Hoe gaan dit met ons gemeentes in grendeltyd?
Hoe gaan dit met ons gemeentes in grendeltyd?
Lees deur internet, klik hier >>
24 Julie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
In gesprek met Freek Robinson
Freek Robinson gesels weekliks met belangrike Suid-Afrikaanse rolspelers in sy program, Reguit Met Robinson. Vandeesweek is Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en voorsitter van die Hoop en Versoening Trust, aan die beurt.
Robinson beskryf hierdie gesprek as ‘n belangrike onderhoud in terme van wat ons in Suid-Afrika moet bereik veral met die oog op versoening. Daarom gesels hy en Braam meer oor leefwêrelde, maatskaplike probleme en dialoog binne die plaaslike gemeenskappe van Suid-Afrika. 
Hanekom waarsku dat as ons niks doen en nie in gesprek met mekaar tree nie, die huidige situasie in ons land glad nie sal verbeter nie, maar eerder al die potensiaal het om te versleg. “Ons is op ‘n punt waar ons sien dat mense baie sterk met verskillende narratiewe oor mekaar lewe; eintlik in verskillende wêrelde. En wanneer daar nie genoegsame dialoog of kontak met mekaar se leefwêrelde is nie, word daardie verskillende narratiewe soos twee treinspore wat langs mekaar loop.”  
Klik op die onderstaande skakel om die volledige onderhoud te luister. 
Akkreditasie-opleiding aan tweede Mosselbaai-groep
Na aanleiding van IMSA (Industrial Ministry South Africa) Kaapstreek se resolusie dat PAK’s (plaaslike aksiekomitees) erns moet maak met die behoorlike akkreditasie van hulle dienswerkers, het Floors Meyer (foto onder), opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening in George, die afgelope Saterdag hul akkreditasieprogram aan ‘n tweede groep Mosselbaai-dienswerkers aangebied. Lees meer hier.
DinkJeug potgooi: kry en ry kategese
DinkJeug wil graag saam met gemeentes dink en droom oor geloofsvorming onder die jeug, daarom het hulle onlangs ‘n potgooi beskikbaar gemaak vir diegene wat betrokke is by die geloofsvorming van kinders of tieners.
In hierdie potgooi gesels Anriëtte de Ridder met Tilana Meyer-Morkel van Paarl-Vallei oor hoe die gemeente in die afgelope maand ‘n kry en ry kategese gehou het. Klik hier en luister verder na hierdie kreatiewe manier om in dié tye by die kinders en tieners uit te kom. 
GROEI-projek brei uit
Marlon Peterson en Ray Weiman (foto links onder) van The Message Trust, wat in tronke en onder oud-gevangenes werk, ontvang hul saadboksies van die GROEI-projek.
Hulle poog om deur middel van ‘n Christus-gesentreerde benadering jong mans in die gevangenis voor te berei op vrylating en suksesvolle herintegrasie in die samelewing en glo dat die groentesaadprojek sal baat by hul bediening. 
Kontak gerus vir Annelie by spg@kaapkerk.co.za indien jy ook so 'n saadboks wil aanvra. Die Hoop en Versoening Trust het onlangs 'n ondersteuningsgroep op Facebook gestig waarop daar gereeld raad en wenke oor tuinmaak gedeel word. Enige persoon is welkom om by hierdie groep aan te sluit. Klik hier vir meer inligting.   
Marlon Peterson (regs) en Ray Weiman (links).
The Message Trust bou ook strukture vir saailinge wat in arm gemeenskappe versprei word.
Ons Reformed Family Forum in ’n tyd van pandemie
Getuienisaksie is ’n lid van die Reformed Family Forum, 'n instansie waar al die kerke in Afrika wat uit die NG Kerk ontstaan het deur hul "general secretaries" (sinodale bestuurders) verteenwoordig word – 'n verteenwoordiging van meer as agmiljoen gelowiges in Afrika. Getuienisaksie ondersteun hierdie forum finansieel en help ook met die ontwikkeling en bestuur van hul mediaplatforms.
Die jongste hulp is ‘n interaktiewe WhatsApp-groep waarop daar weekliks relevante inligting aan al die lede deurgegee word – iets wat veral nou tydens die COVID-19-pandemie van uiterste belang is en hulle groot waardering voor het. Klik hier om die volledige artikel te lees. 
Die Reformed Family Forum verlede jaar tydens hul AJV te Wellington by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit.
