Lees deur internet, klik hier >>
13 Maart 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Moderamen vergader
Die moderamen is die dagbestuur van die Sinode van Wes-Kaapland en bestaan uit ringsverteenwoordigers van die 25 ringe, voorsitters van sinodale diensgroepe en taakspanne sowel as predikante in sinodale diens.  Hulle vergader elke ses maande en bespreek relevante kwessies en vordering van projekte en inisiatiewe.  Op vandeesweek se agenda was onder andere ekologie, die sinode se fokusareas, teologiese opleiding,  die kerk van die toekoms, kommunikasie en finansies.  Nelis Janse van Rensburg en 'n paar afgevaardigdes reflekteer in die video hieronder oor die twee-dag byeenkoms by Vredelust-gemeente. 
Algemene Sinode se Kerkorde nou beskikbaar
Die nuwe Kerkorde van die Algemene Sinode 2019 is gefinaliseer en op die Kerkargief se webwerf by “Acta” geplaas. Kliek hierdie skakel om die spesifieke Kerkorde direk af te laai.
Die skakel is https://kerkargief.co.za/doks/acta/AS_KO_2019.pdf
Bestellings vir ’n harde kopie moet teen 25 Maart geplaas word by die sekretaresse van die moderatuur Lisa Human by e-pos skriba@kaapkerk.co.za of skakel 021 957 7155. Die koste behoort ongeveer R200 per kopie te beloop.

Dit is belangrik om daarop te let dat die Kerkorde en reglemente van die Sinode van Wes-Kaapland, wat volgens ’n besluit van die sinode gratis aan elke kerkkantoor en predikant in die sinode geskenk word, nou gefinaliseer sal word. Sodra hierdie bundel gebind is, sal dit aan kerkkantore versend word. Hierdie bundel van die Sinode van Wes-Kaapland bevat ook die Kerkorde en relevante reglemente van die Algemene Sinode.
Western Cape Ecumenical Network
The WCEN met on Wednesday evening to discuss the challenges facing communities in Atlantis, Delft, Vrygrond, Manenberg and Beacon Valley. The importance of inclusivity and social cohesion within communities in South Africa was discussed. This discussion was led by a diverse panel of experts: Quinton Adams, educational psychologist and founder of The Shackbuilder, Braam Hanekom, director of the Centre for Public Witness, and Bonga Mbenenge, minister of the Uniting Reformed Church of Southern Africa (URCSA). 
The panel declared that all hope is not lost for South Africa and emphasized that the role of the Church regarding social cohesion should not be overlooked. The Church has the capacity to influence positive change within society. However, if communities are unwilling to work towards a common goal, this may prove to be a daunting task. Thus, the panel urges South Africans to stop waiting for the government or other influentials individuals to bring about change. They want to encourage the nation to take action themselves by constantly doing small, yet great things for others. 
From left to right: Nelis Janse van Rensburg, Aaron Makili, Bonga Mbenenge, Braam Hanekom, Quinton Adams, Annie Kirke
Discussions will continue about violence against women and children, the regulation of religion and refugees
Bonga Mbenenge, Braam Hanekom and Quinton Adams
Die boodskap van hoop in eietydse konteks
Drie-en-dertig belangstellendes het hierdie week by Onrus-gemeente vergader om saam te gesels oor eietydse evangelisasie. Ses persone is ook gekies om op die groter Taakspan van Evangelisasie te dien. Chris Miles, Org Grobbelaar, Emile Morkel, Lubabalo Gecwa, Frans Bruwer en Phillip Swarts (v.l.n.r.) was deel van die bespreking.
Opvolgbesprekings op Prins Alfred Hamlet, die Kaapse Vlakte en George sal eersdaags plaasvind. Vir meer inligting en terugvoer, kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za.
Bybelvertaling konferensie
Die nuwe Bybelvertaling word November vanjaar bekendgestel. Op Donderdag 30 April bied Bybelgenootskap saam met Communitas ʼn dagkonferensie aan oor die vertaling. Etlike lede van die finale projekspan van die nuwe Afrikaanse vertaling sal as sprekers optree. Dit is ʼn unieke geleentheid om uitstekende insig oor Bybelvertaling en veral ook die nuwe vertaling te bekom. Predikante en lidmate is welkom. Maak ‘n aantekening in jou dagboek en kontak Bridget Leibbrandt by 021 808 3624.
