Subscribe to our email list
 30 September 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. Diaconia en SmartStart - 'n Slim Begin!

By die 2015 Sinode is besluit op 'n skerp fokus op Vroeëkindontwikkeling deur gemeentes. Diaconia het die afgelope jaar bestee aan die ontwikkeling van vennootskappe om platforms vir gemeentes te skep om maklik hierby betrokke te raak. Diaconia se visie is juis: "Om gemeentes as navolgers van Jesus Christus te ondersteun om regverdige en genesende gemeenskappe te word deur betrokkenheid by Vroeëkindontwikkeling in hul gemeenskappe."
Die afgelope week het die vennootskap tussen Diaconia, DG Murray Trust, en die NGO Smartstart afgeskop. Die gemeentes Citrusdal, Worcester Moedergemeente, Worcester-Vallei, Murray (De Doorns), Mosselbaai-Suid, Herold, VGK Idasvallei en Goudini was teenwoordig. Lees hier verder.
SmartStart inleiding - groepfoto
Agter vlnr Sean Esterhuizen (Diaconia), Daniel van Zyl (NG Citrusdal), Gert Nothnagel (NG Herold), Robert Knobel (NG Mosselbaai-Suid), Hans Steyn (NG Worcester-Vallei), Justine Jowell (SmartStart), Zylia Volschenk (Badisa)
Middel vlnr Lorinda Maritz (NG Mosselbaai-Suid), Janice Carelse (VGK Idasvallei), Carlyn Pietersen (VGK Idasvallei), Ansonette van der Merwe (Capespan), Ronnie van Wyk (VGK Idasvallei), Rouxanne Opperman (Badisa), Leon Venter (Diaconia)
Sittende Lorna Dreyer (US Opvoedkunde), Theresa Appel (NG Goudini), Hazel Herwel (De Doorns), Nicolene Damans (Kibbutz, Worcester), Nicola Vermeulen (Diaconia), Jan Ungerer (NG Worcester), Deon Koegelenberg (NG Murray, De Doorns)
Diaconia en Smartstart
Diaconia se personeel vir Vroeëkindontwikkeling
Leon Venter, Isabella de Kock, Nicola Vermeulen en Sean Esterhuizen
Nelis Janse van Rensburg
2. Saam - met Integriteit - Kerk en Getuies
"Na die sinode gaan die kerk en die samelewing steeds verdeeld wees. Mense gaan nie sommer wegstap van hulle oortuigings nie. Maar ons het nog oortuigings, onder andere dat die verbondenheid van gelowiges aan mekaar, juis ten spyte van verskille, 'n kragtige getuienis lewer ... by die pas afgelope moderamenvergadering was die verbintenis tussen lede wat sterk van mekaar verskil om saam 'n pad te loop, op sigself 'n getuienis. Daarom sal ons nou almal moet dink aan maniere om mekaar te vind."
Hieroor - en oor die kerk se soeke na 'n weg "om met integriteit, met ons verskille, saam kerk te wees" - skryf Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen) in die Kerkbode van 23 September.  Lees hier.
3. Teologiese Opleiding
3.1 Gaan daar vir my werk wees?

Roeping kom van God af - deur die eeue roep die Here mense om 'n verskil te maak. Die eerste vraag is dus nie of daar werk is of nie, maar liewer of ek bewus is van nood in die wêreld waarvoor ek geroep word. As missionale kerk word daar onder andere gefokus om nuwe gemeentes te plant en ons ervaring is dat afgestudeerde studente dikwels oor die visie en energie beskik om leiding te neem met hierdie plantings. 
Gemeentes kan gerus oorweeg om hierdie reeks video's (hierdie is die sesde in die reeks) met belangstellende jongmense, katkisante of lidmate te deel. Dit is op die sinode se webwerf by Nuus - Algemene Nuus beskikbaar, of tik bloot "teologiese opleiding" in die soekfunksie. Navrae: skakel Amanda van Niekerk by 021 808 9138 of toerusting@sun.ac.za vir inligting oor inskrywings en meer.
Teologiese Opleiding - Gaan daar vir my werk wees?
3.2 Vars blik op Teologiese Opleiding!
Die Kuratorium van die NG Kerk aan die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit Teologie, het onlangs 'n vars, nuwe aanslag ten opsigte van hul bewusmaking en bemarking aan hoërskoolleerders ingeneem. Met hierdie nuwe bemarkingsfokus is daar verskeie “roadshows” aangepak om jongmense oor die sinodale gebied van meer inligting te voorsien, asook 'n nuwe vars beeld van die NG Kerk en Fakulteit te bied. Die eerste been van die “roadshow” het in George en Oudtshoorn afgeskop en is reeds baie gewild onder die leerders. 
Die #bemorebechange-span was by 'n hele paar skole en kerke in die gemeenskap en is ten spyte van druk eksamenskedules hartlik verwelkom. Die “roadshow” bestaan uit twee dele: 'n videovertoning, en 'n mini-drama uit die pen van bekende verhoogakstrise en vermaaklikheidskunstenaar, Lizz Meiring.
Wellington, Worcester, Strand, Somerset-Wes, Durbanville en Brackenfell is volgende aan die beurt. 

