Subscribe to our email list
 28 Oktober 2016

Beste Leser
Johan Botha (7 Julie 1950 - 21 Oktober 2016)
Saam met hom bely ons "Jesus is die Here. Ons broer, Jesus, is Skepper van alles, Versoener van alles en Onderhouer van alles." (Kol 1:12-20)
Johan Botha
SINODENUUS
1. Met opregte Medelye: Johan Botha
Vriend, geliefde kollega, mentor, raadgewer, prinsipiële denker, pastor, interpreteerder van komplekse kerklike werklikhede. Hy het wysheid gehad en kennis, vaardighede en ervaring. Diepgaande teologiese insigte. Integriteit.
Enkele woorde wat nie eens raak aan die oppervlak van hierdie besonderse kollega en mens nie. Almal wat hom geken het, is armer sonder hom.
Sedert die skoknuus oor Johan Botha se skielike siekte en afsterwe het die huldeblyke een na die ander verskyn. Ons deel graag twee daarvan: Nico Koopman, jare lange vriend en kollega verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sowel as George Rauch, vriend en kollega van Arbeidsbediening.
Aan Selma en die kinders, Maresa, Antoinette, Estelle en David, aan oom David, familie, sy kollegas en vriende: ons innige meegevoel. Ons eer sy nagedagtenis.
'n Dankdiens vind plaas op Sondag 30 Oktober om 12:00 vanuit die Kruiskerk, Stellenbosch (hoek van Ryneveld- en Victoriastraat). Die liturg is Jaco Coetsee (VGK Cloetesville), met Andrew Esterhuizen (VGK Kraaifontein) as prediker.
Nico Koopman
Nico Koopman
George Rauch
George Rauch
Jaco Coetsee
Jaco Coetsee
Andrew Esterhuizen
Andrew Esterhuizen
1.2 Argitek van Kweekhuise vir Eenheid, Versoening
"Johan Botha het, as deel van die generasie van Belhar, die onwrikbare geloof behou dat gelowiges van die een familie aan mekaar behoort. Hy was daarom een van die argitekte wat kweekhuise vir eenheid en versoening in die kerk en tussen gelowiges probeer vestig het.
Die gesamentlike Kommissie vir Getuienisaksie, sy uitreiking na medegelowiges in die res van Afrika, sy leiding in Arbeidsbediening – alles het die stempel gedra van die strewe na hereniging en genesing." So skryf Pieter Grove, VGK Kaapland se moderator, oor Johan Botha se rol in die kerk. Klik hier om verder te lees.
Pieter Grove, Nelis Janse van Rensburg, xx en Johan Botha in Nigerie
Pieter Grove, Nelis J van Rensburg, Jonathan lorkighir en Johan Botha op besoek aan Nigerië
Internasionale Strafhof
2. Publieke Getuienis
Die Sentrum vir Publieke Getuienis se bestuurspan het op Wo 26 Oktober 2016 ontmoet om in detail oor sommige van die brandende kwessies in die land te praat. Dit word duidelik gestel dat hierdie nie noodwendig die amptelike standpunt van die VGK en NGK verteenwoordig nie. Onderstaande verteenwoordig bloot die heersende gedagtegang in die span. Ons deel dit egter met gemeentes in die hoop dat dit verhelderend sal wees, midde-in die huidige kompleksiteit van ons konteks en gang van sake. Onder die sake op die agenda:
• Internasionale Strafhof
• #Feesmustfall
• Staatskaping en wegvloei van staatsfondse 

Lees die volledige verslag hier.