VBO-kursusse in die Suid-Kaap
Predikante in die Suid-Kaap en omgewing kan uitsien na etlike VBO-kursusse wat in die area aangebied gaan word. Hugenote Kollege se Skool vir Sosiale Innovasie bied van 7-8 April die kursus Mensgesentreerde Ontwerpdenke in Albertinia aan. Die kursus stam uit ‘n behoefte vir gemeenskapsgebaseerde sosiale innovasie inisiatiewe wat deur die streek geïdentifiseer is. Die kursus het akkreditasie vir VBO-punte. In Hartenbos, bied Louis Jonker van 14-16 April Skrifverstaan en Kerkwees aan, terwyl Marius Nel op 19-20 Augustus gesels oor Stereoskopiese Lees van die Bybel.  Laasgenoemde kursus word ook op 1-2 April by Communitas op Stellenbosch aangebied. Sien meer inligting op die pamflette onder. Kontak Bridget Leibbrandt by 021 808 3624 of bleibbrandt@sun.ac.za vir besprekings.
EKOLOGIE
Landbou-ekonomie onder die soeklig
Vooraanstaande joernalis Amelia Genis spesialiseer in landbou-ekonomie en het by vandeesweek se moderamen gesels oor ekologie en klimaatsverandering. Sy noem dat landbou nie die grootste vrysteller van kweekhuisgasse is nie, maar wel die grootste slagoffer van klimaatsverandering bly. Sy noem dat Suid-Afrika reeds in 'n staat van klimaatsverandering is en 'n klimaatbrandpunt gaan bereik. Klimaatsverandering lei tot hoër brandgevaar, meer hittegolwe, verdamping van damme en grondvog asook onvoorspelbare reënvalpatrone. Suid-Afrika het egter ook van die beste klimaatwetenskaplikes ter wêreld wat gretig is om hulle kennis met die landbougemeenskap te deel.  Sy meen dat daar slegs ’n toekoms vir boere is as hulle veranderinge aanbring en aanpassings maak. Sien haar kommentaar in video onder.
VAKATURES
Maatskaplike werker - Rawsonville, Breedevallei
Badisa Breedevallei adverteer tans 'n voltydse pos vir 'n maatskaplike werker in Rawsonville. ‘n Graad of Diploma in Maatskaplike Werk, registrasie by die SARMD, bestuurslisensie en ondervinding van kinderbeskermingsdienste en dienslewering aan gesinne asook persone met middelafhanklikheid sal ‘n aanbeveling wees.  Aansoeke sluit 3 April.  Klik hier vir posvereistes.
Aanbiddingsleier - Helderberg
Die NG Gemeente Helderberg het tans ʼn vakante pos vir ʼn kontemporêre aanbiddingsleier. Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die kontemporêre musiekbediening in vennootskap met die ander bedieninge. Sy/hy moet 'n ruimte en atmosfeer deur sang- en instrumentale begeleiding kan skep sodat die gemeente 'n diep verbintenis met God kan beleef. Sien meer besonderhede hier.  Aansoeke sluit 29 Maart.
Klik bo vir die nuutste Kerkbode vakatures. 

'n Pelgrimstog van hoop
Dewald Hoffmann (middel) en 'n Amerikaanse pa en seun, John (links) en Sam Hilley (regs), het in Januarie die frase “hou bene hou” op die proef gestel tydens hul pelgrimstog. Dié pelgrimstog het begin by die kapel van die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch en het 362 km later op Kaap Agulhas se strande geëindig.
Hoffmann beskryf die pelgrimstog as ‘n ongelooflike ervaring waarin hy vir God elke dag raakgesien het. “Jy is baie kwesbaar as jy stap. Dis besonders hoe jy dan vir God beleef. As jy opkyk, is jy verstom om te sien waar jy is en as jy terugkyk, waar jy vandaan gekom het. Dis ongelooflik om by ‘n plek aan te kom en te dink: my voete het my tot hier gedra.” 
Hierdie tog het agttien dae geduur en die pelgrims het by sestien verskillende dorpe oornag. Die pelgrims was afhanklik van mense se goedheid vir verblyf en kos. Vir verdere inligting kontak Sharon Naude by pelgrim@sun.ac.za of 021 808 3381. Besoek die Facebook-blad vir meer inligting of klik hier vir John se indrukke van hulle pelgrimstog.
GEMEENTENUUS
Messy Church - 'n innoverende manier van kerkwees
Selfs al is die konsep van “Messy Church” nou eers tien jaar jonk, groei hierdie manier van kerkgaan onder families en ander gemeentelede. Meer as 500 000 mense regoor die wêreld is ingeskakel by hierdie vorm van kerkwees. Die eredienste is gebaseer op kreatiwiteit, gasvryheid en feesviering. “Messy Church” se opset is soortgelyk aan dié van ‘n gewone erediens, maar die liturgie bestaan uit prettige speletjies en aktiwiteite wat kinders toelaat om met ‘n unieke perspektief na Bybelstories te luister.