Lees hier verder - en kontak Andre by pentzandre@gmail.com of 082 565 1467 om te reël dat die produksie jou skool, kerk of jeugbediening besoek.
Teologiese Opleiding roadshow
Produksie van @bemorebechange - met Frederick Marais op grootskerm
4. Biddag oor Droogte 2 Oktober 2016
Die NG Algemene Sinode Moderamen (ASM) het tydens hul onlangse vergadering besluit om gemeentes te versoek om op Sondag 2 Oktober, tydens eredienste voorbidding te doen vir reën. Groot dele van ons land is vasgevang in ‘n knellende droogte wat mens en dier raak.

Dié besluit en versoek is ook na die TKR en die Conventus van Reformatoriese Kerke gekommunikeer om dit na goeddunke onder lidkerke te versprei. 

Die ergste droogte in 112 jaar veroorsaak geweldige uitdagings oor ‘n wye spektrum. Voedselsekuriteit, die skuldlas van kommersiële en opkomende boere en die las op die finansies van gewone burgers wek groot kommer. Berekeninge toon aan dat basiese voedselpryse 35 persent duurder is as ‘n jaar gelede. Selfs voor die droogte het veertien miljoen van ons land se inwoners honger gaan slaap. Dié persentasie kan byna verdubbel sou die droogte voortduur. Dit gaan nie net om mens en binne ons eie konteks nie - Suid-Afrika is ook die graanskuur vir Botswana, Namibië, Swaziland, Lesotho, Zimbabwe en Mosambiek. 

