Lees deur internet, klik hier >>
5 Maart 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Vlak 1-inperkings
President Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Suid-Afrika na Vlak 1-inperkings verskuif, het positiewe nuus vir gemeentes gebring. Volgens die nuutste riglyne in die Staatskoerant (klik hier vir die jongste weergawe) kan daar nou weer 100 mense per erediens toegelaat word, indien dit nie 50% van die lokaal se kapasiteit oorskry nie en die nodige COVID-maatreëls soos die verpligte dra van maskers en sosiale afstand nagekom word.
Moderamen vergader
Die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland vergader volgende week virtueel. Hierdie vergadering geskied twee maal per jaar en word bygewoon deur die dagbestuur (moderatuur), ringsverteenwoordigers, sowel as die voorsitters van sinodale diensgroepe en taakspanne en predikante in sinodale diens. Die geestelike en ekonomiese welstand van gemeentes is een van die besprekingspunte op die agenda.
Die begroting, die kerk en ons toekoms
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het die afgelope week ‘n gesprek aangebied waarin drie kundiges oor die pasafgelope begroting gesels het. Professors Jannie Rossouw, André Roux en Erwin Schwella het aan die gesprek deelgeneem. Sake soos ons groeiende skuldlas en die implikasies vir armes, die middelklas en ons gemeentes is bespreek. Daar is ook gekyk na die kerk se profetiese taak in ‘n tyd soos hierdie. Die etiese verwerwing van welvaart, maar ook die etiese verspreiding daarvan is bespreek. Verder het die beskerming van ons instellings aandag gekry, sowel as die vraag wat die kerk op kritiese punte van ingrepe kan en moet doen. Kyk na die gesprek onder.
Wêreldbiddag vir Vroue
Ankia du Plooÿ van Vrouebediening deel met ons hierdie video oor vanjaar se Wêreldbiddag vir Vroue wat op 5 Maart plaasvind. Die tema: ’n Lewe gebou op ’n vaste Rots is geskep deur die vroue van die eiland van Vanuatu in die Suid-Stille Oseaan. 
Vroue in meer as 170 lande regoor die aarde neem aan hierdie spesiale geleentheid deel. Kunswerk deur Juliette Pita van Vanuatu.
Hoe gemaak met vakante gemeentes in VGK?
Die afgelope naweek het daar ‘n baie belangrike konferensie by die VGK Midros, Middelburg in die Karoo plaasgevind waar die Ring van Graaff-Reinet byeengekom het. Stephen Pedro, PSD van Gemeentebediening, het die eerste van ’n reeks konferensies gefasiliteer in opdrag van ’n sinodebesluit wat aan hom die mandaat gee om ringsgesprekke te inisieer oor hoe om by werkbare oplossings ten opsigte van vakante gemeentes uit te kom. Lees meer hier
BIBLIA 
Wat maak jy as jy al die pad vanaf Limpopo kom, werkloos is en in COVID-tyd op die strate van Kalkbaai beland? As jy gelukkig is, sal jou pad met dié van Marvin Petersen kruis. Marvin is al jare lank besig om die vissers van Kalkbaai en hul gemeenskap geestelik te bedien. Hy en sy Duitse vrou, Veronika, het oor die jare baie goeie verhoudinge met die mense daar opgebou en is tot groot seën vir almal met wie hulle in aanraking kom. Lees hier hoe Lawrence van Limpopo die geleentheid wat Marvin hom aangebied het, met albei hande aangegryp het.
Foto: Lawrence by sy produkte waarmee hy nie kan voorbly nie.
Wêreldbiddag vir Mans
Die Gendertaakspan deel graag die eerste podcast in die reeks Bros - 'n lewe gebou op die Rots om saam te val met die Wêreldbiddag vir Mans wat Saterdag plaasvind.
Klik gerus hier om daarna te luister.
