Lees deur internet, klik hier >>
1 Februarie 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Logo
 1. Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit open op 25 Februarie!
Op Sondagaand 24 Februarie word Elna Mouton om 19:00 in die kapel van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit as kapelmeester bevestig. Maandagaand 25 Februarie word die sentrum geopen tydens 'n dinee in die Jubileumsaal. Skryf asb. vroegtydig in, aangesien die grootte van die saal getalle beperk. 25 en 26 Februarie word gewy aan verskillende konferensie-temas. Die konferensie getiteld "Rooted in Christ: Remain in me as I remain in you" begin 25 Februarie om 09:00 en eindig 26 Februarie om 13:30. Kapelgeleenthede gaan 'n deurlopende rol tydens die konferensie speel, en 'n rykdom van temas word aangespreek. Klik hier vir die temas, inskrywingsvorm en program.
Nelis Janse van Rensburg
 2. Verwelkomingsboodskap vir 2019
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderatuur, stuur ’n inspirerende boodskap vir gemeentes. Volgens Nelis sal 2019 talle uitdagings bied, maar terselfdertyd ook geleenthede vir ons om getuienis te lewer en ’n verskil te maak. "Ons as gelowiges kan 'n geweldige rol speel in Suid-Afrika om die vrede van Jesus Christus uit te dra in ons samelewing." Klik hier om na die kort boodskap te luister. 
Familie
3. Jeugbegeleiding:
Familie Netwerk

Die Familie Netwerk is 'n groep mense wat saam oor Jeug en Familiebediening dink. Daar word elke tweede maand bymekaar-gekom om saam te gesels en kreatiewe maniere te vind om ons jeug en families te bedien. Dit is 'n oop groep en almal is welkom! Die volgende byeenkoms vind op Donderdag 7 Feb. plaas. Kontak Maryke vir meer besonderhede. 
Wupperthal
4. Wupperthal hulpfonds 
Diaconia bied 'n geleentheid vir gemeentes om deel te wees van die heropbouproses in Wupperthal, 'n dorp wat onlangs onder verwoestende brande deurgeloop het. Meer as 50 huise, 'n kliniek, skoolkoshuis,  stadsaal en meer is deur die brand in puin gelê. Gemeentes en individue word genooi om 'n bydrae te maak tot die Sinodale Rampfonds vir die heropbouproses. Lees hier verder hoe Nioma Venter (PSD: Diaconia) skryf en hoe ons kan help. 
Foto:  BrianEngelPhotography
Logo
5. Sentrum vir Publieke Getuienis
Uitdagings in onderwys bespreek
Op Saterdag 26 Januarie het die WKOD ’n onderwysindaba belê om in diepte na die uitdagings in ons provinsie te kyk. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het dit bygewoon en skryf soos volg oor hierdie byeenkoms: "Sewe spreekwoordelike 'reuse' is bespreek: die invloei van ’n ekstra 25 000 leerders in 2018 alleen (dit beteken 25 nuwe skole), die groeiende voorkoms van dwelms en alkohol, geweld en vandalisme, 'n algemene gebrek aan dissipline by skole en die onbetrokkenheid van ouers. Die vraag is ook gevra oor hoe ons na relevante kwaliteit onderwys kan beweeg en hoe ons diversiteit en inklusiwiteit in ons skole kan verhoog. Daar is veral ook oor die kerk se rol gepraat." Lees hier verder
ECCOC-lede
Lede van ECCOC (Electoral Code of Conduct Observer Commission) het op 29 Januarie vergader saam met verteenwoordigers van politieke partye om die gedragskode van vanjaar se nasionale verkiesing te bespreek. Die gesprek het plaasgevind onder die leierskap van Aartsbiskop Thabo Makgoba  - op die foto tweede van links in die voorste ry. Langs hom staan Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis en lid van ECCOC) saam met die onderskeie verteenwoordigers.
Joseph Philander
7. Arbeidsbediening Weskus verwelkom pastorale werker
Hiermee verwelkom ons pastoor Joseph Philander as geestelike werker van Vredenburg in die plek van Landa Bester nadat sy 'n voltydse betrekking by 'n plaaslike gemeente aanvaar het. Joseph was in 2018 'n vrywilliger by IMSA (Industrial Ministry SA), maar is gevra om die bediening voltyds te lei. Lees hier meer en wens hom gerus sterkte toe by josephphilander@yahoo.com.
8. CCAP Nkhoma in Malawi verwelkom Slingerlands
Hennie Smit, voorheen werksaam as bestuurder van ons susterskerk, die CCAP Nkhoma Sinode se Department Waterwese en Omgewingsorg op Nkhoma Sendingstasie in Malawi, het die afgelope twee weke teruggekeer om Jaco en Anna Slingerland van Nederland daar te gaan ontvang. Nadat die Smitte verlede jaar, na 35 jaar diens op Nkhoma, afgetree het, is Jaco vir die volgende 18 maande in Hennie se plek aangestel. Sy vrou, Anna, werk as konsultant by die projekbestuur en bemarking van Nkhoma Hospitaal. Lees meer hier.
Slingerlands en Hennie
Jaco en Anna Slingerland by Hennie Smit (regs)
VBO-boekie
9.1 Twee VBO-kursusse van 5-7 Februarie
Van Communitas ontvang ons nuus van twee kursusse:
♦ Missionaliteit as entrepreneurskap vir die kerk in konteks: Praktiese uitleef van geloof (Nico de Klerk) - klik hier.
♦ Egskeidingsherstelkursus opleidingsgeleentheid - klik hier.
Die aanbieder is Guillaume Smit.
Let op: Die sluitingsdatum vir inskrywings is 1 Februarie. Volg die skakels bo om meer van elke kursus te lees en om die inskrywingsvorms af te laai.
9.2 LW! Bygewerkte VBO-boekie
VrydagNuus het in die laaste uitgawe van 2018 reeds oor die VBO-boekie berig, maar daar is intussen heelwat veranderinge aangebring. Klik hier vir die nuutste weergawe en deel dit gerus met ander belangstellendes.