5. Getuie/Witness
Die Diensgroep Getuienisaksie se nuusbrief, Getuie/Witness, het pas verskyn en is elektronies hier beskikbaar. Die harde kopie sal gedurende Oktober en November by gemeentes se kerkkantore beskikbaar wees. Skakel gerus met Mickey Bouwer by kga1@kaapkerk.co.za of 021 957 7204 om in te teken vir nuus en stories van hoop uit die hele NG Kerkfamilie. 
Soos altyd, is dit ’n nuusbrief wat inspireer en jou dankbaar laat dat jy deel van God se reis met die mense van die NG Kerk-familie mag wees. Vra by jou kerkkantoor vir die jongste uitgawe! Deel die stories. Wees ’n GETUIE.
Reformasie 500-logo
6. Reformasie 500
Met die oog op 2017 se vyfhonderd-jarige vieringe van die Reformasie - en spesiale fokus op Martin Luther se bydrae - word allerlei materiaal ontwikkel om gemeentes met die herdenking te ondersteun. Hierdie materiaal behoort vanaf November beskikbaar te wees.
Vir die gemeentes wat reeds navraag gedoen het oor die logo vir Reformasie 500: die Algemene Sinode het die logo effens verfyn en ook in jpg-formaat beskikbaar gestel. Let gerus daarop dat besluit is om met die blou weergawe te werk, terwyl die bykomende inligting rakende Reformasie 500 Internasionaal verduidelikend van aard is. Beide bg logo's is hier in pdf-formaat beskikbaar.
Biddag vir Bejaardes
7. Biddag vir Bejaardes 2 Oktober 
Volgens die Jaarboek van die NG Kerke se lys van kerklike bid- en feesdae word Sondag 2 Oktober ook as ’n geleentheid van voorbidding vir ons bejaardes afgesonder.
Etienne Fourie, redakteur van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) se Blitspos-nuusbrief, skryf in die uitgawe van 9 Junie dat hy met twee bejaardes gesels het om stof vir ’n oulike voorblad te kry, maar ... “Ek het ’n lewensles geleer. Ek het Spreuke 17:1 in aksie gesien: ‘Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby'.” Lees die volledige artikel hier. Dankie vir gemeentes se volgehoue liefde en ondersteuning aan ons bejaardes.
7.1 Badisa: Internasionale Dag vir Ouer Persone 1 Oktober
Met die oog op die Internasionale Dag vir Ouer Persone (jaarliks op 1 Oktober) het Badisa 'n mediaverklaring uitgereik. 
Badisa, die NGK Wes-Kaapland en VGK Kaapland se maatskaplike dienste-organisasie, lewer ’n wesenlike bydrae tot ouer persone, deur die 21.6% van dienssentrums en 36% van residensiële sorgsentrums in die Wes-Kaap wat deur hulle bestuur word. Besoek www.badisa.org.za vir meer inligting.
Badisa Ouer Persone
KZN Sinodesitting
8. NG Sinodesittings in Oktober
8.1  Kwa-Zulu Natal
Kom ons dink aan ons kollegas en vriende van die Sinode van KwaZulu-Natal, wat van 10-13 Oktober sinodesitting het.
Dit vind vanjaar in Pietermaritzburg by die NG Gemeente Hayfields plaas. Oor die tema skryf ds Rupert de Koning soos volg:
"Ons wil by die geleentheid mooi luister waarheen die Here ons volgende wil lei. Met die belydenis 'In Christus is ons Hoop' sê ons dat Christus die middelpunt is wat sy kerk rondom Hom vergader en vir ons HOOP gee – ‘n alternatiewe gemeenskap. Maar Hy stuur ons ook uit om hierdie HOOP met ander te deel, en daarom nie ‘n eksklusiewe gemeenskap (‘n soliede sirkel) nie, maar een wat met die liefde van Christus uitreik na ander en hulle innooi (‘n gebroke sirkel)."
Noordelike Sinodeagenda
8.2 Noordelike Sinode
Ons dink ook aan almal van die Noordelike Sinode wat betrokke is by hulle sinodesitting.
Dit vind van 10 tot 14 Oktober 2016 by Weesgerus net buite Modimolle plaas en sal rondom die tema "HOOP" ingerig word.
Onder die sake vir bespreking is die rol en funksie van die kerkverband, hantering van verslae oor Skrifgebruik en Skrifhantering, missionale transformasie, selfdegeslagverhoudings en die kerk se publieke getuienis. 'n Spesiale woord van sterkte aan Johan Kruger, saakgelastigde, Paul Grobler, direkteur, en Hermien Swart, koördineerder, in die aanloop tot die sitting.
9. Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit
In 'n vorige VrydagNuus is berig oor die moderamen se besluit om na 'n jaarlange proses van beplanning die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit by die Samuel Kampus in Wellington te vestig. Dit word beplan op die kampus waar Andrew Murray vir die laaste 25 jaar van sy lewe gebly het. Die besluit is beskryf as een van die belangrikste besluite wat die moderamen die afgelope aantal jare geneem het. Belangstellendes kan gerus lees hoe Kerkbode hieroor berig. Die glansbrosjure wat 'n spesiale blik op die sentrum bied, is hier beskikbaar.
Andrew Murray Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit - Visie
Sinode van Wes-Kaapland
10. Nuuswaardighede op Kaapkerk-webwerf
As jy op soek is na inligting oor sinodale, rings- of gemeentelike gebeure, kan jy op die Sinode van Wes-Kaapland se webwerf (https://kaapkerk.co.za) klik by Nuus - Algemene Nuus 'n lys van onlangse gebeure en nuuswaardighede.
Meen jy dat jou gemeente se aksie of fees ook hier 'n plek verdien? Kontak ons met die nodige inligting en help om die sinode se webwerf aktueel en sinvol te hou.
ALGEMEEN
1. Ring van George in Uniondale byeen
Drew de Kock van George skryf: "Die Ring van George het op 28 en 29 Augustus ons Ringsvergadering gehou op Uniondale en dit sommer deel gemaak van hul 150ste bestaansjaar van hul gemeente.
Leon Venter (Diaconia) en Hannes Koornhof (Predikantebegeleiding) het toerusting aan die afgevaardigdes gebied. Projekte wat ook aandag geniet het was oa die 'Avos for life' en vennootskap met Diaconia vir VKO".

