Geseënde Erfenisdag
Geseënde Erfenisdag
Lees deur internet, klik hier >>
24 September 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Moderamen ontmoet
Die moderamen kom volgende week (28 - 29 September) soos gebruiklik by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington bymekaar. Die moderamen sluit onder meer verteenwoordigers uit die 25 ringe van die Sinode van Wes-Kaapland, voorsitters van diensgroepe en taakspanne en predikante in sinodale diens in. Dit is naas die 4-jaarlikse sinodesitting die grootste vergadering in ons sinodale gebied.
Een van die sprekers is Stephan Joubert en hy gesels oor COVID-19 en bediening in `n digitale tyd - 4de industriële revolusie. Kobus van Deventer van die Nasionale Instituut vir Dowes sal ook die moderamen besoek. Verder sal daar ook gesamentlike aanbiedings van al die diensgroepe wees oor vordering met die onderskeie sinodale fokusareas.
Ons vra vir spesiale voorbidding vir die leierskap en deelnemers aan die moderamen.
Ons groet Kobus Odendaal
Op Donderdag 30 September kom Kobus Odendaal se werk na 14 jaar en 9 maande as bestuurder van die Taakspan Afrika Ekumene en sedert 2015 ook as bestuurder by die Diensgroep Getuienisaksie tot ’n einde. Danie Möller, voorsitter van die dagbestuur, is dankbaar vir Kobus se harde werk: “Kobus het ’n uiters waardevolle bydrae tot die werk van Getuienisaksie as eenheidsbediening van die sinodes van die NG Kerk en VG Kerk gelewer. Op grond van sy spesifieke bedieningservaring en gawes was hy uniek toegerus vir hierdie rol in die kerk. Binne die Taakspan vir Afrika Ekumene was hy ’n sleutelfiguur in die handhawing en uitbou van verhoudings met susterkerke in Afrika. Kobus se sensitiwiteit vir goeie verhoudings, die persoonlike moeite wat hy gedoen het om dit in stand te hou, en die manier hoe hy die leierskap van ons as susterskerke in Afrika aan mekaar help bind het, was vir ons goud werd.  As bestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie was ons bederf met sy uitstekende administratiewe en bestuursvermoëns.  Ons het Kobus leer ken as veelsydige mens – van taalvermoë, tot teologie en ekologie, tot muurbal speel of sy Land Rover op die pad deur Afrika hou, en veel meer.  Geen wonder dat hy homself intussen ook in die regte gekwalifiseer het nie.  Ons is dankbaar vir sy nalatenskap en wens hom net die mooiste toe vir die nuwe fase van sy lewensreis.”
Eddie Orsmond, wat in hierdie tyd op verskillende besture saam met Kobus gedien het, se bydrae kan hier gelees word. Kobus was ook nou betrokke by die Reformed Family Forum, die netwerk waar al ons susterskerke in Afrika verteenwoordig word. Die algemene sekretarisse van hierdie 15 verskillende susterskerke se afskeidswoorde en wense vir Kobus se toekoms kan hier gelees word.  
Nuwe bestuurder: Diensgroep Getuienisaksie
Hiermee wens ons vir Stephen Pedro veels geluk met sy aanwysing deur die dagbestuur van Getuienisaksie as hul nuwe diensgroepbestuurder. Stephen sal verantwoordelik wees vir die oorhoofse bestuur en verteenwoordiging van Getuienisaksie. 
Dit sal onder andere die algemene personeelbestuur, die vloei van dienslewering na buite, verteenwoordiging van die diensgroep by die Sinodale Koördineringspan en ander sinodale vergaderings en die funksie as sekretaris van die dagbestuur behels.   
Mag hy die uitvoering van hierdie pligte in die pos baie bevredigend vind en deurentyd die ondersteuning van sy personeel en kollegas ervaar.
Uit ons Argief: Lisel Joubert oor Margaret Vlok
Lisel Joubert, dosent in kerkgeskiedenis by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, vertel meer oor die navorsing wat sy geboekstaaf het oor haar oumagrootjie Margaret (haar doopname is Margaretha Johanna) Blake (1873–1956), wat getroud was met die bekende sendeling, TCB (Theunis Christoffel Botha) Vlok (1866–1936). Hy was ’n kernfiguur in die geskiedenis van die sending in Nyassaland (vandag Malawi).