Musiek en ons stryd teen onbeskaafdheid
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf hierdie week in die Burger se Godsdiens Aktueel oor die mens se definisie van 'n beskawing. "Daar sal meningsverskille bestaan oor hoe ‘n mens ‘n beskawing definieer. Tog sal jy deur die eeue ‘n breë konsensus vind oor hoe onbeskaafde optrede lyk. Ons nuus is tans deurspek daarvan. Geweld teen vrouens en kinders, geweld in ons townships en die onverdedigbare plaasmoorde is maar enkele voorbeelde.
Die alkoholverbod het die stryd tussen beskaafdheid en onbeskaafdheid kom onderstreep. Dramatiese ingrype, met verrykende gevolge, moes gemaak word om die onbeskaafde gebruik van alkohol aan bande te lê. In so ‘n tyd spartel die kerk om ‘n nuwe wyse van bestaan te vind. Nou wat op aarde het dit alles met mekaar te doen?" 
Klik hier om sy volledige skrywe te lees.  
EKOLOGIE
Eko-wenk: Gebruik glas eerder as plastiek
Dewald Hoffmann verduidelik waarom dit beter is om eerder glas as plastiek te gebruik. In hierdie maand van plastiekvrye Julie doen ons Groen Span 'n beroep op jou om hierdie maklike nuwe gewoonte aan te kweek en jou glasbottels te hergebruik.
Was dit skoon, plak nuwe etikette op en siedaar! Jy het 'n pragtige nuwe waterbottel of konfytfles - ideaal vir 'n mooi geskenk of jou eie huishoudelike gebruik.
Die lewensveranderende krag van mis
Aan die rand van die Sahara in die suidweste van Marokko vang massiewe nette vog uit die lug op en verander dit in drinkwater.
Hierdie tegniek behels 'n fyn gaas waarop minuskule misdruppeltjies - gewoonlik 1 tot 40 miljoenstes van ‘n sentimeter - versamel en saamsmelt totdat hulle genoeg gewig het om in 'n reservoir af te beweeg.
Dar Si Hmad, die Marokkaanse nie-regeringsorganisasie wat heeltemal deur vroue bestuur word, is geleë in 'n droë, bergagtige gebied en is die wêreld se grootste funksionerende misversamelingsprojek. Dit strek oor meer as 600 vierkante meter.
Die nette versamel gemiddeld 6 000 liter water per dag, wat eers vir onsuiwerhede gefiltreer word voordat dit deur die agt kilometer lange pyplyn reis om die huise in die dorpe te bereik. Hierdie projek bied tans skoon drinkwater aan meer as 500 mense in verskeie dorpe, in 'n streek wat swaar getref is deur droogtes weens klimaatsverandering.
Die berge in hierdie gebied in Marokko is ongeveer 140 dae uit die jaar in mis gedrapeer. “Sterk wind bring die mis uit die oseaan en die vog word hier deur die berge vasgevang - - so dit is maklik om die vog in lopende water te verander," het Jamila Bargach, die direkteur van Dar Si Hmad gesê. 
Om mis te oes is ‘n tegniek wat in die 1980's in Suid-Amerika bedink is en daar is huidiglik vele aktiewe projekte in verskillende lande, onder andere Chili, Peru, Ghana, Eritrea, Suid-Afrika en Amerika. Kyk die video (onder) vir meer inligting oor hierdie innoverende projek. 
GEMEENTENUUS
Wat doen ons gemeentes in grendeltyd?
Ons het gemeentes verlede week gevra om vir ons te vertel hoe hulle bediening tydens grendeltyd verloop. Ons het veral belanggestel in koste-effektiewe opsies ter wille van gemeentes wat nie noodwendig digitale bediening soos aanlyn-eredienste, video-opnames en potgooie kan doen nie. Dankie aan die onderstaande gemeentes vir hulle terugvoer.
Laaiplek Whatsapp die wêreld plat
Elrona la Grange laat weet: "Alhoewel dit vir ons as Christengemeenskap ongelooflik swaar is om nie ons kerkbyeenkomste te kan hê of te kan saamwees of om saam te kan sing nie, word ons daagliks verryk met stemboodskappe van ds. Charl van Rensburg, ons nuwe leraar sedert Januarie 2020. Vroegoggend kry ons ‘n kort nuusbrief met ‘n gedagte vir die dag, word bewus gemaak van waar daar nood en hulp nodig is. Daar word ook heeltyd projekte geloods waarby die gemeente betrokke is. Die kort boodskap word wyd deur die gemeente gestuur via WhatsApp en so word daardie boodskap nog wyer aangestuur tot sover as familie oorsee en ander vriende. ‘n Boodskap wat vir baie van ons dalk die enigste troos is vir daardie spesifieke dag. Iets om aan vas te hou tot ons weer kan saamwees, kan saamsing, kan saam aanbid en saam VROLIK wees!"
