Lees deur internet, klik hier >>
11 Augustus 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Net by God vind ek rus
Ons vergeet nie
Dit was hierdie week twee maande sedert die uitbreek van die verwoestende brande in die Suid-Kaapse Tuinroete.
Ons bid vir elkeen wat sy/haar lewe moet herbou en ons vra genade vir elke kollega wat begeleiding op hierdie onbekende pad moet voorsien.
"Net by God vind ek rus ..." (Ps 62:2)
SINODENUUS
1. Vroue se reis in die bediening
Op Woensdag 10 Augustus het ongeveer 40 vroue in die bediening (jeugwerkers, proponente en predikante) die spesiale geleentheid gehad om op Stellenbosch ’n dag van netwerk en toerusting ter viering van Reformasie500 te geniet. 
Elna Mouton (prof in Nuwe Testament, Fakulteit Teologie, US) was die hoofspreker en het gesels oor haar eie reis in die bediening. Twee werkswinkels was deel van die program, aangebied deur die NG Wes-Kaapse moderatuur en die Diensgroep Toerusting en Navorsing. Let gerus op die oorwegende swart kleredrag ter ondersteuning van #ThursdaysInBlack. Meer foto’s op ons Facebook!
Vroue in bediening
Agter vlnr: Ankia du Plooÿ, Tilana Meyer-Morkel, Yvonne Neethling,
Annalise Wiid, Lou-Maré Denton
Voor vlnr: Anriëtte de Ridder, Elize Morkel, Elsché Eygelaar, Annelet Slazus, Juanita Greyvenstein, Michelle Boonzaaier, Angelique Havenga, Jampie Nel, Bianca Botha, Melanie Thirion, Elrika Esterhuizen, Sulet Brümmer
2. NG Kerk: Tien sinodes se voorsitters byeen
Die voorsitters* van die tien sinodes van die NG Kerk het van 8-10 Augustus 'n unieke geleentheid gehad om by Wilderness in die Suid-Kaap te vergader. (Foto onder)
Dankie vir voorbidding vir hierdie groep leiers, wat op verskillende plekke en in uiteenlopende kontekste leiding moet gee.
*Sommige sinodes gebruik die term "moderator", terwyl ander verkies om na "voorsitter" te verwys.

NG sinodes se voorsitters en alg sekretaris
Agter vlnr: Pieter van Jaarsveld (Vrystaat), André Olivier (Namibië), Hugo vd Linde (Hoëveld), Dewyk Ungerer (Noordelike Sinode), Barry Tolmay (KwaZulu-Natal), Jasper Louw (Oos-Kaapland)
Voor vlnr: Johan Brink (Goudland), Gustav Claassen (Alg Sinode, alg sekretaris),
Dirkie van der Spuy (Oostelike Sinode),
Nelis Janse van Rensburg (Wes-Kaapland), Gert Duursema (Noord-Kaapland)
3. NG Sinode van Wes-Kaapland: Uit die Moderatuur
Oop deure vir gelowiges!
"Die Here gee gelowiges voortdurend aan mekaar en daarvoor maak Hy deure oop. Dit is een van die oorheersende ervarings van die moderatuurslede oor die algelope maande." Só skryf Gielie Loubser, moderatuurslid, in die jongste uitgawe van Uit die Moderatuur, die gereelde brief van die Wes-Kaapse moderatuur aan predikante en gemeentes. Lees gerus en deel met belangstellendes.
UIT DIE MODERATUUR
Barmhartigheidsmaand
4. Barmhartigheidsmaand
4.1 Menswaardigheid!
Soos beloof, fokus VrydagNuus hierdie maand met 'n weeklikse rubriek op die aktuele tema van barmhartigheid (diakonale diens).
Kollega Sean Esterhuizen (die VGKSA Kaapland se PSD vir Diaconia) benader die tema uit 'n menswaardigheidshoek en vra: "Waarom behoort ons as kerk, as gelowiges ernstig te wees oor mens-waardigheid? Loop ons nie die risiko om ménsgerig, eerder as Gódgerig te wees nie? Loop ons nie die risiko om sekulêre etiek en moraliteit met ons godsdiens te vermeng nie?" Klik hier

Ek dink aan jou
4.2 Die besoek 
In die gees van menswaardigheid en ons strewe daarna om aan elkeen geleenthede vir LEWE te gee: maak gerus ook ’n punt daarvan om iewers drie minute te neem en te luister na ’n besonderse verhaaltjie ... stof tot nadenke!
Ons kollegas by Diaconia verskaf dit as klankgreep én in teksformaat; maak seker dat jy dit nie mis nie! 

