Subscribe to our email list
 10 Junie 2016

Beste Leser
"Dit moet vir die mense lekker wees om na julle te luister. Ja, julle moet altyd die regte dinge vir elke mens sê." (Bybel vir Almal). (Kol 4: 6)
Sinode-logo
SINODENUUS
1. Wes-Kaapland Moderatuur skryf
Die jongste brief van die Sinode van Wes-Kaapland se moderatuur aan predikante en kerkkantore in ons sinode is op Vrydag 3 Junie uitgestuur. Die brief, hierdie keer deur Quintus Heine geskryf, fokus op 'n paar sake waaraan die moderatuur by sy afgelope vergaderings aandag gegee het. Dit sluit spiritualiteit, kerkverband, jeug en hoop vir Suid-Afrika in. Belangstellendes kan die volledige brief aangeheg lees.
Op die onderstaande foto is (agter) Elize Morkel, Bossie Minaar, Tinus van Zyl, Frik Bosman, Melanie Thirion, Leon Venter. Voor is Charl Stander, Nelis Janse van Rensburg, Frederick Marais en Quintus Heine.
Kontak die moderatuur by skriba@kaapkerk.co.za.
Sinode van Wes-Kaapland moderatuur
2. Sinode van Wes-Kaapland: Jong Leraars byeen
Predikante onder 35 jaar het op 8 Junie op uitnodiging van die moderatuur en Sinodale Koördineringspan (SKS) by Goudini Spa byeengekom om te besin oor die roeping van die kerk in Suid-Afrika.
Daar is onder andere besin oor die uitdagings, geleenthede en toekoms van die kerk. Die groep van 36 het deeglik besin oor wat gedoen kan word dat die NG gemeentes hulle roeping leef. 'n Sinvolle en energerende byeenkoms vir jonk en oud!
Kyk gerus of jy jou vriendelike dominee hier iewers sien glimlag! Meer op Facebook!

Groep Jong Leraars
Groep Jong Leraars - Goudini
2.1 Boodskap oor Droom, Roeping, Missionaliteit
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk, het in 'n video-opname met die groep jong predikante gesels. Hy beklemtoon hoe belangrik die jong stem en perspektief vir die leierskap - en die kerk se toekoms - is. Sake soos 'n missionale transformasiestrategie van die NG Kerk, die insluiting van randfigure, 'n begrip van ons identiteit en die omarming van diversiteit word ook in sy boodskap uitgelig.
Die uitkomste van hierdie konferensie sal deel uitmaak van die leierskap se strategiese denke vir die pad vorentoe. Om 'n prentjie te kry van dit waarop die leierskap van die sinode (en die kerk) tans fokus, luister gerus onder na Nelis.  
Nelis Janse van Rensburg aan die woord
2.2 Kommentaar van Jong Leraars
Wat is enkele blywende indrukke van ons jong predikante na afloop van Woensdag se gesprekke by Goudini? Helené Fouché (NG Gemeente Kuilsrivier) en Lenois Stander (Bybel-Media) skryf ...
"Na 'n dag van gesprekke, vrae, redenasies en darem ook lekker koffie, is dit moeilik om bondig verslag te doen oor wat ons vandag op Goudini ervaar het.
Ons het gewonder hoe ons in die toekoms 'n geloofsgemeenskap sal word wat Jesus se evangelie en bediening beliggaam.
Daar is baie hoop in die kerk en ons het die voorreg gehad om dit opnuut te ontdek. Ons leiers, oor verskillende generasies heen, is verrassend positief oor die geleenthede wat die kerk in die samelewing kan ontgin. Ons het saam gedroom oor hoe die kerk meer inklusief, relevant en diensbaar kan wees.  
Ons is gereed om hierdie uitdaging te aanvaar onder begeleiding van die Heilige Gees."
Luister gerus ook na Marcell Mey (NG Gemeente Strand-Noord) se indrukke - die kort video is hier beskikbaar. 

Helene, Marcell en Lenois
3. Getuienisaksie
3.1 Sam Dandala se Hart aan die Brand vir Oos-Kaap!