Helderberg woeker op alle kanale
Lize van Wyk van Helderberg-gemeente vertel dat hulle verskillende kanale gebruik om die boodskap uit te kry. Hulle weeklikse nuusbrief word op die gemeente se webblad gelaai en is baie gewild. Ander platforms wat gratis is, maar wel toegang tot 'n foon of rekenaar en data vereis is Facebook, Whatsapp en YouTube. Hulle gebruik hulle Facebook baie effektief en het elf verskillende Whatsapp-groepe. Sondae word elke erediens: huiskerk, meditatief, tienerkerk en Tekkie- en Kiddiekerk op hul YouTube-kanaal gelaai met skakels na ander platforms. Sy moedig gemeentes aan om haar te kontak as hulle hulp nodig het. Stuur gerus 'n e-pos na lize@nghelder.co.za.    
Van foonnetwerke tot WhatsApp-groepe vir VGK
Brendan Ficks van die VGK Streeksinode Kaapland verduidelik dat hulle tans ongeveer 40 gemeentes het wat Facebook baie effektief gebruik om met lidmate te kommunikeer.  "Die meeste gemeentes maak egter gebruik van WhatsApp, aangesien dit baie meer koste-effektief is.  Baie gemeentelede koop ook net WhatsApp bundels en het nie toegang tot internet vir Facebook, YouTube, Twitter en Instagram nie."

Sy voorstelle vir die beste maniere van kommunikasie met lidmate in grendeltyd is:
1.  Gewone WhatsApp Boodskappe
2.  WhatsApp Broadcasts
3.  WhatsApp Business Account 
4.  Telefoon netwerke - hier word vyf/tien mense in die gemeente geïdentifiseer om daagliks oproepe aan lidmate kan maak, om 'n woord van bemoediging te deel, gemeente-afkondigings deur te gee en om net te hoor hoe dit met hulle gaan. Lugtyd en data word aan hierdie persone verskaf. As tien mense elke dag vyf oproepe maak, bereik hulle 50 lidmate per dag/250 per week/1 000 per maand."
Vredelust Bybelskool
Vredelust Bybelskool bied van 3 Augustus elke Maandag vir tien weke 'n Bybelskool aan. Dit is ‘n nie-geakkrediteerde, Woordgebaseerde kursus met die doel om jou kennis van die Bybel te vermeerder en jou geestelike ontwikkeling op ‘n baie praktiese manier te stimuleer om sodoende jou verhouding met die Here te verdiep.
Weeklikse lesings sal van 19:00 - 19:45 aanlyn aangebied word in die vorm van ‘n Zoom vergadering. Koste vir die 10-weke kursus (sluit PDF handleiding in) is R100 per persoon.

Vir navrae, kontak Martin Coetzee per e-pos of by 084 671 1004.
Bergsig Breiprojek 
Bergsig-gemeente benodig dringend vrolik gekleurde dubbeldraad wol, asook gewillige breiers vir hulle uitreik na die Geelhoutboom-gemeenskap. Die klein truitjies en mussies wat gebrei word tydens hierdie projek, word daar versprei aan die kinders.
Projekleier Irma de Wet daag die gemeente uit om saam vir mense in nood te brei. Die gemeente versoek dat enige donasies by die kerkkantoor afgegee word. Stuur gerus ‘n e-pos aan administrasie@bergsigdv.co.za vir meer inligting.
Oostersee hervat jeugdienste 
Gerhard Barnard van Oostersee-gemeente vertel dat hulle die laaste maand by die jeugbediening ‘n hele paar inisiatiewe begin het om te sorg dat hulle saam in geloof bly groei.
Daarom het hulle 'n oulike projek met die kinderkerk begin waar hul vir die kinders hulle lessies by die huis gaan aflaai. Vier lesse word op ‘n slag aan die ouers en kinders gegee en ondersteunende materiaal soos videos wat die inhoud van die les verduidelik, word beskikbaar gemaak.
Die gemeente se jongvolwasse-selgroep is ook in hierdie tyd hervat en Barnard sê die ontmoetings is ‘n aanpassing om aan gewoond te raak. “Dit is natuurlik vreemd vir ons om dit te moet doen met die COVID-19-maatreëls, maar ons is dankbaar om mekaar weer te kan sien.” 
