Lees deur internet, klik hier >>
26 Januarie 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
“When tirelessly the Church listens, heals and reconciles,
it becomes what it is at its most luminous -
communion of love, of compassion, of consolation,
a clear reflection of the Risen Christ.” 
- Brother Roger

Waterkrisis
SINODENUUS
1. Sentrum vir Publieke Getuienis
Waterkrisis in die Kaap en omstreke

Die Sentrum vir Publieke Getuienis beplan op Dinsdag 30 Januarie om 10:00 'n informele gesprek oor die waterkrisis in Kaapstad. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum: "Dit is ons oortuiging dat hierdie krisis oor veel meer as die blote gebrek aan reën gaan. Hier is ekologiese kante, bestuurskante, beplanningskante, werklikhede rondom die groei in die bevolking, die ontginning van alternatiewe moontlikhede, asook natuurlik ons eie geloofsreis met God te midde van hierdie krisis."  
Indien jy belangstel om deel van hierdie geprek te wees en ook daarmee behoorlike begeleiding aan lidmate, wat tans in groot onsekerheid gedompel, is te kan gee, kontak gerus vir Danelle by die kantoor: 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.
2. Diaconia se uitdaging!
2.1 Ondersteun Wêrelddag vir Hardop Lees: 1 Februarie
Diaconia moedig gemeentes aan om die uitreikgeleentheid wat “Wêrelddag vir Hardop Lees” bied, aan te gryp. Klik hier. Fokus op voorskoolse tot graad 3-leerders en gaan lees op Donderdag 1 Februarie vir hulle hierdie storie.
Die skokkende realiteit is dat 78% van ons land se graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie. Diaconia het vanjaar vir Righardt le Roux, 'n toegewyde spanlid, wat saam met Nal’ibali sal werk om minstens 70 permanente leesgroepe in ons sinodale streek te vestig. Gemeentes wat belangstel, kan Righardt by Diaconia (021 957 7109) kontak. 

Diaconia en Nal'ibali WRAD2018 WRAD
2.2 Ontmoet die Diaconia-span
Dis lekker om die op-en-wakker span van ons Diensgroep Diaconia bekend te stel.
Saam met ons PSD's, Sean Esterhuizen (VGKSA) en Nioma Venter (NG Kerk), bestaan hulle uit Isabella de Kock, wat voortaan as koördineerder vir vroeëkindontwikkeling (VKO) optree; Ria Koen, sekretaresse; Nicola Vermeulen, SmartStart-fasiliteerder en die bekroonde Righardt le Roux. Lg. is deur Diaconia se lees-vir-genot vennoot, Nal'ibali, gesekondeer om gemeentes te ondersteun in die vestiging van leesgroepe as deel van Diaconia se VKO-fokus. Kontak Diaconia by diaconia@kaapkerk.co.za of 021 957 7109. 

Diaconia-kollegas
Isabella de Kock, Nioma Venter, Ria Koen, Nicola Vermeulen,
Righardt le Roux, Sean Esterhuizen
Argief
3. Kerkargief
Andrew stel argief bekend aan Genealogiese Genootskap

