Subscribe to our email list
 13 Mei 2016

Beste Leser
Pinkstervlamme
Pinkster 
Omdat Christus in julle is,
gee die Gees aan julle die lewe
op grond van God se vryspraak ..." (Rom 8:10)
SINODENUUS
1. NG Droogtehulp: Getuienis
Die NG Droogtehulp-fonds staan tans op sowat R3,5 miljoen. Een getuienis van uitkoms deur hierdie fonds - en God se werk in die harte van verskeie weldoeners - kan aangeheg gelees word.
Dis 'n verhaal van uitreik en hulp oor kilometers heen: van Riversdal-Wes en Worcester-Vallei tot by die De Wets in Wesselsbron/Odendaalsrus.
Dankie as jy deel is van hierdie inisiatief. Bid asb steeds vir opsies en uitkoms vir ons boerderygemeenskap; die uitwerking van die droogte kring wyd en ver.
Wian, Leroux, Anlie en Willie de Wet
Wian, Leroux, Anlie en Willie de Wet
Charl Stander
2. Moderamen se Besluite
Die skriba van die Wes-Kaapland Sinode, Charl Stander, het vroeër dié week aan predikante en gemeentes geskryf om enkele besluite wat tydens die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland se Maart 2016-vergadering geneem is, uit te lig.
Hy het onder meer herinner aan die besluit oor die vestiging van 'n sentrum vir spiritualiteit - met gepaardgaande ondersoek na die herontwikkeling van die Samuel-gebou op Wellington (foto onder).
Onthou gerus ook dat die noemnaam van die sinode voortaan weer die Sinode van Wes-Kaapland sal wees, trewyl die amptelike formele naam steeds NG Kerk in Suid-Afrika is.
Oor selfdegeslagverbintenisse moedig die moderamen deernisvolle gesprek aan - as geleenthede waar lidmate met uiteenlopende standpunte oefen om begrip vir mekaar te ontwikkel, mekaar respekteer en mekaar se goeie trou aanvaar.
Kontak Sanet by skriba@kaapkerk.co.za of 021 957 7155 met navrae.
Samuelgebou
3. Getuienisaksie
3.1 "Volhard in Gebed" vra CCAP Harare Sinode

Die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP) Harare Sinode het verlede week, van 4 tot 8 Mei, hul twee-jaarlikse sitting buite Harare gehou. Kobus Odendaal, verantwoordelik vir Getuienisaksie se Taakspan Afrika Ekumene, was daar en het 'n groeteboodskap namens ons NG Kerk-familie oorgedra. Lees meer ... 
CCAP Sinode Mei 2016
Vlnr voor: Moderator ds P Chirongo, General Secretary ds L Boloma,
Vice General Sectretary ds K Chipata.
Agter oudl M Bonomali, Vice Moderator ds A Malemelo, Kobus Odendaal,
aktuarius ds T Sefa en besoeker van CCAP Livingtonia ds M Harawa
3.2 Hefsiba se 10e Gradeplegtigheid
Ivan Stevens, sielkunde-dosent van Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys in Mosambiek, het laat weet dat hulle onlangs hul tiende gradeplegtigheid te Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek gehad. Lees meer van hierdie luisterryke geleentheid: klik hier.
Hefsiba Tiende Gradeplegtigheid
Vrouebediening-logo
4. Vrouebediening Wes-Kaap: Nuwe logo!
Interaksie, die kwartaallikse nuusbrief van Vrouebediening, berig in hulle jongste uitgawe: "Ons nuwe Vrouebedieningslogo is onlangs deur die taakspan aanvaar as die amptelike logo van die Vrouebediening van die sinode."
Vir meer inligting oor Vrouebediening, maak kontak met Ankia du Plooÿ by 021 882 8286 of ngkvroue@sun.ac.za
Vrouebediening logo betekenis Interaksie intekening
5. Seminarium - 'n Bonus! 
Daar is vier vennote wie se studente tans by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch opgelei word, nl die NG Kerk, VGKSA, Anglikaanse Kerk en die Presbiteriaanse Kerk - en nou 'n splinternuwe vyfde vennoot in die Volkskerk van Afrika! (berig elders)
Om naas die akademiese program aan bedieningsvorming aandag te gee, het die Seminarium ('n gesamentlike werksaamheid van die NG Kerk en VGKSA) sowat vyf jaar gelede tot stand gekom: vir die praktiese, geestelike en roepingsvorming van teologiese studente. Dit behels onder andere:

• Bedieningsvorming

• Persoons- en Leierskapsontwikkeling

• Roepingsverstaan
• Geloofsidentiteit

• Bedieningsvaardighede
• Missionale Kerkwees!
Hieroor vertel Eddie Orsmond, seminarium bestuurder van die NG Kerk-program, meer. Klik gerus hier om te luister.
6. Aftrede-werkswinkel in Wes-Transvaal
Deon BruwerPredikant in Sinodale Diens gekoppel aan die Diensgroep Armoede en Sorg, het onlangs die "Gelukkige Aftrede/Retire Smart"-werkswinkel naby Krugersdorp in die Sinode van Wes-Transvaal aangebied.
Die kursus help leraars en hulle gades met veel meer as net finansiële voorbereiding; aspekte van persoonlike voorbereiding, soos 'n nuwe identiteit en lewensdoel, word ook aangespreek.
Deon het verder gehelp met die ontwerp van unieke reisplanne vir hierdie opwindende nuwe lewensfase.
Vir belangstellendes: dieselfde kursus word van 11-13 Oktober op Stellenbosch aangebied. Dit sal Deon se laaste aanbieding wees voordat hy self in Januarie 2017 aftree. Belangstellendes kan by Kenny Raats (021 957 7104) meer inligting kry.
Deon Bruwer
Deon Bruwer (voor) besig met die aftrede kursus
Innige simpatie
ALGEMEEN
1. Innige simpatie: Ds LN Giliomee
Ons innige simpatie met die dood van ds Louis Nigrini Giliomee (92), gebore op 7 Januarie 1924 en oorlede op 5 Mei 2016. Opregte meegevoel aan sy eggenoot, mev Johanna Giliomee, en hulle kinders, Jurie en Emsie, kleinkinders en agterkleinkinders.
Ds Giliomee is in 1952 in die NGKA Lichtenburg georden, waarna hy ook in die NGSK Joubertina, NG Gemeente Riviersonderend en NG Leipoldtville in die bediening was. Hy emeriteer in 1989 en het vir jare op Ashton gewoon. Kollegas en vriende beskryf hom as "sout van die aarde, 'n dierbare, diepgelowige en mentor".
'n Gedenkdiens word vir Vrydag 20 Mei by Suideroord Tehuis in Bredasdorp beplan.
2. Volkskerk: Teologie-studente ook by US opgelei
Spesiale nuus! Prof De Villiers en dr Donald Katts, moderator van die Volkskerk van Afrika, het op Woensdag 10 Mei 2016 'n ooreenkoms namens die US en die Volkskerk onderteken om die Volkskerk van Afrika as 'n kerklike vennoot van die US te ontvang om studente van dié kerk by die Fakulteit Teologie as predikante op te lei. Die Fakulteit het reeds ooreenkomste met die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Presbiteriaanse Kerk en die Anglikaanse Kerk gesluit. Lees gerus op die universiteit se webwerf verder.
Volkskerk en US ooreenkoms
Dr Donald Katts, moderator van die Volkskerk van Afrika, en prof Wim de Villiers, rektor en vise-kanselier van die US,  met prof Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie, wat toekyk.
(Foto: Anton Jordaan)
3. Geloofsleiers: Aksie teen Geweld in Afrika
Meer as 40 internasionale geloofsleiers het hierdie week in Etiopië vergader vir 'n aksieplan om aanhitsing tot geweld in die Afrika-konteks te bespreek. Daar is gefokus op praktiese optrede om die uitwerking van haatspraak teen te werk.
Die Wêreldraad van Kerke (WRK) se direkteur van Internasionale Aangeleenthede, Peter Prove, het die rol van geloofsleiers beklemtoon: "
The message of religious leaders and actors must be one of hope; hope for peace, hope for justice, hope for community.”
Lees gerus hier meer oor die stappe om aanhitsing tot geweld teen te werk.
WCC in Addis Ababa
Deelnemers aan die vergadering in Addis Ababa, met dr Mary-Anne Plaatjies van Huffel
(VGKSA en die WRK se president vir Afrika) links voor sigbaar.
4. The Murray-Tutu Conversation
Hierdie jaarlikse gesprek met wenners van die prestigeryke Andrew Murray-pryse, vind vanjaar op 20 Mei om 13:00 by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch plaas. Klik op die grafika onder vir meer inligting. Bespreek by laurie@christianspirit.co.za.
Murray-Tutu Conversation
5. Bybelgenootskap van SA: Leierskapsontbyt
Die Bybelgenootskap van SA (Wes-Kaap) het kerkleiers en sakelui op Vrydag 6 Mei by 'n leierskapsontbyt by die US Bestuurskool ontvang.
Die spreker was ds Nelis Janse van Rensburg, NG Algemene Sinode en Wes-Kaapland Sinode se moderator. Hy het die tema "Bybelse integriteit vir leiers in SA" hanteer. Belangstellendes kan sy toespraak hier lees. 
Ondersteun die werk van die Bybelgenootskap van SA - klik hier.
Leierskapsontbyt
Vlnr: Ds Peter Grove (Moderator VGKSA Kaapland Sinode), ds Rodney van Wyk (Voorsitter van die Raad van Direkteure, Bybelgenootskap van SA),
ds Nelis Janse van Rensburg, ds Dirk Gevers (Uitvoerende Hoof, BSA)
Kobus Anthonissen
6. Energieke Geloof!
Dr Kobus Anthonissen bied op Saterdag 4 en 11 Junie vanaf 08:30 by die NG Gemeente Oostersee 'n kursus aan oor ENERGIEKE GELOOF.
Hy was vir jare hospitaalleraar by die Tygerberg en Karel Bremerhospitale asook dosent by die teologiese fakulteite van Stellenbosch en Wes-Kaapland. Hy bedryf 'n spreekkamer en is 'n skrywer van verskeie boeke. Lees onderaan meer oor hierdie VBO-geakkrediteerde kursus en rig navrae aan Karen by 021 939 3830. 
HospiVision-logo
7. HospiVision: Spiritual Care & Counselling for the Sick
HospiVision provides information about a short course in spiritual care and counselling for the sick. The course is offered over three days, from 26-28 May, at the Tygerberg Hospital.
Enquiries and registration done directly with HospiVision at 021 931 0311 or email wanda@hospivision.org.za. Click here for more information.