Brugkursus 2019
Brugkursusdatums 2019 - klik bo
Geloofsbriewe
Grafika
 12. Is jy getel?
Die NG Kerk in SA se finansiële jaar eindig op 28 Februarie.  Vir kerkkantore beteken dit ’n klomp werk:  geouditeerde finansiële state, afskrifte van doop- en lidmaat-registers asook die “Vorm vir Kerklike Statistiek”.  Gelukkig help rekenaar-programme om meestal kinderspeletjies van hierdie vorms te maak.  
Een van die syfers, wat nog meestal met die hand verkry moet word, is kerkbywoning.  Gemeentes word gevra om elke Sondag in Februarie almal te tel wat ’n erediens van die gemeente bywoon. ’n Gemiddelde bywoningsyfer word dan bereken.  Maak dus seker dat jy ’n erediens bywoon sodat jy getel kan word!  Kerkrade moet ook seker maak dat hulle ’n betroubare wyse vind om die telling te doen.  Ons nooi gemeentes om hulle metodes van telling met ons te deel.

GEMEENTENUUS
Kolwyntjie
1. Veels geluk, liewe gemeente ...
Ons vier in Februarie graag die volgende gemeentes se verjaardae:
George Moedergemeente Februarie 1813
Franschhoek 7 Februarie 1845 
Fraserburg 24 Februarie 1851
Ladismith 10 Februarie 1851
Calitzdorp 22 Februarie 1873
Porterville 25 Februarie 1879
Herold 1 Februarie 1910

Buffeljagsrivier 7 Februarie 1956
Drakenstein 27 Februarie 1962
De Tyger 15 Februarie 1968
Boesmanland 1 Februarie 1975
Durbanville-Bergsig 10 Februarie 1982
Tableview 28 Februarie 1986
Parow-Welgelegen 7 Februarie 1988
Riebeek Valley Community Church 25 Februarie 2006
Die Gemeenskapskerk 25 Februarie 2006 

Onthou: as daar enige veranderinge aan hierdie inligting gemaak moet word, kontak asb. die Kerkargief by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923. 
Koor
2. Canticum Novum koor vier 60 j.
Canticum Novum is een van die oudste kore in Suid-Afrika en vier vanjaar hulle 60ste bestaansjaar.  Die koor is verbonde aan die NG Moederkerk Stellenbosch en is die enigste koor in Suid-Afrika wat hoofsaaklik gewyde musiek sing en terselfdertyd oorwegend uit studente en jong werkendes bestaan. Die huidige dirigent, Yolanda Botha, orrelis van NG Helderberg in Somerset-Wes, reken: “Ek voel geëerd om deel te wees van hierdie wonderlike koortradisie en glo die koor sal sy leuse: Cantate Domino Canticum Novum (sing tot die Here 'n nuwe lied) vir nog 'n verdere 60 jaar en meer kan uitleef.”  Canticum Novum hou oudisies op 5,6 en 12 Februarie.
Kontak canticumnovumstb@gmail.com of skakel 079 157 8247.