Lisel verduidelik: “In vergelyking met my oupa, was daar bitter min bronne en dokumente waarmee mens ’n prentjie van Margaret kon skets. Tog was sy vir baie jare daar aan sy sy en in die verlange om haar verhaal te hoor, moes ek baie fyn luister. Dit was soos om vlees te gee aan ’n skim, aan iemand tussen die ‘lyne’ van die bronne.” Kyk gerus na die video onder waarin Lisel meer vertel.  
EKOLOGIE
Wêreld Rivieredag
Sondag 26 September is dit Wêreld Rivieredag. Een van die bekendste riviere in ons sinodale gebied is die Breederivier. Rudolph Scharneck van die Groenspan het 'n lidmaat in sy gemeente, wat baie betrokke is by die bewaring van die Breederivier en vas glo die Here haar vir hierdie taak geroep het. Haar naam is Elkerine Rossouw en sy woon in Rawsonville. Hy het met haar gesels om meer uit te vind waarom die Breederivier so belangrik is en wat die kerk en gemeenskap se rol in die bewaring van ons land se riviere in die algemeen is. Lees meer hier. Kyk ook na ’n kort video hieronder oor die rol wat jy hierin kan speel.
Daktuine - vir taxi's
Associated Press in Bangkok berig dat 'n vloot ongebruikte taxi's benut word om nuwe uiting aan die konsep van daktuine te gee. Die taxibedryf in Thailand is weens die COVID-pandemie bykans tot stilte gebring met meer as 2 500 voertuie wat in parkeerareas staan. Twee vindingryke maatskappye het met die idee vorendag gekom om die motors se dakke in kompakte groenteplotte te omskep. Bestuurders en personeel help om die tuine te onderhou en om sodoende die lot van taxibestuurders onder die publieke oog te plaas. Lees die artikel hier.
GEMEENTENUUS
Uitsig reik uit na Merweville
Louis Minnaar van Uitsig-gemeente vertel dat hulle reeds vir die afgelope 17 jaar betrokke is by die gemeenskap van Merweville d.m.v. ‘n jeuguitreik gedurende die Junie/Julie skoolvakansie. Die uitreik het aanvanklik gefokus op die kinders in die gemeenskap met ‘n vakansieprogram wat aangebied is, maar het stelselmatig uitgebrei om ‘n tweedehandse klereprogram, sopprojek en ‘n program vir volwassenes in te sluit.
“Die gemeente het egter toenemend bewus geraak van die uitdagings wat die droogte vir die boerderygemeenskap van Merweville gebring het en die gemeente wou graag hulle meelewing met die gemeenskap betoon, maar het nie geweet hoe nie. Daar was ‘n voorstel vir geskenke van skoenbokse gevul met bederf-items, asook die droogtehulpprojek van Agri Wes-Kaap wat oor die gemeente se pad gekom het.”
Danksy die bydraes van gemeentelede, ouers van Uitsig Kleuterskool en omgee-vriende, kon die gemeente, behalwe hul normale betrokkenheid, ook 245 bederfbokse by aftree-oorde op Laingsburg en Prins Albert, asook aan die boere en hulle gesinne in die Merweville-distrik afgee. R5 000 is aan die gemeenskapsprojek Karoo Blessings geskenk om plaaslike besighede te help wat deur die pandemie geraak is. Agri Wes-Kaap se droogtehulpprojek het verder 'n R30 000 bydrae vir voerhulp gekry.
Gemeentes wat moontlik hierby wil betrokke raak, kan gerus hierdie skakel volg vir meer inligting oor die projek.   
Vredelust Worshipaand
Clement Martin van die gemeente van Vredelust laat weet dat hulle vreeslik opgewonde is om volgende week saam die Here te kan loof en prys. "Die Bybel sê: 'Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.' (Joh 4:23). Met alles wat tans in die wêreld aangaan, is daardie tyd beslis nóú.