KGA-logo
3. Getuienisaksie
Hulp vir Nigeriese NetACT teen Korrupsie en Onreg

Op Sondag 23 Oktober 2016 het die eerste vergadering tussen NetACT (Network for African Congregational Theology), GNPT (Global Network for Public Theology) en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie by die Fakulteit Teologie (US) plaasgevind.
'n Konferensie word beplan vir Mei 2017 in Nigerië waar daar saam besin sal word oor die uitdagings van ons as Christene in Afrika. Lees meer.
NetACT-groep
Vlnr: Dr Sundag Agang (ECWA Theological Seminary Kagoro, Nigerië), dr Elias Ng’etich(Moi Universiteit, Kenia), dr Jurgens Hendriks (Universiteit Stellenbosch –NetACT), dr Tersur Aben (Theological College of Northern Nigeria), dr Dion Forster (Universiteit Stellenbosch & konferensievoorsitter), dr Olo Ndukwe (Hugh Goldie Theological Institution, Nigerië)
4. Emerititee in Suid-Kaap
Oudergewoonte het die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland en 'n gawe groep afgetrede predikante en hul gades heerlik saamgekuier op Dinsdag 25 Oktober in George. Dié uitnodiging het alle emeriti, ook diegene wat in ander sinodes afgetree het en intussen verhuis het, weduwees, sowel as dié wat die dag toevallig in die omgewing was, ingesluit.
Groot dank aan die span van die George Moedergemeente wat so gasvry en sorgsaam was: Chris Hattingh (koster), Dot Griebenauw (admin dame) en Marie Stander (verwelkoming).  Meer foto's is op Facebook.
En ons sien reeds uit na die tweede byeenkoms: op Wo 2 Nov by NG Suider-Strand.
Gerdrie van der Merwe, Leon Venter, Frits Gaum
Gerdrie van der Merwe, Leon Venter en
Frits Gaum
Emeriti en Frederick Marais
Jan van Arkel, Frederick Marais,
Johan & Mariana Botes
Emeriti-groep George
Emeriti en moderatuurslede in George
Geskenkpakkie
Bederfpakkie vir Bybelkennis!
Moderatuurslede
Moderatuurslede in George tesame
Dane du Plessis
5. Arbeidsbediening: Biblia Hawesending
'n Lewensveranderende Ervaring

Dane du Plessis van Biblia Hawesending Kaapstad, was onlangs in Manila, Filippyne, om ’n ICMA (International Christian Maritime Association) werkswinkel by te woon waartydens die Filippyne se kultuur, geskiedenis en tradisies beter leer verstaan is. Die oorgrote meerderheid van seelui wêreldwyd kom van die Filippyne en word in hawens deur geestelike werkers, soos Dane, bedien. 
Dane sluit sy verslag af met die volgende opmerking oor die Filippyne: "They are truly the salt of the earth, and their hope and faith renewed mine." Lees meer hier
6. Persverklaring oor Psigiatriese Siektes
Die moderatuur van die NG Kerk in Wes-Kaapland het op Vrydag 21 Oktober tydens sy maandelikse vergadering besluit om ’n mediaverklaring uit te reik om helderheid te bring oor die kerk se standpunt oor die hantering van psigiatriese pasiënte. 
Hierdie mediaverklaring onderstreep die besorgdheid en ontsteltenis van die sinode se Taakspan Pastorale Sorg oor die onmeetbare lyding wat oningeligte sienings en uitsprake mense wat met depressie en psigiatriese siektes worstel, besorg. ’n Multi-professionele spanbenadering word voorgehou as die geskikste manier om diegene met psigiatriese siektes te begelei en ondersteun. Klik gerus hier vir die volledige verklaring.
Jaarboek 2017
7. Predikante se Bevoegdheidsinligting vir Jaarboek 2017 
Inligting oor predikante se bevoegdheid en ander kontakinligting word jaarliks vir publikasie in die Jaarboek van die NG Kerke hersien. Predikante of sinodes kan Annari du Plessis by die kantoor van die Algemene Sinode skakel indien inligting ten opsigte van hul ABR-status verander het. Let asb daarop dat die skakel op die Algemene Sinode se webwerf tans onder konstruksie is.
Annari se kontakbesonderhede is: 
012 342 0092 of bevoegdheid@ngkerk.org.za
8. #Imagine Kidz crossing Boundaries
The first week in October has been an absolutely amazing experience. Most of the #Imagine Kidz experiences took place during this week.
It was empowering to see how each and every host had unique #Imagine Kidz experiences. Many were small crowds, and others have managed to double in attendance throughout the three days. But attendance is not all that counts.
#Imagine Kidz has made it as easy as possible for many hosts to present an #Imagine Kidz Experience, and involve the communities as much as they can. Click here. Contact Imagine Kidz at infokidz@imaginemovement.co.za.
Imagine Kidz Oktober 2016
9. Terug Kerk toe Sondag - vir Genesing en Herstel
"Die grootste geeslike versoeningsbyeenkoms ooit in Gauteng." Dit is die visie van Willem Badenhorst (Moreletapark) en Jannie Pelser (NG Gemeente Rant-en-Dal) oor die beplande massa-byeenkoms op 19 November in die FNB-stadion in Soweto. Angus Buchan sal die hoofspreker by die interkerklike saamtrek wees.
Diegene wat weens demografiese redes nie teenwoordig kan wees om hulle te verootmoedig in gebed nie, word gevra om op So 20 November in gemeentes oral in die land byeen te kom. Hier is e-Kerkbode se berig.
REFO 500
10. Reformasie 500
In 2017 vind die 500-jarige vieringe van die Reformasie wêreldwyd plaas. Om gemeentes te ondersteun in hierdie vieringe, word ‘n groot hoeveelheid materiaal deur CLF en BM ontwikkel. Dit sluit materiaal vir die Week van Gebed, Pinkster, vir kleingroepe en 'n aantal brosjures in. Die kantoor van die Algemene Sinode vestig ook die aandag op 'n aantal artikels wat REFO500 vir die Reformasie uitgewerk het.  Onderwerpe sluit in:
♦  Calvyn 'n vlugteling-sendeling
♦  'Ek kan nie anders nie.'
♦  'Omdat jy glo, sal jy lewe!'
In die Sinode van Wes-Kaapland is die taakspan gemoeid met die reëlings vir Reformasie 500 Frederick Marais (sameroeper), Pieter van der Walt, Elsje Büchner, Heerden van Niekerk en Robert Vosloo. 
Klik hier op e-Kerkbode se skakel.
11. NG Oostelike Sinodesitting
Tydens die sitting van die Oostelike Sinode (23 tot 26 Oktober by die NG Gemeente Pierre van Ryneveld in Centurion) is die volgende persone oa tot die sinodale diensraad verkies:
Dirkie van der Spuy - voorsitter (herkies)