EKOLOGIE
SAFCEI attends NERSA virtual public hearings
Last week, the South African Faith Communities' Environment Institute (SAFCEI) attended the virtual National Energy Regulator of South Africa (NERSA) public hearings on the Concurrence with the ministerial determination for the procurement of 2 500MW new generation capacity from nuclear energy. Click here to read more about the issue.
Geen renosters verlede jaar in Kenia gestroop
2020 was 'n merkwaardige jaar vir die beskerming van renosters in Kenia, waar nie ‘n enkele renoster sy horing of lewe verloor het weens stropery nie.
In 'n verklaring sê die afgetrede brigadier-generaal John Waweru, direkteur van die Kenyan Wildlife Service (KWS), dat KWS vir die eerste keer in 21 jaar geen stropery op renosters in 2020 gerapporteer het nie. Die laaste keer wat hierdie prestasie behaal is, was in 1999.
Reisbeperkings weens die COVID-19-pandemie was net een van die bydraende faktore. Verder het ‘n kombinasie van verhoogde anti-stropery pogings, die bekamping van armoede in die nabygeleë landelike gebiede en toenemende polisiëringspogings gehelp om renosters in hierdie land te bewaar.
"Sonder toeriste dink ek dat stropers sou dink dat KWS aan die slaap geraak het, maar in plaas daarvan het ons ons pogings verbeter," het Waweru verduidelik.
Renosters is nie die enigste dier wat baat vind by strenger polisiërings- en inperkingsmaatreëls nie. Die land het die laagste jaarlikse totaal nog vir olifantstropery aangeteken. Die hoeveelheid olifante wat vir hulle ivoortande doodgemaak is, het van 350 (in 2019) na 22 geval.
Klik hier vir wêreldwye statistieke oor renosterstropery of kyk die video onder vir meer inligting.  
GEMEENTENUUS
Stellenbosch-Wes sorg vir gemeenskap
Daar was in Februarie nie ‘n stil oomblik vir Stellenbosch-Wes se Diens van Barmhartigheid nie. Dit was vir hulle heerlik om R160 000 in verlede maand te kon spandeer om behoeftiges binne en buite hul gemeente te kon help.
Die span het behoeftes in die gemeenskap geïdentifiseer en het aankope gedoen vir die nodige skryfbehoeftes, klere, kos en het ook gehelp om 'n paar individue se mediese onkostes te dek. “Dit was vir ons heerlik om as span die gemeenskap en gemeente te kan bedien. Ons is die Here dankbaar dat ons geseënd is om vir ander tot seën te kan wees! Dankie vir elke gemeentelid en spanlid se bydrae!” 
Die gemeente se Diens van Barmhartigheid beoog om ‘n een-stop plek vir behoeftiges en mense wat wil dien te wees en so ook die momentum voor te sit vir die res van 2021. Loer gerus op hulle Facebook-blad om ‘n paar van die projekte wat hulle in Februarie aangepak het te sien. 
Sonstraal breiprojek
Sonstraal-gemeente se breiers was omtrent bedrywig gedurende 2020. “Ons breiprojek is lankal nie meer ‘n projek net vir seniors nie en talle jonger mense het begin inskakel. Selfs een of twee mans het begin brei!”
In die video onder deel die gemeente graag die projek se statistieke vir verlede jaar. Daar is onder andere 853 frokkies vir pasgebore babas, 575 mussies vir kankerlyers, 127 kindertruie en 100 teddiebeertjies gemaak en uitgedeel aan sorgbehoewende individue. In totaal was 3 646 items deur die verloop van 2020 gelewer! 
Indien jy wil betrokke raak, kontak asseblief vir Rolien Botha by 082 297 7582.
Calitzdorp Môremark
Calitzdorp-gemeente laat weet dat hulle Môremark ‘n reuse-sukses was. “Baie dankie aan ieder en elk wat die suksesvolle Môremark die afgelope Saterdag ondersteun het, asook almal wat gehelp het om dit suksesvol aan te bied en te laat afloop. Bo alles wil ons die Hemelse Vader dank vir die seën daarop.”
Foto's van hierdie heerlike kuiergeleentheid kan op die gemeente se Facebook-blad besigtig word. 