Buiten Suid-Afrika word dit deur nog dertig ander lande ondersteun. Weens groot belangstelling hou Brackenfell-gemeente maandeliks 'n “Messy Church” geleentheid vir gesinne met voorskoolse en laerskoolkinders. Die informele en gesellige eienskappe maak hierdie dienste treffend vir jonger kinders. Jongmense word ook in die proses betrek en tieners word aangespoor om aktiwiteite en gespreksessies met die jonger kinders te fasiliteer. Vir meer inligting besoek gerus “Messy Church” se webtuiste hier
GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
Internasionale maatskaplike werkdag - 17 Maart
Gedurende Maart gebruik maatskaplike werkers regoor die wêreld die geleentheid om hulle uiters belangrike bydraes tot die samelewing te beklemtoon. Hierdie jaar se tema fokus op die belangrikheid van menseverhoudings.
Volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe het ons land ‘n 77% tekort aan maatskaplike werkers. Suid-Afrika het die behoefte en nood vir bykans 70 000 maatskaplike werkers en daar is huidiglik minder as 20 000 geregistreerde werkers.
Die maatskaplike werkers van ons land het ongelooflike talent en hulle konfronteer sommige van die mees uitdagende probleme waarmee individue, gesinne, gemeenskappe en die samelewing sukkel. Daarom bied 17 Maart vir ons die geleentheid om ons waardering aan hulle te toon. Wys jou dankbaarheid deur ‘n gebed vir maatskaplike werkers te doen of selfs net ‘n koffie saam met hulle te geniet. Kontak gerus jou naaste BADISA kantoor vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak. 
Boksies vir Dowes - jou kleingeld maak 'n groot verskil 
Ter viering van die Maand vir Dowes in September wil die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) gemeentes graag aanmoedig om vanjaar hul NID Change for Change boksieprojek te ondersteun.
Gemeentelede word vriendelik versoek om ‘n NID geldboksie te neem en dit met lastige en oortollige kleingeld te vul tot en met September. Fondse is ten bate van Dowes en persone met gehoorverlies by die NID.
Die boksies kan op die Nasionale Biddag vir Dowes (Sondag 6 September 2020) of enige alternatiewe datum in September by die betrokke gemeentes bymekaar gemaak word. Die NID sal die boksies by die gemeentes afhaal en later terugvoering gee rakende die bedrag wat ingesamel is.
Om deelname aan die projek te bevestig en boksies te bestel, e-pos navrae gerus aan relations.fr@nid.org.za of skakel Chriszelda by 023 342 5555. 
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Badiso Trio se nuusbrief.
PUBLIKASIES
A guide for prison ministry 
CLF is introducing their latest publication South African Prison Ministry by Valerie Hamann this month. The training manual for facilitators consists of four parts: group discussions and reflection, prison statistics and challenges, building a healthy prison ministry and God’s message to prisoners.

Valerie Hamann is an expert in pastoral care, spiritual warfare, emotional and physical healing, counselling, spiritual formation and growth and relationship management. Her love for God and her passion for prison and women’s ministry are evident in the lives that she has touched. Order copies from the CLF online shop.
April se LiG is Maandag op die rakke
Die Paasfeesuitgawe moedig lesers aan om in die Lydenstyd stil te word voor die stasies van die kruis.  
Karlien van Jaarsveld is op die voorblad en sy vertel hoe moederskap haar lewe verander het. Akteur Bennie Fourie deel dat hy wil leef binne God se wil. 
LiG gee feite oor die seksvoorligting wat tans by skole behandel word en deel die waarheid oor dagga. Kry ook vindingryke idees om mooi herinneringe vir jou kind te gee. Lees gerus ook oor Bok Radio se suksesstorie en hoe om die lewe na 'n egskeiding aan te pak. 
Jongste stories in die Kerkbode... 
Dana Snyman praat oor sy kinderjare in die pastorie: "Dit (voel) vir my of daar altyd een of ander struweling of onenigheid in Pa se gemeente of in die kerk was," skryf hy hier.
Dit is nie net manne wat bedreig voel deur vroueregte nie. Daar is baie vroue wat ewe hard veg daarvoor dat mans die “hoof van die huis” moet wees, skryf Tinus van Zyl hier.
“Catch it, Bin it, Kill it, Do not touch your face…” Só klink van die `gesondheidsgebooie’ wat aan kerkgangers in die Verenigde Koninkryk (VK) voorgeskryf word te midde van die wêreldwye kommer oor die verspreiding van die Korona-virus. Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
TEN LAASTE
Ons wil graag die gemeentes wat deelgeneem het aan ons kommunikasie-oudit hartlik bedank vir hulle samewerking. Ons gaan in die komende weke gesels oor die behoeftes rakende kommunikasie in ons gemeentes en sal dit waardeer as julle aan die proses sal deelneem.
Daar word tans gekyk na maniere waarop ons as 'n missionale kerk kommunikeer en hoe ons 'n unieke narratief van kerkwees kan skep en oordra. Insette van gemeentes en gemeentelede gaan 'n kardinale rol speel om hierdie strategie te vorm.
Kontak kommunikasie@kaapkerk.co.za om gedagtes oor die onderwerp van kerklike kommunikasie te deel.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.