Lees deur internet, klik hier >>
5 Junie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Miljoene geskenk vir hulpverlening
Diaconia, die eenheidsbediening van die NG Kerk Wes-Kaapland en die VGK Streeksinode Kaapland, het reeds skenkings van meer as R2,2-miljoen aan gemeenskappe gemaak sedert die begin van die COVID-19-pandemie.
Teen einde Mei is daar reeds donasies aan onder meer 161 VGK en NG-gemeentes regoor die provinsie gedoen om hoofsaaklik voedselsekuriteit in die mees kwesbare gemeenskappe te verbeter. Dit sluit die verspreiding van kospakkies, voorbereide maaltye sowel as koopbewyse in. Verdere bydraes is ook gemaak om maskers, sanitasiemiddels en ander beskermende kleredrag vir noodsaaklike diensverskaffers te voorsien. Gemeentes vanaf Vishoek in die suide van die Kaapse metropool tot Alexanderbaai in die noorde van die Weskus is reeds so ondersteun.
Volgens Nioma Venter, predikant in sinodale diens vir Diaconia, speel koördinering ‘n kernrol in hulle hulpverleningsaksies. “Individuele gemeentes is reeds vir langer as twee maande besig met omvattende uitreikaksies, maar dit is nie op die langtermyn finansieel volhoubaar nie. Daarom moedig ons gemeentes aan om deel te word van netwerke wat reeds in die spesifieke gemeenskap aktief is. Op hierdie manier word hulpbronne saamgevoeg, word die duplisering van hulpverlening uitgesny en maak ons seker dat soveel mense as moontlik bereik word.”
Sy doen egter ’n dringende beroep op lede van die publiek om eerstens hulle plaaslike gemeentes te nader vir hulp. “Diaconia kan nie op ’n individuele basis hulp verleen nie, so die proses is net meer toeganklik en vinniger as mense by hulle plaaslike gemeente aanklop vir hulp,” verduidelik Venter.
Huldeblyk aan André de la Porte
Die diensgroep Diaconia het met groot hartseer kennis geneem van die afsterwe van ’n prominente taakspanlid, ds. André de la Porte, op Saterdag 30 Mei 2020. Die voorsitter van die eenheidsbediening Diaconia, ds. Gerome Haupt skryf as volg:  “Tydens my betrokkenheid by Diaconia kan ek onthou dat André ‘n leidende rol gespeel het in die transformasie van hospitaalpastoraat voordat dr. Koos van der Vyfer en dr. Deon Bruwer sou aftree. André se strategiese denke en insette het ‘n enorme bydrae gemaak om te verseker dat die werk effektief sou voortgaan.” André was die direkteur van Hospivision in die Wes-Kaap met wie Diaconia ’n aktiewe werksverhouding gehad het. “Ek sal André altyd dankbaar bly vir die rol wat hy in die oorgang van hospitaalleraars na die vennootskap met Hospivision gespeel het. Hospitaalpastoraat is ‘n ontsaglike belangrike komponent van ons kerklike bediening,” sê ds. Haupt. Sean Esterhuizen en Nioma Venter van Diaconia voeg by: “Ons bid vir sy vrou Annette, hulle twee dogters en skoonseun. Hulle is ’n familie wat, net soos André, hulle lewens wy in diens van mense in pyn en nood. Mag die Trooster Gees nou self hulle trane sien en hulle koester in Sy liefde en ontferming.”
Moment van Verposing
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington bied ’n stil retraite vir voorste liniewerkers. Hulle skryf: ”Beste dokter, verpleegster, maatskaplike en geestelike sorgwerker. In die weke wat verby is, was jy in die frontlinie God se hande en oë en ore en mond en voete in buitengewone omstandighede. Kom sonder jou vir drie dae of meer af, weg van die druk en die nood en die baie stemme en laat dié God wie jy verteenwoordig, Sý hande op jou plaas; hoor Sý woorde vir jou; verlustig jou in Sý teenwoordigheid. Hy sál jou optel en jou nuwe krag gee soos Hy belowe." Skakel gerus met Derine Piek by info@andrewmurraysentrum.co.za of 0828227314.