4.3 Badisa - #kleingeldkrag 
Jou R28 maak 'n verskil aan 700 000 mense in nood. Dit is wat Badisa noem #kleingeldkrag #worthyourwealth. Besoek www.badisa.org.za vir meer inligting of kontak Annemarie Bezuidenhout om betrokke te raak.
Badisa Omgee-veldtog
Logo
5. Sondag vir persone met gestremdheid 28 Aug
Stel ons persone met gestremdheid in staat om werklik deel te wees van ons geloofsgemeenskap, of fokus ons net op wat hulle NIE kan doen nie? In Suid-Afrika is die laaste Sondag in Augustus bekend as Sondag vir Persone met Gestremdheid. Klik hier vir RampUp se agtergrondinligting oor hierdie spesiale dag, en kry allerlei kreatiewe voorstelle vir aktiwiteite. So kan gemeentes ons fokus op menswaardigheid op 'n lekker praktiese manier uitleef en versterk.
Imagine Kidz
6. Registreer betyds as gasheer!
Alhoewel die Oktobervakansie maar kort is, bied dit steeds 'n kragtige geleentheid om te droom, glo en doen. #Imagine Kidz is oorspronklik ontwerp om gedurende drie dae aangebied te word tydens hierdie vakansie. Maak van die geleentheid gebruik om as gasheer op te tree en doen aansoek en registreer voor  die einde van Augustus hier.
Ds Scherrer
ALGEMEEN
1.
Hulde aan ds AJ (Bobbie) Scherrer
Ons het met leedwese kennis geneem van die dood van ds AJ (Bobbie) Scherrer, op 22 Julie 2017 in die ouderdom van 75 jaar, na ’n lang stryd teen kanker. ’n Roudiens het op 28 Julie by die NG Gemeente Kerkenberg in Harrismith in die Vrystaat plaasgevind.
Benewens sy gemeentelike betrokkenheid in die Hoëveld, Oostelike en Vrystaat sinodes, was Bobbie tot in Augustus 2011 onder meer die voorsitter van Bybel-Media se direksie en baie betrokke by die proses om die NG Kerk se mediabedienings na die Algemene Sinode van 2002 te koördineer. Verder was hy vir baie jare voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Administrasie en Finansies (SKAF) van die NG Kerk Vrystaat. Hier bring Pieter Fourie, voormalige uitvoerende hoof van Bybel-Media aan hom hulde.  Ons eer sy nagedagtenis.
Wantrouemosie
2. Kerk se publieke getuienis
Die afgelope week was alle oë op gebeure in die parlement, met die gebeure rondom die uitroep van 'n geheime stemming in die mosie van wantroue teen die president. Diegene wat vrae het oor die kerk se rol – om ’n publieke getuienisrol te vervul én profeties pastoraal op te tree – kan kennis neem van verskillende platforms waarop hierdie saak aangespreek is.
1. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), waarvan die NG Kerk en VGKSA lede is, het op 3 Augustus in ’n mediaverklaring druk geplaas op lede van die parlement om die nasionale belang voorrang te laat geniet bo partybelang wanneer hulle in die parlement stem. Klik hier vir die verklaring.
2. Die Western Cape Ecumenical Network (met Braam Hanekom, PSD vir Publieke Getuienis, as dagbestuurslid) het op 4 Augustus aan die hand van ’n oortuigende regsargument waarom LP's in landsbelang behoort te stem sonder voorkeur aan persoonlike of partybelang, ook ’n beroep hieroor op die hoofswepe van die onderskeie partye in die parlement gedoen. Dit is hier.
3. Ander kerke het ook hulle stem hieroor laat hoor. Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk in Suidelike Afrika se oproep aan parlementslede om volgens hulle gewete te stem is hier beskikbaar.
Kerkleiers
Kerkleiers tydens Maandag 7 Aug se optog na die parlement. Vlnr is biskop Garth Counsell (Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika), dr Sipho Mahokoto (EFSA), ds Pieter Grove (VGKSA Kaapland moderator) en dr Llewellyn MacMaster (VGKSA Kaapland moderatuur) in ampsdrag
Logo
3. M-graad met fokus op gender en gesondheid
Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, in samewerking met die Kerk van Swede, bied 'n besonderse geleentheid aan studente om 'n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gender en gesondheid. Die Magister kan in enige van die huidige teologiese dissiplines geregistreer word. Tien studente sal in aanmerking kom vir befondsing binne hierdie magisterprogram vir die studietydperk Januarie 2018 tot Maart 2019. Reageer voor 1 September 2017 – klik hier.
Colloquium
4. Colloquium met Stéphan vd Watt
Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie (US) bied op 18 Augustus 'n colloquium aan met die onderwerp "Die historiese ontwikkeling van Pastorale Teologie en Pastorale Sorg: ‘n ondersoek na die waarde en betekenis vir vandag". Stéphan van der Watt van die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) en professor aan die Kobe-Gereformeerde Teologiese Seminarium is die aanbieder.
Lees hier meer oor die tyd en plek. Almal welkom! RSVP by Henry Mbaya by hmbaya@sun.ac.za of 021 808 3259 teen 11 Augustus.
Logo
5. Ramot: Nuwe lewe, nuwe begin
Badisa se Ramot is 'n multi-professionele behandelingsprogram met ’n holistiese benadering. Hulle behandel verskillende vorme van afhanklikheid en wil pasiënte in staat te stel om fisies, psigies en geestelik te herstel om optimaal volgens hul werklike potensiaal te funksioneer. Die intensiewe persoonlike aandag wat elke pasiënt ontvang, onderskei Ramot. Besoek hulle webwerf.
6. Vrouemaand
Kom ons vier dit sinvol
Mense beleef iets soos Vrouemaand of Nasionale Vrouedag verskillend. Dalk is jy skepties en sien dit as ’n feministiese gedagte, dalk is jy dankbaar dat Vrouemaand sekere belangrike sake weer in die kollig plaas vir almal om van kennis te neem.
Die NG Kerk-familie is bevoorreg om baie materiaal te hê wat ons help in ons nadenke oor en hantering van aktuele temas soos geslagsgelykheid, gestremd-heid, menswaardigheid, rassisme en meer.
Gemeentes of kleingroepe kan gerus hierdie temas lewe gee deur die Seisoen van Menswaardigheid se pamflette (klik onder) by CLF te bestel en uit te deel.
Geslagsgelykheid Gestremdheid Rassisme Menswaardigheid - Bybelse begrip?
Juliana Claassens
7.1 Raakgelees:
Vrouedag: Vir regverdiger wêreld waarin almal floreer
“The brave, creative, and nonviolent acts of resistance of the women in this volume that draw our attention to women all around us who are standing up for justice should indeed inspire us to work for a kinder, more just world in which women, men, and children may truly flourish.”
So merk Juliana Claassens (Ou en Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie) op oor haar publikasie, Claiming her Dignity, waarmee sy ’n stem wou gee aan vroue wat dwarsdeur Bybelse tye onder vervolging gebuk gegaan het. Sy het onlangs die derde plek in die Gender Issues-kategorie by die Catholic Press Association (CPA) 2017-boektoekennings vir hierdie werk gewen. Hartlik geluk!
Slimfoon
7.2 Raakgelees:
Kommunikasiebeamptes: wenke vir foto’s
In die tyd waarin ons leef en kommunikeer, raak die behoefte aan uitstekende foto's wat belangrike stories vertel, net groter. Gelukkig maak slimfone dit nou makliker as ooit om daardie foto's te neem.
Enigeen in gemeentes wat skielik moet ontpop in 'n fotograaf of kommunikasiebeampte, kan gerus kennis neem van ds Steven Martin se blog, http://smartphoneactivist.com. Hy vertel hoe 'n mens met klein aanpassings die kwaliteit van jou foto's drasties kan verbeter. Klik hier vir ses eenvoudige wenke.
GEMEENTENUUS
1. NG 
Gemeente Suider-Paarl
Omgee-wa: voertuig vir verhoudings, missionaliteit
Ons word telkens geïnspireer deur gelowiges en gemeentes wat op kreatiewe maniere aansluit by die plekke waar God reeds besig is om gemeenskappe aan te raak. Hier is nog ’n voorbeeld daarvan. Die NG Gemeente Suider-Paarl het die afgelope Sondag (6 Augustus 2017) hulle koswaentjie, die “Omgee Wa”, bekendgestel (foto onder).
Die idee is om dit oral in die Paarl op strategiese plekke te trek waar daar nood is – bv by skole, woonplekke van behoeftiges, wanneer daar ’n noodsituasie soos bergbrande ontstaan. Die gemeente droom daaroor dat ander gemeentes ook hierby sal inskakel, en dalk elkeen 'n dag neem om kos, klere en die evangelie aan te bied. Lees gerus hoe Carel van Wyk (predikant) vertel.
Omgee-wa
Bill Drake optrede
Bill Drake - 13 Augustus
Heidekoppie - Die Gemeente met Oop Deure
Vier geslagte
Vier geslagte bymekaar: agterkleinseun Anthony le Roux, skoonseun en kleinseun (beide Jannie le Roux) met oom Neels voor.
3.1 Oom Neels Kruger:
Diensbaarheid op 90!

