Lees deur internet, klik hier >>
18 Februarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Staatsrede, werkloosheid en die kerk
Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland en Diensgroep Diaconia het in November 2021 die inisiatief geneem om ‘n ekumeniese konferensie te hou oor werkloosheid. Dit is bygewoon deur leiers van ses hoofstroomkerke in Suid-Afrika en was die eerste nasionale ekumeniese konferensie van sy soort in ons land. Nelis Janse van Rensburg skryf: “Die kerk kan nie afsydig staan teenoor werkloosheid en die nood van mense in ons land nie. Ons kan aanhou om kos uit te deel, maar iewers moet ons ons vergewis van die oorsake van armoede. Ons kan egter nie net die staat daarvoor verantwoordelik hou nie, maar moet ook na maniere kyk hoe ons as gelowiges en as kerk saam ‘n verskil kan maak. Die feit dat president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede almal uitgedaag het om saam te staan om werk te skep, was logies en moes lankal reeds sterk beklemtoon word. Wat egter ontstel, is dat baie Suid-Afrikaners so diep verknog is aan sentrale beheer en bestuur, dat die President se opmerking dat ons weet dat werk eintlik deur die privaatsektor geskep word, met soveel teenstand ontmoet word. Almal sal eenvoudig móét saamwerk om die krisis van werkloosheid aan te spreek. Die vraag is natuurlik dan of die kerk kan help.
Een van die oorsake van werkloosheid is die ontoereikende onderwys en opleiding van jongmense. Professor Rulof Burger van Stellenbosch Universiteit se Departement Ekonomie het in sy aanbieding verduidelik dat daar talle werksgeleenthede in Suid-Afrika is waarvoor daar nie opgeleide werkers is nie. Een van die baie faktore wat bydra tot hierdie situasie is gebrekkige beroepsvoorligting vir jong skoliere. Hier kan die kerk ‘n verskil maak. Die verhaal van die verskil wat in talle jongmense se lewe gemaak is toe die dominee in Paterson (ds. Egbert Steyn is nou leraar by Goodwoodpark) leerders bewus gemaak het van loopbaanopsies, is buitengewoon inspirerend. Die feit dat hulle ‘n visie vir hulself ontwikkel het, het hulle prestasie in die skool baie positief en direk beïnvloed. Ons lidmate is baie betrokke by werkskepping. Saam kan ons ook veel doen om leerders te motiveer en te begelei met die oog op ‘n loopbaan. As ons hande neem met ander gemeenskaps-organisasies, kerke en skole kan ons dalk net die verbeelding van leerders aangryp en lig bring waar die toekoms vir vele donker lyk."
Foto: Twitter @GovermentZA
Nuwe Saakgelastigde in die tuig
Die Sinode van Wes-Kaapland se nuwe Saakgelastigde, mnr. Stephan Pretorius, is vanaf 1 Februarie in sy pos. Sy voorganger Bossie Minnaar het einde Januarie sy pos ontruim. 
As Saakgelastigde is Stephan verantwoordelik vir die doeltreffende bestuur van die ondersteuningsdienste van die NG Kerk in SA. Dit sluit diens aan kerkkantore in, veral wat administratiewe en finansiële kwessies betref.
Bossie word wel steeds by die NG Kerksentrum gesien. Hy is versoek om in Februarie vir Stephan behulpsaam te wees met die oorgeeproses. Stephan is egter vanaf 1 Februarie amptelik die Saakgelastigde en vanaf 14 Februarie die Predikante Pensioenfonds se hoofbeampte en ook die voorsitter van die Amptenare Vaste Bydrae Pensioenfonds en Amptenare Voorsorgfonds.  Alle navrae moet dus aan hom gerig word by stephan.pretorius@kaapkerk.co.za. Besoek ons webtuiste vir verdere kontakbesonderhede.
Lees meer oor Stephan hier.
Stapprojek kry momentum
Diaconia se jongste droogtehulpprojek is volstoom aan die gang en gemeentes word aangemoedig om hulle bydraes te maak - selfs voor die Stargazing Camino op 5 Maart begin. Die gemeente van Clarens het 'n vindingryke manier gevind om deel van die projek te word en fondse in te samel. 'n Lidmaat van die gemeente gaan ook 108 km oor dieselfde tydperk op die wandelpaaie van die plaaslike natuurreservaat stap. Hy het mede-lidmate en die breër gemeenskap uitgedaag om hom per kilometer te borg en selfs saam te stap. Kontak diaconia@kaapkerk.co.za vir meer inligting en laat weet ons gerus hoe jou gemeente hierdie fondsinsameling gaan ondersteun. Lees Kerkbode se berig oor die staptog hier.
