Lees deur internet, klik hier >>
7 Augustus 2015
Beste Leser
God se goedheid is nie iets waarheen jy streef nie,
maar iets waaruit jy lééf. - Willem Nicol 


Mnr Gwede Mantashe
SINODENUUS
1. Tussenkerklik Raad en ANC: Historiese Ontmoeting     
Die media het die afgelope week reeds berig oor die gesprek tussen die ANC en die drie kerke waaruit die Tussenkerklike Raad (TKR) bestaan. Die TKR-afvaardiging is saamgestel uit ds Cassie Aucamp en prof Nico Vorster (Gereformeerde Kerke in SA), drr Braam Hanekom en Johann Ernst (NG Kerk) en drr Wim Dreyer en Wouter van Wyk (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika). Die ANC is verteenwoordig deur mnr Gwede Mantashe, me Jesse Duarte, mnre Daryl Swanepoel, Alwyn Marx, Willie van der Schyff, Zizi Kodwa en Vader Maphatsoe.
Dit was ’n historiese eerste ontmoeting wat die grondslag gelê het vir verdere gesprekke tussen die regerende party en die kerke. Belangstellendes kan die verslag oor die gesprek, soos ontvang van die NGK Algemene Sinode, hier lees.
2. Badisa Nuus
2.1 Barmhartigheidsmaand - Oproep tot Vrywillige Werk

Badisa se fokus vir Barmhartigheidsmaand (Augustus) is VRYWILLIGE WERK. Met Mandela-dag wat pas verby is, wil Badisa belangstellendes verder inspireer om as vrywilligers by Badisa betrokke te raak. Lees aangeheg.
Die Badisa-programme sal in die loop van Augustus gemeentes in hul omgewing inlig oor die tipe vrywillige werk wat by hulle program ‘n behoefte is.
Badisa verskaf ook nuttige materiaal om enige belangstellende aan te moedig om by Badisa betrokke te raak: 
* Meer inligting oor vrywillige werk - klik hier vir mediaverklaring
* Preekriglyne vir Barmhartigheidsmaand - klik hier
* PowerPoint-aanbieding oor Badisa-vrywilligers wat uitstaande diens lewer - hier
* Video en artikels oor vrywilligers en veiligheidsouers in eNuus van Julie
* ONE MORE-video by http://youtu.be/5lF5VoL9bN4
* Onderstaande video oor Badisa as organisasie. Deel dit gerus!

Badisa bekendstellingsvideo
2.2 Badisa spog met Splinternuwe Webwerf!
Badisa se webwerf spog nou met 'n splinternuwe baadjie. Klik hier en deel gerus die skakel met almal. Onthou ook asseblief om by hulle aan te sluit op sosiale media en saam te gesels. 
Gielie Loubser
3. Jeugkantoor: Inligting en Datums vir 2016
Gielie Loubser en Sharon Naudé (Jeug en Familie, Communitas se Netwerk vir Gemeentebegeleiding) stuur waardevolle inligting oor lekker praktiese gemeentepakkette, Kix.kom, #imagine 2016, materiaal vir preke en baie meer. Ideaal vir diegene wat met Jeugbediening gemoeid is - maak seker hulle kry dit!
'n Datumlys vir 2016 maak deel van hulle brief uit - kry dit hier.

Leopold Scholtz
4. Publieke Getuienis
Vrae oor die Midde-Ooste
"Heelwat mense wonder wat op die oomblik in die Midde-Ooste aan die gang is. Christene het nie altyd goeie kennis van die nuanses en vertakkinge wat ons binne Islam aantref nie. Die bekende joernalis Leopold Scholtz gee vir ons 'n kort opsomming oor sommige van die basiese verskille tussen die Soenni Moslems en die Sjiïetiese Moslems en wat die verband met ISIS en Al-Kaïda is." So skryf Braam Hanekom. Lees meer
ALGEMEEN
1. Fakulteit Teologie US
1.1 MTh in Bedieningspraktyk

