Subscribe to our email list
 17 Junie 2016

Beste Leser
Pieter van der Walt
SINODENUUS
1. Wes-Kaapland Sinode
Pieter van der Walt as PSD beroep
In gevolge 'n besluit van die moderamen van 25 en 26 Augustus 2015, het die gevolmagtigde taakspan van die moderamen (reglement 1.10.2) tydens 'n benoemingsvergadering op 10 Junie 2016 vir dr Pieter van der Walt (Paarlberg-gemeente) in die pos PSD: Teologiese Navorsing vir die Diensgroep Toerusting benoem.
Die approbasietydperk neem onmiddellik 'n aanvang. Indien geen besware ontvang word nie, sal die beroepsbrief en diensaanbod op 27 Junie 2016 oorhandig word.
Bid asseblief vir Pieter dat die Here vir hom sal leiding gee oor die besluit wat hy moet neem.
2. Uit die Moderatuur: Jeugdag
Die moderatuur van Wes-Kaapland fokus in die gees van Jeugdag op Donderdag 16 Junie in die jongste "Uit die Moderatuur" (hulle gereelde brief aan predikante en kerkkantore) op die belang van jongmense vir die toekoms van ons land.
Dit is reeds Dinsdag aan gemeentes en predikante gestuur en is hier beskikbaar vir belangstellendes.
Op die foto onder is:
Bo: Frik Bosman, Quintus Heine (aktuarius), Nelis Janse van Rensburg (voorsitter), Frederick Marais (onder-voorsitter), Elize Morkel. Tweede ry: Bossie Minnaar, Charl Stander (skriba), Melanie Thirion, Tinus van Zyl en Leon Venter. 
Moderatuurslede
Gustav Claassen
3. Nuus van die NG Algemene Sinode
In sy jongste nuusbrief deel Gustav Claassen (die NG Algemene Sinode se algemene sekretaris) vanuit die kantoor van die Algemene Sinode momente wat op kerklike terrein aan die gebeur is.
Dit sluit in: Teologiese Opleiding, Huweliksbevestigers, Jeugsake, Reformasie 500, Versoeningsgeleentheid van 11 Junie 2016 en Droogtehulp. Die nuusbrief is hier beskikbaar vir belangstellendes.
Kontak die kantoor van die Algemene Sinode by sophiadk@ngkerk.org.za.
4. Die Belydenis van Belhar: 30 Jaar
Op Sondag 12 Junie 2016 is die 30-jarige bestaansjaar van die Belydenis van Belhar feestelik by die VGKSA Bellville gevier.
Die spesiale geleentheid is goed bygewoon deur lidmate en leraars van die VGKSA, met Nelis Janse van Rensburg en Elize Morkel as verteenwoordigers van die NG Kerk Sinode van Wes-Kaapland. Lees meer.
Ds Peter Grove bedien die nagmaal
Ds Pieter Grove, moderator van die VGKSA Kaapland, bedien die nagmaal, met
Nelis Janse van Rensburg en Elize Morkel wat toekyk
5. Kerke stap vir Vrede en Versoening
Deel van die interkerklike vredesinisiatief op Saterdag 11 Junie in Johannesburg, was 'n vredesstap vanaf die Hoërskool Madibane na die plek waar Abbey Lebelo dood is en ʼn gedenkplaat Saterdag onthul is.
'n Vredesaflosren deur jongmense van alle groepe en rasse het as deel van die program in die Orlando-stadion geëindig, waar 'n Vlam van Versoening aangesteek is en verskeie sprekers opgetree het.
Belangstellendes kan 'n kort video oor die vredesstap hier kyk. (Met dank aan die World Council of Churches.) Besoek Kerkbode se webwerf vir foto's en meer. Uit verskillende oorde is hierdie dag beskryf as "die begin van 'n reis, die afskop van 'n proses". (Dankie, Kerkbode.)
Moderatuurslede op pad na Orlando
Wes-Kaapse moderatuurslede op pad na die versoeningsbyeenkoms in Johannesburg
Vlnr is Frik Bosman, Leon Venter, Elize Morkel, Tinus van Zyl,
Melanie Thirion en Nelis Janse van Rensburg
6. Sentrum vir Publieke Getuienis
6.1 Hoe ver het SA op die pad na Radikalisme gevorder?