God se kinders
3. Ceresvallei se Bybeluitdaging
CLF skop 2019 af met ʼn nuwe uitdaging aan al ons geloofs-gemeenskappe. NG Kerk Ceresvallei het die inisiatief geneem om ʼn uitstalling van die Storieboekbybels in hul liturgiese ruimte te hou en binne 40 dae die Bybels geborg te kry en aan kinders in hul gemeenskap te versprei.
Jandré Viljoen van Ceresvallei daag alle Christelike kerke en families uit om dieselfde te doen! Bybels wat deel is van die projek is nou teen ʼn spesiale afslagprys beskikbaar by CLF. God se Kinders kos R70, Vertel my meer R35 en die Ja! kleuterreeks R75 vir vyf boekies. Kontak CLF by 021 873 6964 of stuur ʼn e-pos aan order@clf.co.za vir bestellings. 
Wellington-Oos Week van vernuwing 3-5 Feb.
NG Wellington-Oos se Week van vernuwing 3-5 Feb. - klik bo
UIT ONS RINGE
Ringe
Huweliks- en verhoudingsbediening
Die doel van die huweliks- en verhoudingbediening is om leraars by te staan met huwelikskategese, huweliksvoorbereiding en huweliks-verrykingsprogramme vir persone wat gaan trou. 
Paartjies wat huweliksvoorbereiding wil deurloop, kan Francois Swart vir meer inligting kontak by 082 781 6854. Hierdie is 'n inisiatief van die Ring van Durbanville - almal is welkom. Klik hier vir die skedule vir 2019.
PREDIKANTENUUS
Groblers
1. NG Leeu-Gamka groet Jaques en Beulah Grobler
Ons beste wense vergesel Jaques en Beulah Grobler, voorheen van die NG Gemeente Leeu-Gamka, wat 'n beroep aanvaar het na NG Sondagsrivier (Kirkwood) in die Sinode van Oos-Kaapland. Jaques het op Kersdag sy afskeidskpreek by Leeu-Gamka, en op 13 Januarie sy intreepreek by Sondagsrivier gelewer. Alhoewel Jaques swaar afskeid geneem het van die mense van Leeu-Gamka, sien hy uit om in die nuwe gemeente te werk. Baie seën aan Jaques en Beulah op die nuwe paaie wat voorlê.
2. Drie geslagte by bevestiging byeen
Tydens 'n spesiale geleentheid op 13 Januarie by die NG Gemeente Wellington is Lourens Bester bevestig. Sy pa, Peet Bester (leraar by NG Franschhoek) het die bevestiging hanteer en sy oupa, Christo Alheit (emeritus leraar en voormalige saakgelastigde van die sinode), het die bevestiging met 'n gebed afgesluit. Lourens se oupagrootjie, ds. WA Alheit, was vanaf 1951 - 1954 ook 'n leraar by NG Kerk Wellington. Op die foto onder is die drie geslagte predikante bymekaar. Ons wens Lourens en sy familie Gods rykste seën toe.
Lourens en familie
Melissa en Dewald
3. Gordonsbaai ontvang Melissa Ellis
Melissa Ellis het onder die sinode se internskapprogram op 1 Januarie by die NG Gemeente Gordonsbaai begin werk. Haar intreepreek en bevestiging was op 13 Januarie in die gemeente se Lofsentrum en haar verloofde, Dewald Hoffmann van NG Richmond, het haar bevestig. Baie seën vir jou, Melissa!
Engelbrechts
4. NG Swellendam verwelkom Lounette Engelbrecht
Lounette Engelbrecht het op 14 Januarie amptelik in diens getree by die NG Gemeente Swellendam. Sy word bevestig en lewer haar intreepreek 09:30 op Sondag 3 Februarie en tydens dieselfde geleentheid sal Gawie Gouws die bevestiging waarneem. Lounette is getroud met Hendrik en hul het vier kinders – op die foto v.l.n.r. is Maritz (9), Hendrik, Lounette en Jan-Hendrik (13). Voor sit Mila (12) en Erasmus (9). Lees hier verder hoe Lounette skryf oor haar nuwe pos. Ons wens vir haar en haar gesin alle voorspoed toe.
Nels
5. Quintin Nel sluit aan by NG Heidelberg 
Ons verwelkom graag vir Quintin en Kryska Nel as deel van die NG Gemeente Heidelberg, waar Quintin op Sondag 27 Januarie deur kollega Heinie Vermeulen in hierdie gemeente as leraar bevestig is.  Quintin was vantevore by NG Despatch, Hofmeyr en Makwassie in die Noordwes Provinsie. Saam met die nuwe provinsie en gemeente, sien Quintin en Kryska uit na die koms van hul eersteling dogtertjie in Maart. Klik hier om meer te lees.
Mag dit 'n geseënde en spesiale nuwe hoofstuk vir hierdie gemeente en die Nels wees.