Die Fakulteit Teologie (US) bied 'n twee-jaar modulêre MTh in Praktiese Teologie (Bedieningspraktyk) aan. Die doel van die program is om missionale leierskapkapasiteit te bou deur leeswerk, teologiese dialoog, deelname aan geestelike dissiplines, eksperimentering met missionale leierskapuitdagings in die gemeente en deurlopende persoonlike refleksie mbv joernaalskrywing. Die fokus en inhoud van die verskillende modules is gebaseer op navorsing wat in gemeentes gedoen is deur die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes (SAVGG).
Sluitingsdatum vir aansoeke: 29 Oktober. Sien brosjure vir meer inligting - klik hier.
1.2 Elektroniese Glossarium vir Teologie!
MobiLex Theology is op Dinsdag 4 Augustus amptelik deur Fakulteit Teologie (US) bekendgestel. Hierdie drietalige, elektroniese glossarium of leksikon (vakwoordeboek) vir teologiese studies bied deur middel van die US-netwerk toegang tot vertalings van teologiese terme in Afrikaans, Engels en isiXhosa. Dit wil studente bystaan in die ontwikkeling van hul teologiese vaktaalvaardigheid.
Die projek is gekoördineer deur Nina Müller van Velden en saam met ‘n span medewerkers, Rob Stegmann, Annemarie de Kock-Malan en Bonganjalo Mbenenge, is die inhoud van ongeveer 380 inskrywings ontwikkel. Prof Jeremy Punt, voorsitter van die Dissiplinegroep Ou en Nuwe Testament, het as skakeldosent opgetree. Aangeheg is meer hieroor.
MobiLex Projekspan
Agter: Rob Stegmann, Bonganjalo Mbenenge
Voor: Hendrik Bosman (waarnemende dekaan), Nina Muller van Velden, Jeremy Punt.
Nina Muller
Nina Muller van Velden
Teresa van Avila
2. Ekklesia nooi Jou na Twee Geleenthede!
2.1 Oggendgesprek oor Teresa van Avila

Teresa van Avila (1515-1582) is een van die vier vroue doktors van die kerk in die Rooms Katolieke tradisie. Hierdie Spaanse vrou inspireer deur die eeue gelowiges met haar nalatenskap. As iemand uit die skatkis van Christelike tradisies wat ons ontvang het, is dit waardevol om ook vandag haar lewe te herbesoek, veral te midde van ons eie historiese en kulturele konteks. Die oggendgesprek (31 Augustus om 09:30 tot 12:00) fokus op haar lewe en werk vanuit buite Rooms Katolieke en Protestante perspektiewe.

2.2 Boekbespreking oor A Secular age - Charles Taylor
Hierdie bespreking vind ook op 31 Augustus van 12:00 tot 13:00 by Ekklesia plaas.
Belangrik: kontak Divine by dr@sun.ac.za vir vooraf leeswerk en bespreek voor 24 Augustus - registrasievorm is hier beskikbaar. Koste: R100 (verversings ingesluit) vir beide bg geleenthede. Stuur die registrasievorm en betalingsbewys na dr@sun.ac.za of faks 086 530 0839.
Badisa Algemene Jaarvergadering Uitnodiging
4. Seisoen van Menswaardigheid: Dink hieroor ...
Daar het iets verkeerd gegaan in ons land. Die mees basiese waarde van respek vir mekaar is grootliks vernietig. Hier het die kerk 'n besliste rol om te speel en dit sluit álle gelowiges in.
Die Seisoen van Menswaardigheid is 'n inisiatief van die NG Kerkfamilie, waartydens ons wil fokus op RESPEKTEER, LUISTER, LIEFHÊ en OMARM
Hoe bring ons dit tuis in ons alledaagse lewe? Hoe maak ons mense sensitief hiervoor?
Oorweeg gerus om die aangehegte samevatting van Nelis Janse van Rensburg se voorlegging by die sinodale bekendstelling van die Seisoen van Menswaardigheid te lees. Puntsgewys en praktiese gedagtes - hier beskikbaar.
Belangstellendes kan meer inligting op www.menswaardigheid.co.za kry. 

