Die Seisoen van Koninkrykstyd
Die Seisoen van Koninkrykstyd
Lees deur internet, klik hier >>
10 Junie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Vrae oor teologiese opleiding?
Die Algemene Kuratorium het onlangs 'n protokol bekendgemaak wat riglyne gee hoe navrae rondom teologiese opleiding hanteer moet word.
Kerkbode berig as volg: "Die 'protokol' behels basies ’n voorgestelde kommunikasievloei vir navrae oor die leer en lewe van dosente. Die doel van die protokol is om ’n veilige ruimte te ontwikkel waarbinne daar direk met kuratoria en dosente gesprek gevoer kan word oor bogenoemde. Lees die volledige artikel hier
Biddag vir Jeug en Kategese
Hierdie Sondag vier ons Biddag vir Jeug en Kategese. Dit is ook op Donderdag 16 Junie Jeugdag in Suid-Afrika. DinkJeug het verskeie hulpmiddels wat tydens die erediens gebruik kan word.
Klik hier vir ‘n intergenerasionele erediens wenk. Hierdie gebedswenke (My droom vir Suid-Afrika) kan ook in ‘n PowerPoint gebruik word. Hier is ‘n uitdeelstuk wat kinders en tieners kan invul. 
Eskom praat met "groen" organisasies
André de Ruyter het die afgelope week ‘n paar verteenwoordigers van groen organisasies soos SAFCEI (South African Faith Communities' Environment Institute) en WWF in Kaapstad ontmoet. Lede van die parlementêre komitee oor energie, amptenare van Stad Kaapstad belas met energie en senior amptenare van Eskom het die geleentheid bygewoon. 'n Oorsig is gegee oor die stand van sake by Eskom en veral die sogenaamde “just transition” na groen-energie. Braam Hanekom het die geleentheid as voorsitter van die raad van SAFCEI bygewoon.
Volgens Braam kon daar reguit vrae gevra word oor die menslike kapasiteit en vaardighede in Eskom, hoe daar gedink word oor kernkrag en wie nou eintlik verantwoordelik is vir die krisis: Eskom (mnr. De Ruyter) of Minister Mantashe of Minister Gordan. "Dit is baie duidelik dat daar van regeringskant baie sterk ideologiese beïnvloeding plaasvind, veral oor die rol van steenkool. Daar is ook ‘n oorsig gegee oor hoe dinge eintlik reeds sedert 1998 begin skeefloop het. Die versnelling van son- en windprojekte behoort ‘n absolute prioriteit te wees asook die uitbreiding van die netwerk om hierdie projekte te akkommodeer.
Dit is duidelik dat niemand meer steenkoolprojekte gaan befonds nie en dat die ou sentrales se dae getel is. Ons kort dringend en gou 10 GW ekstra krag. Baie meer detail oor waar dit vandaan gaan kom, is nou nodig. Veral ook in die lig van steenkoolkragstasies wat volgens nuwe emissiewetgewing moet sluit. Daar is ook gepraat oor hoe geloofsgemeenskappe hul stem duideliker en harder hieroor kan laat hoor (advocacy). Dit sal moet gebeur. Armes het nie net tekort aan geld nie, maar veral ook aan energie (energy poverty). Daarsonder sal hul nie kan floreer nie."
Die Sentrum vir Publieke Getuienis se kantoor kan gekontak word vir meer inligting. 
Arbeidsbediening Helderbergkom verander lewens
Die geestelike werk van Arbeidsbediening in die plekke van werk raak mense se harte diep aan en veroorsaak dikwels dat hulle dan besluit om die Here aan te neem. As hulle dan hul lewe aan die Here begin wy, gee dit aan hul hele lewe nuwe betekenis. Ons deel graag so 'n getuienisstorie met julle. Lees hier meer.
Gemeentes maak kreatiewe planne
Die 2019-sitting van die Wes-Kaapse Sinode se tema het gemeentes uitgedaag om Jesus met waagmoed te volg. In die daaropvolgende drie jaar moes daar aanpassings gemaak word wat alle verwagtinge oorskrei het. Hierin was God getrou en het Hy nuwe deure oopgemaak en het die Heilige Gees ons getroos en versterk en gelei om getrou ons roeping te bly leef.
