Lees deur internet, klik hier >>
30 Augustus 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
1. Moderamen byeen
Die eerste vergadering van die nuutverkose moderamen het vandeesweek plaasgevind. Die agenda het kwessies soos Skrifverstaan, die toekoms en konteks van die kerk, kommunikasie, pastorale sorg, ekumene, spiritualiteit, teologiese opleiding, kerkeenheid en menswaardigheid ingesluit. Voorsitter Nelis Janse van Rensburg (regs onder) het die moderatuur se strategiese verslag aangebied, terwyl Christine Quickfall (links onder), hoof-uitvoerende beampte van Badisa, kommerwekkende statistieke voorgelê het. Indiepte tafelgesprekke het plaasgevind. Ons berig in die volgende VrydagNuus breedvoerig oor die vergadering. 
Agenda
2. Algemene Sinode 2019 - Laat jou stem hoor!
Die Algemene Sinode vergader van 6 tot 11 Oktober 2019 in Benoni. Daar word gevra dat gemeentes besin oor ses sake: die eksterne en die interne uitdagings wat die kerk raak, die roeping en die bediening van die kerk, die toekomstige teologiese rigting, en die struktuur van die NG Kerk. Daar verskyn weeklikse vraelyste op Kerkbode se webblad, maar terugvoer en gedagtes kan ook gestuur word aan beplanning@ngkerk.net
Kerkbode soek 'n blogger vir Algemene Sinode 2019
Kerkbode soek 'n blogger vir Algemene Sinode 2019 - klik bo
Droogte
4. Diaconia
4.1 Droogtehulpnetwerk