As gevolg van verskeie gebeure, plaaslik en internasionaal, is hierdie noodsaaklike gesprek op Donderdagaand 9 Junie deur die Sentrum vir Publieke Getuienis, in samewerking met in Harmonie buite Franschhoek gefasiliteer.
Die paneel het bestaan uit Barend Petersen (voorsitter, De Beers Consolidated Mines), Max du Preez (joernalis en politieke analis), Braam Hanekom (gespreksleier, Sentrum vir Publieke Getuienis), Moss Ntlha (algemene sekretaris, The Evangelican Alliance of SA) en Theuns Eloff (akademiese leier, entrepreneur, teoloog, diplomaat). Lees meer. Meer foto's is ook op Facebook beskikbaar.
Paneel by La Motte
Barend Petersen, Max du Preex, Braam Hanekom, Moss Ntlha en Theuns Eloff
6.2 Luister, en Nogmaals Luister
Die Sentrum vir Publieke Getuienis se Braam Hanekom het die afgelope week twee gesprekke op Piketberg en Vanrhynsdorp gefasiliteer oor die rol van die kerk in die gemeenskap.
Die belangrikste uitkomste was die noodsaak van werklik luister na mekaar, om valse perspesies af te breek en die nodige energie te vind om hande te vat en 'n verskil te maak.
Kontak Salomi Steenkamp met navrae oor die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
Piketberg-gespreksgroep
As deel van die gesprek op Piketberg was (vlnr) Martin Goosen (NG Piketberg), Gert Kok (NG Eendekuil), Kobie Liebenberg (oud-burgemeester, Piketberg),
William Ficks (VG Piketberg), Albé Theunissen (NG Porterville) en Johan Smit (NG Piketberg)
Arbeidsbediening-logo
7. Arbeidsbediening: Inspirasie vir Plekke van Werk
Arbeidsbediening lewer 'n besondere diens deur vir beide werkgewer en werknemer geestelike ondersteuning in die plek van werk beskikbaar te stel. Dit sluit ook verskeie lewens-vaardigheidsprogramme in.
Op Donderdag 9 Junie het hulle hul Algemene Jaarvergadering gehou. Lees meer oor die spesiale stories en getuienisse wat daar gedeel is. Voorwaar inspirerend! 
By NUUSBRIEWE ondertoe in VrydagNuus is inligting oor Arbeidsbediening se jongste nuusbrief. Deel die nuus gerus in die gemeente en elders.
Arbeidsbediening Jaarvergadering
Eddie Orsmond open Arbeidsbediening se Algemene Jaarvergadering
Louwrens van der Westhuizen en Jan Grobbelaar
Di Louwrens van der Westhuizen (Makhathini) en Jan Grobbelaar (Vennootskap-voorsitter)
8. Getuienisaksie
Word medewerkers in vennootskap met Makhathini (KZN)
Die Makhathini Vennootskap het op 4 Junie op Riversdal vergader, en almal teenwoordig was weer eens diep onder die indruk oor hoe God se werk honderde mense se lewens danksy hierdie bediening verander.
Lees meer van dié bediening, hoe dit ontstaan het en wat die grootste uitdagings in daardie gebied is - klik hier
Aids Conference
ALGEMEEN
1. Internasionale Vigskonferensie na 15 jaar weer in Durban

