Lees deur internet, klik hier >>
29 September 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Laat ons met U saamloop,
U vergesel.
Gee ons lig uit u goedheid.
Maak ons soos U
– sodat ons waarlik mens kan word.
(Uittreksel uit gebed deur Jörg Zink)
SINODENUUS
1. Sentrum vir Publieke Getuienis
1.1  Ekumeniese netwerk sit koppe bymekaar 
Die Western Cape Ecumenical Network* (WCEN) het op 20 en 21 September by in Harmonie vergader. Hierdie ekumeniese netwerk bestaan onder meer uit verteenwoordigers van die NG Kerk, VGKSA, Wes-Kaap Provinsiale Raad van Kerke, Consultation of Christian Churches, South African Christian Leaders Initiative, AGS, Anglikane, Metodiste, Lutherane, Calvynse Protestantse Kerk, Great Commission Network, die VCSV, Bybelgenootskap, CLF, 'n aantal onafhanklike kerke, asook Christelike NRO’s. Indieptebesprekings is gehou oor onder meer die toestand in die land, restitusie, die kerk en onderwys en die droogte. (Foto onder.)
(*Die WCEN se administratiewe funksies word tans deur die kantoor van die Sentrum vir Publieke Getuienis hanteer. Kontak Danelle by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za met navrae.)
in Harmonie-byeenkoms
Sipho Mahokoto (VGKSA) aan die woord tydens die WCEN
Courageous Conversations
Pieter Grove (VGKSA), Gilbert Filter (Lutherse Kerk), Mbulelo Bikwani (HUB Desmond Tutu-stigting) en Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis)
1.2 Rol van kerk in die onderwys vandag
Die SPG het verlede week in samewerking met die in Harmonie-stigting en die WCEN nog 'n Courageous Conversation-gesprek gehou, hierdie keer oor die rol van die kerk in die onderwys vandag. (Foto onder.)
Dit het duidelik geword dat die kerk nie in die eerste plek nou moet skole bou nie, maar moet help om kapasiteit te bou. Hoofde en onderwysers moet veel beter deur kerke op emosionele én geestelike vlak ondersteun word. Kerke onderskat die rol wat hulle kan speel deur gewoon die personeel te besoek en vir hulle te bid. Lees hier meer en oorweeg asb hoe jou gemeente prakties by 'n skool in julle omgewing betrokke kan raak.
Gespreksgenote
Vlnr Mbulelo Bikwani, Jaco Deacon, Louise van Rhyn en Michael le Cordeur
Riaan en Saretha
2. Getuienisaksie
Voortgesette opleiding vir kerkleiers in Mosambiek

Die Veritas College  doen merkwaardige werk, soos ook op hulle webwerf aangedui: “Empowering churches to train their own leaders to interpret Scripture and to apply and minister it in their own context. Running 1,288 classes in 41 countries with more than 15,000 participants!” 
Gelukkig het Noordwes-Mosambiek ’n Veritas-organiseerder in hulle midde, nl Riaan Terblanche. Hy en Saretha, sy vrou, woon sedert 2014 permanent in Tete langs die magtige Zambezi, waarvandaan Riaan waardevolle kerkleiersopleiding doen. Lees meer hier
3. Diensgroep Diaconia
Nal’ibali: Story Bosso ook in gebaretaal!

Hier is 'n eerste vir Nal’ibali se jaarlikse Story Bosso-kompetisie! Op soek na die land se bobaas storieverteller, het Nal’ibali vanjaar deur die bemiddeling van die Diensgroep Diaconia 'n kategorie geskep vir persone met gehoorgestremdheid om ook hulle stories te kom vertel. Die kompetisie word in alle amptelike landstale gehou en vanjaar ook in gebaretaal.
Lees gerus hier meer oor hierdie opbouende projek saam met die Dowe Familie Kerk in Worcester, en kyk (video onder) hoe een van die finaliste sy storie vertel.
Video
4. Jeug- en Familiebegeleiding
Kix-lesseskrywers vir 2018 aan die woel op Stellenbosch