5. Beplanning - Sondag vir Persone met Gestremdhede
Dalk is jy in jou agterkop besig met die liturgie (inkleding van die diens) om persone met gestremdhede spesifiek in die erediens van 30 Augustus te betrek. Dan mag die volgende video, waarin Ps 139 deur persone met intellektuele en liggaamlike gestremdhede voorgedra word, moontlik bruikbaar wees. (Met dank aan die Christian Reformed Church se nuusbrief van 27 Mei 2015).
Lees van Ps 139
Badisa Trio-logo
6. Badisa Trio: Waardegedrewe Ouerskap Kursus
Badisa Trio bied in samewerking met Immergroen Ouerskap op 12 Augustus 2015, 14 Oktober 2015 en 17 Februarie 2016 ‘n kursus oor Waardegedrewe Ouerskap aan.
Alle belangstellende ouers, versorgers van kinders, onderwysers en fasiliteerders wat met kinders werk, is welkom om hierdie geleentheid by te woon.
Die kursus word gefasiliteer deur Lize van der Merwe, ‘n sielkundige by N1 City Psyhologists, met 'n passie om ouers te begelei tot selfversekerde ouerskap. Dit vind om 18:00 by Laerskool Eversdal in Durbanville plaas. Hier is meer
Ramot-logo
7. Ramot: Algemene Jaarvergadering 
Ramot, 'n Badisa-program waar substansafhanklikheid behandel word, hou hulle Algemene Jaarvergadering op 27 Augustus om 15:30 by Ramot, Tonerstraat 54, Parow-Oos. Spreker Erna Louw praat oor "Die rol van kreatiwiteit in herstel."
Alle donateurs, befondsers, verwysers, vrywilligers, belangstellendes, diensleweraars en vriende van Ramot word hartlik uitgenooi. RSVP teen 14 Augustus by Carmen (admin@ramot.co.za) of by 021 939 2033.
Selfies
8. Selfies - Dalk dieper as wat jy Dink
Wonder jy wat agter die nuwe gier van selfies lê? "Dis dalk minder narcissisties om selfies te neem as wat sommige mense dink. Die mens se diep behoefte om raakgesien, geken te word, veranker te bly, mag ter sprake wees. Dis temas wat ons reeds in die Bybel kry." Só skryf Danie Mouton in Oos-Kaapland se Grens.Pos. Lees verder.
VrydagNuus-mashoof
9. Teken In op VrydagNuus
Kry die kerk se nuus weekliks eerstehands, vars en akkuraat. Wees ingelig. ’n Aktuele verskeidenheid inligting oor ons sinode se mense, geleenthede en meer!
Teken gratis in met jou naam, van en e-posadres by kommunikasie@kaapkerk.co.za en ontvang VrydagNuus elke Donderdag. (Gebruik dié inligting gerus in julle gemeente bulletin - enigeen is welkom om in te teken.)
Jaques Grobler
PREDIKANTENUUS
Welkom in Leeu-Gamka, Jaques Grobler!
Dit is lekker om saam met die NG Gemeente Leeu-Gamka opgewonde te wees. Hulle het ds Jaques Grobler onlangs in die gemeente verwelkom. Sy bevestiging op Sondag 2 Augustus is deur ds Herman Burger, konsulent, waargeneem. Jaques is getroud met Karin en hulle het drie kinders, Nethaniëlle (21), Malan (18) en Irene (13). 
Jaques vertel 
dat sy Shark-bloed nog sterk klomp; hy is immers in Durban gebore! Ongelukkig kan sy gesin nie op hierdie stadium saam met hom in Leeu-Gamka wees nie, maar hy sien baie uit na die reis saam met die gelowiges op Leeu-Gamka.
Ons vertrou dat hierdie 'n mooi nuwe hoofstuk vir almal betrokke sal wees!
Jurie van den Heever
Jurie van den Heever
Bremer Gericke
Bremer Gericke
GEMEENTENUUS
1. NG Stellenberg Dink na oor Geloof en Wetenskap
NG Gemeente Stellenberg bied aan: 'n Kursus in Geloof en Wetenskap. Hierdie kursus strek oor drie weke op Maandae 7, 14 en 21 September van 19:00 – 20:30.  
Die kursus is spesifiek gemik op alle ouers, onderwysers, kategete en gemeentelede met 'n belangstelling in die gesprek tussen geloof en wetenskap en wat kinders se vrae oor die onderwerp moet hanteer. Inskrywings voor 2 September teen R70 per persoon by Karin (021 976 4519/karin@stellenberg.co.za).  
Die inhoud is uiters aktueel, prakties en sal kwelvrae oor bv skepping, wonderwerke en Jesus aanspreek. Dit word aangebied deur dr Jurie van den Heever, bekende paleontoloog van Stellenbosch en ds Bremer Gericke, leraar van Stellenberg-gemeente.
Kry aanwysings na die gemeente - klik hier.
2. Helderberg: Hulp met Egskeiding en Enkelouerskap
Word jy deur egskeiding of enkelouerskap geraak?
Kom vind meer uit by NG Helderberg, Firmountstr 82, Somerset-Wes op Woensdagaande om 18:00. Kontakpersoon: Francois Swart by 082 444 7358 of francois.swart@profsoft.co.za.
Divorce Care, DivorceCare4Kids & Single Parenting is internasionaal erkende en inter-denominale programme. Die reeks wat oor 13 weke strek, handel oor ‘n verskeidenheid onderwerpe met Bybelse waardes om jou en jou kind te help met egskeiding of enkelouerskap.   
Lees meer op http://www.churchinitiative.org.  Moenie alleen hierdie pynlike pad loop nie – daar is mense wat verstaan en jou kan ondersteun. 
3. NG Gemeente Durbanville-Bergsig bied aan ...
Hier is inligting oor twee geleenthede wat binnekort by NG Durbanville-Bergsig aangebied word: in die een fokus die bekende Pieter van Jaarsveld op geluk en in die ander is Gretha Wiid aan die woord oor huweliksgeluk. Klik op die advertensie ...
NG Durbanville-Bergsig: Dink jouself gelukkig NG Durbanville-Bergsig Huwelik
Allan Boesak
4. VGKSA Bellville: Oor Apartheid en Rekonsiliasie
Hiermee 'n herinnering aan die VGKSA Bellville-gemeente se openbare konferensie met die tema "Has SA dealt decisively with its apartheid past? The case of national reconciliation and racism". Die konferensie is op 11 Augustus en word gefasiliteer deur die bekende Lynette Francis en sluit bekende sprekers soos prof Amanda Gouws en dr Allan Boesak (foto) in. Dit vind in die gemeente se kerkgebou in Goeiehoopstraat, Bellville-Suid plaas. Let asb op die aangepaste aanvangstyd van 19:00. Almal welkom; geen bespreking is nodig nie. Lees hier meer
Stephan Joubert
5. Stephan Joubert by NG Parow-Panorama
Stephan Joubert besoek NGK Parow-Panorama, Rembrandtsingel 14, Panorama op Woensdag 12 Augustus om 19:00. Die tema vir die byeenkoms is: Hoe steek ek die straat oor in Jesus se naam?
Almal is welkom – toegang gratis. 

