Logo
5 Mei 2015

Beste Leser

SINODE 2015:
OMDAT ONS DIE EVANGELIE GLO, LEEF ONS MET HOOP

Die dagtema vir Dinsdag 5 Mei: Getuienis.
1. Missionale Kerk - Hier en Nou
Dr Coenie Burger het Maandagaand gekyk na wat dit beteken om hier en nou 'n missionale kerk te wees. Hy het veral gefokus op vyf stellings:
* Ons moet die kerk en die kerk se rol absoluut ernstig neem;
* Ons kan hoop skep in die wete dat agter, in en deur die kerk die lewende, drie-enige God self teenwoordig is;
* Die vroeë kerk het 'n sterk fokus op Jesus en sy verhaal gehad - dit het oor Hom gegaan!
* As ons die storie wil vertel, moet ons ook die lewe leef!
* Kerk-wees is meestal nie 'n netjiese, afgeronde, ordelike saak nie - ons moet te midde van mislukkings en chaos vorentoe druk ...
Nelus Niemandt
2. Missionale Gemeentes
Die tema van missionaliteit is vandag voortgesit deur prof Nelus Niemandt. Met behulp van die analogie van seerowers bekyk hy missionale gemeentes se rol in die wêreld.
Missionale kerke kry dit reg om:
* Vreemdelinge in te nooi; hulle perspektiewe te hóór en in ons besluitneming te inkorporeer.
* Die belang van die gemeenskap en die beste gebruik van beskikbare hulpbronne te beskerm en te verdedig en private voordeel te verander in gemeenskapsbelang.
* ‘n Sterk verweer te wees teen die groeiende kanker van ‘n verbruikerskultuur.
* Om alle mense te nooi na die lewensfees! 
Dat Christus Nuwe Lewe bring, ontsluit opwindende moontlikhede vir missionale gemeentes. Die vraag vir ons as gemeentes is: Waar bring ons vir mense nuwe lewe?
Quintus Heine
3. Verslag oor die Herindeling van Ringe
Quintus Heine (aktuarius) het die moderamen se verslag oor die herindeling van ringe vandag aan die sinode voorgelê.
Oor die belangrikheid van ringe merk Quintus soos volg op: "As ons oor ringe gesels, praat ons oor die kern van die gereformeerde struktuur. Ringe keer dat dit vir ons nét oor gemeentes gaan, dit keer dat ons die hiërargiese sisteem van die Katolieke kerk handhaaf. Ringe keer gemeentes van indiwidualisme; gemeentes het mekaar juis nodig om die waarheid wat hulle dink hulle gehoor het, te toets aan hulle buurgemeentes, hulle kerkverband."
Sewe ringe het reeds 'n samewerkingsooreenkoms en het 'n eie onderlinge reëling oor hoe hulle gemeenskaplike sake hanteer.
Piet Naudé
4. Profetiese Getuienis
Die gasspreker vir die tema van ons profetiese getuienis is prof Piet Naudé. 
In hierdie gesprek is dit belangrik om in ag te neem hoe lyk die wêreld waarin ons kerk moet wees.
Prof Naudé
lei die gesprek in met die prentjie van die groot sonbril-kunswerk by Seepunt. Hoe kyk ons na die wêreld om ons? Ons is sosiaal geprogrammeer om slegs ‘n klein deeltjie van ons land te verstaan. Ons is institusioneel beperk en was ekumenies lank geïsoleerd.  
Lees gerus dr Ben du Toit se indrukke van prof Naudé se bydrae hier.
Wat gee steeds vir die kerk hoop?
4.1 Waarin lê die Hoop vir die NG Kerk?
Wat is die teologiese vertrekpunte vir die getuienis van die kerk? 
“Jesus het Hom na sy lyding  lewend vertoon… en Hy is opgeneem terwyl hulle dit sien” (“op derde dag weer opgestaan het uit die dood, en opgevaar het na die hemel” (Hand 1:1-3, 9; Ef 1:19 – “…sodat julle kan weet wat die uitnemende grootheid is van sy krag vir ons wat glo”).
As mens na die NG Kerk kyk vanuit sy geskiedenis en vanuit dit wat hy nou is, is daar nie veel hoop nie. As jy die kerk lees vanuit sy belydenisse, is daar egter die hoop van die evangelie van Jesus Christus, soos wat dit begin ontvou het in die Pinkstergebeure (Hand 1:1-3, 9; Ef 1:19) – dat die kerk  as die gedooptes met die Heilige Gees (1:5-8) 'n verskil kan maak en hoop kan gee aan mense.  
4.2 Uitdagings vir Profetiese Getuienis
Sinodegangers is vandag gekonfronteer deur bepaalde sosiale uitdagings van die wêreld waarin ons kerk moet wees.
Die gru werklikhede van xenofobie is onder meer van nader bekyk. Die besprekings is gelei deur Braam Hanekom; gesprekslede was dr Christopher Munikwa (Reformed Church in Zimbabwe) en prof Willie Breytenbach (US).
Bendegeweld is bespreek deur Denzil Moses (voormalige bendeleier), ds Stephen Pedro (VGKSA Goodwood) en Fanie Heyns (joernalis).