In die laaste van ons YouTube-reeks vertel gemeentes hoe hulle die pandemie en ander uitdagings kreatief hanteer het. In die video hieronder verduidelik Lettie Büchner van Wellington Moedergemeente hoe hulle gemeenskap om 'n langtafel verenig het. Kyk gerus ons snitlys Kreatiwiteitsverhale vir nog stories van inspirasie.
Vadersdag - 19 Junie
Op Sondag, 19 Junie vier ons weer Vadersdag. KIX Kinderbediening laat weet:
"Pappas braai graag... Jy kan vir jou pappa (of 'n ander persoon wat vir jou lief is en vir jou sorg) hierdie oulike braai-kaartjie maak!
EKOLOGIE
Elektriese voertuie vir Woolies
Woolworths het onlangs 'n loodsprojek aangekondig waarmee hulle van elektriese afleweringsvoertuie gaan gebruik maak om aanlynbestellings af te lewer. Tydens 'n proeflopie het hulle reeds 3600kg koolstofdioksieduitlatings oor 'n tydperk van twee maande gespaar. Volgens die winkelgroep vorm dit deel van hulle missie om een van die mees volhoubare handelsgroepe in die wêreld te word. Lees hier meer oor die veldtog.
Gesonde trooskos vir die winter
Tydens somer is ons vol energie en het ons moed om heerlik kos te maak en te eksperimenteer. As die winter kom, wil ons egter so vinnig moontlik warm kos kry om weer terug onder die komberse in te klim. Dit is gewoonlik tydens winter wat ons dan die meeste wegneemetes of reeds gaargemaakte kos by die winkels kry om die kosmaakproses so vinnig moontlik te laat verloop. Hoe kan ons in hierdie tyd egter ’n ekologiese bydrae lewer om by te dra tot volhoubaarheid deur self te kook en gevolglik ook minder verpakking (bv. met wegneemetes) te gebruik? Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan bederf ons hierdie week met vier heerlike trooskosresepte vir die winter met bestanddele wat meestal reeds in jou spens is. Lees meer hier
PREDIKANTENUUS
Caledon verwelkom Lubbe-gesin
Willem Lubbe het amptelik op 1 Junie as leraar by Caledon Moedergemeente begin en sy intreepreek op 5 Junie gelewer. Willem vertel dat hy en sy gesin vreeslik opgewonde oor hierdie nuwe fase van hulle lewe is.
"Ons is opgewonde oor die skoonheid van die natuur om ons. Ons is opgewonde oor die diep ou verhale van ‘n gemeenskap wat generasies al aankom. Die gemeente in Caledon is 211 jaar oud. Daar is iets geheimsinnig en bonatuurlik aan die geskiedkundigheid van die omgewing. Daar is gesonde verhoudings in die gemeenskap van mense wat al oor jare, oor generasies, skouerskuur, bande bou en liefde leef.  Ons gesin is opgewonde om dit te ervaar en te deel. As almal mekaar se stories ken, is dit ‘n uitdaging en seën.  Ons eerste belewenis van kerkwees in Caledon is dat mammas en pappas, oupas en oumas, kinders oud en jonk almal saam die kerk geniet, die eredienste geniet en saam aanbid.  Dis regtig vir my besonders hoe die gemeente saamwerk om saam te dien. 
Wat maak my bly? Wat maak my hartseer? Wat maak my lag? Wat maak my rustig? Ek is mal daaroor as kinders lag en ek raak baie opgewonde oor 50ste huweliksherdenkings. Oumense wat verlief is, gee my hoop. Kinders wat lag, gee my energie. Daar waar ons kan saam speel, vind ek vrede en rustigheid." Klik hier om sy volledige skrywe te lees. 
Seën en voorspoed vir jou bediening in Caledon, Willem!
GEMEENTENUUS
Ondersteun gerus koffiewinkel by Oostersee
Die pragtige Ginger Tree koffiewinkel by Oostersee-gemeente in Frieslandstraat, Parow is die ideale kuierplek vir 'n lekker koppie koffie en heerlike eetgoed as jy in die omgewing van Parow of Bellville is. Eienaar Gerhard Barnard verlustig hom om gaste daagliks te verras met sy keuse van soet versoekings. Broodjies en souttert is gewoonlik op die spyskaart, maar afhangende van sy inspirasie kan daar ook van sy gewilde treffers soos wortel- en kaaskoek beskikbaar wees.  
