Lees deur internet, klik hier >>
12 Mei 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
SINODENUUS
1. Wes-Kaapse Streeksbyeenkomste

Om dit vir predikante en gemeenteleiers so gerieflik as moontlik te maak, vind ons streekskonferensies op ses plekke plaas: op Ma 8 Mei was die moderatuur en 'n paar PSD's by Caledon-Wes byeen, Di in Wellington, en Wo het die groep tot bo in Vanrhynsdorp gaan draai. Op Donderdag is dit Beaufort-Wes se beurt, met George-Tuinedal Vrydag en ten slotte Vredelust (in Bellville) Dinsdag.
Charl Stander, skriba, skryf: "
Dit was 'n baie geslaagde paar dae met positiewe reaksie en belewenisse; ons is diep dankbaar en beïndruk met wat ons hoor en beleef. Dit is ook vir ons span genotvol en verrykend." Op ons Facebook is sommer lekker baie foto's - gaan kyk gerus wie jy daar herken. 
Gebed in Wellington
Gebed in Wellington - 9 Mei
Vanrhynsdorp streeksbyeenkoms
Vanrhynsdorp - 10 Mei
Vlnr Tallie van den Heever (Springbok), Nico Viljoen (Vredendal-Wes), Theunis de Bruin (Kamieskroon), Edward Archer (Calvinia), Danielle van Zyl (Citrusdal) en Wikus Lambrechts (Lutzville)
Bene-rek onderweg anderkant Williston
Bene-rek anderkant Williston - 10 Mei:
Nelis, Theunis, Tinus, Frederick, Elize, Nioma, Gielie, Charl en Kobus
Jan Stadler en Elize Morkel
Jan Stadler en Elize Morkel
Beaufort-Wes - 11 Mei
Theunis Botha en Herman Burger
Theunis Botha en Herman Burger
Beaufort-Wes - 11 Mei
2. Pastorale brief van NG Kerk en VGKSA oor Kerkhereniging
Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk se Algemene Sinodes het albei 'n tussenorde goedgekeur wat dit moontlik maak vir gemeentes, ringe en sinodes van die twee kerke om te verenig. Hieroor skryf ds Nelis Janse van Rensburg van die NGK en prof Leepo Modise van die VGK in 'n gesamentlike brief aan die twee kerke. Die brief is hier in beide Engels en Afrikaans beskikbaar. 
Voorsitters
3. Hoe lyk Kommunikasie in die NG Kerk?
Tydens Dinsdag se jaarlikse vergadering van diegene wat verantwoordelik is vir die NG Kerk se kommunikasie in sinodes, het die e-redakteurs onder meer die geleentheid gehad om na André Pentz (handelsmerkstrateeg) te luister oor digitale kommunikasie in die koninkryk. Hy herinner aan 'n paar waarhede wat enigeen wat  skriftelik of elektronies kommunikeer, gerus weer kan afstof en bedink. 
Die vergadering het ook gesels oor die moontlikheid van 'n geïntegreerde kommunikasieplatvorm vir die kerk, met Adele Lombard van Bybel-Media wat 'n paar gedagtes daaroor met die groep gedeel het. Sien foto's onder.

Kommunikasiespan
Redakteurs van sinodale nuusbriewe vergader in Kempton Park
in Harmonie
4. Sentrum Publieke Getuienis
4.1 Die werklike toekoms van die SA Ekonomie

Die hele wêreld het "radikale ekonomiese transformasie" nodig en veel meer as wat die president in gedagte het of verstaan.
Tans funksioneer ons binne 'n onvolhoubare, grondstof-gedrewe ekonomiese model wat slegs 10% van wat ons uit die aarde haal, terugsit. Ongelykheid vermeerder, frustrasie verhoog en binne 'n land soos SA is gesprekke oor kwessies soos restitusie en "wit monopolistiese kapitaal" lank nie afgehandel nie. 

