Lees deur internet, klik hier >>
26 Junie 2015
Beste Leser
Uit die chaos van my dae
skep U harmonie en vrede.
God, ek verwonder my oor U.
God van liefde, ek aanbid U.
Uittreksel uit: "Prayers for the night"
(In Die groot gebedeboek, Piet Naudé 2014)
SINODENUUS
1. Dr Coenie Burger Gegroet  
VrydagNuus salueer dr Coenie Burger, wat aan die einde van Junie 2015 as PSD vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) en navorsing aftree. Hy is deur die Fakulteit Teologie gevra om na sy aftrede op ‘n deeltydse basis as direkteur van Ekklesia, die ekumeniese sentrum vir leierskapontwikkeling en gemeentenavorsing, voort te gaan. Baie is al oor hom en sy onskatbare bydrae tot die kerk geskryf. Kollega Frederick Marais gee sy indrukke aangeheg.
Lees gerus ook Anika Marais se onlangse artikel hier (met dank aan Die Burger).
In Kerkbode van 19 Junie skryf redakteur Neels Jackson oor dr Burger se droom vir 'n groter, breër kerk. Klik hier om meer te lees.
Dr Coenie Burger - erkenning aan Deon Raath
Coenie Burger - 'n teologiese vader vir baie ... (Foto met erkenning aan Deon Raath en Die Burger)
Sean Esterhuizen
2. Hartlik welkom, Sean Esterhuizen!
By voorbaat hartlik welkom aan kollega Sean Esterhuizen as Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Armoede en Sorg. Ds Esterhuizen sluit op 1 Julie amptelik by die sinodale span in Bellville aan. Hy was voorheen verbonde aan die VGKSA Nuwerus en Ceres. 
Sy grootste blootstelling was in Nuwerus, waar gou 'n gemeenskapsontwikkelingsorganisasie ontwikkel het wat 'n area ver groter as net die gemeente self bedien het. 'n Reeks programme en dienste is gelewer, bv  vroeëe kinderontwikkeling, gemeenskapskombuise en jeugontwikkeling. Hierdie blootstelling het uiteindelik gelei tot 'n MTh in Gemeenskapsontwikkeling, vertel Sean. "Ek baseer my vertrekpunt en betrokkenheid by gemeentediakonaat op Jesus se woorde aan sy dissipels in Matt 14:16 'Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.'" Ons sien uit na jou unieke bydrae, Sean! Seën toegewens.
Gustav Claassen
3. NG Algemene Sinode: Gustav Claassen Nuwe Algemene Sekretaris!
Die Moderamen van die Algemene Sinode het by sy vergadering van 22-24 Junie 2015 vir dr Gustav Claassen benoem as Algemene Sekretaris om dr Kobus Gerber op te volg.
Dr Claassen (56)  is tans verantwoordelik vir Kerkeie Opleiding by die Universiteit Pretoria en is ook gekoppel aan die gemeente Monumentpark.
Hy moet in die week van 6 Julie antwoord op die benoeming en indien hy aanvaar, sal hy waarskynlik op 1 Oktober 2015 in die pos begin. Vanuit die Kaap verseker ons hom van ons voorbidding vir sy besluit. Se
ën en sterkte toegewens!
4. KGA Algemene Jaarvergadering
Die KGA se Jaarvergadering vind op 22 en 23 Julie by die Dienssentrum (Chrismar Villas) in Bellville plaas. Buiten ringsverteenwoordigers van NGK en VGK is enigiemand welkom.