GEBEDSVERSOEKE
Gebed
ALGEMEEN
Hugo van der Linde
1. In Memoriam
Dr.HH (Hugo) van der Linde
(22.08.1961- 27.01.2019) 

Ons het met leedwese verneem van die skielike afsterwe van Hugo van der Linde van die Hoëveld Sinode. In 'n artikel wat in e-Kerkbode verskyn het, beskryf Nelis Janse van Rensburg sy onverwagse dood as 'n reuseverlies. Hugo was lank betrokke by die Algemene Sinode Moderamen en het tot 2018 as voorsitter van die Hoëveld Sinode se Sinodale Dienskommissie Dagbestuur gedien. Ons innige simpatie gaan aan sy vrou Charlotte en hulle kinders. Klik hier om die volledige berig wat in e-Kerkbode verskyn het, te lees. 
Fakulteit Teologie
2. Fakulteit Teologie, US
2.1 Teologiese Dag en openingserediens

U word vriendelik genooi na die Teologiese Dag, wat die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US), inlei. Dit vind plaas op Ma. 4 Februarie van 09:00 tot 12:30 in die Attie van Wijk Ouditorium by Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch.
Die tema vir vanjaar sluit aan by die fokus dat ons met trots 'n Afrika-gemeenskap, 'n Afrika-teologiese fakulteit is: Teologie van en vir Afrika: Ons klaagliedere, stryd en hoop. Die hoofspreker is prof. Tinyiko Maluleke, toonaangewende en internasionaal erkende navorser in godsdiens en politiek, asook swart en Afrika-teologieë. Klik hier vir meer sowel as die program.
Let asseblief op dat die openingserediens verskuif na Wo. 6 Februarie om 12:30 in die Attie van Wijk Ouditorium, Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch. Almal welkom!

2.2 Seminaar met Paul N. Anderson
Op 6 Februarie van 14:00 tot 15:00 praat prof. Paul N Anderson (foto onder) oor die onderwerp: "Jesus and Peace: Not in the Name of my Religion!” Die seminaar word gehou in K. 1003, Fakulteit Teologie, US en word aangebied deur die Nuwe Testament departement. Klik hier vir meer besonderhede en kontak Marieke met navrae.
Sprekers en logo
Marthè Hesselmans en Paul N Anderson
2.3 Gesprek en boekbekendstelling met Marthè Hesselmans
Almal word genooi na 'n gesprek oor multi-kulturalisme ingelei deur Marthè Hesselmans. Haar boek, “Racial Integration in the Church of Apartheid” word ook tydens die geleentheid bekendgestel. Die gesprek vind plaas op Dinsdag 19 Februarie  in die kapel, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, van 13:00 – 15:00. RSVP voor 15 Februarie 2019 by Helette. Klik hier om meer oor die spreker te lees.
Boerak en toga
2.4 Skenkings steeds welkom, asb.!
Amanda van Niekerk (Kweekskool, Stellenbosch) rig weer 'n dringende versoek vir boeke vir die Stofrak. Die nuwe jaar het afgeskop en studente soek boeke vir projekte en studies. Dit sluit énige boeke in, nie net teologiese publikasies nie. Skenkings van togas sal ook verwelkom word. Die togas word nuut gemaak en geskenk aan studente wat dit nie kan bekostig om een te laat maak nie. 
Opregte dank aan elkeen wat op die vorige versoek vir boeke en togas gereageer het. Kontak Amanda (K 1009, Fakulteit Teologie) by 021 808 9138 of via e-pos  of  indien jy kan help met hierdie verdienstelike projekte. 
Logo
3. Brightstar Lifeskills aangebied
Op 25 en 27 Februarie en 1 Maart word hierdie VBO-geakkrediteerde program vir predikante by die NG Gemeente Bellville-Uitsig aangebied.
Maatskaplike werkers, onderwysers en skoolhoofde kan ook CPD-punte verdien. Die kursus fokus daarop om jou doelgerig en uitnemend te laat leef en 'n groter impak te hê. Die sluitingsdatum is 18 Februarie. Klik hier om meer te lees.

