Lees deur internet, klik hier >>
9 Maart 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Millennials
SINODENUUS
1. Moderamen van Wes-Kaapland
1.1 Jong energie! Gotta love millennials!
Woensdag 7 Maart se moderamenvergadering was 'n spesiale een, met 'n hele klomp jong gesigte (foto onder) as deel van die groepe om tafels. Hier het die Jong Volwasse Leergemeenskap (JVLG) gesorg vir een van die hoogtepunte van die vergadering met 'n uiters sinvolle en netjies afgeronde voorlegging oor 'n effektiewe bediening aan millennials. Die groep is van harte uitgenooi om saam met die kerk te reis, om hulle "tools" met die ouer garde te deel ter wille van die koninkryk van God. Sonder hulle lyk die kerk se toekoms bleek. Hier is meer.
Jong Volwasse Leergemeenskap
Lede van die Jong Volwasse Leergemeenskap by die moderamen
Agter v.l.n.r. Francois Maritz, Nicola Alberts, Stephan Naude
Voor v.l.n.r. Schalk Treurnicht, Jana Dickason, Elsché Eygelaar, Marileen Steyn,
Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familie), Marietjie Steyn, Bianca Botha
Marié en Riana
1.2 Moderatuurslede verkies
Tydens die moderamenvergadering is twee nuwe lede tot die moderatuur verkies in die plek van Elize Morkel en Tinus van Zyl, wat vroeër bedank het.
Hartlik geluk aan Marié Britz (Stellenbosch Moederkerk) en Riana Furniss  (Ring van Tulbagh). Marié is voorsitter van Diensgroep Toerusting en is besig met verdere studies in Missionale Spiritualiteit. Riana is al sedert 2005 betrokke by die Ring van Tulbagh se ringsittings en het 16 ringsittings, drie Wes-Kaapse en vier Algemene Sinodesittings bygewoon. Lees hier meer hoe Marié en Riana van hulself vertel.
Quintus Heine
1.3 Quintus Heine groet as aktuarius
Die moderamen het Dinsdag kennis ontvang van die bedanking van Quintus Heine as aktuarius van die NG Kerk in SA. Inderdaad ’n gevoelige verlies op talle terreine en vlakke!
Quintus is sedert 2003 (vir 15 jaar) deel van die moderamen. Vir sewe jaar was hy ons sinode se kerkregkenner (aktuarius) en o.a. vir agt jaar voorsitter van Gemeentebediening. Hy laat ’n groot leemte. Hy het ’n betekenisvolle verskil gemaak en het die lat besonder hoog gestel vir enigeen wat na hom kom. Oor sy betrokkenheid by herstrukturering, eenheidsgesprekke en as medeskrywer van die Tussenorde vir die VGKSA en die NG Kerk kan boekdele geskryf word. Quintus, gesondheid en seën toegebid vir jou werk by die Bybelgenootskap van SA.
Die bedanking van Quintus het die moderamen onkant gevang. Gevolglik is 'n reëling getref dat die moderatuur met die regskommissie in gesprek tree oor die hantering van die situasie oor die volgende paar maande. Lees hier hoe Quintus skryf ...
Moderatuur
Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland.  
Agter v.l.n.r.: Marié Britz, Frik Bosman, Nelis Janse van Rensburg (voorsitter),
Bossie Minnaar, Frederick Marais (assessor)
Voor: Charl Stander (skriba), Melanie Thirion, Riana Furniss, Gielie Loubser
Agendas
1.4 Moderamen: terugvoer
Verskillende ander sake het ook by hierdie week se moderamenvergadering aandag geniet.
Diakonaat/Ekologie: Rampstrategie
Nioma Venter het verslag gelewer oor 'n omvattende strategie vir ondersteuning tydens rampgebeure - in pas met die erns waarmee die moderatuur en moderamen die impak van die droogtesituasie in die Wes-Kaap beskou. Lees meer.
Kerkhereniging: Konvent in September
Daar is ooreengekom om van 25-27 September 2018 op Hartenbos 'n konvent, saamgestel uit verteenwoordigers van die ringe van die VGKSA (Kaapland), Sinode van Wes-Kaapland en die Sinode van Oos-Kaapland, te hou. Meer hieroor sal volg.
Selfdegeslagverhoudings
Die moderamen besluit om voortgesette besinning oor selfdegeslagverhoudings in gemeentes en ringe met die oog op ingeligte besluitneming verder te voer. Heerden van Niekerk het die moderamen namens STLAS onder andere herinner aan die besluit wat die moderamen in Maart 2017 geneem het (klik hier).
Dit is belangrik om kennis te neem daarvan dat gemeentes, wat hierdie saak betref, op verskillende plekke is. Die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake wil gemeentes help om ruimtes te skep waar lidmate op 'n ingeligte en redelike manier hieroor kan praat. Daarvoor is materiaal ontwikkel wat aan gemeentes beskikbaar gestel sal word. Lees meer.