Kalender
8. Kerkkalender vir 2017
Na aanleiding van skribas wat reeds met 2017 se kalenders besig is (en navrae wat ons hierdie week ontvang het) - die lys van vakansiedae en kerklike fees- en biddae vir 2017 is reeds op www.kaapkerk.co.za beskikbaar: klik links by Kerkkalender. Kry die Engelse inligting hier.
'n Skakel na 2017 se amptelike skoolkalender vir openbare skole is ook op die sinode se webblad.
Sterkte aan ons skribas met die kalenders se samestelling!
VGKSA Villiersdorp
9. VGK Villiersdorp Soek Kerkklok!
Die VGKSA gemeente in Villiersdorp vier sy 75ste bestaansjaar met feestelikhede wat reeds op 27 April begin het.
Die gemeente is op soek na 'n kerkklok, en verneem graag of daar 'n gemeente is wat een beskikbaar het tot diens van die koninkryk.
Kontak asb vir Johan Wagenstroom by wagenstroom@telkomsa.net of skakel hom by 082 847 2225 om hiermee te help.
Seënwense aan die gemeente, kerkraad en elkeen betrokke met hulle spesiale vieringe toegewens!
Prieska Pelgrimstog
10. Prieska Pelgrimstog
Tydens die langnaweek van 29 April tot 2 Mei het die NG Gemeente Prieska weer 'n pelgrimstog aangebied. Die reis het in Prieska begin en in Niekerkshoop geëindig – ’n afstand van 75km.
Tydens die reis is daar (letterlik) gewandel in die Woord. Die fokus teks vir 2016 was Matteus 6:25-34. 'n Video oor die pelgrimstog is hier vir belangstellendes. (Met dank aan Noord-Kaap eNuus van 10 Mei 2016)
Volmoed
11. Raakgelees
Geloof in Lewe én Dood

