Lees deur internet, klik hier >>
28 September 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Biddende hande
'n Onse Vader-gebed
Laat u ryk ons kom en gaan bepaal
U nuwe wêreld ons stukkie vir stukkie kom haal
Soos in die hemel, so ook op die aarde.
Leer ons om 'n dag op 'n slag te leef ...

Lees meer.

Vakature: redakteur - Kerkbode
SINODENUUS
1. Publieke Getuienis
Kerke en mynhuise in gesprek - vir geregtigheid en vrede

Daar het die afgelope vyf jaar fassinerende gesprekke tussen die kerk en mynhuise regoor die wêreld ontstaan. Hierdie gesprekke is in 2013 deur die Vatikaan in Rome geïnisieer en het daarna in 2014 by Lambeth Palace in Engeland plaasgevind. Sedert 2015 vind dit in Suid-Afrika plaas onder voorsitterskap van aartsbiskop Thabo Makgoba (hier is meer).
Die gesprek handel primêr oor hoe om 'n moreel regverdigbare en volhoubare mynindustrie te vestig en in stand te hou. Die volgende gesprek vind op 10 en 11 Oktober in Kaapstad plaas tussen leiers uit die mynbougemeenskap en geloofsgemeenskappe.
Braam Hanekom en Sipho Mahokoto (foto onder) was deel van die taakspan wat op 26 September by Anglo American se hoofkwartier bymekaargekom het om strategiese beplanning te doen met die oog op Oktober se vergadering. Vir navrae, kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za.
Sipho Mahokoto, Braam Hanekom, Zak Wood en Father Peter-John Pearson
Sipho Mahokoto (VGKSA), Braam Hanekom (Publieke Getuienis), Zak Wood (Anglo American),
vader Peter-John Pearson (Catholic Parliamentary Liaison Office)
2. Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit
So ontwikkel die droom ...
Die ontwikkeling van ‘n missionale spiritualiteit is sedert 2015 se sinodesitting een van die fokusareas van die Sinode van Wes-Kaapland. Die kerk streef ook na 'n voortgaande verbintenis om 'n missionale kerk te word.
"In die nadenke oor die ontwikkeling van 'n missionale spiritualiteit in en vir die NG Kerk kan die lewe en werk van Andrew Murray vir ons dien as historiese vertrekpunt en inspirasie vir die ontwikkelinge wat op Samuelkampus sal plaasvind.” het Frederick Marais (PSD: Toerusting) in Februarie 2018 geskryf.
Soos beloof, deel ons graag weer foto's en nuus (sien onder en klik hier) oor die vergestalting van die droom van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington.
Hierdie week laat weet Charl Stander: "Die kapel se dakkappe is op! Die boonste vloer word geverf en begin vorm aanneem. Hulle kry tans 'n voorbeeld kamer gereed, wat ons op 10 Oktober kan gaan besigtig." Ons is dankbaar oor die goeie vordering met die projek.
Kapel se dakkappe is op
Dakkappe vir die kapel
Gange geverf
Gange word geverf
Gesin
3. Padlangs Ouerskapkursus
Ouerskap is uitdagend in ‘n veranderende konteks. Ouers vra dikwels vir predikante en jeugwerkers allerlei vrae oor dissipline en ouerskapstyle. Communitas nooi belang-stellendes om in te skryf vir die Padlangs Ouerskapkursus wat by Communitas in Stellenbosch aangebied word van 22-24 Oktober. Hierdie kursus sal jou toerus as aanbieder van die Padlangs Ouerskapkursus. 
Die kursus sal jou in staat stel om ouers in jou gemeente te begelei om deur deelnemende, positiewe ouerskap ‘n veilige ruimte te skep waar elkeen in die gesin sy/haar volle potensiaal kan ontwikkel. Kinders word geleer om self verantwoordelikheid vir hulle gedrag te neem en om keuses te maak.  Die einddoel is ‘n plek waar almal in die gesin gelukkig en tevrede is.Klik hier vir meer inligting en die inskrywingsvorm.

Stephen
4. New Faith Communities workshop
Support for your (missional) congregation!