Melanie Thirion
1.5 Die integrasie van vroue-leierskap
Melanie Thirion het by die moderamen 'n voorlegging oor die integrasie van vroue-leierskap in die kerk gelewer. Sy skryf:
“As missionale kerk is ons roeping om te getuig oor die hoop van Christus se opstanding. In die Suid-Afrikaanse konteks, wat gekenmerk word deur geweld teen vroue en gepaardgaande trauma, moet ons onsself afvra: hoe beliggaam ons die boodskap van hoop, sodat ons almal, mans en vrouens, kan floreer in die koninkryk? Subtiele paternalisme pootjie die integriteit van ons getuienis. Hoe lyk hierdie paternalisme en wat kan ons daaraan doen?”
Melanie se volledige voorlegging is hier beskikbaar.

2. "Watermomente"
- vir Lydenstyd 

Die volgende watermoment vir hierdie Sondag se liturgie is onder te kry. Dit spreek die aktuele saak van klimaatsverandering aan. Deel gerus in die erediens, by jul kleingroepe of op sosiale media as deel van ons getuienis. Die volledige reeks video's is hier beskikbaar.
Watermoment - Ons bely
Andrew Kok
3. Kerkargief se Andrew Kok vereer!
Andrew Kok, bestuurder van die NG Kerk se Argief in Stellenbosch, het pas die toekenning ontvang vir die beste bydrae deur ’n navorser tot die bewaring van die Wes-Kaap se argivale erfenis. Die Wes-Kaap se minister van Kultuursake en Sport het hierdie toekenning op Saterdagaand 3 Maart aan dr. Kok oorhandig by die jaarlikse Kultuursake-toekenningsgeleentheid. Dit is toegeken in erkenning vir sy werk as voorsitter van die Genealogiese Genootskap van SA (Wes-Kaap), voorsitter van die Genealogiese Instituut van SA (GISA), voorsitter van die Hugenote Vereniging van SA, as lid van die Wes-Kaapse Argiefraad en tans as bestuurder van die NG Kerk se Argief op Stellenbosch. Op die foto is hy saam met minister Anroux Marais. Hartlik geluk!
Gustav Claassen
4. Die NG Kerk en grondhervorming
Vandeesweek het Gustav Claassen in ’n brief inligting oor die posisie van die NG Kerk ten opsigte van die grondkwessie gedeel. Dit is ʼn saak waaroor die NG Kerk al lank dink en reeds standpunte geformuleer het. Diegene wat die een of ander tyd met die vraag oor die kerk se posisie gekonfronteer word, kan die brief hier lees.
Lees
ook elders in VrydagNuus Braam Hanekom se bydraes oor die grondkwessie. Die afgelope week se Wes-Kaapse moderamenbesluit oor grondhervorming onderstreep watter belangrike saak dit op verskillende vlakke vir die kerk is.
Logo's
5.1 Water stroom Kaap toe...
As deel van ’n groter strategie rondom rampe en krisisse (wat tans waterskaarste is) vat Diaconia hande met organisasies soos LovingThyNeighbour en Graan SA om meer as bloot eenrigting-barmhartigheid te verskaf. Die strategie bly dat verhoudings in gemeenskappe gebou word deur ons gemeentes. Tans is die VGK Delft en NG Bellville-Wes byvoorbeeld verspreidingspunte vir waterskenkings wat Kaap toe kom. So kweek ons gemeenskap en werk ons missionaal. Lees gerus verder hoe Nioma Venter vertel. 