How do churches respond to hunger?
The Faculty of Theology at Stellenbosch University is hosting a webinar on the topic “Churches responding to hunger during COVID-19” on Friday 12 June at 13:00. A panel of expert Christian development practitioners will engage around issues of the role of the church, its relationship to community and possibilities for networking. This webinar is part of a series offered by Ekklesia and the Unit for Religious and Development Research.  Attendance is free, but RSVP by Wednesday 10 June to Divine Robertson to receive a link to participate. 
Postdoktorale genootskapsbeurs: Gender Eenheid
Die Fakulteit van Teologie van die Universiteit Stellenbosch kondig ʼn postdoktorale genootskapsbeurs aan in enige van die volgende akademiese dissiplinegroepe: Teologie, Praktiese Teologie & Missiologie, Ou & Nuwe Testament, Sistematiese Teologie of Ekklesiologie. Die navorsing hou verband met die Gender Eenheid se fokus op navorsing wat verband hou met die interseksie van Gender, Seksualiteit en Teologie. Klik hier vir meer inligting.
Wat hou die toekoms in? 
Die Sentrum vir Publieke Getuienis was onlangs in gesprek met prof. André Roux van die Instituut vir Toekomsnavoring, met die onderwerp Wat hou dit toekoms in? Roux het gepoog om 'n blik op die toekoms te gee te midde van COVID-19, 'n staat van inperking, 'n wankelende ekonomie en hoop. "Ons is nie kristalbal voorspellers nie, maar werk met die ontwikkeling van scenario's en modelle."
Klik op die onderstaande skakel om die volledige video te kyk. 
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae - Junie
Ons wens die volgende gemeentes geluk met hulle herdenkings in Junie. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, laat weet asseblief die Kerkargief  by argief@kaapkerk.co.za.
Diaconia-omgee in Vanrhynsdorp
Hoe ervaar gemeentes die toekenning van Diaconia se Ramphulpfonds in hierdie uitdagende grendeltyd waar soveel mense skielik met baie minder moet kan klaarkom? En hoe bepaal gemeentes wie dit die nodigste in jou gemeenskap het; hoe moet jy te werk gaan om dit prakties uitvoerbaar te maak? Angelique Ghall, predikant van die VGK Vanrhynsdorp, skryf: "Dit was ‘n ongelooflike geskenk en ons is ontsettend dankbaar daarvoor. Dit kon ons gemeente help om iets positiefs in ons gemeenskap te doen." Lees verder hier.
Kruise teen Piketberg se kerkheining
Reinet Jonker van Piketberg-gemeente skryf: "Ons in Piketberg is bevoorreg om onder “normale” omstandighede op Sondae die Here te kan aanbid in ‘n prentjiemooi kerkgebou. 
Grendeltyd is uitdagend... Ons besef die virus is ‘n harde werklikheid en die behou van fisiese afstand is belangrik, maar die sosiale nabyheid is ‘n groot gemis. Ons mis ons kerkgebou en ons mense, die vriendelike groet voor die erediens, om saam te aanbid en die gesellige teedrink daarna, ons mis die gemeenskap van die gelowiges...
Gedurende Pinkstertyd het gemeentelede kruise gemaak en teen die kerkheining vasgemaak (foto onder) as teken dat ons instem tot die handhaaf van fisiese afstand gedurende die tyd van COVID-19, maar protes aanteken teen die bevordering van sosiale afstand. Die kruise is ‘n teken wat ons daaraan herinner dat ons nie alleen is nie. Al kan ons nie fisies saam in die kerkgebou vergader nie, is ons deel van ‘n gemeenskap van gelowiges."
Graaff-Reinet hou basaar aanlyn
Die grendeltyd het gemeentes inspireer om aan kreatiewe maniere van kerkwees te dink om sodoende aan te pas by die nuwe normaal. Aangesien ‘n samekoms met meer as 50 mense nog nie toegelaat word nie, het NG Graaff-Reinet besluit om hulle basaar hierdie jaar aanlyn te vier! Tipiese basaarkosse soos pannekoek, kerrie en rys en boereworsrolle is beskikbaar vir bestelling en kan afgelewer word of by die kerkkantoor afgehaal word.
