Lees deur internet, klik hier >>
 5 Augustus 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Vrouemaand: Wees deel van die oplossing
Die Taakspan Gendergeregtigheid lewer die volgende bydrae: “Met Vrouemaand fokus ons op gendergeregtigheid; ons vier die pad wat al gestap is; ons herinner mekaar aan die groot gapings en ongeregtighede wat steeds plaasvind en ons kyk vorentoe met hoop en ondersteuning.
Die enigste manier vir gendergeregtigheid om te geskied, is om die patriargiese denksisteem, wat ook skadelik is vir mans, te ontrafel. Dit gebeur as mans begin om vroue se bondgenote (“allies”) te wees. ‘n Bondgenoot is nie net iemand wat nie seksisties optree nie, maar ook ingeligte aksie neem. So, hoe is mens ‘n goeie bondgenoot? Hier is sewe kort wenke, maar klik hier om 'n meer uitgebreide weergawe te lees:
  • Wees bewus van jou vooroordele.
  • Wees bereid om te leer. 
  • Raak gemaklik met ongemak.
  • Onthou dit gaan nie oor jou nie, so leer om te luister na vroue se ervarings.
  • Gebruik jou stem om vrae te vra, op te staan teen onreg - ook sistemies, ander mans te leer en vrouens goed te praat.
  • Respekteer die ruimte waarbinne jy is.
  • Tree doelbewus in ondersteunende vennootskappe met vroue.
Kies om ‘n bondgenoot te raak, want saam kan ons patriargie ontrafel, sodat gelykheid en geregtigheid kan geskied en God se koninkryk kan kom." Volg die taakspan vir meer inligting en wenke op Facebook of Instagram by @gender.geregtigheid.
Barmhartigheidsmaand
Diensgroep Diaconia span saam met Stellenberg-gemeente om 'n unieke gespreksessie tydens Barmhartigheidsmaand aan te bied. Daar word rondom gesprekstafels en ’n verskeidenheid van opsionele werkswinkels gekyk na die tyd waarin ons leef en die gestaltes van omgee wat ons tipies as ‘barmhartigheid en diakonaat’ in gemeentebediening beskryf.
Daar sal uitstallings wees  van diensorganisasies met soortgelyke doelwitte as die kerk en geleentheid vir gesprek, interaksie en die bou van netwerke. Die hoop is om ’n dinamiese leergemeenskap rondom die diakonaat te begin wat deurlopend op verskillende platforms interaksie sal hê. Met die omvangryke nood en geestelike honger van mense rondom ons, is ’n gesprek oor barmhartigheid lank reeds nodig. Wees deel van die gesprek. Registrasie sluit Maandag 8 Augustus. Klik hier om te registreer. Die program is aanlyn beskikbaar. 
#100DorpeDialoog
Die mees onlangse dialoogsessie het op Koringberg in die Swartland plaasgevind. Verteenwoordigers van verskeie geloofsgemeenskappe, die plaaslike regering, polisie en gemeenskapsveiligheid, landbou, NRO’s en gemeenskapsleiers het die vergadering bygewoon. Sake op die agenda was onder andere misdaad, behuising, werkloosheid, hopeloosheid en konkrete projekte wat in plek gestel kan word om hierdie kwessies aan te spreek. Dit sluit in die verkiesing van die Koringberg Gemeenskapsontwikkelingsforum, die oprigting van veiligheidskameras, beter samewerking met die polisie en plaaslike owerhede, die verf van armoedige huisies en ontspanningsfasiliteite vir minderbevoorregtes. Klik hier vir meer inligting. 
#IMAGINE LOCAL
Verlede jaar het #imagine local meer as 5000 tieners in hul eie dorpe regoor Suid-Afrika bereik en op Saterdag 1 Oktober maak hulle weer so!
Die doelwit is om vyftig van hierdie geleenthede op dieselfde dag aan te bied. Die program (3-4 ure) word deur #imagine verskaf en sluit die materiaal vir groepsessies en kleingroepsessies in asook aksie-stasies en idees vir uitreikgeleenthede. 