Geskrif
4. Deeltydse Kursusse
Teologie & Kerklike Bediening; Bybelse Hebreeus  

’n Sertifikaatkursus in Teologie en Kerklike Bediening wat reeds 13 jaar by Bellville-Uitsig kerk aangebied word, vind weer vanjaar op Donderdagaande plaas. Die klasse het reeds begin, maar belangstellendes kan inskryf tot 14 Februarie.
Die kursus bestaan uit twee afdelings wat albei by die Universiteit van Pretoria geakkrediteer is. Studente wat die kursusse voltooi, ontvang sertifikate in Teologie van die UP.  Die studienotas is in Afrikaans en in Engels beskikbaar. Lees hier meer oor beide kursusse en kontak gerus vir Pieter Els met navrae by 083 285 2617.
Gebrande aarde
5. Raakgelees
Kogelbrande en meer

Twee artikels het verlede week uit die pen van Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis in onderskeidelik Die Burger en Kerkbode verskyn rakende die talle brande wat ons die afgelope tyd teister. Ernstige vrae oor die pad vorentoe word gevra. Die kerk word ook opgeroep om dieper na te dink oor hierdie situasie. Klik hier vir die artikel soos dit verskyn het in Die Burger en hier vir die Kerkbode-artikel. Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202 met navrae. Foto: Facebook
PUBLIKASIES
1. CLF bied Padkos reeks aan as bieliepak
Die Padkos reeks, geskryf deur Attie Beetge, is nou as 'n bieliepak beskikbaar teen 'n spesiale prys. Ockert Struwig skryf van hierdie reeks: "Die Padkos reeks bevat werklik goeie Woord-ontleding en toepassing en is absoluut die moeite werd om te bemark as 'n geskenkpak of selfs een-een. Ek beveel dus graag die Padkos reeks ten sterkste aan!"
Om te bestel, stuur 'n e-pos of koop dit aanlyn hier
Geloofspeelboek
2. Bybel-Media kinderboek
Nuut op die rak by Bybel-Media is die Geloof-speelboek vir kinders wat wil skep, speel en leer. Die 24 kort Bybelstories en aktiwiteite help ouers om met kinders van 4-8 jaar oud te gesels oor geloof. 
Deur stap-vir-stap-riglyne en prentjies kan hulle ook self die aktiwiteite voltooi. By elke aktiwiteit is daar ʼn lys van alles wat die kinders sal nodig hê. Beskikbaar teen R140.  Klik hier vir aanlyn bestellings. Bybel-Media is die sinode se amptelike mediavennoot.  Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210 of stuur jou bestelling per e-pos na bestel@bmedia.co.za.
LiG Feb. 2019
3. Februarie se LiG-tydskrif berig:
♦ oor entrepreneurs en God in die sakewêreld;
♦ h
oe ware geloof lyk;
♦ hoe Nadia Beukes oor ma-wees voel;
♦ oor huisgodsdiensidees vir klein en groot kinders;
♦ hoe gelukkig getroudes hul beginverhaal vertel;
♦ hoe Elsabe Aldrich inspireer en
♦ oor wat om te doen as jy nie jou werk geniet nie.
Om nog van LiG se puik Christelike inhoud te lees, besoek www.lig.co.za.
4. Jongste Bybelkor-publikasies
Van Bybel-Media ontvang ons inligting oor Van wanhoop na hoop. Hierdie publikasies wil jou help om jou uitkyk op die lewe na die opgestane Christus te verskuif, om deur sy oë na jouself en die wêreld rondom jou te kyk, en om God dan toe te laat om hierdie wêreld deur jou te verander. Daar is  'n leiersgids en gespreksgids en behels die volgende:
• riglyne vir kleingroepleiers en kleingroepe
• ses preke oor hoop wat by die kleingroeptemas aanpas (GRATIS)
• ʼn nuwe lied wat spesiaal oor HOOP geskryf is
• riglyne vir hoe om ʼn veldtog te organiseer
• riglyne vir hoe om kleingroepleiers toe te rus.