Die Internasionale Vigkonferensie vind van 18 tot 22 Julie in Durban plaas, met 'n geraamde 1800 wetenskaplikes, gesondheidswerkers en gemeenskap-aktiviste wat by die belangrike tweejaarlikse kongres verwag word. 
Mense voel dikwels dat die probleem opgelos is, maar die realiteit is ver daarvandaan. In Suid-Afrika was daar in 2014 steeds byna ‘n duisend infeksies 'n week en, ten spyte van reuse-vordering, leef 36.7 miljoen mense tans met die virus.
Geloofsgemeenskappe het steeds 'n belangrike rol om te speel. Dit sal spesifieke aandag kry by die "Faith on the Fast Track PreConference" wat op  16 en 17 Julie in Durban plaasvind. CABSA werk saam met die Ecumenical Advocacy Alliance van die Wêreldraad van Kerke om 'n besondere en uitdagende konferensie te reël. 
Gemeentes wat hierdie belangrike saak wil ondersteun, word uitgenooi om deel van die konferensie te wees. Lees meer by www.iacfaith.org.
Karin de Lange
2. Traumatic Incident Reduction Werkswinkel
Hier is inligting oor 'n Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) geakkrediteerde werkswinkel oor "Traumatic Incident Reduction" (TIR), aangebied deur Karin de Lange.
Dit vind op 25 en 26 Julie, sowel as 1 en 2 Augustus in Durbanville plaas. Belangstellendes kan aangeheg meer lees en registerasie- vorms is hier beskikbaar. Rig navrae asb direk aan Karin by kdl@telkomsa.net.
3. NG Kerk se Nuusdiens
Gaan kyk ’n slag weer na www.kerkenuus.co.za, die kerk se geïntegreerde elektroniese kommunikasie-netwerk wat gratis beskikbaar is vir die plasing van sinodale, rings- of gemeentelike nuuswaardighede, vakatures en so meer.
Onthou gerus ook dat nuus en inligting waar moontlik gedurende die vakansie, wanneer VrydagNuus nie verskyn nie, deur ons sosiale media versprei word.  
Gebed
4. Reaksie op Orlando-skietery
Wêreldwyd is mense diep geraak deur die tragiese dood van 49 slagoffers in Orlando, VSA.
Mark Galli, redakteur van Christianity Today, verwys in sy reaksie na twee gebede wat Christene kan help in hulle nadenke oor die voorval:

"Father, forgive them for they know not what they do." (Luke 23:34)

"Lord, we pray … for those who hate us and those who love us." (Ortodokse aandgebed)
Lees gerus ook die besonderse gebed onderaan die mediaverklaring wat die World Council of Churches as reaksie op die skietvoorval uitgereik het.
Want Jesus het beloof dat gebed in sy Naam 'n verskil maak.
5. Logos Hope besoek Kaapstad
Die Logos Hope is Operasie Mobilisasie (OM) se drywende boekwinkel op see. OM is een van Arbeidsbediening se gewaardeerde ondersteuningsvennote in hulle evangelisasietaak. Hierdie skip besoek Kaapstad van 23 Junie tot 11 Julie 2016.
Kry meer inligting oor OM op hulle webwerf en klik hier as jy betrokke wil raak deur voorbidding vir hulle werk. Netwerk24 se berig oor die Logos Hope se besoek aan Kaapstad gee inligting oor besoektye en koste daaraan verbonde. Kry dit hier.
NG Moedergemeente Wellington
Die NG Moedergemeente Wellington
Fotograaf: Neil Büchner
6. Raakgelees
"Forgiveness doesn't mean pretending things aren't as they really are; forgiving means actually giving the opportunity of a new beginning."
 - Desmond Tutu