The Task Team for New Faith Community Development (NGGO) invites interested parties to a special free workshop on the joy and challenges of new community development.
The workshop will take place on Friday 5 October from 10:00 to 14:00 at URCSA Belhar East.
The theme is: "New Faith Communities. What – Why?"
Contact Sharon before or on 3 October at snaude@sun.ac.za. Get more information here. (Photo: Stephen Pedro, Manager: Congregational Witness)
Advertensie
5. #K-imagine is hier!
#K-imagine is 'n geleentheid vir jongmense om mekaar oor kleurgrense te ontmoet en saam te droom oor die pad vorentoe. Dit is geïnisieer deur jongmense van Khayelitsha na afloop van vanjaar se #imagine-experience en word ondersteun deur die #imagine-beweging.
Die geleentheid vind op 29 September by Hoërskool Luhlaza in Khayelitsha plaas. Tieners (en volwas-senes) van oraloor die groter Kaap-omgewing word genooi om die geleentheid by te woon. Verdere inligting en gratis kaartjies is beskikbaar by Wouter van Velden: wouter@ngkwelgemoed.co.za of 082 419 2118. Kom bou saam brûe!

Emerititee 8 Nov.
Emerititee 8 November by Helderberg - klik bo

GEMEENTENUUS
NG Gemeente Kraaifontein
1. NG Gemeente Kraaifontein
Hoeksteen-onthulling tydens verjaardagvieringe
Die NG Moedergemeente Kraaifontein kry 'n nuwe hoeksteen. Vanjaar is hulle kerkgebou 60 jaar oud en die gemeente reeds 70! Een van die oudleraars, Stef Esterhuizen, sal die erediens op Sondag 7 Oktober om 09:30 lei, terwyl die huidige leraar, Banus Botha, ook 'n baba doop. Alle oudlidmate en vriende word hartlik uitgenooi om die geleentheid mee te maak - samesang reeds vanaf 09:15. Kontak die kerkkantoor by 021 988 7290 met navrae. Onthou gerus ook van hulle gesinsfees op 28-30 September: sien by KUIERKANS meer.
Bea
2. NG Gemeente Durbanville-Bergsig
Bea Pretorius se lig skyn wyer
Bea Pretorius het op 1 Oktober 2010 by Durbanville-Bergsig as bedienaar vir die junior jeug begin werk en was voorheen by die Toringkerk, Paarl.
Na agt jaar is sy nou gereed om haar lig wyer te laat skyn. Sy groet Durbanville-Bergsig as jeugwerker aan die einde van September 2018 om haar droom te gaan uitleef wanneer sy as emosionele welstandberader vir besighede begin werk.
Alida Vorster, die gemeente se kommunikasiebeampte, skryf: “Ons gaan Bea baie mis as jeugwerker in Bergsig. Sy bly ’n lidmaat by ons en ons wens haar alle sukses toe met die loopbaanverandering.” Baie sterkte, Bea.

