16 Dae van Aktivisme teen Gendergebaseerde Geweld
16 Dae van Aktivisme teen Gendergebaseerde Geweld
Lees deur internet, klik hier >>
26 November 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
16 Dae van Aktivisme en Wêreldvigsdag
Dit is tans die 16 Dae van Aktivisme teen Gendergebaseerde Geweld. In die lig daarvan en die vlaag van geweld teen vroue en kinders in ons land - wat ons president as ‘n tweede pandemie verklaar het - is dit belangrik om dié saak juis in hierdie ruimte waar ons as gelowiges saam is, op die tafel te sit.
Bianca Truter-Botha en Juanita Greyvenstein van die Taakspan Gendergeregtigheid het hierdie liturgiese voorstel saamgestel en vertel die verhaal van Tamar - die tragedie wat tyd omspan. "Ons verwag dat die kerk ‘n ruimte moet wees waar ons gerusgestel, gevoed en verkwik word, eerder as uitgedaag en gekonfronteer. Natuurlik is dit ook nodig en wat hierdie ruimte dikwels vir ons bied, maar is die erediens nie juis ook ‘n ruimte waarbinne ons as gelowiges saam probeer sin maak van ons wêreld en waar ons dit wat ons bekommer voor God wil bring nie?" skryf hulle. Lees die volledige preekvoorstel hier.
The future lies in ecumenical and interdisciplinary collaboration
The need for an interdisciplinary approach was identified as fundamental to social reform during a recent ecumenical conference hosted at the Andrew Murray Centre for Spirituality in Wellington. A key take-out was that the church needs to have a united voice when addressing social development, specifically in view of the economic landscape of South Africa and unemployment.  
Representatives from the Catholic Bishops Conference, the Dutch Reformed Church of South Africa, the Church Council for Social Services, SA Council of Churches, Western Cape Council of Churches, Methodist Church, Anglican Church, Uniting Presbyterian Church, Western Cape Industrial Ministries, Community Education through National Collaboration and Enablement (CENCE), Lutheran Church, Uniting Reformed Church in Southern Africa, the School of Social Innovation of Huguenot College and the Ecumenical Foundation of South Africa attended the conference. Keynote speakers included Rulof Burger from the Department of Economics at the University of Stellenbosch and dr Kate Philip, programme lead for the Presidential Employment Stimulus Initiative.
The event was a follow-up on the 2019 conference hosted by the Dutch Reformed Church in partnership with the Konrad Adenauer Stiftung to investigate the role of the government and civil society in social development. “The need for interdisciplinary collaboration between government, academics, religious bodies and faith-based welfare organisations are becoming critical. It is a recurring theme that is continuously being placed on the table. An integrated approach between theology and social services stands at the epicentre of this discussion. Networking, collaboration and social innovation are essential to consolidate the capacity within the church if we want to make a more significant contribution,” says Nioma Venter.
Click here to read Kerkbode’s coverage of the conference.
Photo: Father Hugh O'Connor, Sister Phuthunywa Siyali and Bishop Sithembele Sipuka from the SA Catholic Bishops Conference with Nelis Janse van Rensburg (2nd from left) and Renier Koegelenberg from the Ecumenical Foundation of South Africa (right).
Nuwe SAFCEI Raad
Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) en Shaun Cozette (Anglikaanse Kerk) is die week as voorsitter en ondervoorsitter van die SAFCEI Raad verkies. Braam vertel dat SAFCEI (Southern African Faith Communities' Environment Institute) 'n multigeloofsorganisasie is wat bewustheid, begrip en optrede oor eko-geregtigheid, volhoubare leefstyle en klimaatsverandering in Suider-Afrika verhoog.
"SAFCEI bemagtig gemeenskappe en geloofsleiers om 'n aktiewe rol in omgewingsbewaring te speel. Opleiding en projekte word tot sover as Kenia en Malawi gedoen. Internasionale befondsing uit Duitsland, Swede, Noorweë en die VSA maak dit alles moontlik. SAFCEI was al by groot omgewingslitigasie betrokke soos die hofsaak oor Jacob Zuma se kernkragooreenkoms wat gestop is. Ander groot fokusareas is voedsel, klimaatsverandering, die verlies aan biodiversiteit, energie, grond, water en 'n waardige hantering van diere." 