Freddie Schoeman - ondervoorsitter
Die sinode se uitvoerende amptenaar dien as skriba. Henry van der Schyff (PSD) het dié taak aan sy opvolger, Francois Retief, oorgedra. Henry emeriteer aan die einde van Desember 2016. Seënwense aan beide Henry en Francois!

Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het Maandag by die Oostelike Sinode gepraat oor diversiteit in die NG Kerk, kerkverband en ekumeniese samewerking. Klik hier, met dank aan e-Kerkbode en Neels Jackson vir beriggewing en foto's.
Terloops: Pierre van Ryneveld (foto onder) is die gemeente waar die komende sitting van die Algemene Sinode (7 tot 10 November 2016) sal plaasvind
NG Pierre van Ryneveld
Dirkie van der Spuy en Henry van der Schyff
Voorbidding vir Dirkie van der Spuy, met Henry van der Schyff (Uitvoerende Amptenaar) langs hom
Freddie Schoeman en Dirkie van der Spuy
Freddie Schoeman (NG Gemeente Lyttelton-Oos) die nuwe onder-voorsitter van die Oostelike Sinode, saam met Dirkie van der Spuy
12. NG Sinode se Nuwe Leiers
12.1 Noordelike Sinode
Ons seënwense aan die nuutverkose moderatuur van die NG Noordelike Sinode. Hulle is: Dewyk Ungerer (moderator), James Kirkpatrick (assessor), Attie Nel (aktuarius), Paul Grobler (direkteur), Fanie Cronjé (addisionele lid), Marinda van Niekerk (addisionele lid), Johan Kruger (saakgelastigde – adviserend).
Noordelike Sinode moderatuur dagbestuur
12.2 KwaZulu-Natal
Die nuwe moderatuur vir die volgende termyn in die NG Sinode van KZN is Heinrich Theunissen (aktuarius), Barry Tolmay (moderator), Rupert de Koning (assessor) en Marlize Malherbe (skriba), onder van links na regs. In pas met hulle tema vir die volgende vier jaar, "In Christus is ons Hoop", is hierdie slagspreuk ook op die parkeerterrein uitgespel tydens die sinodesitting. Seën toegewens, kollegas! 
KZN moderatuur KZN
Sinode van Oos-Kaapland-logo
13. NG Oos-Kaapland hou Sinodesitting
Ons wens die Sinode van die Oos-Kaapland sterkte en wysheid toe vir hulle sinodesitting wat van 31 Oktober tot 3 November in Port Elizabeth by die Willows-vakansieoord plaasvind.
Prof Stephan Joubert tree as spreker by verskeie geleenthede tydens die sinode op. Daar dien verder ook belangrike navorsingsverslae oor die welstand van die predikante in Oos-Kaapland en die posisie van gemeentes.
14. VGKSA Algemene Sinode: Nuus oor Afsluiting
Nuus en 'n spesiale fotobeeld oor die afsluiting van die VGKSA Algemene Sinode, wat van 3-9 Oktober 2016 in Benoni plaasgevind het, is pas ook as pdf-dokument beskikbaar gestel.
Tydens 'n kerkdiens in Springs Indoor Center, naby die Kopanong Konferensie-sentrum, was prof Dirkie Smit die prediker. Die tema van sy boodskap was "Always give account of the hope that is in you". Klik hier vir 9 Oktober se nuusbrief. Al die nuusbriewe van die sitting is op die sinode se webwerf by Nuus - Algemene Nuus. Soek vir URCSA deur middel van die soekfunksie.

