Lees deur internet, klik hier >>
19 Maart 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
VrydagNuus vraelys
Elke nou en dan vra ons VrydagNuus-lesers om terugvoer te gee oor hulle leeservarings. Wat geniet julle in elke uitgawe, waarvan sal julle meer wil hoor?
Die week het ons 'n kort vraelys om jou mening te peil. Almal se menings en voorstelle is vir ons belangrik.
Klik asseblief hier om die vraelys te voltooi. 
Oudtshoorn skud weer vere reg
Die uitdagings van COVID-19 is niemand gespaar nie, en so ook nie vir Arbeidsbediening op Oudsthoorn nie. Die goeie nuus is dat hulle nou weer sedert Maart volstoom aan die gang is en hulle besoekpunte ‘van aangesig tot aangesig’ kan bedien. "Ons handhaaf steeds goeie verhoudinge met die gemeentes van die verskillende denominasies en besighede hier in Oudtshoorn," vertel André van Staden, geestelike werker van Arbeidsbediening vir die afgelope dertien jaar. "Arbeidsbediening is baie bekend hier, aangesien dit alreeds sedert die 1990's hier bestaan." Mag hierdie bediening in alle opsigte tot seën wees vir julle gemeenskap. Lees meer hier
Waarom glo ons?
Maak by voorbaat 'n aantekening in jou dagboek vir die Sentrum vir Publieke Getuienis se volgende gesprek rondom die tema Waarom glo ons? Die gespreksgeleentheid vind op Maandag 19 April by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington plaas. Kontak spg@kaapkerk.co.za vir verdere navrae.
Registrasie van huwelike
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis laat weet dat die registrasie van huwelike nou weer by Binnelandse Sake plaasvind. "By enkele kantore is daar egter steeds haakplekke waar huweliksbevestigers onaanvaarbaar lank moet wag. Dit is veral by kantore waar die registrasie van sterftes en huwelike by een toonbank moet plaasvind. Daar het die afgelope week weer ‘n persoonlike gesprek met die senior direkteur vir die Metro en Overberg in Bellville plaasgevind. Die onderneming is weer gegee om aparte toue vir sterfte- en huweliksregistrasies te skep. Onthou dat deel van die wag buite op die sypaadjie ook te doen het met beperkte aantal mense wat weens COVID-regulasies binne die gebou toegelaat word."
Indien die situasie nie spoedig verbeter nie, is jy welkom om in verbinding te tree met die Sentrum vir Publieke Getuienis
URCSA webinar
URCSA Cape Regional Synod's Moderamen and Congregational Ministries invite you to join a webinar about WHAT DO I HAVE TO KNOW ABOUT VACCINES on their Facebook page here on Tuesday 23 March at 19:00. They will have a panel of experts in this field, who will give information on the topic of COVID-19 vaccination and will be available to answer questions. The panelists are:
  • Dr Karel Wildschut (MBChB MRCPsych) Old Age Psychiatrist and Clinical Director for Older Peoples Services, Cambridgeshire, and Peterborough NHS Foundation Trust in the U.K.
  • Prof Thozama Dubula, Head of the Department of Internal Medicine and Pharmacology, Walter Sisulu University, and researcher at the Nelson Mandela Academic Hospital.
  • Dr Llewellyn MacMaster, Moderator of URCSA Cape Regional Synod.
Contact: Rev Hendry Tromp at scribasynodi@vgksa.org.za for more information.
Bid saam op Menseregtedag
DinkJeug doen 'n beroep op alle gemeentes en lidmate om hierdie jaar saam met hulle mede-Suid-Afrikaners op Menseregtedag vir mekaar te bid. “Bid vir immigrante, vlugtelinge, slagoffers van geweld, weerlose kinders, mense wat uitgebuit word, haweloses, mense sonder ID’s, minderheidsgroepe, mense met gestremdhede en enige ander wat voel hulle word nie beskerm nie. Help ons, Here, om te luister, mense raak te sien en vir hulle ‘n stem te wees.” 
Mag ons op hierdie Menseregtedag mekaar liefhê deur mekaar raak te sien, mekaar te vier en mekaar te help.
CBR: soos ’n vars briesie
Verlede week het die opvolgwerkwinkel van die Kontekstuele Bybellees (Contextual Bible Reading: CBR) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington plaasgevind. ’n Groep van elf predikante het oor drie dae ’n CBR-studie oor die uitdaging van middelafhanklikheid op ons gemeenskappe gedoen. Dit was die eerste tema wat hulle tydens die eerste lopie in November geïdentifiseer het. 