Klik hier om meer oor hierdie groen geloofsorganisasie te lees. 
#GROEI in Khayelitsha
Die Hoop en Versoening Trust ondersteun Zendalo Organics and Projects se projekte in Khayelitsha deur saad te skenk. Hulle is ‘n wonderlike instansie wat betrokke is by groentetuine.
Hierdie organisasie is in 2018 gestig om te help met die verbetering van voedselsekuriteit en om die landbou- en boerderyvaardighede van mense in arm gemeenskappe te ontwikkel. Dit is vir Zendalo Organics belangrik om eers opleiding oor tuinmaak aan gesinne te bied voordat saad aan hulle gegee word. Met behulp van WhatsApp-groepe, bly hulle ook deurlopend in kontak met die huishoudings om seker te maak dat hulle die nodige ondersteuning kry wanneer uitdagings soos peste opduik.
Zendalo Organics and Projects vertel verder dat hulle hoofdoel in hierdie lewe is om ander te help. “Mense wat vasgevang is in armoede het nie voortdurend toegang tot iets om te eet nie. Voedselveiligheid is een van die vele redes waarom dit belangrik is vir Suid-Afrikaners om hulle eie kos te kweek. En natuurlik proe tuisgekweekte groente beter! Groentetuine bemagtig ook die jeug met verdere vaardighede en verskaf broodnodige buitemuurse oefening. Ons hoofdoel bly voedselsekerheid; individue met groentetuine het altyd toegang tot voldoende, veilige, voedsame kos om 'n gesonde en aktiewe lewe te handhaaf.” Klik hier om meer oor hierdie projek te lees. 
DinkJeug se Adventpakkie
DinkJeug het 'n vindingryke Adventspakkie geskep om gesinne te help om saam op die Adventreis te gaan. Daar is wenke en idees om die groot geskenk van Kersfees te ontdek.
Weeklikse leesstukkies, gebedsblokke en doengoed maak dit ideaal vir gesinne. Laai dit gerus van hulle webblad af of kry dit op die DinkJeug app in die Google Play of Apple iStore-winkels.
Kinder- en jeugwerkers vorm ‘n netwerk
Twee-en-twintig kinder- en jeugwerkers het Maandag 22 November saamgekom by die NG Gemeente Durbanville-Bergsig om te gesels oor jeugbediening na die COVID-tyd. Die Taakspan Jeug- en Familiebediening het die oggend gereël en taakspanvoorsitter Christi Thirion was die spreker. Hy het beklemtoon dat jongmense in hierdie tyd ‘n behoefte aan dissipelskapverhoudings en egte verhale het om hul identiteit te vorm. Almal het ook geleentheid gehad om idees uit te ruil en oor hulle eie konteks te gesels.
Die kinder- en jeugwerkers het besluit om ‘n netwerk te vorm wat gereeld bymekaarkom om ook idees en hulpmiddels uit te ruil. As jy weet van ‘n kinder- of jeugwerker (deeltyds of voltyds) wat van hierdie netwerk wil deel wees, kontak jeug@kaapkerk.co.za.
Arbeidsbediening baat by Konferensie oor Sosiale Hervorming
Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, het verlede week die National Ecumenical Conference on Social Reform in Wellington bygewoon. Daar was afgevaardigdes van sewe denominasies teenwoordig. Tydens dié drie dae is daar ernstig besin oor die bydrae wat die kerk tot werkskepping en indiensneming in Suid-Afrika kan maak.
Lees meer oor wat die konferensie behels het en wat dit vir Carin beteken het. 
KIX vat hande met Little Seeds
KIX Kinderbediening stel elke jaar ‘n fondsinsamelingsprojek bekend. Die 2020/2021 projek was “SmartKIX” en KIX-groepe van oral oor het fondse ingesamel (R25 689) om Kinderbybels en kleutermateriaal aan Little Seeds VKO-groepies te skenk. Op Maandag 22 November het die KIX-span die voorreg gehad om die skenking aan die span van Little Seeds te oorhandig. Baie dankie aan elke gemeente en KIX-groep wat deel het aan hierdie besonderse bydrae!