Die volgende varsprodukte is nog beskikbaar by die kerkkantoor: pragtige tamaties (R10 per kilogram), eiervrug (R10 per kilogram) en botterskorsies (R30 per sak). Besoek die kerkkantoor tussen 08:30-12:30 (weeksdae) of skakel 066 288 0048 om reëlings te tref vir die afhaal daarvan. 
Rooi Touprojek
Dit is Lydenstyd en NG Gemeente Graaff-Reinet het ‘n baie besonderse projek, die Rooi Touprojek, op die been gebring om hierdie spesiale tyd van verootmoediging te vier. Hulle nooi graag almal in hulle gemeenskap of in die breër Suid-Afrika uit om deel te neem aan hierdie uitdaging as deel van die 40 dae.
In Josua 2 lees ons dat Ragab die twee spioene wat Josua gestuur het in haar familie se huis in Jerigo wegsteek en uiteindelik met ‘n rooi tou wat sy by die venter uithang haar familie se lewens red. Die rooi tou het hulle beskerm. Daarom is ‘n rooi tou vir die gemeente simbolies van Christus se bloed wat redding bring!
“Hang ‘n rooi tou/lint/stukkie wol by jou voorhekkie of voordeur, of kom maak dit aan die kerkgebou se voorhek vas, as simbool en herinnering.”
Klik hier vir meer inligting oor die projek of kyk die video onder om te sien hoe hierdie Bybelverhaal aan kinders verduidelik kan word. 
GEBEDSVERSOEK
PREDIKANTENUUS
Willem Hendrik Kleyn: 04.03.1933 - 06.02.2021
Willie Kleyn is onlangs na 'n kort siekbed oorlede. Hy het gemeentes in Olifantshoek, Selection Park, Kathu en Wierdapark bedien voor hy in 1999 emeriteer het. Hy het ook vir drie jaar op Stella afgelos. Sy vrou het hom die afgelope paar jaar in die Groenkloof aftree-oord in Groot Brakrivier versorg.
Ons innige simpatie aan sy eggenote Corlien en familie.
Wellington groet Janse van Rensburgs
Wellington Moederkerk het onlangs afskeid geneem van Bennie en Susan Janse van Rensburg.
Bennie skryf: "Ek dank die Here vir die voorreg om vir soveel jare bedienaar van die Goddelike Woord te kon wees ten spyte van al my foute en tekortkominge. Die bediening het vir my groot vreugde gebring, al het ek ook dikwels met die diep seer kant van die lewe te doen gekry. Op my pad het ek al meer bewus geraak van God se genade en liefde en al bly daar talle vrae en soms ook twyfel, het ek altyd troos en vrede by Hom gevind omdat Sy genade altyd genoeg was en steeds is. Om in Wellington Moederkerk te kon dien, was 'n besondere voorreg en ek dank die kerkraad en die lidmate vir hul lojaliteit, vriendskap, ondersteuning en liefde."
Die egpaar gaan na hulle aftrede in Wellington bly. Ons wens hulle alle voorspoed toe.
Wie is hierdie nuwe proponent van Lusikisiki?
Baie van ons was destyds na werkerskampe in die Oos-Kaap waar van ons selfs ons lewensmaats ontmoet het. En dalk wonder jy soms wat van al daardie wonderlike Xhosa-gemeentelede en hul kinders geword het. Wel, hier is een van hulle se storie. Aan die einde van verlede jaar het die VGK Streeksinode Kaapland vyf proponente gelegitimeer. Onder hulle was proponent Msawenkosi Ntshongwana, gebore en getoë in die verre Oos-Kaap by Lusikisiki, ‘waar die riete teen mekaar ritsel’. Lees meer van hom hier.
Jacobus Maass na Swartland
Jacobus Maass het in 2020 sy praktiese jaar by Swartland-gemeente gedoen en hy laat weet dat hy opgewonde is om die pad verder met die gemeente te stap. 
