Subscribe to our email list
 11 Maart 2016

Beste Leser
Kruisiging

Hy hang, van God en mens verlaat
Hy seën waar ander spot en haat.
Hy bly verdra, vergeef, versoen - 
in só 'n redder sal ek roem.
(Lied 396, Liedboek van die Kerk)

Sinode van Wes-Kaapland
SINODENUUS
1. Sinode van Wes-Kaapland:
Noemnaam kort(er) &  kragtig!

Die moderamen het Woensdag op aanbeveling van die Taakspan Regte besluit dat die noemnaam van die NG Kerk in SA vir praktiese redes weer die "Sinode van Wes-Kaapland" (sonder die "en-Suid") sal wees. Dit is minder omslagtig en die kans vir verkeerde spelling minder.
Ons vertrou dat hierdie naam (soos ook in die mashoof van VrydagNuus aangedui) spoedig oral inslag sal vind.
Die amptelike naam van ons sinode, die "NG Kerk in Suid-Afrika", verander nie en die gebruik daarvan word ook nie deur hierdie besluit beïnvloed nie. 
SA we pray 4 logo
2. Sinode van Wes-Kaapland Moderamen
2.1 The SA we Pray 4 ...

Tydens hierdie week se vergadering van die  moderamen het Biskop Malusi Mpumlwana van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) besondere perspektiewe oor die rol van die kerk (en gelowiges) in Suid-Afrika gedeel.
Die SARK se inspirerende aksieplan, "The South Africa we pray 4", is hier beskikbaar. (Let op: dis 'n dokument van 1.4 MB)

2.2 Ringsleiersforum vir Ondersteuning
Die ringsleiers het ook vandeesweek by Stellenberg vergader. Hulle het besin oor hoe ringsvisitasie benut kan word om gemeentes regtig te ondersteun in die uitlewing van hul Godgegewe roeping. Hulle het ook gekyk watter onverwagse moontlikhede om die evangelie op nuwe maniere uit te dra, dalk binne gemeentelike uitdagings  skuil. 
Ringsleiersforum
Agter vlnr: NJ van As, Marius Joubert, Johan van Rooyen, Christo Benadé, John le Roux, George Rauch, Christoff Koch, Tallie van den Heever, Theunis Botha, Gielie Loubser
Middel: Nioma Venter (skriba), Danie Nel, Richard Holloway, Johan Smit,
Charl van Rensburg, Wouter van Velden
Voor vlnr: Heerden van Niekerk, Pieter van Santen, Tinus van Zyl (voorsitter), Christo Botha,
Erik Botha, Anton Louw, Smuts Janse van Rensburg
2.3 Kerkraadslede se Rol Duideliker
In aanloop tot hierdie week se moderamenvergadering het die kerkraadslede ook Maandag vir die eerste maal as groep vergader. Die kerkraadslede verteenwoordig allerlei lewenservarings, kontekste, beroepe en geestelike reise.
Die doel van die byeenkoms was om hierdie ryk bronne te ontgin. Hulle het besin oor die uitleef van hulle amp as gelowiges binne die leierskap van die kerk, veral ook in die lig van die kerk se missionale gerigtheid.  Dankie vir die inisiatief, Elize, Frik en Melanie! Wat 'n talentvolle groep mense waarmee ons kerk geseën is!
Kerkraadslede by moderamenvergadering
Agter vlnr: Gerhard Burger, Jan Marais, Frik Bosman, Roodt Griesel, Pieter Cilliers, Christo Cloete, Wikus Jansen van Rensburg, Berté le Roux
Middel vlnr: Marie-Louise du Preez, Carel van der Merwe, Des Sampson,  Jan Stadler,
Nico Burger, Piet Koornhof, Len Schreuder
Voor vlnr: Flip de Wet, Elize Morkel, Riana Furniss, Melanie Thirion, Noeline Rossouw, Willie Fry
3. Deon Bruwer: PSD Pastorale Sorg
Waarheen gaan jy as jy in ‘n doodloopstraat beland en nie meer weet watter kant toe nie? Dr Deon Bruwer, PSD met opdrag Pastorale Sorg, kan jou help. Hy bied professionele hulp aan predikante en hul gesinne, en dan is hulle is ook tans besig om 'n webwerf, www.myhulp.co.za, te ontwikkel wat 'n netwerk van skakeling tussen gemeentes, psigiaters en sielkundiges sal bied. Deon vertel hieronder meer. 
Deon Bruwer
4. Wes-Kaapland: PSD Teologiese Navorsing
Johan van der Merwe (Stellenbosch Moedergemeente) het die beroep as PSD: Teologiese Navorsing vir die Diensgroep Toerusting bedank. Daar moet gevolglik weer 'n nuwe beroep uitgebring word en hierdie proses sal nou weer begin. Kom ons dink aan almal hierby betrokke.
Badisa Social Work Month
5. Badisa vier Wêreld Maatskaplikewerkdag
Badisa stel 'n hoë premie op die uitleef van die organisasie se waardes. Hulle maatskaplike werkers is ook deel van ‘n professie wat deur waardes en etiese gedrag gerig word. 
Op 10 Maart hou Badisa 'n spesiale funksie in Somerset-Wes (Helderberg Gemeente) vir hulles maatskaplikewerk-personeel ter viering van Wêreld Maatskaplikewerkdag. Hier sal die aflê van 'n etiese kode aandag geniet. Badisa bied ook op 21 April, 29 Julie en 28 Oktober 
werkswinkels oor die etiese kode van maatskaplike werkers vir hulle personeel aan.
Hulle versoek gemeentes om uit te reik na die maatskaplikewerk-personeel van die Badisa-programme (en andere!) met 'n spesiale gebaar om hulle te bemoedig en te bedank vir hul onbaatsugtige diens namens die kerke. Lees hier verder.
6. Getuienisaksie: AnnaMarie de Klerk 45 Jaar in Malawi!
Op Sondag 6 Maart is 'n groot dankdiens vir AnnaMarie de Klerk se 45 jaar in diens aan ons susterskerk in Malawi, die CCAP, gehou.  Sy woon op Malingunde, 30 km wes van Lilongwe.
Die diens is gehou by Bwaila Gemeente, waar honderde lidmate en vriende hul dank aan die Here vir haar lewe en diens betoon het. Die moderator, dr Chatha Msangaambe, het gepreek en mev Khombe het namens die vroue van Malawi oor AnnaMarie se bydrae getuig. Johan en Marelise Coetzee van Lutzville was ook daar en het vele groetes uit Suid-Afrika saamgebring. AnnaMarie het veral groot insette ten opsigte van vrouebemagtiging en vroeë kindontwikkeling gelewer.
AnnaMarie de Klerk 45 Jaar
AnnaMarie sny aan die pragtige koek, spesiaal vir die geleentheid gebak.
Arbeidsbediening-logo
7. Arbeidsbediening
Swellendam opnuut geïnspireer