Prof Modise moderator
Prof L Modise - nuutverkose moderator
Kerkdiens tydens afsluiting van VGK Algemene Sinode
Die kerkdiens ter afsluiting van die sinodesitting - 'n geskiedkundige eerste
Prof Kritzinger
Prof JNJ Kritzinger - liturgie voorbereiding
ALGEMEEN
1. Gesamentlike Kerkleiersverklaring

Nasionale kerk- en geloofsleiers het van 19 - 20 Oktober hulle jaarlikse vergadering by die OR Tambo Internasionale Lughawe gehad. Hierdie groep, die National Church Leaders’ Consultation (NCLC) het na afloop van die vergadering ’n verklaring uitgereik waarin onder meer gefokus word op opvoeding, sosiale ontwikkeling, “economy of life”, gesondheid en persvryheid.

"We, as religious leaders have reflected on the meaning of John 10:10 in the Bible of having 'abundant live for all' in South Africa – that no-one should be excluded or left behind. The current crisis in South Africa has gone beyond the 'fees must fall' and is in fact a constitutional crisis." Die volledige verklaring is hier beskikbaar.
(Die NG Kerk is hier verteenwoordig deur Gustav Claassen, Braam Hanekom, Nelis Janse van Rensburg en Willie van der Merwe.) 
Op die onderstaande foto's is onderskeidelik min Pravin Gordhan en aartsbiskop Thabo Makgoba aan die woord.
Pravin Gordhan en Thabo Makgoba Thabo Makgoba
2. Raakgelees
Hoe reageer Kerk en Geloof op #FeesMustFall?

Vandeesweek is ons in die soveelste week van studente-opstande. Elkeen van ons ken iemand wie se kinders direk deur die gevolge geraak word.
Op 25 Oktober het die Southern African Catholic Bishops’ Conference Justice and Peace Commission in 'n verklaring voor die minister van finansies se mediumtermyn begrotingtoespraak aangedui dat hulle 'n verkleinde kabinet - met die gepaardgaande besparing op salarisse, BBP-beskerming en voordele - as oplossing vir universiteitsgelde beskou.
Intussen skryf Nelis Janse van Rensburg in 'n artikel wat onlangs in Media24 se dagblaaie verskyn het, dat die
studente-opstande gaan oor 'n stryd om deel te word van Suid-Afrika se ekonomie. Hy sluit af:
"Die twee vlakke waar die grootste bydraes gemaak kan word, sê die ekonome, is vroeë kindertydse ontwikkeling en opleiding. Die kerk sal moet mooi luister, nie net na die ekonome nie, maar veral na die Groot Barmhartige. Die versorging van kinders en opleiding klink baie na die beliggaming van die Goeie Nuus waarna ons land smag."
Ons gebede vir ons regering, kerk- en ander leiers is toenemend belangrik.