Dis lekker om so 'n entoesiastiese groep medewerkers te sien wat van 19 tot 21 September by Communitas op Stellenbosch saam was om aan 2018 se Kix-lesse te skryf. Dankie, kollegas! Kontak José by jose@sun.ac.za vir meer oor Kix se materiaal.
Kix-lesskrywers byeen
Agter vlnr: Christene van Eyssen, Sulet Brummer, Susan Johnston,
Annatjie Enslin, Nicola Mostert
Middel vlnr: José Layman, Arina Scheepers, Pauline Matthee, Colleen van
Eeden, Santie Nel, Elrika Esterhuizen
Voor vlnr: Etienne Snyman, Frieda Oncker, Liezl Williams, Annelet Slazus
Nie in foto: Anriëtte de Ridder en Elana Kellerman
@imagine datum 2018
#imagine 2018 - klik bo
Kursus
7. Facebook: hier is ons wenner!
Vroe
ër hierdie kwartaal kon 'n gelukkige deelnemer 'n pragtige bruidsboek van Lux Verbi en NB Uitgewers in ons Facebook-kompetisie wen.
Dankie aan elke deelnemer wat gehelp het om VrydagNuus via sosiale media verder bekend te stel. Die wenner van die spogpublikasie, wat ons met die vriendelike ondersteuning van NB en Lux Verbi kon aanbied, was Adéle Hattingh, skriba by die NG Gemeente Prins Albert (foto onder). Baie geluk, Adéle!
Adéle
ALGEMEEN
Christina Puchalski
1. HospiVision Conference
Spirituality in palliative care with Christina Puchalski

Christina Puchalski, an international leader in the movement to integrate spirituality in healthcare, is the keynote speaker at a day conference to be hosted by HospiVision, ICPCN, Paedspal and Patch SA on 30 October in Cape Town at the Tygerberg Hospital. Only 140 places are available!
Click here and contact wanda@hospivision.org.za for registration etc.
Ouerskapaanbieding
Volgende aanbieding: 12 Oktober - Stellenberg. Klik bo.
Claartje Kruijff
3. Teoloog van die Vaderland 2017: Claartje Kruijff
In die “Nag van die Teologie”, waaroor VrydagNuus onlangs berig het, is Claartje Kruijff op 23 September as wenner aangewys. (Almatine Leene van NG Stellenbosch-Wes was een van die drie waardige genomineerdes vir die toekenning.)
In ’n onderhoud met Claartje sê sy: “Ek glo in 'n heilige ruimte, ook búíte die kerk, 'n ruimte waar ons regtig na mekaar luister. Slegs as jy regtig probeer om te verstaan wat jou eie motiewe is, sowel as dié van ’n ander, kan jy ’n saak beoordeel. "
Diegene wat die beriggewing hieroor met belangstelling gevolg het, kan hier klik om meer oor Claartje te lees. Hartlike gelukwense!
Quintus
4. Raakgelees
’n Getuienis: Kaleidoskoop se engele ...

"Ek is saam met my kantoorpersoneel vir ’n dag na Kaleidoskoop (die Instituut vir Blindes) om die Bybel in oudioformaat aan hulle te skenk. Ons noem dit die AudiBybel. Dit is vir ons ’n voorreg om betrokke te wees om vir elke persoon wat blind is ’n Bybel te gee – sodat hulle self die Woord van die Here kan ‘lees’ en hoor.”
Lees gerus hier verder as Quintus Heine (Bybelgenootskap van SA se Wes-Kaapse streekhoof en aktuarius van ons sinode) van Kaleidoskoop se spesiale engele vertel.
Besoek Kaleidoskoop se webwerf en oorweeg hoe jy hulle werk kan ondersteun.
Bremer
5. Raakgehoor
Om God te wil liefhê: Bremer dink na

Op versoek het Bremer Gericke die volgende dokumente rakende sy afskeidspreek, waarin hy nagedink het oor die tema "Om God te wil liefhê" vanuit Matt 22:34-40 as teksgedeelte, verskaf.
Klik hier vir die:

preeknotas
* geloofsbelydenis

* wet

* seëngebed

Oudlidmate wat meer oor Bremer se herinneringe in Stellenberg wil lees, kan hier klik. (Met dank aan NG Stellenberg se Stellenberger-nuusblad.) Lees gerus ook by PREDIKANTENUUS meer oor Bremer se aftrede.
UIT ONS RINGE
1.
Ring van Riversdal: Vreugdes en uitdagings vir kleiner gemeentes
VrydagNuus het onlangs berig dat die Ring van Riversdal op 21 September as gaste van Albertinia by Skilpadgat Guest Farm vergader het. Ons deel graag twee foto's – die tweede wys die nuwe gesigte wat vir die eerste maal by die ringsitting was. Hieronder is Ben Jovner, afgevaardigde, se limeriek na afloop van die byeenkoms:
Limeriek
Ringslede
Nuwelinge
Vlnr: Andrew Viljoen (Ladismith), Boet van Zyl (Albertinia), Andre Smit (Vanwyksdorp), Chris Pretorius (Riversdal-Wes), Christo de Vos (Stilbaai)
2. Verenigende Ring van Tulbagh
Eenheid, samewerking, Refo500, droogte

