Lees deur internet, klik hier >>
28 Januarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Huldeblyk aan prof. Jaap Durand
Dit is met leedwese dat ons verneem het van die heengaan van Prof. Jaap Durand. Nelis Janse van Rensburg skryf: "Hy was ‘n diepsinnige teoloog, opregte kind van die Here, profeet, leier en ‘n mens met innige en durende verhoudings. Hy het met integriteit en met die moed van sy oortuiging ‘n leidende profetiese rol gespeel om die kerk te laat herbesin oor haar roeping in die tyd van apartheid, maar ook daarna. Hy het die NG Kerk destyds ondubbelsinnig aangespreek oor haar ondersteuning van apartheid. Dit het tot ‘n groot mate gelei tot verwerping in NG-geledere en ook die verlies van sy status as leraar van die NG Kerk.
Prof. Jaap het as leraar van die NG Sendingkerk ook ‘n leidende en deurslaggewende rol gespeel in die totstandkoming van die Belydenis van Belhar. As dosent en viserektor by die Universiteit van Wes-Kaapland was sy leierskap en solidariteit met die studente se protes teen apartheid buitengewoon belangrik. Die regering van destyds is onder morele druk geplaas, maar dit was ook belangrik vir die geloofwaardigheid van die kerk om aan die protes teen ongeregtigheid deel te hê.  Tot aan die einde van sy lewe was hy vir talle oudstudente, kollegas, leraars en medegelowiges ‘n mentor en rolmodel na wie opgesien is vir raad en morele leiding. Hy was ‘n verankerde en deurdagte morele kompas wat telkens die ware Noord in deurmekaar tye aangedui het.
Sy verbintenis tot versoening, eenheid en geregtigheid was deurleef en gegrond in sy diep geïntegreerde verstaan van die Evangelie. Die publikasies wat uit sy pen verskyn het, was van hoogstaande gehalte en het getuig van sy omvattende kennis van die Bybel en die teologie (die gereformeerde teologie en ook die van ander tradisies), maar ook van die denkwêrelde van mense met ander oortuigings, agtergronde en perspektiewe. As verkondiger van en apologeet vir die geloof in God Drie-enig, was hy bereid om in nederige, maar ook verhelderende gesprekke te tree met die wat anders as hy geglo het.
Ons het vanuit die NG Kerk by verskillende geleenthede vir Prof. Jaap om verskoning gevra vir die leed wat in ons geskiedenis aan hom gedoen is. Sy versoek was telkens dat ons moet aanhou om reg te maak wat deur apartheid gebreek en verskeur is.  Die beste manier hoe ons Prof. Jaap Durand se nalatenskap kan eer, is inderdaad om uitvoering te gee aan sy oortuiging dat die eenheid tussen die VG en NG Kerk herstel moet word en die skade en wonde wat aan mense en sisteme toegedien is, geheel moet word.  
Prof. Jaap Durand het oor die jare ‘n simbool geword van integriteit, moed, deurleefde geloof, profeet-wees en toewyding en insig in die denkwêrelde van mense. Ons dank die Here vir die voorreg om so ‘n besonderse broer en leier vir so lank in ons midde te kon hê. Ons bid dat die Here sy eggenote en familie sal troos en dra in hierdie moeilike tyd van afskeid."
Lees ook Kerkbode se artikel oor prof. Durand hier.
Foto: Dana Snyman
Sinode neem afskeid van Saakgelastigde
Na tien jaar in die pos van Saakgelastigde tree Bossie Minnaar aan die einde van Januarie af. Hy gaan beslis 'n groot leemte laat soos wat die skrywes van talle kollegas getuig. Klik gerus hier om die volledige afskeidsboodskappe te lees.
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland skryf: "Bossie Minnaar se aftrede gaan ‘n leemte laat wat moeilik gevul kan word. Die omvang van sy werk en bydraes sedert 2012 as Saakgelastigde is moeilik om te beskryf. Hy was nie net Saakgelastigde nie, maar was ook die hoofbeampte van die Predikante Pensioenfonds, ‘n werk wat hy met onderskeiding verrig het.
