Die Seisoen van die Skepping
Die Seisoen van die Skepping
Lees deur internet, klik hier >>
3 September 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Getuienis verwelkom Daniël de Wet
’n Hartlike welkom aan Daniël de Wet (links) wat op Woensdag 1 September die PSD-pos by Kobus Odendaal (regs) van Getuienisaksie begin oorneem het.
Daniël sal verantwoordelik wees vir die begeleiding van gemeentes in hul missionale getuienisverantwoordelikheid asook die Afrika-susterskerkverhoudinge.
Dit behels  ondersteuning van vennootskappe met die susterskerke, veral in Zimbabwe, Malawi en Mosambiek. Hy sal ook verantwoordelik wees vir die finansiële bestuur en administrasie van Getuienisaksie as gesamentlike diensgroep van die VGK en NGK in Kaapland. Kobus sal nog in September saam met Daniël die pos help bestuur om die oorgang so glad moontlik te laat verloop. Lees meer oor Daniël hier
Let asseblief ook daarop dat Getuienis se webadres na https://getuienis.christians.co.za/ verander het.
VGK Streeksinode Kaapland verloor twee voormalige moderators
Hiermee betuig ons ons innige simpatie met die familie en naasbestaandes van ds. Sakkie Mentor (foto links), 'n voormalige moderator en aktuarius van die NG Sendingkerk Streeksinode Kaapland, wat op 26 Augustus oorlede is. Hy sou op 6 September 93 word. Op dieselfde dag het dr. Koos Oosthuysen (87), 'n voormalige aktuarius van die NG Kerk in Afrika Streeksinode Kaapland en die eerste moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland die aand in sy slaap gesterf. Hy sou op 5 Desember 88 word.
Die moderator van die VGK Streeksinode Kaapland, dr. Llewelyn MacMaster skryf: “Die moderamen wil ons diepste en innige meegevoel betuig met die families van hierdie twee gerespekteerde leiers van ons kerk en die Here bedank vir hul belangrike bydraes tydens hul bedienings. Hebreërs 13: 7 (NLV) vertroos ons met dié woorde: ‘Onthou julle leiers wat vir julle die woord van God geleer het. Dink aan al die goeie dinge wat hulle gedoen het tot by hulle dood en vertrou op die Here soos hulle vertrou het.’”
Help om jou dorp 'n beter en mooier plek te maak
Op 9 September om 10:00 vind daar ‘n webinaar plaas waar Barend la Grange, voorheen van South Africa Day, Mari Hudson van RSG se program My Mooi Dorp en Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis in gesprek sal tree. Hulle gesels oor hoe Suid-Afrikaners die sosiale kohesie op hulle dorpe kan verbeter en watter praktiese dinge gedoen kan word om van ons land se dorpe ‘n mooier en beter plek te maak. Praktiese voorbeelde van dorpe waar daar reeds ‘n verskil gemaak is, sal gegee word. Gemeenskapsleiers wat reeds by die verbetering van dorpe betrokke was, sal ook deel van die paneel vorm.
Klik hier om te registreer. 
Bespreek nou vir Matriekfees
Bring jou swembroek en Bybel, los die stres by die huis en breek weg na Noordhoek Beach! 8-15 Desember. 
Slegs vir matrieks van 2021. R1800 sluit kos en verblyf in. Net plek vir 50 inskrywings - moenie dit misloop nie!

Klik hier vir aanlyninskrywings. Kontak jeug@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Helderberg-Kom se nuwe voorvatters
Op Dinsdag 31 Augustus was Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, op besoek aan hul tak in Helderberg-Kom, waar sy ’n ontmoeting met hul nuwe voorsitter en geestelike werker gehad het. As baken van hoop in die werksplek van baie besighede, was dit belangrik om ook oor nuwe bedieningsmodelle en hulpmiddels in hierdie pandemiese tye te gesels. Lees meer van dié besoek hier.