Die virtuele tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (eGGSA) het Andrew Kok (bestuurder) genooi om maandeliks op hulle Facebook oor die NG Kerk in SA se argief te berig. In hierdie kort bydraes bied hy interessante inligting oor die ontstaan van die argief en die werk wat die vriendelike span op Stellenbosch lewer. Lekker blootstelling! Lees hier en geniet die spesiale foto’s van die sinodale gebou in Grey’s Pass en ander herinneringe uit vroeër dae!
4. NG Kerk in gesprek met EFF
In ʼn poging om met politieke partye en ander rolspelers in gesprek te tree en ons getuienis te lewer, het die NG Kerk op 19 Januarie ʼn ontmoeting met die EFF gehad. Bykans die hele EFF-leierskap onder leiding van mnr. Julius Malema was teenwoordig.
Die afvaardiging het getuig van die roeping van die kerk om ʼn morele kompas vir die nasie te wees. Van die NG Kerk se kant is op vier temas gefokus. Lees hier verder.
EFF-leierskap en NG Kerk in gesprek
Lede van die EFF-leierskap vergader met die NG Kerk se Gustav Claassen, Nelis Janse van Rensburg en Dirkie van der Spuy
5. Kom Wêreldraad van Kerke Kaap toe?
In ʼn onlangse brief het Gustav Claassen (NG Algemene Sekretaris) o.a. die nuus dat die NG Kerk en die VGK op die kortlys is om die Algemene Vergadering van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in 2021 in Kaapstad aan te bied, gedeel. Intussen het twee lede van die WRK se bodkomitee Kaapstad van 13-16 Januarie besoek. 
"Die besoek was 'n groot sukses en die NG Kerk en VGK behoort nou sterk kandidate as gashere vir die vergadering te wees. Ons is ook bevoorreg dat ons ekumeniese vennote terselfdertyd sterk argumente aangevoer het waarom die bod Kaapstad toe moet kom." Gustav vertel hier meer
Gesprekke tussen NGK, VGKSA en WRK afgevaardigdes
V.l.n.r. agter: Desmond Lambrechts (Anglikaanse Kerk in Suidelike Afrika),
Gustav Claassen (NG Kerk), Nelis Janse van Rensburg (NG Kerk)
V.l.n.r. voor: DP Carelse (VGKSA), Jerry Pillay (WGGK president), Tommy Solomons (Rynse Kerk), Mary-Anne Plaatjies van Huffel (VGKSA)
6. Getuienisaksie: Nigerië
Met simpatie - J
ohannes Francois Orffer
Getuienisaksie betuig hul innige simpatie met die heengaan van ds. Francois Orffer wat op Vrydag 19 Januarie oorlede is. Lees ook elders by ALGEMEEN. Hy het 'n baie invloedryke rol in ons susterskerk in Nigerië, die NKST, gespeel. Ons eer sy nagedagtenis.
Lees hier meer. Op die foto onder gesels ds. Francois met 'n oudlidmaat, Bong Bong, tydens 'n besoek aan die NKST in Nigerië in 2007.
Francois en Bong Bong
Bybel
7. Arbeidsbediening
7.1 Bybels - 'n GROOT BEHOEFTE!
Die meeste mense het 'n hele paar Bybels (veral ouer uitgawes) wat dalk net in die huis rondlê. Arbeidsbediening is 'n diensarm van Christelike kerke wat ALLE mense geestelik in hul werksplekke toerus en ondersteun. Hulle het dringend Bybels nodig in Afrikaans, Engels en isiXhosa. Lees hier meer oor waar die Bybels afgegee kan word. Kontak Lien November (021 957 7153) of Carin Brink (083 651 9515) met navrae.
Leeuwners
7.2 Arbeidsbediening
Jaco en Sandra woeker in Kaap en  Houtbaai