Diaconia verwelkom ontwikkelingsbeampte
Melanie Thirion het in Februarie by die Little Seeds- span van Badisa en Diaconia aangesluit. Haar uitsluitlike opdrag is om gemeentes en gemeenskappe te mobiliseer en te fasiliteer in bedieningsgeleenthede rondom vroeëkindontwikkeling. Haar rol word as dié van ontwikkelingsbeampte beskryf. Met hierdie kapasiteit wat geskep is, onderstreep die kerk en Badisa net weer die erns wat gemaak word met vroeëkindontwikkeling. In geografiese areas met die grootste nood is dit die mees effektiewe manier om armoede en ongelykheid aan te spreek. Gemeentes wat hulle tot langtermyn betrokkenheid by hierdie komplekse uitdagings verbind, sal op Melanie se kundigheid kan steun om tergelykertyd uit ’n teologiese, maar ook ’n ontwikkelingsgerigte grondslag in die gemeenskap betrokke te raak. Melanie is onlangs as diensleraar in die NG Kerk bevestig. Haar ervaring en opleiding sluit spesialiskennis in jeugbediening én gemeenskapsontwikkeling in. Met die rugsteuning van Badisa se uitsonderlike bestuursraamwerke en Melanie se ervare aanslag tot die bediening, bied Little Seeds in haar as persoon werklik ’n uitsonderlike diens aan gemeentes en gemeenskappe. 
Welkom Melanie, ons wens jou voorspoed toe met hierdie nuwe uitdaging.
#100DorpeDialoog
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het verlede week ‘n werkswinkel oor sosiale kohesie en die rol wat gemeentes in gemeenskappe rondom missionale transformasie kan speel, gehou. Verteenwoordigers van sover as Senekal, Upington, Knysna en Johannesburg het die geleentheid bygewoon. Mooi stories van hoop en versoening is vanuit Senekal, Caledon en Porterville gehoor.
Daar is egter ook eerlik gepraat oor hoe die pynlike verlede aangespreek kan word. Hoe herstel ons die netwerk van verhoudinge en word ons ‘n “ons” dorp? Daar is verder gekyk na die impak  wat behuising of die gebrek aan behuising op  sosiale kohesie het (Quinton Adams en sy Backyard Varsity) en hoe ons hier ‘n konkrete verskil kan maak.  Die noodkreet wat rondom ons jeug uit elke gemeenskap opgaan, was ook op die agenda. Maniere om op gepaste wyses die plaaslike regering te benader en verantwoordbaar te hou, is bespreek. Konkrete aksiestappe is gelys. Vir meer inligting besoek Publieke Getuienis se webblad of kontak gerus die kantoor by spg@kaapkerk.co.za.
Ons bediening aan Jode
Daar was verlede week ’n indringende gesprek oor evangelisasie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington - iets wat vir Christene ‘n belangrike deel van ons daaglikse lewe behoort te wees. Die Simcha Bediening aan Jode is ’n jarelange evangelisasiebediening wat na individuele Jode in Kaapstad en omgewing uitreik. Simcha is betrokke by die Messiaans-Joodse gemeente Beit Ariel in die Kaapse middestad en help sodoende om ’n geestelike tuiste vir Messiaanse Jode (Joodse Christene) te skep. Op hierdie manier word ’n individuele en kollektiewe getuienis verkondig dat Jesus ook vir Jode die Messias en Here is. Die evangelie word uitgedra deur Bybelstudiegroepe, huisbesoeke aan individue en eredienste in die Beit Ariel-gemeente. Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Daniël de Wet, wat ook verantwoordelik is vir goeie verhoudinge met ons verbandsbedieninge, was onlangs op besoek aan die NG Gemeente Drieankerbaai. Tydens sy besoek was hy in gesprek met hulle predikant Andries Cilliers, Jeanie de Wet (Simcha-evangelis wat die taak by Cecilia Burger oorgeneem het), Francois Wessels (die destydse PSD wat Simcha gevestig en uitgebou het en dit nog steeds help ondersteun) en Cecilia Burger. Simcha Bediening is beskikbaar vir optredes in gemeentes en om lidmate te skool in die kommunikasie van die evangelie aan Jode. Stuur gerus ’n e-pos aan simchaministry@gmail.com vir navrae en om in te teken op hul nuusbrief. Die jongste een kan hier gelees word.
Foto van links na regs: Andries Cilliers, Daniël de Wet, Jeanie de Wet, Cecilia Burger en Francois Wessels.