Kom luister op 24 Mei om 19:00 by in Harmonie buite Franschhoek na proff Piet Naude (US), Rachel Jafta (US) en Jannie Rossouw (Wits). Koste: 
R250 pp insluitend die ete. Kontak die kantoor by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za
Braam Hanekom
4.2 Coligny – Wekroep vir Almal
Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis) skryf: "Malcolm Gladwell se bekende boek The Tipping Point (2000) het ons daarop gewys dat situasies soms 'n versadigingspunt bereik, wat bestaande gebeure dan teen 'n ongekende tempo laat versnel. Hoewel die syfers bevraagteken word, is aanduidings daar dat ons reeds jaarliks ongeveer 3000 gewelddadigde 'skare-insidente' (wat protesaksies insluit) in SA sien (sien die SAPD se eie statistiek). Waar gaan dit heen en wat moet gedoen word?" Lees hier wat Braam Hanekom voorstel ons in gedagte moet hou.
Straatwerkers
5. Straatwerk
Menswaardigheid aan Uitgeworpenes

Wat maak jy as jy werkloos en op moedverloor se vlakte sit? Jy gaan klop aan by Straatwerk en word deel van hul Ophelp-projekte. Hul depot is in die hartjie van die pragtige, kleurvolle Bo-Kaap se Moslem-gemeenskap.
Fourie Truter, direkteur van Straatwerk vertel: “Die uitgeworpenes van die stad lewer ’n enorme bydrae om die middestad van Kaapstad en ander areas skoon te hou.  Vol afwagting word spanne ingedeel om ook deur eerbare, harde werk hulle brood vir die dag te gaan verdien en sodoende ‘n stukkie menswaardigheid terug te kry.” Lees meer hier.
Badisa logo
6. Badisa
6.1 Poppies vir Kinderbeskermingsweek
Nasionale Kinderbeskermingsweek (27 Mei tot 3 Junie) word jaarliks in SA herdenk om bewusmaking rakende kinderregte te kweek. Vanjaar loods Badisa die Poppie-projek onder al hul maatskaplike dienskantore om as simboliese projek van hul dienslewering in die kinderbeskermingsfeer te dien. Die projek bestaan uit handgemaakte lappoppe, yskasmagnete, sleutelhouers en geskenkpapier. So word werklike kinders wat kinderbeskermingsdienste deur Badisa se maatskaplike kantore ontvang, uitgebeeld as verteenwoordiging van die potensiaal, drome en gunstige uitkomste wat maatskaplike dienslewering teweegbring. Lees hier en besoek www.badisa.org.za om betrokke te raak.
Plakker
6.2 Koop 'n plakker
Ondersteun die Badisa Poppie-projek op tasbare wyse deur ‘n Kinderbeskermingsplakker te koop ten bate van Kinderbeskerming.  Hierdie plakkers is teen R10 by jou plaaslike Badisa dienskantoor te koop as bewusmaking in jou besigheid of skool gedurende Kinderbeskermingsweek.
Vir meer inligting kontak Annemarie Bezuidenhout by
abezuidenhout@badisa.org.za.
Stetoskoop
6.3 Verpleegstersdag
Op 12 Mei, waarop Florence Nightingale se verjaardag ook herdenk word, sal Internasionale Verpleegstersdag wêreldwyd gevier word. Die Internasionale Raad van Verpleegsters herdenk elke jaar hierdie belangrike dag en het die volgende tema vir 2017 gekies: Verpleegsters: "'n Stem wat Lei: Bereiking van Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte". Badisa se mediaverklaring hieroor is hier. (Sien gerus GEMEENTENUUS hoe NG Parowvallei-Oos verpleegpersoneel koester!)
Vigskers
7. Vigsherdenking: Liturgiese riglyne
Gemeentes, hier is die beloofde liturgiese riglyne vir Vigsherdenking- sondag op 21 Mei, soos ontvang van die Vigstaakgroep van Diaconia. Gemeentes word aangemoedig om tydens eredienste ruimte te maak om aandag te gee aan MIV en Vigs, sodat die kerk se profetiese stem oor hierdie saak nie stil raak nie. Kry die tweetalige riglyne hier en by www.cabsa.org.za.   
Noeline Rossouw
ALGEMEEN
1. Met innige simpatie: Noeline Rossouw
Ons het met hartseer en skok verneem dat die ringskriba van die Ring van Knysna, Noeline Rossouw, op 4 Mei 2017 in George oorlede is.