Die Verenigende Ring van Tulbagh het op 7 en 8 September vir die derde keer formeel as gekonstitueerde ringe saam vergader, vanjaar op Tulbagh. Hierdie ring het oor jare 'n baie goeie verhouding opgebou en doen gereeld dinge saam. 
Om hulle eenheid te behou, het die ring besluit dat alle nuwe leraars wat na hul ringsgebied beroep word, ingelig sal word dat hulle 'n gesamentlike ring is, dat hulle die Belydenis van Belhar bely en daarna strewe om dit uit te leef. Gemeentes word versoek om spesiaal kennis te neem van die ring se besluit rakende die voortslepende droogte in die Wes-Kaap. Lees hier verder.
Tulbagh ring
Die Verenigende Ring van Tulbagh voor die Zahn-kerkie op Tulbagh
Kerse
3. Ring van Tygerberg
Kerkwees in konteks; volhoubare hulpverlening

Het jy al gehoor van 'n ringsitting wat binne twee uur afgehandel is en steeds drie aande geneem het om af te handel? Dit het by die ringsitting van Tygerberg (17-19 September) gebeur.
Dié relatiewe nuwe ring het besluit om te fokus op die Voortrekkerweg-korridor en hoe gemeentes van die ring (en die ring self) daar betrokke kan raak. Wat uitstaan, is dat lidmate van die ring se gemeentes al drie aande in groot getalle bygewoon het. Klik hier vir meer inligting en foto's.
GEMEENTENUUS
1. NG Gordonsbaai: Lofsentrum luisterryk ingewy
Op Sondag 17 September 2017 het die NG Gemeente Gordonsbaai hul nuwe Lofsentrum luisterryk ingewy. Meer as 800 lidmate en besoekers het die verrigtinge (bestaande uit sangitems en groeteboodskappe) bygewoon.
Die twee plaaslike leraars, Jannie le Roux en Strydom Bruwer, asook die jeugwerker, Johan Botes, (sien onder) het elk 'n kort boodskap gelewer.
Ons is saam met die gemeente besonder dankbaar teenoor die Here vir hierdie moderne fasiliteit wat vir die hele Gordonsbaai-gemeenskap en oor alle grense heen tot seën kan wees. Lees hier verder en geniet 'n paar foto's van hierdie geskiedkundige geleentheid onderaan sowel as op Facebook.
Lofsentrumbyeenkoms
Strydom, Jannie en Johan
Strydom Bruwer, Jannie le Roux en Johan Botes
Alan Storey
2. Groote Kerk
Alan Storey - wit bevoorregting en rassisme
Die Groote Kerk span saam met Alan Storey van die Central Methodist Mission om gesprekke oor wit bevoorregting en rassisme in die kerk te voer.
Hulle ontmoet op Wo 11 Oktober 2017 van 19:00 – 21:00 by die Central Methodist Mission se kerkgebou (op Groentemarkplein), waar Alan ’n  inleiding/gesprek oor wit bevoorregting en rassisme sal lei. Alle leraars en lidmate van die NG Kerk wat in die omgewing is, word hartlik uitgenooi om hierdie gesprek by te woon. Kontak asb vir riaan@grootekerk.org.za indien jy enige verdere inligting verlang.
Twitter Facebook
Erna en Bremer
PREDIKANTENUUS
1. Aftrede: Bremer en Erna Gericke
Bremer Gericke tree op 30 September 2017 uit diens by die NG Gemeente Stellenberg. 
Tydens sy bediening het Bremer vir 'n jaar (1977) 'n kontrakpos in Parow-Suid beklee, daarna was hy vier jaar voltyds in Calitzdorp en 36 jaar in Stellenberg. Bremer en Erna (volgens hom die mees uitsonderlike mens wat hy ken) vestig hulle binnekort in Barrydale.
Carel van Wyk (NG Suider-Paarl) deel enkele herinnering aan sy oudkollega en vriend: klik hier. (En moenie die foto van vier vriende mis nie!) Onder is Bremer en oudkollegas saam met wie hy in Stellenberg bedien het. Baie seën vir jou en Erna toegebid, Bremer. 
Kollegas
Agter vlnr Carel van Wyk (Suider-Paarl), Anriëtte de Ridder (PSD),
Braam Hanekom (PSD), Willem Malherbe (emeritus) 
Voor vlnr Christo Alheit (emeritus), Louise Koch (weduwee van Kobus Koch),
Bremer Gericke, Koosie Delport (emeritus)