Madeleine Coetzer en Martie du Toit
3. NG Gemeente De Aar stap terug in geskiedenis ...
Met Erfenisdag pas verby, kan ons gerus ook erkenning gee aan die ryke geskiedenis van gemeentes wat nou verweef is met vele families se unieke geskiedenis.
Een so 'n verhaal kom van die NG Gemeente De Aar in die Noord-Kaap. Op 20 September besoek twee vriendinne, Madeleine Coetzer en Martie du Toit, hierdie statige kerkgebou in die proses om hulle familiegeskiedenis na te vors. Madeleine se oupa, ds. P.J. du Plessis, was van 1929 tot 1946 De Aar se tweede leraar. Martie, dopeling van dié gemeente, se pa (Petrus Stephanus du Toit), oupa (Francois Theron du Toit) en dié se broer (Jan Booysen du Toit) was kerkraadslede in De Aar.
Oor geslagte heen werk God deur sy kerk om gemeenskappe te help floreer. Vandag nog. Dankie aan elkeen wat hierin meewerk.
Terloops: as jou familie ook 'n spesiale verbintenis met een van ons gemeentes het, kan jy gerus oorweeg om ook ons Kerkargief op Stellenbosch te besoek. Die vriendelike personeel verras jou dalk net met 'n dokument en foto van voorgeslagte uit vergange se dae! Kontak argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923.
Buffeljagsrivier verjaardag
4. Gemeenteverjaardae
As familie van gemeentes, vier ons graag gemeentes se verjaardae - en ander vreugdes - saam. September blyk juis 'n groot maand vir gemeenteverjaardae te wees. Buffeljagsrivier (foto) het hul verjaardag die 26ste September gevier - en ons dink ook aan: 
Barrydale (8 September 1880)
Hottentots-Holland (9 September 1976)
Rondebosch (10 September 1891)
Bellville-Uitsig (12 September 1974)
Stellenbosch-Noord (21 September 1953)
Wynberg (20 September 1829)
Gordonsbaai (22 September 1952)
Oudtshoorn-Welgeluk (23 September 1974)
Vredenburg-Akkerdyk (25 September 1974)
Clanwilliam (26 September 1826)
Helderberg (26 September 1969)
Sutherland (28 September 1855)
Riebeek-Kasteel (September 1863 - die presiese datum moet bevestig word, asb.)
"Sal Hy wat sy gemeente bou, ons nie 'n toevlug wees nie? Hy, oor die toekoms Heer, waak vir sy Woord en eer - Hy gee geduld in nood en krag en moed in dood; moet dan geen dreiging vrees nie!" (Gesang 218)

Terloops: enige gemeente wat inligting oor hul verjaardag by die Kerkargief wil regstel of bevestig, kan gerus vir Andrew Kok by argief@kaapkerk.co.za kontak.
UIT ONS RINGE
1. Riversdal deel eietydse storie by ringsitting
Die Ring van Riversdal het op 20 September vergader by Stilbaai. Ringskriba Deon Beyers van Riversdal-Wes was die spreker met die tema as: "Om kerk te wees: Status quo of om grense te verskuif? 'n Eietydse storie!" Die voorsitter van die ring is Marius le Roux (NG Albertinia). Onder is 'n foto van die groep wat teenwoordig was by die ringsbyeenkoms. 
Voor v.l.n.r. is Jasper van der Westhuizen (Riversdal) en Bertus Jordaan (Vanwyksdorp). In die middel is Daan Fourie (Ladismith), Johann Venter (Ladismith), Marius le Roux (Albertinia), Matthys Streicher (Stilbaai), Eleen Uys (Albertinia), Marianne Joubert (Riversdal), Bonnie Smith (Heidelberg), Mariette Basson (Vanwyksdorp), Pieter de Jager (Heidelberg) en Jim van Zyl (Albertinia).
Agter staan Christo de Vos (Stilbaai), Chris Pretorius (Riversdal-Wes), Deon Beyers (Riversdal-Wes), André Jordaan (Riversdal), Francois Taljaard (Stilbaai), Nelius van Vuuren (Riversdal), Heinie Vermeulen (Heidelberg), Vian Louw (Stilbaai), Frik Smith (Albertinia) en Emma le Roux (Heidelberg).