Noeline, geestelike werker by Die Vleie Gemeente in Knysna, het ’n bydrae van onskatbare waarde in haar gemeente en die breër gemeenskap gelewer. Ons eer haar gedagtenis as toegewyde lid van die moderamen, as entoesiastiese sinodeganger en as iemand wat met hoop geleef en ’n verskil gemaak het. Anton Louw (NG George-Bergsig) se huldeblyk is
hier beskikbaar.
Ons opregte medelye aan haar man, Andre, sowel as hulle drie kinders, Arno, Tanya en Werner. Troosdienste vir Noeline het reeds op Dinsdag 9 Mei plaasgevind.
Gustav en Anri Claassen
2. Met medelye: Anri Claassen
Ons rou saam met die uitgebreide familie van dr Gustav Claassen (NG Alg Sinode se algemene sekretaris). Die skokkende nuus van die skielike dood Woensdagmiddag (10 Mei 2017) van sy skoondogter, Anri Claassen, tref ons diep en laat ons stom ...
Anri (30) is in 2013 met Gustav en Hanneke se seun (ook Gustav) getroud Hulle het 'n baba-dogtertjie van agt maande, Anista.
Ons gedagtes en gebede is by hierdie familie, wat Anri se ouers, Deon en Anys Rossouw, insluit. Mag die Here self troos op maniere wat ons as mense nie kan bedink nie. Verdere reëlings is nog nie bekend nie.
Pieter Grove en Walter Philander
3. UWK Teologie: Waarderingsondag 
Alle leraars, emeriti, gades, vriendinne, kerkrade en gemeentelede van beide die VGKSA en die NG Kerk word hartlik uitgenooi na die Waarderingsdiens  vir  oud-dosente en studenteleraars aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Teologie.
Waarderingsoorkondes (postuum) sal aan die eggenotes van ontslape dosente oorhandig word. 
Daar gaan ook by hierdie geleentheid van prof Dirkie Smit, wat in Junie na  Amerika vertrek, afskeid geneem word.
Lees meer hier en vir verdere inligting kontak dr Natie Philander by 083 270 6146 of nphil@sun.ac.za.
Ons seënwense aan almal betrokke. Dit sluit die prediker, ds Pieter Grove (VGK Kaapland se moderator - links bo) en die liturg, ds Walter Philander (voorsitter van die Kuratorium - links onder) in.
Logo
4. Storie van Hoop
Beurse vir Gr 7-leerders!