MES-donasie
5.2 ... en help MES-dors les!
Die Suid-Kaapse afgevaardigdes na vandeesweek se moderamenvergadering het sowat 160 bottels water saamgebring as ’n blyk van meelewing met die watertekort in die Kaapse Skiereiland. Elke lid van die vergadering wat êrens in ’n gastehuis of by familie oorslaap, is genooi om ’n bottel water, vergesel van die moderamen se seënwense, te neem en te versprei as deel van ons getuienis.
Die bottels wat oorgebly het (ongeveer 90X5 liter bottels) is toe deur die uitreikaksie van NG Gemeente Stellenberg aan MES-aksie oorhandig, aangesien MES onlangs bekendgemaak het dat hulle donasies van water vir hul nagskuilings sal verwelkom. 
Foto: Sean Esterhuizen (Diaconia), Milda Britz (Stellenberg Uitreik), Mariana Warnich (MES arbeidsterapeut) Craig Johnson (MES vrywilliger) en Nioma Venter (Diaconia).
Helpende kinders
Kinders van George-Tuinedal se buurt het spontaan kom help om “die water vir die Kaap” Sondagmiddag te laai, vertel Pieter van Santen. So word die laai van gewone waterbottels ’n getuienisgeleentheid soos min,
van George tot in die Kaap!
7. Kerkargief by US Woordfees
Op Sondag 4 Maart is die eerste van twee lesings wat vanjaar vir die 2018 Woordfees deur die Kerkargief gereël is, aangebied. Retief Muller, senior lektor in Kerkgeskiedenis aan US het 'n voordrag gelewer, opgevolg met voorlesings uit argiefmateriaal bydraend tot die voordrag. Wat die voorlesings besonder gemaak het, was dat een van die voorlesers, Murray Agenbag, die agterkleinseun van ds. AG Murray is.
Op Sondag 11 Maart lewer Retief Muller ʼn referaat Mission work: An unexpected fringe benefit of the Anglo Boer War, gevolg deur ‘n voorlesing Van Slagveld tot Sendingveld, ʼn aangrypende verhaal saamgestel uit verskeie argivale bronne. Bespreking noodsaaklik by isabel@kaapkerk.co.za
Voorlesing
Voorleser Murray Agenbag met sy oupagrootjie, ds. Andrew G. Murray
in die agergrond
Voorlesers
Voorlesers Celene en David Hunter, Winnie Nel, Danny Fourie, Isabel Murray en Murray Agenbag
8. Sentrum vir Publieke Getuienis
8.1 "Courageous Conversation" in Bloemfontein
Die 20ste "Courageous Conversation" oor die toekoms van dorpe/stede het Dinsdagaand in Bloemfontein plaasgevind. Verteenwoordigers van die universiteit, raad van kerke, NRO’s, sakelui en die landbougemeenskap was teenwoordig. Interessante perspektiewe oor die noodsaak van burgerlike opvoeding, die teologie van 'n stad, waarom soveel Suid-Afrikaners steeds nie lojaal teenoor die land voel nie en die herbedink van 'n nuwe stad, was maar van die onderwerpe waaroor gepraat is.
Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.  

