Lees deur internet, klik hier >>
21 Januarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Boodskap van die moderatuur
Nelis Janse van Rensburg stuur die volgende boodskap namens die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland.
"Die nuwe jaar het vol hoop aangebreek. Ons het immers drome oor geleenthede om lief te hê en liefgehê te word. Ons het drome van geleenthede om God se genadegawes te ontvang, om geluk en vrede te beleef, om sukses te behaal, om sin en betekenis te gee aan die lewe saam met ander. Ons droom dalk van ‘n tyd wanneer die koronavirus nie meer so ‘n groot impak op ons almal sal hê nie. Daar is baie wat droom oor ekonomiese herstel, meer werksgeleenthede of die kans om te kan studeer en bekwaam te word vir die lewe.  Maar ons hoop gaan oor meer as net die verwagting dat ons drome gaan waar word. Al ons drome gaan immers nie noodwendig realiseer nie. Vir gelowiges is die dieper hoop om gefokus te wees op die onafwendbaarheid van die koms van God se koninkryk. En die koms van die koninkryk word nie bepaal deur die getal mense se drome wat waar word nie. Die koninkryk van God kom selfs wanneer drome misluk. Dikwels juis te midde van die wroeginge van ons bestaan, breek God se lig deur, word sy heerlikheid aanskou, word sy versorging gevoel, word sy troos ‘n werklikheid en sy koningskap sigbaar. My gebed is dat jy op talle maniere die koms van God se koninkryk in hierdie jaar sal waarneem. Dat jy gereeld op die koninkryk sal afkom soos op ‘n skat, onverwags. Dat jy sy koninkryk weer en weer in ontvangs sal neem wanneer sy heerskappy sigbaar en tasbaar word. Mag hierdie jaar vir jou vol tekens van hoop wees. Mag die hoop wat in jou leef jou telkens vorentoe neem. Mag jou drome en die hoop op die koms van die koninkryk van God al meer een word.
Ons het met soveel hartseer gedurende die vakansie afskeid geneem van ds. Maryke van Niekerk van Calvinia. Baie drome het met haar dood aan skerwe gespat.  Ons  treur oor haar heengaan, maar nie soos mense sonder hoop nie. Ons bid in hierdie tye vir haar man, seuntjie, ouers en almal wat vir haar lief was vir troos en baie openbaringe van die koms van God se koninkryk daagliks in hulle lewe.

Mag 2022 vir jou en vir God se kerk ‘n jaar vol koninkryksverrassings wees. 
Gesprek oor evangelisasie
Die Sentrum vir Publieke Getuienis en Getuienisaksie bied op 8 en 9 Februarie ‘n gesprek oor evangelisasie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington aan. Hierdie geleentheid is gemik op predikante en gewone lidmate in gemeentes wat ‘n roeping vir evangelisasie het. Die werkswinkel word volledig gesubsidieer en belangstellendes kan navrae doen by spg@kaapkerk.co.za indien hulle wil inskryf. Daar is slegs plek vir 30 persone, so skryf in so gou as moontlik om teleurstelling te voorkom.
Kry meer inligting hier.
Dinkjeug: Toerusting
Maak seker jou kategete (en jeug kleingroepleiers) is toegerus vir die jaar!
Skaf hierdie pakket aan en besluit self hoe gereeld en op watter manier jy dit wil gebruik. Stuur byvoorbeeld een video per week aan jou leiers of hou kwartaalliks ’n opleidingsessie waartydens jy drie video’s wys en gesprekke daaroor voer. Sien 'n voorbeeld van 'n gespreksblad en fasiliteerder-notas hier.
Die video’s (met ’n watermerk) is gratis op YouTube beskikbaar, maar al die hoë kwaliteit video’s, gespreksblaaie en fasiliteerdernotas is by die pakket teen R300 ingesluit. Registreer hier om die pakket te koop.
#100DorpeDialoog
Die My Mooi Dorp-program op RSG dien as inspirasie vir die Sentrum vir Publieke Getuienis die afgelope tyd. Hierdie radioprogram is daarop gemik om dorpe in ons land te help – deur aanmoediging, aansporing, inligting en bemagtiging – om model-dorpe te word. Nie alleen deel die sentrum hierdie visie nie, maar hulle werk ook kliphard om sosiale kohesie deur die #100DorpeDialoog-projek te bewerkstellig. 
Op 10 en 11 Februarie 2022 fasiliteer die sentrum ‘n gesprek oor hierdie onderwerp en nooi graag predikante en lidmate uit om dit by te woon in Wellington by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Daar is geen koste hieraan verbonde nie. Stuur so gou as moontlik 'n e-pos aan Annelie by spg@kaapkerk.co.za om jou spasie te bespreek. 