Foto: Voorsitter Buks du Toit (links) en geestelike werker At Kampman (regs).
EKOLOGIE
September vier Seisoen van Skepping
Lentedag het aangebreek en ons begin ons eerste week van September met hoopvolle energie! September word jaarliks as ’n Seisoen van die Skepping op die kerkkalender herdenk. Die Seisoen van Skepping is ’n ou tradisie en sentreer hierdie jaar rondom die aarde as woning (Oikos) vir die hele skepping. Hul webtuiste is propvol hulpbronne wat op ’n praktiese manier predikante, gemeentes en individue help om in te skakel by verrigtinge. Die Groenspan wil ook graag almal uitdaag om betrokke te raak! Ons herinner julle graag aan die Woord en Fees wat ook ’n hele segment bevat wat toegewyd is aan die Seisoen van die Skepping en saam met die leesroostertekste gebruik kan word. Mag ons hierdie maand dieper bewus word van God se skepping en ons verantwoordelikheid daarteenoor met erns nakom. Kyk gerus na die onderstaande video.
Nasionale boomplantweek
Op 1 September word Boomplantdag in Suid-Afrika gevier as deel van 'n weeklange veldtog om bewustheid te skep rondom die belangrikheid van bome. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling moedig Suid-Afrikaners veral aan om inheemse bome te plant soos die Sophiatown eikeboom en die kremetart. Die Sagole Baobab in die Limpopo-provinsie word gereken as die oudste boom in die land en is volgens koolstofdatering meer as 1 200 jaar oud.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Suksesvolle skribakursus
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit en die NG Kerkargief het vandeesweek 'n uiters suksesvolle induksiekursus vir skribas en ander kerkpersoneel aangebied. Kursusgangers het van so ver as Kamieskroon, Sutherland en Bloemfontein gekom om die program by te woon.
Mariska Pool skryf: "Wat ‘n voorreg was dit nie om deel te kon wees van die kursus nie. Ons het nie net nuwe vriende bygekry nie, ons het ‘n familie geraak. Ek dink al die skribas wat daar was, sal saamstem dat dit die lekkerste en leersaamste twee dae was. Dit was ‘n ongelooflike lekker en insiggewende kursus. Ek en Therena het soveel antwoorde gekry.
Dit was baie lekker om die gesigte agter die stemme te kon sien en beter te kon leer ken. Ons is so opgewonde oor alles wat ons geleer het en al die nuwe ontwikkelings. Ons wil vir almal van die argief en sinodale kantoor baie dankie sê vir die kursus waarvan ons as NG Kerk Wellington-Oos deel kon wees. Dit was terselfdertyd soos ‘n spanbou. Ons sien uit na die volgende een."
Hou VrydagNuus dop vir die inskrywingsbesonderhede van die volgende kursus wat vir Oktober beplan word. 
Click on the image for more information.
Registreer nou vir brugkursus
Daar is nog enkele plekke beskikbaar vir die volgende brugkursus. Die kursus word in twee modules aangebied: 7 – 9 September en 16 – 18 November. Inskrywings is gratis vir NG en VGK dominees. Middagetes word voorsien, maar verblyf- en reiskostes is vir eie onkoste.
Belangstellendes moet asseblief teen Vrydag 3 September vir Mathilda du Pisanie by mdup@kaapkerk.co.za  of 021 808 3265 kontak.
GEMEENTENUUS
De Eike woeker met groente
Die gemeente van De Eike in Kuilsrivier het met nog 'n vindingryke idee vorendag gekom om fondse in te samel. Lidmate het met plaaslike groenteboere saamgespan om die Groenteboks-projek van stapel te stuur. Die afgelope naweek kon die plaasvars groente afgehaal word.
COVID-regulasies is gevolg en maskers is slegs vir die foto afgehaal.