Hier is 'n wonderlike geleentheid vir belowende kinders om 'n goeie skoolopleiding te geniet. 'n Kans om die lewe van 'n minderbevoorregte kind in die Kaapstad-omgewing te verander. Deel hierdie inligting asb met jou kollega, huishulp of andere wat dalk nie toegang tot e-pos of die internet het nie - en help waar nodig asb met die aansoekproses. Ouers moet aansoek doen wanneer hul kinders in Gr 6 is. 30 leerders ontvang 'n beurs, waarna 15 gekeur word vir 'n verdere beurs vir hoërskoolopleiding.
Die Kay Mason Foundation, 'n nie-winsgewende organisasie, bied hierdie beurse aan - 'n baken van hoop! Lees meer en kry die aansoekvorm hier. Besoek gerus ook hulle webwerf by www.kmf.org.za en reageer voor 31 Julie.
Biddag
5. Wêreldwye Biddag: Hongersnood
Die Wêreldraad van Kerke (WRK), All Africa Council of Churches  (AACC) en World Vision (WV) versoek kerke, organisasies  en gemeentes dwarsdeur die wêreld om deel te wees van die wêreldwye biddag wat op 21 Mei 2017 gehou word vir lande waar hongersnood heers. 
Groot dele van Afrika beleef steeds ongelooflike droogte. Dít, met die gepaardgaande maatskaplike probleme, lewer kinders totaal uit aan die elemente en verskeie vorms van misbruik. Dankie vir gemeentes se aandag hieraan. Lees die WRK se brief hier en WV s’n hier.
Johannes Janse van Rensburg
6. Ramot: Ontmoet nuwe Bestuurder
Seënwense aan Lettie Visser (tot onlangs bestuurder by Ramot) vir ’n vreugdevolle aftrede.
Dit is lekker om saam met Ramot vir Johannes Janse van Rensburg as nuwe bestuurder te verwelkom. Hy is nie 'n onbekende by Ramot nie, maar alreeds vanaf 2011 betrokke in die program as biokinetikus. Johannes is geliefd onder personeel en pasiënte en het reeds 'n groot impak gemaak. Ons wens hom alle sukses toe in die bestuur van die program.
Kalender
7. Beplan vir 2018?
Terwyl party mense nog gewoond raak aan 2017, vestig ons graag gemeentes en kerkkantore se aandag daarop dat 2018 se kerkkalender met die vakansie en kerklike fees- en biddae reeds op die sinode se webwerf beskikbaar is: klik hier. Die amptelike datums van die skoolkwartale, soos deur die regering verskaf, is hier.
Grafika
8. Raakgelees ...
8.1 
Hoe moet ons oor Verassing dink?
Terwyl NG-lidmate vroeër afwysend teenoor verassing was, het dit in die laaste paar jaar nie net algemene gebruik geword nie, maar het gemeentes so by hierdie praktyk ingekoop dat gedenkmure met nisse algemeen by kerkgeboue te sien is.
Die redes hiervoor is welbekend. Sekuriteit, die instandhouding van begraafplase en plek om mense te begrawe, speel 'n rol. Maar wat sê verassing oor wat Christene op grond van die Bybel oor die liggaam glo en bely? Hier is 'n mening om jou te laat nadink. (Met dank oorgeneem uit Grens.Pos van 4 Mei 2017)
Facebook
8.2 Finding Followers on Facebook
With the growing trend towards digital media in society, it should come as no surprise that churches can, and should leverage this opportunity to connect with a wide variety of people. Learn about how the LifeQuest Church in Greenville, Michigan, is using Facebook to grow membership.
Internasionale Dag van Families
8.3 Internasionale Dag vir Families: 15 Mei
Families, opvoeding en welstand

Landwyd vier verskillende organisasies en instansies die Internasionale Dag vir Families deur programme en werkswinkels vir families en gesinne. Vanjaar se tema is "Families, opvoeding en welstand".
Een so 'n organisasie is NWU se Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies. Om lidmate en gemeentes te help met die bewusmaking van hierdie dag, het prof Retha Bloem die meegaande inligting verskaf. Miskien sou ons hier in SA dalk in die toekoms meer met hierdie dag kan doen, juis om ons gesinne/families te versterk en ondersteun sodat hulle optimaal kan funksioneer.
9. Bekostigbare Oornaggeriewe
9.1 Oornaghuis in Bellville
In die Wes-Kaapland is twee oornaghuise wat billike oornaggeriewe vir siekes en hul familie bied. Die NG Kerk Oornaghuis in Bo-Lincolnstraat 80, Boston, Bellville is een hiervan. Hier kan Nelia Botes gekontak word by oornaghuis@telkomsa.net of 021 913 3733 - sien foto's onder.
9.2 Huis Hanna Hopkins
Hierdie huis is in Observatory en is ideaal vir pasiënte en hulle familie wat enige van die hospitale of mediese sentra in Kaapstad se suidelike voorstede moet besoek. Kontak Huis Hanna Hopkins gerus by obskerkhuis@gmail.com of 021 448 7301.
Oornaghuis
Die Oornaghuis in Boston, Bellville
Lewenslesse
Moedersdag Sondag 14 Mei 2017
GEMEENTENUUS
1. Manne kniel saam in Ashton