Tema: Die Evangelie vir ons Wêreld (Evangelisasie in ons tyd). 
Perspektiewe wat aandag gaan kry: Evangelisasie is die vernuwende krag wat • Vanuit genesende ("caring") diverse geloofsgemeenskap uitgaan; • Op Woord én Daad gefokus is; • Gelowiges altyd in versorgende verhouding met die skepping en hul eie leefomgewing plaas. Afskeid word ook by die geleentheid van Johan Botha en Francois Wessels geneem.
5. KGA: Ooguitreik na Mosambiek kry Groen Lig!
Vanuit die KGA ontvang ons hierdie baie goeie nuus! Die jaarlikse Ooguitreik na Vila Ulóngùe in Noordwes-Mosambiek waartydens gewoonlik tot 800 pasiënte tussen vier/vyf dae gehelp is om weer te kon sien, hetsy dmv brille of katarak-operasies, kon ongelukkig nie verlede jaar plaasvind nie. Dit was omdat die mediese apparaat, ens wat gewoonlik vanaf Nkhoma Hospitaal, Malawi gekom het, nie meer beskikbaar was nie. Nuwe planne was dus nodig.
Die Oogspan het besluit dat die probleem opgelos sal word as hulle hul eie apparaat aankoop (waarvoor nog heelwat fondse benodig word). Hulle het ook, agv verskeie faktore, besluit om hul diensarea te verskuif na Milanje in Noordoos-Mosambiek. Drr Chris Blignaut (foto hieronder) en Johan Eloff het so pas vanaf ‘n besoek aan Milanje teruggekeer met die goeie nuus dat die groen lig vir hulle gegee is, en dat as alles goed gaan, hulle dalk alreeds in Oktober vanjaar op ‘n Ooguitreik kan gaan. Lees meer.
Ooguitreik Mosambiek
6. KGA Vrouevereniging in Malawi vier 75 Jaar!
Verlede naweek, vanaf 12 tot 14 Junie, is daar groot fees in Lilongwe, Malawi gevier. Ons susterskerk, die CCAP (Church in Central Africa Presbyterian) Nkhomo Sinode se Vrouevereniging, die Chigwirizano, het onder andere hulle 75ste Bestaansfees gevier. Lees meer
7. Armoede en Sorg begin by Onderwys
Leon Venter (PSD: Armoede en Sorg) gesels in Die Burger van 25 Junie oor sy planne om armoede "op sy kop te draai"!
"Om netwerke raak te sien – dís waarvoor hy ’n oog het. En hy het reeds die netwerk in die kerk onder oë. 'Daar is geen ander organisasie in die land wat ’n netwerk soos die kerk het nie. In elke dorp, in elke gemeenskap is daar iemand. Die rivier loop reeds. Die stroom is daar, die infrastruktuur is daar. Ek moet net die walle by sekere plekke opsit of ’n slootjie hier en daar maak om die vloei te stuur,' sê hy.
Dít is die bestaansdoel van die kerk: 'Om ’n blessing vir ander mense te wees – en nie net vir mense binne die mure van die kerkgebou nie.'”
Lees gerus hier verder (met erkenning aan Die Burger).
Leon Venter
Leon Venter (Foto met erkenning aan Deon Raath en Die Burger)
Pierre Goosen
8. Predikantebegeleiding
Ons kollegas in die Oostelike Sinode het spesifieke maniere waarop hulle aandag aan hulle predikante se algemene welstand gee. Een so ’n projek is die sg "pastor pastorum"-projek, waarmee alle predikante toegedeel word aan die pastorale versorging van 'n bekwame senior predikant of emeritus vir kontak en besoek. (Dankie, Familienuus van 23 Junie.)
Ons is bevoorreg om in eie geledere staat te maak op (oa) Pierre Goosen (PSD, foto), Communitas se Taakspan Predikantebegeleiding, die Sentrum vir Predikantebegeleiding en vele meer. Klik hier om meer te lees en kontak Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za vir meer inligting.
Badisa-logo
9. Badisa teen Substansafhanklikheid
26 Junie is die Verenigde Nasies se Internasionale Dag teen Substansafhanklikheid en Onwettige Handel. Badisa het in 'n mediaverklaring die gemeenskap se betrokkenheid in hierdie stryd gevra - lees gerus meer deur hier te klik. Inligting oor Ramot en Toevlug, Badisa se twee programme wat op dié saak fokus, is hier beskikbaar.
(Kyk gerus ook na Ramot se versoek by 'n berig laer af in die nuusbrief: sommer 'n lekker praktiese manier om hierdie stryd te ondersteun!)
10. VBO: Wat lê alles voor?
Ter wille van beplanning vir die derde kwartaal gee Wilma le Roux van die VBO-kantoor op Stellenbosch die datums van die kwartaal se kursusse. Aangeheg is meer inligting.
Kry inskrywingsvorms by Wilma by wler@sun.ac.za of skakel haar by 021 808 3624.
Discovery Vitality-logo
ALGEMEEN
1. Sinode 2015 - Gratis Welwees Toetsing