Bossie is oral bekend vir sy deeglikheid, sy administratiewe- en bestuursvaardighede (rekenaarprogramme ingesluit), sy noukeurigheid met taalgebruik (korrespondensie), sy onderskeidingsvermoë ten opsigte van komplekse finansiële en bestuursuitdagings, sy teologiese insigte en die leierskap wat hy op talle terreine van die kerklike lewe gebied het. Ook sy besonderse insig in die kerkreg het baie bygedra tot die ordelike verloop van sake in die kerk. As lid van die moderatuur van ons sinode het hy telkens deurslaggewende bydraes gemaak tot ons onderskeidingsprosesse.
Die Predikante Pensioenfonds (PPF) asook die Amptenare Pensioenfonds is sterk ontwikkel en uitgebou onder sy leiding. Sy interaksie met die diensverskaffers van die fondse was merkwaardig. Hy kon homself handhaaf in die geselskap van aktuarisse en hoë waarde toevoeg tot hulle besinning oor beleggings en tendense in die finansiële wêreld.  Bossie het ook baie graag en met groot deernis gekommunikeer met die lede van die pensioenfonds en hulle laat veilig voel. ‘n Mens was deur alles heen bewus van sy pastorale sensitiwiteit. Die onlangse aansluiting van die Vrystaatse Pensioenfonds by die PPF is maar een voorbeeld van die omvattende en deeglike werk wat Bossie gedoen het.
Hy het onder meer ook die kerk se argief tot nuwe hoogtes gevoer. Vandag is die Argief ‘n volhoubare navorsingsentrum, toeganklik en modern en ‘n uitnemende bewaarder van die storie van die kerk. So het hy ook by die Nasionale Instituut vir Dowes ‘n deurslaggewende rol gespeel om ‘n omkeerstrategie in werking te stel sodat die instituut vandag veerkragtig en effektief funksioneer. Hy moes oor die jare talle eiendomskwessies, die ontwikkeling van die sinode se kommunikasieplatforms, personeelkwessies, beleggingsopsies, finansiële  en ander bestuursuitdagings hanteer. Bossie het niks ontsien om sy werk deeglik te doen nie. Selfs tydens sy vakansietye het hy sy PPF- en ander lopende verpligtinge noukeurig nagekom. Dit was ook geen verrassing om diep in die nagte e-posse van Bossie te ontvang nie. Sy werksvermoë en die werksure wat hy benut het, is weergaloos. En dan was die antwoorde op navrae of inligting wat hy gestuur het altyd omvattend. Hy het niks halfpad gedoen nie.
Bossie het uitstekende verhoudinge gehandhaaf met die sinode se personeel, kollegas en veral die gemeentes van die sinodes. Sy kennis van elke gemeente se omstandighede en uitdagings is omvattend. Ons wens vir Bossie ‘n wonderlike aftrede toe. Ons weet egter hy gaan nog op baie plekke baie waarde toevoeg. Ons dank die Here vir die voorreg wat ons gehad het om met Bossie se talle gawes bedien te word."
Monty Sahd, voorsitter van die PPF, benadruk die sensitiwiteit, noukeurigheid en deeglikheid waarmee Bossie sy rol as hoofbeampte vervul het. "Hy was ‘n hoofbeampte wat vertroue en gerustheid by die trustees ingeboesem het en ons wens hom ‘n geseënde aftrede toe!"
Marius le Roux, voormalige voorsitter van die Sinodale Taakspan vir Finansies en Administrasie, lig van Bossie se merkwaardige eienskappe as volg uit: "Wat is die unieke, die uitstaande van Bossie Minnaar se bediening as Saakgelastigde? Sy toeganklikheid, sy besondere werksetiek, sy noukeurige harde werk en sy organiseringsvermoë soos wat sinodesittings in Goudini getuig."