Sam Dandala, entoesiastiese ouderling van VGK Decoligny naby Mthatha en tweedejaar teologie-student by UNISA, het 'n sterk missionale roeping.
Hy het groot drome vir die kerk in die Oos-Kaap en vertel meer.
Klik op sy foto langsaan om hierdie inspirerende verhaal te hoor.
KGA-logo
3.2: Dagkonferensie
Die Diensgroep Getuienisaksie se jaarvergadering neem vanjaar die vorm van 'n dagkonferensie aan.
Dit word op 27 Julie by Chrismar Dienssentrum (Jessiestr 25, Bellville) aangebied en bekende sprekers soos Xolile Simon, Alan Storey, Llewellyn MacMaster, Vuyani Minya, Stephen Pedro, Fanie Heyns en Brian Handel tree op

Kry die program hier en kontak Dawn Erasmus by kga2@kaapkerk.co.za of 021 957 7184 vir navrae of inskrywings. Teken nou reeds hierdie datum aan!

4. Badisa
Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik, Onwettige Handel

Sondag 26 Junie 2016 is Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel.
Substansafhanklikheid is een van Badisa se fokusareas en hulle rig hiermee 'n spesiale versoek aan gemeentes om tydens die erediens 'n kers aan te steek vir persone wat ons ondersteuning nodig het om soberheid te handhaaf. Gemeentes kan ook die inligting in die mediaverklaring oor substansafhanklikheid met die gemeentelede deel of 'n spreker nooi vir die geleentheid.
Kontak Badisa se twee programme wat op behandeling fokus:
Toevlug (Worcester): www.toevlug.org of skakel 023 342 1162
Ramot (Parow): www.ramot.co.za of skakel 021 939 2033
Badisa Dwelmbewustheidsweek
Communitas-logo
5. VBO-kursusse vir Derde Kwartaal
Van die VBO-kantoor kry ons inligting oor enkele kursusse wat vir die derde kwartaal voorlê. Ons lig van die eerstes graag hier uit.
20-21 Julie: Teologie en Menswaardigheid, aangebied deur die Taakspan vir Menswaardigheid. Skryf in.
27 Julie: Getuienisaksie Dagkonferensie, met die tema "Celebrating our heritage - Embracing the future." Kontak kga2@kaapkerk.co.za
10-11 Aug: Kursus in Geloofsvorming, aangebied deur die Taakspan vir Jeug- en Familiebegeleiding. Skryf in.
16-17 Aug: SEKS! 'n Christelik- Bybels-etiese raamwerk vir seksualiteit, aangebied deur die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake. Skryf in.
Inskrywings sluit sewe dae voor die kursusse se begin. Navrae (Getuienisaksie se dagkonferensie uitgesluit) na Wilma le Roux by wler@sun.ac.za of 021 808 3624.
Sharon Naude en Jose Layman
6. Communitas: Interne Skuiwe
As deel van interne skuiwe by Communitas op Stellenbosch is José Layman sedert 1 Junie 2016 amptelik die sekretaresse vir die Taakspan Jeug- en Familiebegeleiding, met Sharon Naudé as  NGGO - Nuwe Geloofsgemeenskapsontwik-keling se sekretaresse. Sy hanteer ook die Ontvangs.
Kontak José by jeug@sun.ac.za en Sharon by snaude@sun.ac.za. Goeie wense vir dié twee bekwame kollegas met hulle nuwe fokus en verantwoordelikhede. 

NID-logo
ALGEMEEN
1. NID vier 135 Jaar! 

Die Nasionale Instituut vir Dowes vier vanjaar sy 135ste bestaansjaar op 15 Junie 2016. Hierdie lang geskiedenis het begin met die behoefte in die laat 1800’s om die Woord van God aan Dowe persone te verkondig. Die Instituut het mettertyd sy dienste uitgebrei om opleiding-, sorg- en ondersteuningsdienste aan persone met gehoorverlies van alle ouderdomme regoor Suid-Afrika in te sluit. Vandag bereik NID duisende mense deur innoverende Doof-bemagtigende programme en hulpbronne.
Dit sou egter nie moontlik wees om die lewens van persone met gehoorverlies te verander sonder die biddende ondersteuning van die Kerk en sy lidmate deur die afgelope 135 jaar nie. Vir hul bydrae en toewyding om Dowes te help is ons besonder dankbaar. Meer inligting is by www.nid.org.za.
Gemeentes word aangemoedig om die onderstaande videogebed ter herdenking van hierdie mylpaal tydens Sondag se erediens te wys en vir NID te bid.