Na aanleiding van navrae hieroor, laat weet die vriendelike Alexander Forbes-konsultante: "Hiermee bevestiging dat die voorkomende siftingstoetse wat tydens die Welweesdae by Sinode 2015 aangebied en gedoen is, wel as deel van die Siftingsvoordeel deur die Discovery mediese skema betaal word.
U sal op die Discovery Health-kennisgewing aan u ‘n bedrag sien wat geëis word deur Kaelo of Careways, maar dit affekteer geensins u mediese spaarrekening nie.  Discovery dek hierdie koste vanuit die Siftingsvoordeel." Kontak Christine Lombard by medies@kaapkerk.co.za met navrae.
2. NG Gemeente Oudtshoorn-Noord: Nuwe Kantoorure
Wilmar Matthee skryf: "Die kantoorure van die NG Gemeente Oudtshoorn-Noord het verander en is nou Dinsdag- tot Donderdagmiddae van 14:30 tot 16:00. Skribas wat telefonies navraag wil doen oor lidmaatskappe ensovoorts (en andere) kan gerus 'n aantekening hiervan maak."
3. Ramot: HIER kan JY help!
In aansluiting by die bostaande berig oor Ramot se behandeling  teen substansafhanklikheid is hier nou 'n lekker praktiese manier waarop jy jou gewig by hierdie stryd - wat ons ALMAL raak - kan ingooi.
Ramot se enigste groot boksvrieskas het finaal die gees gegee en hulle soek dringend na twee of selfs drie vrieskaste. Hulle sal dit oplaai, maar omdat Ramot net een voertuig het, sal dit help as donateurs met groter voertuie die vrieskaste by hulle (Tonerstraat in Parow) kan aflewer. Skakel Lettie Visser by 021 939 2033 of hoof@ramot.co.za om te help.
Sommer in dieselfde asem: DANKIE aan elkeen wat gedurende Oktober 2014  gehelp het met gimtoerusting vir Ramot se gim. Hulle is dankbaar vir ons lesers se oop harte en hande! Daaglikse oefening en herwinning van liggaamskragte is immers deel van die totale herstelproses van Ramot-pasiënte.
Ben du Toit
4. Kerk en Ekonomie
Dr Ben du Toit (PSD: Teologiese Navorsing) skryf: "Die skrikwekkende uitdaging rondom ekonomiese en sosiale ongelykheid, armoede en die ellende van werkloosheid, behuisingsnood en swak dienslewering, bly hoog op die kerk se agenda – ook die ekumeniese kerk wêreldwyd. Dikwels hoor ons kritiese opmerkings en analises ten opsigte van ekonomiese sisteme – en loop die vryemark ekonomie en kapitalisme deur as die grootste redes vir die wantoestande. Die vraag is of dit altyd 'n juiste perspektief/kritiek is – en of die probleem nie heel dikwels sistemies polities van aard is (wanbesteding van begrotings, korrupsie, selfverryking ens) nie.
'n Interessante artikel hieroor het in Rapport van So 21 Jun verskyn – met spesifiek die kerk as fokus ... Dit stem tot nadenke en selfkritiek."  Belangstellendes kan hier lees ...
5. Raakgelees: Piet Naudé oor Leierskap
"’n 'Konstante' eienskap van leiers bly onkreukbare integriteit. Dit is onmoontlik om mense te lei as hulle jou nie met toe oë vertrou nie. Dit beteken nie blindelingse instemming nie. Verskille en kreatiewe bevraagtekening gedy juis in ’n vertrouensverhouding.
Ek put ook inspirasie uit leiers wat met ’n sterk toekomsgerigtheid werk." So skryf prof Piet Naudé in 'n sake artikel in Die Burger. Soos gewoonlik, die moeite werd om te lees. Klik hier.
Morné en Sharon Bruwer
PREDIKANTENUUS
1. Welkom, Morné Bruwer!
Dit is met groot dank dat Moorreesburg vir ds Morné Bruwer op 1 Julie amptelik as mede-leraar verwelkom. Hy was van 2009 predikant in NG Wilgespruit (Wes-Transvaal Sinode) en lewer sy intreepreek, vanweë die skoolvakansie, op So 26 Julie. Morné sal vanaf middel-Julie stelselmatig begin inskakel. 
Morné en sy vrou, Sharon, is albei oud-Kovsies en het twee kinders, Shané (5 jaar) en Aidan (2 jaar). Die Pre-advies Kommissielede en Onderhoudspaneel was diep getref deur Morné se verklaring: “Ek leef my droom ... ek werk vir die Koning en geniet elke oomblik daarvan. Ek het ’n passie vir mense (jonk en oud) en verkondig die evangelie vanaf die preekstoel, sowel as om die braaivleisvuur langs die viswaters.”
Aan Morné, sy vrou, kinders én Sharon se moeder, Corrie Flattery - julle is baie welkom! Mag die beroemde Swartlandse hartlikheid julle vinnig tuis laat voel!
2. Eendekuil verwelkom Gert Kok!
In Eendekuil in die Swartland-streek word die vere ook reggeskud om ds Gert Kok op 1 Julie as leraar te verwelkom. Gert en sy vrou, Antoinette, was voorheen onder meer in Thabazimbi en in KwaZulu-Natal by die NG Gemeente Bergville. Sy bevestiging en intreepreek vind op Sondag 5 Julie plaas. Seënwense!
3.1 Stokperdjies en Belangstellings ...
"'n Gebalanseerde groeiproses lei tot ware menswees." En dis mos ook waar van ons predikante, die bedienaars van die woord. Dalk juis en verál nodig vir hulle: om gebalanseerd, voete-op-die-aarde te leef.
Ons sinode se predikante is 'n interessante en talentvolle groep mense! Onder hulle is daar kranige houtwerkers, kunstenaars, sangers, skilders en vele meer. Een van hulle is Carel van Wyk, die afgelope 11 jaar predikant in NG Suider-Paarl. Carel geniet 'n uitstekende koffie en het homself onderskei as 'n barista van formaat. (Barista = 'n meester of spesialis in koffievoorbereiding). Hy het 'n passie vir gasvryheid en bedien sy gemeente graag met goeie koffie.
Carel van Wyk
3.2 Uitnodiging: Vertel van JOU Predikant se Vaardighede
Hier is nou 'n lekker uitnodiging: tel JOU predikant ook in hierdie liga? Het sy of hy ook 'n stokperdjie wat haar of hom toelaat om meer gebalanseerd, voete-op-die-aarde (en soms selfs kop-in-die-wolke van vervulling of pret!) te leef? 
Laat weet ons van jou predikant se kreatiewe uitlaatklep. Tower sy kunswerke op? Vang hy ernstig vis? Is sy ’n instrukteur in selfverdediging? Vertroetel hy bonsai boompies? Is hy 'n keurder van rugbyskeidsregters? 
Drie of vier sinne as agtergrond en 'n (selfoon) video van niks meer as drie minute nie ... (of dan 'n foto as dit regtig nie anders kan nie), dis al wat  dit verg! Kontak Marieta by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
PUBLIKASIES
LiG-tydskrif: 'n Praktiese gesins- en geloofsgids wat Verryk en Inspireer
"Ons gee onsself ..."