Aliwal-Noord se kombersprojek
Die gemeente van Aliwal-Noord wil graag vir elke persoon wat deelgeneem het aan hulle winterkombers-projek baie dankie sê. Rondom 40 komberse is in hierdie tyd aan die kerk geskenk. Indien jy belangstel om van hierdie komberse te koop, is jy welkom om die kerkkantoor te skakel by 051 633 2632. 
Die fondse sal deur die gemeente se vrouediens gebruik word om verdere nood in die gemeenskap aan te spreek. Kontak ook die kerkkantoor indien jy belangstel om die komberse te versprei na die minderbevoorregtes in die gemeenskap.
“Die winter gaan nog lank met ons wees en dit is ‘n voorreg dat ons ook op hierdie wyse iemand anders se liggaam en hart kan warm maak,” skryf die gemeente in hulle nuusbrief. 
Môreson VGK in Oudtshoorn bied steeds noodverligting
Christopher Maarman van Môreson VGK in Oudtshoorn skryf: "Ons is reeds van voor grendeltyd betrokke met noodverligting aan gesinne. Sedert Januarie 2019 het gemeentelede se maandelikse skenkings dit moontlik gemaak om gesinne by te staan deur middel van kospakkies. Met die grendeltyd het die gemeente finansiële hulp van Diaconia ontvang. Hierdie skenking het gehelp dat 61 gesinne in Junie kospakkies kon ontvang.
‘n Kaapse weldoener Loyde Triana het 200 maskers aan die gemeente geskenk. Hierdie maskers is onder die gemeentelede versprei in ruil vir ‘n nie-bederfbare produk. Hierdie produkte is gekombineer met ‘n skenking van rys, mieliemeel, koekmeel en stampmielies wat van die  NG Kerk Welgeluk in Oudtshoorn ontvang is. Met hierdie skenking is nog 60 gesinne op die gemeente se buitewyke van kospakkies voorsien. 
Verlede Saterdag het Môreson ‘n skenking van 20 kospakkies van die personeel van die plaaslike Standard Bank ontvang as deel van hulle 67 minute se weldoening op Mandela Dag. Dit was ‘n besonderse verrassing vir elk van die 20 gesinne wat die kospakkies ontvang het. Die gemeente en die ontvangers van hierdie kospakkies wil langs hierdie weg vir Standard Bank Oudtshoorn baie dankie sê.”  
V.l.n.r . is Christopher Maarman (predikant van Môreson VGK), projekorganiseerder Zelna Fourie,  Donay McGear (bestuurder van Standard Bank) en gemeentelid Ellorida McGear.
PREDIKANTENUUS
Stellenbosch-Noord verwelkom Elsje Büchner 
Elsje is op Donderdagaand 25 Junie as tentmakerleraar by die NG Gemeente Stellenbosch-Noord bevestig. Sy skryf dat God se roeping nie ingegrendel is nie en dat grendeltyd vir haar en die gemeente ‘n unieke geleentheid gegee het om op ‘n nuwe manier “roeping” te vier. Anton Böhmer het die Woord verkondig en Lambert Jacobs het die bevestiging waargeneem, terwyl Albertus Louw (Melkbosstrand) ‘n lied gesing het.
Elkeen van die sowat 30 lidmate en vriende het ‘n sakkie ontvang wat iets van die konteks weerspieël en wat vir haar belangrik is. Aangesien gemeentelede nie saam mag koffie drink nie, het elkeen ‘n pakkie cappuccino, tee, suiker en 'n stukkie beskuit gekry om by die huis te gaan geniet.  Elsje het ook vir elkeen ‘n lapmasker gemaak.

Verder was daar ‘n boekmerk van #ThursdaysinBlack – om almal daaraan te herinner dat ons saam moet staan teen geweld teen vroue en kinders. Daar was ook ‘n bakkie pap van Inani Start Well en almal is gevra om die pakkie pap vir iemand te gee wat honger is gedurende hierdie tyd van inperking. Aangesien drukkies uit is, kon elkeen vir Elsje ‘n kort boodskap op ‘n stukkie papier neerskryf.
Baie geluk Elsje. Ons wens jou voorspoed met jou bediening.