Registreer hier as ‘n local host. Kontak info@imaginemovement.co.za vir meer inligting.
Arbeidsbediening Worcester skop af met nuwe ywer!
Sedert 2020 is baie van ons bedieninge deur die effek van COVID geraak en was dit baie moeilik om mense in hulle werksplekke te bereik. As mens dan hoor dat daar dorpe is wat weer opgestaan en met nuwe ywer hul bediening begin aanpak het, is dit vir ons ’n riem onder die hart. En dis presies wat die afgelope tyd in Worcester gebeur het. ’n Stewige Arbeidsbedieningsbestuurspan met die ondersteuning van entoesiastiese vrywillige werkers het moue begin oprol en is gereed om tientalle besighede en instansies weer geestelik in hul plekke van werk te begin bedien. Lees meer van dié goeie nuus hier
Fraserburg span saam met Little Seeds
Fraserburg-gemeente en Little Seeds het die afgelope naweek ‘n onderskeidingsproses begin oor hul rol in vroeëkindontwikkeling in hul gemeenskap. Na afloop van die nagmaal-erediens, gelei deur Nioma Venter, het ‘n groep lidmate en van die dorp se VKO-rolspelers byeengekom.  
Melanie Thirion het ‘n gesprek gelei waar onder andere gesels is oor VKO as strategie om die armoedesiklus te breek. Bestaande VKO-inisiatiewe in die gemeenskap is belig en verbind en daar is saam begin droom oor moontlikhede vir die toekoms. Daar is ook gefokus op storievertelling en lees as stimulasie van vroeë-geletterdheid in babas en jong kinders en afgesluit met 'n gesamentlike ete. 
"Alhoewel dit ‘n ysige naweek in die Karoo was (met temperature van selfs -5 grade Celsius), is die gemeente van Fraserburg se gasvryheid en verbintenis tot kinders iets wat die Little Seeds-span koester! Ons is dankbaar vir rolspelers wat bymekaar kon kom en sien uit na die verdere reis saam met die gemeente en gemeenskap," vertel Melanie. 
'n Leergemeenskap van versoening
Met hierdie kwartaallikse nuusbrief wil die Algemene Sinode se Taakspan vir Anti-Rassisme, Geregtigheid en Versoening jou graag op hoogte hou van hulle werk binne die Versoen Leergemeenskap. Hier sal jy vir werkswinkels kan registreer, inspirasie kan vind, en die geleentheid hê om nouer by hierdie werksaamhede betrokke te raak.
Nuwe kontaknommers vir Stellenbosch
Die sinodale kantore op Stellenbosch het migreer na ‘n nuwe telefoonstelsel en gaan voortaan die volgende nommer gebruik: 021 882 9923. Personeellede kan ook op hulle spesifieke uitbreidings bereik word -sien die kontaklys hier
Lentedag
Ja, Lentedag is nou net minder as ’n maand weg! Kyk gerus na KIX Kinderbediening se Lentedag idee vir hierdie jaar – jy kan jou eie saadjiepapier (plantable seed paper) maak.
Idees van vorige jare is ook hier beskikbaar. 
EKOLOGIE
Sallie McFague: Die kosmos is God se liggaam
Ons eko-korrespondent David Botha skryf hierdie week in sy reeks oor ekoteoloë oor Sallie McFague (foto). McFague is deel van ’n groep vroue-teoloë wat bekend staan as feministiese teoloë en ook as ekofeministe. “Ons leef in ’n nuwe werklikheid; ’n werklikheid wat die negatiewe gevolge van die manlik-gedomineerde wêreld helder en duidelik ontbloot. Ons is ontnugter.
Voeg hierby die klem op menseregte in ons tyd en veral ook die regte van vroue, dan verstaan mens die noodsaaklikheid vir die gebruik van ander en selfs nuwe metafore om oor God te dink en te praat,” skryf David. Lees hier meer.
