Lees deur internet, klik hier >>
18 Oktober 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Logo
1. Algemene Sinode 2019
Die byeenkoms van die 2019 Algemene Sinode het van 6-11 Oktober by die eMseni Christian Centre in Benoni plaasgevind. Amptelike besluite wat tydens die Algemene Sinode geneem is, kan op Kerkbode se webblad gelees word. Die notules sal beskikbaar gemaak word sodra dit by die ASM goedgekeur is.
Enkele afgevaardigdes en waarnemers deel hulle ervarings met ons.  Lees wat skryf Lettie Büchner van NG Wellington en VGK lidmaat Hanzline Davids van Inclusive and Affirming Ministries. Kyk ook hier na die video-oorsig deur Almatine Leene van Stellenbosch-Wes.
Ons hartlike gelukwense aan Nelis Janse van Rensburg en Nioma Venter (foto onder) wat onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter (assessor) van die Algemene Sinode verkies is. Ons wens hulle Gods rykste seën toe vir die volgende vierjaartermyn.
Nelis en Nioma
kerse
Kerse het vir die duur van die byeenkoms gebrand
Hoofregter Mogoeng het die vergadering toegespreek
Tafelgesprekke tydens Algemene Sinode 2019
2. Kursus oor vroeëkindontwikkeling
Little Seeds het op 15 en 16 Oktober 'n VBO-kursus aangebied met die fokus op vroeëkindontwikkeling (VKO) as 'n uitdrukking van barm-hartigheid. Die aanbieding het op beste praktyke gefokus om VKO as bedieningsgeleentheid te ontsluit. Little Seeds wil 'n leergemeenskap skep om die beweging regdeur die kerk te bevorder. Hierdie kursus is aangebied deur Nioma Venter en is deur 16 persone bygewoon van o.a. Riversdal, Mosselbaai, Greyton, Koringberg, Stellenbosch, Goodwood, Brackenfell, Wellington, Kuilsrivier, Strand, Worcester, Calitzdorp en Oudtshoorn. Kontak Erika Hougaard by ehougaard@badisa.org.za as jou gemeente wil uitvind hoe Little Seeds julle kan help om by VKO betrokke te raak.