NG Kuruman
6. NG Kuruman 1916 - 2016: Eeufees!
Volgende jaar is die NG Gemeente Kuruman 'n volle eeu jonk. Oud en jonk word genooi om 'n feesgedig met die tema "Kerk 100 jaar" in een van vier afdelings (laerskole; hoërskole; lidmate; nie-lidmate) in te skryf.
'n Onafhanklike keuringspaneel sal die gedigte waardeer en sommiges aanbeveel vir plasing in die beplande koffietafel feesboek of aparte digbundel. Inskrywings het op 1 Aug geopen en belangstellendes kan hier meer lees. (Met dank aan Mossie Mostert in Noord-Kaapland eNuus van 4 Augustus).
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuus 
Kerkbode van 7 Augustus

Lees in die Kerkbode van 7 Augustus …
… die verhale van twee vroue wat elkeen op 'n eie manier hul onderskeie vorme van pyn moes hanteer. En albei verhale vertel van besondere ontmoetings met God.
Daarby is daar verhale oor ’n uitreik na Nepal waar 'n aardbewing verwoesting gesaai het, van werk onder Moslems uit Witrivier, van 'n susterkerk in Botswana.
’n Mens kan lees van Nederlanders wat hier 'n nuwe manier van kerkwees kom leer ken het, van 'n predikant en haar gesin wat onder rowers deurgeloop het, van Krugersdorpers wat om konkavure gekuier het oor haweloosheid, en nog heelwat meer.
Ook in Kerkbode van 7 Augustus: Die "Harpvrou" raak aan jou Hart
Een Kerkbode-artikel wat spesiale aandag verdien, is dié van die Harpvrou. Haar storie is een van pyn en aftakeling, maar ook van opstaan en herstel terwyl sy besig is om God te leer ken op 'n manier wat sy vroeër nie vermoed het nie.
Woorde om haar aanvanklike pyn mee uit te druk, het sy nie gehad nie. Toe teken sy dit. (sien onder)
Kerkbode bied jou hierdie aangrypende verhaal en baie meer. Teken gerus hier in
Die Harpvrou - Diepste Gat
Die skets van die Harpvrou toe sy nie woorde kon vind om te vertel hoe sy voel nie.
Die Harpvrou - Veilig in sy liefde
Nadat sy 'n sagte, liefdevolle Jesus leer ken het, kon die Harpvrou hierdie skets maak.
2. Nuus vanuit die Transkei
Uit Kokstad skryf Christo en Deleste Wooding: "Die afgelope tyd was daar verskeie besoeke aan gemeentes in Transkei - uitreikgroepe van gemeentes regoor ons land, studente van Stellenbosch en selfs besoekers van oorsee." Daar is ook nuus oor Waterloo se kerkie wat byna 20 jaar gelede saam met Stellenberg gebou is en nou deur die gemeente self herstel word.
Belangstellendes kan aangeheg meer hieroor lees en die foto's onderaan geniet!
Stellenberg-jongmense saam met Christo Wooding
Christo Wooding (derde van links) op 'n staptog saam met Stellenbergers
en Wally Kruger, sendeling op Bambisana (tweede van regs).
Waterloo-kerk se herstelwerk
Herstelwerk aan die Waterloo-kerkie
PUBLIKASIES
Nuut van Bybel-Media: Vir Vrouedag
God van die woestyn