"Our listening is in service of communal relationships."
- Denise Ackermann

"Prayer is not a consumer's tool. It is a Refiner's fire."
- Timothy Keller
7. Vadersdag
Sondag 19 Junie is Vadersdag. Dan dink ons aan ons aardse pa's en die kenmerke wat hulle vir ons spesiaal maak.
Dit is ook die ideale geleentheid om na te dink oor ons Hemelse Vader en Wie Hy vir jou is, stel LiG-tydskrif op Twitter voor.
Belangstellendes kan luister na Karien Basson, Leigh-Anne Williams, Rouchelle Liedemann en Tanya van Graan in 'n onlangse video van met meer as drie minute. (Klik op die foto.)
Sterkte aan elkeen wat in die afgelope jaar 'n pa of oupa verloor het - en wysheid vir al die nuweling pa's wat nog aan die rol gewoond raak!
GEMEENTENUUS
1. Worcester se Kokkedore!
In pas met die NG Kerk se fokus op Vroeë Kindontwikkeling (VKO), het 65 kokke uit die Worcester-distrik op 14 en 21 Mei 2016 voedselopleiding gekry. Die kursus is deur die NID (Nasionale Instituut vir Dowes), die Grapevine Forum, die plaaslike Departement vir Maatskaplike werk en NG Gemeente Worcester-Vallei aangebied. Lg het ook die kursus befonds. Dié kokke is verantwoordelik om daagliks vir honderde kinders by kleuterskole in die omgewing kos te gee.
Die opleiding het saam met die voorbereiding van voedsel ook persoonlike- en werkspasie higiëne, die berging van kos, aankope van bestanddele, inligting oor die voedingswaarde van voedselsoorte, ontwikkeling van gebalanseerde spyskaarte, spesifiek vir kinders, en selfs die opstel van ’n begroting, ingesluit.
Elke kok het na afloop van die kursus 'n volledige stel kursusmateriaal, asook 'n resepteboek, spesifiek gefokus op heilsame voedsel vir kleuters, ontvang.
Worcester voedselvoorbereiding
Worcester-kokke Worcester-voedselopleiding
2. Gemeentes: Wie reik in Junie-vakansie uit?
Watter gemeentes vertrek binnekort op uitreike wat tydens die komende Junie-vakansie plaasvind? Oorweeg asb om VrydagNuus kortliks daarvan te vertel en foto's daarvan aan te stuur. Dit kan 'n kragtige getuienis wees waarmee ons mekaar inspireer en nuut kyk na die rol en taak van die kerk in ons wêreld.
Een voorbeeld van ons gemeentes se uitreike: In die gees van praktiese, interkerklike samewerking gaan 195 uitreikers van die VGK Kraaifontein en Klipheuwel, en die NG gemeentes van La Rochelle, Onrusrivier en Stellenberg onder meer gedurende die komende vakansie op ses uitreike na Prins Albert, Zoar, Calitzdorp, Bambisana (Transkei), Mavusa (Limpopo) en Leeu-Gamka. 
Dankie vir elke leser wat voorbidding doen vir hierdie uitreike.
Stuur jou gemeente se inligting voor Wo 12:00 na kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Uitreik April 2016 Op-die-Berg
Uitreik na Op-die-Berg - April 2016
NG Gemeente Hartswater
3. NG Gemeente Hartswater vier 70 jaar
Dalk is daar oud-lidmate van Hartswater wat in hierdie feestelikheid wil deel! Kollega Mossie Mostert berig in die Noord-Kaapland eNuus dat Hartswater hierdie jaar hulle 70ste verjaarsdag vier en alle oud-lidmate en -predikante nooi om saam te kom deel in die viering.
Die gemeente hou jaarliks in Augustus hul Lentefees, maar hulle het besluit om die naam net vir hierdie jaar na Dankbaarheidsfees te verander. Hulle skryf: "Ons as gemeente het soveel rede om dankbaar te wees dat ons na 70 jaar nog die Here se seën kan ervaar".
Kontak Elize by die kerkkantoor vir enige navrae 053 474 0612/ 082 948 2609.
Twitter Facebook YouTube
PREDIKANTENUUS
1. Deon en Susan Bester onderweg na Dubai
Ons stuur opregte wense vir baie seën en voorspoed aan Deon en Susan Bester van die NG Gemeente Paarl-Vallei. Deon sit sy bediening binnekort in Dubai voort.
Hy skryf: "Ek was 10 jaar in die Paarl in die bediening en begin op 1 Augustus 2016 by die SA Gemeente Verenigde Arabiese Emerate. Daar is tans vier gemeentes in die VAE: in Dubai, Abu Dhabi, Al Ain en Ras’al Khaymah. Die totale lidmaattal is in die omgewing van 650, gemeet aan erediensbywoning. Daar is sowat 100 000 Suid-Afrikaners in die VAE.  Die totale bevolking is 9.3 miljoen mense. My vrou is 'n geregistreerde verpleegkundige en sal daar in van die Mediclinic-hospitale werk. Die gemeente in Dubai is 10 jaar gelede deur ds Gert Els gestig."
                   