Foto van links na regs: Lizl Botha (KIX medewerker), Erika Hougaard (Little Seeds programbestuurder), Maryke Fourie (KIX), Elrika Esterhuizen (KIX voorsitter), Sulet Brümmer (KIX), Nicola Vermeulen (Little Seeds leesgroep koördineerder), Colleen van Eeden (KIX), Nioma Venter (PSD: Diaconia) en Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Families).
GDN in gesprek
Barnard Steyn van die NG Kerk Vrystaat nooi belangstellendes om deel te neem aan die volgende gespreksessie van die Gemeente Dienste Netwerk (GDN). Die Zoom-sessie vind op 2 Desember van 09:00 tot 15:30 plaas. 
Klik hier vir die program en lys van aanbieders. Kry die Zoom-skakel hier en registreer met ID 853 1887 1123 en wagwoord 197999.
VGK Victoria-Wes skop af met geloofsonderskeidende proses
Stephen Pedro, taakspanbestuurder van Gemeentegetuienis, was die afgelope naweek op besoek aan die VGK Victoria-Wes waar hy die eerste van drie werkswinkels gefasiliteer het en ook Sondag die erediens waargeneem het. Proponent Zolani None het hom as fasiliteerder tydens die werkswinkel bygestaan. Die ervaring was vir beide van hulle ’n besondere belewenis en hulle is geïnspireer deur hoe die gemeente, ten spyte van baie ontberinge en uitdagings, steeds as kerk getrou probeer bly aan hul roeping. Lees meer van hulle besoek hier.  
Foto: Stephen Pedro in die middel voor (met die ligblou hemp) en prop. Zolani None skuins agter hom (met die liggrys T-hemp) saam met die VGK Victoria-Wes se kerkraadslede wat die werkswinkel bygewoon het.
EKOLOGIE
COP26-opsomming
Dewald Hoffmann van ons Groenspan was so gaaf om vir ons ‘n opsomming van die afgelope COP26-byeenkoms te maak. Dit het vanaf 31 Oktober tot 11 November in Glasgow plaasgevind en was ’n poging om in meer konkrete terme ’n aksieplan teen klimaatsverandering en ekologiese verweer van ons planeet vas te lê. Hier kan ons kortliks sien wat die klimaatooreenkomsbesluite alles behels, wat die goeie uitkomstes van die konferensie was en wat die negatiewe punte daarvan is. Kyk gerus na hierdie video en beïndruk die mense om die vleisbraaivure die naweek met jou ekologiekennis. 
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Ons kerk op besoek aan susterskerk in Kenia
Daniël de Wet, die VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Nico Mostert, Vrystaat Sinode se direkteur van Vennote in Getuienis en Hannes Theron wat op 1 Januarie 2022 as NetACT-programkoördineerder by Jurgens Hendriks sal oorneem, is tans op besoek aan ons susterskerk in Kenia, die Reformed Church in East Africa. Hulle is daar om onder andere gesprekke met die moderatuur te voer, besoeke te bring aan projekte en die teologiese skool, Reformed Institute for Theological Training (RITT). Hulle is daar op besoek tot 1 Desember. Lees meer hier.
Foto: Na afloop van die vergadering met lede van die moderatuur van die Reformed Church of East Africa (RCEA). Voor van links na regs: Dr. Nico Mostert,  ds. David Letting (moderator), ds. Hannes Theron (NetACT).  Agter van links na regs: Ds. Daniel Barno (assessor), dr. Daniël de Wet, ds. Joseph Watila (adjunk-algemene sekretaris) en dr. Luca Ariko (algemene sekretaris).
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Klik op die grafika hieronder vir meer inligting en registrasiebesonderhede.
PREDIKANTENUUS
Chris Cronje tree af
Chris Cronje stap sedert 1994 'n pad saam met die gemeente van Worcester-Oos, waar hy vir die laaste 27 jaar en 8 maande die voorreg gehad het om in daardie pragtige vallei in die bediening te staan.
Chris se liefde vir mense, goeie verhoudings en om lidmate te begelei om God se doel vir hul lewens te ontdek, is die rede waarom hy nog getrou huisbesoek doen. Sy passie is om tussen mense te wees – of dit nou is deur die gewone gemeentelike werksaamhede of in die landbougemeenskap. Hy wil betrokke wees by mense se lief en leed – of dit nou blydskap oor die oes is of om saam met ’n boer te huil oor die ryp wat vroegoggend sy hele oes weggevat het.  