"Jy’t nie ’n idee hoe groot die klub is van ouers wat kinders verloor het nie,” sê John de Gruchy, een van Suid-Afrika se mees gevierde teoloë, terwyl hy ver kyk oor die Overberg se Hemel-en-Aarde-vallei met sy slingerende, glansryke R320-wynroete.
Enigeen wat hierdeur aangespreek is, iets hiervan beleef het, kan Rachelle Greeff se onderhoud met prof John de Gruchy hier lees. (Met dank aan Netwerk24)
Vergadering
12. Hoe lyk 'n Effektiewe Kerkraad?
Hoe lyk en werk 'n suksesvolle kerkraad of gemeenteraad? Is daar eienskappe wat jy uit ondervinding in 'n effektiewe kerkraad aantref?
In die volgende artikel word onder meer genoem dat 'n effektiewe kerkraad die Heilige Gees vertrou, dat hulle glo die Here is aktief betrokke in die wêreld, in hulle gemeente en in hulle vergaderings. Hulle bid vir wysheid - en handel dan in die geloof. Lees hier en dink gerus watter eienskappe jy aan 'n effektiewe kerkraad sal toedig. (Dankie aan kerkrade waar dinge wérk!)
13. Vir Kunsliefhebbers: Kerkbode se "Kerk en Kuns"
Kunsliefhebbers het nou nog 'n rede om gereeld die splinternuwe e-Kerkbode te lees! In 'n interessante reeks artikels kyk André Bartlett na kunswerke vanuit die Christelike kunstradisie. Die skilderwerk Metropollis (Groot Stad) is die jongste wat bespreek word.
Metropolis
Twitter Facebook YouTube
Jerusalem
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Stellenberg
Bybelskool: Ontdek die ou stad van Jerusalem
Die NG Gemeente Stellenberg beplan om in vier opeenvolgende weke deur die ou stad van Jerusalem te reis. Die bekende IMAX-rolprent oor Jerusalem wat deur National Geographic vervaardig is, sal vertoon word, asook die bekende dokumentêre rolprent deur Discovery “Jerusalem City of Heaven”. Gaan beleef waar Bybelse gebeure in die stad afgespeel het en hoe die stad vandag deur drie godsdienste gedeel word.
Aanbieder: Marius Breytenbach. Koste: R20 donasie vir die vier geleenthede.
Datums en tye: Maandagaande (30 Mei, 6, 13 en 20 Junie) om 19:00 in die saalkompleks. Inskrywings: Karin Barter by 021 976 4519 of karin@stellenberg.co.za.
2. Herold Embrace Ontgin Ongebore babas se Potensiaal
Herold Embrace het aan die einde van April 'n afskop-sessie gehad, waar vroue uit die gemeenskap bymekaar gekom het om toegerus te word om swanger ma's by te staan. Hierdie geleentheid is bygewoon deur sewe vroue uit Herold-gemeente en die VGK De Villiers-gemeente, asook die plaaslike kliniek se suster en personeel.
Gert Nothnagel (NG Herold) vertel: "Die sessie is gelei deur 'n dame vanuit die groter Klein Karoo-gemeenskap, wat ons gehelp het om die gesprekvoering en verhoudinge wat gebou moet word, beter en meer oordeelkundig te doen. Die projek is daarop gerig om ma's wat bewus word van 'n swangerskap, by te staan en te ondersteun ter wille van die potensiaal van die ongebore kind." Hier is meer interessante inligting ...
Herold Embrace
Vlnr Deidre Roux, Louise Joubert, Judy-Marié Smith (fasiliteerder), Hester September, Jacoba Scheepers, Monica Heroldt, Dora Bruiners en Nicolene Boukes 
3. NG Gemeente Parowvallei-Oos
3.1 Comrades-diens - 22 Mei