Publieke Getuienis dink na oor evangelisasie
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het verlede week ‘n tweedag werkswinkel by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington gefasiliteer. Dit is bygewoon deur predikante, lidmate met belangstelling in die veld, mense wat tans voltyds evangelisasie doen, oudsendelinge (soos ds. Tobie de Wet, Japan) en PSD’s. Terwyl daar na materiaal soos Alpha en “Dra die Goeie Nuus” gekyk is, is daar spoedig veel dieper vrae gevra. Sake soos die toestand van die kerk (kerkbegrip), die ruimtes wat ons skep, ons prediking, die huidige geloofsbelewenis van ons lidmate, die gebrek aan apologetiese denke,  die herstel van die amp van gelowige en ouderling, evangelisasie nie as ‘n program nie maar as leefstyl en toerusting aan studente, predikante en lidmate het aan die orde gekom.  
Opvolgwerkswinkels word nou in streke beplan. Vir meer inligting kan belangstellendes die kantoor kontak by spg@kaapkerk.co.za. Intussen het die dagbestuur van Getuienisaksie pas ook die totstandkoming van ‘n volledige taakspan vir Evangelisasie goedgekeur. 
#GROEI in Goodwoodpark
Goodwoodpark Bewaarskool, wat al vir 38 jaar deel vorm van die gemeenskap van Goodwood, het tydens die eerste helfte van 2021 aangesluit by die Hoop en Versoening Trust se volhoubare projek #GROEI. "Ons het begin met 'n groentetuin omrede dit vir ons belangrik is om vir die leerders van ons skool te wys en te leer hoe plante groei. Dit was so 'n groot sukses dat ons besluit het om die groente aan te wend in ons kombuis asook om die tuin uit te brei na ander dele van ons perseel. Dit wat oortollig is, gee ons graag weg vir ons personeel of vir mense in die gemeenskap wat dit nodig het. Edison, wat ons tuin en gronde bestuur, het regtig ‘n Godgegewe talent en ons plante en groentetuin floreer onder sy hande.
Ons is geweldig trots op ons tuine en die kinders geniet dit vreeslik om te sien hoe die groente ontwikkel en groei. Tydens ons fondsinsameling in 2021, was ons ook bevoorreg om genoeg fondse in te samel om tien vrugtebome aan te koop en op ons perseel te plant. Dit is vir ons belangrik om nou vir ons huidige leerders iets van waarde te skep, maar dit ook te behou vir die leerders wat in die toekoms ons skool gaan bywoon." 
EKOLOGIE
Stapklub beplan treinspoor-opruiming
Kom help die Visvoete-span van Vishoek op Saterdag 19 Februarie om hul spoorlyn op te ruim. Dit help nie net om die mooi omgewing te verfraai nie, maar dit skep ook samehorigheid onder die eko-span en skep die geleentheid om die span in die Kaapse Metropool te groei. Kyk ook gerus na die Visvoete se stapprogram vir die res van die jaar. Julle is welkom om enige tyd saam te stap. Kontak Brian Upton by 082 373 1245 of tinyupton@gmail.com vir meer inligting.
Vleislose Maandae
Voel jy diep geraak deur die ekologiese uitdagings van ons tyd en wonder jy dikwels wat gedoen kan word wat 'n onmiddellike positiewe effek sal hê? Begin deur net een dag van die week vleis uit jou maaltye te sny. Ons Groenspan sal jou hiermee help deur jou weekliks van 'n lekker vleislose resep te voorsien.
Geniet vandag hierdie slaai met patats en bros kekerertjies - 'n hele maaltyd op sy eie!
Bou jou eie wurmplaas
Nioma Venter, assessor van die Sinode van Wes-Kaapland, het almal verlede week geïnspireer met haar videowenke vir die bou van jou eie komposhoop. Hierdie week  verduidelik sy hoe jy jou eie wurmplasie kan begin. Kyk gerus na hierdie video vir idees en wenke.
GEMEENTENUUS
Lafenis by Oostersee
Oostersee word op warm Sondae bederf met ’n stukkie lekkerte. Jampie Nel laat weet dat hulle in Januarie op een Sondag verras is met ysstokkies na afloop van die erediens en die afgelope Sondag met heerlike soet waatlemoen. "Stadig maar seker bou ons die selfvertroue op om weer na afloop van die erediens ’n bietjie langer te vertoef by mekaar. Julle kan ons gerus laat weet van julle idees vir saamwees."
Red 'n Plaas
Die gemeente van Aggeneys laat weet dat hulle graag 'n bedrag van R40 000 wil insamel met hulle Red 'n Plaas-projek om 'n verskil te maak in die Karoo-boere se lewens. Selfs al het dit lekker gereën, het die boere steeds hulp nodig. "Ons boere het die afgelope nege jaar deur 'n uitmergelende droogte gegaan. Vanaf Desember 2021 het ons baie goeie reën hier rondom ons ontvang. Dit is die eerste keer in meer as vier jaar dat ons die veld groen sien. Dit is soveel mooier as die swart gebrande graspolle en rooi sand wat mens altyd kon sien.