Hendrik van der Merwe het saam met Bossie op die direksie van die Nasionale Instituut vir die Dowes gedien en skryf: “Ds. Minnaar was my regterhand in die oorgangsproses wat ons ondergaan het en ek het die hoogste agting vir sy kalmte en integriteit tydens die proses. Bossie Minnaar het voorwaar ‘n nalatenskap gelaat in baie plekke. Hy sal onthou word deur baie mense. Mag hy aftrede ervaar as ‘n era waarin hy minder `papiere' hoef te hanteer.”
Volgens die administratiewe personeel is dit bykans onmoontlik om te beskryf wat Bossie vir hulle beteken het. "Hy het so baie mooi en uitstaande eienskappe, onder andere sy bekwaamheid, deeglikheid, toewyding, menslikheid en nederigheid. Vir ons is Bossie die toonbeeld van integriteit, opregtheid en betroubaarheid. Hy is ‘n voorbeeld vir elkeen wat sy pad kruis. Ons gaan sy rustige manier van doen, skerp sin vir humor, nugterheid, ondersteuning en oop deur mis. Bossie was ons vangnet en het ons laat veilig voel.  Ons gun hom egter die tyd om te gaan stap, te slaap!, boek te lees en te doen net waarvan hy hou."
Andrew Kok, bestuurder van die Argief, noem dat Bossie onthou sal word vir sy passie vir die bewaring van die geskiedenis van die NG Kerk. "Sy uitgebreide kennis van die kerk en kerklike aktiwiteite het hom die korporatiewe geheue gemaak waarop staatgemaak kon word. Die personeel van die Argief wil hom graag bedank vir sy volgehoue belangstelling in hul werksaamhede en sy passie om die geskiedenis te laat voortleef. Ons wens hom vreugdevolle aftreejare toe en sien uit daarna om voort te bou op sy nalatenskap."
Bossie, ons wens jou 'n welverdiende aftrede toe. 
Stap onder die sterre vir droogtehulp
Diaconia en die Ring van Beaufort-Wes stuur in Maart vanjaar ’n ses-dag staptog van stapel ter ondersteuning van Karoo-gemeenskappe wat deur die langdurige droogte geraak is. Stappers kan vanaf 1 Februarie registreer om deel te wees van die Stargazing Camino, ’n 108 km staproete tussen die plattelandse dorpe Sutherland en Merweville.
Die staptog word beplan vir 5 – 13 Maart as bewusmaking van die uitdagings wat hierdie streek ondervind en om aktiewe ondersteuning van plaaslike gemeenskappe te bewerkstellig. Terselfdertyd skep dit ook ’n geleentheid vir danksegging en getuienis.
Buitelug-entoesiaste en ywerige sterrekykers word aangemoedig om in te skryf vir hierdie sonderlinge ervaring. Kostes per stapper beloop R5 900. Klik HIER vir volledige besonderhede en kostes. 
Twee ondersteuningsvoertuie sal die stappers vergesel en alle bagasie vervoer, sodat stappers slegs hulle daaglikse watervoorraad en versnaperinge hoef te dra. Voornemende stappers moet hulle eie tente saambring, maar daar is ablusiegeriewe by elke oornagpunt. Die gemiddelde stapspoed is ongeveer 3km/uur en die langste skof is 23 km. Aandete en drie koffiebreuke (met beskuit soggens) word daagliks verskaf.  Individue, besighede en gemeentes word uitgedaag om die projek te ondersteun deur donasies te maak aan die Diaconia rampfonds. ’n Onderneming of gemeente kan ook ’n stapper afvaardig om hulle op die staptog te verteenwoordig.
Die mikpunt vir die fondsinsameling is ‘n minimum van R600 000. Alle fondse sal met oorleg en deursigtigheid in die betrokke gemeenskappe verdeel word. Hierdie proses sal in noue samewerking met die plaaslike VGK-gemeentes geskied. Dit sluit die gemeenskappe van Beaufort-Wes, Fraserburg, Leeu-Gamka, Merweville, Prins Albert, Victoria-Wes en Richmond in.
Vir besprekings of verdere navrae, stuur 'n e-pos aan diaconia@kaapkerk.co.za. Besprekings sluit op Maandag 25 Februarie. Slegs twintig stappers kan akkommodeer word, so skryf nou in om teleurstelling te voorkom.