GEMEENTENUUS
ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Getuienisaksie en CCAP Livingstonia Sinode, Malawi
Ons lees en sien daagliks hoe daar miljoene mense om verskillende redes oor die wêreld heen migreer. Dis ’n traumatiese ervaring om jou hoop op ’n beter toekoms in ’n ander land gestalte te laat kry. Baie van ons kinders is ook in dieselfde bootjie en ons weet hoe alleen mens in die vreemde kan voel. So is dit ook met massas van ons medegelowiges wat vanuit ons susterskerke in Afrika hier in die Wes-Kaap ’n nuwe lewe probeer maak. Gelukkig het hulle ’n geloofsfamilie hier en kan ons hulle met ope arms in ons midde verwelkom en kyk waar en hoe ons hulle kan ondersteun. Dr. Daniël de Wet, PSD Afrika Ekumene, het onlangs met ons susterskerk in Malawi, die CCAP Livingstonia Sinode, vergader. Daar is onder andere oor hul uitdagings gesels. Lees hier meer.
Foto van links na regs: Ds. Osward Msowoya, mev. Vumba Nyasulu, ds. Josehp Mwale, dr. Daniël de Wet, Rodrick Phuka, ds. Isaac MJ Mabngo (Moderator CCAP Livingstonia Sinode) en ds. Henry Mwangolera.
PREDIKANTENUUS
Predikantspaar groet Weskus dorp
Na 37 jaar in die bediening, het NG Gemeente Langebaan op 31 Julie amptelik afskeid geneem van hulle predikantspaar Kobus en Ansa de Kock. Die gemeente vertel meer oor Kobus se pad saam met hulle.
"In 1982 is ds. Kobus vanaf Saldanha, waar hy tydelik by die Militêre Akademie was, na Hopefield beroep. In 1985 is hy georden as leraar van Hopefield met Standplaas Langebaan. Die gemeente was Kobus se tweede gemeente nadat hy sy teologie-graad voltooi het. Hy het die amp op 23 Oktober 1988 hier opgeneem. In 1988 het die Langebaan-wyk, wat deel was van NG Kerk Hopefield, afgestig met 244 lidmate met ds. Kobus as eerste leraar. In die negentigerjare het die Weskus ongekende groei beleef en talle opwindende uitdagings aan die jong gemeente gebied. In die tyd is ‘n tweede kerk en groot saalgebou opgerig.    
Ds. Kobus het ‘n lang pad van omgee en liefde met Langebaan-gemeente gestap en het ook so die breër gemeenskap beïnvloed. Talle jongmense sal met groot dankbaarheid terugdink aan die VCSV skoolverwisselingskampe vir graad sewe leerders wat hy vir 26 jaar by die Waterval kampterrein naby Tulbagh aangebied het. Wanneer iemand so lank in die bediening was, is daar baie stories om te vertel, baie lewens wat aangeraak was en ‘n nuwe pad met die Here begin stap het. 
Hoewel ds. Kobus afskeid neem as leraar, is dit beslis nie totsiens nie. Hy en sy vrou gaan aanbly in Langebaan. Hier het hy baie lidmate se kinders gedoop, troues en begrafnisse gehou en mense deur hul grootste krisisse en nood bygestaan. Op die manier het ds. Kobus se omgeehart ook oorgedra na die gemeente en gemeenskap. Ons dank die Here vir Sy genade oor ons leraarspaar en die gemeente." Kobus se afskeidspreek is aanlyn beskikbaar.
Santie Nel van NG Gemeente Harmonie in Kimberley, is op 1 Julie 2022 bevestig as nuwe leraar van die gemeente.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Diensleraar, Wellington
In biddende afhanklikheid van die Here nooi Wellington Moedergemeente gelegitimeerdes om teen 31 Augustus aansoek te doen vir die pos as voltydse leraar/diensleraar van die gemeente. Die ideale kandidaat word beskyf as iemand wat energiek en passievol is vir God en werk met ‘n koninkryksperspektief. Toepaslike kennis en ervaring van gemeentewerk met ‘n spesifieke passie en liefde vir die jeug word vereis. Verdere vereistes sluit goeie interpersoonlike vaardighede, kreatiwiteit, toekomsgerigtheid en die vermoë om in spanverband te funksioneer. Lees die volledige advertensie hier
Orrelis, Drakenstein
In Drakenstein-gemeente in die Paarl het musiek nog altyd ’n belangrike rol gespeel. Hulle glo musiek beklee ’n integrale plek in die erediens om ’n ontmoeting met God en medegelowiges aan te help en te versterk. Die ideale kandidaat vir hierdie pos moet oor die nodige kwalifikasies en vaardigheid vir gemeentebegeleiding met pyporrel en/of klavier beskik.