Die Gebeds- en Getuienisweek wat onlangs op Swellendam plaasgevind het, het onder andere die Plaaslike Aksie van Arbeidsbediening opnuut laat vlamvat. Nadat die 70 besoekpunte, as gevolg van verskeie faktore, na slegs vier afgeneem het, het 'n hele paar vrywilligers nou na vore gekom om hierdie belangrike bediening weer op te neem. Lees meer.
8. #imagine: #Vaardighede!
#Imagine gebruik tydens hierdie jaar se fees (1-3 April 2016) die simbool van die hashtag# om drie belangrike vaardighede vir die tieners te leer. Die hele naweek se tema en Bybelverhaal gaan by hierdie drie dinge aansluit. 
Nog opwindende nuus is dat daar reeds 12 tiener Bybelstudies en 12 preekriglyne (of groepbyeenkomste) geskryf is wat die tema verder uitbou. Hierdie hulpmiddels word tydens die fees uitgedeel en sal daarna ook aanlyn beskikbaar wees. Dit is materiaal wat gemeentes/skole/kerke/jeuggroepe in staat stel om vir 12 weke lank na #imagine opvolgwerk te doen en die inhoud verder uit te bou. Skryf hier in.
Imagine hashtag vaardighede Imagine KYK
Imagine Brugbou Imagine Vertel
Water Lewe Konferensie-logo
9. Vrystaat: Bedieningsbegeleiding
Konferensie oor Water

Die Eenheid vir Bedieningsbegeleiding van die Vrystaat Sinode bied van 11-13 April by die Gariepdam 'n konferensie oor water en lewe aan. Klik gerus hier vir die program en kry inligting oor verblyf hier
ALGEMEEN
1. Met medelye: Fanie Smit van "Loof die Here"
Van die kantoor van die Algemene Sinode ontvang ons 'n huldeblyk aan die bekende Fanie Smit, aanbieder van RSG se gewilde Sondagoggend program, "Loof die Here" vir die afgelope 44 jaar.
"Vir baie lidmate van die NG Kerk was die rustige stem van Fanie Smit en sy musiek deel van hul Sondagervaring. Die program Loof die Here is deur baie ervaar as ’n gepaste spirituele voorbereiding vir die erediens op 'n Sondag. In hierdie opsig het Fanie Smit ’n besondere bediening gehad deur sy groot liefde en passie met duisende luisteraars te deel." Lees hier verder. ('n Begrafnisdiens vir Fanie is oa op Maandag 7 Maart in Durbanville-gemeente deur Tinus van Zyl gelei.)

