Lees deur internet, klik hier >>
6 Mei 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Kennisgewing van sinodesitting 
Die volgende sitting van die Sinode van Wes-Kaapland is geskeduleer vir 8-12 Mei 2023. 'n Amptelike kennisgewing is vandeesweek uitgestuur aan kerkrade en predikante. Die besluit is geneem tydens die moderamenvergadering wat in September 2021 gehou is. (Besluit 2021/18)
Hierdie kennisgewing geskied volgens Reglement 2 van die kerkorde van die NG Kerk in SA (Sinode van Wes-Kaapland). Verdere reëlings sal later per brief deurgegee word.
Die taakspan wat verantwoordelik is vir die reël van die sinode begin binnekort met hulle werksaamhede en sal u voorbidding vir die sinodesitting baie hoog op prys stel. Ons bid ook dat ons in gehoorsaamheid en navolging van die Here Jesus met fyn onderskeiding te werk sal gaan.
Ons kan nie alles vir almal wees nie - KZN 
Ds. Petrus Botha van die Sinodale Ondersteuningspan in KwaZulu-Natal noem die volgende drie rampe op: “Eers was dit COVID, toe die plundering en nou die vloede, alles binne die bestek van ’n paar maande.” Hy vertel weer van groot skeepshouers en vragmotors wat soos plastiese speelgoed ronddryf op ‘n snelweg wat in ‘n rivier verander het.  “Daar is mense wat absoluut alles verloor het.”
Nioma Venter van Diaconia wou by Petrus weet wat die Sinode van KwaZulu-Natal se plan van aksie met verdere ondersteuning is sodat ander sinodes en die publiek hierdie pogings kan bystaan. Hierop antwoord Petrus soos volg:
“Ons weet ons kan nie alles vir almal wees nie. Ons is die Here dankbaar vir talle groepe en organisasies wat op verskeie terreine help. Ons gaan steeds waar ons kan kos en ander noodsaaklikhede versprei, maar daar is areas wat steeds nie water of elektrisiteit het nie.  Ons het dus besluit om by gemeentes in geaffekteerde areas boorgate te sink, watertenke op te rig en alles op sonenergie te baseer.  Sodoende kan ons water vir die hele gemeenskap verskaf, selfs sonder elektrisiteit. Hierdie areas loop elke paar jaar onder oorstromings deur en daarom wil ons hierdie meer permanente uitkoms daarstel.”
Die koste van ’n volledige installering beloop R300 000. Daar is wel gemeentes wat reeds die boorgat en watertenks het en daarom net die omskakeling na sonenergie benodig. Só omskakeling kos tussen R15 000 tot R30 000. Diaconia het ’n skenking van R30 000 namens die Sinode van Wes-Kaapland gemaak. Gemeentes en individue word aangemoedig om uit te reik na KZN en hierdie inisiatief finansieël te ondersteun. 
Bankbesonderhede:
NG Kerk van Natal
ABSA, rekeningnommer: 
1140000082
Verwysing: KZN vloede
Verdere streeksbyeenkomste gehou
'n Sinodale span bestaande uit verteenwoordigers van die moderatuur en predikante in sinodale diens het vandeesweek hulle belangrike streeksbesoeke voortgesit. Tydens byeenkomste in Vanrhynsdorp en Beaufort-Wes is waardevolle gespreksgeleenthede geskep en is temas rondom roeping, netwerke en kreatiwiteit gedeel. 'n Meer volledige opsomming sal na afloop van die oorblywende besoeke in George en Bellville gegee word.
Moedersdag
In hierdie week se DinkJeug podcast gesels Anriëtte de Ridder oor hoe ons Moedersdag sinvol kan vier. Luister hier na die podcast. Stuur gerus ook hierdie week se spesiale opname aan onderwysers en ouers. Ter viering van Moedersdag het DinkJeug ook 'n uitdeelstuk saamgestel oor die moeders in die Bybel. Klik hier om te af te laai. 
Ons vat hande met Zim-bediening in SA
Daniël de Wet, Getuienisaksie se bestuurder van die Taakspan Ekumeniese Vennootskappe in Afrika,  het onlangs vergader met dr. Christopher Munikwa, predikant van RCZ (Reformed Church in Zimbabwe) hier in Suid-Afrika. Dr. Munikwa woon al 'n hele paar jaar in Suid-Afrika waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging en bediening aan hierdie RCZ-lidmate. Hulle het onder andere oor die behoeftes en uitdagings van die RCZ in Suid-Afrika gesels en ook oor hoe ons hulle hier in die Kaapstad-omgewing kan ondersteun. Lees gerus meer daaroor hier
Foto: Daniël de Wet en Christopher Munikwa tydens hul eerste vergadering in die Strand.
EKOLOGIE
Omgewingsvriendelike vuuraanstekers
Met die winter wat op hande is en meer kaggels asook braaivleisvure wat aangesteek gaan word, is dit belangrik om omgewingsvriendelike vuuraanstekers aan te skaf. Baie dankie aan Sam Chamberlain van ons Groenspan vir hierdie week se eko-wenk oor vuuraanstekers. In hierdie video verduidelik Sam vir ons hoe maklik dit is om sommer self so iets te maak en gee drie maklike voorbeelde. Kyk gerus na die video hieronder.