Ring van George
Agter vlnr: Japie Beyers (Outeniqualand), André Pieterse (George), Francois Mulder en Cornie Pretorius (Blanco), Willie Fry (Tuinedal), Pieter van Santen (Tuinedal, voorsitter) Janna van der Colff (Blanco), Hennie Zwiegelaar (Herold), Nicol Myburgh (Uniondale)
Voor vlnr: Andries Olivier (Blanco), Johan Myburgh (Outeniqualand), Drew de Kock (George, skriba), Ina van der Schyff (George), Steve van der Walt (George), Annemarie Marx (George-Suid), Petrus Carstens (Uniondale), Johann Winterbach, (George-Suid), Gert Nothnagel (Herold)
Ring van George
Tafelbesprekings
Ring van George
Tafelbespreking - George se ringsitting
2. Die Belydenis van Belhar: 30 Jaar
'n Dankseggingsdiens ter viering van die 30ste herdenking van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar is op Maandag 26 September in die kerkgebou van die gemeente SA Gestig in Belhar gehou. Die verwelkoming is deur Llewellyn MacMaster, gemeenteleraar, waargeneem, met prof Dirkie Smit as prediker. Sy boodskap was een van hoop: om met moed en geloof na te jaag wat nog nie gesien kan word nie.
Intussen skryf prof Nico Koopman in Die Burger van 28 September oor die Belydenis van Belhar as aanduiding van gesonde moraliteit – iets wat broodnodig in ons samelewing is. Lees sy bydrae hier. (Met dank aan Dion Forster, fotograaf)
Prof Dirkie Smit tydens die 30ste viering van die Belydenis van Belhar
3. Lidmaatpredikers Lewer Proefpreke
Die afgelope paar weke het verskeie studente wat ingeskryf het vir die Lidmaat-predikerkursus, hulle proefpreke gepreek. Dit is die hoogtepunt van die opleiding wat hulle ontvang het om hierdie spesifieke bedieningstaak in hulle gemeentes te kan verrig.  Die Lidmaatpredikerkursus het ontstaan vanuit die groeiende behoefte aan persone wat predikante kan bystaan in die lei van eredienste in gemeentes. Lees meer hier.
Bennie Cornelissen se proefpreek
Bennie Cornelissen - proefpreek in VGK Bergrivier, Wellington
Gavin Pieterse se proefpreek
Gavin Pieterse - proefpreek in VGK Worcester-Suid
4. Hugenote Kollege hou Opedag
Alle belangstellendes is welkom by die Hugenote Kollege se Opedag op Vrydag 14 Oktober vanaf 09:00 tot 16:00 in die kollege se saal op die hoofkampus in Wellington.
Die Opedag bied die kans aan voornemende aansoekers om die akademiese personeel te ontmoet, eerstehandse inligting te kry oor die kursusse en om sommer te kyk hoe lyk dit op die kampus.

Kontak die kommunikasiebeampte, Liesl Brink, vir meer inligting: LBrink@hugenote.com of 021 873 1181. 
Aansoeke vir 2017 is reeds oop.
5. "Ek Glo"
"Aan die begin van die jaar was ek en Neil bevoorreg om 'n konferensie by die Calvin Institute of Worship by te woon.  Ons het daar iets soortgelyks in Engels gesien en dadelik gedink ons sal dit in Afrikaans wil doen." 
Só vertel ds Lette B
üchner van die NG Gemeente Wellington, het dit gebeur dat sy en haar man, Neil, die idee gekry het om dié video van die Apostoliese Geloofsbelydenis te maak. 

