus, waar Frikkie en Marlene Greeff vanaf 1 Mei vir ses maande as brugleraarspaar bevestig word.
Frikkie was tot onlangs in Laingsburg brugleraar en was voorheen ook o.a. predikant in die Wellington Moedergemeente en Burgersdorp. Sy bevestiging en intree-preek is op So. 6 Mei – baie seën toegebid!

Sarizé en Piet
6. Sarizé Retief in Aggeneys bevestig
Dit is lekker om te berig dat Sarizé Retief op Sondag 6 Mei in die NG Gemeente Aggeneys bevestig word as tentmaker. Wat die geleentheid des te meer spesiaal maak, is dat die bevestiging deur haar man, Piet (predikant in die NG Gemeente Garies) hanteer sal word.
Diegene in die omgewing kan gerus ook ’n nota maak daarvan dat Sarizé se intreepreek op Sondag 13 Mei om 18:30 sal wees. Baie seën vir die gemeente en Sarizé toegebid!

Etienne Snyman en Annelet Slazus
7. NG Wellington-Oos ontvang Annelet en Etienne
Uit Wellington ontvang ons die goeie nuus dat prop. Annelet Slazus as predikant van die NG Gemeente Wellington-Oos aangestel is vir 'n vaste termyn van twee jaar - as deel van die sinode se internskapprogram.
Haar internskap begin op 1 Mei, met die bevestiging en intreepreek tydens die erediens op Sondag 6 Mei om 09:30. Haar kollega, Jan Grobbelaar, met wie Annelet reeds sedert haar tienerjare 'n pad stap, sal die bevestiging waarneem.
Aan Annelet en haar man, Etienne Snyman: mag julle die kosbare warmte van hierdie besondere gemeente as 'n blywende seën beleef.
Voorspoed toegebid! 

WJ Fourie
ALGEMEEN
1. Met simpatie: Willem Jacobus Fourie
15.11.1936 - 15.04.2018
Ons bied graag ons innige medelye aan die familie, vriende en kollegas van wyle Willie Fourie.
Willie het in 1961 op Orumana begin en is kort daarna na die ou NGKA op Canzibe in die Transkei. In sy tyd het hy ’n  jeugkamp te Tshani by die see gebou, wat baie daarna gebruik is. In 1975 is hy vir ’n kort rukkie na die NGKA Namakwaland gemeente op Springbok en daarna na die wye Xhosa gemeente Suidwestelike Distrikte vanuit George.  Hy het vroeg (op 55 jaar) afgetree in 1992 en het al die jare nog op Nature’s Valley gebly. Hy was vir baie jare aktief met die verkryging van saad-aartappels vir die kleinboere in die Canzibe in die Transkei. 
Sy begrafnisdiens was reeds verlede Vrydag in Nature’s Valley. Ons eer sy nagedagtenis.

2. Winterskool! Hier is alles wat jy moet weet!
Die Fakulteit Teologie van Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Winterskool is reeds ʼn instelling op die US kalender en word vanjaar aangebied van Dinsdag 5 Junie tot Donderdag 7 Junie met die tema "Justice, Reconciliation and Unity: Rediscovering the Power of the Gospel".
Hoofsprekers is Eleanor du Plooy, Wilhelm Verwoerd en Reggie Nel (foto's onder), met 'n wye reeks verwante parallelle sessies. Klik hier

Eleanor du Plooy Wilhem Verwoerd Reggie Nel
3. AIDS 2018: Faith building bridges
Die 22ste internasionale Vigs-konferensie (23-27 Julie) bied uitgebreide geleenthede vir deel en netwerk tussen die meer as 15 000 leiers, beleidmakers, navorsers en ander betrokkenes wat op verskillende vlakke van sorg en reaksie op die epidemie fokus.
AIDS 2018 word in Amsterdam, Nederland, gehou, met ’n vooraf konferensie, georganiseer deur die Wêreldraad van Kerke (WCC) wat fokus op hoe geloofsgroepe brûe kan bou om vigs te bekamp en uiteindelik uit te roei. Spesifieke aandag gaan aan gemarginaliseerdes soos vlugtelinge, migrante, kinders, tieners, verslaafdes en meer.
Klik op die grafika onder vir ’n video oor AIDS 2018; registrasie is oop tot 18 Mei.)