Francois Herselman deel ’n paar foto’s van ’n geseënde gebedsgeleentheid op 2 Mei toe die NG gemeentes van Ashton en Montagu saam gekuier en geëet het. Francois skryf:  "Ons hou jaarliks ’n voor-oes gebedsaand in Oktober by NG Montagu en dan in Mei by NG Ashton die na-oes dankaand. Daar was 115 mans wat van Ashton, Montagu, Robertson en Bonnievale saam gebid het. Die fokus was op herstel vir ons land, ons gesinne en dorpe. Ons het ingetree vir die droogte in ons gebied asook dank vir ons seisoen en die seën op die oeste. Na die gebedsgeleentheid het ons heerlik saam gekuier". 
Dankie aan elke gemeente wat met hernude ywer moeite doen met gebeds-geleenthede in die uitdagende tyd waarin ons kerk in Suid-Afrika is. Meer foto’s is onder en hier
Manee wat bid
Manee wat bid
2. Mosselbaai ry met die Wind van Agter!
Op So 9 April het die temalied van Chariots of Fire luidkeels oor die kerkgronde van die NG Moedergemeente van Mosselbaai weergalm: ds Henri Meyer en Carlu Pienaar, die fietsryers wat die voorafgaande week oor berge en dale gery het om fondse vir die gemeente se jeugbediening in te samel, het veilig aangekom en is deur die onderburgemeester, mnr Dirk Kotze, verwelkom.
Lees hier
meer oor die wind van agter, gasvryheid, genade, statige kerkgeboue, Pierrié Kies se orrelspelery: 'n pragtige getuienis soos ontvang van Marie van Nierop.
Henri en Carlu voor Graaff-Reinet se groot kerk - foto: Riaan van Nierop
Henri en Carlu voor Graaff-Reinet se kerk          Foto: Riaan van Nierop
3. Bederfsentrum vir Seniors in Bellville
Ná baie harde werk en die liefde en oop harte van die gemeenskap, is 'n bederfsentrum vir seniors op Vrydagoggend 21 April met 'n gesellige bymekaarkoms in Bellville by die NG Gemeente Bellville-Wes in 8ste Laan, Boston, in gebruik geneem. Dié geselligheid is bygewoon deur senior lede van die drie deelnemende NG gemeentes in die omgewing. Hier is meer, sowel as nog foto's. Op die foto onder kuier 'n paar van die nuwe gaste.
Seniors kuier saam
NG Durbanville Huwelikskursus Junie 2017
NG Durbanville Huwelikskursus Junie 2017
5. Parowvallei-Oos versorg die Versorgers
Vrydag 12 Mei is Internasionale Verpleegstersdag. Een gemeente wat jaarliks hierdie dag gebruik om op ’n wonderlike manier aan lede van ons verpleeg- en gesondheidsdienste erkenning en versorging te bied, is die op-en-wakker NG Gemeente Parowvallei-Oos. Hulle het reeds op Sondag 7 Mei die omliggende hospitale en gesondheidsdienste spesiaal uitgenooi na ’n erediens en verversings saam met hulle.
En waar kry jy ’n meer praktiese en tasbare manier om gestalte te gee aan God se versorging van die gemeenskap deur middel van sy kerk! (Ons wonder of daar ander gemeentes is wat ook so iets doen? Laat hoor gerus van julle, asb.) Sien ook Badisa se mediaverklaring oor hierdie saak elders in VrydagNuus.
Verpleegsters
Verpleeg- en mediese personeel wat Verpleegsondag op 7 Mei by Parowvallei-Oos bygewoon het.
NG Heidekoppie Pinkster
NG Heidekoppie Pinkster 2017
Johan en Riëtte
PREDIKANTENUUS
1. NG Kuilsrivier-De Eike 
Johan Morkel, welkom terug!