Kerke, kanale van hoop
In opdrag van Diaconia bied CABSA jaarliks die Kerke, Kanale van Hoop Fasiliteerderskursus aan wat spesifiek daarop gemik is om predikante te bemagtig om op ‘n betekenisvolle manier betrokke te wees as gelowiges binne die MIV-pandemie en binne die breër gemeenskap. COVID-19 het natuurlik hierdie landskap beïnvloed en is deel van die konteks wat hulle in ag neem in hierdie kursus.
Hierdie kursus duur ses dae en word in twee blokke van drie dae elk aangebied en die kostes hiervoor word deur Diaconia gedek. NG Kerk predikante kwalifiseer vir 30 VBO-punte hiervoor.
Kry meer inligting en die aansoekvorm hier.  
Week van gebed 2022
Pastoor Felix Meylahn van die Lutherse Kerk Stellenbosch het vanjaar se tema Om te oorleef, bid die Psalms! vir die Week van Gebed voorberei. Gemeentes word uitgenooi om die Psalms biddend te lees. 
Die hulpbron kan gratis van Christelike Lektuurfonds webblad afgelaai word.
In memoriam: Benita Minnaar
Ons innige simpatie aan ds. Bossie Minnaar (Saakgelastigde) wie se moeder Benita op 2 Januarie 2022 oorlede is. Sy sou op 14 Januarie 93 jaar oud geword het. Die gedenkdiens is op Sondag 23 Januarie in die NG Gemeente Kenridge.
Wyle ds. Blessie Minnaar en Benita het in die gemeentes van Vredendal, Sondagsrivier (Kirkwood) en Saldanha gedien. Ds. Blessie was ook die PSD: Jeug in Noord-Transvaal en vanaf 1970 by die Bybelgenootskap.
Foto: Benita op haar 90ste verjaarsdag saam met haar vier kinders (van links na regs) Loumarie, Bossie, Steve en Hetsie. 
EKOLOGIE
LUISTER – SAAM – FLOREER
Dewald Hoffmann, leier van Getuienisaksie se Ekologie Projekspan, nooi alle individue, kerkleiers en gemeentes namens hul Groenspan uit om vanjaar betrokke te raak by die wêreldwye omgewingskrisis. Hulle droom is om dit vir almal makliker bereikbaar te maak en vanuit ‘n Bybelse perspektief hierin leiding te gee, so kyk gerus na hierdie video en hou dié spasie dop!
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae
Baie geluk aan die volgende gemeentes wat in Januarie hulle verjaarsdae vier. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asb. die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za.
PREDIKANTENUUS
Mardi Badenhorst skuif na Carnarvon
Mardi Badenhorst het Paarlberg-gemeente gegroet en vertel dat sy baie opgewonde is om die gemeenskap van Carnarvon se mense te leer ken en om hulle in liefde te bedien. "Daar is ’n gemeenskaplike opgewondenheid in die hele dorp na die 'bonusreën' wat oor Desember geval het. Mens kan sommer sien hoe die veld en die mense weer lewe kry. Ons word so gasvry ontvang hier en word amper weekliks bederf met blomme of eetgoed - dit is nou die Karoo-gasvryheid waarvan almal praat!
Ek is opgewonde om te ondersoek wat daardie gasvryheid ook vir die groter gemeenskap (groter as die gemeente) kan beteken. Die gemeente se leuse is 'in liefde na mekaar beweeg' en ek sien uit daarna om by hierdie gelowiges in ’n unieke konteks te leer wat dit vir hulle beteken. Ek glo dat God ’n spesiale pad met elke geloofsgemeenskap stap en dat Carnarvon nie daarby uitgesluit word nie - om te ontdek op watter deel van die reis ons nou is, is uiters opwindend! Dit is ook vir my en my gesin ’n enorme voorreg om omring te word deur stilte en vars lug. Ons verlang na die stringe koffiewinkels in die stad, maar koffie op ons voorstoep waar die kinders nog in die strate sokker speel en waar oumas kleinkinders inwag, is nou alles wat ons nodig het!
Paarlberg het my ontsettend baie geleer. Ek is oneindig dankbaar vir my kollegas Bernard, Schalk en Hugo en vir elke mens wat daar ook met soveel liefde oor my pad gekom het. Ek het daar veral geleer om stadiger te gaan met my drome, om stil te bly en te luister en (vir my die wonderlikste) oor myself het ek geleer dat ek wel ’n dominee vir mense wil wees." 