Sy afskeidspreek vind op Sondag 28 November plaas. Hy en Henda gaan hulle op Worcester vestig – waar Henda voortgaan as orrelis. Chris sal ook nou meer tyd kry vir houtwerk.  Beide van hulle is baie lief vir die natuur, reis, kamp en fotografie, so die Kgalagadi en Kruger sal hulle gereeld sien. Klik hier om meer oor sy bediening te lees.  
Strydom Bruwer vertrek na Nederland
Strydom Bruwer het ’n beroep aanvaar na die PKN gemeente Kudelstaart (Amsterdam), Nederland en sal DV in Januarie 2022 daar begin. Hy was die grootste deel van sy bediening predikant by Gordonsbaai-gemeente (1989-2018). Vanaf 2018 tot 2020 was hy betrokke by Bybel-Media en ook gekoppel aan Helderberg-gemeente. 
Strydom skryf die volgende gedagtes oor dit wat vir hom vreugde gegee het in die bediening: “Die voorreg om met mense ’n pastorale pad te kon stap en in hul lief en leed te deel, was van die fasette van my bediening wat vir my baie betekenisvol was. Die feit dat ek lank in die gemeente in Gordonsbaai was, het dit moontlik gemaak om sinvolle verhoudings met mense te bou.” 
Danie O’Kennedy, een van Strydom se kollegas by NG Kerk Helderberg, reflekteer oor Strydom se bediening: "Strydom is seker een van die predikante wat die meeste mense ken en hulle name kan onthou. Hy het ’n passie om ’n verskil te maak in die lewens van alle mense. Ons wens vir Strydom ’n geseënde bediening in Nederland toe. Mag die Here hom daar gebruik om met sy gawes ’n verskil in God se koninkryk te maak. Mag hy en Marlene dit geniet om naby hul twee kinders (Hendri en Alta-Marié) in Nederland en Luxemburg te wees." Lees die volle berig hier
Johan Els groet Durbanville-Bergsig
Na sewe jaar het Johan Els afskeid geneem van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig. Hy het die afgelope Sondag tydens die familiediens sy afskeidspreek gelewer.
Ons wens vir Johan sterkte toe met sy nuwe bediening by Worcester United Church.
GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Klein Karoo-gemeente vier groot eeufees!
Volmoed-gemeente vier hierdie naweek hulle 100de bestaansjaar met 'n propvol eeufeesprogram van 26 - 28 November. Met vanjaar se opwindende eeufeesvieringe wil die gemeente die breër gemeenskap van die Klein Karoo uitnooi om saam in hul vreugde te deel. Dit is ’n geleentheid vir vriende, familie sowel as huidige en oud-gemeentelede om lekker saam te kuier en die kerk se ryk geskiedenis en diens aan die gemeenskap te vier.
Daar is onder andere 'n orrel- en musiekuitvoering, pretstap, vleisfees, wegneemetes en 'n spesiale erediens. Sien die volledige feesprogram hier.
Lees meer oor die feesgeleentheid in hierdie berig deur die plaaslike publikasie De Hoorn. Vir meer inligting oor Volmoed se eeufeesvieringe, besoek gerus hulle Facebook-blad, skakel vir Clara by 084 504 3377 of stuur 'n e-pos na ngkvolmoed@vodamail.co.za.
Pretstap in Laaiplek
Kom geniet die NG Kerk Laaiplek se 5km pretstap in Dwarskersbos op Saterdag 4 Desember 2021. Registrasie sal plaasvind vanaf 07:30 en wegspring sal stiptelik om 08:15 geskied. Vooraf-inskrywings kan by die kerkkantoor gedoen word.
Alle deelnemers sal 'n medalje ontvang en gelukkige trekkings sal om 09:15 gedoen word.
Die vroeë Kersfees Fees begin vanaf 10:00 waar musiek en lekkernye volop sal wees. Klik hier vir meer inligting.   
Plettenbergbaai bederf matrieks
NG Gemeente Plettenbergbaai-Suiderkruis het verlede week uitgereik na die 60 matrikulante by Hoërskool Wittedrift wat besig is met hulle eindeksamen. Hulle het aan elke leerder 'n bederfpakkie uitgedeel. Elke pakkie was gevul met lekkerye, koffie en 'n mooi boodskap.  "Ons dink in ons gebede aan julle en stap in geloof hierdie monumentale hoofstuk saam elkeen van julle. Hand-aan-hand kyk ons saam boontoe." 