3. Sentrum vir Publieke Getuienis
3.1 Atlantis Values Movement formeel gestig
Een van die belangrikste sistemiese intervensies vir gemeenskaps-transformasie is die vestiging van nuwe waardestelsels. Die gebrek aan gesonde waardestelsels veroorsaak legio sosio-maatskaplike probleme. Op grond hiervan is die Atlantis Values Movement onlangs formeel tussen die SPG (Sentrum vir Publieke Getuienis), gemeenskapsleiers in Atlantis en die Laerskool Beaumont in Somerset-Wes gestig. 'n Omvattende strategie is ontwerp om vier waardes in die gemeenskap van Atlantis uit te rol: Respect, Resist (geweld en misdaad), Restore (die gemeenskap) en Responsible (ook vir jou eie toekoms). Ons is opgewonde oor die samewerking tussen hierdie vennootskappe! Kontak SPG hier vir meer inligting.
Johannes x 2
3.2  Die100 dorpe-dialooginisiatief
Ons gemeenskappe gaan gebuk onder geweldige uitdagings, en ons as kerk het 'n enorme rol om hierin te speel. Kollegas uit verskillende gemeenskappe in die Skiereiland, naamlik dié van Tableview, Tafelsig, Beacon Valley, Manenberg, Stellenberg, Philippi en Goeie Hoop het onlangs vergader om saam te besin oor 'n strategie vir van die bende-geteisterde gebiede. Daar is onder andere besluit om gesamentlike pa-en-seun-kampe en die gesamentlike lees van tekste (wat 'n Bybelse perspektief op hierdie reuse-uitdagings kan gee) aan te bied. Op die foto is Johannes Mouton en Johannes Wiese (onderskeidelik leraars by  NG Tableview en VGK Tafelsig en Philippi, Manenberg). 
Emeriti-tee
Emeriti-tee 2019: klik bo en RSVP teen 20 Oktober by Lisa Human
5.Terugblik op Taizé 2019
Jacques Strydom (lisensiaatstudent verbonde aan NG Kaapstad) skryf soos volg oor die Taizé pelgrimstog van 2019: "Na maande se beplanning en baie gebede het die eerste pelgrims op die bus geklim na hul gas-gemeentes toe wat hulle vir die week van die Taizé pelgrimstog sou huisves. Ek was 'n 'loods' op 'n bus op pad na Mitchells Plain toe. Die meeste van die passasiers was van die Oos-Kaap af, met enkeles uit Duitsland. Hoe dieper ons die Kaapse vlakte ingery het, hoe groter het hulle oë geword. Toe ek gedurende die byeenkoms weer met een van hierdie passasiers gesels het, kon hy egter nie uitgepraat raak oor die gasvryheid wat hy beleef het nie." Lees hier verder, asook Tinus van Zyl van Durbanville se persoonlike belewenis. Onder is foto's wat hy tydens die besoek geneem het.
Taize
Taize groter groep
Foto: Neil Büchner
 6. AMSS: help ons tuinmaak, asb.!
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit oortref binne die eerste tien maande vandat die deure oopgemaak is, alle verwagtinge! Vanaf die opening vroeër vanjaar het 2500 pelgrims al oor die drumpel gestap om verras te word met God wat hulle onvoorwaardelik ontvang. 'n Waterwyse tuin is ons droom en beplanning en ons vra enigeen wat lief is vir tuinmaak om ons te help om hierdie projek uit jou lowertuin te help ondersteun. Elke skenking word met "groen vingers" ontvang! Klik hier om meer te lees en die lys plante wat ons graag wil plant, te sien. Kontak Derine Piek hier of by 021 873 2151. Foto: Neil Büchner
EKOLOGIE
1. 'n Lewe van eenvoud prioriteit vir droogteverligtingsprogram
My lewenstyl het 'n direkte impak op die omgewing – plaaslik en globaal. 'n Lewe van eenvoud maak die impak van my lewe ligter. Ry en vlieg so min as moontlik. Dit sal help om klimaatsverandering in toom te hou en dit is 'n wonderlike manier om vir die mense in ons land wat droogtes beleef, te wys dat ons regtig omgee. Lees meer hier.
Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
2. CLF: nuwe ekologiepamflette beskikbaar
Onder is die voorblaaie van drie nuwe ekologiepamflette van CLF. Hierdie pamflette is bekendgestel tydens die Algemene Sinode 2019-byeenkoms verlede week in Benoni. Die oorhoofse vraag wat gevra moet word, is: "Hoe kan ons 'n verskil maak aan die ekologiese krisis waarin ons wêreld verkeer?" Die pamflette kan gratis aanlyn bestel word, via e-pos of telefonies by 021 873 6964.
Water Kos en omgewingsgeregtigheid Klimaatsverandering
GEMEENTENUUS
1. Groote Kerk nooi gesondheidsorgpersoneel
NG Kaapstad (Groote Kerk) nooi alle gesondheidsorgpersoneel uit om hul erediens op Sondagoggend om 10:00 by te woon. 20 Oktober is Biddag vir Gesondheidsdienste en hulle wil graag alle verpleegsters, dokters, en ander persone wat in die gesondheidsdiens werk, tydens die diens spesiaal in gebed aan die Here opdra. Michiel Strauss sal die diens lei. Groote Kerk is in Adderleystraat, Kaapstad.
2. Bybelnagte by Stellenbosch-Welgelegen
Neem deel aan die paneelbespreking oor die tema: God wat geregtigheid herstel? Hierdie gesprek word op Woensdag 23 Oktober vanaf 18:00 by Stellenbosch-Welgelegen gehou. Gassprekers sluit in Louis Jonker (Fakulteit Teologie, US) en Deon Snyman (Restitution Foundation). Hier is meer inligting. RSVP by die kerkkantoor teen Maandag 21 Oktober. Almal is baie welkom!

Logo
3. Moedergemeente Stellenbosch
Internasionale Studentebediening: Seminaar oor gebed

Kom leer op 25 en 26 Oktober hoe God gebed gebruik om 'n impak op nasies te maak. Die spreker, Leon Coetzee, se bediening fokus daarop om Christene te help groei in hul gebedswandel met God. Die aanbieding word gehou by Die Khaya langs die Kruiskerk in Ryneveldstraat, Stellenbosch. Registreer voor 25 Oktober by Philipp Ragette of kontak hom by 072 742 3133. Kontak Jurie Goosen vir verdere navrae by 083 2355 920. Lees hier meer.