NID vier 135 jaar met dankgebed
WCC-logo
2. NG Kerk Terugverwelkom in WRK!
Gustav Claassen (algemene sekretaris) en Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die moderamen) verteenwoordig die NG Kerk van 21 tot 29 Junie 2016 by die Wêreldraad van Kerke (WRK)/World Council of Churches (WCC) se vergadering in Trondheim, Noorweë.
"Tydens hierdie geleentheid word die NG Kerk as volle lid terugverwelkom in die Wêreldraad van Kerke. Dit is inderdaad vir ons 'n historiese moment," vertel Gustav Claassen.
VrydagNuus hoop om in 'n volgende uitgawe weer hieroor te berig.
Olav Fykse Tveit en Desmond Tutu
2.1 Olav Tveit ontmoet Desmond Tutu
Op 7 Junie het dr Olav Fykse Tveit, die algemene sekretaris van die World Council of Churches (WCC)/Wêreldraad van Kerke (WRK), emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in Kaapstad ontmoet - onderweg na 'n vrede- en versoeningskonsultasie in Johannesburg.
Oor dié ontmoeting tweet hy: "He continues to inspire our work for unity, justice and peace."
Lees gerus die mediaverklaring van die WCC.
Vir pragtige foto's van dr Tveit se besoek aan Kaapstad en Robbeneiland, klik hier.
Inligting oor die World Council of Churches is op hulle webwerf - kry dit hier.
WCRC-logo
3. Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke
Jaarverslag

Diegene wat 'n passie het vir die ekumeniese verhoudinge wat ons as NG Kerk-familie koester, sal die 2015-jaarverslag van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (World Communion of Reformed Churches) interessant vind.
Die WCRC verteenwoordig meer as 225 lidkerke en 
is aktief in die ondersteuning van die teologie, geregtigheid, kerkeenheid en missionaliteit in meer as 105 lande. 
Die NG Kerk se vertrekpunt vir ekumeniese verhoudings is:
• Die kerk van Christus is wêreldwyd één
• Die kerk van Christus is oor die grense van plek en tyd één
• Eenheid is ’n gawe aan en ’n roeping vir die kerk.
Kobus Gerber, lid van die bestuur van die WCRC
3.1 WCRC-bestuur
Die president van die WCRC is dr Jerry Pillay (verbonde aan die UP Fakulteit Teologie, en van die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, Suid-Afrika).
Een van die ander uitvoerende komiteelede vir 2010-2017 is dr Kobus Gerber, voorheen die algemene sekretaris van die NG Kerk Algemene Sinode. (Hy verskyn op die meegaande foto, derde van links.)  

Prof Fanie Snyman
4. Gevra: 'n Veelkantige Kerk
In die "Op die kerkstoep" rubriek in e-Kerkbode skryf prof Fanie Snyman oor die behoefte aan 'n veelkantige kerk in die veelkantige tyd en wêreld waarin ons leef.
As deel van die kante wat die veelkantige kerk moet vertoon, herinner hy aan die kerk se gerigtheid op God en die noodsaak daarvoor dat die Bybel die vertrekpunt en eindpunt van nadenke moet wees en bly.
Oorweeg gerus om die artikel te lees vir meer inligting oor die kante wat die kerk moet vertoon om met geloofwaardigheid God met woord en daad ter sprake te bring. Kry die artikel hier op e-Kerkbode se webwerf.
(Fanie Snyman is dekaan van die Universiteit Vrystaat se Fakulteit Teologie en is assessor van die Vrystaat Sinode van die NG Kerk.)
Sing tot eer van die Here
5. Sing ons nog Saam?
Diegene gemoeid met die sangbediening in gemeentes mag hierdie artikel (met erkenning aan die Churchleaders-webwerf) insiggewend vind. 
Hoe gaan dit met die samesang in jou gemeente? Of is dit net die voorsangers wat sing? Hoeveel nuwe liedjies "leer" julle elke week? En wat is die gesonde balans tussen "vars" en "bekend"? Lees self verder en besluit hoeveel hiervan op jou eie gemeente van toepassing is. Dalk moet jy aanmeld en help sing!
Jan de Wet
6. Van Sang gepraat ...
Jan de Wet bring Woord met Musiek