Skakel 0860 26 33 42, stuur jou bestelling per e-pos of koop op die webtuiste.
Gemeentes wat nog nie Jaarboek 2019 bestel het nie, kan onder klik.
Leiersgids Gespreksgids Jaarboek 2019
EKOLOGIE
1. Malawi se Bamboesrevolusie
Die realiteit van klimaatsverandering is verreikend en die Afrikavasteland bly besonder kwesbaar.  Nuwe innoverende maniere word bedink om hierdie ekologiese probleme te beveg.  Malawi het byvoorbeeld sedert 2001 bykans 10% van hulle natuurlike oerwoude verloor, maar danksy baan-brekerswerk deur Grant Blumrick se AfriBam projek word daar deesdae van die aan-planting van reusebamboes gebruik gemaak om die impak van klimaatsverandering aan te spreek. Malawi is een van 27 Afrikanasies wat hulself verbind het tot die restourasie van meer as ’n miljoen hektaar se ontboste landskap as deel van die African Forest Landscape Restoration Initiative (AFR100). Lees hier verder en kyk die video bo.  
Aardbol
2. Ekologies is 2019 'n kairos-jaar!
Ekologies-gesproke is 2019 'n kairos-jaar. Ons sal buitengewone veranderinge in ons lewensgewoontes moet aanbring. Lidmate, gemeentes en kerkvergaderings behoort klimaatsverandering 'n prioriteit op hul agenda te maak.
Lees meer hier. Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
BEHOU DIE HUMOR
Grappie
KUIERKANS
Kuierkans
Klik bo om meer te lees.
Versoek
VAKATURES
Kerkbode vakatures
Logo
1. NG Gemeente Melkbosstrand: voltydse leraar
Die NG Gemeente Melkbosstrand is 'n kultureel en spiritueel gediversifiseerde plattelandse gemeente met ongeveer 1 350 belydende en 374 dooplidmate. Hier is 'n vakature vir ’n voltydse leraar. Kry meer inligting oor die gemeente, die leraarsprofiel, vergoeding en aansoekproses hier. Aansoeke sluit 15 Maart 2019.
Stellenberg-logo
2. NG Stellenberg: administrasiebestuurder
Die persoon wat hierdie pos sal vul, sal oorhoofs verantwoordelik wees vir die bestuur van die gemeente se personeel en fasiliteite. Bewese bestuurservaring is 'n vereiste. Werksure is van 08:00 tot 15:00 Maandag tot Vrydag.  Stuur 'n CV met drie verwysings per e-pos aan Marguerite Bester teen 8 Februarie 2019.
Logo
3. Huis De Kuilen: Geregistreerde verpleegkundige
By hierdie Badisa tehuis vir bejaardes in Kuilsrivier is 'n betrekking vir 'n geregistreerde verpleegkundige. Aansoekers moet geregistreer wees by SARV, goeie menseverhoudings kan handhaaf sowel as oor kennis van die versorging van bejaardes beskik. Klik hier vir meer besonderhede en doen aansoek teen 15 Februarie.  
Logo
4. Bybelsentrumbeampte - 5/8-pos
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika beskik oor 'n vakature vir 'n Bybelsentrumbeampte by die Bybelwinkel in Bellville. Die aangewese persoon moet onder andere oor deeglike ervaring van boekeverkope beskik. Stuur aansoeke met 'n CV teen 8 Februarie via e-pos  aan personnel@biblesociety.co.za.
TEN LAASTE
ten laaste
Ons hoop dat u die eerste VrydagNuus van 2019 geniet het. 
Kerklike kommunikasie gaan oor getuienis en VrydagNuus wil graag berig oor die getuienis van ons gemeentes.  Ons weet dat ons kerkgemeenskap daadwerklik besig is om in die naam van Jesus Christus wonderlike werk te doen en wil sulke stories in VrydagNuus uitlig.  Ons sien uit na u bydraes.
“Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig en die getuienis handel oor sy Seun.” (1 Johannes 5:9)
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.