Parowvallei-Oos het op 22 Mei om 09:30 al die vyfde Comradesdiens onder leiding van Theo Swart, self 'n deurwinterde (Comrades)atleet met 27 wedlope op sy kerfstok! Verlede jaar was daar meer as 120 atlete en baie van hul gesinne. Hulle hoop om vanjaar sommer baie meer atlete by die tweetalige diens te ontvang, en gesellig met heerlike koffie en baie koeksisters onder die buite tent te kuier. Almal welkom!
Die gemeente se adres is Markstraat 168, Parowvallei; sien die kaart op hul webwerf - klik hier. Kyk net (onderaan) watter gesellige groep was die atlete in 2015 saam!
Comrades 2015-diens
3.2 Verpleegsondag - 15 Mei
Parowvallei-Oos het op Sondag 15 Mei om 09:30 Verpleegsondag (na aanleiding van Verpleegstersdag op 12 Mei). Hulle nooi alle verpleegpersoneel om in uniform die diens (en nagmaal) by te woon. Spesiale aandag word tydens die diens aan hulle gegee - in 2015 was daar ongeveer 40 verpleegpersoneel in uniform.
"Verpleegpersoneel is welkom ook hulle familie saam te bring om na die tyd saam met ons verversings te geniet," skryf Theo Swart.
NG Parowvallei-Oos Verpleegsondag
Vredelust Huwelikseminaar
Huwelikskursus
5. NG Durbanville: Huwelikskursus
'n Herinnering: Durbanville bied in Mei-maand 'n huwelikskursus aan vir paartjies wat wil trou of onlangs getrou het. 
Die gratis kursus begin op 25 Mei en word Woensdae van 19:00 - 21:00 in die gemeente se Jeuglokaal (hoek van Kerkstraat en Weyerslaan, Durbanville) aangebied. 
Belangstellendes kan hier meer inligting kry en die inskrywingsvorm is hier. Almal is welkom!
6. Houtbaai Gebedstap
In HoutbaaiGemeente is 'n spesiale labirint (foto onder) beskikbaar vir diegene wat dit in die Pinkstertyd (en andersins) as deel van 'n gebedstap en meditasie wil gebruik. Die labirint is oop vir die publiek tussen 09:00 en 16:00.
"Our purpose is to find out what our gifts are, the goal is to see where we can distribute it to a world desperate for healing," skryf hulle op hul Facebook-blad.
Houtbaai gebedstap
7. NG Gemeente De La Bat vier 40 Jaar!
Die NG Kerk De la Bat in Loumar, Bellville het op Dinsdag 10 Mei sy 40ste bestaansjaar gevier, maar het die vieringe Saterdag met 'n basaar en Sondag met 'n gedenkdiens begin. De la Bat is die eerste kerk vir dowes in Suid-Afrika wat hoofsaaklik dowes bedien.
"Ons gebruik gebaretaal en 'n stem vir die tolke, besoekers en horendes tydens ons dienste en het tans 230 lidmate, van wie 183 dowes is. Die kerk is in 1976 deur ds Schalk Viljoen gestig en tans is dr Jan Nieder-Heitmann die predikant en ek los af wanneer ek gevra word," het dr Rocco Hough gesê. Lees gerus hier, met dank en erkenning aan Tygerburger van 11 Mei 2016.
Di Rauch, Viljoen en Nieder-Heitman
Die drie predikante wat sinoniem is met die NG kerk De la Bat in Loumar is van links: dr Rocco Hough, ds Schalk Viljoen (stigter) en ds Jan Nieder-Heitmann
Rafealla en Gideon Basson
PREDIKANTENUUS
1. Garies groet die Bassons
In Garies word op Sondag 15 Mei afskeid geneem van Gideon en Rafealla Basson, predikantspaar. Hieroor skryf Gideon soos volg:
"My aftrede is soos my roeping: dit was nie beplan nie. Ek verlaat my geestelike moeder na bykans 30 jaar waarin ek drie gemeentes bedien het: La Rochelle (Bellville) - 3 jaar, Leipoldtville - 24 jaar en Garies 3 jaar.
Die logistieke en geografies uitdagings in die uitgestrekte gemeente van Garies wil nie meer voetjie klop saam met my gesondheid nie. Ons verlaat Garies met 'n swaar hart; ons het 'n ongelooflike bediening hier gehad. Miskien is een van die redes dat ek self 'n Namakwalander is en werklik met die gemeente kon identifiseer. 
Ons is besig om 'n huis te bou op Lambertsbaai en gaan daar woon. Ek gaan eers vir 'n jaar lank sabbatsverlof neem. Ek en Raffealla sien daarna uit om in ons eie huis te woon, nader aan die kleinkinders te wees en hulle te bederf en verseker om ook 'n naweek te hê vir onsself en o ja, as die kerkklok op 'n Sondagmôre lui, te weet hy lui nie vir jou nie."
Seën vir die aftrede toegewens!
Johan Swanepoel
2. Napier groet Johan Swanepoel
Op Sondag 17 April het die NG Gemeente Napier die geleentheid gehad om na die "afskeidspreek" van ds Johan Swanepoel te luister - 'n dag vol emosie vir die gemeente en Johan, wat oor 12 jaar met sy nederige diensbaarheid 'n besondere verbintenis met die Napier-gemeente en gemeenskap opgebou het.
Johan is op 4 April 2004 in die VG Gemeente Napier bevestig, waarvan nege jaar as tentmaker. Hy was ook vir ses maande as hulp en aflos betrokke in die NG Gemeente Napier toe hulle leraarspos vakant was.
Hy beplan om steeds voort te gaan om op 'n beskeie manier 'n instrument in God se koninkryk te wees. Seën op jou pad, Johan!