Met dank oorgeneem uit eKerkbode.
Grootdrink
6. Oor Grootdrink, Groot Dirk, Ramme wat treinry en "Meer korrek"
In die Sinode van Noord-Kaapland se eNuusbrief dink kollega Mossie Mostert (PSD) heel vermaaklik én insiggewend na aan-leiding van die 75ste verjaardag van die NG Gemeente Grootdrink, na oor sy oorlede pa se uitdrukking "'n Ram moet treinry" en hoe dit met komende sinodesittings mag verband hou ...
As jy op 'n plaas grootgeword het, ken jy dalk die term "prulskaap". Mossie bied - soos altyd - interessante stof tot nadenke. Want "altyd korrek" en selfs "méér korrek" is 'n gevaarlike aanname. Lees hier. (Met dank en erkenning aan Noord-Kaapland eNuus en Mossie Mostert.)
Wereldonderwysersdag
7. Wêreldonderwysersdag
UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) het 5 Oktober as jaarlikse Wêreldonderwy-sersdag verklaar.
Hierdie dag is 'n besondere poging tot bewusmaking, begrip en waardering vir die onmisbare bydrae wat onderwysers wêreldwyd ten opsigte van opvoeding en ontwikkeling lewer. Enigeen wat net 'n effense mate van insig in onderwysers se program en verantwoordelikhede het, sal hardop en met oorgawe wil sê: "Hoor, hoor!"
Wanneer laas het jy vir die onderwysers in jou gemeente/gemeenskap gebid? Dalk is 'n oproep en woord van waardering net wat hulle nodig het om die laaste kwartaal van die jaar met nuwe moed en geloof aan te pak. Meneer en Juffrou, ons salueer julle vir elke ekstra myl wat julle loop. Mag die Here julle seën met wysheid en onderskeidingsvermoë om elke dag aan te hou om 'n verskil te maak.
As jy jou hiermee vereenselwig, lees 
die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (
FEDSAS) se mediaverklaring ter ondersteuning van die projek.
7.1 #I wish my Teacher knew
In die gees van Wêreldonderwysersdag, is hier nuus oor 'n jong onderwyseres in Denver, Kyle Schwartz, wat haar leerders beter wou leer ken en hulle gevra het om te reageer op die vraag "I wish my teacher knew ..." Die reaksie het haar diep getref. Toe sy die les met ander onderwysers gedeel het, het dit oornag 'n sensasie op Twitter geraak met die hutsmerk ("hashtag") #iwishmyteacherknew”.
As jy op die een of ander manier met die jeug werk, dalk as onderwyser, dalk by kategese of selgroepe of VCSV, kan jy oorweeg om hier te lees. (Met erkenning aan The New York Times).
I wish my teacher knew
"I wish my teacher knew I am smarter than she thinks I am."
Fees Must Fall
8. Raakgelees: Kerk en #FeesMustFall
#FeesMustFall was die afgelope tyd oral nuus. Vrae oor die kerk as NGO se rol om leiding (en praktiese hulp) te gee, lok uiteenlopende reaksie uit. Een standpunt wat oorweeg kan word, is dié van Gateway News
"Does the Church have any role to play in all of this? Our role is indispensable, yet it will be largely unseen and often ignored by the mainstream media. Ephesians 4:28 exhorts believers to discard selfish living and embrace a disciplined and generous lifestyle instead, declaring: 'Anyone who has been stealing must steal no longer, but must work, doing something useful with their own hands, that they may have something to share with those in need.' We are thus to take the gospel, and bring selfish individuals to a saving knowledge of God. But it does not end there. This is where we have often fallen short." Klik hier om meer te lees - en oordeel dan self of jy saamgaan met wat hier voorgestel word.

Twitter Facebook
GEMEENTENUUS
NG Lourensrivier-Strand Beleef Besondere Doopgeleentheid
Op Sondag 25 September, het NG Lourensrivier-Strand 'n baie besondere diens gehad. Sam en Amanda Dandala, van die VGK Decoligny-gemeente naby Mthatha, het hul baba (Kwazi) daar laat doop deur ds Willem Botes, wat 31 jaar by Decoligny in die Oos-Kaap werksaam was. Die doopformulier is in Engels gelees, terwyl die vrae aan die ouerpaar - wat in Afrikaans op die skerm gewys is -  en die doopplegtigheid in Xhosa deur ds Willem hanteer is. 
Die Dandala-gesin en ds Willem kom al 'n lang pad saam: hy het hulle in die huwelik bevestig en ook hulle eersteling, KJ, gedoop.  Sam is tans ouderling by Decoligny en is deur die kerkraad aangewys as die persoon wat moet kontak hou met die gemeentes van die NG Kerk wat oor die jare die werk van die VGK Decoligny-gemeente ondersteun het. Sam en sy gesin was vir meer as 'n maand in die Kaap vir die geboorte van Kwazi en hy het voorverlede naweek by Strand-Noord gepreek as deel van hulle Getuienisweek.
S
am is ook 'n trustee van die Hoop en Versoening Trust. Lees hier meer oor hom.
Kwazi Dandala word gedoop
Ds Willem Botes doop klein Kwazi
Dandala-gesin
Sam, KJ, Kwazi en Amanda Dandala
PREDIKANTENUUS
1. NG Op-die-Berg neem afskeid van Bossie en Antoinette Muller
By NG Gemeente Op-die-Berg (Ceres) is op 18 September 2016 van Bossie en Antoinette Muller afskeid geneem toe Bossie sy afskeidspreek in die gemeente gelewer het.
Bossie tree op Vrydag 30 September 2016 (sy verjaardag!) na 31 geseënde jare in gemeentebediening (vyf daarvan in Aggeneys en toe 26 in Op-die-Berg) met vervroegde pensioen af weens die gemeente se finansi
ële posisie. Lees gerus aangeheg hoe Bossie oor hulle tyd in die bediening skryf, asook van hulle gedagtes oor die pad vorentoe.  Baie seën aan twee spesiale mense!
Antoinette en Bossie Muller
Pottie en Antoinette Viviers
2. Pottie en Antoinette Viviers, Vredendal-Wes groet
Pottie Viviers is in 1983 in die NG Gemeente Vredendal-Wes georden en tree op 30 September 2016, na 33 jaar as predikant in dié gemeente, af.
Hy het reeds op 18 September 2016 sy afskeidspreek gelewer.
Pottie en Antoinette beoog om eers in Vredendal aan te bly. Antoinette het ’n nasorgsentrum vir laerskoolkinders en Pottie sien daarna uit om steeds by dienswerk in die gemeente betrokke te bly. Dit sluit sy Bybelstudiegroepe en die Vredendal Tehuis vir Bejaardes in.