Ginger Tree is weeksdae oop van 07:30 tot 17:00. Skakel 072 222 2929 vir navrae. Gaan loer gerus ook op hulle Facebook-blad vir meer inligting.
Montagu reik uit na plaaswerkers
Montagu-gemeente vertel ons meer van hulle onlangse uitreik na plaaswerkers in die omgewing. "Die getuieniskommissie van die gemeente, saam met die boere van die gemeenskap, het beplan om iets besonders vir die plaaswerkers te doen. Lyntjie Jaars is genader en sonder om te blik of bloos het sy 'ja' gesê. Met ‘n gasspreker soos Lyntjie kan jy nie verkeerd gaan nie.
Op 7 Junie is 165 vroue bedien met koek en tee en dan natuurlik, net soos Lyntjie dit kan doen, 'n wonderlike boodskap. Elkeen is spesiaal in God se oë. Dieselfde aand het ons Koo-plase gaan besoek waar 60 mans en vroue opgedaag het. Hulle is bederf met ‘n heerlike hamburger en 'n geskenkie. Weer het Lyntjie hulle aan haar lippe laat hang. Woensdagaand 8 Junie het 180 plaaswerkermanne opgedaag. Hulle is bederf met heerlike potjiekos en ‘n hartroerende boodskap. Lyntjie was so verlief op Montagu dat sy ook die hoërskool besoek het. Ons kon vir elkeen 'n kruisie met die woorde 'Jesus is lief vir jou' gee."
Lewensiklus van 'n funksionele gemeente
Guillaume Smit van Brackenfell-Wes verduidelik in 'n onlangse gemeentenuusbrief dat ‘n moderne gemeente al die eienskappe van ‘n lewende organisme vertoon en dat spesifieke siklusse gewoonlik oor 'n tydperk van veertig jaar waargeneem kan word.
"In die stigtingsfase is mense opgewonde om deel te wees van die vestiging van ‘n nuwe kerk en werk saam om die gemeente as ‘n volhoubare gemeente staande te kry. Dit loop natuurlikerwyse uit op ‘n groeifase waartydens baie energie bestaan, baie nuwe mense betrokke raak en goeie goed gebeur. Na verloop van tyd stabiliseer die gemeente se werksaamhede tydens die plato-fase en kan daar selfs weerstand teen vernuwing of verandering intree. Die krisisfase breek aan wanneer lidmate ouer word, wegtrek en afsterf en as nuwe intrekkers in die buurt nie by die gemeente inskakel nie. Dan kom gemeenteleiers teen 'n keuse te staan tussen vernuwing of verval.
Ons kerkraad het gekies om ‘n vernuwingspad te stap en dit verg 'n geloofsbelegging om mense aan Jesus Christus te verbind, te help om in ‘n diepergaande verhouding met Hom te groei en om in ons diensbaarheid aan ons gemeenskap te werk waar die Here lei, al moet ons soms buite die boks van ons bekende tradisies dink." In watter gemeentefase bevind jou gemeente julself. Laat ons gerus weet hoe julle hierdie verskillende fases hanteer. Stuur 'n e-pos na kommunikasie@kaapkerk.co.za en help ons om ook ander gemeentes te inspireer.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Op besoek aan Hefsiba, Noordwes-Mosambiek
Dr. Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika: VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland) en dr. Nico Mostert (Vennote in Getuienis: NG Kerk Vrystaat) was onlangs op besoek aan Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys op Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek. Lees hier verder.
Foto van links na regs: Dr. Nico Mostert, dr. Manasse Matiquele, dr. Daniël de Wet en ds. Mario Liquisson.
Op besoek aan ons geloofsfamilie in Suid-Soedan
Dr. Kobus van Zyl, verbonde aan die NG Kerk Reebok, gaan jaarliks in Maart op besoek aan ons susterskerke in Kenia en Suid-Soedan. Hy is tans besig om gemeentes te besoek en terugvoer te gee oor sy besoeke daar en hoe dit met ons medegelowiges in daardie lande gaan. Verlede week het ons meer vertel van sy ervaring in Kenia. Hierdie week deel hy met ons wat hy tydens sy besoek aan ons geloofsfamilie in Suid-Soedan ervaar het. Lees gerus hier meer.
