Subscribe to our email list
 15 Januarie 2016

Beste Leser
Wes-en-Suid-Kaap-logo
SINODENUUS
1. BELANGRIK: NG Droogtehulp Inisiatief!

Hier is spesiale nuus oor 'n aktuele saak wat sovele van ons lidmate direk en indirek raak! Die moderatuur van die Wes-en-Suid-Kaap neem inisiatief met die daarstel van 'n NG Droogtehulpfonds. Hiervoor word R200 000 uit die Sinodale Rampfonds bewillig. So wil die moderatuur oa verskillende gemeentelike inisiatiewe in hierdie verband ondersteun en voortsit.
Meer inligting sal volgende week aan ringsvoorsitters, predikante en gemeentes gestuur word. Klik hier vir meer inligting en bankbesonderhede. Ondersteun die projek op Facebook by NGDroogtehulp en volg die projek op Twitter by #NGDroogtehulp. Navrae: Leon Venter by leon@kaapkerk.co.za of 083 794 1821.
2. Wes-en-Suid-Kaap-leiers begin Jaar met Stilword
Die moderatuur en diensgroepvoorsitters het die jaar op 11 en 12 Januarie 2016 afgeskop met 'n stilword-retrait op Volmoed naby Hermanus.
Charl Stander skryf: "As leiers is ons diep oortuig dat ons in volkome afhanklikheid van God en in opregte verbondenheid aan Christus moet leef. Die groep het hulle verbind tot die 100 Dae Geestelike Vorming-program van Communitas. Theunis Botha en Marié Britz het as fasiliteerders opgetree."
Leiersretrait
Vlnr Dawid de Wet, Frik Bosman, Tinus van Zyl, Bossie Minnaar, Leon Venter, Melanie Thirion, Strydom Bruwer, Frederick Marais, Elize Morkel, Guillaume Smit, Marié Britz, Nelis Janse van Rensburg, Theunis Botha, Charl Stander, Quintus Heine
Gustav Claassen
3. NG Algemene Sinode
3.1 Matriekuitslae 2015