Mardi se intreepreek was op 16 Januarie en alhoewel dit nie aanlyn beskikbaar is nie, deel sy graag die volgende gedagte daaruit. "Aan die hand van 1 Korintiërs 12 vergelyk ek die liggaam van Christus met ’n lappieskombers:
Vir dié wat koud is, moet ons ’n tuiste wees waar hulle die warmte van gemeenskap kan voel.
Vir dié wat honger is, is ons ’n tafeldoek onder die liggaam en bloed van Christus wat hulle innooi om vir ewig versadig te word.
Vir dié wat siek en alleen is, is ons ’n trooskombers waarin hulle styf toegevou word.
Vir dié wat moeg en oorlaai is, is ons ’n rusplek tot hulle weer verfris word.
Vir dié wat kaal en gestroop is van waarde, is ons ’n kledingstuk wat hul menswees beskerm teen skaamte." 
Voorspoed en seën vir jou pad vorentoe by hierdie gemeente, Mardi! 
Eloff-familie groet Dowe Familiekerk
Na elf jaar as leraar by die Dowe Familiekerk (Worcester-De la Bat) tree Andri Eloff aan die einde van die maand af. Andri lewer sy afskeidsboodskap tydens die oggenddiens op Sondag 23 Januarie om 09:30. Hy gaan voorts fokus op die MoreThan Sentrum Vir Heelheid, wat mense en gemeenskappe (Doof en horend) wil begelei na heelwees.
Hy skryf: "Hoe groet ek ‘n kerk wat tuiste is en was vir drie geslagte Eloff dominees. Oupa JZ Eloff, Pa PJ Eloff en dan nou ek. Ons plek vir kuier, familie, vriende, lag en huil. As kind het ons op die kerk se dak gespeel, in haar gange en tussen haar struike menige speletjies gespeel. Soms deur die koster verjaag. Klok gelui op ‘n Sondagoggend. In Bloemfontein het ons een Sondagoggend die klokkespelbandjie omgeruil met rock-musiek (dit was seker maar ABBA). Ons kinders het ook in Loeriesfontein rondom die kerk geskaats en gespeel, klok gelui, kattekwaad aangevang. Sy is so deel van hoe ek myself verstaan. Sy was altyd die anker. Sy is nie volmaak en perfek nie. Sy vertel en getuig maar net van die EEN aan wie sy en ons eintlik behoort, in alle omstandighede. 
Ons was bevoorreg om te dien en deel te wees van twee gemeentes: Loeriesfontein (2007-2011) en Worcester-De la Bat, nou Dowe Familie Kerk Worcester (2011-2022). Die gemeentes is onverwoesbaar deel van ons lewenstories. Beide gemeentes het my ook weer herinner: God hou ons vas in en deur alle omstandighede, al verloor ons soms die greep. Dit is veral by die Dowes dat ek soms gewens het Suid-Afrika kan inpas binne die gebou op ‘n Sondagoggend. Voorwaar ’n veelkleurige klomp bymekaar (kulture, tale, agtergronde, mense met gebreke) - wat ‘n geskenk vir die kerk. Wat ‘n voorreg om daar te kon dien vir elf jaar. Ons het ook geleer dat woestyntyd God se tyd is.
Nou breek ‘n nuwe seisoen aan. Twee jaar gelede is MoreThanMeerAs begin om mense te help om te ontdek ek, jy, ons is MeerAs ons omstandighede, velkleur, geslag, geldwaarde, mislukkings, foute, egskeiding, diagnose…
Mag die Here die NG Kerk lei om steeds ook die veilige plek, genaderuimte en anker te wees in alle omstandighede, vir alle mense."
Seënwense vir die pad vorentoe, Andri.
Foto van links na regs: Pedri, Gina, Jana, Hanno en Andri Eloff.
Marizanne skuif na De Aar
Marizanne Pfeil-Wessels is op 16 Januarie by NG Kerk De Aar bevestig en vertel dat sy uitsien om 'n pad saam met hierdie gemeente te stap.
"Die mense van De Aar se gasvryheid oorweldig my al van my eerste ontmoeting met hulle. Ek het op die platteland grootgeword en my hart het nog altyd terug verlang platteland toe, dit het soos ‘n tuiskoms gevoel toe ek hier aankom. Na ons eerste gemeente-ete het ek geweet hier is waar ek moet wees. Ek sien  uit om saam met die mense van De Aar-gemeente by God te hoor waar God wil hê ons 'strome van lewende water' moet wees, soos wat die gemeente se leuse is. In hierdie tyd wat hulle soveel reën gekry het en die Karoo so groen is, is dit heerlik om te kan uitsien na waar God ons as gemeente ook gaan gebruik om lewe en omgee en liefde te bring vir mense.