In haar werk vir Badisa loop Zylia Volschenk in Jesus se voetspore. “Ons is hier op die armste van arm gemeenskappe gerig. Die afgelope drie jaar ‘wheel, deal and steal’ ek ten einde ’n tuisprogram te ontwikkel en uit te brei wat tuismoeders bemagtig. En dan spesifiek om hulle toe te rus om kinders vanaf geboorte tot vyf jaar te laat ontwikkel, terwyl hulle hulle versorg." Lees gerus meer - en teken hier in!
Zylia Volschenk
Zylia Volschenk (Met dank aan LiG)
EKOLOGIE
1. SAFCEI: Pous se Ensikliek rondom Ekologie

Van SAFCEI (Southern African Faith Communities' Environment Institute), waarvan die NG Kerk en die VG Kerk lid is, het ons 'n versoek ontvang om 'n ondersteunende verklaring vir die Pous se oproep tot verantwoordelike hantering van die aarde onder ons lidmate te versprei. Lees gerus SAFCEI se volledige verklaring.
Intussen het die World Communion of Reformed Churches (WCRC)ook reageer op die Pous se ensikliek - lees aangeheg.
Vir meer lees oor die verhouding van ons Christelike geloof in ons wetenskaplike tyd, sien hierdie “insiggewende bydrae” tot die gesprek. (Dankie, Grens.Pos).
DRESS-logo
2. Herwinning en Menswaardigheid Ineen!
Kyk gerus weer na DRESS (Darling Reclycling Swop Shop) wat in vennootskap met die VGK Darling bedryf word - en waaroor VrydagNuus reeds geruime tyd gelede berig het. 'n Wonderlike inspirasie en inisiatief wat van krag tot krag gaan, laat weet ds David Botha.
Besoek gerus www.dress.org.za en lees sommer hulle jongste nuusbrief hier.
Nog so 'n inspirerende (en ekologies sensitiewe) storie is hier te lese