Ring byeen
2. Ring van Swellendam
Nuwe moontlikhede in geskiedkundige ring
Gawie Gouws, ringskriba van die Ring van Swellendam, berig oor die ring se 146ste sitting.
"Ons het Sondagaand begin met ‘n ringskonferensie oor die onderwerp: 'Hoe help ons unieke identiteit as NG Kerk ons om ons plattelandse gemeenskappe te bedien met die evangelie?'".
Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding) het die gesprek gefasiliteer en die gemeentes is uitgedaag om elkeen een area te identifiseer – gebaseer op elke gemeente se unieke identiteit – wat ons glo die Heilige Gees op ons hart lê om die gemeenskap te bedien."
Vir meer inligting, tesame met mooi foto's van die sitting daarby, klik hier.
Ring van Swellendam September 2018
Die Ring van Swellendam - September 2018
Willem Liebenberg en Hennie van Wyk
Fanie Cronjé
3. Hopetown-ring dink na oor kerkwees in SA
Lééf geregtigheid vir herstel en genesing
In Hopetown is tydens hulle onlangse ringsitting ’n teologiese gesprek aangebied oor die situasie waarbinne die kerk tans verkeer. Mossie Mostert berig dat die rede vir dié tema is dat daar in Noord-Kaapland groot benoudheid is oor die toekoms van die kerk. Hy skryf: “Fanie Cronjé (predikant in die NG Gemeente Riviera-Jakaranda in die Noordelike Sinode) het tydens die geleentheid as spreker en gespreksleier opgetree. Hy het gesê dat die realiteit is dat die kerk juis in soortgelyke omstandighede sy eerste treë gegee het. Al verloor ons aan die kwantitatiewe kant, kan ons – met die regte gesindheid – aan die kwalitatiewe kant wen.” Lees verder.
PREDIKANTENUUS
Beyers egpaar
1. Japie en Marlene Beyers groet Outeniqualand
Japie en Marlene Beyers tree aan die einde van September 2018 af in die NG Gemeente Outeni-qualand. Japie se afskeidspreek is op Sondag 30 September om 09:30 in die kerk in Sinksabrug.
Japie vertel dat hy en Marlene hulle in Groot-Brakrivier vestig – ’n voorreg om in die mooie Tuinroete aan te bly. Hulle is die Here dankbaar vir 20 jaar in ’n unieke en besondere gemeente, wat vir hulle ’n liefdevolle tuiste was en met mense wat soos familie is.
"Ons bid die gemeente 'n besonder geseënde nuwe tydvlak toe." is die Beyerse se wens. Klik hier.

Van Dyk egpaar
Huisbesoek - Dirk se boot
2. Dirk en Marina van Dyk in rustiger waters 
Ons dink aan die NG Gemeente Gansbaai, waar Dirk van Dyk op 30 September om 09:00 sy afskeidspreek lewer. Na sy aftrede beplan Dirk en Marina om rustig in die bekende en geliefde omgewing in Franskraal te bly woon.
Dirk is in 1982 in die NG Gemeente Agter-Paarl georden; in 1983 sit hy sy bediening vir meer as 20 jaar in Visriviervallei voort. Dirk is dankbaar vir die samewerking wat hulle daar van beide die NG en VG gemeentes Somer-set-Oos geniet het. Sedert 2006 was hy predikant in Gansbaai en ook hier getuig hy dankbaar oor die noue samewerking met die VG Gemeente Gansbaai.
Marina sit haar werk by Tygerberg Hospitaal voort, terwyl Dirk uitsien daarna om baie meer getrou op “Huisbesoek”* te wees! (Diegene wat die kerkkantoor gebel het op soek na Dirk, moes gereeld hoor die dominee is “op Huisbesoek”, maar na dese kan hy die voorreg behoorlik geniet!). 
*Huisbesoek is Dirk se vissersbootjie :)
Ronél en Kotie Kritzinger
3. NG Gemeente Melkbosstrand: welkom, Kotie en Ronél 
Op Sondag 30 September om 09:00 word Kotie Kritzinger (tot Desember 2016 predikant in Laaiplek) in Melkbosstrand deur Frederick Marais (PSD: Toerusting) bevestig. Hy sal vir 'n periode van ses maande in 'n brughoedanigheid in die gemeente werksaam wees.
Kotie en Ronél, ons wens julle, saam met kollega Kenny Pritchard en die hele Melkbosstrand-gemeente, baie spesiale nuwe paaie saam met die Here toe.
Olivier en Alta Muller
4. Olivier en Alta Muller in NG Barrydale ontvang
Ons deel graag ook in die vreugde van die NG Gemeente Barrydale, waar Olivier Muller op Sondag 7 Oktober om 09:30 as predikant bevestig word.
Olivier skryf: "Ek was gedurende my hele bedieningstydperk lid van die Ring van Swellendam. My eerste gemeente was McGregor, waar ons sewe jaar lank gewoon het. Toe het ons geskuif na Swellendam se Moedergemeente waar ons 18 jaar lank was. Nou keer ek weer vir 'n termynkontrakpos van drie jaar terug na dieselfde ring en dié keer as predikant van die NG Gemeente Barrydale. Ek word deur Hennie van Wyk, oud-kollega van Swellendam Moedergemeente, bevestig.  
Ons is baie opgewonde om terug te keer na hierdie pragtige plattelandse omgewing na 'n gemeente waar daar ook nog 'n plattelandse atmosfeer heers."
Mag dit 'n vervullende nuwe hoofstuk wees, Olivier en Alta! Seënwense.
Arion Naidoo en Olivier Muller - legitimasie
In Junie 2018 het ons berig oor die legitimasie van Arion Naidoo (intussen beroep na die Cape Peninsula Reformed Church in Kaapstad) en Olivier Muller - hier sit hulle voor na afloop
van colloquium doctum saam met familie en lede van die kuratorium.
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke 28 September 2018
ALGEMEEN
Ds. AG du Toit
1. In Memoriam
Ds. Andreas G. du Toit (26.03.1930 - 10.09.2018)

Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. A.G. (André) du Toit. Ds. Du Toit is in 1957 in Gibeon (Mariental in Namibië) georden, waarna hy van 1960 tot 1964 in Alexanderbaai bedien het. Daarna was hy in Oranjemund, NG Gemeente McLachlan-Wittedrift (Plettenbergbaai), Kensington en Umtata in die bediening. In 1976 tree hy ook as hospitaalleraar in Port Elizabeth op. Ds. Du Toit se gade, mev. M. J. du Toit (Maggie), is reeds op 15 Oktober 2017 oorlede. Ons innige simpatie aan sy dogter, Coretha, en ander familie en vriende in hierdie tyd van rou en verlies.
2. Pionierdrukkery: baanbrekers! 
Die werk van die Pionierdrukkery op Worcester, 'n maatskappy wat vanuit die NG Kerk in SA ontstaan het, verdien beslis 'n tweede kyk en baie waardering!
Hierdie drukkery, wat 'n belangrike rol speel in Innovation for the Blind se visie, nl. "Our vision is to measurably improve quality of life for the visually impaired", het die Afrikaans Bybel in braille reeds in 1941 die lig laat sien. Pionierdrukkery, met drie afdelings, Braille, grootdruk en oudio, het in 2011 'n nie-winsgewende maatskappy (NPC) geword.
Hulle is die enigste produsent van braillemusiek in Afrika en verskaf braillemusiek aan die SA Nasionale Braillemusiekbiblioteek in Worcester, asook aan kerke, skole en individue. Verskeie kerklike musiekboeke is ook in braille by Pionierdrukkery beskikbaar. Lees gerus hier verder - en ondersteun hierdie spesiale "kind" van die NG Kerk in SA!
Die braillemusiekspan van Pionierdrukkery
Mada Engelbrecht, Susan Muller, Ilse Thomas en Morné van der Merwe
- die braillemusiekspan
Slagoffer
3. Beradingskursus oor boeliegedrag se impak
'n VBO-geakkrediteerde kursus oor die impak van boelie op kinders en jongmense word op Saterdag 3 November in Potchefstroom deur Wentzel Coetzer aangebied. Hierdie kursus, wat praktiese en pastorale riglyne bied, is waarskynlik ‘n goeie opsie vir (veral) ons Noord-Kaapse lesers. Lees meer
Johan van der Merwe
4. Raakgelees
4.1 Inkarnasie en innovasie vir toekomspad van NG Kerk