Daar is ook talle kompetisies aanlyn beskikbaar gemaak vir hierdie geleentheid. Gemeentelede kan op Facebook deelneem en onder andere stem vir die oulikste baba, sportiefste troeteldier, snaakste familiefoto en beste grendelgebak. Besoek gerus hulle Facebook-blad hier vir meer inligting oor hulle aanlynbasaar. 
Toringkerk sien om na hulle gemeenskap
“Ons jeugsaal lyk nou bietjie anders,” sê gemeentelede by Toringkerk, Paarl. Die gemeente het te midde van die koronavirus-pandemie hulle jeugsaal omskep sodat die spasie benut kan word as ‘n area vir verpakking en as 'n verspreidingspunt vir hulle kospakkieprojek. Hulle Klein Toring Saal is elke Donderdag oop tussen 07:30 en 18:00 sodat mense noodsaaklike items kan afgee. Lees meer oor hoe hierdie gemeente hulle gemeenskap dien op hulle webblad.  
NID se deurry inisiatief vir die Dowes 
As 'n poging om behoeftige Dowes te ondersteun, het die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) verlede Saterdag ‘n geleentheid geskep vir die gemeenskap om te help. Hierdie deurry inisiatief het mense toegelaat om enige noodsaaklike items soos kos, klere en komberse by die NID se gronde af te gee. Hierdie projek is spesifiek ten bate van die bejaarde en meervoudige gestremde Dowes wat op die NID se perseel woonagtig is.
Die NID toon groot dankbaarheid vir die persone wat hulle projek ondersteun het. "Dankie dat julle 'n verskil maak in die lewens van Dowes en persone met gehoorverlies." 
Die afgee van donasies in die Worcester-omgewing kan nog gereël word. Indien jy 'n skenking wil maak, klik hier om 'n e-pos aan die NID te stuur. Hulle kan ook op Whatsapp gekontak word by 082 947 8846. 
De Eike doen "drop 'n go"
De Eike-gemeente in Kuilsrivier doen elke Dinsdagoggend van 10:00 tot 11:00 'n afleweringsdiens vir lidmate om nie-bederfbare produkte af te laai. Charles Wolfaardt (links) en Sias Koen (regs) laai skenkings by Piet Rootman (middel) af.
Die donasies word weekliks verpak om kospakkies aan behoeftige gesinne in die gemeente te voorsien.
PREDIKANTENUUS
Paul Roodt groet Groot-Brakrivier
Na 35 jaar het Paul Roodt verlede week die gemeente van Groot-Brakrivier gegroet, aangesien hy weens mediese redes moes aftree. Hy het sy laaste preek op Pinkstersondag gedoen deur die Nagmaal virtueel te bedien. Danie Goosen laat weet dat die Ring en gemeente op 'n later stadium amptelik van die Roodts sal afskeid neem.
Paul en sy vrou Hettie verhuis vandeesweek na Hartenbos. Ons wens julle 'n rustige aftrede.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Bestuurder: Ons Tuiste, Bellville
Aansoeke word ingewag vir die betrekking as bestuurder by Ons Tuiste ACVV Bellville. Ervaring van die bestuur van ’n residensiële fasiliteit vir ouer persone, sterk organisatoriese vaardighede en positiewe ingesteldheid teenoor ouer persone sal in die aansoeker se guns tel. Sien volledige posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 19 Junie.

Halfdag Maatskaplike Pos
MES Kaapstad is op soek na 'n maatskaplike werker om by hulle besige span aan te sluit.
Halfdag Bemarking- en fondsinsamelingspos
MES Kaapstad het ook 'n vakature vir 'n geskikte persoon om bemarking en fondsinsameling te behartig.
Klik hier vir meer inligting of kontak Glenda by 021 949 8736.
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Wêreldomgewingsdag - 5 Junie
Wêreldomgewingsdag, wat hierdie jaar deur Colombia aangebied word, is een van die bekendste dae vir omgewingsaksies. Hierdie dag word sedert 1974 elke jaar op 5 Junie gevier met die doel om regerings, besighede en individue se fokus te plaas op dringende omgewingskwessies. Tans word hierdie jaarlikse herdenking deur sowat 150 lande wêreldwyd ondersteun.