Partye byeen
V.l.n.r.: Rian Venter (Teologie UV), Billyboy Ramahlele (Direkteur:  Gemeenskapsbetrokkenheid, UV), Juane van der Merwe (FEDSAS), Willem Ellis (Afrikastudies, UV), Matthew Rantso (sakeman), Nicky Morgan (waarnemende viserektor,  Institusionele Verandering, Studentesake en Gemeenskapsbetrokkenheid, UV) en Keabetsoe Sekoboto (Setshabelo Child and Family Services) 
Dwelms verbode
8.2 Dwelmprobleem in Bellville gepak
Op Dinsdag 13 Maart om 12:30 vind daar 'n vergadering met die VRCID (Voortrekker Road Corridor Improvement District) plaas oor die hantering van die dwelmprobleem in Bellville. Hierdie is 'n groterwordende probleem wat die kerk se dringende aandag vra. Graag nooi ons predikante in die omgewing en enige ander belangstellendes om hierdie belangrike vergadering by die sinodale kantoor in Bellville by te woon. Kontak vir Danelle (021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za) as jy wil bywoon.
Geen VrydagNuus
9. Gemeentes, vir beplanning!
Ons wys vriendelik daarop dat daar in die weke van 23 Maart, 4 Mei en 10 Augustus geen VrydagNuus sal verskyn nie. Die openbare (en skoolvakansiedae) in daardie weke is deur die Taakspan vir Kommunikasie in ag geneem toe hieroor besluit is. Diegene wat nuus en inligting deur VrydagNuus wil versprei, moet dit asb. verreken en nuus vroegtydig stuur vir plasing in VrydagNuus. Ons help ook deur Facebook, Twitter en die webwerf waar toepaslik.
Kerkgebou
GEMEENTENUUS
1. 'n Dankie uit die hart van Merweville!

“Soos vele ander plekke is Merweville die afgelope drie jaar in die wurggreep van ’n buitengewone droogte. Mense wat al 30, 40 jaar hier in die boerderybedryf is, getuig daarvan dat dit van die ergste is wat hulle kan onthou. Boorgate wat in 40 jaar nog nooit enige probleme gegee het nie, het opgedroog. In hierdie tyd het daar egter iets baie besonders gebeur.” Onder is enkele foto's; lees gerus verder hoe Herman Burger, Merweville se predikant, vertel.

Reën
Reën op Merweville!
Mielievrag
'n Welkome vrag geskenkte mielies word afgelaai
Getuienis
Burre Burger lewer getuienis en praat mense moed in
Huwelikskursus
3. George ontvang en deel seën vir 205 jaar!
Drew de Kock skryf vanaf die NG Moedergemeente op George dat die eerste Sondag in Maart tradisioneel Omgeesondag is wanneer lidmate blikkieskos en klere vir die gemeente se hulpverleningsaksie (Barmhartigheidsdiens) bring. Hierdie skenkings word onder minderbevoorregtes uitgedeel. 'n Ander groot myplaal wat die gemeente op 9 Maart vier, is hul 205de verjaardag! Hartlik geluk! Ons wens is dat julle as gemeente net so geseënd sal wees soos die seën wat julle so mildelik uitdeel.
Omgeesondag
Rita Engelbrecht en Sakkie Jacobs met van die blikkieskos wat geskenk is
Omgeesondag
Murray Gerber by 'n winkeltrollie vol blikkieskos 
Martie van Staden
4. Skriba bo alles!
Anton Louw (NG George-Bergsig) vertel: “Martie van Staden is George-Bergsig se skriba ... onder alle omstandighede! Die afgelope tyd is daar gewerk aan die dak en dit het gereën – selfs op haar werkstasie! Dit is nie net ’n boer wat ’n plan kan maak nie, vroue is selfs beter daarmee ... soos hier gesien kan word! Welgedaan, Martie!” Praat van toewyding – red. Meer oor George-Bergsig is  hier.
Jan Stadler
UIT ONS RINGE
Ring van Beaufort oor grondhervorming
Jan Stadler (Ring van Beaufort) het hierdie week tydens die moderamenvergadering hierdie ring se besorgdheid oor die proses van grondhervorming oorgedra.
Vir hierdie ring is dit 'n dringende saak waarin die kerk se stem gehoor moet word. Jan beklemtoon dat die Ring van Beaufort nie teen grondhervorming gekant is nie, maar vra dat die proses op 'n verantwoordelike wyse moet geskied. Lees die besluit van die moderamen hieroor.