By die Vrystaatse Week vir Verdere Bedieningsontwikkeling (VBO) het Johan van der Merwe (predikant in die NG Moedergemeente Stellenbosch) die vraag of daar iets goed vir die NG Kerk in die toekoms wag, krities bespreek. Sy wens is dat ons sal kies om só 'n publieke kerk te wees waar alles waaraan ons raak, in hoop verander.
Lees gerus hoe die vlakke van inkarnasie en innovasie 'n beduidende rol in die kerk se toekoms sal speel - en kyk ook hoe Johan meen ons uit vroeë Christelike gemeenskappe se eienskappe kan leer. Klik hier.
(Artikel met dank aan Neels Jackson in e-Kerkbode.)
Leerreëls
4.2 Dordtse Leerreëls belig
Gert Duursema het by die onlangse ASM-vergadering ’n aanbieding oor die 400-jarige viering van die sinode van Dordrecht aangebied.
Die aanbieding is op die webwerf van die sinode in Noord-Kaapland – klik hier. Die titel van die PowerPoint is: "Die sinode van Dordrecht: 1618 – 1619 en 2018 – 2019." Notas is by elke skyfie oor die aspekte wat toegelig word, geplaas.
Kontak Gert by 082 809 9977 of gertduursema@outlook.com met navrae. (Berig met dank aan Noord-Kaapland e-nuus van 25 September 2018).
NUUSBRIEWE
E-Bybels
1. Nuut van Bybelgenootskap van SA
1.1 Engelse e-Bybels

Twee nuwe volledige e-Bybels in Engels is nou beskikbaar: die ESV (English Standard Version) sowel as die NIV (New International Version). Daar is Kindle- en ePub-weergawes. Die ESV se Kindle-uitgawe is by Amazon en die ePub-uitgawe by Kobo en Takealot. Kry die NIV se Kindle-uitgawe hier by Amazon en die ePub-uitgawe hier by Kobo.
Bibl
1.2 Engelse Bybel vir Dowes
September is Nasionale Maand vir Dowes. Die Bybel-behoeftes van Dowes lê die Bybelgenootskap na aan die hart. In die Engelse Bybel vir Dowes waaraan tans gewerk word, word daar werklik gepoog om die Bybel vir Dowes meer toeganklik te maak. Klik hier vir meer. 
(Met dank aan e-Saaier van September 2018). 
PUBLIKASIES
1. CLF nooi gemeentes om hul bediening te ondersteun
In ’n brief aan kerkrade, nooi CLF gemeentes om deel te raak van hul missie om die Woord van God na mense te neem – in hul eie taal. In die uitvoering van hierdie doel is miljoene pamflette sedert 1957 versprei, met net duskant 90 000 Kinderbybels wat ook in sewe tale beskikbaar gestel word.
Laai gerus ’n PP-aanbieding (12 MB) oor CLF se werk hier af. Oorweeg gerus ook om die nuwe CLF-toepassing (“app") aan te skaf (grafika onder).
CLF nuwe toep
2. Bybel-Media: Uit die Beek 2019
Vanjaar verskyn die klassieke Uit die Beek weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos.
Die tekskeuse vir elke dag is op die Revised Common Lectionary gebaseer. Dit maak hierdie geliefde Bybelse dagboek soos altyd geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en vir Bybelstudiegroepe. Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.
Die goeie nuus vir gemeentes is dat Bybel-Media hierdie gewilde dagboek – Uit die Beek 2019 – met ʼn uitstekende afslag aanbied.
Koop vyf dagboeke en kry die sesde een gratis! Só kan jy aan gemeentelede Uit die Beek teen minder as die rakprys aanbied. Koop hier.
EKOLOGIE
Walvis
1. Plastiek neem ons oseane oor
Toe navorsers in 2012 die inhoud van 'n walvis wat op die strand uitgespoel het, se maag ondersoek het, het hulle die volgende gekry:
30 m² seil,
'n plastiektou van nege meter,
'n tuinslang van vier en 'n half meter en
twee potplanthouers.
Onder is wenke waarvolgens almal hul plastiekgebruik kan verander, sowel as 'n kort video oor plastiek in ons oseane. 

Goeie plastiekgewoontes
2. Herwinning: Dink nuut!
"Garbage is gold." Dit is die ingesteldheid van Michael Reynolds, 'n argitek wat volhoubare behuising in Nieu-Mexiko ontwikkel. Met meer buitebande as bome op aarde (!), fokus hy daarop om nuut te dink en geboue waarvan minstens 50% uit herwonne materiaal geskep is, te bou.
Kyk anders. Sien moontlikhede. Dink nuut, selfs oor iets so eenvoudig soos buitebande, blikkies en bottels!
Die kort video is hier.