Mag jy en Antoinette ervaar hoe die Here se leiding julle daagliks rig en sterk vir nuwe paaie!
3. NG Kangovalleie, Oudtshoorn Moedergemeente en Paarlberg:
Standplaaswisseling vir Bedieningsvernuwing

"Dit is in nederige afhanklikheid en met groot afwagting dat 'n besondere gebeurtenis in drie gemeentes en in die lewe van drie pastoriepare aan die gebeur is.  
Die kerkrade van drie gemeentes het na 'n proses van geloofsonderskeiding ten gunste van standplaasverwisseling besluit. Ds Smuts Janse van Rensburg van Kangovalleie skuif na Oudtshoorn Moedergemeente. Ds Schalk Kotzé van Oudtshoorn skuif na Paarlberg. Ds Christo van Staden van Paarlberg skuif na Kangovalleie." Só laat weet Pierre Goosen (PSD: Predikantebegeleiding).
Saam met hierdie gemeentes en predikantspare wil ons vertrou dat die Here deur hulle sy koninkryk opnuut sal opbou en elkeen met die nodige onderskei-dingsvermoë sal toerus om tot sy eer diensbaar te wees.  
Lees hier meer
Standplaaswisseling van Christo, Schalk en Smuts
Gevaarlike selfoon
EKOLOGIE
1. Die Impak van Selfoonvervaardiging
In 1 Tim 6:6,8 sê Paulus dat "vroomheid met tevredenheid groot wins is" en "as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees".
Ons tevredenheidsdrempel het 'n groot invloed op ons geluk. Hoe hoër die drempel, hoe meer is nodig om ons gelukkig te maak. Dit bepaal egter ook ons impak op die natuurlike bronne van die aarde. Lees
hier meer.

2. CoP17 - Time is Up!
As rentmeesters van die aarde (Gen. 1:28) kan ons as gelowiges nie anders nie as om kennis te neem van die “Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora” (dis die CITES waaroor tans wyd berig word, die “Konvensie oor die Handel in Bedreigde Fauna en Flora”). Hierdie is ’n internasionaal bindende ooreenkoms tussen lidlande (die sg “parties” wat deel van die konferensie uitmaak) wat reeds in Maart 1973 aanvaar is om die internasionale handel in fauna en flora te reguleer om uitwissing te voorkom. 
CoP staan ook bekend as die “World Wildlife Conference” en CoP17 verwys na die Conference of Parties se sewentiende byeenkoms, vanaf 24 September in Johannesburg onderweg tot 5 Oktober 2016. Lees hier (met dank aan Netwerk24.)
CoP17 World Wildlife Conference
Stéphan van der Watt
NUUSBRIEWE
1. Missie Japan Nuusflits: Eenmaal in 'n Leeftyd 

In Missie Japan se jongste nuusbrief deel Stéphan van der Watt sommer heelwat interessante nuus. 
• So het hy oa die afgelope weke die geleentheid gehad om deel te wees van twee groot byeenkomste van Christene in Japan. 
• Hy woon tans (van 27-30 September) die sesde Kongres oor Evangelisasie in Japan (JCE6) by in Kobe.
• Hy deel gebedsversoeke en 
• Vra oa voorbidding vir die voorgenome besoek van drie NG Kerk afgevaardigdes wat vanaf 8 tot 14 Oktober by hulle besoek aflê. Dit is dr Gustav Claassen (NGK se  algemene sekretaris), dr Gideon Van der Watt (Missie Japan sekretaris) en prof Fanie Snyman (Dekaan van Fakulteit Teologie, UOVS).
Missie Japan video
Video geneem tydens die werkswinkel van die RCJ (Reformed Church in Japan) se groot gemeentebyeenkoms vroeër in September
2. L'Chaim nuusbrief van Simcha Bediening aan Jode
Francois Wessels en Cecilia Burger deel graag inligting oor die Bediening aan Jode, soos te lees in hulle jongste L'Chaim-nuusbrief.
Let asb op die insiggewende inligting oor Joodse feeste (soos Rosj Hasjana - Nuwejaar op Ma 3 Oktober en Sukkot - Loofhuttefees op So 16 Oktober) en die LCJE-konferensie op Sa 5 November. Gemeentes kan gerus ook kennis neem van die Biddag vir die Bediening aan die Jode op So 9 Oktober. Lees hier verder.
Lausanne Consultation on Jewish Evangelism
Francine van Niekerk
PUBLIKASIES
1. LiG: Gemeenteleiers se Grootste Hulp