Gebedsversoeke 9 Maart 2018
Gebedsversoeke is welkom - klik hier.
PREDIKANTENUUS
1. Khayelitsha se groot DANKIE aan die IJzermans
Op Saterdag 3 Maart het die VGK Khayelitsha Gemeente ‘n groot viering gehad waartydens hulle hul geliefde umfundisi (dominee) en umfundisikazi (vrou van die dominee), ds. Ab en Trix IJzerman se 20-jarige bediening aan die gemeente gevier het. Dit was 'n groot umbuliso (groet) met onder andere ‘n motor as geskenk! Dit is ook deur jarelange oudkollegas en vriende bygewoon.
Ds. IJzerman is steeds betrokke in die gemeente, veral as hulp vir die nuwe leraar, ds. Potwana, wat twee jaar gelede bevestig is. Ons bid God se oorvloedige seën op die IJzermans (op die foto's onder tydens die spesiale groet) se toekoms toe. 
Ijzerman egpaar Ijzerman egpaar
Willie Viljoen
2. Willie Viljoen beskikbaar vir aflos
Willie Viljoen, brugpredikant en voorheen van die NG Gemeente Vasco en Onder-Molopo, laat weet dat hy  beskikbaar is vir preekbeurte en aflos in gemeentes in Kaapstad en omgewing.
Hy woon in Bellville-Uitsig en kan gekontak word op 082 853 5652 of via e-pos by wviljoen82@gmail.com

3. Eddie Orsmond in Wellington-Oos bevestig
Ons deel graag enkele foto's van die bevestiging van kollega Eddie Orsmond (Predikant in Sinodale Diens: Seminarium) se bevestiging in die NG Gemeente Wellington-Oos op Sondag 4 Maart. Die prediker was Hannes Theron (voorsitter van die Kuratorium).
Mag dit 'n besondere verbintenis met die gemeente wees.
Eddie Orsmond bevestiging
V.l.n.r Christo Thesnaar, Elna Mouton, Ian Nell, Eddie Orsmond, Hannes Theron,
Pieter van der Walt, Frederick Marais, NJ van As, Jan Grobbelaar
Eddie en Hannes Theron
Eddie en Hannes Theron
Handeoplegging
Hande-oplegging
ALGEMEEN
1.  Andrew Murray-prysfonds: Hier is kortlys!
Die Andrew Murray-prysfonds wat hierdie pryse toeken, is vanjaar 40 jaar oud. In April sal die wenners aangekondig word en die oorhandigingsfunksie is op 25 Mei in Stellenbosch. Hier is 'n lys van die boeke op die kortlys. Hartlik geluk aan die genomineerdes!
Andrew Murray Desmons Tutu prys Logo Andrew Murray Gerrit Brand prys
Elna Mouton
2. Dankdiens vir Elna Mouton
Fakulteit Teologie op Stellenbosch nooi studente, kollegas, vriende en belangstellendes om op Donderdag 22 Maart by hulle aan te sluit vir 'n dankdiens ter viering van prof. Elna Mouton se besonderse bydrae tot die verhaal van Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.
Dit vind plaas om 17:30 in die NG Moedergemeente Stellenbosch. Die prediker is Janine Williams, met Liena Hoffman as liturg. Meer oor hierdie spesiale geleentheid is hier. Antwoord voor 15 Maart.

3. Unite against TB with Archbishop Thabo Makgoba and Min. Motsoaledi
World TB Day is on 24 March. In a video message the Minister of Health, dr. Aaron Motsoaledi, and Archbishop Thabo Makgoba urge religious leaders to spread the message (video below) into every local parish. Let us motivate people to get screened for TB in a strive towards a TB-Free World.
This is an urgent call to address the number one health threat in South Africa – and to take joint responsibility to eradicate it. TB is a treatable disease!