Vroeër jare het Jan de Wet in Helderberg (Somerset-Wes) elke preek afgesluit met 'n lied wat hy self gekomponeer en "waarmee hy die spyker musikaal ingekap het." (Hy was in 1983 predikant in dié gemeente.)
Toe hy weens sy musiekbediening meermale elders deur sang bedien het, het hy uiteindelik sy predikantstatus laat vaar. Sy pa was skepties. "Maar toe hy besef dis 'n nuwe roeping om die Woord met musiek te bring, toe word hy my grootste aanhanger." Hierdie lekker storie, deur Neels Jackson, is deel van e-Kerkbode. Jy mis baie as jy nie inteken om hulle nuus gereeld te ontvang nie! 
Lizelle de Bruin
7. Sondagjoernaal: Aktuele godsdiensperspektiewe
Sondagoggende kan belangstellendes voor kerk vanaf 07:15 vir sowat 45 minute inskakel op RSG se Sondagjoernaal, die godsdiens joernaalprogram waarin Johan van Lill en Lizelle de Bruin (foto) allerlei aktuele sake rondom ons geloof en godsdiens hanteer.
Hierdie Sondag (12 Junie) gesels Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) bv oor leierskap in 'n tyd van radikalisering. In die gees van Jeugdag gesels 'n skoolhoof, Jeanette Moos, sowel as drie jongmense van die NG Gemeente Kenridge oor hulle geloofspad.
Op Sondagjoernaal se Facebook is meer inligting.
Prof Nico Koopman
Reggie Nel
8. Woorde van Transformasie en Insluiting
"Ons moet mekaar help om op die transformasiepad woorde te vind wat ons diversiteit koester, en wat nie diskrimineer nie."
- Nico Koopman (Lees hier)
"Ons kan nog as Afrikaanse gemeenskap saam met mekaar oor die ou grense heen nuwe ruimtes oopmaak vir verantwoordelikheid, sorg en geregtigheid. Ons kan ook saam met ’n wye verskeidenheid van groepe en mense (in verskillende tale) die taal van God se hart leef – in eenheid, versoening en geregtigheid."
- Reggie Nel (Lees hier)
Kom ons bid opnuut vir ons land en ons kerk se leiers. Vir die regte woord op die regte tyd - juis in 'n tyd waarin soveel gesprekke oor versoening en die kerk se rol in SA plaasvind.
Sosiale media
9. Sosiale Media en Geloofsgemeenskappe
Mense leef hul lewens toenemend voor die een of ander skerm. Daarom kan geloofsgemeenskappe die rol van sosiale media nie ignoreer of onderskat nie. Tog hou die gebruik van sosiale media voor- én nadele vir geloofsgemeenskappe in.
"To be relevant, churches have to constantly think about the people they want to reach and then, as (the theologian) John Wesley said, go to people where they are," said Douglas Cannon, a public relations professor who worked in communications for the United Methodist Church for 25 years. Social media sites could weaken young people's ties to their family's faith. But they also enable religious communities to reach out to teenagers and young adults in meaningful new ways, Cannon said." Die volledige artikel is hier beskikbaar.
Vakansie
10. Junie-skoolvakansie 
Neem asb kennis daarvan dat die laaste VrydagNuus van hierdie kwartaal die uitgawe van 24 Junie is.
Na afloop van die skoolvakansie is die volgende uitgawe dié van 22 Julie. Dit mag belangrik wees om die datum vir die bekendmaking van vakatures en ander amptelike nuus in ag te neem.
Volgende week vier ons op Do 16 Junie Jeugdag en 17 Junie is 'n skool-vakansiedag. VrydagNuus verskyn egter soos gewoonlik Donderdag. 

GEMEENTENUUS
NG Stellenberg reik uit met Serpe en Musse teen koue
Die vlytige breigroep van Stellenberg-gemeente is eiehandig vir die skep van 480 musse, 320 serpe, 17 truie en 52 pare kindersokkies verantwoordelik.  
Die ywerige breiers ontmoet een keer per maand op ‘n Maandagoggend by die gemeente kafeteria en dan klap die breipenne behoorlik.  Hulle het die afgelope jaar se handewerk op Maandag 6 Junie aan ds Why Duvenhage oorhandig.  Why is in beheer van Stellenberg-gemeente se uitreike wat jaarliks tydens die Junie/Julie skoolvakansie na Calitzdorp, Prins Albert, Zoar, Transkei en Leeu-Gamka aangepak word. Die kleurvolle serpe, truie, sokkies en musse word tydens die uitreike aan minderbevoorregte kinders en bejaardes uitgedeel en sorg vir groot blydskap en opgewondenheid op dié koue Karoo-dorpe.