Helderberg klanke van hoop
Die afgelope paar aande is hospitaalgange regoor Somerset-Wes en Stellenbosch gevul met Yolanda en Jan Botha van Helderberg-gemeente se aanbidding. "Mag elke klank, noot en gebed hoop bring vir elke moeë pasiënt, dokter en verpleegster. Here, vul ons harte met genoeg liefde om meer te gee as wat ons kan." 
Groen vingers by Toringkerk
Vroeër die maand het Gert van Schalkwyk van Toringkerk saam met ander gemeentelede die voortuin van die kerk skoongemaak. Weens die winterweer en 'n paar COVID-gevalle in hulle onderhoudspan kon hulle nie die nodige aandag gee aan hulle terreine nie. Hulle het besluit om lidmate op 'n Saterdag in te span om bietjie te help met skoonmaak. 
"Ons het 12 sakke onkruid bymekaargemaak en weggery. Ons span is darem ook nou weer gesond, maar ons sal iewers, sodra die weer beter is, weer so 'n poging aanwend. Baie dankie vir hierdie span wat hulle tyd en hande kom aanbied het om die tuin mooi te maak!"  
Buitelug erediens in Paarl
Die gemeente van Paarl-Vallei het verlede week hulle eerste (hopelik van vele) buitelug erediens gehou. "Dit was ‘n fantastiese wintersdag, so net voor die lente. Ons het God beleef in ons aanbidding, die lekker sonnetjie en die saamkuier na die diens. Dankie aan elkeen wat deel gehad het aan hierdie spesiale geleentheid. Klik hier vir meer foto's. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar, Stellenbosch-Wes
NG Kerk Stellenbosch-Wes nooi hiermee graag belangstellendes, wat geroepe voel om betrokke te raak met die daadwerklike uitleef van die gemeente se getuienisskrif, om aansoek te doen vir die vakante permanente pos van voltydse leraar.
Stellenbosch-Wes is ʼn diverse gemeente wat kleuters, die jeug, jongmense, werkendes in ʼn wye verskeidenheid beroepe, afgetredenes, verswakte bejaardes en mense met gestremdhede bedien.  Die jeug en ʼn bediening wat met hulle styl in pas is, is vir hulle baie belangrik. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Kontak die gemeentebestuurder Michéle Erwee by kerkkantoor@stellenboschwes.co.za vir aansoekinligting. Aansoeke sluit op Vrydag 17 September 2021 om 13h00.  
Finansiële/admin. beampte, Knysna
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie halfdagpos ingewag. Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en vermoë om teen hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel word vereis. Aansoeke sluit 10 September. Klik hier om die volle advertensie te lees. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
“Die konflik wat ons tans in die NG Kerk beleef, is ongelukkig niks nuuts nie en ook nie eens uniek aan die NG Kerk nie,” skryf ds. Christo Benadé. Lees hier meer oor die geskiedenis van die verskillende filosofiese en teologiese strome in die kerk asook die bestaan van ‘n (stille) middelgrond wat Benadé glo die kerk kan vorentoe vat.
In die laaste aflewering van Kerkbode se Vrouemaand-rubriekreeks het Christine Venter gaan aanklop by haar mede-vroueteologiestudente om te hoor hoe vrouwees hulle idee van God en hulle spiritualiteit, te midde van hierdie kontraste en struwelinge, beïnvloed. Die reeks word in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland se Taakspan Gendergeregtigheid aangebied. Klik hier vir die artikel.
Nuut op die rak
Angry love – Memoirs of a Fellow Seeker for a Better Country is die outobiografiese vertelling van Jenni Kirby se besondere lewensreis. Sy het tydens apartheid in Suid-Afrika grootgeword en onthou geleenthede wat ’n diep impak op haar gemaak het. Sy het deel van die versetbeweging geword en het gedurende die 1970s op ’n wit aktivis verlief geraak. Die paartjie is deur alle kante verstoot, aangesien verhoudings oor die kleurgrense nog onwettig was. Hulle vind later asiel in Brittanje, maar kom teen nuwe uitdagings te staan. Daar het Jenni tot die bediening in die Metodiste Kerk toegetree, maar het nooit haar moederland vergeet nie.