"Dit is vir my ‘n voorreg om te kan aansluit by die bekwame predikantspan in Malmesbury en ek sien uit daarna om by hulle te leer. Ek is opgewonde om my doelwit as leraar te kan uitleef - om in die diens van die Here te wees en om ’n dienaar van die Woord te wees. Ek sien uit daarna om die geloofsgemeenskap van Malmesbury te versterk en om die gemeente te bedien met skrifgetroue prediking en om die gemeente op pastorale vlak te ondersteun. Dit is vir my ‘n groot voorreg om my roeping hier in Malmesbury te kan uitleef. Mag ons soos in Johannes 13 mekaar dien deur as geloofsgemeenskap saam te staan en aan Sy koninkryk te bou.”
Alles wat mooi is vir jou pad vorentoe!
Calitzdorp verwelkom die Venters
NG Kerk Calitzdorp laat weet dat Philip Venter en sy vrou Christa reeds sedert Mei 2018 in Calitzdorp woon en dat hul vanaf Maart 2021 die leraarspaar by die gemeente is, met Philip in die deeltydse vastetermyn emeritus leraarspos. Hulle skryf die volgende: 
"Dr Philippus Petrus Venter het etlike grade, insluitende BA Admissie, BA Sielkunde, BD Sendingwetenskap, ‘n nagraadse diploma in Teologie  asook sy MDiv - Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria behaal. In 2007 het hy sy DLitt et Phil in  Bybelkunde aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Philip was navorsingsassistent in die Departement Sendingwetenskap UP, waarna hy sy diensplig as kapelaan by die SA Vloot SAS Saldanha voltooi het. Daarna was hy leraar by die gemeentes van Luckhoff, Oospark Vanderbijlpark, The Reeds Centurion en tot met sy emeritaat in Maart 2018 by Fairland Johannesburg. Hy was ook dosent in Bybelkunde aan UJ en is die skrywer van verskeie wetenskaplike artikels en hoofstukke in teologiese boeke."
Ons wens hul seën, sterkte en voorspoed toe.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Susterskerk loof voedselhulp
Die Barnabas Fonds in die Verenigde Koninkryk is 'n hulporganisasie met 'n passie vir die kerk in nood en verdrukking wêreldwyd. Een van hul vennote is die Reformed Family Forum – die groep susterskerke wat danksy sendingwerk vanuit die NG Kerk ontstaan het. Danksy die infrastruktuur wat die RFF bied, kon 10 600 gesinne wat weens COVID-19 en ander ontwrigtende omstandighede dringend kos nodig gehad het, onlangs gehelp word. Een van die areas wat onlangs baat daarby gevind het, was ons susterskerk in Zimbabwe, die Reformed Church in Zimbabwe. Lees meer oor wat die General Secretary van die RCZ, ds. Masimba, hiervan sê.
Foto: Kerkleiers van die RCZ Gemeente Tinde neem die mieliesakke in ontvangs.
Zimbabwe: CAVA het groot planne vir 2021
Sedert die 1970’s het ons NG Kerk in Zimbabwe na plaasarbeiders daar begin uitreik en hulle voorsien van geestelike materiaal in verskillende formate. Dit het sodanig uitgebrei dat daar oor die jare baie relevante boeke die lig laat sien is; iets wat tot groot hulp vir die geestelike behoeftes van ons geloofsfamilie daar was. Mev. Christene Chanza het drie jaar gelede die bestuurspos by ds. Gerard Breytenbach oorgeneem en stuur hierdie (CAVA) boot in die stormagtige waters van ons tyd steeds met vaste koers. Lees gerus die jongste verslag van CAVA, wat ook hul planne vir 2021 insluit.
VAKATURES
Musiekleier: Sonstraal
In afhanklikheid van die Here stel Sonstraal-gemeente die pos bekend met die oog op musiekbegeleiding, hoofsaaklik tydens Ignite-eredienste wat op jongmense gefokus is, asook vir die verpakking van digitale uitsendings. Die geskikte kanditaat is ‘n volwasse gelowige met gebalanseerde spiritualiteit, goed met mense en kreatief.  Aansoeke sluit 10 Maart. Klik hier vir die volle posbeskrywing en gemeenteprofiel.