GEMEENTENUUS
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Die Internasionale Studentebediening in Stellenbosch
Enige student sal seker effe verwese voel as jy vanuit die buiteland op Stellenbosch beland – jy ken niemand nie, jy verstaan nie Afrikaans nie en dan moet jy nog boonop ’n nuwe netwerk van vriende opbou. Dit is dan dat diegene wat Christene is, dadelik kan inskakel by ’n tuiste van dié rykgeskakeerde internasionale kerkgroep, waarvan ds. Jurie Goosen al jarelank die organiseerder is. 'n Hartlike geloofsfamilie van Christene staan gereed om hierdie studente op te neem en in ’n japtrap ’n ondersteuningsgroep te bied. Jurie se vrou, Magdaleen, staan hom by in hierdie bediening aan buitelandse studente. Hulle is dus baie opgewonde as die studente hul gradeplegtighede met die Goosens kan deel, soos nou in April. Lees gerus hul jongste nuus hier.
Foto: Prof. Xolile Simon, (studieleier) staan agter links langs dr. Tibus, sy gesin en vriende na ete ter viering van sy PhD in teologie.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Koster, Pinelands
Die kerkraad van NG Kerk Pinelands het die dienste van ʼn koster nodig. Dit behels die nodige bystand tydens dienste en om na die instandhouding van die kerk en tuin om te sien. Hierdie is ʼn permanente kontrak, maar die dienste word op ʼn ooreengekome deeltydse basis verwag (minimum 20 werksure per maand). 
Die ideale kandidaat moet beskik oor matriek as minimum kwalifikasie, moet bereid wees om naweke en na-ure te werk en moet binne maklike bereik van die kerkgebou woon. Twee jaar se ondervinding in ʼn soortgelyke aanstelling sal sterk in die kandidaat se guns tel. Verdere vereistes sluit die vermoë om basiese praktiese herstelwerk te doen, effektiewe kommunikasievaardighede, basiese rekenaargeletterdheid, kennis van basiese elektroniese en klanktoerusting in. Eie vervoer is noodsaaklik. Aansoekers moet ʼn motiveringsbrief van 200 woorde en ʼn CV (nie langer as 2 bladsye nie) na heleen.m@iafrica.com stuur. Sluitingsdatum vir aansoeke is Maandag 16 Mei 2022 om 17:00. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Ons jongste Getuie/Witness
Dit is altyd ’n groot lekkerte om elke semester te lees oor al die wonderlike getuienisstories wat in Getuienisaksie se nuusblad, die Getuie/Witness, gedeel word. Lees gerus in die jongste uitgawe van die ‘vreemde’ omgee-gemeenskap van Isibindi Initiatives wat ’n tuiste vir jongmense in nood bied. Raak saam opgewonde oor die jeugwerk in Makhathini KZN. Lees ook oor Daniël de Wet se eerste besoek aan ons susterskerk in Malawi, prop. Zolani None se entoesiasme oor Gemeentegetuienis se Proponentefonds, Straatwerk wat iemand weer sy waarde in die oë van Christus help ontdek het en vele meer. Die nuusbrief is beskikbaar op Getuienisaksie se webblad.
Klik hier om al die Getuie/Witness-uitgawes sedert 2010 te besigtig.
ALGEMEEN
Raakgekyk: Hoender kielie die klawers
Dit is nie aldag wat mens 'n dier sien wat 'n musiekinstrument kan speel nie, veral nie so goed soos in die video onder nie. Jokgu is 'n klavierspelende Buff Brahma-hoender van Germantown, Maryland, VSA. Hierdie talentvolle hoender speel nie net klaviersolo’s nie, maar is ook deel van 'n orkes met die gepaste naam The Flocksters. Jokgu het bekendheid verwerf nadat sy haar klaviervaardighede op die talentkompetisie America’s Got Talent in 2017 ten toon gestel het deur ‘n weergawe van Ray Charles se America the beautiful te speel. Sedertdien staan sy bekend as die wêreld se mees patriotiese hoender. As jy meer van hierdie klavierspelende hoender in aksie wil sien, teken in op haar YouTube-kanaal.
Badisa calls for support
According to Badisa, the demand for their services continues to grow and this is putting more pressure on their resources. As the world is increasingly conducting its business online, traditional ways of fundraising are disappearing.
Fundraising is critical to ensure the sustainability of the valuable work Badisa is doing. The need for financial support from individual donors, businesses, churches, companies and foundations is therefore crucial. Your financial support will make a difference. 
KUIERKANS
TEN LAASTE
Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om alle ma's en diegene wat moederlike rolle vertolk 'n geseënde Moedersdag toe te wens. Ons dra julle met liefde aan die Here op.
Luister gerus na Il Divo se treffende weergawe van Mama. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.