Die tema vir 2020 is biodiversiteit. Hierdie tema is geïnspireer deur onlangse gebeure soos die bosbrande in Australië, die sprinkaanplaag in Oos-Afrika en nou, 'n wêreldwye pandemie. Sulke gebeure toon die mate van afhanklikheid tussen mense en die omgewing. 
Die Verenigde Nasies hoop dat hierdie dag elke persoon op ons planeet sal inspireer om in harmonie met die aarde te leef. “Globale verandering vereis die hele wêreldgemeenskap.”  Daarom het die VN ‘n vasvra op hulle webblad beskikbaar gemaak om mense se bewustheid van biodiversiteit te verhoog. Hoe goed dink jy ken jy biodiversiteit? Stel jou kennis op die proef en doen die vasvra hier. Daag gerus jou familie en vriende ook uit en kyk wie kry die hoogste punte. 
Biddag vir Ekologie - 7 Junie
Dewald Hoffmann herinner ons daaraan dat hierdie Sondag die Biddag vir Ekologie is. Ons nooi alle gemeentes uit om Sondag saam te bid vir die omgewing en die aarde. In die onderstaande video gee hy vyf stappe as riglyne. 
Aan die voet van ‘n pekanneutboom
Ons gaan sit vandeesweek saam met ons eko-korrespondent David Botha aan die voet van die pekanneutboom in hul agterplaas en vra: “Wat is die geheim van 'n lewe wat die dans van die lewe bemeester het? Die dans wat die dood as 'n vriend verstaan en nie as 'n vyand nie?” Beide die teologie en die mediese wetenskap is natuurlik ewe afhanklik van die natuur as leermeester. En gelukkig hoef die teologie glad nie bang te wees vir die natuur as leermeester nie, want die Bybel maak self ruim gebruik van die natuur as leermeester en sien die natuur ook as plek waar God in en deur Christus in die Heilige Gees woon. Lees meer hier.
‘n Nuwe seeperdjie in SA ontdek
Die piepklein Sodwana-dwergseeperdjie, wat in 2017 aan die KwaZulu-Natalse kus ontdek is, is vandeesmaand amptelik in die wetenskaplike tydskrif ZooKeys opgeteken as ‘n nuwe spesie, met die naam Hippocampus nalu. Die seeperdjie is vernoem na Savannah Nalu Olivier, wat aanvanklik dié seeperdjie ontdek het tydens ‘n skubaduiksessie.
Na Olivier se ontdekking het dr. Richard Smith, ‘n marinebioloog uit Brittanje, in 2018 na Suid-Afrika gereis op soek na verdere tekens van dié nuwe spesie. Hy was verstom toe hy die seeperdjies langs ‘n klipagtige rif sodat 15 meter diep gevind het - hulle het vasgeklou aan die blare van alge om te keer dat die golwe hulle meesleur. “Om ‘n dwergseeperdjie in Suid-Afrika te kry, is soos om ‘n kangaroe in Noorweë te vind.” 
Hierdie nuwe spesie word ongeveer 2 cm groot en is heuningbruin van kleur met ‘n pienkerige stert. Noudat die dwergseeperdjie amptelik geïdentifiseer is, kan navorsers begin om meer uit te vind oor hulle habitat en hoeveel van hulle voorkom. Die Hippocampus nalu vorm nou deel van 45 ander spesies seeperdjies wat oor die wêreld heen voorkom. 
Klik hier om meer van hierdie nuwe seeperdjie te lees. 
PUBLIKASIES
Pleidooi uit 'hotspot': Moenie eredienste hervat
“Geen gemeente kan op hierdie stadium die veiligheid van lidmate waarborg nie en nog minder weet gemeentes wat die regsaanspreeklikheid sal wees, indien ’n lidmaat die virus by die kerk sou opdoen,” lui een van die punte in ’n verklaring wat deur een van die NG Kerk se tien streeksinodes uitgereik is te midde van die algehele verbod op godsdienstige saamtrekke wat vandeesmaand opgehef is. Lees die volledige artikel hier.