Francine van Niekerk, LiG se redakteur, herinner gemeentes en gemeenteleiers aan vyf goeie redes om op LiG in te teken. 
LiG het elke maand 'n gespreksgids vir kleingroepe. Klik hier om 'n voorbeeld te sien. 
LiG volg die kerklike kalender, en gemeentelede kan saam op die geloofsreis beweeg.
LiG verdiep lesers se geloof.
LiG bevat kundige, relevante artikels oor huwelike en gesinne.
• Dit bly bekostigbaar om op 'n groot aantal LiG-tydskrifte in te teken.
Om die bestelbrief af te laai, klik hier
2. CLF ondersteun Vroeëkindontwikkeling
Skoolgereedheid begin nie eers in Graad R nie, maar reeds met geboorte. Die Sinode van Wes-Kaapland en Christelike Lektuurfonds (CLF) het hande gevat en ’n pamflet ontwikkel wat gemeentes motiveer en leiding gee oor hoe om by Vroeëkindontwikkeling (VKO) betrokke te raak. Bestel gerus daarvan en maak gemeentelede bewus van die belangrikheid van VKO.
Lees hier meer en kontak CLF by 021 873 6964 of info@clf.co.za.
CLF-materiaal vir VKO
Neels Jackson
3. Kerkbode: Tot diens van die Kerk
Kerkbode het sedert sy stigting in 1849 'n trotse verbintenis met die NG Kerk.
In hierdie 167 jaar het die blad 'n hele paar gedaanteverwisselings ondergaan in 'n poging om die kerk beter tot diens te wees.
Nou het ons weer by so 'n punt gekom. Soos gedrukte koerante wêreldwyd, ervaar Kerkbode ook dat sy lesers al meer beweeg na lees op elektroniese media. Daarom dat Kerkbode in 2016, náás die gedrukte weergawe, ook  'n e-weergawe van die koerant tot stand gebring het; gratis by
www.kerkbode.co.za beskikbaar en met sy eie toepassing (“app”) by Google se Play Store of Apple se App Store.
Die e-Kerkbode bevat dieselfde redaksionele inhoud as die gedrukte Kerkbode, maar bied die addisionele voordeel dat dit vars nuus van dringende aard dadelik kan publiseer.

Neels Jackson, redakteur, het drie versoeke aan gemeentes.  Lees meer ...
Kerkbode bemarking
KUIERKANS
Geniet elke basaar, konsert en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
Kraaifontein Gesinsfees
NG Kraaifontein Gesinsfees
30 Sep - 1 & 2 Okt 
Loeriesfontein Basaar
NG Loeriesfontein Basaar
1 Oktober 2016
Bellville Senior Sentrum Basaar
Bellville Senior Sentrum Basaar
1 Oktober 2016
Kontreimark
4. NG Laaiplek: Kontreimark
Op Vrydag 7 Oktober 09:00 tot 18:00 en Saterdag 8 Oktober 09:00 tot 14:00 hou Laaiplek kontreimark in die kerksaal. Daar is verskeie stalletjies met handwerk, kunswerk, juwele, lekkernye, ens. Gaan geniet heerlike eetgoed in die Vrouediens se teetuin. Navrae: Retha 072 655 1068  of kerkkantoor: 022 783 0046.
NG Bothasig Lenteontbyt
NG Bothasig Lenteontbyt
1 Oktober 2016
Robertson-Oos Feesmark
NG Robertson-Oos Feesmark
26 Okt - 5 Nov 2016
Parowvallei-Oos en Theo Swart se blou pannekoek
7. NG Parowvallei-Oos: Basaar
Parowvallei-Oos (Markstraat 168, Parow) hou basaar op Sa 1 Oktober vanaf 09:00. Geniet tuisgemaakte boereworsrolle, jaffels, pasteie, melkterte, beskuit, gebak, basaarpoeding, asook spesiale kerrieafvalpotjie en hoenderpotjie.
Daar is ook ’n teetuin en witolifanttafel! En natuurlik pannekoek – die beste in die Kaap en beskikbaar, op aanvraag, in BLOU! Sien jou daar!
Navrae by die kerkkantoor: 021 931 6410. Die padkaart is by
www.parowvallei-oos.co.za.
Regs is Theo Swart in aksie, hard aan die bak aan sy beroemde en unieke BLOU pannekoek!
Meer oor hierdie gemeente is op hul webwerf.