Francois en Inge
2. Francois en Inge van Tonder groet NG Karatara (Sedgefield)
Francois is op 28 Januarie 1979 bevestig in die NG Kerk in Afrika op Komga, so drie weke nadat hy met Inge Serfontein getroud is. Hy moes die seën, wat hy soos ʼn rympie geleer het, in Xhosa uitspreek. In 1982 neem hy ʼn beroep aan na NG Ladismith in die Klein-Karoo. Gedurende die 32 jaar op Ladismith, maak die ou Suid-Afrika plek vir die nuwe en is daar volop geleentheid om brûe te bou en te soek na ʼn beter eenheid in kerk en koninkryk.
In 2014 besluit die Ladismith en Karatara gemeentes op 'n standplaasverwisseling en Francois en Inge vestig hulle vir die laaste skof van die bediening op Sedgefield. Hulle beleef die skuif as 'n besondere seën.
Na hulle aftrede (sy afskeidspreek was op Sondag 24 September) gaan hulle hul op Robertson vestig. Net die mooiste toegewens!
Erik en Adri
3. Erik Botha na Sutherland
Ons is saam met die NG Gemeente Sutherland bly: Erik Botha word op Sondag 8 Okt in ’n vastetermynpos vir twee jaar bevestig. 
Erik en Adri trek in ’n gemeubileerde pastorie in - 'n lekker voorreg dat die uitdagings rondom ’n verhuising (met meubels en al!) hulle gespaar bly. Ons bid dat die Bothas na die rustyd regtig gelei sal word om met nuwe energie ’n verskil in Sutherland se gemeenskap te maak. (Erik het op 30 November 2016 in Richmond afgetree.) 
4. MC Engelbrecht na Die Gemeenskapskerk
MC skuif op 1 Oktober na Die Gemeenskapskerk, Sunningdale. Hy was onder meer vantevore in die bediening by Verwoerdburgstad (nou Kerksondermure), Kempton-Hoogland en sedert 2015 by die NG Gemeente Villiersdorp.
Oor sy nuwe gemeente skryf MC soos volg: "By die Gemeenskapskerk het ons 'n droom om voluit te lewe … maw om ’n leefstyl te ontwikkel. Richard Rohr sê dit so mooi: 'We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking' ". 

MC se intreepreek is op Sondag 1 Oktober.
 Seën op die nuwe koers vir jou, Zelda en julle pragtige twee dogters! 
Engelbrecht-gesin
Vlnr Zelda, Mika, Carli en MC Engelbrecht
Tilana en Hannes
5. Tilana Meyer-Morkel, welkom in NG Paarl-Vallei
Ons is saam met Paarl-Vallei dankbaar vir die vooruitsig om Tilana Meyer-Morkel binnekort daar te verwelkom! 
Tilana, wat op 1 Oktober amptelik in diens van die gemeente tree, vertrek dieselfde dag reeds op ’n uitreik Kalahari toe saam met die tieners. Sy vertel dat dit ’n genade en voorreg  is om voltyds in die bediening te begin en dat sy (en haar man, Hannes) beswaarlik kan wag om die pad saam met Paarl-Vallei te begin stap!
Maak gerus ’n nota daarvan dat Tilana op Sondag 15 Oktober as predikant bevestig word. Baie seën vir jou en die gemeente toegebid.
Karin en Johan Vollgraaff
6. Loopbaanaanpassing vir
Johan Vollgraaff

Met NG Gemeente La Belle wat in ’n proses betrokke is om nuut oor hulle bediening en finansiële situasie te dink, het Johan Vollgraaff sy eie bediening ook herbesoek. Johan, wat vertel dat hy die meeste bedieningsvreugde in pastorale gesprekke vind, het reeds vyf jaar gelede verdere studies met die oog op pastorale werk begin. Die gedagte aan ’n spreekkamer vir pastoraat is iets waaroor hy dus reeds geruime tyd besin het – en hy voel hom gelei om in die lig van die gemeente se omstandighede nou hierdie skuif te maak.
Hy tree aan die einde van September 2017 uit die bediening en ons wens hom en Karin baie seën vir die nuwe pad toe. Dankie vir julle toewyding oor jare aan La Belle se gemeenskap, sowel as jul bediening in Kuilsrivier (1999-2005).
Burgers
7. NG Gemeente Karatara:
Alwyn en Elfrede Burger, welkom!