Van dr Gustav Claassen (Algemene Sekretaris) ontvang ons gelukwense aan ons jong lidmate wat die matriekeksamen suksesvol afgelê het, sowel as toegewyde onderwysers en ondersteunende ouers en familielede.
Gemeentes word ook nou reeds versoek om op Sondag 14 Februarie vir die onderwys voorbidding te doen. Lees hier meer.
3.2 Notule en Besluiteregister 2015
Die kantoor van die NG Algemene Sinode laat weet ook dat die Notule en Besluiteregister van die Algemene Sinode 2015 nou op die tuisblad van die NG Kerk beskikbaar is. Sodra die volledige Handelinge gereed is, sal dit ook geplaas word.
Anriette de Ridder
4. Wes-en-Suid-Kaap PSD Jeug- en Familie: Beroeping 
In gevolge die moderamen van 25 en 26 Augustus 2015, het die gevolmagtigde taakspan van die moderamen (reglement 1.10.2) tydens 'n benoemingsvergadering op 9 Desember 2015 vir ds Anriëtte de Ridder van Stellenberg in die pos: Predikant in Sinodale Diens (PSD) Jeug- en Familiebediening (in die Diensgroep Gemeentebegeleiding) beroep. Die approbasietydperk het onmiddellik 'n aanvang geneem.
Indien geen besware ontvang word nie, sal die beroepsbrief en diensaanbod op 28 Januarie 2016 hanteer word. Bid asseblief vir ds De Ridder en dat die Here vir haar sal helderheid gee oor die besluit wat sy moet neem.
Liesl Rabie
5. Kerkargief verwelkom Liesl Rabie!
Ons verwelkom graag vir Liesl Rabie by die NG Kerk se Argief op Stellenbosch. Sy het reeds op 4 Januarie begin werk en is in die gelukkige posisie om vir twee maande indiensopleiding saam met Marlene Schoeman (tans hoofargivaris) te ondergaan, voordat lg aan die einde van Februarie groet. Liesl het ervaring in verskeie velde, maar spesifiek in die kultuurhistoriese erfenis en het 'n passie vir bewaring en navorsing. Sy het onder meer gewerk as kurator van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en as bestuurder van die Hugenote Gedenkmuseum in Franschhoek. Ons beste wense, Liesl! Kontak Liesl by liesl@kaapkerk.co.za.
6. Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling
Luister gerus in die volgende video wat Peter Adams (PSD vir Gemeente-ontwikkeling en Kerklike Samewerking) vertel oor die doel en fokus van Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling. Hy vertel meer oor sy pos, oor gemeentes waarby hulle betrokke is en oor hulle toekomsdrome. In hierdie video, wat aan die einde van 2015 opgeneem is, nooi Peter belangstellendes ook uit na die Fresh Expressions Konferensie (16-18 Februarie) by His People Kerk in Goodwood. (Sien onderaan)
Peter Adams oor Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling
7. Gemeentebegeleiding: Fresh Expressions Konferensie 2016
Nou raak die tyd baie min om in te skryf vir die opwindende Fresh Expressions Konferensie, wat van 16-18 Februarie 2016 by N1-Stad naby Kaapstad gehou word. Registreer vinnig en maklik aanlyn by www.freshexpressions.co.za en kry meer inligting in die aangehegte brosjure
Fresh Expressions Brosjure
8. Communitas: Kursus vir Brugpredikante
Communitas bied vanaf 23-26 Februarie Deel 1 van die kursus vir brugpredikante aan. Brugpredikante word opgelei om gemeentes wat vakant is te begelei vir die tydperk wat hulle gereed maak vir die beroepingsproses. Lees hier meer oor die kursus en ook die getuienis van 'n ouderling wie se gemeente 'n brugskap beleef het. Kontak Pierre Goosen of Adrienne Bester by 021 808 3382 of bestera@sun.ac.za vir meer inligting.
9. Nuus uit die Jeugkantoor 
In die jongste KiX.Kom (nuusbrief van Jeug- en Familiebegeleiding) word hulle projek vir 2016 trots aangekondig: Otjiekos!
Hulle fokus onder meer saam met die kinders op die uitdagings van ons omgewing én die menswaardige hantering van minderbevoorregtes word ook aangespreek. Klink asof hierdie otjiekos-projek baie om die lyf het ... Kontak Sharon by die Jeugkantoor gerus vir meer inligting by 021 808 9050 of snaude@sun.ac.za
So is elke lid van die groter NG Kerk-familie reeds aan die werk om ook vanjaar die evangelie uit te dra. Dankie vir JOU aandeel hierin!

KiX.Kom Otjiekos-projek
ALGEMEEN
1. Echo: Omgee Jeugontwikkeling
Echo-jeugontwikkeling is 'n alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jongmense tussen 14 en 24 jaar. (Klik hier.) Niel Steyn (NG Tableview) vertel dat Echo sowat twee jaar gelede uitgebrei het na die Kaap.
"Echo bestaan al vir meer as 15 jaar in Pretoria, en die droom om 'n huis in die Kaap te begin het in Des 2013 'n werklikheid geword. Die hooffokus was veral om kinders vanuit kinderhuise in te neem. Ons eerste huis vir mans het in Tableview begin saam met Tableview gemeente. Lees hier meer.