Spaar water
EKOLOGIE
Drop-A-Block en Spaar Water!
Met die ekologie wat ons besliste aandag vra, moet die kerk en gemeentes help om mense bewus te maak van maklike maniere om water te bespaar.
Een so 'n inisiatief is die Departement van Water en Sanitasie se Drop-A-Block veldtog, waardeur 'n plastiek blok in toilette se spoelbak geplaas word om watergebruik te verminder. Klik hier en kry selfs meer waterbesparingswenke - deel dit gerus met lidmate of ander belangstellendes. 
2. SAFCEI Fondsinsamelingsontbyt
Van die Southern African Faith Communities' Environment Institute (SAFCEI), waarvan die NG Kerk 'n geaffilieerde lid is, ontvang ons die versoek om inligting rakende hulle fondsinsamelingsontbyt bekend te maak.
Hoewel die plasing hiervan nie noodwendig impliseer dat die Wes-Kaapland Sinode die veldtog teen kernkrag ondersteun nie, kan dit - met die NG Algemene Sinode se Taakspan vir Ekologie wat besig is om 'n standpunt oor kernenergie en hernubare energie vir die Algemene Sinode van volgende jaar voor te berei - 'n goeie geleentheid wees om jou te vergewis van die argumente vir en teen die saak. Klik onder of bespreek hier aanlyn. Navrae: info@safcei.org.za of  072 621 2131.
SAFCEI Fundraiser
PUBLIKASIES
1. Junie se LiG!