Jan Botha
2. Pastorale Opleiding en Berading vir Predikant
Jan Botha stuur inligting oor 'n kursus in pastorale opleiding, berading en gemeenskapsdiens wat die Alfa Sentrum vanjaar aanbied. Predikante kan 100 VBO-punte met die kursus verdien.
Die Alfa Sentrum is deel van "Zama Zama Hope 4 U", die sentrum van hoop wat NG gemeentes en ringe in die Weste van Pretoria, met die steun van die Noordelike Sinode en in samewerking met ’n netwerk van vennote, bedryf. Werkswinkels word ook in Stellenbosch aangebied. Lees aangeheg meer hieroor.
Instituut vir Rasseverhoudinge-logo
3. Rasseverhoudinge en Respek
Gewelddadige retoriek en aksies wat op ernstige rassespanning dui, trek baie aandag in die media. Die onderliggende waarheid is egter dat die verskillende rasse in Suid-Afrika baie goed met mekaar oor die weg kom. Dit blyk uit bevindinge van die Instituut vir Rasseverhoudinge.
Die volgende trek veral die aandag: "Race relations are not perfect, but seen in their totality, the results of this study are emphatic that the quiet majority of South Africans respect one another and want to work together to build a better country. They also agree, largely, that "full opportunities" are needed for everyone, backed by good education and much more employment in a rapidly growing economy."
Lees ook 'n artikel deur Frans Cronjé, uitvoerende beampte van die Instituut vir Rasseverhoudinge, oor wat Suid-Afrikaners regtig dink. (Met dank oorgeneem uit Grens.Pos, Oos-Kaapland se elektroniese nuusbrief)
4. Raakgehoor: Ervaar mense Christus deur ons Kerkwees?
Tweet
5. Wie of wat is God?
"Who or what is God, to you?" Dit is die vraag wat mense in "Street Spirituality: Who Is God," 'n nuwe video deur National Geographic, moes beantwoord. Mense van 22 lande oor die wêreld heen het beskryf wie en wat God vir hulle is. Die antwoorde wissel.
Dis stof tot nadenke in die wêreld waarin ons volgelinge van Hom moet wees. En iets van Jesus Christus se liefde moet vergestalt. Wie is God vir JOU?
Kennisgewing
6. VrydagNuus: Vir Beplanning
'n Vriendelike herinnering: volgende week is die laaste uitgawe van VrydagNuus vir die eerste kwartaal van 2016. Die skole sluit op Vrydag 18 Maart en open vir die tweede kwartaal op Dinsdag 5 April 2016. Onthou asb dat enige nuus en inligting voor 12:00 op die Woensdag van die week van plasing gestuur moet word na kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Twitter Facebook
GEMEENTENUUS
1. VGKSA Bellville
Allan Boesak Legacy Centre for Leadership

Die VGK Bellville loods die Allan Boesak Legacy Centre For Leadership, waardeur die gemeente hulle voortgaande openbare getuienis sal lewer.
By hierdie geleentheid sal die eerste Allan Boesak Openbare Lesing gelewer word deur die Anglikaanse emeritus-aartsbiskop Winston Ndungane. Dit vind op Donderdag 17 Maart 2016 om 19:00 in die gemeente plaas. 