Die werkswinkel is gefasiliteer deur Babalwa Sifuba en Moses Baartman, wat bygestaan is deur PSD, Stephen Pedro. Die idee was om in die lig van ’n bepaalde teks saam te luister na wat die Bybel te sê het oor hoe ons middelafhanklikheid, die impak wat dit op ons gemeenskappe het en hoe ons die probleem in die veilige, liefdevolle ruimtes van ons geloofsgemeenskappe kan aanpak.
Hierdie groep predikante sal die CBR wat nou saamgestel is as riglyn gebruik om soortgelyke Bybelstudies met ’n groep in hulle plaaslike gemeentes te doen. Hulle sal dit dan ook toets aan aksieplanne van verskillende gemeentegroepe sodat hulle ’n weldeurdagte aksieplan aan die VGK Streeksinode Kaapland kan voorlê. Hierdie groep sal CBR-implementeerders help met verdere opleiding asook die ontwikkeling van CBR-materiaal. Lees meer hier
Foto: Ds. Babalwa Sifuba en die groep verlede week in Wellington.
EKOLOGIE
MASKERS - 'n nuwe uitdaging
Weggooibare maskers het nou ook, soos so baie ander verbruikersitems, ‘n ekologiese krisis begin veroorsaak. Mense gooi dit nie op ’n bedagsame manier weg na gebruik nie en dit beland onder andere in oseane en ander eko-sensitiewe areas. So, wat kan dan gedoen word om hierdie bul so gou moontlik by die horings te pak?  Lees Samantha Chamberlain van die NG Gemeente Suider-Strand se eko-wenk hier.  
Wêreldwaterdag - 22 Maart
Wêreldwaterdag is in 1993 deur die Verenigde Nasies begin. Hierdie inisiatief plaas die soeklig op die noodsaaklikheid van water as 'n lewegewende hulpbron. Daar word spesifiek gekyk na die volhoubare bestuur van varswaterbronne.
Vanjaar word hierdie belangrike dag digitaal gevier en mense word aangemoedig om op sosiale media te deel hoekom water vir hulle belangrik en waardevol is. Gebruik die hutsmerke #WorldWaterDay en #Water2me om deel te wees van hierdie veldtog. 
Met die knellende droogte wat nog in groot dele van ons land heers en beperkte toegang tot vars water in sommige areas, behoort hierdie tema na aan die hart van Suid-Afrikaners te lê. Lees hier verder.
#Fast4Earth
Clergy worldwide have long been concerned with environmental issues. This has been the foundation for the #Fast4Earth pledge campaign.
"From extreme weather to food shortages, all of us are affected. We encourage you to take a pledge to care for your body, mind, spirit, community and planet for the remainder of Lent. Let’s strive to uphold the integrity of our planet and sustain and renew the earth."
Click here to download the #Fast4Earth calendar for daily guidelines on caring for the creation.  
GEMEENTENUUS
Op Blouberg se Rooi Bank 
Blouberg Maatskaplike Dienste en Bloubergstrand-gemeente 
gesels weekliks saam oor emosionele, geestelike en fisiese uitdagings wat mense en gesinne in hierdie tye ervaar. Kenners soos maatskaplike werkers en predikante gee hulle opinies hieroor. Vir meer inligting, kontak thamar@ngkbloubergstrand.co.za.
Luister gerus hier na die onlangse podcast wat gaan oor hoe ons oor angstigheid dink en wat ons daaraan kan doen. 
Bestel Paassakkies by Suider-Strand
Die gemeente van Suider-Strand maak interessante Paassakkies om saam met vriende en familie oor Paasnaweek te geniet. Die sakkie bevat
'n bottel wyn/sap, tuisgebakte Paasbolletjies, ander lekkernye en geskenke en is gekoppel aan 'n saamdink en -geselsblad. Ingesluit is ook 'n spesiale Paastyd plekmatjie, wat ingekleur kan word. Kontak die kerkkantoor by 021 865 5076 vir bestellings. Voorraad is beperk, so bestel voor 28 Maart. 
54km in 54 dae 
NG Kerk Oostersee word vanjaar 54 jaar oud. Daar moet nuwe idees uitgedink word om fondse in te samel in hierdie pandemie waarin ons leef. Daarom het die gemeente dit goedgedink om ‘n virtuele stap aan te bied en mense aan te moedig om vars lug in te asem.