Daarom nooi ons jou uit na ‘n langverwagte aand van aanbidding op Woensdag 29 September om 19:00 in Vredelust se ouditorium. Hierdie geleenthede is altyd so kosbaar en spesiaal en ons kan nie wag om dit saam met die hele familie te vier nie. Dit is ook 'n ideale geleentheid vir jou om iemand saam te nooi. Jy wil nie hierdie geleentheid mis nie. Ons sien jou daar!"
Oudergewoonte gaan hulle ook lekker burgers en chips beskikbaar hê teen R40. Kontak Elana by ontvangs@churchadventure.co.za vir bestellings. Kyk gerus die video hieronder vir meer inligting. 
Lag op Laaiplek
Die gemeente van Laaiplek bied op Saterdag 25 September om 18:00 Lag op Laaiplek-hawe aan om dankie te sê. Charl van Rensburg vertel dat die program onder andere storievertellers van Maak ’n Las-faam insluit. "Hulle gaan in die hawe op ’n vragmotor sit en stories vertel. Mense kan kom en in hulle motor sit en hulle radio instel op FM kanaal 98 om saam te luister. Dis soos ’n lewendige drive-in van ouds.
Die gemeente wil graag vir alle lidmate en mense van die gemeenskap en almal wat deel is van Laaiplek-gemeente, direk of indirek, net dankie sê vir saamwees, aanbidding, voorbidding, getrouheid, ondersteuning en omgee. Kom geniet die 60 - 90 minute saam met ons en kom lag net weer lekker."
Kontak die kerkkantoor by 022 783 0046 vir navrae.
Samehorigheid in Piketberg
Martin Goosen van Piketberg skryf: "In 'n tyd waar gesprekke plaasvind tussen die VG Kerk en die NG Kerk Piketberg is hierdie video 'n publieke verklaring van gelowiges se samehorigheid. Die twee kerke se lidmate doen saam belydenis van hulle geloof met behulp van die Apostoliese Geloofsbelydenis.  Die opname is plaaslik gemaak by Scotsman Studios in Piketberg en die Piketbergers gee erkenning aan Neil en Lettie Büchner van die NG Gemeente Wellington en Stefan Botha, wat ons geïnspireer het met hul weergawe van hierdie belydenis."

NUUS UIT ONS RINGE
Ring van Caledon vier vereniging
Die skriba van die Ring van Caledon laat met opgewondenheid weet dat hulle op 22 Oktober 'n spesiale geleentheid by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington sal hou om die gemeentes se vereniging te vier. Daar vind ook op 12 November 'n leraarsberaad en op 13 November 'n spesiale Ringsvergadering by Mispah plaas.
In Maart vanjaar het 24 gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in die Verenigende Ring van Caledon ’n nuwe hoofstuk in kerkgeskiedenis gemaak, toe die onderskeie ringe hulself verbind het tot hereniging.
PREDIKANTENUUS
Ysterplaat verwelkom Jacques Strydom
NG Kerk Ysterplaat is baie opgewonde om Jacques Strydom as deel van die span te hê omdat sy lewe spreek van diensbaarheid en naasteliefde.
"Ek wil graag sien dat gemeenskappe floreer. Dit beteken versoening oor grense heen, gelykheid en ontwikkeling. Ek het teologie gaan studeer omdat ek geweet het dat geloof en 'n teologiese grondslag die beste vertrekpunt hiervoor sou wees. Ek spandeer deesdae baie tyd om kinders en jongmense en ek is regtig geïnspireer deur hulle outentiekheid. Hulle daag my uit om nie vasgevang te raak in groot, abstrakte kwessies nie, maar te dink hoe my geloof hier, prakties, sonder valse voorwendsels, uitgeleef kan word." 
Jacques het groot geword in Newcastle en na skool aan die Universiteit van Pretoria teologie studeer. Hy het besluit om sy gemeentejaar in die Kaap te doen en het by Groote Kerk begin inskakel. In die jaar het hy ook by Ysterplaat-gemeente betrokke geraak.
Alle voorspoed en seën vir jou bediening, Jacques! 