Ek het by Helderberg en Hoopgeloofsgemeenskap begin net voor die COVID-pandemie en daar het ek geleer wat dit beteken om mekaar te ondersteun. Ek was deel van die ongelooflikste kollegas en personeel, wat op ‘n weeklikse basis saamgebid het en mekaar ondersteun het. As ek iets kon saamvat De Aar toe, was dit hierdie groep mense." 
Mag die Here jou bediening op die platteland seën, Marizanne! 
Sonstraal verwelkom die Louws
Marius Louw is op 23 Januarie tydens die oggenderediens by Sonstraal-gemeente bevestig.
Marius deel die volgende: "Soos ons bid en soos ons glo, só behoort ons ook te leef of só behoort ons ook sáám met mekaar te leef. Dít is die diep waarheid van die Evangelie waarmee gelowiges al vir eeue lank worstel.
Op Vrydag 14 Januarie is ek in die Sonstraal-kantoor verwelkom. Die personeel is besonders en die verwelkoming opreg en warm – soos wat almal wat die gemeente ken my vertel het. Steeds voel ek egter soos ‘n groentjie wat vir die eerste keer skool toe gaan. Alles is nuut. Alles anders. Alles vreemd.
Voordat ek en my vrou Esbé hierdie skuif gemaak het, het ons in Bloemfontein gewoon. Daar het ek vir vier jaar as studenteleraar by Kopanong Church (die ou Kovsiekerk) gewerk. Ek het myself daar gevestig as iemand wat saam met jongmense probeer ontdek het wat die Here van ons in veranderende kontekste vra. Ons het gespeel met die woord 'Kopanong' wat intussen vir my ‘n tipe identiteit-merker geword het. Dit is ‘n Sesotho woord wat beteken om saam te lewe. Om juis só te lewe dat almal kan lewe. Om radikaal inklusief en verwelkomend te probeer lewe. Om gasvry te lewe. Dit is natuurlik makliker gesê (of geglo) as gedaan. Na ons tyd in Bloem het ons die geleentheid gekry om vir ‘n jaar in Nederland te woon, waar ek voltyds aan my PhD proefskrif kon werk. In my proefskrif vergelyk ek die ou Gereformeerde dogma van regverdiging met ‘n onsekerheid waarvan ons al te goed in Suid-Afrika bewus is – sosiale geregtigheid. Maar ek ontdek tog dieselfde waarheid: die Here roep ons om sáám te leef. Om só te leef sodat almal kan leef. Om eintlik maar saam met Jesus in verbondenheid met almal en alles te leef. Om afhanklik te wees. Om nie meer of minder te wees as wat ons is nie.
Ek weet nie wat die pad vorentoe en hierdie nuwe hoofstuk vir ons inhou nie, maar tog kan ek vashou aan die wete dat die God van eenheid, versoening en geregtigheid elke tree saam met ons stap. Ek kan ook nie eers baie beloof nie, maar ek kan net hoop dat ek in gebed, in dit wat ek glo en op die manier wat ek lewe volgens die Here se wil hierdie nuwe roeping sal uitleef. My hoop is ook nie om dit alleen te doen nie, maar sáám. Ja, saam met ‘n geloofgemeenskap wat probeer onderskei waar die Here nou is en waar die kerk behoort te wees. Ek is opgewonde om hierdie reis met u te deel en daarom sien ek uit daarna om name te leer ken, stories te hoor en om saam te droom. Mag die God van nuwe beginne ons lei!"
Welkom in die Wes-Kaap, Marius en Esbé.
Maryke van Niekerk (16.08.1991 - 18.12.2021)
Dit is met groot skok en hartseer dat ons verneem het van Maryke van Niekerk se heengaan. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland skryf: "Sy was 'n passievolle en toegewyde leraar wat haar beste vir die Here gegee het. Sy het die liefde van Christus oral waar sy gegaan het beliggaam en uitgestraal. In Calvinia het sy in 'n buitengewone droogtetyd haar lidmate en almal om haar gedra en ondersteun. Ons was so dankbaar dat die Here juis vir haar met haar sagte aanslag en wonderlike interpersoonlike vaardighede daarheen gestuur het. Haar lig het baie helder geskyn in die moeilikste tye. Met haar heengaan word 'n leemte gelaat wat moeilik gevul sal word. Ons harte gaan uit na haar man Riaan, hulle seuntjie, haar ouers, Johannes en Pat Uys van Bredasdorp, die Calvinia-gemeente en al haar en Riaan se vriende. Ons bid dat die Trooster vir hulle in hierdie tyd op 'n besonderse wyse sal dra."