Bankbesonderhede: Rekeningnaam: Diaconia
Bank: Nedbank 
Rekeningnommer: 1135900337
Takkode: 198765
Verwysing: Naam van individu/gemeente + STARGAZING 
Foto: Jaco Meissenheimer
Diaconia welcomes new admin officer
Nicola Visser has been appointed as the new administrative assistant for Diaconia, the joint ministry for the Dutch Reformed Church in South Africa (Cape Regional Synod) and the Uniting Reformed Church in South Africa (Cape region). The Visser family has recently moved to the Western Cape from Bloemfontein when her husband accepted a call to the Dutch Reformed congregation of Stellenberg.
Nicola grew up in the former Transkei in the Eastern Cape and trained as a social worker at Huguenot College. She has worked as a social worker for Badisa George and SANCA in Paarl. In Bloemfontein she held the position of professional assistant to the hospital manager of Bloemcare psychiatric hospital.
Nicola is looking forward to the diversity of her job with Diaconia. “I am keen to become involved with the various projects Diaconia is running and planning. I love project co-ordination. This will definitely be a new challenge and I am very excited to get started.” One of her first projects will be the Stargazing Camino, a 6-day walk between Sutherland and Merweville planned for March. Nicola can be contacted telephonically at 021 957 7109 or via email at diaconia@kaapkerk.co.za.
We wish you all the best Nicola.
Photo (from left to right): Nicola with kids James, Olivia, Ava-Jane and husband Johan.
#GROEI in St. Helenabaai
Die gemeenskap van St. Helenabaai moedig ‘n volhoubare leefstyl aan met hulle Green Hand Community Garden. Met hierdie projek het veertien vroue uit die Stompneusbaai-gemeenskap die inisiatief geneem om met ‘n groentetuin te begin. Die Hoop en Versoening Trust het hierdie wonderlike projek ondersteun deur saad te skenk. Verder het ‘n skenking van kompos en watertenke deur Agrimark verseker dat hulle tuine aan die gang sal bly. 
Woordvoerder van die projek Karin Holloway vertel dat hulle graag hierdie projek wil gebruik om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Groente sal onder andere aan die plaaslike sopkombuis en kleuterskool geskenk word. “Die tuin doen baie goed omdat die gemeenskap inkoop in hierdie projek. Dit beteken vir my dat dit 'n standhoudende projek kan wees en dit maak my baie opgewonde!” Klik hier om meer foto's van die projek te sien. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
Getuienisaksie besoek Straatwerk
Op Donderdag 20 Januarie was Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder: Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, op besoek aan een van die verbandsbedieninge wat deur Getuienisaksie ondersteun word, naamlik Straatwerk. Tydens sy besoek by hul hoofkantoor in Parow het hy die bestuurder Fourie Truter asook Madri Bruwer, wat by hul prostitusie-bediening betrokke is, ontmoet. Lees meer hier.
Foto: Fourie Truter, Madri Bruwer en Daniël de Wet.
Ondersteuning en begeleiding aan gemeentes
Ds. Stephen Pedro, taakspanbestuurder van Gemeentegetuienis, beplan om vanjaar weer voort te gaan met hul ondersteuning en begeleiding aan veral gemeentes sonder predikante. Dit sal onder andere verkenningsgesprekke en werkswinkels insluit. Ten opsigte van ringsbesoeke sal daar belangrike inligting oorgedra word, uitdagings bespreek word en oor werkbare oplossings besin word. Hul besoeke aan gemeentes sal bestaan uit ’n assesserings- en data-ontledingsfase asook ’n implementeringsfase. Hy sal hierin bygestaan word deur beskikbare brugpredikante en proponente. Kyk gerus na die video onder en maak gerus van Gemeentegetuienis se hartlike uitnodiging gebruik. 