COVID-19 bring baie geleenthede­
Die geskiedenis vertel ’n interessante verhaal oor wat met die kerk in die ver­lede in sulke lewensveranderende om­stan­dighede gebeur het, skryf prof. Johan van der Merwe hier.
BEHOU DIE HUMOR
Spesiaal vir ons matrieks.
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuusbrief van MES.
Lees in Badisa se nuusbrief meer oor Kinderbeskermingsweek.
ALGEMEEN
Kinders se regte is ook belangrik
Die Nasionale Kinderbeskermingsweek vind hierdie jaar plaas vanaf 31 Mei tot 7 Junie. Hierdie week word jaarliks in Suid-Afrika herdenk om die bewustheid van kinderregte te verhoog, soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Grondwet en Kinderwet (Wet 38 van 2005).
Hierdie jaar se tema is: Laat ons alle kinders beskerm tydens COVID-19 en ook daarna.  Die veldtog word gelei deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en is in vennootskap met burgerlike organisasies wat kinderbeskermingsdienste lewer. Die regering doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om Kinderbeskermingsweek te ondersteun deur te verseker dat hierdie kwesbaarste lede van ons samelewing nie mishandel word nie. “Om kinders teen geweld, uitbuiting en mishandeling te beskerm, is nie net ‘n basiese waarde nie, maar ook ‘n verpligting. Dit is in ons hande om die siklus van verwaarlosing, mishandeling, geweld en uitbuiting van kinders te stop.”
Klik hier om meer inligting oor kinders se regte en verantwoordelikhede op Badisa Trio se webblad te lees. 
Genade onbeskryflik groot
The Normal Christian Life, 'n nie-winsgewende organisasie wat die Evangelie van Christus deur aanlynmediaplatvorms verkondig, het saamgewerk met GO 2020, om ‘n spesiale produksie vir Globale Uitreikdag (30 Mei 2020) te maak. 
Verteenwoordigers uit 50 lande wat geraak word deur COVID-19 infeksies, is gevra om hulleself op te neem waar hulle Amazing Grace in hulle moedertaal sing. Die individuele videogrepe is toe saamgestel om 'n meesterstuk te skep wat meer as 200 000 mense se harte geroer het. Meer as 100 individue uit Suid-Afrika, die VSA, Spanje, Sjina, Zimbabwe, Indonesië, België, Duitsland, Japan, Mosambiek en 40 ander lande het verenig vir hierdie hartverblydende projek. 
Aan die einde van die video word 'n kragtige boodskap van die Evangelie gedeel, wat The Normal Christian Life wou hê deur almal gehoor moes word gedurende hierdie moeilike tyd. “Daar het die afgelope tyd soveel in ons wêreld verander. Baie verlies het veroorsaak dat menigte mense besef het hoe broos ons lewens is. Maar die genade en liefde van Jesus is sterker as die lewe en selfs die dood. Waar jy ook al is, roep die naam van Jesus aan. Moenie nog 'n dag wag nie.”
Hoofregter lewer spesiale toespraak vir Bybelgenootskap 
As deel van hulle 200ste bestaansjaarvieringe en die Jaar van die Bybel, ontvang die Bybelgenootskap eerskomende Saterdag 6 Junie om 10:00 die Hoofregter van Suid-Afrika. Hoofregter Mogoeng Mogoeng se toespraak “Justice through the lens of the Bible” kan direk op die Facebook-bladsy Bible Society of South Africa gevolg word. 
TEN LAASTE
Koninkrykstyd begin hierdie week. Dis die langste van al die seisoene van die kerklike jaar en strek van die eerste Sondag ná Pinkster (Drie-eenheidsondag) tot die laaste Sondag voor Advent. Die deurlopende fokus is op die verskillende gestaltes van die koninkryk van God en die groei daarvan as resultaat van die heilswerk van die drie-enige God. The Trinity deur die Russiese kunstenaar Andrei Rublev is een van die beroemdste Russiese ikone en simboliseer spirituele eenheid, vrede, harmonie, liefde en nederheid.

Mag julle dit ook gedurende hierdie week van onsekere tye ervaar.

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.