As jy wil inskakel (al is dit net om saam te kom eet) of graag meer wil weet, kontak gerus vir Niel by niel@echoyouth.co.za of 084 688 1080.
Schalk Treurnicht
2. Proponent Beskikbaar!
Schalk Treurnicht, wat einde 2015 gelegitimeer is en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, laat weet dat hy graag in gemeentes betrokke wil raak om praktiese hulp aan te bied.
Schalk woon in Somerset-Wes, maar het sy eie vervoer en is bereid om redelik wyd te ry.
Belangstellende gemeentes kan hom per selfoon kontak by 083 297 0526 of 'n e-pos stuur na s.treurnicht@gmail.com
Oorweeg gerus om ons proponente die geleentheid te bied om verdere praktiese ondervinding in gemeentes op te doen.
3. Bly te Kenne!
Het jy pas ingeteken op ons nuusbrief? Vind jy nog jou voete as deel van die NG Kerk-familie? Of is jy dalk nuut in die Wes-en-Suid-Kaap? Hier is 'n paar voorstelle om jou lekker ingelig te hou. Klik op die grafika vir meer inligting.
Wes-en-Suid-Kaap Sinode Facebook
Facebook
Wes-en-Suid-Kaap Twitter
Twitter @WSKaap
Wes-en-Suid-Kaap webwerf
Kaapkerk-webwerf
Badisa
Badisa
NG Kerk in SA Argief
NGKSA: Argief
Communitas
Communitas
PREDIKANTENUUS
1. Stellenbosch-Wes ontvang Daniël en Elmien de Wet
Teen die einde van 2015 het Daniël de Wet (NG Knysna) die beroep na die NG Gemeente Stellenbosch-Wes aanvaar.
Dani
ël, sy vrou Elmien en hulle drie kinders (Daniël, Ami en Lisa) het reeds verhuis en Daniël se bevestiging en intreepreek is op Sondag 17 Januarie 2016 om 09:30 - almal welkom. Ons wens julle baie seën vir julle bediening daar toe!
De Wet-gesin
2. Werner en Tania Schultz verwelkom in Die Strand
Prop Werner Schultz word op Sondagoggend 17 Januarie as predikant bevestig in die NG Gemeente Die Strand. Hy sal by hierdie geleentheid ook sy intreepreek lewer. "Die Strand verwelkom Werner en Tania van harte in ons midde, harte en gebede," laat weet Liana Lourens uit die kerkkantoor! 
Werner en Tania is vanaf 1990 voltyds met kinderbediening besig, oa as koördineerders van PEN-Kinderbediening (Pretoria Evangelisering en Nasorg-Aksie). Tans is hy direkteur van KidsXpress, 'n uitreikaksie van Helderberg en sy kontrakpos met Die Strand  is as gewone gemeenteleraar, met spesiale fokus op die jeug.  Seën toegewens!
Werner en Tania Schultz
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Die Strand: Week van Gebed
NG Die Strand Gebedsweek
Dirkie Smit
Prof Dirkie Smit
2. NG Sonstraal en Durbanville
Gesprekreeks oor Selfdegeslagverhoudings

Die Sonstraal en Durbanville gemeentes bied vanaf 31 Januarie 2016 op Sondagaande 'n gesprekreeks oor die Bybel en selfdegeslagverhoudings aan. Die gespreksaande begin om 18:30 in Durbanville se kerkgebou, op die hoek van Kerkstraat en Weyerslaan, Durbanville (sien hier). Enigeen is welkom; bring jou Bybel en kom lees, luister en gesels saam, nooi Tinus van Zyl.
Klik hier vir die program en inligting oor die verskillende aanbieders van die reeks, wat tot 13 Maart duur.
3. VGK Kleinmond ken Beurse toe
Die VGK Kleinmond is ernstig dat jongmense gehelp word om opvoedkundig te vorder. Daarom is daar die afgelope Sondag beurse aan 14 leerders en 4 studente toegeken as ’n bydrae tot die jaar se uitgawe om hul onderwys te bekostig. Die fondse vir die beurse is die renteverdienste op ’n belegging en kollektes. Die gemeente is baie dank verskuldig aan ’n paar gesinne van die NG Kerk wat die oorspronklike bemaking gemaak het. Só laat weet Carl Swart ons uit Kleinmond.
VGK Kleinmond beursontvangers
Enkele van die VGK-studente wat beurse ontvang
PUBLIKASIES
1. LiG se Februarie-uitgawe leef liefde!
Yolande Korkie vertel van 'n liefde wat alles hoop en alles verdra. Nadia Beukes deel haar storie en haar liefde vir die lewe. En 'n bekroonde wetenskaplike vertel hoe haar liefde vir God haar werk dryf.
Lees ook:
• Wat sê jy vir jou kinders as Oupa en Ouma skei?
• Raad vir terug hok toe – vir ma’s wat ver bly tot dié wat die hoërskool moet trotseer
• Buitemuurs – hoe vroeg is te vroeg, en hoeveel is te veel?
Verryk jou huwelik deur jou man se kommunikasie beter te verstaan. Verdiep jou verhouding met jou kind deur hom sy eie drome te laat ontdek.
LiG – vir jou en jou mense.
LiG se Februarie-uitgawe
2. Week van Gebed 2016
Die Week van Gebed vind tradisioneel in die eerste week van Januarie plaas. Gemeenteprogramme, en die skole wat eers later begin, het daartoe gelei dat 'n geskikte datum vir hierdie saak nou intern in gemeentes bepaal word.
Hiermee dan 'n herinnering aan die materiaal wat CLF in beide Afrikaans en Engels beskikbaar gestel het hiervoor. Die riglyne is in die vorm van oordenkings met enkele voorstelle vir gebedsonderwerpe. Klik hier op www.clf.co.za of vra die inligting per e-pos aan by amanda@clf.co.za.