Huweliksretraite in Wellington
Huwelikspare word genooi vir hierdie spesiale verhoudingsretraite by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit tydens die naweek van 11 - 13 Februarie. Dit is 'n uitstekende geleentheid om te belê  in hierdie baie belangrike verhouding in jou lewe. Daar gaan genoeg tyd wees vir stilte en refleksie.
Onder leiding van die fasiliteerder Jan van Zyl herbesoek deelnemers die beloftes wat hulle aan mekaar gemaak het, word daar nagedink aan die waardes waarop verhoudings gebou is en besin oor wat betekenis aan hulle lewens gee. Die IMAGO kommunikasieraamwerk word gebruik om te help om veiligheid en konneksie in verhoudings te herontdek. Kontak Derine Piek by admin@andrewmurraysentrum.co.za of 021 873 2151 vir navrae en besprekings.
IMPAK en HospiVision vat hande
IMPAK (Industrial Ministry Arbeidsbediening Kaapse Metropool) en HospiVision werk tans aan 'n samewerkingsooreenkoms om veral personeel en werkers in die werkplek te ondersteun.
Die Sinode van Wes-Kaapland is reeds in 'n vennootskap met HospiVision waardeur kerke gehelp word om toegang te kry tot staats- en privaathospitale om pasiënte, hulle families en hospitaalpersoneel pastoraal te ondersteun.
Arbeidsbediening skep vir vrywiligers, wat belangstel om diens te lewer in die werkplek, ook nou die geleentheid om betrokke te raak by die ondersteuning van hospitaalpersoneel. Hospitale is 'n unieke omgewing waar veral die personeel dikwels onder baie moeilike omstandighede hulle werk moet verrig, soos ons tans met die COVID-19-pandemie en die Omikron-variant ervaar.
Lees gerus hier meer oor die vennootskap.
Herlaai by Wellington-retraite
Predikantebegeleiding nooi alle predikante vir 'n rus-retraite van 14 - 18 Februarie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington. Theunis Botha herinner ons dat die pandemie tydens die afgelope twee jaar buitengewone eise aan almal gestel het. "Mense wat ander mense moes ondersteun en bemoedig, dra steeds swaar aan die ekstra gewig wat hulle moes opneem. Miskien laat kollektiewe trauma jou veg, vlug of vasvries."
Die retraite bied 'n mooi en rustige omgewing waar deelnemers hulself weer kan vind en van spanning ontslae te raak. Begeleide klankmeditasies bied die geleentheid om diep vlakke van ontspanning en rus te beleef. Die kans word geskep om diepverweefde trauma te verwerk en te fokus op Christus wat te midde van ons trauma opdaag. Predikante kan daarna met nuwe hoop en warm, ontdooide harte terugkeer na hulle gemeentes.
Die retraite duur van Maandag 18:00 tot Vrydag 10:00. Kontak vir Adrienne Bester by bestera@kaapkerk.co.za om in te skryf.
SAFCEI reageer op brande in Kogelberg
SAFCEI het vandeesweek by monde van hul raadsvoorsitter Braam Hanekom reageer op die onlangse verwoestende brande in die Overberg. Talle onbeantwoorde vrae oor die bestuur van brande word tans gevra. Klimaatsverandering is ‘n werklikheid, maar so ook die verhoogde impak van die mens op die natuur en veral sensitiewe eko-sisteme. Daar sal veel dieper gekyk moet word na die rol wat die brandbestrydingsverenigings (FPA’s) en die burgerlike samelewing in die toekoms gaan speel. Besluitnemingsprosesse en veral die reaksietyd tydens die uitbreking van brande sal ook ondersoek moet word. Lees volle verklaring hier.
EKOLOGIE
Iets moet sterf!
Ons eko-korrespondent David Botha deel vandag met ons ’n persoonlike ervaring van sy eie uitdaging om gasvryheid ekologies (ruim) te verstaan. Hierdie ervaring het hom laat besef dat gasvryheid nie in privaatbesit kan gedy nie. Hoogstens 'n paar uitgesoektes en genooides word verwelkom – beslis nie almal en alles nie. God se soort gasvryheid sluit egter niemand en niks uit nie. Inteendeel, dit sluit alles in! Lees meer hier.  