Nioma Venter (PSD Diaconia) skryf soos volg: "Tussengemeente omgee-uitreike met die droogte het nou regtig momentum gekry. 'n Behoefte is by Diensgroep Diaconia aangemeld om hierdie uitreike te help koördineer. Ons is versoek om seker te maak dat daar nie gemeentes oorgeslaan word van wie ons nie weet nie. Help ons asseblief met hierdie koördinering: skribas sal binne die volgende week 'n skrywe van Diaconia ontvang om (1) vas te stel of jou gemeente behoefte het aan uitreikondersteuning (m.a.w. of julle ernstig deur die droogte geraak word) en (2) of jou gemeente graag wil uitreik/alreeds uitreik na 'n gemeente wat deur droogte geraak word en watter gemeente dit is."
4.2 Droogtehulpfonds mik vir drie miljoen
Diaconia gaan woeker met 'n volgende siklus omgee-ondersteuning vir gemeentes wat deur droogte geraak word. Hul doelwit is om aan ten minste 30 gemeentes elk R100 000 beskikbaar te maak om vir omgee-uitreik in die plaaslike gemeenskap aan te wend. Met elke R3 m. waarmee die droogtehulpfonds versterk word, sal die aanbod herhaal kan word. Die aansoekprosedures sal bekendgemaak word en onder streng voorwaardes geskied. Die aanwending van hierdie omgeefonds sal uitsluitlik vir die onmiddellike verligting van nood in die gemeenskap gebruik kan word en dus nie vir bedryfsuitgawes van die gemeente nie. Die fonds sal publiek bekendgemaak word en terugvoer sal via verskeie platforms gegee word om deursigtigheid te verseker. Klik hier as jy 'n bydrae wil maak. 
Hulp
4.3 Diaconia deel van rampgesprek in Durban
Ria Koen, sekretaresse van Diaconia, en Pia Nänny van Helderberg Uitreik, het van 20-22 Augustus ’n interkerklike byeenkoms, Disaster Response and Mitigation, in Durban bygewoon. Die doel van die byeenkoms was om te besluit of daar ’n geleentheid en/of behoefte bestaan om ’n Suid-Afrikaanse platform te vestig om die doel-treffendheid van die verskillende kerke se reaksie op rampe en krisisse te verbeter. Ongeveer 40 persone het aan die gesprek deelgeneem, met verteenwoordiging van o.a. die  AGS Kerk, Methodist Church of Southern Africa, die Rooms-Katolieke kerk, Reformed Church in Mozambique, SARK, Rooikruis en meer. Die NG en VG Kerk is verteenwordig deur Diaconia. Kontak Ria met navrae hier.
5. IMSA/Arbeidsbedieningdienswerkers voltooi akkreditasieprogram
Op Saterdag 24 Augustus is die eerste formele akkreditasiewerkswinkel in die Suid-Kaap by George aangebied. Tien Arbeidsbedieningdienswerkers van George en Oudtshoorn het dit bygewoon. Dit beteken dat hulle nou almal aan geakkrediteerde vereistes voldoen om in die plekke van werk te mag bedien. Lees meer hier
Akkreditasiegroep
Fasiliteerder Floors Meyer is aan die woord 
6. Vrouedagbyeenkoms by Argief - regstelling
Daar is uitgewys dat dr. Petronella van Heerden erken word as die heel eerste Afrikaanse vroulike mediese dokter. Pauline Murray Pretorius, wat in die berig oor die Argief se Vrouedagbyeenkoms gemeld is, was een van die pionier vroulike dokters in die sendingveld en meer spesifiek die tweede vroulike mediese dokter wat in 1928 deur die NG Kerk in die Kaap na die sendingveld gestuur is. Sy was aanvanklik gestasioneer by Mlanda, Njassaland (tans Malawi) en in haar latere jare meesal by Nkhoma, Malawi.
GEMEENTENUUS
Henri
1. Dominee vat die langpad
Henri Meyer, leraar by Mosselbaai Moeder-gemeente, gaan binnekort weer ’n fietstoer onderneem om geld in te samel vir die Igreja Reformada en die gemeenskap in Chimoio in Mosambiek wat swaar deur die oorstromings vroeër vanjaar getref is. Die rit strek vanaf Thabazimbi in Noordwes, verby Ventersdorp, Kimberley, Victoria-Wes en Beaufort-Wes tot in Mosselbaai. Altesaam 1 391 km gaan gery word tussen 8 en 15 September, m.a.w. ongeveer 200 km per dag! Lees hier meer oor Henri se fietsritte, asook waarvoor hy telkens geld ingesamel het. Veilig ry!
Nuwe skat
 2. NG George bewaar tydkapsule vir nageslag