BEHOU DIE HUMOR
Grappie
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
SPESIAAL! KYK HIER!
A
dverteer vakatures nou só
Dit is nou vinniger en eenvoudiger as voorheen vir gemeentes om vakatures by e-Kerkbode te adverteer.
Die nuwe portaal waardeur vakatures ingedien kan word, bied verskeie voordele vir gemeentes. Dit sluit onder meer in:
• 'n Templaat om netjies te organiseer
• Telefoniese hulp om gemeentes te ondersteun
• Kwotasies tipies binne een werksdag
• Vakatures verskyn binne ’n dag of twee op e-Kerkbode
Klik hier om meer te lees oor hierdie waardevolle ontwikkeling by Kerkbode.
Logo
1. Kerkbode: Redakteur
Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk, ’n afdeling van Bybel-Media, wag aansoeke in vir die voltydse pos van redakteur vir Kerkbode, die amptelike digitale en gedrukte nuuskanaal van die NG Kerk. Die pos sal verkieslik in Pretoria setel. Aansoeke sluit 15 Oktober 2018. Klik hier.
Logo
2. NG Gemeente Proteahoogte Fasiliteitsbestuurder
Proteahoogte in Brackenfell het ’n vakature vir ’n fasiliteitsbestuurder om van 08:30 tot 12:30 te werk. Meer oor die funksies, vereistes en vaardighede is hier. Aansoeke sluit op 5 Oktober. 
Logo
3. NG Gemeente Bellville-Uitsig
Kleuterskool en dagsorgsentrum: Bestuurshoof

Uitsig Kleuterskool van die NG Gemeente Bellville-Uitsig, beskik oor ‘n vakante pos vir ‘n bestuurs- en kurrikulumhoof. Diensaanvaarding is 1 November en die  sluitingsdatum vir aansoeke is 10 Oktober. Klik hier vir meer oor die vereistes van die pos. 
4. NG Gemeente Goodwoodpark
Hoof - bewaarskool
Ons herinner: aansoeke word ingewag vir die pos van hoof van Goodwoodpark Bewaarskool. Dit is 'n voldagpos van 'n Christelike gebaseerde bewaarskool op die perseel van die NG Gemeente Goodwoodpark. Reageer voor 15 Oktober en kontak André Reynecke, predikant van Monte Vista, vir navrae. Lees verder.
Janine Williams
TEN LAASTE
Uit die pen van Janine Williams
'n Herstelde waardigheid vir almal
Ek bestudeer deesdae Johannes Calvyn se idee van die beeld van God en wat dit vir menswaardigheid beteken. Daaruit besef ek dat sonder kennis van God, ons nie die beeld van God in onsself of in andere kan sien nie. Dit is slegs in die respons van die mens tot die Woord van God, dat hierdie beeld in menswees geken word, en hierdie respons maak die beeld van God persoonlik. Tog kan 'n mens net waarlik vir God leer ken as ons onsself leer ken!

Kennis aangaande God en onsself, lei noodwendig na respek vir die waardigheid van mense, ons eie en die van alle ander mense. Hierdie respek, hierdie herkenning van waardigheid in almal, reik ver verby enige grense van ras, klas, seksualiteit, taal, kultuur … verby alle sosiale, persoonlike, kognitiewe en fisiese grense. Dit sluit die ganse skepping in. Mag ons waarlik geïnspireer wees om oral waardigheid, waar dit verlore is, te herstel.

                                                                 -0-0-0

Janine Williams is medeleraar van die VGK Sarepta en bestuurslid van Tsarfat Association for Youth and Children, die gemeente se NPO. As moderatuurslid van die VGK Kaapstreek is sy ook betrokke in die funksionering van die VGK in die breë. Kontak Janine hier.

Venster
Help my veral om u kerk getrou by te staan, 
sodat u kerk ook deur my werk 
waarlik 'n stad op 'n berg 
en 'n lig op 'n maatemmer sal wees, 
sodat die hele wêreld U deur die kerk, 
die venster op u koninkryk, sal sien. Lees verder.

Ons groet vriendelik tot 12 Oktober, na afloop van die skoolvakansieweek.
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.