NG Saldanha Feesdinee
NG Saldanha Feesdinee
29 Oktober 2016
Worcester-Noord Fees van Kleur
NG Worcester-Noord
15 Oktober 2016
NG Vasco Basaar
NG Vasco Basaar
1 Oktober 2016
VGK Bergsig, Caledon Basaar
11. VGK Bergsig, Caledon Basaar!
Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Bergsig, Caledon, se jaarlikse fondsinsa-melingsnaweek vind plaas op 1 en 2 Oktober 2016.
Die dag se verrigtinge skop reeds die Saterdag om 09:00 af met 'n optog deur tamboernooientjies en die basaar begin 10:00.
Heerlike gebak en net mooi alle basaarlekkernye sal verkoop word, met oorgenoeg ontspanning en vermaak vir die kinders en jongmense.
Sondag 2 Oktober 2016 om 10:00 sal die bekende gospelsanger, Alban Pietersen, die naweek met 'n sang- en getuienisdiens afsluit. Toegang is gratis; almal welkom.
Logo's
VAKATURES
1. Huis Andrew Murray: Maatskaplike Werker
Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum in Wellington is ’n program van Badisa, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde en dinamiese persone met ’n positiewe lewens-ingesteldheid teenoor kinders en jeugdiges, word vir ’n betrekking as maatskaplike werker ingewag. Aansoeke sluit 7 Oktober. Lees hier meer.
Badisa logo
2. Badisa Herberg Jeugsentrum: Kinderversorger
Die Herberg Kinder- en Jeugsorgsentrum in Robertson is ’n program van Badisa. Hier is tans ’n vakature vir ’n kinder-versorger (huismoeder). Klik hier vir meer besonderhede oor die pligte en verantwoordelikhede. Belangstellendes moet voor 31 Oktober reageer.

Huis AA Tomlinson
3. Badisa Huis AA Tomlinson
Geregistreerde Verpleegkundige

Badisa se Huis AA Tomlinson in Swellendam is 'n tehuis vir bejaardes. Hier is 'n vakature vir 'n geregistreerde verpleeg-kundige en meer inligting is aangeheg beskikbaar. Aansoeke sluit op Vrydag 21 Oktober.
e-Kerkbode-logo
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Elsche Eygelaar
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Elsché Eygelaar

Die kat kom weer ...
Ons het 'n rondloperkat wat gereeld 'n erediens by ons bywoon. Een van ons lidmate het al opgemerk dat ons hom net moet laat katkiseer dan sal hy verdwyn. Die reaksie van lidmate wanneer die kat inkom, is uiteenlopend. Sommige begroet die kat met 'n glimlag, ander sal die kat streel as hy onderdeur sy/haar bene loop. Ander sal dadelik opspring, die kat gryp en by die deur uitgooi. Steeds kom die kat byna elke Sondag weer ...

Hierdie verskillende reaksies ervaar elke persoon wat nuut by 'n erediens instap. Jesus sê in Matteus 9: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.” Daarmee kom herinner Hy ons dat ons as kerk hier is vir die wat kerkloos is, die wat ongelowig is, die wat seer het. Mag ons sag werk met mense. Mag ons diversiteit omhels. Mag ons onthou dat ons nie hier is vir ons eie behoeftes nie, maar om 'n veilige verwelkomende hawe vir ander te skep, sodat hulle God kan ontdek.
***
Elsché is vir die afgelope twee jaar predikant in die NG Gemeente Constantia. Mentorskap en dissipelskap is haar passie. Sy is baie nou betrokke by #Imagine en dien ook op die sinodale taakspan vir dissipelskapvorming. Voordat sy beroep is na Constantia het sy vir agt maande as jeugwerker in Hoopstad in die Vrystaat gewerk. Kontak haar by leraar.constantia@gmail.com.                                         
Ek gooi my luike wawyd oop.
My oë kuier by die vlamrooi dag,
my mond kry vanself sy lag.
Ek stoot my vensterrame hoog op,
my hart wil jubel, wil juig.
Ek soek vir my ‘n plekkie eenkant
om voor die Allerhoogste te buig.

(Uittreksel uit 'n gedig deur Hester Heese)
Groete tot VrydagNuus terug is met die eerste uitgawe van die laaste kwartaal, dié van 14 Oktober. Veilige vakansie vir diegene wat so bevoorreg is.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za