Waar is daar nog gemeentes wat so geseënd is met lidmate wat diens-baarheid en betrokkenheid lééf?
Ontmoet oom Neels Kruger (90) van Andante Aftreeoord in Kuilsrivier, wat al ten minste 45 jaar ouderling is! Sy betrokkenheid in verskillende gemeentes, soos Upington (waar Jurgens Hendriks as jong predikant begin het), Port Elizabeth-Wes, Kraaifontein en Kuilsrivier, is 'n voorbeeld om na te streef.
(Oom Neels is Wilma le Roux van Communitas se pa. Wilma se ma, tannie Marie, was op haar beurt oral in Port Elizabeth bekend vir die vis en pannekoek wat sy soos min ander kon bak!).
Dankie!
3.2 Opregte waardering!
As jy ook voorheen oor jare op hierdie manier in die kerk betrokke was, ons lig die hoed vir jou. As jy steeds getrou jou deel doen deur besoekers welkom te heet, kinders op te pas, tee te skink, bulletins te vou, koeksisters te bak, vleis te braai, bejaardes ’n geleentheid kerk toe te gee, nagmaalbroodjies te sny, kerkhorlosies te herstel, Sondagskool te hou ... dankie. Deur jou wys God iets van die gemeenskap van gelowiges aan die wêreld. 
Jaco en Ydalene
PREDIKANTENUUS
1. Jaco Coetsee groet na 38 jaar
Jaco het op Sondag 30 Julie 2017 afgetree na 38 jaar diens in die VGK gemeentes Kylemore, Idasvallei en Cloetesville op Stellenbosch. Hulle bly woon op Stellenbosch waar Ydalene dosent is by die universiteit.
Interessantheidshalwe: Jaco het tydens sy bediening 1865 kinders en 515 volwassenes gedoop, 2 873 katkisante aangeneem, 804 paartjies in die eg verbind en 1184 begrafnisse gehou!  
Ons wens julle seën en vervulling in die nuwe lewensfase toe, Jaco en Ydalene.
Kontak Jaco by
jacoyda@gmail.com.