Video
Logo
4. Beyers Naudé Sentrum: Barth-konferensie
ʼn Internasionale Barth-konferensie, gesamentlik aangebied deur die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US), die Skool vir Geesteswetenskappe, UNISA en die Sentrum vir Barth Studies, Princeton Teologiese Seminarium, vind plaas vanaf 21-25 Oktober 2018 by die Fakulteit Teologie, US. Diegene wat tans besig is met 'n nagraadse program of reeds 'n doktoraat voltooi het, word uitgenooi om voorstelle vir die parallelle sessies in te dien. Kyk gerus na die webwerf vir volledige inligting oor die konferensie en lees hier meer oor die vereistes vir referate, wat teen 15 April gestuur moet word na rrvosloo@sun.ac.za .
Winterskool
5. Winterskool! Dagboek asb!
Dagboek asb die datum: Winterskool, Fakulteit Teologie, US vind vanjaar plaas op 5 tot 7 Junie 2018.
Die tema is “Justice, reconciliation and unity: rediscovering the power of the gospel.” Die program is beskikbaar vanaf 1 April 2018.
Registrasiefooie: Vroeë registrasie: R350; na 5 Mei: R450; registrasie open op 1 April 2018. 
Navrae: Helette van der Westhuizen, hvdwest@sun.ac.za

Landery
6. Raakgelees
Grond op almal se lippe

Die grondkwessie is tans op almal se lippe en heelwat uitsprake is al gemaak. Tog is dit ook belangrik dat gelowiges ’n ingeligte profetiese stem oor die saak sal hê.
Die afgelope week het daar twee artikels verskyn waarvan lidmate dalk kan kennis neem. Een is 'n onderhoud wat Jan Bezuidenhout (van Landbouweekblad) met Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) gevoer het (hier) en die ander Braam se “Godsdiens Aktueel”-bydrae vir Die Burger. Kry lg. hier.

Pous Francis
7. World Council of Churches news
7.1 Pope Francis to visit WCC in June 2018!

Some news in the spirit of church unity, ecumene and crossing borders. The Vatican and the World Council of Churches announced on March 2 that Pope Francis will visit the WCC this June. Said WCC general secretary Rev. Dr Olav Fykse Tveit, “The news of the pope’s visit to the WCC and to Geneva is a sign of hope for all who long for unity, peace and justice in a broken and divided world. It is a sign of how Christian churches can affirm our common calling and mission to serve God together." Read more.
Logo
7.2 Articles from younger theologians to mark 70th anniversary needed
Students of theology, younger theologians and early career researchers are being invited to bring their perspectives and insights to the 70th anniversary of the World Council of Churches (WCC) in a special issue in October 2018 of the WCC’s quarterly journal, The Ecumenical Review.
The overall theme of the anniversary is “Walking Together, Serving Justice and Peace.” The deadline for contributions is 31 May 2018. Click here.