3. Hugenote Kollege hou Opedag
Op Vrydag 14 Oktober het talle voornemende studente en belangstellendes op die Wellington Kampus van Hugenote Kollege toegesak om meer uit te vind oor die kursusaanbod, moontlike verblyfopsies, asook om 'n bietjie van die kampuslewe te beleef. Kampuspersoneel het met groot entoesiasme inligtingsbrosjures uitgedeel en navrae beantwoord. Lees gerus hier verder.
Hugenote Kollge
Safety@Facebook
4. Facebook veiligheid
Hier is inligting wat moontlik vir gemeentes se kommunikasiebeamptes of -span van waarde mag wees waar sosiale media deel van julle kommunikasie uitmaak.
Facebook se gewildheid neem steeds toe en op Maandag 24 Oktober het hulle 'n nuwe "Safety Center and Bullying Prevention Hub" bekend gestel om mense se privaatheid en inligting te help beskerm.
Besoek die nuwe webwerf by Facebook.com/safety om meer uit te vind. Daar is oa 'n paar funksies om te sien hoe veilig jou inligting op Facebook is.
Netwerk24 verskaf ook vyf wenke om jou Facebook-profiel veiliger te hou. (Met dank en erkenning aan Netwerk24 oorgeneem). 
Besoek gerus die sinode se Facebook vir allerlei nuus en foto's - dis 'n maklike manier om ingelig te bly.
e-Kerk verslag oor individualisme
5. Ek, Ekker, Ekste: Individualisme
Oral sien ons tekens van 'n groeiende kultuur van individualisme onder mense. Of dit nou gaan oor "selfies", iPhones of ander verskynsels in kuns en kultuur, die eie ek vervul 'n al hoe groter rol in ons verstaan van die wêreld.
Wat is 'n goeie, gesonde Bybelse verstaan van die self? Hoe kan die Kerk hiermee help? Dit is die vrae wat e-kerk se jongste tendensverslag oor Me, Myself and I op die tafel plaas. Lees dit hier. (Met dank en erkenning aan e-kerk.)
Maitland Gemeenskapskerk
6. Orrel te koop
Maitland Gemeenskapskerk se orrel is te koop. Enigeen wat belangstel, kan Amanda Wileman kontak by 083 550 1920.
Hierdie kerk is in Voortrekkerweg 264, Maitland geleë.
GEMEENTENUUS
1. Jongmense se Kontak vir Reënboognasie

'n Ontbyt waar predikante van verskillende kontekste en denominasies ontmoet het (aangebied deur die Sentrum vir Publieke Getuienis), het onlangs gelei tot die bou van brûe tussen jongmense van omgewings so uiteenlopend soos Khayelitsha, Stellenberg, Stellenbosch, Klipheuwel en Kraaifontein.
Why Duvenage, predikant by NG Stellenberg, vertel van hierdie persoonlike kontak tussen hom en Pastoor Monwabisi van Khayelitsha, die behoefte aan kontak met ander rassegroepe, veral op kerklike terrein. Dis 'n verhaal van vertroue wat gaandeweg gevestig is, noodsaaklike insig in mekaar se wêrelde - om anders na ons sg reënboognasie te kyk.
"Ek glo die kerk moet nou belê in ’n volgende generasie leiers en dat hierdie leiers die diversiteit van ons samelewing moet verstaan en die dinamika daarvan moet benut en vier." - Why Duvenage. Lees meer.