Johan Morkel het teen die einde van verlede jaar na ’n vrugbare bediening afgetree. Die gemeente waarin hy die laaste 33 jaar gedien het, Kuilsrivier-De Eike, verwelkom hom die naweek terug wanneer hy in ’n kontrakpos bevestig word.
“Johan gaan ’n derde van die lading waaraan hy gewoond was, dra en sal voortaan sy bediening spesifiek op die seniors in ons gemeente fokus. Ons is baie opgewonde om vir hom en Riëtte met ope arms terug te verwelkom in ons span!”
So laat weet Hannes Burger en Chris Barnardo, kollegas in Kuilsrivier-De Eike. Seën vir die terugkeer na die bediening, Johan en Riëtte!
Erik en Lorinda van Heerden
2. Welkom aan Erik en Lorinda van Heerden by Velddrif
Erik van Heerden is op Sondag 7 Mei as brugpredikant by die NG Gemeente Velddrif bevestig. Hy het sy bediening in Steynsburg begin en was van 1991 tot 2002 by NG Brackenfell-Proteahoogte (SAPD-kapelaan). Ander gemeentes waar hy leraar was, is onder meer Vanwyksvlei en Carnarvon. 
Erik en sy vrou, Lorinda, het drie kinders en vier kleinkinders.
Ons wens julle baie voorspoed en seën toe in julle nuwe gemeente!
Bevestiging
Tydens die bevestiging is vlnr Willie Greeff (konsulent), Erik van Heerden, Wessel Vermeulen (hoofouderling), Elna Tredoux-Mostert (ouderling) en Thys du Toit.
Brandstof
EKOLOGIE
Is ons as Christene besorg genoeg oor ons petrol-/dieselverbruik?
Na twee onlangse laaaangnaweke met groot uittogte op ons paaie en 'n 700 000 - eenmiljoen-mense-gebedsaamtrek wonder mens of gelowiges hoegenaamd dink aan die uitwerking wat hulle petrol-/dieselverbruik op die aarde en ons toekoms het. Een van die grootste bydraers tot die kweekhuiseffek en aardverwarming is koolstofdioksied wat die neweproduk is van oa voertuie se brandstofverbruik.  Neem ons hierdie feit in ag wanneer ons ons persoonlike en kerklike lewe beplan? Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
Grappie
Besoekers aan Japan
NUUSBRIEWE
1. Predikante besoek Missie Japan!
"Inspirerend, vars en diep bemoedigend! Só het Missie Japan die groep van ses NG leraars se koms na Japan rondom Paasfees beleef. Die saamwees het ons verwagtinge verreweg oortref! Die (meestal) jong SA-kollegas se besoek het nuwe potensiaal vir die toekoms van Missie Japan se werk ontsluit. 'n Verskeidenheid van interaksies met plaaslike RCJ lidmate, kerkleiers en kweekskool-studente, asook met ons as gesin, was wedersyds verrykend, en sal ons nog lank bybly..."
Lees gerus hulle boeiende getuienisse en indrukke, wat self die stories in kleur en geur vertel – klik hier. Op die foto langsaan is Elsché Eygelaar (Constantia) saam met Stéphan van der Watt, asook Rudolph Grobler (George-Bergsig) met 'n kollega van Japan. Onder is foto's van die ander besoekers: Cornis Botha (Klawer), Mias van Jaarsveld (Bethlehem-Wes), Johann Winterbach (George-Suid) en Pieter van Jaarsveld (Bothaville).
Besoekers
Besoekers
PUBLIKASIES
1. CLF: Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit
Op 21 Mei vier Suid-Afrika – saam met die res van die wêreld – Wêrelddag vir Kulturele Diversiteit. Hierdie dag bied ons die geleentheid om die waarde van kulturele diversiteit te verstaan en leer ons om beter saam te leef as Suid-Afrikaners. Dit herinner ons aan ons uniekheid as mense, ons verbondenheid aan mekaar en die eenheid wat ons vind in Jesus Christus. 
Christelike Lektuurfonds fokus reeds vir 60 jaar daarop om lektuur in kultuur- en taalkonteks te druk en daarom is hul materiaal ideaal om Suid-Afrikaners te help om verskillende grense oor te steek en verhoudinge te bou.  Hier is enkele
idees.