Jaco (Arbeidsbediening Kaapstad-middestad in samewerking met die NG Groote Kerk) en Sandra Leeuwner (Biblia Vissersbediening Houtbaai) was onlangs in gesprek met Lizelle de Bruin en Johan van Lill op RSG se Sondagjoernaal-program. Luister gerus na die inspirerende onderhoude hier.
Water
GEMEENTENUUS
1. Dag Zero: Help asb. met die groot dors!
Riaan de Villiers (Groote Kerk) doen ’n vriendelike beroep op gemeentes in ander streke en provinsies om te help om 5L bottels drinkwater in te samel en vir hulle te stuur in Kaapstad. “Ons probeer om kerkgeboue in ons omgewing te gebruik as verspreidingspunte vir drinkwater aan arm en weerlose mense en gemeenskappe. Ons wil nou reeds groot voorraad opbou vir die potensiële komende Dag Zero as ons watervoorsiening afgesny gaan word. Klik hier.
Johan Cilliers
2. Vernuwingsreeks by Reebok
Prof. Johan Cilliers, van die Fakulteit Teologie: US, lei vanaf Sondag 28 Januarie tot Woensdag 31 Januarie 2018 die jaarlikse vernuwingsreeks by die NG Gemeente Reebok in Klein-Brakrivier. Die tema vir die reeks is  “Die hartklop van die hoop - Perspektiewe uit die pen van Petrus.” Lees meer en skakel gerus daarby in.  
Alpha kursus
Alpha-kursus: Heidekoppie gemeente Begin Wo. 7 Feb.
Klik bo vir meer.
Logo
Alpha-kursus: Vasco gemeente
Begin Do. 1 Feb.
Klik bo vir meer.
NG Merweville
5. Gesoek: Veiling-items vir Merweville
Die bekende dankfeesbasaar wat jaarliks op Merweville plaasvind (vanjaar 27-29 April 2018), het geen bekendstelling nodig nie.
Weens die verskriklike droogte in daardie omgewing, word gemeentes in die omgewing, sowel as alle ander feesbesoekers, vriendelik gevra om hulle groot veiling van oortollige bates te ondersteun deur self ook artikels te bring om te verkoop. Kallie le Roux (voorheen op Darling) is die organiseerder van hierdie veiling, wat die Saterdagmiddag aangebied word met die vriendelike samewerking van BKB Paarl. 
As jy 'n hart vir Merweville het, kan jy hier lees hoe jy en jou oortollige ware hulle kan help.
Groen hoop spruit uit die swart aarde
voorrade gelaai
6. Knysna-hulp tot in die Kaap! 
Wat verlede jaar met die brande as ’n traumatiese ramp in die Tuinroete begin het, het ’n interessante nadraai gehad toe NG Stellenberg se Why Duvenage en Milda Brits hulle netwerk ingespan het om die oortollige noodvoorrade te benut.
Stellenberg reik jaarliks uit na ten minste agt verskillende plekke en Why se manne-gebedsbediening het ingespring om te help, vertel Milda Brits aan Annalise Wiid. Só “blus” Knysna se skenkings nou in Crossroads, Khayelitsha, Elsiesrivier, Calitzdorp, Zoar, Leeu-Gamka, Sutherland, Beaufort-Wes en Shiloh “armoede se brand”.
Missionale kerkwees. Uitreik oor alle grense! Klik hier, met dank aan e-Kerkbode.
* Dis bykans agt maande na die Tuinroete se brande. Baie sterkte aan almal (veral ook ons gemeentes in daardie omgewing) wat steeds werk om hulle lewens weer op koers te kry. (Foto bo met erkenning aan Chris du Preez van NG Plettenbergbaai.)
PREDIKANTENUUS
1. NG Pinelands se Tiana Bosman aanvaar pos by UWK 
In Pinelands groet Tiana Bosman op So. 28 Januarie om 09:30. Sy is pas aangestel as senior lektor in Ou Testament by die Department vir Religie en Teologie, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, UWK.
Sy skryf soos volg: ”Ek verlaat die NG Gemeente van Pinelands as hul predikant met 'n swaar hart, want ek is vir hulle lief. Hierdie gemeente verstaan en beliggaam die radikale evangelie van Jesus. Dit was 'n voorreg om vir meer as sewe jaar hul predikant te kon wees. Hulle liefde, inklusiwiteit en diensbaarheid sal my altyd bybly. Ek is trots op hierdie gemeente wat die Bybel met kritiese onderskeiding kan lees en toepas. Mag hulle in navolging van Jesus voortgaan om die stryd vir menswaardigheid te voer.” Baie sterkte op jou nuwe reis, Tiana!

Bosman-gesin
Herman, JP, Tiana en Karen Bosman
2. Strydom Bruwer groet NG Gemeente Gordonsbaai 
Op Sondag 28 Januarie word in die NG Gemeente Gordonsbaai afskeid geneem van Strydom en Marlene Bruwer. Hierdie egpaar, wat sedert 1989 daar in die bediening was, het diep spore in Gordonsbaai se gemeenskap getrap! Strydom ontvang demissie op 28 Februarie en begin op 1 Maart as hoof van fondswerwing by Bybel-Media op Wellington.
Lees gerus e-Kerkbode se berig oor Strydom se aanstelling en sy eie gedagtes hier.
Strydom se afskeidsdiens is Sondag om 08:30 by Kusweg en 09:30 by die Lofsentrum, met 'n geselligheid daarna by die sentrum. Sterkte, Strydom en Marlene!