VAKATURES
Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
Administratiewe beampte, Bellville
Die gemeente van Bellville-Wes beskik tans oor hierdie halfdagpos wat ook Sondae vir 'n uur na die eredienste insluit. Vereistes sluit in: sterk administratiewe, rekenaar- en rekeningkundige vaardighede, goed in spanverband kan werk, hoofsaaklik Afrikaans- sprekend en goeie interpersoonlike en kommunikasievaardighede. Eie vervoer is noodsaaklik. 
Aansoeke sluit 15 Desember 2021. Kandidate moet hulle CV aan die kerkkantoor per e-pos stuur na navrae@bellvillewes.ng.org.za. CV's kan ook by die kerkkantoor tydens kantoorure ingedien word.
Onderhoude sal in Januarie geskied en die pos word in die nuwe boekjaar 1 Maart 2022 gevul.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Professor Danie Veldsman gesels met Marileen Steyn oor die Bybel, wetenskap, inentings en wat dit behels om uit jou ‘kar’ (jou eie verwysingsraamwerk) te klim. Lees die artikel hier.
Die Oostelike Sinode het by 'n onlangse streeksinodevergadering besluit dat die Algemene Sinode se besluit van 2019 oor selfdegeslagverbintenisse 'n verdeeldheid gebring het in die NG Kerk. Klik hier om die artikel te lees.
NUUSBRIEWE
Klik op grafika op Inclusive & Affirming Ministries se jongste nuusbrief te lees.
Lees Missie Japan se onlangse nuusbrief deur op die grafika te klik.
ALGEMEEN
Raakgelees: Google Maps bevorder sosiale afstand
In ‘n poging om gebruikers tydens die pandemie met sosiale afstand by te staan, het Google Maps hulle jongste opdatering genaamd Area Busyness bekendgestel. Soos die naam aandui, kan gebruikers hierdie nuwe funksie gebruik om te kyk hoe besig ‘n spesifieke buurt, winkelsentrum, openbare vervoer of byeenkoms is voordat hulle daarheen gaan.
Hierdie nuwe kenmerk van die toepassing kombineer lewendige besigheidstendense met die liggingsgeskiedenis om gebruikers te help om dadelik te sien wanneer 'n buurt of deel van die dorp op sy besigste is. 
As dit naweek is en jy wil jou stad verken of stresvry Kersfeesinkopies doen sonder dat skares jou heeltemal omsingel, maak Google Maps oop om onmiddellik besige brandpunte te sien om te vermy. Die besige areas sal aangedui word as busier than usual of as busy as it can get. Maak seker dat jy die jongste weergawe van Google Maps het om van hierdie nuttige funksie gebruik te maak. 
Virtuele pretdraf vir Jan Kriel
Die Jan Kriel Instituut se jaarlikse Tekkie Challenge vind vanjaar virtueel plaas. Drawwers word aangemoedig om van 1 - 5 Desember deel te neem aan die verskillende afstande. Registreer op STRAVA, gebruik jou slimfoon se gesondheidstoepassing of stuur jou tyd deur na events@jankriel.co.za teen 12:00 op 7 Desember. Inskrywingsfooie is R55 en gaan om leerders met spesiale onderrigbehoeftes te ondersteun. Heerlike pryse is op die spel. Registeer by https://www.racetraq.co.za/.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting. 
TEN LAASTE
Die eerste Sondag in Advent word gekenmerk deur hoop. Volgens Woord & Fees bring die sleutelteks in Jeremia 33:14-16 'n besonderse samehang tussen trauma en hoop. "Dié twee werklikhede kan saam vasgehou word: om te treur oor dinge soos ons dit nou sien en om met waagmoed oor ’n mooier môre te droom. Dít alles kan gebeur omdat ons – op ’n besonderse manier – aan God se beloftes en getrouheid herinner word; juis dáárdie getrouheid wat geregtigheid laat waar word en ’n nuwe sosiale werklikheid bewerkstellig."
Luister gerus na God of Hope deur Acquire the Fire en mag dit ons inspireer om die week en die besondere tyd van Advent met hoop in te gaan.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.