Baie maal dink mense dat die boere se probleme opgelos is sodra dit begin reën. Ongelukkig is dit is egter nie waar nie. Buiten die droogte het Karoo-boere tans die uitdaging om swerms sprinkane te bestry, wat die mooi veld kaal vreet. Dan het die reën ook nog nie uitkoms gebring na nege jaar se finansiële uitdagings nie. Boere begin nou eers opstaan na hulle so lank platgeslaan was. Hulle moet weer hulle kudde opbou omdat hulle so baie weens die droogte moes verkoop.
Daarom het ons die projek begin om te poog om R40 000 en selfs meer in te samel om ons 13 boere finansieel te kan bystaan met hulle daaglikse uitgawes. Om op hierdie manier vir hulle te wys dat mense nog omgee." Sou iemand 'n bydrae wil lewer, kan hulle die donasie inbetaal in die kerk se rekening.
Blouberg is bedrywig
Dit is weer tyd vir Bloubergstrand-gemeente se pretstap en basaar. Inskrywings is nou oop op Entry Ninja. Jy kan ook van Dinsdae tot Vrydae tussen 08:30 en 12:00 by die kerkkantoor inskryf. Die gemeente se jaarlikse pretloop beloof om 'n dag vol jolyt te wees! Fondse wat op hierdie dag ingesamel word, is ten bate van Isibindi Initiatives. 
Isibindi Initiatives is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat in 2020 gestig is. Isibindi poog om ruimtes te skep waar jeugdiges uit moeilike of benadeelde agtergronde deel kan word van 'n gemeenskap en die ondersteuning kry om hulle doel en passies na te streef.
Biddag vir Vroue by Welgemoed en Robertson
Vrydag 4 Maart is Wêreldbiddag vir Vroue. Ds. Cecile Murray-Louw van Durbanville-gemeente vertel haar storie by NG Gemeente Welgemoed, terwyl Liz Myburgh die gasspreker by Robertson Moedergemeente is. Alle vroue word hartlik uitgenooi om hierdie geleenthede op Donderdag 3 Maart en Vrydag 4 Maart by te woon. Sien meer besonderhede in die grafika hieronder.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
ALGEMEEN
Teen Suicide Prevention Week
SADAG (South African Depression and Anxiety Group) is focusing their attention on teen suicide prevention this week. Teenagers in South Africa are the most at risk age group for suicide. SADAG is sharing information on how to facilitate difficult conversations about teen depression and suicide prevention. Parents, teachers and the broader community are empowered to have real conversations on the subject. From 14 - 21 February, SADAG will be running an online campaign called #RealConvo to share important conversation starters, helpful tips, expert videos and other resources. Click here to download the online toolkit.
Raakgelees: Hond skilder dat dit spat
Ivy, 'n kunstige Australiese herdershond, het al meer as R250 000 ingesamel deur die verkope van haar ongelooflike skilderye. Haar eienaar Lisa Kite het vir Ivy geleer hoe om te verf toe sy net twee jaar oud was. “Dit het glad nie lank geneem vir haar om te leer hoe om te skilder nie; sy het binne ’n week die kwas bemeester." Lisa het aanvanklik vir Ivy geleer hoe om ’n bier uit die yskas te kry en vir haar te bring sodat sy haar vriende en familie kon beïndruk. Toe sy agterkom hoe skerp Ivy is, het sy begin om meer toertjies vir haar te leer.  
Bo en behalwe basiese toertjies soos sit, rol en pootgee, kan wonderwoef Ivy ook wasgoed sorteer, haar eienaar se baadjie uittrek en self haar modderige pote afvee voordat sy die huis binnegaan.  
Lisa skenk die wins uit Ivy se kunswerke aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies en sopkombuise in hul area. Klik hier om die talentvolle Ivy in aksie te sien. Volg vir Ivy gerus ook op Instagram om op hoogte te bly van haar jongste meesterstukke.   
TEN LAASTE
Volgens 2020-statistieke word 9% van tienersterftes in Suid-Afrika toegeskryf aan selfdood en hierdie syfers neem onrusbarend toe. Daar word wêreldwyd 'n styging in angs en depressie onder tieners waargeneem en die voortslepende gevolge van die COVID-pandemie skep daagliks nuwe uitdagings vir ons tieners. Tydens Tienerselfdoodvoorkomingsweek word ouers, onderwysers, versorgers en gemeenskappe bedag gemaak op kommerwekkende waarskuwingstekens - lees hier meer. 
Ons dra Hillsong Worship se Never Walk Alone aan al ons tieners op en bid dat God sy beskermende hand oor hulle sal hou.
Foto: Sydney Sims/Unsplash
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.