Die kostes vir hierdie uitdaging is R54 om die 54 km af te lê en jy het 54 dae om dit te doen. Wanneer jy die 54 km afgelê het, sal daar ‘n sertifikaat vir jou per e-pos gestuur word.
Die gemeente nooi graag almal uit om die stap saam met hulle te doen! Die uitdaging begin 27 Maart saam met hulle mini-basaar. Klik hier om aanlyn te registreer om deel te neem. Kontak gerus vir Tandi Viljoen by die kerkkantoor vir verdere inligting. 
Kenridge bou brûe
Om ander te help wat nood ervaar, is een van die kernwaardes van Kenridge-gemeente. Daarom het hulle handegevat met Sobambisana Community Development Projects, ‘n geloofgebaseerde organisasie wat fokus op educare, gestremde kinders en bejaardes, om saam een van hulle klaskamers op te knap. Die lidmate en personeel het heerlik saamgekuier deur die loop van die projek. “Wat ’n voorreg om brûe te kan bou met ‘n verfkwas en heerlike toebroodjies! Ons maak volgende kwartaal weer so!”
Klik hier vir meer foto’s van die projek. 
GEBEDSVERSOEK
PREDIKANTENUUS
Ontmoet prop. Bulelwa Soganga-Potwana
Proponent Soganga-Potwana was een van die VGK-proponente wat aan die einde van verlede jaar gelegitimeer het. Sy is gebore en getoë in die vriendelike stad Gqeberha (Port Elizabeth) in die Oos-Kaap, waar haar ouma aan moederskant veral ‘n groot rol in haar lewe gespeel het. Maar wie is hierdie interessante vrou wat ook baie graag lees, skryf en veral baie lief is vir reis? Lees hier meer oor haar.
Ons wens graag vir Louis van der Riet geluk met sy doktersgraad wat hy verwerf het. Klik hier om sy tesis te lees.
VAKATURES
Finansiële beampte: Stellenbosch
Die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen het 'n vakature vir 'n finansiële beampte. Posvereistes sluit rekenkundige opleiding en toepaslike ervaring in. Baie goeie rekenaarvaardighede sal ook as aanbeveling dien. Klik hier vir meer vereistes en volledige uiteensetting van pligte. Aansoeke sluit 24 Maart.
Kommunikasiebeampte: Heidelberg 
Die NG Kerk Heidelberg adverteer 'n halfdagpos vir 'n kommunikasiebeampte.
Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir alle kommunikasie in die gemeente,  skakeling tussen die gemeente, kerkkantoor, kerkraad en leraars asook administratiewe pligte in die kerkkantoor.
Goeie menseverhoudinge is van kardinale belang en die kandidaat moet 'n meelewende lidmaat van die gemeente wees.  Kreatiwiteit, rekenaarvaardighede en kennis van sosiale mediabestuur sal as aanbeveling dien. 
Kontak ds. Heinie Vermeulen vir meer inligting en stuur aansoeke met kort CV en motiveringsbrief aan heinz@mighty.co.za of quintin1nel@gmail.com.
Koster: Monte Vista
Die NG Gemeente van Monte Vista adverteer tans 'n kosterspos. Die geskikte kandidaat moet oor organisatoriese vaardighede beskik, herstelwerk en instandhouding kan doen en die klankstelsel tydens eredienste kan hanteer. Rekenaarvaardighede sal as sterk aanbeveling dien. Stuur jou aansoek na ngvista@telkomsa.net v
oor die sluitingsdatum op 23 Maart.

Admin/boekhouer: Darling
Huis Groeneweide in Darling is op soek na ‘n individu wat die pos van administratiewe beampte/boekhouer kan vul. Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge, goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en die vermoë om teen 'n hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis. Lees meer hier. Aansoeke sluit 26 Maart.
Ingeskrewe verpleegster: Parowvallei
Huis Martina in Parowvallei wag tans aansoeke in vir hierdie betrekking. Die aangewese kandidaat moet beskik oor goeie kennis van bejaardes en persone met gestremdhede, sterk leierseienskappe en ‘n bestuurslisensie. Registrasie by SARV as professionele verpleegkundige is noodsaaklik. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 25 Maart. 
Maatskaplike hulpwerker: Villiersdorp 
Die Beheerraad van Badisa Villiersdorp wag aansoeke in van entoesiastiese persone wat Badisa se waardes onderskryf. 'n Relevante kwalifikasie, geldige rybewys en goeie kommunikasievaardighede is vereistes. Registrasiesertifikaat en kwitansie by SACSSP vir 2021/2022 is noodsaaklik. Lees volle posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 6 April. 