UIT ONS RINGE
Skirbas
Die Ring van Caledon se skribas het op 9 Oktober bymekaargekom en was vir 'n historiese toer deur die dorp. Die foto is geneem op NG Stanford se trappe. Regs staan Annalize Mouton (kamera in die hand) wat die toer gelei het.  
PREDIKANTENUUS
Ludiks
1. Helderberg groet Ludik-egpaar
Breda en Francé Ludik neem op 20 Oktober afskeid tydens die 08:00- en 09:30-dienste. Na byna 33 jaar by NG Helderberg in Somerset-Wes, gaan Breda sy bediening voortsit in Skotland, waar sy oupagrootjie in 'n pastorie grootgeword het. Breda sê dat dit vir hulle moeilik is om na soveel jare afskeid te neem van goeie vriende en 'n besondere gemeente. Hulle gaan die mense van Helder-berg mis, maar dra herinneringe saam wat hulle deur die koue, donker wintersdae in Skotland sal dra. Die nuwe uitdagings in die vreemde is baie aanloklik en hulle weet dat hulle lewens daar beslis verryk gaan word. Die Ludiks hoop om na vier of vyf jaar terug te keer na Suid-Afrika en in Vleesbaai af te tree. Seënwense op hierdie nuwe fase!
Havengas
2. Stellenbosch verwelkom Havengas 
Angelique Havenga word Sondag 20 Oktober om 09:30 in Stellenbosch Moedergemeente as leraar bevestig. Kollega Marié Britz sal die bevestiging waarneem. Angelique se intreepreek is die aand om 19:00 in Kruiskerk.
Sy skryf: "Dit is 'n wonderlike voorreg om na 'n paar jaar se omswerwinge by Stellenbosch Moederkerk tuis te kom. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om hier te bedien en is opgewonde om veral met studente op reis te wees. My gebed is dat hierdie nuwe hoofstuk van God se goedheid, genade en liefde sal getuig. Soli Deo Gloria!" 
Beste wense, Angelique en Marnus!

GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
1. In Memoriam
1.1 Ds. Jacob van Wyk du Plessis
(16.10.1932 - 12.10.2019)

Ons het die hartseer nuus ontvang dat ds. Japie du Plessis op 12 Oktober oorlede is. Hy was CLF se langslewende stigterslid en was o.a. moderator van Namibië en Goudland Sinodes. Hy is bekend vir sy werk in die sendingveld en het in die Wes-Kaap by onder meer VGK Oudtshoorn en VGK Koringberg bedien. Ds. Du Plessis het verlede week die byeenkoms van die Algemene Sinode bygewoon as afgevaardigde van die Goudland Sinode, waar hy vroeër ook die voorsitter van die Algemene Sendingkommissie was. Dit verdien vermelding dat hy elke byeenkoms van die Algemene Sinode sedert 1962 bygewoon het, aldus Nico van Rensburg van NG Tetélestai, Goudland. Ds. Du Plessis se gedenkdiens word gehou op Vrydag 18 Oktober om 11:00 by NG Delareyville. Ons dink met medelye aan sy vrou Moira en familie. 
1.2 Ds. Nicolaas S. Steenkamp (23.03.1930 - 03.10.2019)
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. Klasie Steenkamp. Ds. Steenkamp is in 1954 georden, waarna hy in Port Nolloth, Fraserburg, De Aar, Laingsburg en Die Strand bedien het. Ds. Steenkamp se gade is reeds oorlede. Die gedenkdiens is gehou op 11 Oktober in Somerset-Wes. Ons innige simpatie aan familie en vriende in hierdie tyd van rou en verlies.
1.3 Ds. Gert Johannes Strydom (31.05.1930 - 04.10.2019)
Ons bring hulde aan ds. G.J. Strydom wat op 4 Oktober oorlede is. Ds. Strydom het aan die Sendinginstituut in Wellington gestudeer, en het die volgende NG Sendinggemeentes bedien: Strydenburg, Pofadder, Keimoes en Barrydale. Daarna het hy die Neilersdrift, Upington-Noord, Outjo en Ladismith  gemeentes in die NG Kerk bedien tot hy in 1982 direkteur van die Charlotte Theron Kinderhuis in Bethlehem geword het en in 1984 PSD in die voormalige Suidwes-Afrika. Na sy emeritaat in 1992 vestig ds. Gert en sy vrou Hetta hulle op Uniondale vanwaar hy as emeritusleraar help in die Rietbron, Hentiesbaai, Swakopmund, Keetmanshoop, Augrabies, Noorderharts en periodiek Ladismith gemeentes. Ons dink aan hul twee seuns, ander naasbestaandes en vriende.  (Inligting met dank ontvang van Gerdrie van der Merwe). 
Nelus
2. Nelus Niemandt nuwe rektor by Hugenote Kollege
Voormalige voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinode, Nelus Niemandt, is onlangs as die nuwe rektor van Hugenote Kollege in Wellington aangestel. Sy vierjaartermyn strek vanaf 1 Februarie 2020. Nelus is tans die hoof van die Departement Godsdiens en Missiologie by die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria en het aan Kerkbode gesê: "Dis 'n voorreg om betrokke te wees by 'n instelling wat agente vorm wat uiteindelik die wêreld 'n beter plek kan maak." Lees hier verder.