Klik hier of op die uitnodiging langsaan en reageer na vgkbellville.kantoor@axxess.co.za of 021 951 2005.
NG Table View Prayer Walk
2. NG Gemeente Tableview: Prayer Walk
Van Tableview ontvang ons inligting oor 'n gebedsloop op Menseregtedag, 21 Maart, om 08:30. Dit begin vanaf die ou toeristesentrum op Blaauwbergstrand en is minder as 5km se gemaklike stap. Almal welkom! Kontak Tableview met navrae by 021 557 2391.
PREDIKANTENUUS
Stellenberg groet Anriëtte de Ridder
Op Dinsdag 8 Maart het die predikantespan van die NG Gemeente Stellenberg (Durbanville) van hul kollega, Anriëtte de Ridder, afskeid geneem.
Anriëtte se afskeidspreek is op Sondag 13 Maart om 18:45. Sy begin op 1 April as PSD: Jeug- en Familiebegeleiding by Communitas op Stellenbosch.
Op die foto is Why Duvenage, Marius Breytenbach, Anriëtte, Callie Visagie en Bremer Gericke gesellig saam. 
Stellenberg-predikante
Aarde-uur 2016 logo
EKOLOGIE
Aarde-uur: LIG vir Donker Aarde
Aarde-uur, 'n internasionale aksie deur die Wêreld Natuurlewefonds (WWF), mobiliseer mense oor die hele aardbol om vir 'n uur lank hulle ligte en elektriese apparaat af te skakel.
Vanjaar is dit op Saterdag 19 Maart. Die Ekologie-diensgroep van die Oostelike Sinode gee wenke hiervoor. SAFCEI het ook inligting waarna gemeentes kan kyk om Earth Hour te vier.
Lees hier meer.
TEO-logo
NUUSBRIEWE
1. TEO Nuusbrief
In die lig van pase is daar artikels deur Gerda de Villiers en Jurie le Roux oor lyding, asook twee artikels van Cas Wepener: een oor liturgie en iets wat by 'n skool gebeur het, asook 'n argiefstuk wat by UP ontdek is. Christo Lombaard skryf oor 'n interessante buitelandse kongres wat oor die goddelike in wêreldletterkunde gehandel het. Lees hier op hulle webwerf meer.
2. Bybel-Media Nuusbrief
Dié week is die fokus op twee besondere Bybelkor-publikasies, die jongste Kerkbode en die April-uitgawe van LiG. Lees hier verder.
Loop Saam (klik hier) begelei kruisgroepe op ’n reis van saamloop met mekaar én oor grense heen loop. Want wanneer ons oor grense na mekaar uitreik en vir mekaar omgee, leer ons om mekaar met respek en liefde te hanteer. En dán sal die menswaardigheid van ons land se mense herstel word. Onder is selfs meer van BM se produkte.
2.1 LiG van April 2016
In die April-uitgawe van LiG ...

- dink ons na oor waarom Jesus se opstanding vir ons belangrik is

- gee ons Bybelse idees vir ʼn vreugdevolle Paasfees 

LiG gesels ook met 'n ma van ʼn vierling, Marié Janse van Rensburg oor hulle lewe met vyf kinders.

Lees ook hoe julle lank én gelukkig getroud kan wees. 