Meer oor die beplande uitreike is op Stellenberg se webwerf.
Stellenberg se breigroep
Die flukse breiers saam met ds Why Duvenage
Serpe van Stellenberg Musse van Stellenberg
Twitter Facebook YouTube
PREDIKANTENUUS
Visrivier Canyon: Kom, almal wat Dors het ...
"Die een oomblik wonder jy hoekom jy dit aan jouself doen om vir vyf dae 'die beskawing' te verlaat en met ’n swaar rugsak oor klippe en deur diep los sand te loop en elke aand op die harde grond te slaap. Die volgende oomblik hang my mond oop van verwondering by die besef dat ons ’n paar honderd meter onder die grond-oppervlak loop en dat die berge rondom ons in werklikheid onder die grond is."
So skryf Hennie Fouché (NG Gemeente Hottentots-Holland in Somerset-Wes) oor sy onlangse belewenis van die Visrivier Canyon-staptog. Hennie, sy dogter Helené (NG Gemeente Kuilsrivier), vriende en familie het van 25-29 Mei gaan stap.
Lees hier - en beplan jou eie staptog, naby of ver! Wat van Communitas se Overberg Pelgrimstog van Hoop?
Hennie en Helene Fouche
Hennie en Helené Fouché
Visrivier-groep
Die stappers bymekaar
Visrivier stappers
Baie tyd vir dink saam met die stap
Waterbewaring
EKOLOGIE
Water is Lewe
Ons kan nie sonder water oorleef nie. Die Wes-Kaap se damvlakke is ontstellend laag (volgens bronne die laagste die afgelope vyf jaar). En tog is die vraag of ons genoeg aandag aan die bewaring van hierdie kosbare hulpbron gee. Deel van die antwoord kan in ons lewenstyl, opvoeding en aktivisme wees. Lees hier.
UP Fakulteit Teologie
NUUSBRIEWE
1. TEO Nuusbrief
TEO is die nuusbrief van die UP Fakulteit Teologie se webdiens. Hulle doel is om deur middel van kort wetenskaplike artikels die groot en wye wêreld van die teologie nader aan die predikante te bring.
In die jongste uitgawe is daar artikels oor 'n landkongres, die Grieke en die Christendom, mites en waarheid, Kobus Krüger, die mens en tegniek en die God van Abraham.
 Klik hier.
Tobie de Wet
2. Missie Japan Nuusflits
Tobie de Wet skryf: "Ons is nou in die pylvak van ons Japan besoek. Eerskomende naweek preek ek by RCJ Tokushima gemeente. Intussen woon Stephan volgende week 'n drie-dag RCJ Retreat by vir ampsdraers (suid van Tokyo). Ons laaste naweek in Japan is Stephan weer in Kumamoto vir ondersteuningswerk, terwyl ons gelukkig hier is om saam met Carina die fort te hou. Dankie nogmaals vir belangstelling, meelewing en gebeds-ondersteuning. Ek wil graag met hierdie nuusbrief iets deel van die RCJ Teologiese Kweekskool en ons indrukke."
"Hierdie is inderdaad 'n ware Gereformeerde Kweekskool waar Calvinistiese Gerformeerde Teologie onderrig word. Ons Gereformeerde belydenisse en Gereformeerde geloofstradisies speel 'n deurslaggewende rol. Dosente en predikers sal herhaaldelik veral verwys na Calvyn en sy Institusie en die stellings daarin vervat beklemtoon." Lees die res van die inspirerende nuus van Missie Japan hier verder.
Van der Watt-gesin voor Kweekskool studente se verblyfhuis
PUBLIKASIES
1. LiG van Julie is hier!
Lees in die Julie-uitgawe:
- Hanna (foto) se omgee vir swaarkrymense
- Bejaard en bekommerd? Planne vir 'n huppel in jou stap
- Kanker: "My beker vol genade"

- Eksklusiewe foto's - Sorina wys prinsessie
- Ma vertel "Ek verloor baba op 39 weke"
- Tweede huwelik, tweede kans
- Maak 'n speelding van sokkies
- "Die Psalms gee woorde aan ons gebede" - Barend Vos

Dit alles - en baie meer!
Met die winter(vakansie) voor die deur, is dit nou die ideale tyd om in te teken, sodat jy nie een uitgawe van LiG misloop nie! Klik hier.
EN: Kry inligting oor nog 'n spesiale bonus aanbod van LiG!