Kontakkamp Kontakkamp 2
Tieners deel tydens kontakkamp Vriendskappe gesmee
2. NG Durbanville ontvang Wêreldberoemde Orrelis
Op Sondag 13 November 2016 tree Dub de Vries by NG Gemeente Durbanville op.  Toegang is gratis.  Vir navrae, kontak die kerkkantoor by 021 975 6370.
Orrelspeler Dub de Vries
3. NG Vasco Orreluitvoering
Steeds by die orrel:  NG Vasco nooi almal hartlik uit na 'n orreluitvoering in hulle kerk op 30 Oktober om 18:30. Vir navrae, skakel 021 591 8811.
NG Vasco Orreluitvoering
PREDIKANTENUUS
1. Bennie en Linnie Verster groet NG Goudini
By NG Goudini, Rawsonville, is op Sondag 25 September 2016 na 28 jaar van Bennie en Linnie Verster afskeid geneem. Bennie het op daardie dag demissie ontvang en emeriteer op 31 Oktober. Hy het op 3 Junie 1988 by Goudini begin as leraar en voorheen was hy by die NG Gemeente Port Elizabeth-Noord. 
Bennie en Linnie is van plan om op Rawsonville aan te bly. Linnie noem dat sy uitsien daarna om steeds, al is dit op 'n ander manier, by die gemeente betrokke te wees. Sy en Bennie beplan om te rus en hopelik meer tyd deur te bring op Paradysstrand buite Jeffreysbaai, waar hulle graag vakansie hou. Van die gemeente se kant af is Bennie oa bekend vir die wyse waarop hy ouer mense hanteer het, en die dorp se tehuis vir bejaardes was 'n groot prioriteit vir hom.  'n Gedig wat die gemeente aan Bennie opgedra het, is hier te lese - en spreek boekdele oor hulle spesiale band met hom.
Ryke seën vir julle toegebid, Bennie en Linnie.
Bennie en Linnie Verster
2. Karel en Henriette, welkom in Paarl-Vallei!
Dis lekker om Karel en Henriette van der Westhuizen hartlik welkom te heet in ons sinode as deel van  die span van die NG Gemeente Paarl-Vallei.
Karel was meer as 'n dekade by die studentegemeente op die PUK Potchefstroom-kampus, en die afgelope vier jaar by Doornpoort (Noordelike Sinode). Hulle gesin (sien die foto onderaan) het reeds iets van die warm welkom van Paarl-Vallei beleef, en sien baie uit om deel van hul geloofsfamilie te word. Karel skryf: "My passie is om voluit bewus en teenwoordig te leef - intensioneel te groei in die dissipline van geloofsonderskeiding en 'n missionale spiritualiteit. My fokus ten opsigte van bediening is gestuurde kerkwees."
Karel van der Westhuizen en gesin
Karel, Themba, Daniel en Henriette van der Westhuizen
3. Oor nalatenskap: Johan Botha gesels
As jy Johan Botha (voorheen Predikant in Sinodale Diens van Getuienisaksie, die eerste volwaardige eenheidsbediening van die VGK Kaapland en die NGK Wes-Kaapland) dalk nie so goed geken het nie, kan jy gerus oorweeg om drie minute te neem en rustig te kyk na hierdie video-opname wat kort voor sy aftrede in Mei 2015 deur Getuienisaksie saamgestel is.
Johan Botha
EKOLOGIE
Taakspan Ekologie groet Johan Botha
Vandat Johan Botha as sekretaris vir Getuienisaksie van die NG Sendingkerk (NGSK) by ds Jan Mettler oorgeneem het, het hy verstaan dat ekologie deel van die getuienistaak van die kerk is.
Hy het moeite gedoen om te sorg dat die ekologieprogramme van die Wêreldraad van Kerke (WRK) onder die aandag van die NGSK kom.  
Lees meer  - klik hier.
NUUSBRIEWE
Christelike Lektuurfonds: Help om Hoop te bring