Groenspan 2022
Ontmoet ons Groenspanlede van 2022. Hulle gaan ons vanjaar onder andere toerus met verskeie omgewingsvriendelike wenke, belangrike ekologie-inligting en materiaal wat tydens eredienste gebruik kan word. Kontak ons gerus as jy ook 'n passie vir ekologie of die omgewing het! Kyk gerus na die video onder en leer ken ons huidige lede – dalk is jou prentjie ook binnekort by. 
GEMEENTENUUS
Karen Zoid kom Citrusdal toe!
Die gemeente van Citrusdal nooi jou hartlik uit om na Karen Zoid en haar orkes te kom luister op 26 Februarie om 19:00 by De Meul Citrusdal. 
Bring jou eie piekniekmandjie, stoel en kombers en geniet die feesgeleentheid. Kaartjies is R200 vir volwassenes en R100 vir kinders onder dertien. Die fondse gaan vir die gemeente se diens van barmhartigheid. Hulle gaan die wins tussen Ons Huis ouetehuis, Badisa en die kerk se hulpfonds verdeel. 
Kaartjies kan by Martine Kriel per WhatsApp (082 329 1229) of e-pos (ngkcitrusdal@telkomsa.net) gekoop word.    
Pla-jou-dominee in Gordonsbaai
Gordonsbaai-gemeente het met 'n vindingryke plan vorendag gekom om seker te maak dat die gemeente hulle predikante op 'n meer informele manier leer ken. Hulle hou elke Dinsdag 'n gesellige kuier met ligte eetgoed in die kerksaal in Kusweg. 'n Minimale fooi sal gevra word. 
Belangstellendes word genooi om 'n koppie tee/koffie en iets om te eet saam met dominees Melissa Hoffmann en Johan Botes te geniet. Dit is die ideale geleentheid om met die dominees en ander gemeentelede te gesels en lekker saam te kuier. Lede van die publiek is ook welkom.  
Leer meer oor Johannes
Sonstraal-gemeente bied 'n unieke leergeleentheid wanneer Marius Nel dieper kyk na die boek Johannes. Sy gawe om met groot helderheid sy gehoor in die teks in te trek, sal verseker dat die informele sessies uiters leersaam en baie interessant sal wees. Almal is welkom.
Vredelust verwelkom Engelse lidmate
Die gemeente van Vredelust glo dat elke gemeenskap 'n lewegewende kerk moet hê, daarom het hulle besluit om eredienste van volgende week af ook in Engels aan te bied. Clement Martin is deel van die span wat verantwoordelik is vir hierdie bediening en vertel dat hy opgewonde is vir die pad vorentoe.   
"Vir 'n gemeente om lewegewend te kan wees, moet die breër kerk altyd bewus wees van dit wat rondom hulle aangaan. Dan alleen kan ons relevant wees (en bly) en mense optimaal dien en bedien. Ons het bewus geraak van die invloei van Engelssprekendes in die Boston-area van Bellville. Daarom was dit vir ons maklik om te besluit en te begin beplan aan 'n Engelse diens by Vredelust. Ons glo mense sal aanklank vind by hierdie gemaklike, kontemporêre Engelse diens met sy informele aanslag. Daar sal 'n volledige, energieke kinderbediening wees geskik vir alle ouderdomme: van baba's tot laerskoolkinders en ons is voorbereid vir wanneer ander bedieninge vanuit hierdie diens sal groei (huiskerke, uitreike en dies meer)." 
Hierdie diens skop af op Sondag 6 Februarie om 08:30 (die Afrikaanse diens skuif na 10:00). Enigeen is welkom. Vir meer inligting, kontak vir Michelle Jacobs-Smith 082 815 4644 of stuur 'n e-pos na info@churchadventure.co.za.
PREDIKANTENUUS
Durbanville bevestig Cecile en Kobus
Cecile Murray-Louw en Kobus de Jager is verlede Sondag deur dr. Tinus van Zyl as leraars by die gemeente van Durbanville bevestig.