Chris Hattingh van George Moedergemeente skryf dat hulle bewus was van 'n tydkapsule wat ingesit is toe die kerktoring herbou is in 1906. Na aan die honderdjaarmerk in 2006 wou hy die kapsule uithaal en die inhoud vervang met nuwe items en het in 2004 begin soek na die vorige kapsule. Toe dit nie opgespoor kon word nie, is daar in 2006 'n nuwe kapsule (foto) in die voorportaal onder die vloer gebêre. Om meer te lees van hierdie uitgebreide skattejag, watter artikels in die nuwe kapsule gebêre is en om na foto's van die hele proses te kyk, klik hier. Beste wense met die soektog!
3. Orrelklanke by Bellville-Wes 
Bellville-Wes gemeente bied op Sondag 1 September om 16:00 ’n spesiale vertoning deur Music in Sacred Spaces aan. Musiekliefhebbers kan die orrel- en klarinetwerke van komponiste soos Bach, Marcello, Hess en Albinoni geniet. Eon Malan speel die orrel vergesel deur Suretha Theron op klarinet. Toegang is gratis.
NG Yzerfontein: Aanbieding deur Francois Carr 18-20 Oktober
NG Yzerfontein: Francois Carr 18-20 Okt. - klik bo
PREDIKANTENUUS
Cassie en Jenny
1. Carstens egpaar groet Vredelust
Cassie Carstens, wat op 31 Aug. emeriteer, het op 30 Junie sy afskeidspreek gelewer en demissie ontvang by Vredelust gemeente. Vorige gemeentes waar hy bedien het, is Wynberg en Stellenbosch Studentekerk en hy was van 1990-2000 die Uitvoerende Hoof van die CSV. Cassie beoog om die meeste van sy tyd te wy aan die beweging The World Needs A Father, wat in meer as 90 lande en ook in al die provinsies van Suid-Afrika aktief is. Cassie en Jenny is baie opgewonde oor hoe  hierdie beweging gesinne transformeer en kerkleiers wêreldwyd help om die nood van vaderloosheid aan te spreek. Seënwense!
Hennie
2. Hennie van Deventer ontvang eredoktorsgraad
Hennie van Deventer het verlede naweek 'n eredoktorsgraad ontvang van die Universiteit Nkhoma in Malawi. Hennie het vir baie jare op Nkhoma by die Josophat Mwale Teologiese Instituut op Nkhoma Sendingstasie klasgegee. Hy het aan die einde van Desember 2018 emeritaat ontvang, nadat hy vir 12 jaar aan die stuur van die Nehemia Bybelinstituut was. Mariëtte Odendaal van Getuienisaksie skryf: "Baie geluk met hierdie welverdiende erkenning aan jou kwaliteit bydrae tot die teologiese opleiding van ons susterskerk in Malawi, die CCAP, Hennie". Welgedaan, Hennie! Wens hom hier geluk.
GEBEDSVERSOEK
Sondag 1 September is Nasionale Biddag vir Dowes en Andri Eloff van die Dowe Familiekerk in Worcester doen 'n spesiale gebed vir al ons gemeentes.
ALGEMEEN
1. Biddag vir Dowes - 1 September
Vir meer as 138 jaar lewer die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) dienste aan Dowes en persone met gehoorverlies. NID is 'n nie-winsgewende organisasie en is afhanklik van die ondersteuning van die publiek om hul in staat te stel om voortdurend hierdie dienste soos onderrig, opleiding, sorg en maatskaplike dienste te kán lewer. Sondag 1 September is Biddag vir Dowes, en September is ook die Maand vir Dowes waartydens NID graag meer bewusmaking doen ten opsigte van Doofheid en gehoorverlies, asook die impak daarvan op mense se lewens. Vir meer inligting besoek die webwerf of stuur 'n e-pos.  
Biddag vir Dowes 1 September
2. International Bonhoeffer Congress 2020
You are cordially invited to the XIII International Bonhoeffer Congress that will be held from 19–23 January 2020 in Stellenbosch on the theme: How the coming generation is to go on living? Bonhoeffer and the response to our present crisis and hope. The congress is hosted by the Faculty of Theology and the Beyers Naudé Centre for Public Theology at Stellenbosch University, in partnership with the Department of Religion and Theology at the University of the Western Cape. Click here for the pre-final programme, information about the plenary speakers, a registration form, and suggestions for accommodation. Visit the congress website here.   
Speakers
3. Boek bekendgestel
Die bekendstelling van die boek, Religion, Film and Youth onder redakteurskap van Anita Cloete, het onlangs by die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch plaasgevind - foto onder. Boeke kan aanlyn bestel word by African SunMedia.