Tydens die hande-oplegging is v.l.n.r. Albertus Louw (Melkbosstrand), Theunis Botha (PSD Gemeentebegeleiding), Ian Nell (Fakulteit Teologie) en Lambert Jacobs.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Bestuurder, Parow
Parow Senior Sentrum/Hernus Kriel Behuising wag aansoeke in vir die posisie as bestuurder. ‘n Naskoolse kwalifikasie en minstens drie jaar bestuursondervinding  sal as sterk aanbeveling dien. Klik hier vir posbeskrywing en meer besonderhede. Aansoeke sluit 27 Julie.
Geregistreerde verpleegster, Stilbaai
Stilbaai Bejaardesorg adverteer 'n vakante betrekking vir 'n geregistreerde verpleegster. Registrasie by SARV en 'n goeie kennis van bejaardes is noodsaaklik.  Klik hier vir posbeskrywing en meer inligting. Aansoeke sluit 1 Augustus. 

Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo om Bybelgenootskap se jongste nuusbrief te lees.
PUBLIKASIES
Boekbespreking in Augustus
Jy word vriendelik uitgenooi om tydens Augustusmaand Coenie Burger se tydige nuwe boek Oop Deure - wat Openbaring ons oor die kerk se lewe en roeping leer saam te lees en te bespreek. Die besprekings gaan Woensdagaande (5, 12, 19 en 26 Augustus) van 19:30-20:30 via Zoom plaasvind. Coenie Burger gaan ook aan die gesprek deelneem.
Registreer teen 3 Augustus vir hierdie boekbespreking by: https://forms.gle/PYWJZNrqDjKzMPaw7. Daar is geen koste vir die boekbespreking nie – jy moet slegs die boek self bestel.

Oop Deure kan hier aanlyn bestel word of per e-pos by order@clf.co.za of telefonies by 021 873 6964. Dit is ook te koop by CLF boekwinkels in Wellington en Bloemfontein en by Van Schaik boekwinkels in Hatfield (Pretoria), Potchefstroom en Stellenbosch.  
Nuut van CLF
Karen Swart se God in die gewone is nou beskikbaar. Die boek is op die oog af ‘n vrolike, lekkerlees boek vol stories. Die verhale gaan oor gewone insidente in die lewe van kindwees en later die van ‘n volwassene, maar dié gewaarwordinge word uit ‘n aweregse hoek bekyk. Maar telkens is daar die verrassing, as God in hierdie gewone, alledaagse ontdek word, en ons gehelp word om God se teenwoordigheid tog in die ‘onsienlike’ raak te sien. Dan kom die verwondering! Die boek is bedoel vir almal van ons wat nie alles verstaan nie en soms bietjie sukkel om binne die gebaande weë te glo. 

Bestel aanlyn of stuur ’n e-pos na order@clf.co.za
Hoogtepunte uit Kerkbode
'Ek was g’n geloofsheld, net ’n sterflike mens’
Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, beskryf op 'n aangrypende wyse haar tyd as "red patient". Lees haar verhaal hier.

Opname toon kerk se betrokkenheid en aanpasbaarheid, lê ook leemtes bloot
’n Omvattende opname oor die impak van inperking tydens die Covid-19-pandemie toon dat 2,2-miljoen Suid-Afrikaners in April honger gely het, skryf Lourens Bosman. Vir die volle berig, klik hier.
Die dood van my kamermaat
Okkie Stander, hoof van Huis JJ Watson in George, stuur hierdie indrukstuk nadat een van die inwoners van hierdie Badisa-aftreeoord se inwo­ners onlangs oorlede is en Stander begin wonder het hoe dit vir die oor­ledene se kamermaat moet voel om so “agtergelaat” te word. Lees hier.
ALGEMEEN
Little Seeds gebruik toep om mense te bereik
Little Seeds vertel dat COVID-19 ons geleer het dat ons meer bewus moet wees van ons houding oor die gebruik van sosiale media en tegnologie om mense te bereik.
“Die beste manier om die weerstand wat mense teenoor tegnologie bied te oorkom, is om individue se beperkende oortuigings uit te daag deur die volgende vraag te vra: ‘Wat as dit moontlik is, nie te moeilik is nie en 'n effektiewe manier van kommunikasie is?’ Baie van ons het hierdie nuwe manier van werk uit noodsaaklikheid aanvaar. Terwyl ons ons vaardighede verbeter het en ons gesindhede verander het, het ons begin besef dat dit ook ons manier van verbetering verander.”