Leraarspos: Wolseley
Die kerkraad van die VGK Wolseley wag in biddende en nederige afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van leraar. Die geskikte kandidaat moet as dienaar van die Here gesonde verhoudinge kan bou, gemeentelede tot ‘n eenheid kan saambind en met sy/haar gawes en talente sisteme en prosesse in plek kan plaas, veral aangesien die pos vir ‘n geruime tyd al vakant is.  Klik hier vir die volledige leraarsprofiel en aansoekbesonderhede. Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Maart. 
Manager, Bellville 
Alta du Toit Aftercare Centre is looking for candidates to apply for the position of manager. The following criteria are considered for the position: Bachelor’s degree backed by 5 years’ experience at senior management or executive level, strong operational leadership, fully bilingual (Afrikaans and English) and computer literacy. Click here for more information. Closing date: 11 March. 
Senior Verpleegkundige, George
Huis JJ Watson in George beskik tans oor die bogenoemde vakature. Registrasie by die SANC is verpligtend. Kandidate moet beskik oor sterk leierskapvaardighede, kennis en toepassing van geskeduleerde medikasie, persoonlike indemniteits-versekering en moet goeie menseverhoudings kan handhaaf. Lees meer hier. Aansoeke sluit 15 Maart.
Maatskaplike werker, Citrusdal
Badisa Citrusdal wag aansoeke in vir ‘n gekwalifiseerde maatskaplike werker met ‘n toepaslike tersiêre kwalifikasie. Die ideale kandidaat het ervaring van die implementering van die Kinderwet, ‘n geldige rybewys en moet beskikbaar wees om na-ure op skiktyd-basis te werk. Klik hier vir die volle posbeskrywing. Aansoeke sluit 19 Maart.
Hulp maatskaplike werker, Piketberg
Badisa Piketberg is op soek na ‘n geregistreerde hulp maatskaplike werker met ‘n toepaslike tersiêre [HWSETA] kwalifikasie. Kandidate moet geregistreer wees by die Raad op Maatskaplike Diensberoepe. Afrikaans (1ste taal sprekers) en vaardigheid in twee ander amptelike tale van die Wes-Kaap sal ‘n aanbeveling wees. Klik hier vir volle posbeskrywing. Aansoeke sluit 19 Maart. 
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Dons Kritzinger se Die kerk in beelde is nou op die CLF webtuiste beskikbaar. Volgens Dons het die dagstukkies die lig gesien toe hy tydens grendeltyd pitkos wou gee vir 'n gemeente wat in die proses was om na te dink oor wie hulle is en waarheen hulle op pad is. Hy het nagedink hoe die Nuwe Testament oor die kerk skryf.
"Ek het heel eenvoudig te werk gegaan. Eers het ek begin om die evangelies deur te gaan, maar spoedig het ek besef die metafore kry jy orals. Toe het ek maar net aangegaan. Daar is min of geen spesifieke orde aan die stukkies nie. Maar gesamentlik – hoop ek – bied dit ‘n saamgestelde beeld van hierdie veelkantige skepping van God, naamlik die kerk van Christus."
Klik hier om die gratis hulpbron in PDF-formaat af te laai.
Hoogtepunte uit Kerkbode  
NG predikante kan ook aansoek doen om entstof te ontvang: NG predikante kan ook aansoek doen om as werkers in die voorste linie geklassifiseer te word om die COVID-19-entstof te ontvang, berig Jacobie M Helena hier. 
Toe roep sy uit: ‘Teacher, I can!’ Hierdie is ’n storie van lig wat in die donker skyn. Dit is die verhaal van Christus wat verskillende lede van sy liggaam van verskillende kante van die aarde af byeenbring om hoop te bring in die lewe van die kwesbaarstes. Neels Jackson doen hier verslag. 