NG Kamieskroon
VAKATURES
1. NG Gemeente Kamieskroon: Leraar

In afhanklikheid van die Here soek die NG Gemeente Kamieskroon na 'n gelegitimeerde van die NG Kerk om 'n termynbepaalde of 'n tentmakerspos (afhangende van die suksesvolle aansoeker se omstandighede) by hulle te vul. Die gemeente het ongeveer 140 belydende en 35 dooplidmate, waarvan ‘n deel op plase woon.
Reageer voor 30 Junie - klik hier.
VGKSA-logo
2. VGKSA Florianville: Leraar
Die Kerkraad van die VGKSA Florianville (Kimberley) maak in biddende afhanklikheid die vakature van hul leraarspos aan die kerk bekend. Neem asb kennis dat hierdie 'n heradvertensie is waarvoor nuwe aansoeke ingewag word voor die sluitingsdatum van 10 Julie. Meer inligting is hier beskikbaar.
Badisa-logo
3. Badisa Huis van Heerde: Bestuurder
Huis van Heerde  is ‘n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde en dinamiese persone met ’n positiewe lewensingesteldheid teenoor kinders en jeugdiges, word voor 11 Julie vir die betrekking as bestuurder van hierdie kinder- en jeugsorgsentrum in Moorreesburg ingewag. Lees aangeheg verder.

4. Badisa Huis Lückhoff: Bestuurder
Huis Lückhoff in Rosebank is 'n Badisa-tehuis vir bejaardes. Hier is tans ook 'n vakature vir 'n bestuurder. Gemotiveerde persone met 'n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes kan voor 3 Julie aansoek doen. Klik hier.

NG Wolseley
5. NG Gemeente Wolseley: Leier Musiekbediening
'n Herinnering daaraan dat daar tans by NG Gemeente Wolseley 'n vakature as leier van die musiekbediening bestaan. Dis 'n gemeente wat graag sing! Dit is ook 'n manier hoe die gemeente haar roeping uitleef. As jy die persoon is wat by hulle kan aansluit, wil hulle voor 24 Julie van jou hoor. Klik hier vir meer inligting. 
Marius Greeff
TEN LAASTE ... 
Uit die Pen van ... Marius Greeff

Met die sinode by Goudini het die voorkoms en lyftaal van baie kollegas gespreek van vermoeidheid en moedeloosheid. Die (hart)seer-uitdrukking op baie se gesigte sou dit nie ‘n goeie selfie maak nie. Ek het gewonder of dit ook die prentjie is wat ‘n kritiese verbruikerswêreld daarbuite kry as hulle na die kerk en dominees kyk? As PSG se bestuurders so gelyk het, sou mense nog daar belê het? Dus, lok ons ... of stoot ons af? 
Dalk het ons vasgesteek by 1 Petrus 2 se "vreemdelinge en bywoners", en is dit ook hoe ons en gemeentes en gelowig-wees oorkom na die wêreld.
Die uitdaging is om ook aan onsself en kerk te dink soos God ... Teenkanting en seer sal ons altyd ervaar, maar “ons selfie” moet eerder en veral dié wees van uitverkorenes, geroepenes, ‘n koninklike priesterdom, mense wat hul al meer beklee met en lyk soos Christus ... Dit was immers dié deel wat die tronkbewaarder aangespreek het omtrent Paulus en Silas se geloof.

Marius Greeff is sedert 2012 predikant in die NG Gemeente Greyton. Sy vorige gemeentes was Richmond en Jacobsdal in die Vrystaat. Hy was een van die kranige fotograwe in die kommunikasiespan vir Sinode 2015. Verder is hy artikelskrywer vir LiG en tree hy gereeld as toerleier vir LiG se oorsese toere op. Kontak hom by greeffm@iafrica.com.
Dankie aan elkeen wat hierdie kwartaal help skryf het aan die Kerk se storie. Sommiges met woorde, die meeste met menswees. Want - in die woorde van Nelis Janse van Rensburg by Sinode 2015: "Wat doen ons, die Kerk? Ons doen NET EEN ding: ons GETUIG."
Vriendelike groete tot volgende kwartaal!

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.