Foto van links na regs: Dr. Kobus van Zyl, ds. Angelo Geri en ouderling Daniel Lopwa op 'n rugsak-uitreik in die Imotong-berge in die ooste van Suid-Soedan. Dis die area in Suid-Soedan waar die evangelie nog die minste gehoor is.
TOERUSTING
Opleiding van brugpredikante
Om brugpredikante toe te rus, bied die NG Kerk in samewerking met die VBO-forum ʼn brugkursus aan. Predikante wat binne die volgende twee jaar aftree, kan aansoek doen om die kursus by te woon. Kandidate moet ʼn sterk voorkeur hê vir lering en ernstig wees om brugskap na afloop van die kursus te doen.
Slegs ʼn beperkte aantal NG Kerk kursusgangers kan akkommodeer word. Die kursus word by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington deur Bossie Muller aangebied. Die eerste module word van 19-21 Julie hanteer en die tweede module sal van 1-3 November behandel word.  
Skryf in by Mathilda du Pisanie by mdup@kaapkerk.co.za en rig enige navrae aan 021 808 3265. Klik hier vir meer inligting. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Leraar, Albertinia
Die kerkraad van NG Kerk Albertinia wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in van gelegitimeerde bedienaars van die Woord, wat geroepe voel om vir die pos aansoek te doen. 
In aansluiting by die ampspligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, oordeel die kerkraad dat die gemeente graag ’n leraar wil beroep wat die gawes en toepaslike ervaring het om die gemeente vir die volgende aantal jare in spanverband te begelei op die pad van ’n eietydse bediening. Die verwagting van die kerkraad is dat die gekose kandidaat se lewe sal getuig van ‘n intieme verhouding met die Here en die roeping om sy of haar liefde vir Christus oral en altyd uit te dra. Verder is ’n getroue omgang en navolg van die Woord van God, ’n passie vir die koninkryk en ’n liefde vir die NG Kerk 'n vereiste. Aansoeke sluit 17 Junie om 12:00. Die volledige advertensie kan hier gelees word. 
Voltydse predikant, VGK Huguenot
Die gemeente VGK Huguenot wag in biddende afhanklikheid aansoeke van gelegitimeerde predikante of proponente van die VGKSA in, vir  die permanente pos van voltydse leraar. VGK Huguenot is 'n gevestigde geloofsgemeenskap geleë in die Paarl-Vallei met 3860 belydende lidmate en 770 dooplidmate.
Die gemeente plaas 'n hoë premie op spanwerk en samewerking binne die gemeente en breër gemeenskap. Die ideale kandidaat moet 'n intense belangstelling toon in die sieleheil en vereningingswese van die gemeente. Kennis en deernis vir die bejaardes, siekes en noodlydendes asook begrip vir en belangstelling in die jongmense word vereis. Ervaring van kerkadministrasie, gemeentefondsinsameling en leierseienskappe is voordelig. Die gemeente vereis dat kandidate die Belydenis van Belhar 1986 onderteken het. Bewys van ondertekening kan aangevra word. Indien nie, moet kandidaat inwillig tot ’n gesprek wat sal lei tot ondertekening. Aansoeke sluit 24 Junie. Lees meer hier
Musiekkoördineerder, Wellington-Oos
NG Kerk Wellington-Oos stel hiermee, in biddende afhanklikheid van God, ’n vakature bekend vir ’n geskikte aansoeker om as musiekkoördineerder in die gemeente te dien. Die ideale kandidaat is ’n toegewyde en meelewende NG lidmaat wat op proaktiewe wyse ’n pasgemaakte musiekbediening in die gemeente en tydens eredienste koördineer. ’n Toepaslike musiekkwalifikasie en die bewese vermoë om sangbegeleiding te doen, word vereis. 
Navrae kan aan pieterdutoit15@gmail.com gerig word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Junie 2022. Lees die volle advertensie op Wellington-Oos se Facebook-blad
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Alle sondaars welkom
Cas Wepener skryf in sy Kerkbode-resensie oor Jaco Strydom se nuutste boek Alle sondaars welkom: Gedagtes oor God en die grense van mense dat die mistikus en aktivis in die voetspore van die moeilikheidmaker van Nasaret loop. Strydom wil sy lesers motiveer om "eerlik te soek en te leer by groot geeste in die verlede en nuwe verwondering te hê in die misterie van God."