Boek
2. Publikasie val saam met Missionale Konferensie
Vars van die drukkers! In pas met Communitas se groot Missionale Konferensie met Michael Moynach as spreker (15-16 Mei op Stellenbosch) bied Bybel-Media binne die volgende dag of twee Cultivating missional change: The Future of missional churches and missional theology – ’n bielie van ’n boek waarin die stukke wat tydens die 2015 missionale konferensie aangebied is, omwerk is onder redakteurskap van Coenie Burger, Frederick Marais en Danie Mouton.
In ’n resensie skryf Lambert Jacobs: "As jy net die werk van plaaslike kenners wil lees, bevat die boek al genoeg vir jou, want al die voorste stemme op die gebied van missionale kerkwees in SA kom hier aan die woord. Daar is hoofstukke deur Coenie Burger, Nelus Niemandt, Frederick Marais, Jerry Pillay, Danie Mouton en Marius Nel".  
Belangstellendes kan die res van die resensie hier
lees. Hou gerus BM se webwerf dop vir hierdie knewel van ’n boek.
KUIERKANS
Ondersteun gerus jou plaaslike gemeente en ander verdienstelike organisasies met hulle projekte en fondsinsamelings. Klik onder vir meer inligting. 
Kuierkans
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare. Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Badisa-logo
1. Badisa
1.1 
Koördineerder: Bejaardesorg
(Standplaas Bellville)
Lees hier meer oor die vereistes waaraan die aangewese kandidaat sal moet voldoen, sowel as die verantwoordelikhede van die pos, of klik hier vir 'n PDF-weergawe van die volledige advertensie. Aansoeke suit 19 Mei.

1.2 
Maatskaplike werker
Huis de Kuilen en Dienssentrum vir Seniors Kuilsrivier

Aansoeke vir hierdie 5/8-pos kan gestuur word na kuilenhuis@mweb.co.za. Vir navrae kontak die bestuurder by 021 903 7055. Meer besonderhede is hier.
1.3 Maatskaplike werker (Standplaas Gansbaai)
Die beheerraad van Hermanus Stanford Gansbaai maatskaplike dienste wag aansoeke in vir hierdie pos. Stuur 'n volledige CV na admin@badisahsg.org.za teen 26 Mei. Vir navrae kontak 082 803 6870. Lees meer hier.
1.4  Huis Martina 
- Ontvangs/Adminbeampte 
- Verpleegassistent

Huis Martina, ’n Badisa-program in Parowvallei, het vakatures vir ’n ontvangs- / administratiewe beampte en 'n verpleegassistent. Lees hier meer oor die vereistes en diensvoordele van beide poste: ontvangs (aansoeke sluit 16 Mei) en verpleegassistent (sluit 18 Mei).

Jaco Thom
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Jaco Thom
Wyle prof Nico Smit het gesê om die Bybel te lees vra dat ons soos die Israeliete moet maak toe hulle Jerigo ingeneem het. Hulle moes sewe dae lank om die stad loop; die sewende dag sewe keer. Tóé eers het die mure ingetuimel. So moet ons ook dikwels weer en weer en nóg ’n slag om ’n Skrifgedeelte loop voordat die mure om die teks omval en ons kan “inkom” om die rykdom van God se spreke te ontvang.
Ongelukkig help die kitskultuur waarin ons leef, ons nie. Ons maak gewoon nie genoeg tyd daarvoor nie. Een minuut stilte in ’n besige dag gaan nie die ding doen nie.
Hoe sê Psalm 1 nou weer? Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord vind en dit dag en nag oordink.
***
Jaco het in Monument in Bloemfontein as predikant begin is die afgelope 25 jaar in Toringkerk in die Paarl. Hy beskou sy skryfwerk as deel van sy roeping om VDM te wees. Hy het al meer as 50 boeke gepubliseer en het sy eie blog “Soos ek dit sien” waar hy gelowig nadink oor God, die lewe, die kerk en die Bybel.
Sy vrou Elmien is ’n musiekonderwyser en orrelis, en staan saam met hom in die bediening. Hulle het drie getroude dogters. Kontak Jaco by jaco@toringkerk.co.za.
Dalk kan ons Sondag doelbewus sag werk met almal wat graag 'n ma wil wees, maar vir wie dit nie beskore is nie, met elke ma wat 'n kind verloor het, met elke kind vir wie die woord "ma" nie lekker sit nie, met elke ma wat soek na die pad terug na haar kind ...
Mag Moedersdag jou vanjaar verras en verryk. Of jy 'n ma is of nie.
Soos Diaconia se Embrace ook wil doen.
Vriendelike groete.

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.