3. October is Breast Cancer Awareness Month
The incidence of breast cancer among South African women is increasing and it is one of the most common cancers among women in South Africa. Early detection can lead to effective treatment and a positive prognosis. About 90% of patients survive for many years after diagnosis when breast cancer is detected during the early stages. Click here for more information. 

4. Raakgelees - Waardeer jou predikant!
Gary Gonzales skryf onlangs in Christianity Today dat waardering 'n predikant se emosionele brandstof is. Hy begin met 'n staaltjie van 'n seun van 12 wat nog nooit gepraat het nie. Nadat die seun egter 'n paar dae in 'n ry hawermoutpap moes eet, sê hy skielik dat die pap vir hom aaklig smaak. Sy verstomde ma vra waarom hy nóú vir die eerste keer praat, waarop hy antwoord: "Tot nou toe was alles reg". Gonzales sê dat hierdie storie vir hom snaaks bly, totdat hy dit van toepassing maak op die kerk. Hy skryf: "For some strange reason, people tend to be silent about positive changes in the church until something goes against their grain. In many cases the result is that the pastor becomes tentative, uncertain, and feels overworked and underappreciated. All of us know pastors who are extremely effective, and yet in private conversation they admit feeling like failures. People assume the pastor's self-image is indestructible." Lees die volledige artikel hier en sê gerus vir jou leraar jy waardeer hom of haar!
NUUSBRIEWE
Skade
1. Missie Japan nuusflits
"Met 'n reuse tifoon en gepaardgaande vloede wat sedert laasweek in Japan se sentrale en Oostelike dele groot skade berokken het, hang die nadraai van alles nog soos 'n donker wolk oor baie mense in Japan. Plaaslike RCJ gemeentes in die rampgebiede is nie dié keer in dieselfde mate geraak nie, maar verskeie lidmate reik uit in solidariteit met slagoffers, veral by een groot bejaardesorgsentrum waar 'n RCJ leraar (ds. Kataoka) al jare lank die bestuursraad lei. Vrae soos 'hoekom?' kom gereeld by mense op as dié tipe rampe tref...". So skryf Stéphan van der Watt uit Kobe, Japan. Lees die volledige nuusflits hier en dink gerus aan Japan in jul gebede.
Nuusbrief
PUBLIKASIES
 1. Lees in LiG se November-uitgawe oor...
* Pragtige Rolene Strauss se reis
* Kunstenaar Piet Grobler se soeke na betekenis
* Johrné van Huyssteen se bedrywige lewe
* Hoe om jou kinders te leer waar hul waardes lê 
* Hoe om terug te bons as die lewe jou platslaan
* Hoe om die seer van onreg te verwerk
* 19 prettige maniere om jou kinders oor kleure te leer
Die November-uitgawe is vanaf 21 Oktober op die rakke.
2. Kleurgebede van Bybel-Media
Bybel-Media het 'n reeks inkleurboeke vir volwassenes bekendgestel. Hierdie kleurgebede kan geleentheid vir oordenking, insig en nadenke bied. Geniet God se wonderwêreld vol reënboë terwyl jy fokus, hoor en bid in volkleur. Bestel aanlyn, telefonies by 0860 263 342 of stuur 'n e-pos na bestel@bmedia.co.za.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Logo
1. Vakature vir ʼn rekenkundige beampte