Bruwer gesin
V.l.n.r is Hendri, Marlene, Strydom en Alta-Marié Bruwer
Hennie en Jowina
3. NG Gemeente De Rust
3.1 Hennie en Jowina emeriteer
Sondag 28 Januarie is ook die datum waarop  Hennie van Loggerenberg sy afskeidspreek lewer in die NG Gemeente De Rust, waar hy en Jowina die afgelope vyf jaar in die bediening was. Die Van Loggerenbergs was inderwaarheid in drie gemeentes: eers as proponentspaar in Oudtshoorn-Suid, daarna in Laingsburg en uiteindelik in die Klein-Karoo.
Hennie kyk terug na enkele hoogtepunte – klik hier.
Mag julle hartlik verwelkom word in Hartenbos, Hennie en Jowina!     
3.2  Francois en Elsabe in De Rust ontvang
In De Rust word die vere reggeskud om Francois en Elsabe du Plooy en hul twee dogters te ontvang. Francois, wat voorheen in Erasmia, Groblershoop en sedert 2011 in Hoopstad bedien het, vertel sy passie is verhoudingsbou: om mense so onvoorwaardelik en eindeloos te probeer liefhê soos Jesus hulle lief het. 
Francois se bevestiging vind op So. 18 Februarie plaas. Baie seën vir julle as gesin en gemeente! 
Du Plooy-gesin
Anè, Francois, Franke en Elsabe du Plooy
Malan gesin
4. NG Sonstraal: bevestiging van Eugene Malan
Ons is saam met Sonstraal dankbaar en opgewonde! Eugene Malan word op So. 28 Januarie om 09:00 met handeoplegging tydens die Mosaïek-erediens by Curro Privaatskool in Durbanville as leraar bevestig. Die Malans het reeds in Desember uit Port Elizabeth na Durbanville verhuis en word baie seën in die gemeente toegewens. Almal is hartlik welkom by die geleentheid. Op die foto is v.l.n.r. Miguette, Louise, Eugene, Jean-Marié en Simon voor.
Scherlize Hayes
5. Scherlize na NG Ysterplaat-Suid
Ons dink spesiaal aan die NG Gemeente Ysterplaat-Suid, waar Scherlize Hayes op So. 28 Januarie om 09:30 as predikant bevestig word.
Scherlize het haar praktiese jaar met die leiding van Irénée Heyns by Stellenbosch Moedergemeente gedoen. Oor haar passie in die bediening skryf sy dat haar betrokkenheid by die Echo-gemeenskap op Stellenbosch die basiese beginsels van kerkwees, soos die eerste gemeente dit gedoen het, vir haar onderstreep het: om saam te bid, te eet, en tot so ’n mate ons goed en onsself met ons gemeenskap te deel, dat niemand iets kort het nie (Hand. 2:47).
“Ek is opgewonde oor my tyd by Ysterplaat-Suid en sien uit om saam met die hele gemeenskap ’n pad te stap, ruimte te skep vir storievertelling, ’n veilige hawe te te skep vir die hele gemeenskap, en so ook meer te word soos die kerk in Handelinge 2.” Baie seën vir jou en die gemeente toegebid!
Van den Heevers
6. Johan en Ansie van den Heever, welkom in NG Rondebosch!
Dis lekker om ’n Gautenger uit Centurion in die Kaap te verwelkom! Johan van den Heever, predikant in die Eldoraigne Familiekerk (Noordelike Sinode), word op 4 Februarie in NG Rondebosch bevestig.
Oor die bediening skryf hy: “Ek sien uit om hierdie inklusiewe gemeente aan stilte as geestelike dissipline bloot te stel. Dit gaan 'n besondere uitdaging wees om ook weer die millenniërs in Rondebosch te bedien. Ons glo ons as gemeente gaan God se droom vir die gemeenskap waar maak.”
Johan, ons wens jou en Ansie sterkte toe vir die groet en bid jou seën toe vir jou afskeidspreek op So. 28 Januarie. Mag dit ’n spesiale nuwe tydperk vir julle wees.
Andre van Wyk
7. NG Durbanville: André van Wyk neem afskeid
Op Sondag 28 Januarie word in die NG Gemeente Durbanville afskeid geneem van André van Wyk, wat sedert 1 Januarie by Jan Kriel Instituut aangestel is as assistentdirekteur. André se afskeidspreek om 09:00 is 'n gesamentlike erediens in die kerkgebou waar nagmaal ook bedien sal word.
Ons vertrou dat die nuwe bedieningsgeleenthede vir jou, Mathilda en jul kroos groot seën sal inhou, André. Meer oor Jan Kriel instituut is hier.
Wilco Roberts
8. Wilco Roberts beskikbaar vir aflos
Wilco Roberts laat weet: "Ek is beskikbaar vir preekbeurte in die hele Wes-Kaap. (Vervoertariewe geld vir optredes buite Kaapstad of verder as 'n 20km radius vanaf Durbanville.)" Gemeentes kan hom kontak by wilco@wilcoroberts.co.za of 079 743 2148.
Inligting oor aflospredikers is ook op ons webwerf.
Gebedsversoeke
Versoeke vir voorbidding is welkom.
Ds. Orffer
ALGEMEEN
1. Ds. Francois (JF) Orffer: Ons medelye
25-02-1927 tot 19-01-2018