“As gemeente is ons dus deel van God se sending in hierdie wêreld. Jesus bevestig dit met dié woorde (Joh. 20:21) aan sy dissipels: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ Om sy gemeente hiervoor toe te rus, deel Christus as Eerste Gestuurde gawes aan sy gemeente uit.
Elke gelowige ontvang van Christus een of meer genadegawe as toerusting vir diens. Die ampte is spesiale gawes van Christus aan sy gemeente. Húlle taak is om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk en vir die opbou van die liggaam van Christus. En só groei die gemeente tot werklike eenheid en tot volmaakte volwassenheid in Christus. Die amp van leraar is een van hierdie spesiale gawes van Christus aan sy gemeente,” skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. 
Cecile is 'n sesde generasie direkte afstammeling (en nou ook sesde generasie-predikant) van ds. Andrew Murray Snr. wat in 1822 as deel van 'n groep Skotse predikante na Suid-Afrika gekom het om in die NG Kerk te dien. Klik hier om meer oor hierdie ryk stukkie geskiedenis te lees. Lees ook die artikel wat Cecile onlangs vir Kerkbode geskryf het.
Mag die Here julle bediening seën, Cecile en Kobus.
Stellenberg groet Callie Visagie
Stellenberg-gemeente neem eerskomende Sondag afskeid van Callie Visagie nadat hy vir 25 jaar in die gemeente werksaam was. Hy tree aan die einde van Januarie uit as voltydse leraar van die gemeente. Callie lewer sy afskeidspreek op Sondag 30 Januarie tydens die 09:00 erediens.
Callie, ons wens vir  jou en Marieta 'n rustige aftrede toe.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermyn leraarspos, Laingsburg 
Die kerkraad van NG Kerk Laingsburg wil graag saam met ‘n leraar ‘n pad stap al soekend na die Here se bedoeling met hulle gemeente in die toekoms. Die gemeente wil saam met die predikant ontdek hoe die Here hulle lei in die uitleef van hulle gemeentevisie om “Geesvervulde ligdraers van Jesus Christus” te wees.
Prediking, pastoraat en interkerklike verhoudings speel ‘n kardinale rol in die uitleef van die gemeentevisie. Die stabilisering en uitbou van die verhouding met die plaaslike VGK-gemeente is hoog op hulle prioriteitslys.
Daarom bid die gemeente dat die Here ‘n leraar sal stuur wat bereid is om saam op ‘n ontdekkingspad te gaan. Iemand wat sy of haar gawes en passie vir die Here wil aanwend. Klik hier om die volledige gemeente- en leraarsprofiel te lees. Aansoeke sluit 28 Februarie.  
Medeleraar, Aliwal-Noord 
NG Gemeente Aliwal-Noord nooi graag gelegitimeerde predikante in die NG Kerk wat oor ten minste tien jaar se ervaring in gemeentebediening beskik om aansoek te doen vir die permanente pos. Hy of sy moet passievol wees oor die Here, sy Woord en mense en 'n hart hê vir bediening op die platteland. 
Sluitingsdatum vir aansoeke is 28 Februarie. Klik hier om die volledige vakature op Kerkbode se webtuiste te lees.  
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode 
In sy eerste Kerkbode-rubriek vir 2022 kyk ds. Nelis Janse van Rensburg terug op die drie groot gebeurtenisse waarmee die jaar afgeskop het – die begrafnis van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, die brand by die parlement en die eerste verslag van die Zondo-kommissie. Hy vra wat die kerk se bydrae moet wees in sulke tye. Klik hier om die artikel te lees.
Die term “missionaal” is 'n tipe langtermyn-gonswoord in die NG Kerk. Watter gemeente glo immers nie dat hulle met God se werk besig is en op een of ander manier “gestuur” word nie? Daar is egter heelwat maniere om die term missionaal te vlak te verstaan, blyk uit ’n nuwe boek deur prof. Malan Nel en nege ander Suid-Afrikaanse praktiese teoloë. Lees hier meer oor die publikasie wat gratis aanlyn gelees kan word.