AIDS 2018 - video
Nelis Janse van Rensburg
4. Raakgelees ... 
4.1 Evangelisasie onder die loep ...
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk, dink na oor die kerk se opdrag tot evangelisasie.
Hy skryf: "Intussen het die kerk 'n missionale teologie omarm en die vraag is nou wat die betekenis daarvan vir evangelisasie is. Kan ons nog in 'n pluralistiese wêreld waarin daar soveel respek betoon word aan mense se oortuigings en kulture, enige vorm van beinvloeding na 'n 'beter' stel geloofsaannames propageer of beoefen? Dit is die een vraag wat beantwoord moet word. Maar die teenvraag is of 'n kerk wat regtig omgee vir mense nog kerk is as dit nie die geloofsoortuigings daarvan aan ander oordra met die doel om hulle te oortuig nie." Lees gerus hier verder. (Met dank aan e-Kerkbode.)

4.2  SmartStart  
Wees deel van iets groter: verbeeldingryk, gedissiplineerd, vol selfvertroue, leergierig, goedhartig ...
Vroeëkindontwikkeling (VKO) is een van die sinode se fokusareas. Diaconia se vennoot in VKO, SmartStart, fokus op kwaliteit VKO en ander leergeleenthede aan 1 miljoen kinders van 3-4 jaar in Suid-Afrika teen die jaar 2025. As alle kinders die geleentheid van kwaliteit opvoeding gebied word, baat ons hele land met al sy inwoners daarby. Gemeentes kan Diaconia kontak om deel hiervan te word. Skakel Ria Koen by diaconia@kaapkerk.co.za of 021 957 7109 vir meer inligting. Meer oor SmartStart is in die video onder.
Video
PUBLIKASIES
CLF en Seisoen van Menswaardigheid: pamfletreeks
Met Vryheidsdag wat op 27 April gevier word, is hier lekker aktuele hulp. CLF en die Seisoen van Menswaardigheid het saamgewerk om 'n pamfletreeks te ontwikkel wat gemeentes en individue kan bemagtig om agente van verandering in hul gemeenskappe te wees  - gemeenskappe waar individue en sosiale groeperings te dikwels nie menswaardig behandel word nie. Pamflette is in Afrikaans en Engels beskikbaar en kan gratis hier bestel word. Klik hier vir meer inligting oor die verskillende pamfletonderwerpe.
Pamfletreeks
Plastieksak
EKOLOGIE
1.1 Aardedag 22 April:
bereken jou plastiekverbruik
Aardedag vra vanjaar dat ons fokus op die vermindering van plastiek. Hier is 'n maklike manier om jou eie plastiekverbruik te bereken: dit word uiteengesit volgens daaglikse, maandelikse en jaarlikse verbruik. Dalk tyd vir ons almal om nuut te dink oor items soos plastiekbottels -koppies, -sakkies, kleefplastiek, voedselverpakkings, babadoeke, skoonheidsprodukte en baie meer!
Een voorstel is dat gesinne vir 'n week ALLE plastiek wat verbruik is, eenkant stoor voordat dit herwin word. So kan julle aan die einde van die week sien wat die impak werklik is.
Doen jou deel - klik hier op Aardedag se webwerf vir die berekening.
Logo
1.2 "Million Acts of Blue"- plastiekvrye toekoms
EcoWatch wil gemeenskappe help om totaal anders oor plastiek te dink. Hulle moedig almal aan om ’n “act of blue” te onderneem – om die vervaardiging van plastiek wat slegs eenmalig gebruik kan word, uit te skakel. Hulle het ’n omvattende gids hiervoor saamgestel. Dit begin eenvoudig by kennis, by bewusmaking en kring uit na ander projekte. Dalk kan jou gemeente oorweeg om deel van so ’n aksie te raak? Klik ook hier.
Kyk gerus ook na onderstaande video vir meer agtergrond oor plastiekbesoedeling.
Goldman prize winners
2. Africa's Goldman Environ-mental Prize winners!
As a multi-faith organisation, SAFCEI believes that our role on Earth is that of custodians.
"The Southern African Faith Communities’ Environment Institute (SAFCEI) congratulates Liz McDaid, and Makoma Lekalakala of Earthlife Africa Johannesburg (ELA JHB), on their Goldman Environmental Prize. Liz and Makoma have been recognised for their leadership in the struggle against an unlawful nuclear energy deal in South Africa." Read more.
Logo
3. SAFCEI bied GRATIS ekologie opleiding!
Word jou gemeente ook geraak deur die hoë koste van water, elektrisiteit en vullisverwydering? Het julle kerkgebou dalk nie behoorlike toegang tot noodsaaklike dienste nie? SAFCEI bied nou aan geloofsgemeenskappe die kans om aan ’n eko-oudit opleidingsessie deel te neem op Do. 17 Mei in Kaapstad – en dis GRATIS! Lees hier.
Skepping
4. Die Skepping: deel van ons gebedslewe
Die skepping behoort op ons gebedslys te wees - ook in ons eredienste.  Hier is 'n gebed wat ons kan gebruik om mee dankie te sê; dit kom uit Daaglikse gebedsritmes vir die week wat beskikbaar is as e-boek by www.communitas.co.za.
Lees die gebed hier. (Dankie, Projekspan Ekologie!)
BEHOU DIE HUMOR
Gemeentekommunikasie
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Vakatures in Kerkbode
e-Kerkbode dui nou ook aan op watter datums die volgende gedrukte uitgawes van Kerkbode verskyn. Kry dit by Vakatures (links in keuselys op e-Kerkbode); klik op 'n bepaalde vakature om dit oop te maak en let dan op die inligting regs bo.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 4 Mei.