In ’n nuwe fase vir Karatara begin Alwyn Burger op 1 Oktober 2017 in ’n vastetermynpos, nadat die gemeente besluit het om die voltydse pos wat met Francois van Tonder se aftrede vakant raak, nie voltyds te vul nie.
(Alwyn en Elfrede het aan die einde van Des 2012 na net meer as nege jaar Die Vleie-gemeente, Hoekwil, gegroet. Belangstellendes kan hier lees hoe die Wild News destyds oor hulle aftrede berig het.) 

Mag die bediening in Karatara geseënd wees, Alwyn!
Olyfboom
EKOLOGIE
1. Bome: Vriende in tye van droogte
In tye van droogte is die regte bome ons vriende.  Regte bome is hulle wat goed aangepas is om min water en harde droogtes te kan hanteer.  Hier is ’n lys bome (soos verskeie soorte olyfbome) wat Wes-Kapenaars kan oorweeg, met ’n paar algemene riglyne vir die plant en versorging van bome.
Dankie aan David Botha van Getuienisaksie se Taakspan Ekologie vir sy ywer met sinvolle beriggewing wat weekliks in VrydagNuus verskyn. Dit onderstreep die sinode se fokus op ekologie en voeg soveel waarde toe!
2. Kap die mens sy toekoms uit?
Woude het 'n groter impak op ons daaglikse lewe as wat ons besef. Ten spyte van ons (en duisende dier- en voëlspesies) se afhanklikheid van woude, is die mens besig om dit stelselmatig uit te roei deur ontbossing. Volgens een bron verloor ons ongeveer 70 tot 90 vierkante kilometer woude elke jaar - die ekwivalent van 48 rugbyvelde per minuut! Tussen1990 en 2015 het die wêreld 129 miljoen hektaar woude verloor. En as ons die woud wegvat, is dit nie net die bome wat verdwyn nie: die hele ekosisteem stort in duie. Lees die hele artikel hier. Bronne: wwf.panda.org en www.worldwildlife.org.
Ontbossing
BEHOU DIE HUMOR
Kerkmuise
KUIERKANS
Kuierkans
Kerkbode Mashoof
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 20 Oktober 2017.
Kerkgebou
1. NG Gemeente Koringberg: Voltydse leraar
Koringberg is ’n plattelandse gemeente binne die Sinode van die Wes-Kaapland se grense, ongeveer 120 km van Kaapstad en bestaan uit 140 belydende lidmate en 19 dooplidmate. Die gemeente is opgedeel in een dorpswyk en vier buitewyke. Hier is ’n vakature vir ’n voltydse leraar. Reageer voor 6 Nov; klik hier.
NG Ottery
2. NG Gemeente Ottery: Tentmaker leraar
Ons herinner: Ottery, 'n klein gemeente van 100 lidmate in die suidelike voorstede van Kaapstad, het 'n vakature vir 'n tentmaker.
Reageer voor 31 Oktober - lees hier. 
Logo
3. NG Kenridge: Twee vakatures
Die NG Gemeente Kenridge in Bellville sal in 2018 twee vakatures in die kantoorspan hê. Aansoeke word voor 31 Oktober 2017 ingewag vir:
• ’n ondersteuningsdiensbeampte – klik hier
• ’n lidmaatskap- en administrasiebeampte – klik hier
Lourens
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Lourens Bester
If we don’t own our own evil, we will always project it elsewhere and attack it there. – R.Rohr

Daniël Baron is een van Prince Alfred’s Hamlet se bekendste inwoners. Hy het soos elkeen van ons ‘n lang verweefde storie en ‘n deel van sy storie is dat hy al vir omtrent 30 jaar op straat woon. Drie weke gelede het ek my proefpreek afgelê hier op Hamlet. Die volgende dag vertel een van die gemeentelede met trane in sy oë dat Daniël diep aangeraak was deur Sondag se erediens. Ek het nie vir Daniël in die erediens gesien nie en hoor toe tot my eie skaamte dat Daniël deur een van die ruite ingeluister het.
Mag die liefde van God deur Jesus Christus ons seën met ongemak oor grense en mure waarvan ons dikwels onbewus is.
***
Lourens Bester doen tans sy praktiese/lisensiaatjaar by Prince Alfred Hamlet Gemeente. Hy is 'n sportliefhebber en geniet stories en die natuur. Kontak Lourens by lcbester101@gmail.com.
Nothing in all creation is so like God as stillness - Meister Eckhart
VrydagNuus verskyn weer na afloop van die skoolvakansie. Die volgende uitgawe is dié van 13 Oktober 2017.
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.