Stuck in the margins?
Join the virtual book launch for Stuck in the Margins? on Thursday 3 February from 18:00 - 19:30. This publication represents the first major international scholarly endeavour to explore the contemporary phenomenon of youth marginalisation from a focused interdisciplinary faith-based organisational perspective. The views and experiences of young people from different localities in South Africa, Finland and Norway stand at the centre of the discussions.
Send an email to drt-helpdesk@uwc.ac.za for free registration. Follow this link to take part in the Zoom conversation. 
Boekbespreking gekanselleer
Neem asseblief kennis dat die boekbespreking van The Monastic Moment gekanselleer is. Prof. De Gruchy het einde verlede jaar 'n groot hartoperasie ondergaan en is die naweek weens komplikasies gehospitaliseer. Alhoewel hy reeds ontslaan is, moet daar nog verdere toetse gedoen word. Daar is dus besluit om die VBO-geleentheid en boekbekendstelling van Vrydag vir eers uit te stel. Daar word reeds gekyk om die datum te herskeduleer. Hou gerus vir VrydagNuus dop vir verdere inligting. 
NUUSBRIEWE
Click here for the latest news from URCSA Cape.
ALGEMEEN
Slaan ag op kopiereg 
Kopieregoortredings kan jou derduisende rande uit die sak jaag. Kopiereg geld op oudivisuele werke soos TV-reekse, flieks en aanlynvideo's asook musiekopnames, geskrewe werke, foto's en grafika. Tegnologie maak dit toenemend makliker om toegang tot beeldmateriaal en stories aanlyn te vind. Daar is egter organisasies wat daarin spesialiseer om oortredings te vervolg en jou aanspreeklik te hou vir lisensiekostes. Plasings op sosiale media en webwerwe word deurgaans gemonitor en kan jou duur te staan kom - selfs as die materiaal deur 'n derde party saamgestel is. Lees gerus hierdie artikel oor kopiereg asook moneyinc.com se wenke hoe om oortredings in die digitale era te vermy. 
'n Maklike oplossing is om van jou eie foto's gebruik te maak en self grafika te skep. Andersins kan jy van die volgende webblaaie gebruik maak vir gratis foto's wat nie kopiereg of gebruikersfooie behels nie: PixaBay, Unsplash, Reshot, Burst, Pexels en FreeImages. Dit is egter goeie praktyk om vergunning aan fotograwe te verskaf. Op sosiale media kan jy gerus skakels of #hutsmerke na hulle platforms plaas. 
Foto: NG Kerk Vrystaat
Registreer nou vir Sensus 2022
StatsSA is besig met hul tienjaarlikse bevolkingsensus. Jy kan aanlyn registreer en self die vorms invul, dan hoef sensusopnemers nie na jou huis te kom nie. Dit kan dalk vir veiligheidsredes 'n beter opsie wees. Suid-Afrikaanse burgers kan kies of hulle aanlyn, telefonies of per huisbesoek data vir die sensus wil verskaf. Registreer by https://getcounted.statssa.gov.za voor Sondag 30 Januarie registreer op die webblad. Data sal in Februarie en Maart opgeneem word. Die aanlynregistrasieproses is redelik vinnig en verg net jou naam, adres, telefoonnommer en e-posbesonderhede.
TEN LAASTE
Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om ons beste wense aan ds. Bossie Minnaar oor te dra met sy aftrede. Hy was 'n getroue leser van VrydagNuus en was gereeld die bron van interessante nuusbrokkies en weldeurdagte bydraes. Sy ondersteuning van die Sinodale Taakspan vir Kommunikasie was van onskatbare waarde. Ons gaan sy betekenisvolle insette, ongelooflike kennis en ervaring sowel as sy gereelde kwinkslae mis, maar wens hom 'n vreedsame aftrede toe.  Bossie, dit was 'n plesier en voorreg om saam met jou te werk.
Ons wens jou Numeri 6 se priesterlike seën: "Mag die Here jou seën en jou beskerm. Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee."
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.