Lees in die nuwe LiG - met Corlea Botha op die voorblad:
Corlea - ek en my ma droom saam
God in ons - so kan jou kind die vrug van die Gees leef
Dít sê die Bybel oor die Heilige Gees se gawes
Maklike geskenke uit jou kombuis
Gr R-juffrou vir Blindes - hand in die donker
Help! My volwasse kind woon steeds by ons ...
Leser vertel: My ma, die alkoholis
En baie meer!
Teken hier in om LiG gereeld te ontvang.
Alpha
2. e-Kerkbode: Alpha Profeties vir Versoening
Hoe kan die kerk help om die evangelie te bring op 'n manier wat ook gemeenskappe soos die in Gugulethu op die Kaapse vlakte raak? Alpha meen dat hulle met hulle nuwe Alpha-filmreeks 'n instrument het wat dit kan doen.
Die Anglikaanse aartsbiskop Thabo Makgoba stem saam dat Alpha 'n betekenisvolle profetiese stem is wat kan help om die sosiaal-ekonomiese toekoms van die land te verseker. Lees gerus hieroor in e-Kerkbode. Altyd vars en aktuele kerknuus!
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor basaars, feeste en vieringe! Hou die sinode se Facebook dop vir meer nuus. Dankie aan elkeen wat help reël, bak en ondersteun!
NG Prince Alfred's Hamlet
NG Prince Alfred's Hamlet Basaar
023 313 3694
Alta du Toit Nasorg Teeparty
Alta du Toit Nasorg Teeparty
021 913 2106
Badisa-logo
VAKATURES
Badisa Huis EJ Appies en Immanuel Sentrum  
Huis EJ Appies en Immanuel Sentrum vir Gestremdes in Steinkopf is programme van Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met 'n positiewe lewensingesteldheid teenoor ouer persone en gestremdes, word voor 27 Mei vir hierdie betrekking as bestuurder ingewag. Lees meer.
Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Prof Nico Koopman
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Prof Nico Koopman

Vreemde en onvervreembare menswaardigheid


Ons menswaardigheid kan nie van ons vervreem word nie, want dit het 'n vreemde, hemelse, andersoortige oorsprong.
Ons menswaardigheid is Trinitariese menswaardigheid; dit kom van die drie-enige God. 
Ons menswaardigheid kom van die hemelse Vader/Moeder/Ouer wat ons verkies, ontwerp, geskape en geroep het, en wat ons versorg en vir ons voorsien.

Ons menswaardigheid kom van die Seun, ons Here Jesus Christus, wat ons vergeef en verlos, versoen en ons wonde verbind. 

Ons menswaardigheid kom van die Pinkstergees, wat ons regverdig, vernuwe en heilig, vervolmaak en vergesel na God se volmaakte toekoms; die Gees wat aan die werk is om die menswaardige lewe wat Christus vir ons bewerk het, tasbaar te maak.

In Pinkstertyd vier, onthou en verlang ons die lewe van menswaardigheid op spesiale wyse, en bid, werk en wag ons daarvoor op die Heer.

* * *
Prof Nico Koopman, waarnemende viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die Universiteit van Stellenbosch, is die voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie aan die US. 

Rooi hart
U het alleen die meulsteen afgerol
van hierdie hart, dat weer die helder bron,

soos vroeër, stralend-blink en vreugdevol

kon opstoot en verwaai in wind en son.


(Uittreksel uit "Die liefde van God" - WEG Louw)
Geseënde Pinksterfees.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za