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) beskik tans oor 'n vakature vir 'n rekenkundige beampte by die sinodale kantoor in Bellville. Toepaslike ondervinding in 'n soortgelyke betrekking sal 'n aanbeveling wees. Vergoeding is onderhandelbaar in ooreenstemming met kwalifikasies en verantwoordelikhede. Lees hier verder - aansoeke sluit 21 Oktober.
Logo
2. NG Brackenfell-Wes: Koster en terreinbestuurder
Met die aftrede van die gemeente se huidige koster stel die kerkraad van Brackenfell-Wes hierdie vakature bekend. Daar sal onder andere van die geskikte kandidaat verwag word om die fasiliteite oop en toe te sluit, basiese herstelwerk aan die gebou te doen of te reël en aankope te doen. Lees hier meer en doen aansoek teen 31 Oktober.
Logo
3. Parke-gemeente: Musiekleier
Die NG Gemeente Parke in Kraaifontein is op soek na 'n musiekleier om deur hedendaagse musiek en sang die gevestigde ervaring van lofprysing en aanbidding in die gemeente te verdiep. Die volledige posbeskrywing is hier - stuur jou CV na kantoor@parke.co.za voor 11 November. Skakel Charl Stander by 084 234 1155 vir verdere navrae. 
4. Sonstraal: Medeleraarspos met opdrag: Jeugbediening
Hierdie gemeente is geleë in Durbanville in die noordelike voorstede van Kaapstad. Daar word 5400 lidmate bedien, waarvan 1480 in die ouderdomsgroep van nul tot 18 jaar val. Verantwoordelikhede van die pos sluit in die uitbou van die bediening aan alle jongmense, die bemagtiging van huishoudings as primêre ruimtes vir geloofsvorming en die ontwikkeling van dinamiese eredienste. Aansoeke sluit 18 Oktober.
Logo
5. Standplaas Stanford: Maatskaplike werker (8/8)
Hermanus Stanford Gansbaai Maatskaplike Dienste, 'n program van Badisa, wag aansoeke in van gemotiveerde persone wat Badisa se waardes onderskryf. Lees hier meer; aansoeke sluit 18 Oktober.

Logo
6. NG Prieska: Vakature medeleraar
Hierdie gemeente in die Noord-Kaap beskik oor 'n vakature vir 'n medeleraar (onbepaalde termynpos). Kandidate moet vir 'n onderhoud beskikbaar wees en dit sal wenslik wees indien die aansoeker se eggenoot deel van die gesprek kan wees. Aansoeke sluit 31 Oktober - lees hier meer oor die gemeente- en leraarsprofiel. 
Logo
7. VSCV vakatures
Die VCSC (Verenigde Christen Studentevereniging) beskik oor twee vakatures: 'n provinsiale organiseerder in die Oos-Kaap asook 'n
sentrumbestuurder by Jeffreysbaai - klik hier om meer te lees van beide poste. Stuur aansoeke met 'n volledige CV voor 21 Oktober via e-pos aan Matthys Cronje.

8. MES Cape Town: Finance and HR officer
MES Cape Town is seeking a full time Finance & HR officer to join their vibrant team. If you believe in making a change and have a servant heart, contact us. For more information visit our website or contact Portia at 011 725 6531. Closing date is 21 October (not 18 October as it is stated on the website).
TEN LAASTE
Ons hou eersdaags 'n kommunikasie-indaba om te besin oor hoe die kerk se kommunikasie tans lyk, asook wat ons meer en beter kan doen. Kom gesels saam op Dinsdag 29 Oktober by NG Vredelust van 09:00-12:00. RSVP teen 23 Oktober by kommunikasie@kaapkerk.co.za as jy die geleentheid wil bywoon. VBO-punte kan verdien word. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser & Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.