Christopher Munikwa, Willie Breytenbach, Braam Hanekom Denzil Moses, Stephen Pedro, Fanie Heyns, Braam Hanekom
5. Verkiesing van Addisionele lede tot Moderatuur
Die volgende twee persone is vanmiddag verkies as addisionele lede op die moderatuur:
Dr Elize Morkel (ouderling, NG Helderberg in Somerset-Wes) 
Ds Charl Stander (predikant, NG Parke in Kraaifontein)
Hartlike gelukwense en seën vir julle!
Elize Morkel Charl Stander
6. 'n LIGTER blik op die Sinode 
Die Burger berig vandag: Dominees eet nou minder by Sinode. Ons sê vir mekaar: As mens die sinode-lywe vanjaar vergelyk met hoe hulle 4 jaar gelede gelyk het, sien mens baie duidelik wie het die “banting”-ding gedoen. Dit is nie ‘n ongegronde waarneming nie. Mariëtte van Niekerk van Discovery Vitality sê sy sien vanjaar inderdaad meer dun dominees as dikkes. Wat jou weereens wys, tong in die kies: Om LIG vir die wêreld te wees is soms ‘n gewigtige saak.
Strydom Bruwer Anna Mara Burger en Mariette van Niekerk Retief Jordaan
Logo
7. Mosies deur die Sinode aanvaar
7.1 Xenofobie
Die sinode het vandag sy innige meegevoel met die slagoffers van xenofobie betoon. Lees hier meer.
7.2 Kerkbode
Die sinode spreek sy dank uit teenoor Neels Jackson en redaksie vir die hoë joernalistieke gehalte van Kerkbode en vir die waarde van die inhoud vir die kerk en koninkryk. Die sinode moedig gemeentes en lidmate aan om Kerkbode deur intekening te ondersteun."
8. Spesiale oomblikke
Enkele spesiale oomblikke ...
Claude Swart
Claude Swart (ouderling van NG De la Bat in Bellville) doen 'n besondere tafelgebed in gebaretaal voor die noenbyt vanoggend.
Christopher Munikwa
Dr Christopher Munikwa dra die groete van die Reformed Church in Zimbabwe oor. Dit onderstreep die belang van ons kerkverband.
Jaap Durand en Marietjie Steyn
Ds Marietjie Steyn (NG Bloubergstrand) oorhandig 'n kopie van prof Jaap Durand se jongste publikasie, Godsgeheim - die verhaal van wetenskap en mistieke geloof, namens Bybel-Media aan hom.
8. Nuus uit die Sinode
Belangrike sake word deurentyd op Facebook en Twitter gekommunikeer aan belangstellendes. 
Enigeen kan inteken vir SinodeNuus deur 'n e-pos met 'n naam en e-posadres na kommunikasie@kaapkerk.co.za te stuur.
Like asseblief die sinode op Facebook by NGWesSuidKaap.
Volg gerus ook die gesprekke op Twitter by @WSKaap.

9. 'n Prentjie omsluit 'n duisend woorde ...
Ons sluit hierdie nuusbrief af met onderstaande foto wat Gawie van Broekhuizen (NG Paarl-Vallei), geneem het onderweg na Goudini. Die lig, die hoop gegrond op ons geloof in Jesus Christus, die opgestane Heer, breek deur ...
Sonsopkoms onderweg na Goudini
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.