Die avonture van Maria en Braam
2. CLF: Avonture van Maria & Braam
'n Storie vir AL God se kinders

CLF bied hulle jongste publikasie met groot trots aan - die eerste keer dat 'n CLF-publikasie gelyktydig in vyf van SA se amptelike landstale uitgegee word. Hierdie verhaal, uit die pen van Tinus van Zyl (NG Durbanville) help ons om te verstaan dat al verskil ons van mekaar, ons almal deel is van God se storie. Dit dra ook die stempel van die Seisoen van Menswaardigheid, omdat dit kinders leer om met verdraagsaamheid en liefde na die ander om hulle te kyk.
Dit is 'n pragtige geskenk: teen R90 (posgeld uitgesluit) en beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa, Sotho en Zulu, kan die boek 'n groot rol speel om ons land te help verenig. Bestel by hedwig@clf.co.za of skakel 021 864 3707.
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor basaars en vieringe! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
NG Outeniqualand Winterbasaar NG Caledon-Wes Wintermark
NG Saldanha 50 Jaar
VAKATURES
1. NG Saldanha: Jeugwerker
Die NG Gemeente Saldanha het die voorreg om ’n jeugwerker te beroep om die hand van die gemeente (en gemeenskap) te vat in die geestelike bediening van die jeug van die gemeente en omgewing binne hulle unieke leefwêreld. Die gemeente bestaan uit ongeveer 1 200 belydende en 250 dooplidmate.
Lees onderaan meer oor dié kontrakpos en reageer voor 15 Julie 2016.
Bybelgenootskap van SA-logo
2. Bybelgenootskap van SA: Joernalis/Vertaler
Daar is tans 'n vakature vir 'n joernalis/vertaler by die Bybelgenootskap van SA se hoofkantoor in Bellville. Aansoeke sluit op 24 Junie 2016.
Vir meer besonderhede oor hierdie geleentheid, klik hier.
Meer inligting oor die Bybelgenootskap van SA is hier.
Badisa-logo
3. Badisa: Koue Bokkeveld
Maatskaplike Werker

Badisa Koue Bokkeveld (Op die Berg) is ’n program van Badisa, ’n gesamentlike aksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke word voor 20 Junie vir hierdie voltydse betrekking as maatskaplike werker ingewag. Lees meer.
Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Anriette de Ridder
TEN LAASTE
Uit die Pen van ...
Anriëtte de Ridder


Jeugdag op 16 Junie hierdie jaar merk die 40 jaar herdenking van die Soweto-opstande van 1976. Hoe kan ons as kerk, anders as in die verlede, bydra om 'n ruimte skep waar daar na die jeug van ons land geluister word? 
Die kerk kan nie net neutraal of passief bly nie, maar moet aktief deelneem in die gesprek oor diversiteit, versoening en verhoudings. Nie om vinnige antwoorde te gee nie, maar om die regte vrae te vra. 

Wees prakties. Begin klein. Neem 'n tiener vir 'n melkskommel en gesels oor die land en die toekoms. Braai saam met 'n groepie studente en vra hulle uit oor #feesmustfall en #openstellenbosch. Luister aandagtig. Reël 'n naweek waar jongmense van jou gemeente met jongmense vanuit 'n ander gemeenskap saam kamp. 

En mag jy hierdie week saam bid vir die jeug van ons land en jou gebede geleef word.

* * *
Anriëtte de Ridder was voorheen Jeugleraar in die NG Gemeente Stellenberg in Durbanville. Sy is sedert April vanjaar die PSD: Jeug- en Familiebegeleiding (en maak daarmee sommer ook geskiedenis as die eerste vroulike PSD in die NG Kerk-familie!). Kontak Anriëtte by anriette@sun.ac.za.
'n Goeie naweek - en sagte woorde - toegewens.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za