Koster: Worcester-Noord
Die NG Kerk Worcester-Noord bied 'n geleentheid vir 'n energieke, goed georganiseerde en pro-aktiewe persoon om by die gemeente aan te sluit as koster. Die geskikte kandidaat sal onder andere verantwoordelik wees vir die algehele instandhouding van die terrein en geboue. Klik hier vir volledige pligbeskrywing en vereiste bevoegdhede. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 1 April.

Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Kortlys vir Andrew Murray-prysfonds bekend
Die kortlyste van die Andrew Murray-prysfonds se pryse vir 2021 is pas bekend gemaak. Die wenners word in April aangekondig. Vanjaar sien die 43ste bestaansjaar vir die kompetisie wat in 1978 met Andrew Murray se 150ste geboortejaarherdenking geloods is. Klik hier vir die lys van publikasies wat benoem is in die onderskeie kategorieë:
  • Andrew Murray-prys vir teologiese publikasies in Afrikaans 
  • Andrew Murray Desmond Tutu-prys vir algemeen-Christelike publikasies in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans 
  • Desmond Tutu Gerrit Brand-prys vir debuutpublikasies in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika 
Nuut op die rak
Bybel-Media se nuutste reeks kinderboeke is spesiaal geskryf om alle kinders, jonk en oud, met die moeilike situasies van die lewe te help.
Die eerste twee boeke het so pas verskyn. Ben en die drakie gesels met kinders oor angstigheid en hoe om dit te hanteer. 
Geskryf deur predikant en spelterapeut Siegfried Louw help die boek kinders verstaan hoe hulle lywe op angstigheid reageer en wat hulle daaraan kan doen. 
Die boek sal binnekort ook in Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar wees. Klik hier om dit by Bybel-Media se aanlynwinkel aan te skaf.
Book launch
The launch of Broken Bodies and Redemptive Tables: The Lord’s Supper and its theological, historical and socio-political dimensions will take place on Wednesday 31 March 2021 from 13:00 - 14:00 in the Attie van Wijk auditorium of the Faculty of Theology in Stellenbosch. Please RSVP to Marita Snyman by 26 March 2021. The event will also be streamed live on the faculty's social media platforms. 
In the book, scholars explore various aspects of the Lord’s Supper, especially in view of past and present realities in the South African context. This is done in order to discern how, amidst the complex realities of broken bodies, tables – the table of the Lord’s Supper and our table fellowship – can and do function as redemptive spaces.
The book is available online at Bible Media and from takealot.com. 
NUUSBRIEWE
Lees Badisa se jongste nuusbrief hierbo.
Klik bo vir nuus van Inclusive & Affirming Ministries. 
ALGEMEEN
Raakgelees: 2000 jaar oue Bybelse boekrol ontdek
Israelse argeoloë het Dinsdag tientalle nuut ontdekte Bybelse rolfragmente onthul wat na raming sowat 2 000 jaar oud is. Die perkamentfragmente wissel van net 'n paar millimeter tot die grootte van ‘n vingernael (foto links).
Die Israelse Oudhedeowerheid (IAA) vertel dat dit die eerste keer in nagenoeg sestig jaar is wat argeologiese opgrawings in die Judese woestyn stukke van ‘n Bybelse rol oplewer. Die vondste is die gevolg van ‘n opmeting wat oor ‘n gebied van 80 km oor die klowe van die woestyn tussen die suide van Israel en die Wesoewer gedoen is. Hommeltuie, bergklim- en abseiltoerusting was nodig vir die argeoloë om die grotte te deursoek wat volgens hulle gebruik is deur Jode wat in die mislukte Bar Kochba-opstand teen die Romeine gerebelleer het. 
"Die woestynspan het buitengewone moed, toewyding en doelgerigtheid getoon en was bereid om af te sak tot grotte tussen hemel en aarde om die ontdekking te maak," het Israel Hasson, direkteur van die IAA, gesê.
Die stukkies van die rol sluit Griekse gedeeltes van verse uit die Bybelse boeke Sagaria en Nahum in. Afgesien van die naam van God, wat in Hebreeus verskyn, is die nuwe boekrolfragmente volledig in Grieks geskryf. Geleerdes sê die vonds werp lig op die evolusie van Bybelse tekste vanaf hul vroegste vorms.
Kenners het daarin geslaag om elf reëls van die teks te rekonstrueer: “Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte.” 