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Daniël de Wet ontmoet ons kerkfamilie in Malawi
In Julie 2007 het ’n roomkleurige 1994-model Land Rover die vlaktes hier oor Suid-Afrika aangepak na Zimbabwe, Mosambiek en Malawi. Die insittendes was die bestuurder van Getuienisaksie se vennootskappe met ons susterskerke in Afrika, Martin Pauw, en sy opvolger Kobus Odendaal. Martin was op ’n missie om Kobus aan al ons susterskerke se leiers te gaan voorstel. Na 14 jaar en 9 maande was dit hierdie maand Kobus se voorreg om dieselfde met sy opvolger Daniël de Wet te kon doen – helaas, weens COVID-19 nie weer met die Landi nie, maar per vliegtuig, beginnende met ons susterkerk in Malawi, die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP).
Lees Daniël se indrukke van sy ervaring hier.
Foto: Daniël de Wet (Getuienisaksie), Chrispin Banda, Arnold Saka (skriba), Biswick Nkhoma (moderator), Edward Tembo en Vasco Kachipapa (algemene sekretaris).
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Klik op die grafika om meer inligting en skakels vir registrasie te kry. 
What can we learn from one South African university campus? Click on the image for more information about this online event of 30 Sept. 
'n Voorsmakie van die tweede webinaar kan hier gekyk word. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse medeleraar, Paarl
As jy mal is oor die jeug en die Here Jesus liefhet, is hier 'n geleentheid van 'n leeftyd om dit by die Strooidak-gemeente in die derde oudste gemeente in die land te kan uitleef.
Die suksesvolle kandidaat moet die voortou neem om die jeugbediening tot nuwe hoogtes te voer deur o.a. ‘n span vrywilligers te identifiseer, te motiveer en te lei om deur die bou van verhoudinge en geestelike begeleiding die jongmense in die gemeente te leer om in ‘n verhouding met die Here te leef.  Hierbenewens moet die kandidaat ook in staat wees om die groter gemeente soos nodig te bedien.
Klik hier om die volledige gemeenteprofiel en verdere posvereistes te lees. Sluitingsdatum vir aansoeke: 29 Oktober 2021.
Jeugwerker, Saldanha
Die NG Gemeente Saldanha het die voorreg om ’n jeugwerker te beroep om die hand van die gemeente (en gemeenskap) te vat in die geestelike bediening van hulle jeug en jong volwassenes binne hulle unieke leefwêreld. Dit is ’n 3-jaar kontrakpos, wat na gelang van omstandighede hernu sou kon word.
Belangrike karaktereienskappe sluit in: ’n passie vir God en die jeug; entoesiasme; kreatiwiteit; integriteit en ’n goeie spanwerker.
Gewenste vaardighede: sterk interpersoonlike vaardighede, sterk mensverhoudings, vriendelike en professionele hantering van mense, goeie netwerker, beplanner en organiseerder en rekenaargeletterdheid. Musikale aanleg sal ’n bate wees.
Aansoeke sluit 27 Oktober. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Die 16de Lentekonferensie se tema vanjaar was Brave new world – Saam met Jesus ’n vreemde toekoms in. Kerkbode berig breedvoerig daaroor. In haar aanbieding as hoofspreker op die aanvangsdag, het professor Elna Mouton gepraat oor hoe Jesus se menswees sy dissipels, en by implikasie ook ons as gelowiges, leer om met God se perspektief na mense en die wêreld te kyk. Lees hier meer.
Wat jy glo eerder as waar jy bly, moet bepaal by watter streeksinode van die NG Kerk jy inval, meen kerkhistorikus professor Johan van der Merwe. Lees sy mening hier.
As ‘n kerninsetsel op die tweede dag van die konferensie het Vrye Weekblad-redakteur Max du Preez nie net gesê die kerk, waarin hy grootgeword het, staan die gevaar om te verval in ’n soort sosiale klub nie, maar ook ’n pleidooi gelewer vir hoekom dit nie mag gebeur nie. 
Vir die huidige situasie waarin die NG Kerk haar met dolerende gemeentes bevind, mag dit help om na die historiese wortels van dié beweging te gaan kyk, sê kerkhistorikus dr. Jan Lubbe. Klik hier om die artikel te lees. 