Ons bied ons innige medelye aan die Orffer-familie, wat hulle pa, ds. Francois Orffer, op 92 moes groet. Sy voorbeeld en werk was vir baie tot groot seën. Binne die NG Kerk in Afrika was hy in die bediening in Soedan, Maclear, Burgersdorp en De Doorns.
Andre (sy seun wat in die NG Gemeente Oudtshoorn-Wes predikant is) getuig mooi met hoeveel vrede hulle hom kon laat gaan, omdat hulle hom die Hemelse rus gun. Sterkte aan sy tweede eggenoot, Johanna, sowel as die vier kinders, 11 kleinkinders, agterkleinkind en ander familie.
Die diens vind plaas op Vrydag 26 Januarie om 11:30 in die NG Gemeente Strand-Noord en word gelei deur die Orffers se groot huisvriend, Andrie Killian. 

Steven Bevans
2. Glasgow-Stellenbosch gesprek
Belangstellendes kan op Donderdag 1 Februarie 2018 via videoverbinding luister na 'n lesing deur die bekende Katolieke missioloog Steven Bevans oor die onderwerp: "Models of Contextual Theologizing in world Christianity". Die lesing vorm deel van die Kerr-lesingreeks wat aangebied word deur Trinity College, Universiteit van Glasgow en vind plaas vanaf 13:00 – 15:00 in die Hofmeyr lesingsaal (lokaal 2003) by Fakulteit Teologie, US. Kontak Retief Muller vir enige navrae by retiefmuller@sun.ac.za.
3. Hugenote Kollege verwelkom studente 
Op Maandag 22 Januarie het studente en ouers van regoor Suid-Afrika hul eerste kans gehad om vir die kursus van hulle keuse op die Wellington-kampus van Hugenote Kollege te registreer. Die opwinding was duidelik op alle nuwe studente se gesigte soos hulle deur entoesiastiese personeel gehelp is.
Moenie jou kans misloop om 'n suksesverhaal van Hugenote Kollege te word deur op die kampus te registreer of om nou al jou plek vir die tweede inname (April 2018)  te verseker nie. Lees verder.
NUUSBRIEWE
1. Welkom by CLF, Berlisé en Danny!
Dis lekker om twee nuwe kollegas by CLF te verwelkom!
Berlisé Louwrens is die nuwe bemarkingsbestuurder en is opgewonde oor die bydrae en impak wat sy in God se koninkryk kan maak as deel van die CLF-span. Danny Fourie het min bekendstelling in die mediawêreld nodig. Hy is vanaf Januarie redakteur van CLF se publikasies. Danny en sy span is gereed om die Christelike lesersmark en die NG Kerk-familie met relevante en geloofsopbouende publikasies te bedien. Klik hier.