3. Jaarboek 2016
Die Jaarboek van die NG Kerke 2016 bestaan uit inligting oor sinodes, streeksinodes, ringe, gemeentes en predikante. Die Jaarboek dien al vir 166 jaar as ‘n belangrike verskaffer van inligting vir die NG Kerk-familie. Dis gemik op predikante, kerkkantore en lidmate. Die bestelvorm is hier beskikbaar.
KUIER-KANS
Theo Vorster
Sinode logo
VAKATURES
1. NG Kerk in SA: PSD Teologiese Navorsing
Die sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-en-Suid-Kaapland) maak die vakature vir 'n Predikant in Sinodale Diens (PSD) in die Diensgroep Toerusting bekend. Meer oor die PSD: Teologiese Navorsing se verantwoordelikhede en die vereistes vir die pos is hier te lese. Reageer voor 29 Januarie 2016. 
2. NG Gemeente Knysna: Leraar
'n Vakature vir 'n leraarspos bestaan by die NG Gemeente Knysna. Meer inligting oor die leraarsprofiel, fokusareas van die pos, aansoeke en meer is hier beskikbaar. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Januarie 2016.
3. NG Weltevreden: Jeugleraar
Die NG Gemeente Weltevreden, geleë in Weltevredenpark in Roodepoort, is 'n makrogemeente wat op 'n beskeie manier iets van God se oorvloedige lewe aan die stad Johannesburg wil bring.
Hier is tans 'n vakature vir 'n voltydse leraar: Senior Jeugbediening en aansoeke sluit reeds op 17 Januarie. Lees hier meer.
4. NG Gemeente Rondebosch: Orrelpos
Die NG Gemeente Rondebosch is geleë in die gelyknamige voorstad in die suidelike skiereiland.
Dis 'n gemeente wat 'n hoë premie plaas op kerkmusiek en entoesiasties is oor lewendige begeleiding van die gemeentesang. Die gemeente beskik oor 'n goeie pyporrel wat pas deeglik versien en gestem is. Hier is tans 'n vakante pos vir 'n voltydse orrelis vir die oggenddienste. Aangeheg is meer inligting. 
Jak de Priester
TEN LAASTE
Die bekende sanger en skrywer, Jak de Priester, is ook 'n gelowige pa van drie kinders. Hy skryf vir VrydagNuus 'n boodskap oor die jaar wat voorlê:

Ek was nog nooit so emosioneel en nostalgies soos met die aanbreek van 2016 nie. Hierdie jaar gebeur baie dinge in my lewe. My oudste kind gaan skool toe. Die jongste een is 6 maande oud. Dis ook mý laaste jaar in die dertigs. Die land se ekonomie is op ‘n slegte plek. Daar is droogte oral. Die rassehaat-voorvalle oorheers die nuus en ek het geen geloof in ons leiers nie! Wat nou!? Nie die beste prentjie vir ‘n amper 40-jarige man met drie klein kindertjies nie. Ek het skielik die drang gekry na ‘n introspektiewe kyk na myself. Waarheen is ek op pad en waar kom ek vandaan? Wat beteken ek vir mense op hierdie aarde? Waarom doen ek wat ek doen? Is ek gelukkig? Waar is God? Waar is God? Waar is God?


Lees gerus hier verder - Jak se gevoelens  is waarskynlik vir heelparty lesers bekend ... En sy "reis na binne" gee jou dalk ook perspektief en hoop vir 2016. Dankie, Jak!

'n Spesiale 2016 toegewens ... want "My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." (Ps 121:2)

VrydagNuus-groete.

Marieta Visagie

Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za