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
Save the date!
The annual Winter School of the Faculty of Theology of Stellenbosch University will be hosted from 21 - 23 June 2022. The theme is The Church and pandemics: Forming disciples and being a missional church during COVID-19 and beyond.
E-mail Marieke Brand at mariekeb@sun.ac.za for more information. 
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Nuus uit Zimbabwe
Een van die belangrikste instellings van ons susterskerk in Zimbabwe, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ), is die Murray Teologiese Kollege. Ds. Munamati, die nuwe prinsipaal en een van die kollege se mees toegewyde oudstudente, het in 2021 die leisels by dr. Rutoro (2011 tot 2020), Henry Murray (2006 tot 2010) se opvolger, oorgeneem. Ten spyte daarvan dat die kweekskool in 2020 eers in Oktober as gevolg van COVID-inperkings kon open, kon nege studente aan die einde van 2020 gelegitimeer en vyf nuwe teologiese studente vir 2021 ingeneem word. Aan die einde van verlede jaar is daar elf finalejaarstudente gelegitimeer. Ons loof en dank die Here, ook vir die dosente wat soms maande sonder salaris getrou op hul pos was en steeds is. Vanjaar het daar twaalf eerstejaars, vyf tweedejaars en elf derdejaars ingeskryf.  Bid asseblief vir ds. Munamati en sy personeel in hierdie besonder uitdagende tyd. Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik op die grafika vir meer inligting.
Voltydse medeleraar, Caledon
Caledon Moedergemeente is biddend in afwagting op 'n leraar wat ons Vader se roeping ontvang om saam met die gemeente in sy diens te kom staan. Hulle glo dat God reeds die regte persoon voorberei om saam met die gemeente tot sy eer te werk.
Hierdie plattelandse gemeente is 110 km vanaf Kaapstad en 36 km vanaf Hermanus. Hulle is die 8ste oudste gemeente in die land en het in die Overberg bygedra tot die stigting van verskeie ander gemeentes. Soos tye verander wil hulle steeds die blye boodskap help bring aan geliefdes in die Overberg.  Aansoeke sluit 7 Februarie. Klik hier vir meer inligting. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir KIX se eerste nuusbrief vir 2022.
IAM pays tribute to the late Archbishop Desmond Tutu in their January newsletter.
ALGEMEEN
Raakgekyk: Begin 2022 met 'n huppel in jou stap
Die Suid-Afrikaans gebore akteur Bjorn Steinbach het by familie gekuier toe iets besonders sy oog gevang het: 'n verkeersbeampte wat sy werk op Nuwejaarsdag doen, maar terselfdertyd dans en sy take vir die dag met vreugde verrig.
Bjorn het die video van die dansende beampte wat die verkeer in Summerstrand, Gqeberha gereguleer het op Instagram geplaas en dit het soos ‘n veldbrand versprei. "Hierdie verkeersman het op Nuwejaarsdag gewerk, maar hy bring die regte energie in vir 2022. Hy het sopas 2022 gered en weet dit nie eers nie!" Die video is hier beskikbaar. 
Nuwejaarsdag is vir baie mense ‘n nuwe begin, gevul met hoop en moontlikhede. Ten spyte van die uitdagende jare wat ons agter die rug het, is hierdie die soort energie waarna ons uitsien vir die nuwe jaar wat voor ons lê. Mag ‘n vuur binne ons elkeen ook aangesteek word sodat ons 2022 met nuwe hoop en ywer sal ingaan. 
TEN LAASTE
Welkom terug aan al ons VrydagNuus-lesers en seënwense vir 2022. Hierdie week doen ons spesiale voorbidding vir ons matrikulante wat hulle uitslae verwag. Ons wens ook al ons leerders voorspoed toe vir die nuwe akademiese jaar.
Epifanie is die tydperk waarin die verskyning van God aan die mensdom gevier word. Volgens Woord en Fees word daar in hierdie tyd nagedink oor hoe God by ons teenwoordig is. "Christene beantwoord hierdie vraag deur na Jesus van Nasaret se menswording en na die werking van die Heilige Gees te verwys. Die fokusteks vir hierdie Sondag (uit Nehemia 8) wil dalk juis die lig laat val op hoe die Here by moderne mense, die kerk en die wêreld teenwoordig is deur die Woord." Mag elkeen hierdie week die teenwoordigheid van God op 'n unieke en persoonlike manier beleef.
Luister gerus na hierdie weergawe van Jesus, groot bo almal soos opgeneem deur die NG Gemeente Weltevreden.
Kunswerk: Epiphany deur Jan L Richardson
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.