Die boek is nou in BybelMedia se aanlynwinkel beskikbaar.
Hoogtepunte uit Kerkbode
In die Suid-Afrika van 2022 is die NG Kerk se roeping groter as net Afrikaners en kan die roeping nooit weer eksklusief wees nie, skryf Johan van der Merwe in sy nuutste Terug na die toekoms-rubriek vir Kerkbode.
God is beweging, nie ’n monument nie, sê professor Johan Cilliers onlangs wanneer hy praat oor die doel van ’n nuwe boek Moving methodologies – Doing practical and missional theology in an African context, waarvan hy die spansameroeper en redakteur was. Lees hier meer. 
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuus van Missie Japan.
ALGEMEEN
Raakgelees: Vier-dag werksweke op die proef
Meer as 3300 werkers by 70 Britse maatskappye het Maandag begin met 'n vier-dag werksweek-proef, die grootste proefstudie van sy soort nog. Die proeftydperk is ses maande sonder enige verlies aan salaris vir werknemers oor die tydperk. Die studie word gekoördineer deur 4 Day Week Global in samewerking met Autonomy, die 4 Day Week UK Campaign en navorsers by Cambridge Universiteit, Boston College en Oxford Universiteit.
The Guardian berig dat hierdie proeflopie gebaseer is op die 100:80:100-model. Met ander woorde 100% van die betaling vir 80% van die tyd, in ruil vir 'n verbintenis om 100% produktiwiteit te handhaaf.
Navorsers sal met elke deelnemende organisasie saamwerk om die impak op produktiwiteit in die organisasie en die welstand van werkers, asook die impak op die omgewing en geslagsgelykheid te meet. 4 Day Week Global het reeds bevind dat 78% van werknemers wat vier dae per week werk gelukkiger is en minder stres toon. Luister gerus onder na wat navorser by Boston College Juliet Schor te sê het oor hierdie onderwerp in haar TED-talk.    
Youth Month
This month we celebrate National Youth Month. 16 June was declared as National Youth Day in South Africa in 1994 to commemorate the massacre of school children during the Soweto Uprising of 1976. Each year, Youth Day aims to recognise the struggles of the youth of '76 and celebrate the impact they brought on the liberation of our country.
South Africa is fortunate to have a youthful nation. However, the recent unemployment statistics pertaining to young people are cause for concern.
As outlined in the theme: Promoting sustainable livelihoods and resilience of young people for a better tomorrow, the call to action will be for youth to forge resilience and pursue opportunities for a sustainable livelihood, today and in the future. 
Begin jou pelgrimstog in die plek van hoop
Huis Horison in Stellenbosch is deesdae ook 'n ideale, bekostigbare oornagplek vir stappers wat die Pelgrimstog van Hoop gaan aanpak. Hierdie tuiste vir mense wat leef met intellektuele, mediese of ander gestremdhede se leefareas is uiters geskik vir pelgrims en bied gaste die geleentheid om die vriendelikheid, aanvaarding en spontaniteit van hulle inwoners te ervaar.
Daar is tans slaapplek vir nege gaste. Klik hier vir meer inligting. Vir navrae en besprekings, stuur 'n e-pos aan mvh@huishorison.org.za of admin@huishorison.org.za
TEN LAASTE
Die tweede deel van die liturgiese kerkjaar oftewel Koninkrykstyd begin eerskomende naweek met Drie-eenheidsondag. Volgens Woord en Fees vier die Westerse kerk reeds vanaf die 10de eeu hierdie seisoen. Die sleutelteks word gehaal uit Psalm 8 en dit word beklemtoon dat die koninkryk van God (waaroor dit in hierdie seisoen gaan) die saak van al drie Persone van die Drie-eenheid is.
"Dit is die ewige koninkryk van God wat in tyd deur die lewe en werk van Christus as sigbare werklikheid gevestig word. Dit is ook deur die werk van die Heilige Gees dat dit in die konkrete lewe van mense en die wêreld verdere gestalte gegee word."
Luister gerus hier na Chris Tomlin se weergawe van How Great is our God en mag hierdie onvergeetlike wonder van die Grootheid van ons God ons week inspireer.
Foto: Thomas B/Pixabay.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.