Oktober is die mooiste maand met die natuur wat nuwe lewe toon, maar hierdie maand val die klem ook op stukkende mense: vroue wat die traumatiese pad met borskanker stap, asook diegene wat daagliks in 'n doolhof met geestesgesondheid gekonfronteer word. Beide siektes vreet aan jou menswees – die een soms net meer sigbaar as die ander.
Hoe tree ons as kinders van God op teenoor mense met fisiese en emosionele pyn? Kan hulle in ons optrede God se liefde en hoop sien en ervaar? Lees hier meer hoe jy 'n verskil kan maak in so iemand se lewe.
CLF
KUIERKANS
Geniet elke basaar, konsert en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
NG Helderberg Klassieke Klanke Konsert
NG Helderberg Konsert
30 Oktober 2016
NG Gemeente Brackenfell-Wes Basaar
NG Brackenfell-Wes Basaar
28 Oktober 2016
Badisa OneMore Familiefees
#OneMore Badisa Fees
5 November 2016
NG Bellville Moedergemeente: basaar
NG Bellville Basaar
5 November 2016
NG Wellington-Oos Basaar
NG Wellington-Oos Basaar
4 en 5 November 2016
Chrismar Pretloop
Chrismar Pretloop
2 November 2016
Alta de Toit Nasorg Klassieke Konsert
Alta du Toit Klassieke Konsert
30 Oktober 2016
NG Bothasig Voedselfees
NG Bothasig Voedselfees
4 November 2016
NG Welgemoed-logo
VAKATURES
1. NG Welgemoed: Fasiliteitsbeampte
Die NG Gemeente Welgemoed is 'n voorstedelike gemeente in Bellville met 1314 belydende en 381 dooplidmate, bedien deur vier leraars. Hier is tans 'n vakature vir 'n fasiliteitsbeampte in 'n voldagpos. Lees gerus meer oor die vaardighede, die verantwoordelikhede, werksure ensovoorts en reageer voor die sluitingsdatum van 14 November 2016. 
NG Fort Beaufort
2. NG Fort Beaufort: Leraar
Fort Beaufort is geleë in die Katriviervallei van die Amatoladistrik  in die Oos-Kaap, 215 km van Port Elizabeth en 140 km van Oos-Londen. Die gemeente het 'n vakature vir 'n leraar in 'n driejaartermyn-kontrak.
Dit is 'n missionale ontwikkelingspos met gedeeltelike sinodale befondsing. Daar is tans 200 belydende en 30 dooplidmate in die gemeente. Lees hier meer.
e-Kerkbode-logo
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Prof Dirkie Smit
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Dirkie Smit

Die Hervorming

Die hart van die Hervorming was die belydenis van die regverdiging van die goddelose. In Oktober 1517 formuleer Luther in Wittenberg dié oortuiging in 95 stellinge, gefokus op die aflaat-stelsel, as sou enigeen verlossing kon verdien. Dié belydenis het egter ook talle ánder implikasies.
In April 1518 verdedig Luther sy sieninge in wat bekend word as die Heidelbergse Disputasie. Hy munt die term “teologie van die kruis” – téénoor “teologie van glorie.” Daarmee fokus hy dié belydenis op ons kennis van God en op God se eie aard.  Die enigste manier om God te ken is aan die kruis, want só is God – radikaal anders as ons eie natuurlike gedagtes oor God en godskennis.
Hy eindig met die woorde dat God se liefde nie reageer op wat in die voorwerpe van God se liefde te vinde is nie, maar self skép wat God liefhet. Meer dramaties kan dié belydenis (van die regverdiging van die goddelose) seker nie verwoord word nie. Gods liefde bring sélf voort wat God liefhet, skép dit – en het daarom niks van enigeen of enigiemand nodig nie.
'n Geslag later sou Calvyn in Geneve beklemtoon dat Gods liefde dit inderdaad dóén, deur Gods lewegewende Woord en Gees – sodat goddeloses nooit goddeloos kan bly, die kerk nooit selftevrede kan wees, die samelewing nooit in onreg en onbarmhartigheid  mag berus nie. Volgende jaar word dié belydenis van Gods vrye regverdiging en vernuwende geregtigheid wêreldwyd herdenk, na 500 jaar.
                                                                   ***
Prof Dirkie Smit doseer sistematiese teologie by Stellenbosch en is in 2017 by verskeie herdenkings van die Hervorming betrokke.
(Sondag 30 Oktober is Hervormingsfees.)
Dankie vir u bydrae, Professor!
"Sometimes no explanation is sufficient to account for suffering.
The only decent thing is silence - and the sacraments."
- Thomas Merton 
VrydagNuus-groete. 
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za