God van die woestyn - Nuut gekyk na die verhaal van Hagar (Lisel Joubert, R60,00)
In hierdie boek maak ons opnuut kennis met Hagar, maar ons staan ook stil by oomblikke wat aan baie vroue bekend is: oomblikke van angs, verlatenheid en negatiwiteit, maar ook oomblikke van hoop, genesing en perspektief behou in moeilike omstandighede. Ons ontmoet die God van die woestyn, die God wat ons nie noodwendig uit die morsigheid van die lewe weghaal nie, maar ons te midde daarvan ontmoet.
Bybel-Media maak goedgunstiglik die eerste vier hoofstukke van die boek gratis beskikbaar vir mense om te lees! Klik hier.
Lisel se boek Ontmoeting met heiliges was die wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys 2015.
Inligting, navrae en diensverskaffing:
• Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210
• Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za
• Of koop met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.org.za, klik dan op winkel, óf tik die produknaam in.
NG Merweville
KUIER-KANS
1. NG Merweville: Dankie!
Esther Fourie, Merweville se skriba, sê baie dankie aan elkeen wat op een of ander manier die NG Kerk Merweville se jaarlikse Dankfees ondersteun het. "Die hele Suid-Afrika was hier, plus nog een of twee. Die dorp het behoorlik oorgeloop en deur die Here se genade toon die Dankfees 'n netto wins van R586,000.00 waarsonder ons jaarlikse begroting nie kan klop nie. Merweville se 132 lidmate is diep dankbaar vir almal wat van ver gekom het en baie onkoste aangegaan het om ons te ondersteun.
Sien julle DV weer volgende jaar vanaf 29 April – 1 Mei 2016. Teken solank die datum aan, dit kan nooit te vroeg wees nie."
NG Brackenfell-Wes Vrouetee
NG Gemeente Vasco
VAKATURES
NG Gemeente Vasco: Skriba-Kassier

Die NG Gemeente Vasco in Goodwood het 'n vakature vir 'n skriba/kassier. Belangstellendes kan die vereistes hier lees en moet voor 21 Augustus reageer.
Leon Venter
TEN LAASTE ...
Uit die Pen van ... Leon Venter
Barmhartigheid is vrygewigheid wat oorloop in 'n lewe van liefdadigheid.
Daar is baie nood in al ons gemeenskappe. Dit is naby aan ons almal. Ons het geen herinnering daaraan nodig nie.
Maar ons moet mekaar herinner om die barmhartige mense onder ons raak te sien en te erken. Daar is talle mense wat ‘n lewe van liefdadigheid leef. Hulle is ruimhartig, mededeelsaam, liefdevol. Hulle leef 'n barmhartige lewe vol liefdesdade. Laat ons hierdie mense erken as gawes van die Gees, wat ons almal inspireer om self ook meer barmhartig te wees, sagter met ons woorde en oordele, meer vrygewig met ons besittings en oorvloed.    
  
'n Profiel artikel oor Leon het op 25 Junie in Die Burger verskyn. Belangstellendes kan dit hier lees. (Foto met erkenning aan Deon Raath en Die Burger)

Leon (PSD: Armoede en Sorg) was voorheen onder meer predikant in die NG Gemeente Parowvallei-Oos. Kontak hom gerus by leon@kaapkerk.co.za.

Mag die langnaweek genoeg rus inhou vir elkeen wat dit nodig het. Kom ons dink ook veral aan elkeen wat reeds fluks voorberei vir die komende NG Algemene Sinode, van 4 tot 9 Oktober in Pretoria.

Vriendelike groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.