Danny
Danny Fourie
Logo
CLF-logo
Berlisé
Berlisé Louwrens
Strydom Bruwer
2. Bybel-Media ryker met Strydom Bruwer!
Hierdie week deel Bybel-Media in hulle nuusbrief ook die goeie nuus oor die aanstelling van Strydom Bruwer as ontwikkelingsbestuurder.
Daar is voorts interessante inligting oor die jongste uitgawe van Kerkbode - met nuus oor 'n nuwe Kerkbode-app - en 'n herinnering aan bestellings vir Jaarboek 2018.
Belangstellendens kan hier verder lees.

Frits Gaum en Rethie van Niekerk
3. Kerkbode sê baie dankie en baie welkom
In die Kerkbode van 26 Januarie bedank Neels Jackson (redakteur) dr. Frits Gaum, gewese redakteur, vir die liefde en uitnemendheid waarmee hy tot einde 2017 Kerkbode se mediablad inhoudelik versorg het.
Terselfdertyd word Rethie van Niekerk, predikant in NG Gemeente Somerstrand, PE, verwelkom as die een wat voortaan hierdie taak sal oorneem. Gemeentes en predikante kan uitsien na 'n ekstra bonus: die wêreld van elektroniese media en hoe dit predikante en gemeentes in hulle werk kan help, sal voortaan ook hier aandag kry.
Bron: Kerkbode van 26 Januarie 2018

BM se kategese app
Klik bo vir meer oor die opwindende BM-app vir kategese
EKOLOGIE
1. Ons moet voorbereid wees
“Daar is selfs al 'n D-dag aangekondig. Spesiale gebedsoproepe en -saamtrekke is nie genoeg nie. Ons moet nou daadwerlik voorberei vir as die water regtig opdroog in ons krane.” So waarsku David Botha namens Getuienisaksie se Projekspan Ekologie. Lees meer, en veral wat hulle voorstel hier.
Leë dam
2. Lausanne konferensie oor aardesorg
'n Belangrike konferensie oor aardversorging vind van 19-23 Februarie in Pietermaritzburg by African Enterprise se sentrum plaas.
Die program fokus op drie temas: God se Woord - teologie; God se wêreld - die toestand van die aarde: klimaatsverandering, besoedeling, skade aan biodiversiteit; God se werk -  praktiese projekte wat impak maak. Lees verder en reageer voor 31 Januarie
NG Stellenberg Waterkar
3. Reg vir Dag Zero?
Die Kaap se watertekort beteken dat ons almal anders oor water dink. Verant-woordelike rentmeesterskap beteken ook dat planne gemaak moet word ter voorbereiding van Dag Zero.
Sommige gemeentes is so bevoorreg om ’n boorgat te hê, ander het reeds watertenks opgerig om reënwater op te vang – en die simboliek van so ’n watertenk gaan ook nie ongesiens in die gemeenskap verby nie. Verlede jaar is watertenks ook aan sekere Badisa-programme geskenk, sodat hulle kruie- en groentetuine met die herwonne water aan die gang kon bly.
By NG Stellenberg is 'n span vrywilligers gereed om water vir die kerkkantoor se dringende behoeftes aan te ry. Op die foto is Poena Visagie en Rudi Liebenberg by die "waterkar" wat hiervoor ingespan sal word.
Het jou gemeente ’n slim manier om water te bespaar? Hoe berei julle voor vir Dag Zero? Ons hoor graag daarvan. Stuur jou kort storie en ’n foto sodat ons by mekaar kan leer.  
4. Water! WWF South Africa's Wednesday Water Files
WWF South Africa plans to publish weekly “Wednesday Water Files” to help households and businesses in the Western Cape to prepare for life beyond Day Zero when we will have access to very little water.
Last week they looked at Day Zero and how to take practical steps to prepare ourselves for this event.
In the second weekly update they talk about groundwater. Collected rainwater and groundwater are critical ‘off-mains’ sources of water that now are helping households reduce the demand for bulk water, and will be even more important when the taps are turned off. Click here.
*WWF is one of the world’s largest and mos respected independent conservation organisations. They aim to inspire all South Africans to live in harmony with nature, for the benefit of our country and the well-being of all our people.

WWF Wednesday Water File

5. Meet waterverbruik meer akkuraat

Die watertekort in die Kaapse metropool beteken dat ons nou selfs nog meer bedag op ons daaglikse waterverbruik moet wees.
Daar is allerlei toepassings vir slimfone beskikbaar om jou verbruik na te gaan en jou te help om jou waterverbruik te verminder.
Oorweeg gerus die opsies: lees hier meer (met dank aan Die Burger van 23 Januarie.)