Die bekende priester, vader Michael Lapsley, het as slotrede op die laaste dag gepraat oor die tema Hoe en wanneer word skuldgevoelens en skaamte heel of gesond?
LiG bied heerlike aanlynkuiersessie 
Die aanlyn tydskrifprogram LiGter word op 30 Oktober aangebied. Gemeentes of groepe vriendinne word aangemoedig om van 10:00 - 12:00 gratis in te skakel vir hierdie digitale verskeidenheidsprogram. Put inspirasie en kuier saam met bekendes soos Lindie Strydom, Milanie Vosloo, Wanda Bam en haar dogter Melissa Swart. Daar is ook die geleentheid vir lofprysing en aanbidding saam met Onbeskaamd.
Klik hier om te registreer.
ALGEMEEN
Raakgelees: Nuwe emojis op pad  
Alhoewel ons nog steeds lief is om volledige sinne te tik, kan emoji's soms help om 'n sekere gevoel oor te dra of om dit selfs makliker te maak om spesifieke emosies te kommunikeer in ‘n boodskap. 
Daarom het Emojipedia, wat gereeld nuwe emoji's skep, dit goedgedink om nog ‘n stel prettige emoji’s by die lys te voeg. Die nuwe opdatering bevat 37 nuwe emoji's (foto bo). Nuwe gesiggies sluit in gesigte wat smelt, salueer, tussendeur hul vingers loer en wat omring is met stippellyne. Daar is ook verskeie nuwe handemoji's, soos hande in die vorm van ‘n hartjie, gekruisde vingers asook 'n opdatering van die handdruk-emoji.
Die nuwe emoji’s sal na verwagting vroeg volgende jaar bekendgestel word. 
Erfenisdag
Erfenisdag erken en vier die ryk kulturele diversiteit van Suid-Afrika. Hierdie kultuurerfenis vorm deel van die identiteit en sluit onder meer tradisies, storievertelling, rituele, gemeenskaplike geheue, 'n inheemse kennis en sosiale verwantskappe in. Vir baie plaaslike kulture gaan dit ook oor erfeniskos, waaronder braai of shisanyama maar enkele voorbeelde is. Braaidag is vir die eerste keer in 2005 deur die Mzansi Braai-instituut georganiseer en sedert 2008 word dit onder die vaandel van Braai4Heritage, 'n inisiatief sonder winsbejag bemark. Aartsbiskop Desmond Tutu is as die beskermheer van die dag aangestel en die inisiatief het in 2008 die amptelike goedkeuring van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad ontvang.
Premier vra vir veilige langnaweek
Wes-Kaapse premier Alan Winde het die week 'n beroep op Wes-Kapenaars en besoekers gedoen om COVID-riglyne streng na te kom tydens die opkomende langnaweek. Tot op datum is daar net meer as 2,6-miljoen inentings gedoen. Daar is tans meer as 11 000 aktiewe gevalle en die provinsie het die afgelope week steeds meer as vyftig sterftes per dag geregisteer.
Winde het mense aangemoedig om hulle te laat inent, maskers behoorlik te dra (mond en neus bedek) en waar moontlik in kleiner groepe in die buitelug bymekaar te kom.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
TEN LAASTE
In die liturgiese voorstelle vir Sondag, die agtiende van Koninkrykstyd, haal Woord & Fees die sleutelteks uit Jakobus 5: 13 - 20. Daar word gekyk na die belangrikheid van gebed en belydenis.
"Jakobus bied diep wysheid vir enige gemeenskap: om in biddende afhanklikheid te leef en nie op eie krag staat te maak nie. Jakobus se droom van ’n heilsame gemeenskap is vir ons gebroke samelewing vandag aktueel. Die uitdaging is om vir ons tyd ook met die wysheid wat Jakobus bied, maniere te vind wat genesing en heling kan bring."
Luister gerus hier na Neil Büchner en Martelize Voigt se weergawe van Nader tot die Here - 'n lied van toenadering tot die Here. Mag Hy vir ons die nodige wysheid en krag gee om daadwerklik 'n verskil in ons gemeenskappe te maak.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.