Skrywers
 Nathania Hendriks (skrywer), Anita Cloete (redakteur) en Jeremy Punt (skrywer) 
Logo
4. National Book Week 2-8 September
South Africa commemorates National Book Week in September. This is an initiative of the South African Book Development Council (SABDC) in collaboration with the Department of Arts and Culture. Reading statistics report that only 14% of the South African population are active book readers, and a mere 5% of parents read to their children. National Book Week is an important initiative to encourage the nation to value reading as a fun and pleasurable activity and to showcase how reading can easily be incorporated into one’s daily lifestyle. The commemoration coincides with International Literacy Day on 8 September. Source: www.gov.za/NationalBookWeek2019

Veiligheidsouerskap
Oorweeg jy dit om 'n veiligheidsouer word? Kom luister saam op 14 September om 09:00 by NG Sonstraal. 
Public lecture
Public lecture at the Beyers Naudé Centre - click above
NUUSBRIEWE
URCSA Newsletter
PUBLIKASIES
Voorblad
1. Kerkbode van 30 Augustus
In die jongste uitgawe van die gedrukte Kerkbode word gekyk na die samestelling van afgevaardigdes na die vergadering van die Algemene Sinode (6-11 Oktober in Benoni).
Twee volblaaie word gewy aan lesersbydraes oor die onderwerp van hoe en hoeveel predikante vergoed moet word ná 'n Kerkbode-peiling wat toon dat 72% uit byna 470 respondente meen die kerk moet herbesin oor hoe predikante se salarisse bepaal word.
Dana Snyman ontmoet oom Sakkie, afgetrede spoor-wegman en koster: sy agterbladstorie gaan hierdie week oor 'n kerkhorlosie op die platteland wat wél nog werk. 
Hou www.kerkbode.co.za dop vir vars nuus deur die week.

Herinnering & Verlange
EKOLOGIE
Eco booklet
Brand
2. Net dade van hoop sal Amasonebrande en aard-verwarming kan tem
Die Amasonewoude voorsien ongeveer 20% van die suurstof vir lewe op aarde en neem 'n groot persentasie van die aarde se koolsuurgas uit die atmosfeer op en tog is daar is al meer as 74 000 brande vanjaar daar waargeneem. Die kairostyd waarin ons leef kan nie dwase leierskap bekostig nie. Ons het leiers en volgelinge nodig wat die belang van al die inwoners van die aarde op die hart dra en nie nasionale-, groeps- of eiebelang nie. Lees hier verder. Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
Klik bo vir meer inligting oor al hierdie kuiergeleenthede!
VAKATURES
Vakatures op kerkbode
Kerk
1. NG Simondium Familiekerk: Leraarspos
Hierdie gemeente lê in die Paarlvallei, tussen Franschhoek en die Paarl, langs die R45. Die gemeente is 'n klein, maar groeiende geloofs-gemeenskap wat as familiekerk funksioneer. Die kerngroep van die huidige betrokke lidmate is tussen die ouderdom van 30 en 45 jaar. Hier is 'n twee jaar vastetermynleraarspos met die opsie om dit te verleng. Die sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag 20 September – lees hier verder.
Logo
2.1 Calitzdorp:
Geregistreerde verpleegkundige
Vygieshof, 'n tehuis vir bejaardes en program van Badisa, wag aansoeke in van geregistreerde verpleegkundiges.  Klik hier om meer te lees - aansoeke sluit 20 September.
2.2 Kuilsrivier: Bestuurder Maatskaplike Dienste
Badisa Kuilsrivier is 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Lees hier meer oor hierdie pos se verantwoordelikhede en vereistes en doen aansoek teen 13 September.
2.3 Huis Lafras Moolman, Rawsonville: Geregistreerde verpleegkundige
Goeie kennis van ouer persone se fisiese, psigiese en ligaamlike gesondheidstoestande en die hantering daarvan, is een van die vereistes van hierdie pos. Klik hier vir meer besonderhede en doen aansoek nie later nie as 30 Augustus.
2.4 Tulbagh: Maatskaplike werker
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag. Registrasie by die SACSSP word vereis en die sluitingsdatum vir aansoeke is 6 September. Lees hier verder

Logo
3. NG Kerk Vrystaat Vennote in Getuienis:
Uitvoerende amptenaar

Vennote in Getuienis is 'n bediening van die NG Kerk Vrystaat. Gelegitimeerde leraars in die NG Kerkfamilie word uitgenooi om vir hierdie pos aansoek te doen. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Augustus. Klik hier vir meer besonderhede.
TEN LAASTE
Sondag is Lentedag en met die koms van 'n nuwe seisoen wens ons VrydagNuus lesers 'n tydperk van vernuwing en oplewing toe. Ons gedagtes is by die Dowes en persone met gehoorverlies, hulle families en gemeentes. Luister hier na Touch of Class se weergawe van die Simon & Garfunkel treffer Sound of Silence. Ons word opnuut bewus van al ons onverdiende seëninge en voorregte.  

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser & Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.