Deon en Susan Bester
Deon en Susan Bester
2. Ring van George: Retreat vir Veerkrag!
Sewe predikante van die Ring van George was van 6 tot 8 Junie vir 'n retreat op die gasteplaas Haggas in die Karoo. Daar is die groep deur Pierre Goosen (PSD: Predikantebegeleiding) uitgedaag om mekaar verantwoordelik te hou op vier terreine: geestelik, emosioneel, verstandelik en liggaamlik. Drie kleiner groepe is gevorm wat mekaar oor die volgende 100 dae gaan dra op hierdie reis na heelheid en veerkragtigheid in die bediening.
"Vir die vier van ons wat alleen in gemeentes is, het die drie dae besonder baie beteken. Ons kon binne die veilige ruimte wat Pierre geskep het ons frustrasies en vreugdes van ons leefwêreld deel met ander wat dit waarskynlik die beste verstaan.
Natuurlik het ons baie gekuier (die boer het vir ons 'n Karoolammetjie geslag!) gelag en stories vertel. Vriendskapsbande is versterk wat mens kans laat sien vir die unieke uitdagings van die roeping wat ons uitleef," vertel Pieter van Santen (George-Tuinedal).
Vir meer oor Predikantebegeleiding, kontak Adrienne Bester: bestera@sun.ac.za
Ring van George retreat
Vlnr: Steve van der Walt (Moedergemeente); Petrus Carstens (Uniondale); Pieter van Santen (Tuinedal); Johann Winterbach (George-Suid; Pierre Goosen; Japie Beyers (Outeniqualand); Gert Nothnagel (Herold) en Francois Mulder (Blanco)
NG Gemeente Somerset-Oos
3. Aflosleraar gesoek
NG Gemeente Somerset-Oos

Die NG Gemeente Somerset-Oos in die Oos-Kaapland verlang die dienste van 'n leraar, afgetrede leraar of proponent vir die tydperk 1 September 2016 tot 30 November 2016.
Stuur CV’s voor 31 Julie 2016 aan: ngkso@telkomsa.net met die verwysing: "Aflosleraar".
Navrae: Hendrik Olivier (082 556 3199). (Met erkenning aan die Sinode van Oos-Kaapland se Grens.Pos-nuusbrief)
EKOLOGIE
1. Raad met Gebruikte Motorolie
Gebruikte motorolie kan geweldig skadelik vir die omgewing wees as dit nie korrek hanteer word nie en in ons water of natuurlike hulpbronne beland.
Die ekologies verantwoordelike en volhoubare herwinning van hierdie gebruikte olie kan ook baie werk skep.
Besoek gerus The Rose Foundation se webwerf, www.rosefoundation.org.za, vir inligting oor wetgewing, versamelpunte vir gebruikte olie en allerlei ander interessante inligting. (Dankie, ePosduif van die Sinode van KwaZulu-Natal.)
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief
In die jongste Bybel-Media-nuusbrief gee Hans Steyn inligting oor Kerkbode van 16 Junie, die Julie-uitgawe van LiG en die SingsaamPro-rekenaarprogram. 
Klik hier om meer te lees.
Kerkbode 16 Junie 2016 SingsaamPro
Bennie Janse van Rensburg
1.2 LiG: Van Getsemane na Psalm 23
In die jongste LiG-tydskrif skryf Bennie Janse van Rensburg, predikant van die NG Moedergemeente Wellington, oor sy reis met kanker.
"Dit is kanker wat my gelei het om die groot G - God se genade - werklik te begryp. Ja, ek staan so vas soos nooit tevore nie, by dit wat ek al die jare gepreek en geglo het: die kruisevangelie van Jesus Christus - Hy wat die weg, die waarheid en die lewe is. Daaraan hou ek vas. En as ek nie meer kan nie, besef ek dat dit die hele tyd Hý was wat mý vasgehou het."
Teken hier in om LiG gereeld te ontvang. (Foto en inligting met dank oorgeneem uit LiG, Julie 2016.)
2. Arbeidsbediening Nuusbrief
Arbeidsbediening lewer 'n belangrike geestelike ondersteuningsdiens in die werkplek en het 'n helende en inspirerende invloed op baie mense se lewens. Lees gerus hul jongste nuusbrief - klik hier
Ondersteun Arbeidsbediening op Facebook en kontak Carin Brink, bestuurder, by 021 952 1531 of cbrink@kaapkerk.co.za.
PUBLIKASIES
1. Kerkbode
Gestig in 1849 - en steeds die Kerkkoerant vir Vandag se Kerkmense