Hennie Swanepoel
2. Beskikbaar vir aflos
Hennie Swanepoel (sedert einde Maart vanjaar met vervroegde pensioen en voorheen byna 12 jaar in die NG Gemeente Melkbosstrand) laat weet dat hy beskikbaar is vir afloswerk of preke in die Kaapstad-metropool. Kontak hom gerus by 082 781 6330 of hjswanepoel09@gmail.com.
Gaan kyk gerus ook op die sinode se webwerf na die naamlys van persone wat beskikbaar is vir afloswerk of preekbeurte in gemeentes. Klik hier.
Volhoubaarheid
EKOLOGIE
1. 
Volhoubare ontwikkeling:
selfs van jou rusbank af!

Dit lyk onmoontlik dat die gemiddelde persoon 'n impak op volhoubare ontwikkeling kan maak. Moet jy net opgee? Glad nie, beklemtoon die Verenigde Nasies.
Hulle herinner daaraan dat verandering by individue begin. Elke mens op aarde - selfs die mees onverskillige, luiste mens onder ons - is deel van die oplossing. Gelukkig is daar 'n paar maklike dinge wat ons in ons roetine kan insluit om 'n groot verskil te maak. Selfs van jou rusbank af of uit die gerief van jou eie huis! Klik hier.
2. Ekologie en gebed
Die Ekologie-taakspan laat weet: Om 'n ekogemeente te word, vra noodwendig dat ons ook gelyktydig moet aandag gee aan die gemeente se gebedslewe. Hoekom is dit nodig?  Lees hier verder.  
Olifant
3. Goeie nuus vir Malawi-olifante
'n Mens word te dikwels ongemaklik bewus van die manier waarop die mens die aarde besoedel en plunder en sy bewoners (mens en dier) mishandel. Maar daar is altyd goeie verhale ook, soos 'n tweejaarprojek in Malawi wat onlangs voltooi is waar 520 olifante geskuif is na 'n reservaat voordat hulle heeltemal uitgewis is deur stropers. Jaarliks word steeds bykans 40 000 olifante geskiet vir die ivoorbedryf. Die olifante is 350 km ver vervoer van twee suidelike parke na die Nkhotakota reservaat. Maar hoe skuif jy 'n olifant? Lees die volledige artikel hier.  Bron: www.pri.org
BEHOU DIE HUMOR
Humor
Logo
NUUSBRIEWE
1. CLF red en verander lewens!
In hulle jongste nuusbrief getuig Christelike Lektuurfonds (CLF) oor materiaal wat lewens red en herinner aan die belangrikheid van 'n geldige testament (so in die lig van Nasionale Testamentweek, 11-15 September 2017). 
Nuus oor CLF se uitreik aan hawelose mense in Wellington is behoorlik inspirerend! Spesiale slaapsakke, gemaak van herwonne koerantpapier en plastieksakke, is onder meer uitgedeel. Lees hier verder.
Gaste
2. Voorregte en vreugdes in VGK Kokstad-bediening
In 'n nuusbrief waarin aangrypende verhale oor die bediening gedeel word, skryf Christo en Delesté Wooding (predikantspaar van VGK Kokstad) oa oor Christo se besoek aan Stellenberg en Welgemoed in Mei vanjaar.
“Dit bly ’n wonderlike ervaring om voor ’n diens ’n konsistorie in te stap en dadelik welkom te voel tussen medegelowiges. En om tydens ’n diens ’n paar woorde oor ons werk te  sê, en in die oë van die gemeente te  sien dat die verkondiging van die evangelie van Jesus hulle nog naby aan die hart lê.” 
Jare lange ondersteuners en medewerkers van Getuienisaksie sal wyle ds Kobus Koch, wat op Zithulele gewerk het, goed onthou. Vanjaar het Christo heerlik saam met ’n groep ondersteuners aan huis van Louise Koch, sy vrou (regs voor op foto) geëet. Seën vir julle werk, Christo!
Kerkbode
PUBLIKASIES
Lees in die jongste Kerkbode ...
- twee verhale van gemeentes wat grense oorsteek - twee verhale van mense wat ander lewens verryk