BEHOU DIE HUMOR
Grappie
KUIERKANS
Chrismar ontbyt 3 Februarie
Chrismar ontbyt
3 Februarie - klik bo
NG Worcester-Vallei Plaasmark
NG Worcester-Vallei Plaasmark
21 April - klik bo
e-Kerkbode logo

VAKATURES

Vakatures in Kerkbode

Besoek die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, vir die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode vir 2018 verskyn op 16 Februarie.

Deernis
Logo
Logo
1.1 Badisa Huis Hanna Hopkins: Bestuurder
Het jy deernis met ’n medemens wat swaarkry? Wil jy graag siek persone en hul familielede bystaan in hul uur van nood? Hou jy daarvan om ’n huislike atmosfeer te skep vir diegene wat daarna smag? Oorweeg dit dan biddend om aansoek te doen vir die pos van bestuurder by Kerkhuis Hanna Hopkins in Observatory. Mev. Hopkins (predikantsvrou) het 45 jaar gelede die nood van pasiënte weg van hulle huise raakgesien. Onder haar leiding het die huis tot stand gekom en bedien hulle steeds mense in hul nood. Klik hier en reageer voor 28 Februarie.
1.2 Ramot behandelingsentrum:
Bemarker en fondswerwer

Ramot Behandelingsentrum vir middelafhanklikheid is ’n program van Badisa. Aansoeke van gekwalifiseerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid wat die waardes van die organisasie ondersteun, word vir hierdie betrekking ingewag. Lees hier meer. Aansoeke sluit 5 Februarie.

1.3 Badisa Hermanus: Maatskaplike werker
Badisa Hermanus (standplaas Stanford) wag aansoeke in van geregistreerde maatskaplike werkers wat onder andere ervaring het van die implementering van die Kinderwet. Reageer voor 2 Februarie. Meer inligting is hier.  
Kerkgebou
2. NG Moedergemeente Bellville: Orrelis
Persone wat die Moedergemeente Bellville op orrel en klavier/klawerbord kan begelei, sowel as die musiekbediening in ’n gemeente kan koördineer, word genooi om aansoek te doen vir die pos van musiekbegeleiding in die erediens. Die ideale kandidaat moet ’n belydende Christen wees en moet goed in spanverband kan werk. Klik hier vir meer. Aansoeke sluit 12 Februarie.
Elzanne
TEN LAASTE
Uit die pen van ...
Elzanne van der Westhuizen
Verlede Sondag is ek as dominee bevestig in my eerste voltydse leraarspos en was ek bevoorreg om my intreepreek ook te lewer. Dit was allermins die eerste keer wat ek preek in 'n gemeente, maar egter die eerste keer wat ek die preekstoel betree het as "dominee". Ek het gewonder: "Wat is nou anders om as 'dominee' te preek en nie meer as 'teologiese student' of 'proponent' nie?"

Dink 'n bietjie oor die spesiale verhouding tussen dominee en gemeente. Dit is nie 'n gewone werksverhouding nie, maar eintlik meer soos 'n huwelik - 'n wedersydse aanvaar van mekaar met gawes en foute - en watter voorreg is dit nie om in só 'n verhouding te staan (met al die pyne en vreugdes wat daarmee saamgaan) nie!

Ek bid dat ons met sagte oë na mekaar sal kyk in Christus se kerk: dominees na hulle gemeentes en gemeentes na hulle dominees, want ons is tog almal mense - met gawes en foute.
                                                                    - - - - - 
Elzanne is in Januarie 2018 as medeleraar in die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen bevestig en het voorheen bedien in Brackenfell, Stellenbosch-Sentraal en Stellenberg. Kontak haar by elzanne@stelwel.co.za.  

As ons as kerk dan in liefde en medelye moet luister, heelmaak, versoen ...
waar kan ek en jy
water aandra
saambid
Bybels skenk
met sagte oë kyk
vir 'n kind voorlees?

 
VrydagNuus-groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp



kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.