Gedrukte Kerkbodes
Barrydale kerk
1. NG Barrydale: Leraar
Barrydale is ’n plattelandse gemeente geleë tussen Montagu en Ladismith op die R62-roete. Die gemeente val binne die Ring van Swellendam en bestaan uit 190 belydende lidmate en 36 dooplidmate.
Hier is tans 'n vakature vir 'n leraar in 'n deeltydse vastetermynpos vir drie jaar. Meer inligting is hier en die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 April.

Gansbaai kerktoring
2. NG Gansbaai: Voltydse derde leraar
Die NG Gemeente Gansbaai wag aansoeke in van toepaslike gekwalifiseerde NG leraars van 35 jaar en jonger om ’n vakature as voltydse derde leraar te vul. Gansbaai is ‘n plattelandse gemeenskap in die Wes-Kaap, 40 km van Hermanus. Die gemeente, wat in ses streke verdeel is, bestaan uit  2333 belydende lidmate en 247 dooplidmate. Klik hier vir meer inligting en reageer voor 31 Julie.  
Durbanville gemeente
3. NG Durbanville: Medeleraar
In biddende afhanklikheid van die Here nooi NG Gemeente Durbanville gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid om aansoek te doen vir die pos as medeleraar in dié gemeente in die noordelike voorstede van Kaapstad. Reageer voor 18 Mei. Lees meer.
NG Hottentots-Holland
4. NG Gemeente Hottentots-Holland: Koster
Die geleentheid het ontstaan by die NG Kerk Hottentots-Holland vir ‘n energieke, goed georganiseerde en pro-aktiewe individu om by die gemeente aan te sluit as ’n koster. Reageer voor of op 4 Mei en lees hier verder.
Logo
5. Badisa Alta du Toit Nasorg 
Administratiewe beampte/boekhouer
Alta du Toit Nasorg is 'n program van Badisa.
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir die betrekking as administratiewe beampte/boekhouer ingewag. Meer inligting is aangeheg - reageer voor 4 Mei.
William Ficks
TEN LAASTE
Uit die pen van ... William Ficks
In ons gemeente is ons tans druk in gesprek rondom die tema gasvryheid (die liefde vir die vreemdeling). Ons lees in Hebreërs 13: 2 die volgende: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Bybelse gasvryheid gaan eintlik oor die ontvangs van 'n vreemdeling in jou huis. Gasvryheid hou 'n hele paar voordele vir ons in: Dit help jou om vrygewig te wees met jou tyd en energie en dwing jou om nie so verknog te wees aan wat jy besit nie. Gasvryheid help om met vrymoedigheid jou verhaal met andere te deel en belang te stel in die verhale van vreemdelinge. Deur jou vrygewigheid, ontvang jy God se mildelike seёninge en is jy ook 'n seёn vir andere.

                                                                    - - - - -
William Ficks was voorheen leraar in die VGK Eendekuil en is tans leraar in die VGK Porterville. Verder is hy lid van die ledevergadering van Badisa en dien ook op die bestuur van die Christian Aids Bureau of South Africa (CABSA). Kontak hom hier

"Tog sê Ek vir julle die waarheid:
Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan,
want as Ek nie weggaan nie,
sal die Voorspraak, die Heilige Gees,
nie na julle toe kom nie;
maar as Ek gaan,
sal Ek Hom na julle toe stuur."
(Joh.16:7 - met die oog op Hemelvaart, 10 Mei 2018)
VrydagNuus groet tot die uitgawe van 11 Mei. 
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.