- die verhaal oor vredesgebede wat die wêreld help verander het en wat afgevaardigdes na die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke kon aanhoor

- van die konferensie oor Skrifgesag en Skrifgebruik wat op Brits gehou is
- oor die vergadering van die NG Kerk se Afrika-familie wat in Kempton Park gehou is en 
- van twee boeke wat daar bekendgestel is.

N
aas die harde kopie van Kerkbode is ‘n elektroniese weergawe ook beskikbaar. Teken gratis in by www.kerkbode.co.za en ontvang die kerknuus kraakvars op jou rekenaar.
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting - en ondersteun gerus!

Kuierkans
Kerkbode-logo
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op  11 Augustus 2017.
Kerkgebou
NG Gemeente Oudtshoorn-Wes: Orrelis
Persone wat die gemeente op orrel en klavier/klawerbord kan begelei, sowel as  die  musiekbediening in ‘n gemeente kan koördineer, word genooi om aansoek te doen vir hierdie pos. Die ideale kanditaat moet ‘n belydende christen wees en die vermoë om goed in spanverband saam te werk, is baie belangrik. Aansoeke sluit 15 Augustus - lees hier meer.
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Hannes Burger
Iets van die beeld van die Skepper ... Onlangs staan ek verstom in die Ryksmuseum in Amsterdam, en bietjie later weer by die Vallei van Verlatenheid. Soveel kreatiwiteit! So dankbaar dat God in sy genade ons laat deel in die vreugde van self ietsie skep.
Natuurlik kan ons nie almal Rembrandts wees nie, en beny ons in die bediening soms ingenieurs en argitekte wat iets tasbaars tot stand bring. Ons sien tog so min resultate...  Of wag - staan ons dalk in die mees kreatiewe beroep van almal? Wat kan meer kreatief wees as die bouwerk in die koninkryk van God - wat selfs die toetsende vuur aan die einde van die tyd sal deurstaan?
En tog voel ek nooit nader aan my Skepper as wanneer ek op my beskeie skaal iets probeer skep nie ...  Dit laat my voel ek aard so 'n klein bietjie na my hemelse Pa.

                                                                      ***
Hannes Burger is sedert 1992 predikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike. Voorheen was hy vanaf 1987 in die Mosselbaai-Suid gemeente. Kontak Hannes by jaburger@outlook.com.
Laastens: dankie aan elke vrou (tannie, mamma, ouma, juffrou, vriendin) wat oor jare "vir Christus en sy koninkryk" gewerk het. Wat kinders met deernis en gesonde teologie van Jesus Christus se omvattende genade en liefde geleer het. Dis hulle wat Kinderkrans gehou het met viltmannetjies en -borde om gelykenisse lewe te gee, wat kinders by die Kinderbond met respek en menswaardigheid omarm het. Dis die vroue wat steeds getrou vir ons kinders bid. Ons dankie is vir júlle.
Kinderkranskaartjie
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.