Die gemeente kom uit ’n brugproses en wil opnuut weer ’n musiekbediening/ begeleidingsspan in die gemeente vestig.  Die aangewese kandidaat moet in staat wees om hierdie proses te koördineer en te bestuur. Die sluitingsdatum is 19 Augustus om 12:00. Klik hier om meer te lees.
Smartstart club coach, Bellville
Smartstart is recruiting for a club coach based in Bellville servicing Tygerberg, Ravensmead, Strand and Kuils River. They are looking for self-motivated and driven people to be SmartStart coaches. Ideally you should be in possession of a National Senior Certificate, at least a year’s experience in a coaching/mentoring/facilitation role and/or a management/coordinating role, three years’ experience of ECD or a closely-related sphere and a valid driver’s license and own transport. The ideal candidate possesses the ability to motivate and manage others effectively, problem-solving skills and should be able to work independently. Click here to read the full advert. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Kerkbode het 'n mooi storie met 'n video oor NG Gemeente Ysterplaat wat op verskeie maniere hul kerkgebou aanpas om kwesbare kinders in hul gemeenskap te help. Lees meer.
Depressie se verskillende vorme en die kerk as veilige hawe vir mense wat hiermee saamleef is die tema van jeugleraar ds. Ivor Swartz se nuwe boek, 'Vier die lewe! Leer dans in depressie' en sy gelyknamige TV-reeks vir VIA wat in September op die kassie gaan wys. Lees meer daaroor hier.
ALGEMEEN
Raakgelees: Paramedici kan dalk binnekort vlieg
'n Baanbrekende Britse maatskappy Gravity Industries poog om vir paramedici superkragte te gee met ‘n stralerpak (jet pack) wat spesiaal ontwerp is vir reddingspogings in afgeleë gebiede. Die produk is tans in die derde fase van ontwikkeling en die organisasie hoop dat hierdie stralerpak binnekort deur nooddienste gebruik sal kan word om meer lewens te red.
Gravity Industries-stigter en hooftoetsvlieënier Richard Browning het self die stralerpak getoets deur vanaf ‘n valleibodem op te vlieg na 'n gesimuleerde ongevalle-terrein wat ongeveer 25 minute sou neem om te voet te bereik. Die Gravity Jet Suit kon daardie afstand in net 90 sekondes aflê. Kyk gerus na hierdie video om hierdie innoverende produk in aksie te sien. 
Foster Conference 2022
Badisa and KinCulture will be hosting the South African Foster Conference 2022 on Saturday 20 August and would like to involve the broader faith community. A broad spectrum of topics in the fostering and/or alternative care arena will be covered. All potential and existing foster parents, social workers, churches and any other practitioners working in the foster care environment in South Africa are invited to attend Register online now. Read the media release with details on the conference line-up and follow the event page on Facebook.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Hierdie Sondag is die negende van Koninkrykstyd en ook die begin van ons Seisoen van Barmhartigheid. In die sleutelteks uit Lukas 12: 32-40 vertel Jesus wat gebeur wanneer mense deur die Evangelie verander word. Volgens Woord en Fees gaan dit hier vir Jesus oor "wat werklik belangrik is en wat dit beteken om Christus heelhartig te volg. Dit gaan nie net daaroor om alles weg te gee en Jesus te volg nie. Jesus wil ons aanmoedig om ons harte oop te maak vir ander en te leef binne die werklikheid van die koninkryk van God."
Mag hierdie maand van barmhartigheid ook in elkeen van ons gestalte vind om 'n lewegewende verskil in ons gesinne, vriendekringe, werksomgewing, gemeentes en gemeenskappe te maak. Luister gerus hier na Graham Kendrick se Beauty for Brokenness.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.