En hoe jy vir jou hartsmense 'n rusplek kan wees.
LiG is die amptelike mediavennoot van die NG Kerk en as sulks ondersteun ons hulle graag. Klik hier om in te teken vir hierdie topklas glanstydskrif.
2.2 Kerkbode van 4 Maart 2016
Versoening is 'n tema van 'n paar bydraes in die Kerkbode van 4 Maart, van die verhaal van die gesamentlike nagmaal van gelowiges van Pinelands en Athlone, deur die Koininia-maaltydgroepies in Worcester tot by studente van alles rasse wat saam bid by Tukkies. 
Daar is ook verskillende verhale van hoe gelowiges mekaar bystaan in die droogte. 
In die gay-debat val die kollig op die Sodomverhaal en die Levitikus-tekste – en daar is twee bladsye met lesersbriewe wat op vorige bydraes reageer. 
Daar is verhale van gelowiges wat help om stukkende kinders heel te maak op die Kaapse vlakte en in Nelspruit. Dit en heelwat meer in die nuwe Kerkbode! Jy kan hier inteken om Kerkbode gereeld te ontvang.
Hefsiba-ingang
3. Hefsiba-nuus uit Mosambiek
Uit die noordooste van Mosambiek stuur Ivan Stevens nuus oor hulle ervaringe te midde van 'n droogte wat daar ook nog nie wyk nie. Lees onder meer oor hoogtepunte van 2015, akademiese verwikkelinge en Dirk en Marie Smit se afskeid.
Op 8 Februarie 2016 om 16:00 is 'n heugelike oomblik gevier toe drie afsonderlike openingseremonies in Vila Ulongue, Milange en Mocuba gelyktydig begin het. Abertura Solene de Ano Lectivo (die amptelike  opening  van die akademiese jaar) is 'n belangrike en statige geleentheid. Klik hier om die nuusbrief te lees en kontak Ivan by ivandstevens@gmail.com.
KUIERKANS
Klik op die advertensies hieronder om 'n groter weergawe te sien. Hierdie naweek is daar net mooi oral 'n lekker tradisionele basaar of mark. Gaan loer gerus in.
NG De Tyger
1. NG Gemeente De Tyger: Basaar
Die NG Gemeente De Tyger, Hannes Louwrylaan, Parow-Noord, hou op Sa 12 Maart vanaf 10:00 basaar. Heerlike etes, gebak en allerlei te koop.
"Kom kuier gerus by ons," nooi hulle.
Navrae: Santa by 021 939 9482. 
NG Merweville Basaar
Merweville
NG Porterville Basaar
Porterville
Tienie Benade
4. Tienie Benade kuier in Riebeek Vallei
Onthou asseblief van hierdie inisiatief: André Duvenage laat weet dat die twee gemeentes in Riebeek Vallei op Sondag 13 Maart om 09:30 die gewilde stuk, "Die Klaagliedere van ds Tienie Benade", by NG Riebeek-Wes aanbied. Toegang is gratis sodat almal die geleentheid kan bywoon – daar word slegs 'n donasie by die deur gevra. Gaan kyk gerus!
Welgemoed-logo
VAKATURES
1. NG Welgemoed: Leraar Vastetermynkontrak
Welgemoed is 'n gevestigde geloofsgemeenskap in Bellville, deel van die Ring van Bellville en met 'n lidmaattal van 1677. Daar is tans drie leraars en een jeugwerker in die gemeente. Hier word 'n vastetermynkontrak vir 36 maande vir 'n leraar aangebied. Klik onder en reageer voor 1 April 2016 om 12:00.
NG Mootvallei logo
2. NG Mootvallei: Jeugleraar
Mootvallei is 'n jong, gestuurde, dinamiese en omgee gemeente in die Noordelike Sinode. Die gemeente is geleë in die Moot-gebied in Pretoria. Hier is tans 'n vakature vir 'n jeugleraar. Belangstellendes moet voor 5 April reageer - lees aangeheg meer.
Groote Kerk-logo
3. Groote Kerk: Jeugwerker
Die Ned Geref Gemeente Kaapstad bied ’n geleentheid aan ’n energieke persoon wat ’n sterk roeping ervaar ten opsigte van kinder- en jeugbediening om in die hartjie van Kaapstad en Kampsbaai te kom woon en werk. Reageer voor 31 Maart - meer inligting is hier beskikbaar.
Badisa-logo
4. Badisa Herberg Kinderhuis 
Kinderversorger (Huismoeder)

Herberg Kinderhuis, 'n program van Badisa in Robertson, wag aansoeke in vir 'n vakature as kinderversorger. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Maart 2016 en meer inligting is aangeheg.
Tinus van Zyl Sr
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Tinus van Zyl (Sr)

Wat laat mense verander?

Ons het dikwels persepsies oor mense wat anders as ons is. Hierdie persepsies word baie moeilik deurbreek. Dit laat die vraag onstaan wat ons kan doen om mense anders te laat dink en anders te laat optree.

Bo-aan my lys is blootstelling. 

Tydens my bediening op Komga, in die NG Kerk in Afrika, het ons 'n nuwe kerk gebou. Dit was in die sestiger jare en ek het van die NG Kerk lidmate genooi om die inwyding by te woon. Voor ons in die kerk ingaan, het Evangelis Witbooi by die hoeksteen 'n gebed gedoen. Na die tyd was een van die blanke boere, wat goed Xhosa praat, se kommentaar: “Toe die evangelis begin bid, besef ek meteens - dié man praat nou met die Here. En, met 'n skok besef ek: hy praat nou met my Here!”. Die klein bietjie blootstelling het gemaak dat hierdie man nooit weer dieselfde was nie. 

Deur mense aan verskillende situasies bloot te stel, kan ons hulle help om anders te dink en op te tree. Besoek 'n woonbuurt van 'n ander gemeenskap. Gaan kuier by jou huiswerker aan huis. Nooi 'n gay gelowige na die Bybelstudiegroep. So deurbreek ons persepsies en bou 'n nuwe samelewing.

* * * *

Tinus van Zyl het in 2002 geëmeriteer. Hy was predikant in Komga (Ciskei Sending), Oos-Londen, Port Elizabeth en Stellenbosch-Sentraal. Belangstellendes kan hom per e-pos kontak by tvanz@telkomsa.net
"Rest is a destination, a location, a gift, a practice, a condition, a state of being, an identity, an act of faith, a way of life, a relationship with Christ, and Jesus himself."
- John Koessler
VrydagNuus-groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za