In vergelyking met konvensionele kommunikasiemetodes, het WhatsApp-groepe, wat doeltreffend bestuur word, hierdie nie-regeringsorganisasie vinniger laat kommunikeer en hulle ook gehelp om probleme vinniger en meer doeltreffend op te los. Videokonferensies het hulle ook in staat gestel om vergaderings te hou en opleidingsgeleenthede by te woon, selfs op baie kort kennisgewing. Little Seeds is dus van mening dat toepassings 'n tydbespaarder is en 'n interaktiewe manier is waarop inligting gedeel kan word.
Volg vir Little Seeds op Facebook om toegang te kry tot wenke en aktiwiteite vir kleuters.
SADAG #FacebookFriday
With the spread of COVID-19 increasing across South Africa, more people are going for tests, having to wait for test results and then testing positive. This whole process can be very stressful and cause anxiety. During their Friday Facebook question and answer sessions, the South African Depression and Anxiety Group will host a panel of experts to answer your questions and provide tips on how to cope with COVID related stress.
Log in through their website or Facebook page at 13:00 on Friday. You can also submit questions anonymously via email to research@anxiety.org.za. Then, just watch the chat for answers.
Raakgelees: Hond steel eienaar se valstande 
Ben Campbell van Michigan het besluit dat komiese groot valstande presies is wat hy nodig het om homself op te beur te midde die COVID-19-inperkings. Toe Ben, wat as sielkundige werk, die tande onbewaak op die tafel laat, het Thomas, sy Yorkshire-terriër, ander planne gehad. 
Toe die hondjie die tande gryp, kan daar verwag word dat hy hulle in honderde stukke sou gekou het. Maar nee, in plaas daarvan het hy besluit om hulle eenvoudig om die huis in sy mond te dra.
Die video (onder) is al meer as tweemiljoen keer op YouTube gekyk. 
VIRTUELE KUIERKANSE
Inry@Sonstraal
Sonstraal-gemeente hou volgende Vrydag 'n inry vir wegneemetes. Plaas bestellings voor Dinsdag 28 Julie by Lynnette by lyn@sonstraal.co.za of skakel die kerkkantoor by 021 976 1236. Betalings kan per SnapScan, elektroniese oorplasing of met kontant by die kerkkantoor gedoen word. Bestellings kan Vrydag tussen 14:00 en 17:30 afgehaal word. Gebruik die ingang uit Hebronstraat aan Pikkie Paradys se kant.
Bobaas burgers by Bellville-Oos
Saterdag 25 Julie bied Bellville-Oos heerlike hamburgers te koop teen slegs R25,00 elk. Bestellings vir dié wegneem-ete moet Donderdag geplaas word.
Bestel by Marina Eilers vóór Donderdagmiddag om 17:00 by 073 172 4435, of Nico 083 285 7874, of Danita by 084 514 2409. Probeer asseblief om die regte bedrag in kontant te bring.
Die wegneemburgers kan tussen 13:00 en 13:30 by die kerk op die hoek van Park- en Constablestraat in De La Haye, Bellville afgehaal word. 
Ysterplaat verkoop kerrie-en-rys
Jy kan Vrydag 31 Julie 'n heerlike bord kerrie-en-rys optel by Ysterplaat-gemeente. Jy het ook die opsie om jou bestelling te laat aflewer (teen R15). 
Dis nie al nie. Jy kan ook vir R10 'n bakkie malva- of sagopoeding by jou bestelling plaas.
Plaas jou bestelling by Ona: 068 5339 457/021 510 1148 of Scherlize: 072 844 4771 voor Woensdag 29 Julie.
Strand-Noord braai snoek vir boekeprojek 
Saterdag 22 Augustus braai die gemeente van Strand-Noord heerlike snoek ten bate van ‘n boekeprojek in Mosambiek. Elke jaar onderneem die gemeente se getuieniskommissie om ‘n heerlike snoekbraai te hou ten bate van hierdie belangrike projek. Hierdie jaar, ten spyte van die grendeltyd, sal daar weer soos altyd snoek gebraai word! Vir meer inligting oor die snoekbraai en om jou kaartjies aanlyn te koop, klik hier
TEN LAASTE
Vandag is Dag 118 van die nasionale inperking. Baie mense is skermvoos, broos, moedeloos en antwoordloos. Hoe lank dan nog? Gaan die skole weer sluit? Wanneer kan ek my familie weer sien? En terselfdertyd styg die infeksiesyfers.
Mag ons in hierdie tyd ons berusting vind in Psalm 139: 5-6: "U omsluit my van alle kante, U neem my in besit."
Wees veilig, wees versigtig. En onthou om jou masker te dra.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.