PUBLIKASIES
1. CLF: The cover-up: aangrypend!
Op 'n dag het ek besef dat mense se goedkeuring nie nodig is nie. Die oomblik toe ek alles laat gaan en aan God oorgegee het, het my lewe regtig begin verander. Op hierdie dag twee jaar gelede het ek alles in geloof gelos …” Nolwazi se lewensverhaal, The Cover-up, is werklik inspirerend, skryf CLF. Lees hier meer oor die publikasie. Kontak CLF by 021 873 0396 of e-pos order@clf.co.za vir bestellings.
LiG voorblad
2. LiG-uitgawe van April
In die April-uitgawe van LiG kan jy lees hoe:
♦  Hykie Berg skryf oor Christus se liefde;
om met jou kind oor geweld in die Bybel te praat;
♦ die aanvaarding van jou maat 'n teken van ware liefde is;
om oor genadedood te dink, en
om jou kind se geestelike gawes te ontdek.
Klik hier om op LiG in te teken en kontak hulle by 021 864 8202 of e-pos lig@tydskrifte.co.za met enige navrae.
Los Angeles
EKOLOGIE
1. WWF SA: Water File - we are not alone
Although Cape Town – with almost 4 million residents – has been billed as the first major city in the world to run the risk of its taps running dry, there are many other cities that are water stressed. The World Economic Forum lists water crises among its chief concerns in its annual Global Risks Report 2018 and many cities are now struggling to make the transition to climate-resilient water budgets that reduce demand and increase levels of reuse and recycling. Colleagues in WWF offices around the world share insights that might help Cape Town get ahead of the curve.
Die jongste Wednesday Water File het meer inligting – klik hier.
2. Die omgewing vra omgee
Oor die omgewing sê die Grondwet o.a. die volgende: "Elkeen het die reg - a) op 'n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie, en b) op die beskerming van die omgewing, ter wille van huidige en toekomstige geslagte..." (p 11).
En die Bybel?  Openbaring 22 eindig God se omgeeverhaal met 'n gesonde ekologiese sisteem wat genesing vir die nasies bring. Gelowiges help skryf aan hierdie omgeeverhaal.  Lees hier meer .
Op Dinsdag 27 Februarie het die Projekspan Ekologie hul eerste vergadering vir die jaar op Tulbagh gehou langs die Kliprivier. Sien die foto onder. Die lede is vlnr: Kobus Odendaal, Chris Eksteen (NGK Tulbagh), Johnny Jacobs (Senior Superintendent: Vaste Afvalbestuur, Witzenberg Munisipaliteit), David Botha, Susan van Zyl, dr Diek van der Zel en Juandrey Sunders (leier van Waste Ambassodors, Witzenberg Munisipaliteit). 

Span byeen
V.l.n.r.: Kobus Odendaal, Chris Eksteen, Johnny Jacobs, David Botha, Susan van Zyl, Diek van der Zel en Juandrey Sunders 
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
Logo
VAKATURES
Vakatures in Kerkbode
Die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, het die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 16 Maart.

Orrel
NG Bellville Moedergemeente: orrelis
’n Herinnering: persone wat die Moedergemeente Bellville op orrel en klavier/klawerbord kan begelei, sowel as die musiekbediening in 'n gemeente kan koördineer, word genooi om aansoek te doen vir die pos van musiekbegeleiding in die erediens. Aansoeke sluit 20 Maart. Lees hier.
Johan van der Merwe
TEN LAASTE
Uit die pen van ...
Johan van der Merwe
Enige werklikheid was eers net 'n moontlikheid. Maar as moontlikheid dan werklikheid voorafgaan, is moontlikheid mos méér as werklikheid. Kan dit selfs wees dat God suiwer Moontlikheid is en dat mens en natuur aan Moontlikheid kan deelhê?
Teoloë is bekend met die uitdrukking "creatio ex nihilo", wat verwys na die manier waarop God sou "skep uit niks". Maar die aarde was "woes en leeg" voor die Gees van God daaroor gesweef het en God gesê het "laat daar lig wees". Skynbaar is skepping nie blote "creatio ex nihilo" nie, maar ook "creatio ex chao" (skepping uit die chaos van woeste leegheid). Dis ook 'n vraag of die "fiat", oftewel die "laat daar", nie eerder 'n toelatende term is sodat God dalk meer geïnteresseerd is in "letting things happen" in plaas van "making things happen" nie.
My kollega Irénée Heyns het die afgelope Sondag dit uitstekend verwoord. Ons leef te veel in ons "wat is" wêreld en te min in God se "wat as" wêreld. Wat as uit die chaos die skepping kan ontluik?
                                                                    - - - - - 
Johan van der Merwe is sedert 2001 predikant van Stellenbosch Moedergemeente. Hy was voorheen ook ses jaar predikant in Somerset-Oos. Benewens sy belangstelling in sistematiese teologie fasiliteer hy gereeld groepe en instellings oor strategie en innovering. Kontak Johan hier.   

NP van Wyk Louw -
Vriendelike groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.