Rubriek: Die teenoorgestelde van praat: Dit was die New Yorkse skrywer en humoris, Fran Lebowitz, wat gesê het: The opposite of talking isn’t listening. The opposite of talking is waiting. Ongelukkig is sy reg, in baie ge­sprek­ke luister mense nie terwyl die ander praat nie, hulle wag maar net om self weer aan die woord te kom, skryf Lourens Bosman hier. 
ALGEMEEN
Raakgelees: Daar's liefde in die lug(braaier)
Adrian Birdsong het haar liefde vir haar lugbraaier (airfryer) na 'n heel nuwe vlak geneem deur 'n spesiale fotosessie saam met dié handige kombuistoestel te hou.
Birdsong is 'n professionele fotograaf en beweer dat sy baie lief is vir haar man, maar dat haar lugbraaier die eintlike liefde van haar lewe is.
In 'n Facebook-plasing wat reeds meer as 17 000 keer gedeel is, verklaar sy haar liefde vir haar gunsteling kombuisapparaat. “Ek weet nie of daar 'n beter manier is om liefde vir 'n lugbraaier uit te druk nie! Hierdie goed is fantasties. Soms raak jy so vinnig verlief, jy kan dit nie keer nie. Dit is nie net 'n braaier nie, dit is die liefde van my lewe."
Kyk gerus hier na 'n paar skreeusnaakse kiekies. 
Nuwe leierskapskursus by Hugenote
Hugenote Kollege se nuwe Skool van Sosiale Innovasie is veral daarop gefokus om deur leierskap vir innovasie gemeenskappe te help om beter te funksioneer. Volgens rektor Nelus Niemandt bied deelname aan die werksaamhede van die skool ‘n kreatiewe manier van samewerking aan gemeentes om die NG Kerk se missionale fokus uit te leef. "Dit lewer ‘n uitsonderlike bydrae om integriteit en deursigtige regering te bevorder en samelewingstrukture te versterk. Sinodes word aangemoedig om ‘n besondere toerustingsgeleentheid te ondersteun en leierskap in sinodale streke te versterk deur persone aan te moedig om die aanlynkursus Sosiale Leierskap en Entrepreneurskap by te woon. Hierdie kursus sal predikante en gemeenteleiers toerus om die vaardighede te ontwikkel om ‘n missionale teologie binne gemeenskappe te implementeer. Dit is ook ideale toerusting om ‘n persoon te ontwikkel om leiding te neem rondom sake soos integriteit, deursigtige bestuur en kreatiewe oplossings vir gemeenskappe.
Lees hier meer oor die kursus. Kontak vir Ulrike Hanekom by ulrike@civinovus.co.za vir meer inligting.
Colloquium and student forum
The Practical Theology and Missiology student forum and colloquium will take place via MS Teams on Friday, 12 March 2021. Please RSVP to Cas Wepener by Tuesday 9 March. See the programme below.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Hoenderburgers by La Belle
NG Kerk La Belle in Bellville verkoop smullekker hoenderburgers teen R30. Bestellings kan volgende Saterdag by die kerksaal (Herta Louwstraat 29) opgetel word. Stuur 'n WhatsApp aan Louisa (082 494 4440) om 'n bestelling te plaas. 
TEN LAASTE
Ons het vandeesweek van baie gemeentes gehoor wat hulle eredienste, senior bediening en kategese in volle swang hervat, natuurlik met die nodige maatreëls en beperkinge steeds in plek. Alhoewel die laaste jaar ons geleer het dat kerk beslis nie oor die gebou gaan nie, hoor ons die opwinding en blydskap van 'n gemeenskap van gelowiges wat weer hulle Christenskap saam kan uitleef.
Ons wil graag jou storie hoor - of jy vir die eerste keer weer voor 'n gemeente gepreek het, 'n erediens bygewoon het, 'n senior byeenkoms gehad het of vir die eerste keer weer kategese toe gegaan het. Deel gerus julle ervarings en foto's met ons by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Kunswerk: Vincent van Gogh se Auvers-sur-Oise
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.