Hierdie memoires is haar pelgrimstog op soek na ’n beter land, konneksies en verhoudings, identiteit en verwerping, die stryd tussen woede en liefde en die innerlike reis na vergifnis. Die boek is in CLf se aanlynwinkel beskikbaar of kan by order@clf.co.za bestel word.
ALGEMEEN
Raakgelees: Spiderman red 'n koek
'n Tweet deur Kabelo Boshielo van Soweto het hierdie week meer as 1.5 miljoen likes op Twitter gekry nadat hy 'n foto van hierdie superheld in aksie gedeel het.  Die foto wys 'n Spiderman-speelding wat op 'n koek staan met sy hande teen die muur - om te keer dat die koek grond toe val. Kabelo se onderskrif lui: "Dankie Spiderman dat jy my seun se koek gespaar het."  Hierdie foto het binne 24 uur een miljoen likes en internasionale erkenning gekry! Kabelo is geskok en oorweldig deur die massiewe reaksie op sy plasing.
"Toe ek na die prentjie kyk, het ek gedink Spiderman is 'n held. Hy red dan die koek! En ek het besluit om dit te deel. Ek het geglo mense sal daarvan hou, maar ek het nooit gedink dat dit viral sou gaan nie."
Bybelverspreiding in uitdagende tye
In 'n mediaverklaring wat vandeesweek uitgereik is, sê ds. Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, dat hulle ondanks die COVID-19-pandemie kon voortgaan met hulle werk. “Ons betuig ons dankbaarheid aan elke verspreider wat ons Bybels verkoop asook al ons ondersteuners vir hul onverpooste ondersteuning tydens hierdie moeilike tye."
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het 596 632 volledige Bybels in verskillende formate in die 2020 finansiële jaar versprei. Hulle het ook drie nuwe volledige Bybels - The English Bible for the Deaf, die isiZulu Bybel 2020-vertaling en die Afrikaanse Bybel 2020-vertaling - bekendgestel. 
Bewusmaking van Fetale Alkoholsindroom
Die nie-regeringsorganisasie FASfacts is 19 jaar gelede deur Francois Grobbelaar en sy vrou Marietjie gestig om te fokus op die voorkoming van Fetale Alkoholsindroom. "Suid-Afrika het by verre die hoogste voorkomssyfer van fetale alkohol spektrumafwykings.   In sekere areas in Suid-Afrika word tot 28% babas geaffekteer deur alkohol tydens swangerskap, waarvan permanente breinskade die grootste skade is. Suid-Afrika se gemiddelde voorkomssyfer van FASD is ongeveer 6%."
9 September is Wêreld Fetale Alkoholsindroomdag om bewustheid van hierdie sindroom te skep. FASfacts doen 'n beroep op dominees en kerkkantore om die inligting met hulle gemeentes te deel. Speel gerus die video hieronder tydens die erediens of deel hierdie skakel met julle gemeentelede. Vir verdere inligting en hulpbronne, besoek die webblad.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
TEN LAASTE
Dis amptelik lente, alhoewel die Kaap dit vanjaar met sneeubedekte berge vier. Dit is ook die aanvang van die Seisoen van die Skepping. Woord en Fees herinner ons dat die doel van hierdie seisoen is om te besin oor die mens se Godgegewe verantwoordelikheid om na die skepping om te sien en oor hoe hierdie verantwoordelikheid met groter erns nagekom kan word. Vanjaar word daar op die opeenvolgende Sondae gefokus op die aarde, die mensdom, die lug en berge.
Mag ons in verwondering staan in die grootheid van ons Skepper. Luister hier na How Great is our God deur Chris Tomlin.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.