Die owerheid berig dat argeoloë na jarelange uitgrawings in dié grotte en klowe ook ‘n handvol skaars munte, die geraamte van 'n kind wat sowat ses millenniums oud is, asook die oudste mandjie ter wêreld (ouer as 10 000 jaar) ontdek het. Lees meer oor die ontdekking hier of kyk die video onder. 
Boeke bemoedig
Bybel-Media berig dat hulle soveel sukses behaal het met die BybelBoekBokse-projek dat hulle besluit het om in hierdie uitdagende tyd na nog meer mense uit te reik met gratis geestelike boeke. Hierdie projek hoop om mense, oud en jonk, in hulle geloof te bemoedig en elke bydrae kan  ’n groot impak op mense se lewe en geloofsreis maak.
Hulle doen ‘n beroep op gemeentes om hulle vennote in die projek te word deur die koerierkoste van R99 te borg en Bybel-Media skenk ’n boks vol GRATIS Christelike boeke en Bybels. Gemeentes en organisasies kan hierdie bokse met boeke gebruik om uit te reik na gemeentelede, versorgingsoorde, skuilings, skole en so meer. Stuur die adres waar die boks boeke afgelewer moet word aan Bybel-Media of gaan haal ’n BybelBoekBoks by hulle kantoor op Wellington. Kontak vir hannelie.matthee@bmedia.co.za as jy by die projek betrokke wil raak.
Pastorale beradingskursus - 17 April 2021
Volgens aanbieder Wentzel Coetzer is die doel van hierdie kursus "om teen die agtergrond van die jongste navorsing met betrekking tot neurologiese agteruitgang en demensie, insigte aan te spreek wat ‘n nuwe perspektief en hoop tot gevolg kan hê. 
Vanuit die oogpunt van die pastoraat ten opsigte van die probleem van demensie, word daar in hierdie kursus ook ‘n kommunikasiemodel voorgestel met die klem op ‘n sogenaamde ‘bediening van herinneringe’. As uitvloeisel hiervan volg dan ook ‘n erediensliturgie wat fokus op ‘n veel meer verdiepende en sinvolle deelname deur die demensie pasiënt, ondanks hul klaarblyklik kognitiewe hindernisse." 
Die kursus word op Saterdag 17 April van 08:00 - 13:00 by die Studente Hervormde Kerk in Silwerstraat 19, Potchefstroom aangebied. Kontak vir Wentzel Coetzer vir verdere inligting: 083 660 0409 of 082 577 8810 of wentzelc@gmail.com
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Ondersteun ons gemeentes!
Met die verslapping van sekere inperkingsmaatreëls begin baie van ons gemeentes met innoverende en kreatiewe projekte om noodsaaklike fondsinsameling te doen. Talle van ons gemeentes het as gevolg van grendeltyd finansiële druk ondervind en volgens onlangse terugvoer is die einde van hierdie situasie nog nie noodwendig in sig nie. Ons moedig dus ons lesers aan om gemeentes se aktiwiteite te ondersteun en hulle families en wyer gemeenskappe uit te nooi om ook deel te neem. 
La Rochelle kry-en-ry
La Rochelle-gemeente hou weer 'n "Drive Thru." Plaas jou bestelling en geniet heerlike wegneemetes! Bestellings kan geplaas word by die kerkkantoor (021 919 9253) of aanlyn via Google Forms of die gemeente se webblad. Bestellings sluit 23 Maart 2021 om 12:00 en kan op 26 Maart afgehaal word by die kerkgebou (La Rochelle Gemeentesentrum, H/v Meerlust- & Hadleystraat, Bellair) tussen 1
7:00 en 19:00.
Kontak gerus die kerkkantoor by 021 919 9253 of sekretaresse@larochelle.org.za vir enige navrae. 
TEN LAASTE
Kenners is van mening dat 'n derde vlaag van die COVID-pandemie 'n sterk moontlikheid vir Suid-Afrika is. Met 'n langnaweek in die vooruitsig en eredienste en byeenkomste wat weer plaasvind, herinner ons ons lesers aan die belangrikheid daarvan om jouself en jou gemeenskap te beskerm. Wees verantwoordelik deur jou masker te dra, handhaaf die voorgeskrewe sosiale afstand van 1,5m en vermy beknopte spasies.
Luister gerus na Retief Burger en Riana Nel se weergawe van Die Seën hierMag dit 'n geseënde langnaweek wees. Vir diegene wat na ander bestemmings reis, wens ons 'n veilige tuiskoms. (Kunswerk: Cynthia Ligeros)
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.