Neels Jackson, redakteur van die Kerkbode, gesels oor die rol wat dié koerant in die kerk speel, die uitdagings waarmee hulle te kampe het, en hoe hy die pad vorentoe sien. Meer oor die voordele van die splinternuwe e-Kerkbode se vars en aktuele nuus word ook verduidelik. Klik op die foto onderaan om die video te kyk.
Teken gerus in om e-Kerkbode se nuus voortaan direk te ontvang: klik hier.
Lees onder by NUUSBRIEWE meer oor Kerkbode van 17 Junie, met Riaan de Villiers (Groote Kerk) en Lesray Mentor se verhaal op die voorblad.
Dat 'n mens jou hoed vir Neels moet afhaal, is gewis. Net soos 'n mens van 'n joernalis verwag, sit hy op die interessantste plekke en tye sy berigte en finaliseer. Want die nuus moet uit, die storie moet vertel word. So was dit ook die afgelope naweek by die Orlando-stadion die geval ... plat op die grond.
Neels Jackson Kerkbode
Neels Jackson Orlando-stadion
Neels sit kruisbeen sy berig en finaliseer (Met dank aan Louise Jackson)
2. CLF: Gratis Pamflette oor Straatmense
Kix Kinderbediening van Wes-Kaap Sinode het in 2016 “toxic charity” as tema aangepak, met hul Otjiekos-projek wat kinders leer om die persoon op straat op die regte manier en met menswaardigheid te hanteer.
Christelike Lektuurfonds (CLF) het hul hand gevat met twee gratis pamflette wat leiding gee om hierdie sosiale probleem op die regte manier aan te pak. Lees gerus hier verder hoe die pamflette in gemeentes, eredienste en in jou omgewing gebruik kan word.
Pamflet: Hoe gemaak met die mense op straat? Pamflet: Die mense by die verkeerslig
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor basaars en vieringe! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
Laaiplek basaar NG Knysna Basaar
NG Kenridge Wintermark
NG Robertson-Oos-logo
VAKATURES
NG Gemeente Robertson-Oos: Leraarspos
Die NG Gemeente Robertson-Oos het 'n vakature vir 'n voltydse onbepaalde leraarspos as medeleraar in hierdie gemeente.
Robertson is ’n ontwikkelende dorp in die pragtige Breëriviervallei en beskik oor goeie skool- en ander fasiliteite. Die gemeente bestaan uit 1 151 belydende en 295 dooplidmate en het ’n vernuwende karakter. Lidmate word ooreenkomstig hul gawes aangewend. 
Klik hier vir meer inligting
Die sluitingsdatum vir aansoeke vir hierdie vakature is 31 Augustus 2016. 
Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Theunis Botha
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Theunis Botha

George Weideman skryf: "Ons het ons kinderparadys verloor deur die rykdom van swaarkry te verruil vir die armoede van oorvloed" ... betekenisvolle woorde hier in die dae waar Jeugdag en Vadersdag gevier word. 

Ek put baie uit die rykdom van mý kinderparadys. Tóg - wat is rykdom en paradys, armoede en oorvloed in 'n land met kinders waarvan die helfte nie weet wie hul biologiese vader is nie; #must fall-veldtogte; baie vaders min tyd tuis spandeer omdat hulle banksaldo's en hulle selfoortuigde finansiële sorg en sekuriteit aan hulle gesin hulle dryf tot oorvloedige tydspandering by die werk en elders?
Iemand skryf: "We benefit from the past, but owe to the future." Wat gee ons soos 'n aflosstokkie oor aan 'n volgende generasie? Wat verruil ons vir wat ... en kom die koninkryk daardeur?
* * *
Theunis Botha is 30 jaar in die bediening. Sy eerste gemeente was op Kathu by die Sishen-ysterertsmyn en hy is tans in sy tweede gemeente, Stellenbosch-Welgelegen. Pastoraat is sy liefde; hy is ook 'n stokperdjie-sjef en baie lief vir musiek en sang. Kontak hom by theunis.botha@stelwel.co.za.
Saaier

Here God, U het meer geduld as ek.
U het meer tyd.
As ek my weg aan U oorlaat,
het ek ook tyd.
U eis nie alles tegelyk nie.
Terwyl ek nie meer wil nie,
nie meer kan nie, raad-op is,
strooi U die saad uit op die land,
totdat dit in my wortelskiet en groei
en uit my lewe vrug te voorskyn kom. U vrug.
- Jorg Zink
(Skets: Fanie Marais)
Vriendelike groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za